Читать книгу Ena Murray Omnibus 22 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеFlip is besig om afrondingswerk aan ’n skildery te doen terwyl sy by die eetkamertafel sit en weer eens probeer om die regte woorde te vind om haar gesin van hul troue te verwittig. Sy weet sy durf dit nie langer uitstel nie. Soos dit is, het sy al hopeloos te lank gewag.
Sy is nie bewus daarvan dat haar man se blou oë fronsend op haar rus en dat die frons tussen sy oë al hoe dieper keep nie. Sy byt die agterkant van die pen vas en besef opnuut dat haar nuus eintlik persoonlik oorgedra moet word. Om in ’n brief te vertel of te verduidelik hoe dit gebeur het dat haar groot ideaal om ’n beroemde sangeres te word skielik verander het in die begeerte om net ’n vrou en moeder te wees, is bitter moeilik. Rosalie se tjek het vandag weer getrou aangekom. Salome voel soos ’n skurk terwyl sy na die koevert kyk. Rosalie stuur die geld sodat sy met haar sanglesse kan voortgaan, min wetende dat haar swaarverdiende geldjies deesdae gebruik word vir medisynerekeninge en kos.
Maar Rosalie sal verstaan, vertel Salome haarself. Rosalie is so ’n onselfsugtige mens. As sy alles weet, sal sy verstaan en nie omgee nie, probeer sy haar gewete sus.
Die geluid van ’n kwas wat neergegooi word, laat haar vraend opkyk. Flip staan voor die venster, sy rug na haar gekeer.
“Iets verkeerd, skat?”
“Salome, verlang jy nie ook na die Karoo nie?” vra hy uit die bloute.
Sy frons verdwaas. “Natuurlik ja, maar ons lewe is hier in die stad. Hoekom vra jy?”
“Nee, ek vra maar. Ons het lank laas van die Karoo gepraat.” Hy is weer ’n rukkie stil en sy sit half skuldig na sy rug en kyk. Sy weet hoekom hulle so lank laas van die Karoo gepraat het. Die Karoo laat haar aan haar mense dink en dit laat haar skuldig voel, want haar mense weet nou nog nie dat sy al drie maande lank getroud is nie.
Sy stem klink aarselend op: “Dink jy nie dit sal heerlik wees om weer ’n slag ver oor die vlaktes uit te staar en skoon, suiwer lug in jou longe in te trek nie?” Hy swaai hom vinnig na haar toe om en sy oë is meteens pleitend. “Ons lewe hier saamgehok met duisende ander in beton en teer. Die lug wat ons inasem, is besoedel van baie asems en fabriekrook. Dis nooit stil hier nie. Dit raas en jaag en vloek en skel gedurig om jou. ’n Mens kan hier beswaarlik die stem van jou gewete hoor.”
Sy kyk hom verslae en ontsteld aan. Só heftig het sy hom nog nooit hoor praat nie. Sy het geweet dat hy terugverlang na die Karoo, maar sy het nooit besef dat dit eintlik ’n obsessie geword het nie. Natuurlik kan sy begryp hoe hy voel, maar hulle lewe is hier. Sodra alles weer normaal is, gaan sy met haar sangloopbaan voort. Hy kan tog nie ernstig wees dat hulle hier moet weggaan nie!
“En jou skilderwerk?”
“Ek kan daar ook skilder. Ek sal juis dáár kan skilder.”
“Maar ek kan nie daar sing nie, Flip.” Sy sit die pen neer en kyk verwytend in sy oë op. “Ek kan nie daar lesse ontvang nie. Ek kan nie alles sommer nou net so laat vaar nie. Ek begin volgende week weer met my lesse by Madame en sal dadelik afsprake aanvaar.” Hy staan en kyk haar net aan en haar kalmte begin haar verlaat. “Flip, wees redelik! Wat van my mense wat deur die jare soveel vir my opgeoffer het, selfs gebrek gely het om dit vir my moontlik te maak om eendag ’n sangeres te wees?”
Hy vee moeg oor sy oë. “Natuurlik, ja. Ek weet. Vergeet dit. Dit was sommer net … ’n gedagte.”
Hy stap by haar verby en sy spring op, gryp sy arm vas en kyk bekommerd op na hom. “Flip …”
Sy glimlag is stram en onoortuigend. “Vergeet dit, bokkie. Ek het sommer net gepraat …”
Hy stap uit en sy kyk hom agterna en skielik besef sy dat iets verkeerd is. Iets haper aan hul geluk. Iets is nie meer dieselfde nie. Dis lankal nie meer dieselfde nie, dring dit tot haar deur. Die volmaaktheid wat hul huwelik gekenmerk het, is versteur …
Die volgende week keer sy terug na die normale roetine wat sy voor haar troue geken het. Sy begin weer met haar sanglesse, maar steeds kan sy die ou dame nie tevrede stel nie.
Madame begin openlik ongeduldig word. “Wat is dit met jou, kind? Flip is tog nou gesond, dan nie?”
Salome sak moedeloos op ’n stoel neer. “Ja. Soort van.”
“Wat bedoel jy?”
Sy sug, kyk met bekommerde oë op en op hierdie oomblik onthou Madame die jong meisie wat daardie eerste dag so onskuldig en eerlik voor haar gestaan het. Vandag is daar sluiers voor die groenbruin oë asof sy al geleer het dat ’n mens nie alles wat in jou omgaan, wys nie. Daar het reeds baie water in die see geloop sedert daardie dag. Die afgelope tyd is dit troebel waters wat verbystroom. Ook Madame gaan sit en vou haar beringde pofferhandjies oor haar maag soos dit haar gewoonte is. Maar dis die lewe. Daar kan nie altyd helder waters vloei nie. Die troebel waters kom ook … en is dit nie juis die troebel waters wat soms die vrugbare neerslag gee nie?
“Wat bedoel jy, Salome?” vra sy nou meer tegemoetkomend.
Salome roer haar skouers onrustig. “Ek kan nie presies sê nie. Dis net … ’n gevoel. Flip steek iets vir my weg … iets oor sy gesondheid. Hy wil nooit daaroor praat nie. Hy word kwaad as ek praat oor die gedurige kuggie en die kwaai hoesbuie wat hy soms kry. Hy bly maer en bleek, ongesond bleek.”
“Hy was maar altyd so maer en bleek, kind. Dis seker maar sy geaardheid,” probeer Madame troos.
Salome sug bedruk. “Dis nie net sy gesondheid nie.” Haar ooglede sak. “Hy is ongelukkig.”
Madame frons. “Jy verbeel jou dit seker, kind. Hy is seker maar nog swak van sy siekbed. Dit sal regkom.”
“Nee, Madame. Dis meer as swakheid. Dis binnekant. Hy is onrustig. Hy kan nie aan die skilder kom nie. Hy probeer en dan los hy weer. Ek … kan my man nie bereik nie, Madame!” Die ou dame kan net magteloos toekyk, sien hoe haar geliefde leerling probeer om haar selfbeheersing te behou.
“Ek het al probeer praat, probeer uitvind … maar hy is ontwykend. Dis of ons nooit tot die kern deurdring nie. Dis of ek my elke keer teen ’n beweginglose muur vasloop. As ek net kan weet waar ek tekortskiet!”
“Maar wie sê dis jý, Salome?” keer Madame ontsteld. “Dit is miskien iets anders wat hom hinder. Frustrasie in sy werk en … miskien sy trots omdat hy op die oomblik van jou afhanklik is. Ek het agtergekom hy is uitermate trots.”
“Hy is, maar … ek kan nie dink dat hy so dwaas kan wees om dit tussen ons te laat staan nie. Toe ons getroud is, het hy geweet ek sal voorlopig vir ons moet sorg. Dis nie dat hy dit eers ná die troue ontdek het nie. Ek weet hy is gefrustreerd, maar dis nie net omdat hy nie aan die skilder kan kom nie. Die kern daarvan lê baie dieper.” Die groenbruin oë kyk bang op. “Madame, ek gaan my man verloor.”
“Moenie verspot wees nie, kind. Julle is maar nou die dag getroud. Dis glad nie so erg as wat jy dink nie. ’n Mens is geneig om probleme uit verband te ruk as jy so kort getroud is. Gee tyd ’n kans, Salome. Tyd sal ’n oplossing bring.”
“Ek hoop so, Madame. Ek hoop met my hele hart so, want hierdie ding is besig om my onder te kry.”
En jou kuns, sê Madame woordeloos. Dan staan sy op, neem voor die vleuelklavier plaas. “Laat ons weer probeer.”
In die weke wat volg, is dit egter duidelik dat hoe hard Salome ook al probeer, sy, nes haar man, nie kan koers kry nie. Dis of hulle albei soos blindes geword het wat in die donker rondtas na rigting … tevergeefs.
Een aand ná ’n uitvoering kom sy by ’n stil woonstel aan. Nadat sy die voordeur met haar duplikaatsleutel oopgesluit het, staan sy besluiteloos in die middel van die klein sitkamertjie. Sy gaan seker maak dat Flip nie al in die bed is nie en kyk op haar polshorlosie. Dis al laat – byna middernag. Sy stap na die venster en kyk bekommerd af in die straat. Dit het begin reën en die windjie is koel. Waar is Flip?
’n Uur later toe sy, al amper mal van kommer, die polisie se hulp wil inroep, stap hy skielik die woonstel binne, druipnat.
“Flip!” Sy gryp hom aan die arm. “Waar was jy? Ek is al …”
“Ek het gaan stap.”
“Stap! Hierdie tyd van die nag en in hierdie weer? Jy is sopnat! Jy gaan dodelik siek …”
“Asseblief, Salome! Jy het ’n obsessie oor my gesondheid!” Dis die eerste keer dat hy haar so bars aanspreek en sy tree verslae terug, sien hoe hy in die badkamer verdwyn. Sy staan doodstil, en toe hy weer in sy nagklere te voorskyn tree, sien sy dat hy nie eens na haar kant toe kyk nie, maar reguit deurstap kombuis toe en ’n glas melk vir hom ingooi.
Sy volg hom vinnig. “Ek sal dit vir jou warm maak …”
“Nee. Ek sal dit self warm maak as ek dit wil warm hê.”
Sy draai sonder ’n woord om en stap na hul slaapkamer waar sy stadig begin ontklee. Toe hy kom lê, is sy al in die bed, maar staar met oop oë na die plafon. Hy kug gedemp, maar sy waag dit nie om te praat nie.
Nog ’n paar nagte gaan so verby, nagte waarin sy met oop oë die nagure lê en omtel, totdat Madame op ’n dag nie langer kan stilbly nie.
“Nee, Salome. Nou moet dit na ’n kant toe. Jy kan nie so voortgaan nie. Jy is besig om breekpunt te bereik … jou sang is hopeloos. Jy stel nie meer in jou optredes belang nie. Nou móét jy met Flip praat en uitvind wat die probleem is.”
Salome keer daardie aand na die woonstel terug met die besef dat Madame gelyk het. Só kan hulle nie voortgaan nie. Sy slaap nooit meer nie en haar sang beteken vir haar niks meer nie.
Die kosbare liefde wat tussen haar en Flip was, het die afgelope weke verbrokkel tot ’n koue afsydigheid. Snags sien sy hom voor die venster staan, smagtend, starend na die naghemel daar ver bokant die hoë geboue wat hulle omring, soekend na die sterre. Eindelik moet sy tot die bittere aanvaarding kom dat sy haar man verloor het; dat selfs haar liefde nie sterk genoeg is om hom gelukkig te maak nie. Langer kan hulle nie so aangaan nie.
Met ’n stoïsynse gesig en ’n kalmte wat sy nie weet waar sy dit vandaan haal nie, konfronteer sy hom toe hulle daardie aand gereed maak om bed toe te gaan.
“Flip … My man, ons kan nie so voortgaan nie. Ons is besig om mekaar te vernietig.”
Hy kyk vir die eerste keer in dae direk in haar oë, sy blik somber. Haar hart ruk. Hoe bleek en moeg lyk hy nie!
“Ek is bly dis jý wat dit eerste gesê het. Jy het reg. Ons is besig om mekaar te vernietig. Nou besef jy seker wat ek bedoel het toe ek gesê het dis nie genoeg om mekaar lief te hê nie. Twee mense moet ook by mekaar pas.”
Sy skud haar kop. “Nee. Ek verstaan dit glad nie. Vir my is ons liefde genoeg. ’n Vrou vra niks meer in die lewe as net om opreg bemin te word deur die man wat sy liefhet nie. Sy sal in ’n krot saam met hom bly. Sy sal saam met hom gebrek ly. Sy sal saam met hom swaarkry. Sy sal saam met hom werk. Sy sal alles vir hom opoffer – solank hy haar net liefhet en haar die volle maat van daardie liefde gee.”
Hy kyk haar stil aan, sy mond ’n dun, wit lyn. Dan sê hy stil: “Ek wonder of jy besef wat jy nou gesê het … of jy dit werklik bedoel.”
Haar blik wyk nie voor syne nie. “Ek het. Ek het jou lief, Flip. Ek het jou innig lief, my man.”
“En jy sal al daardie dinge vir my doen?”
Sy frons ietwat verward. “As dit nodig is, ja.”
Dis weer stil. En dan: “Sal jy saam met my weggaan?”
“Weggaan?”
“Ja. Weg uit die stad. Weg uit hierdie … plek.” Sy sit en kyk hom net aan en hy vervolg, nou driftig: “Sal jy saam met my teruggaan Karoo toe? Terug na waar ’n mens nog kan asemhaal, waar jy nog skoon, suiwer lug in jou longe kan inasem; waar jy nog die sterre se glans kan sien? Sal jy, my vrou?”
Sy is verbysterd. “Jy wil … weggaan?”
“Ek móét weggaan. Ek kan nie langer hier bly nie. Ek versmoor hier! Die geboue druk my vas, knel my tot ek nie kan asem kry nie. Alles in my is besig om te sterf. Ek móét teruggaan. Daar sal ek weer mens word, weer kan skilder … daar waar ek weer sal kan asemhaal.”
Dis lank stil terwyl man en vrou mekaar meet.
“Ons … ons kan daar gaan kuier – sommer vir lank … vir solank jy wil.”
Sy swyg toe hy sy kop heen en weer skud. “Nee. Ek kom nooit weer hierheen terug nie. Nooit weer nie. Ek gaan vir goed terug.”
Haar gesig is nou so bleek soos syne. Dis net die groenbruin oë wat lewe. “Jy het … klaar besluit?”
“Ja. Ek het klaar besluit.”
“Wanneer wil jy gaan?”
“Dit sal binnekort wees.”
“Hoe gou?”
“Binne ’n paar weke, ’n maand of twee.”
Hy vra nie weer of sy sal saamgaan nie en sy slaan eindelik haar oë voor syne neer.
In die week wat op hierdie gesprek volg, weet Salome en haar God alleen deur watter hel haar vrouesiel gaan. Sy is in twee geskeur. Haar man sien haar stryd, hou haar swyend dop. In hom wil dit breek vir haar, wens hy dat hy dit vir haar makliker kan maak, maar hy weet hy mag haar nie beïnvloed nie. Die keuse is hare, hare alleen.
Salome se wroeging is verskriklik. Sy is op die kruispad … en sy moet kies.
Daar is die pad van haar kuns en haar verpligtinge teenoor veral Rosalie wat so oneindig baie vir haar opgeoffer het. Hoe kan sy Rosalie teleurstel? Hoe kan sy die hand wat haar deur die jare gelei, geleer en gevoed het, sommer nou net wegklap? Hoe kan sy vir die vrou wat geen opoffering te groot geag het nie, nou gaan vertel dat alles verniet was, dat daar niks van haar drome en ideale gaan kom nie? En daar is die verpligting teenoor haar kuns … en dié God wat haar die talent geskenk het. Wat van Hom?
Die een kant loop die pad van plig … die pad sonder Flip. Dan is daar die ander pad … die pad saam met die man wat sy diep liefhet, die pad vir Salome, die vrou. Maar kan die vrou, Salome, afgeskei word van die kunstenares? Is hulle nie in wese een nie? Kan ’n mens hulle ooit skei? Durf jy? Saam is hulle ’n volmaakte eenheid, so deur ’n alwyse Skepper beplan. Sal die vrou Salome ooit werklik gelukkig kan wees sonder om te sing? En sal die sangeres Salome ooit kan sing sonder om ook vrou te wees? Hoe breek jy ’n geheel sonder om met twee halwes te sit?
Maar ’n toekoms sonder haar man? Dit was Flip Grimbeeck wat haar wakker gemaak het, wat haar werklik laat sing het. Sal dit hy wees wat die pragtige klanke in haar keel laat verstil?
Met rukke is sy opstandig, vaar sy swyend teen hom uit. Hy is selfsugtig. Hy dink net aan homself. Maar hoe sy ook al redeneer, een ding weet sy: sy het Flip Grimbeeck lief en sonder hom is daar vir haar geen toekomsgeluk moontlik nie.
Dae en nagte van felle stryd volg – ook letterlik op haar knieë. Dikwels sak sy sommer daar in die toilet, waar sy weet Flip nie onverwags op haar sal afkom nie, op haar knieë neer en redeneer met God … en stry … en soebat, pleit, huil. Daar moet ’n ander weg oopgaan. Sy sien nie vir een van die twee kans nie. Daar moet ’n ander plan, ’n ander oplossing wees! God kan dit doen. Hy moet! Dis mos Hy wat aan haar die talent gegee het. En dis ook Hy wat Flip Grimbeeck aan haar gegee het! Maar nou bots die twee … en dis Hy wat ’n oplossing sal bied sodat hierdie twee belangrike dinge in haar lewe op een pad sal kan saamstap.
Maar dis of God stil geword het in hierdie dae. Nêrens kom ’n derde pad in sig nie. Daar is net twee paaie, dié twee paaie wat in verskillende rigtings uiteenloop …
Man en vrou praat nie weer oor die saak nie. Dis of daar niks meer is om te sê nie. Wat gesê moes word, is gesê. Nou moet Salome net besluit. Haar man het klaar besluit en niks sal aan daardie besluit verander nie. Sy merk op dat hy rustiger is, meer ontspanne. Die strak lyne om sy mond en oë het versag, so asof hy eindelik vrede gevind het met homself.
Maar vir haar is daar geen rus en geen vrede nie. Sonder dat haar man dit weet, gaan sy nie meer na Madame vir klasse nie. Sy kanselleer haar afsprake. Selfs haar eerste kontrak met ’n platemaatskappy kanselleer sy sonder om Madame in die saak te ken.
Veertien dae later kan Flip haar lyding nie meer verduur nie. Toe sy een middag tuis kom, haar hare deurmekaar van die wind, haar oë groot en donker in hul kasse, die vel bleek oor haar wangbene, vra hy stil: “Is dit so moeilik om te besluit, my liefling?”
Met ’n snik werp sy haar teen hom aan en sy arms ontvang haar. Die liefde van ’n vrou soos Salome … Wat kan daarmee vergelyk word? Dis kosbaarder as korale, as fyn goud, as enigiets wat hierdie wêreld ’n man kan bied. Maar vir hoe lank nog sal hy haar so kan vashou, weet dat sy nog syne is?
Madame Campagni ontvang haar leerling swyend. Sy het nie navraag gedoen toe sy veertien dae lank nie opgedaag het nie. Sy het net onrustig gewag, en vandag het sy gekom … ’n afglansing van die pragtige kind wat ’n paar jaar gelede vir die eerste keer voor haar gestaan het. Dis ’n volwasse vrou wat vandag voor haar staan. En intuïtief weet die lewenswyse ou dame wat Salome vir haar kom vertel het. Maar sy wag dat Salome dit self sê.
“Madame …”
Dis lank stil.
“Ja, my kind?”
“Moenie …” Sy byt op haar bleek onderlip. “Moenie my u kind noem nie. Ek is dit nie werd nie.”
“Jy sal altyd my spesiale dogter bly.”
“Madame!” Dis ’n noodroep uit ’n verskeurde hart en Madame hou haar arms oop en, asof sy nog ’n klein dogtertjie is wat teen haar moeder kom skuiling soek, hardloop sy in haar leermeester se omhelsing in, huil sy haar bitter trane teen die vol boesem uit.
Later word dit stil, baie stil in die saalagtige vertrek waar die groot vleuelklavier amper verdwerg eenkant staan en glim.
Dan sit Salome regop. “Ek gaan weg.” Madame sê niks nie, kyk net, en sy vervolg: “Ek gaan vir goed weg. Dis … alles verby … met my sang, bedoel ek.” Sy kan nie langer in daardie oë kyk nie. Sy kyk weg, staar vas op die wit klawers. “Flip sien nie meer kans om hier te bly nie … in die stad, bedoel ek. Hy sê hy móét weg, terug Karoo toe waar hy kan asemhaal. Hy sê hy sal sterf as hy langer hier moet bly.” Stadig lig haar ooglede. “Ek kan hom nie alleen laat gaan nie. Verstaan u? Ek is sy vrou. Ek het hom lief. Ek … ek kan nie sonder hom bestaan nie.”
“Kan jy bestaan sonder om te sing?”
Sy swyg eers, maak ’n radelose gebaar. “Dis nie … dat ek nie meer sal sing nie. Ek kan oral sing.”
“Ja, natuurlik. Vir die bome en die bossies en die vlaktes … en by troues en skoolkonserte en selfs by begrafnisse.” Dis stil. “Jy het die potensiaal om jou land se beroemdste sangeres te word en jy wil dit gaan begrawe.”
Die antieke muurhorlosie tik die sekondes af.
“U is ook ’n vrou, Madame. U het ook eenmaal liefgehad.” Die groenbruin oë pleit. “U het u kuns gekies. Vandag, noudat u kan terugkyk, sou u, as u weer kon kies, dieselfde keuse gedoen het? Was die roem van die verlede die eensaamheid van die hede werd? Was die roem kompensasie vir die honger na liefde? Sê vir my, Madame!”
Die ou dame verbleek merkbaar en haar oë weifel. Sy staan op, stap weg, gaan staan voor die oop vleuelklavier, laat haar vingers oor die klawers streel. Roem … Wat is roem? Dis net vir die hede. Dit gaan so gou verby en wat is dit dan? Net ’n herinnering. Hierdie ringe aan haar vingers, die pêrels om haar nek … Dis gister se asse waarmee sy haarself probeer warm hou in die koue winternagte van die ouderdom. Gister se roemvure is uitgebrand en jy is net ’n stofbedekte langspeelplaat, verouder en vergete in ’n tyd dat CD’s die nuwe musiekgier is.
Die toejuiging van bewonderende skares is verby en die nagte het stil geword, baie stil waar jy alleen in jou groot huis lê, omring van soeweniers uit die verlede. En die groot ruikers wat by die armvol uitgedeel is … Hul blomblare lê verbleik tussen bladmusiek wat nooit meer oopgemaak word nie. Nog asse van gister se vure … asse waarin daar geen warmte meer is nie. Uitgebrande as … vergane roem.
As haar keuse anders was? Hy leef nog. Hulle sou saans saam voor die kaggel gesit het, herinneringe gedeel het. Daar sou kinders en kleinkinders gewees het: die ewigbrandende hout op ’n onblusbare vuur.
Sê vir my, Madame!
Sy draai om en die ou oë swem, die stem kraak meer as gewoonlik. “Jy het reg gekies, my kind.”
Hulle neem sonder woorde afskeid. In sulke oomblikke is woorde oorbodig.
Toe hulle by die voordeur kom, sê Madame: “As jy ooit weer terugkom … onthou vir Maria Campagni. Sy sal hier wees.”
Salome knik net, stom van smart en hartseer. Volgens menslike beraad sal sy nooit weer hierdie potsierlike gestaltetjie sien nie.
Toe sy by die woonstel kom, wag dit vir haar – Rosalie se tjek. Met ’n stil gesig trek sy dit uit die koevert. Hiermee gaan sy haar treinkaartjie koop. Dan stap sy deur na die kombuis waar sy haar man hoor koppies regsit.
“Ek maak koffie.”
“Dankie, maar kom haal asseblief eers vir my die koffer van die kas af.”
Hy draai stadig om, kyk haar stip aan. “Koffer?”
“Ja. Ek sal moet inpak. My trein vertrek vanaand om sewe-uur.” Sy glimlag stadig. “Karoo toe. Ek gaan my mense vertel dat ek getroud is en dat ek saam met my man gaan.”
’n Teelepel val met ’n metaalklank op die teëlvloer.
“Is jy seker, Salome?”
“Ek is seker, my man. Baie seker.” Sy stap nader, plaas haar arms om sy nek, en weer, soos die dag van hul troue, sluk Flip Grimbeeck hard, voel hy byna beangs vir die liefde wat hy in sy vrou se oë lees. “Waar jy gaan, wil ek gaan. Jou land is my land. Jou toekoms is my toekoms. Jou geluk is ook myne.”
“Salome!” Hy sluit sy oë, druk haar met sy maer kunstenaarshande baie hard teen hom vas. “Salome, my vrou …”