Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеDie jong meisie stap huiwerig binne toe daar op haar klop geantwoord word.
Hy wys na ’n stoel en sy neem plaas.
“Goeiemôre, Amanda.”
“Môre, Raul.”
“Jy was nie gisteraand by jou klas nie. Hoekom nie?”
“Ek het … ontsteld gevoel.” Die onderlip word hard vasgevang. “Ek is jammer. Ek het eintlik gedink jy … gaan my wegjaag …”
Die wenkbroue lig. “Wat het jou so laat dink?”
“Jy … jy het my uit jou kantoor gejaag.”
“Ek het nie. Ek het jou gevra om te gaan omdat ons gesprek afgehandel was en jy moes gaan werk en ek ook. Waar was jy?”
“Ek is terug huis toe.”
“Om met jou ma te gaan baklei.”
“Nee, ek het nie.” Die ooglede val voor die reguit blik wat op haar rus. “Ek was ontsteld en … Ek is jammer. Moenie vir my kwaad wees nie, Raul. Asseblief.”
“Dis eintlik vir jou ma wat jy om verskoning moet vra, nie vir my nie. Jou gedrag was baie kinderagtig, Amanda. Voordat jy ooit sal kan droom om die top van die leer te bereik, sal jy moet leer om jouself te beheer en om eers te dink voordat jy doen en praat. Sonder selfbeheersing is jy gedoem.”
Sy laat haar kop hang. “Ek … sal nie weer nie.”
“Dit beter nie weer gebeur nie,” is die streng kommentaar, en die trane begin weer rol. Sy stem versag effens. “Jy is nog so ’n kind, Amanda. Jy het nog baie om te leer. Trane maak nie altyd alles reg wat verbrou is nie. Jy sal nog op ’n dag vind dat trane niks wat gedaan, of gesê is, ooit kan herroep nie.”
“Maar jy was so anders nadat … nadat jy my ma afgelaai het. Jy was geskok. Ek kon dit sien. Moenie stry nie, Raul. Dit was vir jou ’n skok om te sien waar ek bly en in watter omstandighede.”
“Dit was ’n skok, ja, maar nie in die sin wat jy dit sien nie. Ek sal nie verduidelik nie. Jy sal dit nie begryp nie. Die grootste skok was dat jy doelbewus dinge weggesteek het. Jy het nie juis ’n hoë dunk van my nie.”
“Dis nie waar nie! Ek het jou lief. Ek het jou dit reeds gesê. Maar ek was bang. Ek wil jou nie verloor nie, Raul, jy is alles vir my,” erken sy met kinderlike opregtheid en sy besef nie dat die man se blou oë met kommer verdonker nie. Sy verstaan dit verkeerd en staan op, kom om die lessenaar gestap. “Raul, jy moet my nooit in die steek laat nie, asseblief.”
Hy staan ook op, probeer padgee, maar haar arms is reeds om sy nek en haar kop lê teen sy bors en weer loop die trane. Hy kan nie anders as om haar liggies vas te hou nie.
“Daar lê harde werk voor, Amanda. Laat ons nou asseblief eers op jou nuwe loopbaan konsentreer. Jou toekoms is op die oomblik die belangrikste.”
“Ek stel nie daarin belang as jy nie ook deel daarvan is nie. Jy is, is jy nie, Raul? Sê jy sal altyd deel van my toekoms wees, asseblief?”
Hy kyk op die pleitende gesiggie af en glimlag, en as dit nie so spontaan is nie, merk sy niks nie. “As ’n Günther-mannekyn sal my en jou lewe noodwendig ineengestrengel bly.”
“Ek praat nie net van daardie sy van die saak nie.”
“Voorlopig praat ons net daarvan,” val hy haar vinnig in die rede. “Op die oomblik is dit die belangrikste.”
“Nie vir my nie,” hou sy koppig vol. “Jý is die belangrikste.”
Hy sug en druk haar beslis van hom af weg. “Gaan sit, Amanda.” En toe sy huiwer: “Nee, gaan sit.” Hy wag tot sy plaasgeneem het. “Ons moet die feite in die oë kyk.”
“As jy weer gaan begin met ons ouderdomsverskil, kan jy maar nou al ophou.”
Sy gesig word streng. “Dis nie net die ouderdomsverskil nie, Amanda. Die mense praat. Mense praat altyd wanneer ’n ouer man te veel aandag aan ’n jong meisie gee.”
“Jy is nie ’n ou man nie!”
“In vergelyking met jou ís ek. Hierdie praatjies kan jou loopbaan baie skade aandoen, veral as dit nog jou baas is wat in die gedrang is. Ons gaan voortaan nie meer saam uit nie.”
“Raul!”
“Ja, Amanda. Ons gaan mekaar ook minder sien. Ons is noodgedwonge saamgegooi in ons werk, maar daar hou dit op. Ek wil nie hê dat jy beskinder en beswadder word nie. Jy is nog maar ’n beginner.”
Haar oë is agterdogtig. “Jy begin klink soos my ma. Dis sý wat hierdie dinge in jou kop geprent het, nè?”
Sy frons word onheilspellend. “Beslis nie. Jou ma het nie ’n enkele woord hieroor gesê nie. Ek besef self watter skade ’n intieme vriendskap tussen ons jou toekoms kan berokken.”
“Maar ek het jou gesê ek stel nie in ’n toekoms belang as jy nie deel daarvan is nie.”
Sy lippe pers op mekaar, dan kyk hy haar vas aan. “Dan verplig jy my om jou voor ’n ultimatum te stel. Óf jy val in by my besluit, óf ek is bevrees hier is nie langer plek vir jou by Günther nie. Die keuse is joune.”
Sy kyk hom verdwaas aan en spring dan op, hewig ontsteld. “Raul! Jy het gesê … jy is lief vir my …”
“Ja, ek het so gesê en ek ís lief vir jou, kleintjie. Maar hiervandaan af is dit werk, niks anders nie. Dis juis omdat ek omgee dat ek nie wil hê dat daar ongure dinge gesê en agteraf gefluister word nie. Dis vir jou eie beswil.”
Amanda se oë begin blits. “Dis net vandat my ma haar neus hier ingesteek het dat dinge begin verander het. Jy kan sê wat jy wil, maar ek weet Ma het iets met hierdie skielike verandering in jou te doen. Alles was wonderlik en goed voordat sy geweet het …”
“Ek hou nie van die manier waarop jy van jou ma praat nie, Amanda,” val hy haar streng in die rede. “Dit was ék wat daarop aangedring het dat sy moet weet en om haar te ontmoet. Ek wil nie hoor dat jy met haar gaan baklei het nie. Hierdie is my eie besluit en het niks met haar te doen nie.”
“Jy is skielik baie gaande oor my ma.”
“Ek probeer net regverdig wees – en dis meer as wat ek van haar dogter kan sê. Laat ons jou ma uit die gesprek hou, asseblief!” Hy stap om die lessenaar, en toe hy plaasneem, is sy stem formeel: “Ons verstaan mekaar nou. Ek dink nie daar is iets om verder te sê nie. Jy kan maar gaan.”
Die toeklap van die kantoordeur dreun in sy ore. Dan sê hy oor die interkom aan sy sekretaresse: “Laat my motor asseblief voordeur toe kom. Ek sal oor twee uur terug wees.”
Wena se kop rug omhoog toe die klop aan die voordeur opklink. Sy frons. Sy was so diep in haar eie somber gedagtes versonke dat sy nie die voorhekkie se bekende krakie gehoor het nie. Wie kan dit wees?
Sy staan baie stil toe die voordeur oopswaai. Aanvanklik praat nie een nie. Dis hy wat sê: “Ek hoop nie ek steur nie, mevrou. Goeiemôre.”
“Môre, meneer Günther. Nee, u steur nie.”
“Ek sal u graag wil spreek as dit moontlik is, asseblief.”
“Seker. Kom binne.”
Sy staan opsy, laat hom binnekom, druk dan die voordeur toe. Hy wys sy moet voor stap, en sy begin die kort gangetjie afstap na die sitkamer wat sommer ook as haar werkkamer dien. Haar oë rus stip op die deurgetrapte tapyt. Sy is intens bewus van haar huisdraskoene, die ou huisrokkie wat los en onvleiend om haar hang, haar hare wat nie so netjies is nie. Haar blik dwaal krities oor die klein vertrekkie wat hulle binnestap. Nie van die netjiesste nie. Oral lê patrone en stukke materiaal rond. Die meubels is verweer, die stoffering op party plekke geskif, selfs stukkend, die gordyne verbleik.
Met bewende vingers tel sy ’n stuk materiaal van ’n stoel af op. “Wil u sit?”
“Dankie.” Hy wag tot sy eers plaasgeneem het.
Sy wag dat hy moet praat, sê hoekom hy hier is, wag met haar hande weerloos in haar skoot.
Hy kyk na die naaimasjien en die materiaal. “U lyk baie besig.”
“Ek … is maar altyd besig.”
Sy weet sy kennersoog het klaar die situasie opgesom. Dis nie die soort materiaal waarmee Günther werk nie.
“Ons kon nie eintlik gister gesels nie. Daarom het ek vanoggend gekom.” Hy hou haar blik met syne gevange. “Ek wil graag openlik praat. Gee u om?” Sy skud haar kop, en hy vervolg: “Ek wil u ook vra om openlik met my te wees, mevrou. Ek weet daar is dinge wat u hinder, bekommer …”
Sy knik. Ja, sy is mal van kommer, ’n soort kommer wat sy nie voorheen geken het nie. Deur ’n lang, slapelose nag het sy besef dat jy jou bekommer oor materiële dinge wanneer jou kinders klein is. Maar die kommer oor ’n kind wat op die drumpel van volwassenheid staan, is iets wat dieper sny, wat oor baie dieper dinge gaan as daaglikse behoeftes.
Sy stem breek deur haar gedagtes.
“Maar voordat ons begin praat … Ek word een en veertig, en my naam is Raul.” Hy glimlag effens in haar verwarde oë af. “Ek het gedink dit sal dit minder formeel maak as ons mekaar op gelyke voet ontmoet en mekaar op die voornaam noem. Ek vermoed ons is min of meer dieselfde jaar se kalwers.”
Sy knik. “Ja. Ek is ook veertig. My naam is Wena.”
“Wena,” sê hy peinsend. “Dit pas jou. Dis sag en vroulik.” Hy sien die fladdering van haar ooglede en vervolg vinnig. “Jy weet nou wat my ouderdom is, dat ek wel Amanda se pa kon gewees het. Dan is ek ook ’n geskeide man.”
Hy bly haar reguit in die oë kyk en sy knik weer. “Ek weet.”
“Ja. Ek veronderstel jy sal weet. Met hierdie twee feite voor oë, neem ek jou nie kwalik as jy bekommerd is nie. Ek sou ook bekommerd gewees het as Amanda my dogter was. Ek wil graag hê dat jy jou hart teenoor my moet oopmaak.” Hy maak ’n bemoedigende gebaar met sy hand. “Sê vir my wat jy werklik in jou hart voel, asseblief.”
Sy lek oor haar droë lippe. Daar is so baie wat sy kan sê, wat sy moet sê, maar dis of hy met hierdie ontwapenende houding van hom die wind uit haar seile geneem het. Sy kyk hom onseker aan. Sy haat dit om mense seer te maak, juis omdat sy self al so baie seergekry het.
Hy sien die stryd in haar en sy mondhoeke verteder. “Sê maar, Wena. Ek sal nie kwaad word nie.”
“Meneer Günther, ek …”
“Raul, asseblief.”
Sy lag senuweeagtig.” Wel, dan, Raul, ek ken jou nie, en ek weet nie watter soort mens jy is nie. Dit is moeilik…”
Hy kom haar te hulp, steeds met daardie onpeilbare uitdrukking in sy oë. “Ek is te oud vir Amanda. Ek is geskei, tweedehands, om dit pront te stel. Ek is te ervare vir haar, ek is altyd omring deur mooi vroue. En so meer, en so meer. Jy is reg, weer reg. Sy verdien iets beter as ek. Tog wil ek my kant van die saak stel. Ek weet nie wat jy van my persoonlike lewe weet nie …”
“Niks nie. Ek sien net nou en dan foto’s van jou in tydskrifte en koerante en …”
“En daaruit sal jy aflei dat ek ’n vrouejagter en ’n losbol is. Nee. Moenie dat ons huigel nie, Wena. Dis die indruk wat deur die sosiale blaaie geskep word. Dit gaan maar so. Omdat ek Raul Günther is, ken ek vroumense. Baie. Ek is uit die aard van my bedryf gedurig omring deur mooies, deur aantreklikes, beeldskones. Te kus en te keur. Ek is dus gewoond aan mooi vroue. Hulle is nie vir my so onweerstaanbaar soos vir die gewone man nie. Hulle is heeldag onder my voete en onder my oë. ’n Mens raak aan hulle gewoond.
“Vir my tel persoonlikheid baie meer as ’n mooi liggaam en ’n beeldskone gesig. Vir my moet ’n vrou ook iets hier binne hê, en nie net ’n pragtige uiterlike vertoon nie. Dis my werk om mooi klere vir mooi mense te skep, maar die liggaam is beslis meer as klere vir my.”
Hy aarsel, vervolg dan: “Ek weet baie mense is onder die indruk dat ek ’n soort harem aanhou. My eie geslag, weet ek, glo vir geen oomblik dat my assosiasie met my mannekyne bloot professioneel is nie. Hulle glo, miskien heel menslik, dat my mannekyne ook my minnaresse moet wees en …” Hy glimlag effens toe hy haar verleentheid sien. “Dis waar. Ek weet van die stories wat in omloop is. Ek is ’n doodgewone mens. Ek soek ook soms ontspanning, maar wanneer ek een van my mannekyne die aand uitneem vir ete, is dit vir die res van die mensdom ’n voldonge feit dat daardie dame ook die res van die nag saam met my sal deurbring.”
Sy is nou so rooi soos beet, en hy bly verwonderd stil. Wanneer laas het hy ’n vrou sien bloos? In die kringe waarin hy beweeg, is dit ’n teken van swakheid.
Sy stem is besonder sag, en was dit nie dat sy so verleë gevoel het nie, sou sy ’n intonasie daarin bespeur het wat haar sou verbaas het. “Dis wat die mensdom baie maklik glo van ’n man in my posisie. Miskien is dit ook die norm, maar daar is tog uitsonderings ook. Nie dat ek wil beweer dat ek ’n engel is nie …
“Daar was ’n tyd in my lewe dat ek vinnig op pad was om myself te vernietig. Maar gelukkig het ek betyds tot my sinne gekom, betyds besef dat daar meer in die lewe steek, meer daarin móét steek as partytjies en vleeslike bevrediging. As jy jonk is, is seks alles. Wanneer jy veertig is, begin jy na iets soek in jou verhouding met die teenoorgestelde geslag.”
Sy kyk dapper op, stel die vraag reguit: “En dink jy jy gaan dit in my dogter kry?”
“Moontlik, maar nie nou al nie. Sy moet nog grootword. Volwasse word.” Hy glimlag weer effens. “En teen daardie tyd is ek regtig al te oud vir haar.”
Sy frons. “Maar sy …”
“Ja?”
“Meneer … Raul, maar sy het my verseker dat jy jou liefde …” Sy breek af en kyk hom met selfbewuste oë aan. “Jy hét vir haar gesê jy het haar lief?”
“Ja. Om my presiese woorde te herhaal – ek het gesê ek is lief vir haar.”
“Wel?” Sy lyk verward, ontsteld.
Meteens buig hy vooroor, neem haar hand onverwags in syne, voel die bewing in die vingerpunte en sluit sy ander hand ook warm om hulle. Hy kyk op. “Maar daar is baie soorte liefde in die lewe, is daar nie, Wena?”
Sy voel te geskok om haar hand uit syne te trek. “Jy bedoel … jy het dit nie … só bedoel nie? Jy is lief vir haar, maar nie verlief nie?”
Hy sit en kyk haar net aan, en sy vervolg, meer bekommerd as ooit tevore: “Maar my kind … sy het dit anders vertolk … verstaan … Sy is nog so bitter jonk en onervare.”
“Ek weet.” Sy stem is baie sag. “Ek begryp hoe jy voel, Wena. Miskien moes ek daaraan gedink het dat dit verkeerd vertolk kan word. Dit was onnadenkend van my. En tog … Amanda is baie fynbesnaard. Sy het baie liefde nodig. Sy is altyd vir my so … soekend, as jy verstaan wat ek bedoel.” Wena knik. “Sy is vreeslik onseker van haarself, soek altyd gerusstelling. Ek glo dat wat ek vir haar gesê het, in ’n groot mate bygedra het tot die sukses wat sy sover behaal het. Dit het haar die nodige selfversekerdheid gegee om die beste in haar na vore te bring.”
Sy skud haar kop, trek haar hand terug en hy laat dit dadelik gaan. “Dit mag so wees, en u … jy is seker reg. Jy is beslis die stukrag agter alles wat sy deesdae doen. Maar wat van môre? As sy moet ontdek dat jy nie só oor haar voel nie … Ek ken my kind, sy sal ten gronde gaan. Sy is geweldig emosioneel. Sy ken geen middeweg nie.”
“Ek begryp, maar ek dink jy bekommer jou onnodig daaroor. Soos sy vorder en meer volwasse word, die wêreld deur haar loopbaan vir haar al groter en wyer oopgaan, so sal alles, ook ons verhouding, begin balanseer. Uiteindelik sal sy self besef dat daar geen toekoms daarin lê nie.”
Maar die kommer wil nie wyk nie. “Is jy seker?”
Weer neem hy haar hand, streel die fyn barsies liggies. “Ek is oortuig daarvan, Wena. Laat ons tyd kans gee om hierdie ding uit te sorteer. Ek belowe jou jou dogter is veilig by my. Ek gee jou my woord van eer ek sal nie misbruik maak van haar jonkheid en verliefdheid nie. Jy moet my vertrou, asseblief.”
Sy kyk hom aan, die twyfel soos ’n kwaadaardige gewas in haar. Kan sy, durf sy hierdie wêreldwyse, ervare man se woord neem? Durf sy glo en vertrou haar pragtige jong dogter is veilig by hom, sal ongeskonde bly? Haar oë swaai weg. In die verlede het haar vertroue en geloof in ’n man se woord haar die grootste hartseer en vernedering denkbaar gebring. Sy het gesweer nooit weer nie. Nooit weer nie …
En sy het ook nie. Deur die jare het sy haar pad alleen gestap. Soms het sy gedink sy sal ondergaan. Soms wou sy bly lê. Maar alleen het sy haarself opgetrek en moedig voortgestap. Die hande wat deur die jare na haar uitgereik het, het sy afgewys en verbygestap. Nooit weer nie …
En vandag vra Raul Günther haar om hom te vertrou, nie om haarself nie, maar ter wille van iets veel kosbaarder: haar enigste dogter, die dogter oor wie daar soveel drome gedroom is, vir wie daar soveel ideale gestel is. Sy sou voortleef in haar kind, en dít wat sy nie kon bereik in die lewe nie, sou Mandatjie bereik.
Die onbeskryflike onrus in haar laat haar vinnig opstaan. Sy stap weg van hom af en kom voor die ou naaimasjien tot stilstand en staar deur die klein ruitjies na buite.
Agter haar hoor sy hom nader kom, hoor sy hom vra: “Is dit só swaar om my te vertrou, Wena?”
Daar is ’n lang stilte. Dan is dit of die woorde onwillekeurig uitbars: “Ek het haar swaar grootgemaak. Sonder vader, sonder enige hulp. Sy gaan seerkry, ek weet dit. Ek voel dit aan.” Sy swaai om, die donker oë vol trane. “En sy mag nie. Mandatjie mag nie seerkry soos ek …”
Die ooglede val vinnig voor sy intense blik en sy wil weer van hom af wegdraai, maar hy laat dit nie toe nie. Sy hande vang haar skouerknoppe stewig vas, maar tog ook met ’n teerheid wat haar weer vinnig laat opkyk.
“Ek verstaan. Jy het een maal diep seergekry.”
“Een maal? Honderd, duisend kere!” Sy vang haar onderlip vas, en meteens lyk sy vir hom, ten spyte van die silwer drade in haar hare en die fyn kepies om haar oë en mond, nie veel ouer as Amanda nie. Sy blik sak af, rus op die deinende bors hier digby hom en ’n skaamte oorweldig hom op daardie oomblik: ’n skaamte vir die mansgeslag wat so maklik ’n goeie vrou kan vertrap.
Hy kyk op haar geboë kop af. Nie net vertrap nie. Dikwels ook verguis. “Jy glo nie meer in ’n man nie.” Dis nie ’n vraag nie, maar ’n stelling.
Sy maak ’n afwerende gebaar met haar hand, draai onder sy vingerpunte weg, gaan leun teen die verweerde kabinet van die naaimasjien. Haar oë rus op die stukkie tapyt voor haar.
“Ek is nie van belang nie. Dit gaan om Amanda.” Haar stem is byna emosieloos. “Sy verafgod jou. Miskien juis om jou jare, jou ervaring, die … grys in jou hare. Miskien is jy net ’n vaderfiguur vir haar, die vader wat sy nooit geken het nie. Ek hoop … ek bid dit is hoe dit is. Maar sy kan ook werklik verlief wees. Wat dan?”
Hy soek na woorde, sê dan vreemd bedaard: “Daarom sê ek dat ons die tyd moet kans gee om helderheid te bring. Ek kan haar in die pad steek, maar gaan dit die probleem oplos? Of gaan dit net groter probleme skep? Amanda is nog soms baie impulsief. As ek my onmiddellik van haar onttrek, kan ’n mens byna enigiets te wagte wees. Haar loopbaan gaan daarmee heen wees, en dit sal baie jammer wees. Ek glo dat daar groot dinge op haar wag. Jy sal my moet vertrou. Asseblief.”
Sy sug en vee moeg oor haar oë, maar hy kry nie die kopknik wat hy verlang nie. “Ek sal hoop en … bid.”
Die stilte wat volg, impliseer dat die onderhoud verby is. Tog lyk dit of hy onwillig is om te gaan. Uiteindelik sê hy: “Ek is jammer. Ek het jou lank uit jou werk gehou. Dankie.” Toe sy opkyk, herhaal hy: “Dankie dat ons kon praat.”
Sy knik net en hulle stap saam voordeur toe.
Andrew staan op die stoep toe hulle uitstap. Hy lyk verbaas en nuuskierig, maar toe sy blik op die welgestelde man langs sy moeder val, versluier die bruin oë, word die gesig ietwat strak.
Hy verduidelik ietwat onbeholpe asof hy nie daar hoort nie: “Ek het iets vergeet. Ek het dit net gou kom haal.”
Die moederoë is sag. “Meneer Günther, ontmoet my seun, Andrew. Drew dis … Amanda se baas.”
“O.” Hy wil sy hand uitsteek, trek dit dan verleë terug tot agter sy rug en Wena se hart pyn. “My hand is … nie so skoon nie. Aangename kennis, meneer Günther.”
“Aangenaam, Andrew.” Hy glimlag en daar is begrip in sy oë, ’n begrip wat die jong seun op hierdie oomblik haat. “Daar is niks met ’n vuil hand verkeerd nie, ou seun. Dit behoort altyd aan ’n man wat werk.”
Andrew staan en kyk hulle agterna terwyl hulle aanstap na die blou hekkie. Dan kyk hy af op sy hande en ’n vreemde bitterheid kom lê om die jong mondhoeke toe hy vinnig die huis in verdwyn.