Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 10

7

Оглавление

Hy bly staan net voor haar, antwoord nie eens op haar “Goeiemôre, meneer Günther” nie. Hy kyk net.

Sy doen haar bes, maar weet sy kan dit nie keer nie. Sy voel die warmte oor haar hals en wange sprei en moet vir haarself glimlag. ’n Vrou van veertig wat statig en waardig en o, so wêreldwys wil voorkom, bloos nie!

Sy sien die goedkeuring in sy oë en voel die blos verder verwarm. Dan gee sy maar oor en lag saggies.

Hy praat nog nie, wys net met sy vinger sy moet so ’n entjie wegstap, wys weer dat sy in die rondte moet draai.

“Is daar baie foute?” vra sy oplaas onseker.

Hy skud sy kop heen en weer en stap stadig nader, hou dan albei sy hande met die handpalms oop na haar uit en sy lê spontaan haar hande in syne.

Toe hy praat, klink sy stem hees, half onbekend. “Dis die ware Wena Conradie hierdie.”

Sy skud haar kop, terwyl haar oë effens versomber. “Nie eintlik nie. Binne is ek nog dieselfde.”

“Is jy seker?”

Sy kyk onseker op, laat dan haar oë sak. Hy is weer reg. Sy is binne ook nie meer dieselfde nie. Selfs dáár het ’n verandering ingetree. Maar sy wil nie nou daaraan dink of daaroor praat nie.

Sy trek hom aan die hand na die sitkamer. “Kom kyk my sketse.”

Hy laat toe dat sy hom tot in die middel van die vertrek trek, maar weier om haar hand te laat gaan en skud weer sy kop.

“Nie nou nie. Later. Ek wil nog eers na jou kyk.”

Sy kyk hom betigtigend aan. “Jy laat my nou selfbewus voel.”

“Jy sal daaraan gewoond moet raak. Ek gaan nog baie kyk. En nie net ek nie. Het jou kinders jou al gesien?”

Sy lag en trek haar hand beslis uit syne, wink na ’n stoel. “Ja. Hulle was ’n bietjie … oorbluf!”

“Dit sal ek glo. Maar tog waarderend, hoop ek?”

“O ja!” Sy neem ook plaas, kyk hom dan vas aan. “Dankie, Raul.”

“Dankie?”

“Ja. Dis jý wat my oë oopgemaak het, my as ’t ware wakker geskud het. Kinders moet trots wees op hul ma se voorkoms. Jy weet, ek het deur die jare net altyd gedink aan kos en klere en die nodige vir my kinders. Ek het ook hard probeer om hulle die regte opvoeding te gee, die regte waardes te leer. Christelik en kerngesond groot te maak. En in dié proses het ek myself verloor.

“Ek het myself wysgemaak daar is nie tyd nie en dat my eie persoon glad nie van belang is nie. En dit was verkeerd. Ek besef vandag eers dat my kinders hulle seker dikwels in die verlede vir my geskaam het, skaam was vir hul verwaarloosde ma wanneer hulle met maats hier aangekom het.” Sy gee ’n klein glimlaggie wat aan die man wat stil sit en luister se hart pluk. “Ek verstaan nou hoekom Amanda ons vir jou wou wegsteek. Dit was nie sodanig die buurt of die huisie waarin ons woon wat haar bang gemaak het nie. Sy was ook skaam vir my – en sy het alle rede gehad.”

Hy skud sy kop en weer is daar daardie vreemde lig in sy oë wat haar so kan roer. “Jy is altyd te hard met jouself.”

“Maar dis die waarheid. Ek sien dit nou in. ’n Ma moet haar mooi hou vir haar kinders, al is sy al veertig en al dink sy die lewe hou geen belofte meer in nie. ’n Kind moet altyd trots wees op sy ma. Ek het myne in hierdie opsig gefaal. O, Raul, ek wens jy kon hul gesigte sien vanoggend! Dit het my soveel vreugde verskaf – maar my ook só skuldig laat voel. En dit het maar die minimum tyd én koste geverg om ’n verwaarloosde ma in ’n goed versorgde een te verander.”

Sy lag, en weer besef die modebaas dat hy nog nooit so ’n mooi glimlag gesien het as Wena Conradie s’n nie. En vandag is dit ekstra mooi, maak dit haar onweerstaanbaar pragtig.

“Soos jou kennersoog wel sou gesien het, meneer die modebaas, is die materiaal spotgoedkoop. Die skoene,” en sy skop laggend haar voete vorentoe vir sy inspeksie, “is skoene wat my dogter nie meer wil dra nie.” Die bruin oë skitter. “En die lipstiffie, die naellak en die bietjie oogskadu is ook oorskiet wat my dogter nie meer gebruik nie. Net my hare het ek professioneel laat sny, maar nie laat kleur nie. Ek was nie seker …”

“Ek is bly jy het dit nie laat kleur nie. Ek hou van die silwer in jou hare. Dit gee jou ’n soort statigheid en … dit pas by myne.” Hy lag. “Anders is jý ook netnou te jonk vir my.”

“O, Raul! Jy spot nou met ou mense!”

“Ou mense? Voel jy oud op hierdie oomblik, Wena? Eerlik?”

Sy erken glimlaggend. “Nee. Ek voel vir die eerste keer in jare jonk en …”

“Mooi. Dis wat jy is. Jonk en mooi. Jonk en mooi vir nog dertig jaar. Dertig jaar is lank, Wena. Wat gaan jy met die volgende dertig jaar doen?”

Sy versober, skud dan haar kop. “O, ek weet nie. Ek … het nog glad nie daaraan gedink nie, maar die verbleikte rokkies en skewe skoentjies is beslis vir goed weggepak.”

“In daardie geval, mevrou Conradie, het ek ’n formele aanbod om jou te doen vir die volgende dertig jaar.”

“Ja?”

Hy kyk haar lank aan, sê dan stil: “Daar is eintlik twee aanbiedinge, maar ons sal eers net oor die een gesels. Ek wil jou by Günther hê. Voltyds.”

“Maar Raul! Jy het nog nie eens my sketse gesien nie!” protesteer sy, maar met ’n opgewonde blos op haar wange.

“Nou maar wys my dan jou sketse.”

Sy gaan haal dit in haar kamer en sê toe sy weer binnestap: “Ek steek dit nog altyd in my laaie tussen my klere weg. Niemand weet nog nie. Ek wou niemand daarvan vertel voordat ek nie seker is daar steek iets in nie.” Toe hy dit by haar wil neem, hou sy dit terug, haar oë ernstig. “Hoe gaan dit op kantoor met Amanda?”

“Heeltemal goed sover ek weet. Hoekom?”

“Ek bedoel …” Haar stem klink skuldig. “Ek het nie eintlik hierdie week aan haar aandag gegee nie. Ek was so besig met my eie dinge.”

“Vergeet ’n rukkie van Amanda, asseblief, Wena. Ek het haar om verskoning gevra en sy het dit wonderbaarlik kalm hanteer; voorgegee dis nie so erg nie. Verder is sy nie oorvriendelik nie. Miskien begin dinge al reeds uitbalanseer. Gee nou daardie sketse. Ek brand.”

Dis lank stil terwyl hy op sy tyd, byna tergend langsaam, die een ná die ander ontwerp met ’n arendsblik ondersoek. Sy waag dit nie om ’n woord te sê nie. Sy haal skaars asem. Eindelik kyk hy op, sit die sketse langs hom neer en die blik in sy oë laat haar haar asem stadig uitstoot.

“Hoekom het ek jou nie jare gelede al ontdek nie?” Sy antwoord nie, kyk hom net aan en hy staan stadig op. “Wena, jou talent is onmiskenbaar. Ons kan jou sketse later in meer besonderhede bespreek, maar … nou wil ek eers geluk sê. Nou sal ek glad nie rus voordat jy my nie belowe het dat ek en jy in die toekoms gaan saamwerk nie. Jy móét voltyds by Günther aansluit.”

Sy laat toe dat hy haar uit haar stoel optrek en die bruin oë kyk hom vol ongelowige vreugde aan. “Is my sketse werklik goed, Raul? Jy sê nie maar sommer …”

“Nee. Ek sê nie maar sommer nie. Hulle is goed. Báie goed. Mag ek jou gelukwens?”

Voordat sy heeltemal snap wat hy bedoel, het hy haar nader getrek, en vir die eerste keer in jare voel Wena Conradie ’n man se lippe hare aanraak. Hy soen haar baie sag, baie teer. Maar dan trek hy haar styf teen hom aan, en sy lippe dwing hare om hul passiwiteit te verloor. Vir die eerste keer in byna vyftien jaar ontvang – en gee – sy ’n minnaarskus.

Hoe lank hierdie soen sou aangehou het, weet nie een van die twee nie. Maar dit word skerp onderbreek deur ’n uitroep agter hulle. Wena staan versteen terwyl Raul vinnig omswaai.

Daar is verstarring in die oë van die jong meisie in die deur. “Dan is dít wat al die tyd aan die gang is!” Sy stap nader, en met elke tree wat sy gee, word haar houding vyandiger, die blou oë soos twee sweisvlamme in haar wit gesig. “Preek vir my, nè, my liewe Mams! Vertel my ’n vrou maak haar nie goedkoop nie. En al die tyd ontvang jy my vriend agter my rug in jou huis!”

“Amanda!”

Sy swaai soos ’n katwyfie om na hom. “En jy, meneer die groot modebaas en Don Juan, wat tog so begaan was as ek net iets teen my ma sê. Natuurlik! Alles is nou baie duidelik. En sy …” Daar is haat en veragting in die blik wat na haar ma keer, en Wena krimp weg voor haar dogter se vernietigende beskuldiging. “Skielik nuwe rokkies en lipstiffie en oogskadu en … En jy preek vir mý? En al die tyd is jy besig om jou eie dogter in die rug te steek, doelbewus haar kêrel af te vry. Wat ’n ma! Wat ’n ma om te hê!”

“Amanda, ek sal nie toelaat …”

“Nee, Raul, nee, asseblief! Los!” Dis of die doodsheid Wena skielik verlaat en sy tree vorentoe, kyk die man pleitend aan. Sy skud haar kop.

“Nee. Gaan eers, asseblief.”

“Wena, ek …”

“Asseblief! Ek smeek jou. Gaan eers, asseblief.”

Hy kyk strak in haar oë af, dan na die dogter. Met ’n kragwoord tel hy die sketse van die bank af op en stap uit.

Dis doodstil in die vertrek nadat sy motor se dreuning vervaag het.

Wena probeer haar dogter moedig in die oë kyk. “Mandatjie, luister …”

“O nee, nie weer nie. Mandatjie laat haar nie weer aan die neus rondlei nie. Dit het lank genoeg gebeur.”

Wena verbleek. “Glo jy dit werklik van my, my kind? Ken jy my as ’n goedkoop vrou, Amanda?”

Daar is ’n effense weifeling in die blou oë, maar haar stem is kil. “Nee, maar … ek kon my nog al die jare met Ma misgis het.”

“Twintig jaar? As ek ’n gemene, agterbakse, slegte vrou was, sou jy dit eers vandag ontdek het?”

Amanda kyk weg, en haar stem verraai dat die trane naby is. “Maar wat ek vandag gesien het, is iets … is iets wat ek nie gedroom het ek ooit sou sien nie.” Sy sien haar ma se oë voor hare weifel en weer stu die woede en vernedering in haar op, slaan sy genadeloos toe. “Raul het die afgelope tyd baie verander. Nou weet ek dis sedert Ma op die toneel verskyn het. Maar wat hy in Ma sien … ’n vrou met grys hare … O, ek sal julle nooit vergewe nie. Geen ma kan gemener en laer optree nie. Skynheilig! Dis wat Ma is!”

“My kind, asseblief, gee my net ’n kans om te verduidelik …”

“Wat te verduidelik? Hoe julle al die tyd besig was om my in die rug te steek en agteraf vir my te lag? Maar ek sal nie so seker van myself wees as ek Ma is nie. Dink Ma werklik hy stel belang? In ’n vrou soos Ma? Oud en grys al, haar beste jare verby, met allerhande geraamtes in haar verlede en boonop vasgeval in hierdie armsalige deel van die stad?” Sy lag skel. “Arme Ma! Ek behoort jou jammer te kry. Jy is ’n sot soos ek een is! Ons albei word net gebruik vir wat hy uit ons kan kry …”

“Hoekom sê jy so?”

“Vir my kan hy gebruik as mannekyn. Ek is ’n bate vir sy besigheid. En Ma … Wel, ek dink hy vind dit seker aardig dat ’n vrou van veertig soos ’n bakvissie verspot raak oor hom. Hy het seker verveeld begin raak met al die jong meisies wat so om hom draai. Dis ’n groter oorwinning om ’n vrou van Ma se jare verlief te maak.”

“Amanda, my kind, dit is nie soos jy dink nie. Daar is niks aan die gang tussen my en Raul Günther nie. Soos jy self gesê het, is dit verspot om net daaraan te dink. Waarom sal ’n man soos hy in ’n vrou soos ek belang stel? Ek is nie so dwaas om vir een oomblik te dink dat hy ooit in my sal belang stel nie.” Die bruin oë is stil, baie stil op haar dogter gerig. “Wat meer sê, my kind. Ek en jy weet mos albei dat daar nooit iets van kan kom tussen my en enige man nie. Dink jy ek sal met oop oë vir my ’n hel skep?”

Daar is nou openlike onsekerheid en twyfel in Amanda se blik. Dan verander haar houding. “Maar hoe is dit dan dat ek vir Raul hier by ma betrap het terwyl hy Ma soen? Wat ís dan aan die gang?”

“Ek sal jou vertel. ’n Rukkie gelede het hy my gevra om vir hom ’n paar ontwerpe te doen. Bloot eksperimenteel. Kan hy dit gebruik, goed. Kan hy nie, dan is dit ook tot daarnatoe. Ek het toe ingestem en vandag het hy die sketse kom haal en …”

Haar dogter se oë is groot en rond. “Ma het my niks hiervan vertel nie.”

“Nee, ek het nie. Ek wou dit as ’n verrassing vir julle hou, dis te sê as hy dit goed sou vind. As die teenoorgestelde sou gebeur, sou ek julle nooit daarvan vertel het nie. Dit sou nie saak gemaak het nie.”

“Raul sal Ma net vra as hy weet dat daar iets in steek.” Sy lag half verdwaas. “Dis ’n groot eer om vir Günther te ontwerp.”

“Ja, ek besef dit, my kind. Daarom dat ek maar eers stilgebly het. Ek wou nie dinge opjaag voordat dit nie werklikheid is nie. En vandag het hy toe daarna gekyk en hy was ingenome, sommer baie ingenome daarmee. Só ingenome dat hy my net daar gelukgewens het met ’n soen. En toe het jy verskyn.” Weer kyk die stil-bruin oë baie vas in die bloues. “Dis hoe dit gebeur het en dit was al, my kind. Werklik al.”

Amanda swaai haar hande in ’n magtelose halfsirkel. “Dan … dan is ek jammer, Mams. Ek het natuurlik nie kon droom dat dit bloot besigheid is nie. Ek … het seker te gou tot gevolgtrekkings gekom. In my agterkop het ek besef dat daar êrens darem seker ’n verklaring moet wees. Ek bedoel maar … Ma en Raul … Dit is belaglik.”

Die moeder knik, glimlag, maar steeds is die oë baie stil. “Ja, my kind. Dis regtig belaglik.”

Amanda draai om. “Nou ja, ek moet waai. Ek het my handboek hier vergeet, en ek móét dit hê vir ’n lesing vanmiddag. Sien Mams weer later.”

Sy wuif by die deur en verdwyn dan, en Wena bly alleen agter. Sy staan nog lank baie stil nadat die voorhekkie se bekende kraakgeluidjies reeds weggesterf het.

Daar is geen teken van woede of selfversekerdheid in Amanda toe sy later die dag die grootbaas van Günther se kantoor binnestap nie. Sy lyk, om die waarheid te sê, soos ’n bang kind toe sy voor die lessenaar gaan staan en in sy koel, streng gesig afkyk.

“Raul, ek het net kom sê ek is … jammer oor … vanoggend.” Sy byt hard op haar onderlip toe daar geen teken van versagting by hom kom nie. “Ek … was te haastig … Ek is regtig jammer.”

“Jy hoef nie vir my om verskoning te vra nie. Jy is dit aan jou ma verskuldig, nie aan my nie.” Die oë is kil en krities. “Die dinge wat jy aan haar gesê het, is onvergeeflik. Ek het nie afgeluister nie. Jy het so geskreeu dat ek jou tot by die motor kon hoor.”

Die blonde koppie sak vooroor. “Ek is jammer. Ek het haar dit ook gesê. Ek weet ek het lelike, onware goed vir haar en van haar gesê. Ek weet nou wat het aanleiding gegee tot … wat ek gesien het. Mams het my vertel.”

“Wat het sy jou vertel?”

“Dat sy vir jou ’n paar ontwerpe gedoen het en dat jy dit baie goed gevind het en haar toe maar net met ’n soen gelukgewens het. Ek … het nie daarvan geweet nie. Sy het my niks vertel nie, en … O, Raul, moenie so hard wees nie. Jy is haatlik deesdae!”

“Is ek? Miskien is dit maar net dat ons mekaar nou eers werklik leer ken, Amanda. Ek vind jou weer deesdae onuitstaanbaar selfsugtig, onbeheers en kinderagtig.” Sy stem en sy oë is op hierdie oomblik net so genadeloos soos hare vanoggend was. “En daardie drie dinge gaan jou hele toekoms verwoes as jy nie nou begin grootword nie. Begin gerus tuis daarmee, by jou ma. Sy het ’n buitengewone talent vir ontwerp, en sy kan baie goed doen daarmee as sy wil – en as haar dogter haar die sukses gun. Ek het haar reeds ’n vaste betrekking by Günther aangebied en ek hoop van harte sy sal dit aanvaar. Maar ek is bevrees …”

“Wat bedoel jy? Natuurlik sal Mams gryp daarna.”

“Ja, maar sal haar dogter toelaat dat die son ook nou ’n slag op haar ma begin skyn?”

“Raul!”

“Jy is selfsugtig, Amanda. Jy wil alles net vir jouself hê. Jou ma was nog nooit ’n mens in jou oë nie. Sy is net daar om die lewe vir jou gemaklik te maak. En vir jou mooi klere te maak. Sy is net vir jou ’n noodsaaklikheid, nie ’n vrou wat dieselfde dinge van die lewe mag verwag as wat jy verwag nie. Maar jou ma is ’n mens soos jy. Sy het ook verlangens en begeertes, nes jy. Sy is ’n vrou en sy lewe, nes jy. Maar in jou oë was sy tot dusver net ’n ding wat geen reg het op ’n plekkie in die son nie …”

“Dis nie waar nie!” fluister die jong meisie geskok, maar dis ’n ander Raul Günther wat sy vandag leer ken, ’n man wat skielik sonder enige sagtheid of genade kan wees.

“Dit is waar, en jy weet dit. Wel, van nou af gaan jou ma ook haar regmatige stukkie sonskyn in die lewe kry. Die talent wat sy ontvang het en wat sy nog al die jare net op jou uitgestort het, gaan nou ontwikkel en bloei. Jou ma gaan ’n mens uit eie reg word, los van haar kinders. Ek gaan toesien dat dit gebeur … en as jy enigiets daarteen het, moet jy nou praat.”

Sy lyk verbysterd. “Maar natuurlik het ek niks daarteen dat Mams vir jou werk nie. Dis fantasties en ek is bly, verskriklik bly daaroor, maar jy wil my nie glo nie. Jy … jy praat asof ek jaloers op haar is.”

“Is jy nie? Jy gaan beslis in die toekoms rede hê om jaloers op haar te wees as jy nie van jou selfsug ontslae raak nie. Ek het alles in jou ma gevind wat jy tot dusver nog nie het nie, Amanda. Sy is die onselfsugtigste mens wat ek nog leer ken het. Sy is die mees beheerste en mees volwasse vrou wat ek in ’n lang tyd die eer gehad het om te ontmoet. Dis dinge wat jy gerus by haar kan gaan leer. Daar wag vir jou ’n groot toekoms as mannekyn, maar tot dusver hang daar nog ’n groot vraagteken daaroor. Oor jou ma se toekoms hang daar vir my geen vraagteken nie.”

Amanda is doodstil. Sy staar hom net aan, en hy vervolg kalm en saaklik: “Jy gaan van môreoggend af oor na die onderbestuurder se kantoor. Een van sy dames het bedank en ek skuif jou oor na hom toe.”

“Jy … jy vat my weg uit jou kantoor?”

“Ja.”

“Raul, nee!”

Hy staan op, sy stem waarskuwend. “Amanda, ék is die baas hier. As jy jou nie by my besluite gaan neerlê nie, moet jy vir jou ’n baas gaan soek wat jy kan rondbeveel. Hier gee ék die bevele. Jy begin môreoggend in meneer Duvenhage se kantoor. Dis afgehandel. Jy kan maar gaan.”

Wena voel onmiddellik die spanning in haar opstu toe haar dogter laat die middag tuiskom. Amanda se breë glimlag bluf haar glad nie. Maar sy probeer nie delf nie. Sy weet intuïtief daar het iets op kantoor gebeur en hoewel sy nuuskierig en bekommerd is, keer iets haar om uit te vra.

“Ek wil Mams gelukwens met Mams se wonderlike prestasie.” Sy gee haar ’n soen. “Raul lyk baie in sy noppies. Ek brand van nuuskierigheid om die sketse te sien.”

“Ag, dis regtig nie so vreeslik wonderlik nie, my kind.”

“Raul sal nie voorgee nie, Mams. Hy is baie reguit.” ’n Skaduwee gly oor haar gesig, maar dan helder dit weer op. “Hy het my vertel dat Mams nou permanent vir Günther gaan werk. Dis fantasties!”

Wena se blik huiwer. “Ek … het nog nie finaal besluit nie.”

Haar dogter kyk haar ongelowig aan. “Mams dink tog nie daaraan om dit van die hand te wys nie!”

“Ek weet nie, my kind. Ons sal maar nog sien.”

Amanda aarsel, kyk dan ernstig op. “Mams, ek hoop nie dis omdat ek vanoggend … O, asseblief, Mams, vergewe my vir vanoggend. Ook vir die baie ander kere wat ek lelik met jou was. Ek is jammer ek is so onbeheers en … kinderagtig. Maar ek is nie regtig selfsugtig nie. Ek gun Mams alles, alles moontlik. Ek is só trots op Mams. Asseblief, neem Raul se aanbod aan.”

Wena aarsel. “Mandatjie, ek wil nie sommer in ’n ding instap wat ek miskien nie suksesvol sal kan deurvoer nie. Ek moet eers daaroor dink.”

“Maar Mams wíl tog graag ontwerp, nie waar nie? En die geleentheid om dit vir Günther te doen … Dis ’n unieke kans!”

“Ja, ek weet, my kind, maar …” Sy swyg. Hoe kan sy aan haar kind vertel dat haar hart brand om hierdie aanbod te aanvaar, maar dat haar verstand haar waarsku dat sy dit liewer moet laat verbygaan? “Ons praat maar weer later daaroor. Laat jou Raul maar eers my sketse goed bestudeer en besluit of daar werklik iets in steek.”

Amanda se gesiggie val. “Hy is nie meer mý Raul nie, Mams.”

Wena sien die blou oë met trane vul en haar hart wil breek. “Hy … hy het my vandag verskuif na die onderbestuurder se kantoor.” Sy sluk swaar. “Hy het vreeslik met my baklei, vreeslike goed vir my gesê. Miskien is hy reg, Mams. Ek … weet ek het geen selfbeheersing as ek kwaad word nie, en ek weet ek is seker soms selfsugtig, maar … ek is nie so sleg soos wat hy gesê het nie. Ek ís lief vir Mamma en ek ís vreeslik bly oor hierdie nuwe ding en ek wil hê die son moet op Mamma skyn … Glo Mamma my?”

Wena trek haar dogter hartseer teen haar vas. As Amanda haar Mamma begin noem, weet sy dat dit diep seer is, dat haar dogter baie stukkend van binne is. “My skat, natuurlik weet ek al hierdie dinge, en natuurlik is jy nie sleg nie. Waar kom Günther daaraan?”

“Hy was vreeslik kwaad. Ek het hom nog nie so gesien nie. Hy was heeltemal anders. Asseblief … Mamma moet hierdie aanbod aanvaar, anders sal hy weer dink dis ék wat iets daarmee te doen het.”

Sy streel die blonde hare en sê: “Moenie jou verder bekommer nie, my skat. Ek en hy sal mekaar wel goed verstaan, of ek die aanbod aanvaar of nie. Dis ék wat moet besluit. Net ek. Raul Günther sal nie vir my besluit nie.”

Ena Murray Omnibus 23

Подняться наверх