Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 9
6
ОглавлениеDit kos die jong meisie al haar moed om oënskynlik kalm binne te stap toe daar op haar klop geantwoord word.
“Goeiemôre.”
Raul kyk dadelik op, knik vlugtig. “Môre, Amanda.” Hy hou ’n vel papier na haar uit. “Ek wil hierdie tabelle oor ’n uur gereed hê, asseblief. Dankie.”
Sy kop het reeds weer vooroor gesak, die pen flitsend oor die papier voor hom op die lessenaar. Die stem wat hom antwoord, is toonloos: “Goed.”
Sy stap uit, trek die deur agter haar toe en plaas die tabelle op haar lessenaar. Dan neem sy haar handsak, stap vinnig na die kleedkamer en druk die deur agter haar toe. Sy leun daarteen aan, sluit haar oë en hou haar bewende vingerpunte op haar kuiltjie waar haar ontstelde hart tamboer.
Hy het nie eens om verskoning gevra nie! Hy onthou nie eens dat hy gister ’n afspraak met haar gehad het wat hy nie nagekom het nie.
Dit was op die punt van haar tong om hom daaraan te herinner, toe sy haar ma se woorde onthou. ’n Vrou moet ook haar trots hê. Sy moet haarself nie goedkoop maak nie. Gister, eergister, sou sy hom onomwonde aan sy blaps herinner het, hom selfs laat verstaan het hoe sy daaromtrent voel.
Maar Amanda is stadig besig om te leer, om groot te word …
Tog is sy nog nie groot genoeg om die trane te keer nie. Dan byt sy hard op haar onderlip, knip haar handsak oop en probeer die skade aan haar grimering herstel. Sy durf nie teruggaan met rooigehuilde oë nie. Die ander is reeds so katterig. Noem haar “meneer se suikerbroodjie”. Ook voor hulle moet sy haar trots behou.
Terwyl haar dogter moedig weer die kleedkamer se deur oopmaak en terugkeer na haar werk, is Wena besig om met verdeelde aandag die huis aan die kant te maak.
’n Honderd keer tel sy ’n ding van ’n stoel of die vloer af op, staan dan daarmee in haar hande asof sy hoegenaamd nie weet wat om daarmee te maak nie.
Wat moet sy doen? vra sy haarself vir die hoeveelste keer af. Haar gesonde verstand vertel haar dat sy Raul liewer moet laat weet dat sy nie aan sy versoek kan voldoen nie. Dis beter so, redeneer sy met haarself. As sy ontwerpe vir hom gaan voorlê, is dit nóg ’n band wat haar en haar huis aan hierdie man gaan bind. En dit sal veel verstandiger wees om liewer die bande wat daar reeds is, te ontbind as om nuwes te smee.
Haar dogter is reeds vas, só vas dat Wena twyfel of sy ooit weer sal loskom sonder om haar eie toekoms te vernietig. Maar sy durf nie toelaat dat sy ook aan hierdie man verknog raak nie, nie eens op ’n formele sakevlak nie. Die vrou hier diep in haar waarsku haar: Bly liewer weg!
Maar sy is ten slotte ook mens. Sy wil só graag die ontwerpe doen. Nie omdat dit Raul Günther is wat dit wil hê nie, maar om haarself. Om die vergete droom wat skielik weer so helder na vore getree het, te voed. Dit is ’n wonderlike uitdaging en sy kan nie onthou of sy al ooit só graag iets wou deurvoer as juis om aan hierdie versoek te voldoen nie. Dit sal ’n bewys wees, ’n bewys aan haarself, dat sy, indien die lewenswiel anders vir haar gedraai het, tog iets sou bereik het.
Sy kyk om haar rond, stap na ’n kas en wil die deur toedruk toe iets op die vloer uitgly. Sy tel die foto op, kyk ingedagte daarna. Andrew se stokperdjie.
Sy bekyk die foto’s met meer aandag, besef opnuut dat haar seun beslis ’n aanleg het. Al is die foto’s met ’n goedkoop kamera geneem, is hulle kunswerke. ’n Weemoed vul haar oë. So het almal maar hul drome … Tevergeefs, omdat die lewe dit anders wil …
Sy het eerste aan Andrew gedink toe Raul van vergoeding gepraat het. Sy het haar voorgeneem dat as Raul van haar ontwerpe gebruik maak, sy die geld gaan gebruik om vir haar seun ’n goeie kamera te koop. Sy kan al in haar verbeelding sien hoe sy bruin oë ophelder, hoe hy op sy beskeie manier dankie sê …
Maar sy gaan nie meer die ontwerpe doen nie.
Sy sit die foto’s netjies terug in die rak, druk die deur toe en stap kombuis toe. Daar sak sy langs die kombuistafel neer. Nee. Sy gaan nie aan Raul se versoek voldoen nie. Daardie vae sketse wat reeds in haar brein begin vorm aanneem het, moet uitgevee word. Sy moet vergeet dat daar ooit so ’n aanbod aan haar gemaak is, dat sy ook vir ’n keer gegun was om te bewys waartoe sy in staat is. Ter wille van Amanda …
Maar gaan dit net om haar dogter? is die onverwagse vraag wat van êrens af opduik. Sy roer rusteloos, staan op. Of is sy bang, soos wat hy haar direk gevra het? Sy skink vir haarself ’n koppie koffie in, gaan weer sit. Is sy bang om Raul beter te leer ken? Is sy bang dat sy ook skielik dwaas kan word … en dit op veertig?
Sy sluk, plaas die koppie weer in die piering. Is sy bang dat sy soos haar dogter gaan seerkry? Dan sal sy ’n groter dwaas as Amanda wees, want dié het nog onervare jeug as verskoning. Maar sy … sy sal geen verskoning hê vir haar dwaasheid nie. Want sy ken tog die lewe. Sy weet mos wat om te verwag. Sy weet mos dat ’n vrou nie ’n man durf vertrou nie. Sy weet mos dat die Raul Günthers van die wêreld net hartseer en vernedering bring vir die Amandas en die Wenas van die wêreld. Veral vir die Wenas …
Sy grim bitter. Dis amper te belaglik om daaraan te dink. En tog dink sy daaraan. En sy moet op hierdie oomblik van volslae eerlikheid erken: die vrou in haar is glad nie so dood en begrawe as wat sy al die jare nog geglo het nie. Ten spyte van haar ontkenning, is daar nog dinge in haar wat geroer kan word, snare wat onder die regte aanraking nog kan tril.
Daar is ’n gejaagdheid in haar oë toe sy opspring en vinnig na haar kamer stap. Sy gryp haar beursie, haal die kleingeld uit. Sy moet dit nou doen, nóú, voordat sy nie meer die moed het nie. Nou dadelik.
“Dis Wena … Wena Conradie wat praat,” sê sy in die gehoorbuis.
“Wena! Goeiemôre.” Sy stem klink verras, baie aangenaam verras. Glad nie kwaai soos haar dogter sê nie.
“Goeiemôre, meneer Günther.” Sy lek hoor haar droë lippe. “Ek … ek het net gebel om te sê …”
“Dat jy al ’n skets gereed het vir my?”
“Nee! Ek … Dis wat ek wil sê. Ek … sien nie meer kans nie.”
’n Rukkie stilte. “Ek verstaan nie, Wena. Het jy al begin?”
“Nee. Ek …”
“Hoe weet jy dan jy sal dit nie kan doen nie?”
“Dis nie … Asseblief, ek wil dit nie doen nie. Ek wou u net sê …”
“Jy … wil nie …” Skielik ís sy stem ontevrede. “Watter kaf praat jy nou, Wena? Jy was gister so opgewonde soos ’n kind daaroor. Ek kon dit sien. Wat het nou gebeur?”
“Daar het niks gebeur nie.” Haar stem klink ook skielik anders, amper vyandig. “Ek wil dit nie meer doen nie. Ek stel nie meer belang nie, dis al. Dankie vir die … kompliment, maar … Wel, tot siens.”
“Wena, wag! Luister.”
Sy voel haar ingewande bewe toe sy weer haar voordeur oopsluit. Jy het dit gedoen, vertel haar verstand haar. Jy het baie verstandig opgetree. Dis al wat jy kon doen.
Maar toe sy agter die naaimasjien plaasneem, vind sy soos haar dogter dat sy, selfs op veertig, nie groot genoeg is om die trane te keer nie.
Sy wou dit so graag doen! Haar vingers het al gejeuk om daarmee te begin. Sy het dit al in haar gedagtes sien vorm aanneem – ’n deftige pakkie soos wat sy graag in haar kas sou wou gehad het om Sondae kerk toe aan te trek. Dan was daar ’n aandrok … ’n pragtige droom van ’n aandrok, soos wat sy weet sy nooit, nooit sal hê nie … ’n Trourok … ’n trourok vir Amanda.
Met dikgehuilde oë bly sy net so sit. Toe sy die tuinhekkie hoor kraak, kyk sy verskrik op, sien hoe hy met vasberade tred die tuinpaadjie opgestap kom. Sy kyk hulpsoekend om haar rond. Sy kan hom nie nou in die oë kyk nie! Sy sluk swaar. Sy gaan nie die deur oopmaak nie. Nee. Sy sal nie op sy klop reageer nie.
Maar daar word nie geklop nie. Die deur word oopgedraai en daar is harde voetstappe in die gang. Dan is hulle stil.
Sy kyk strak voor haar deur die klein ruitjies na buite. Laat hom omdraai en loop, bid sy byna hardop. Maar sy voetstappe kom nader, verydel alle hoop.
“Goed. Wat is die probleem?” Sy stem is bot en kortaf.
Sy sluit haar seer oë en swyg. Wat kan sy antwoord? Hom vertel dat sy bang geword het … skielik bang geword het vir haarself?
“Wena, ek het nie sulke kleinlikheid by jou verwag nie.”
Haar kop ruk op, maar sy kyk nie om nie. “Kleinlikheid?”
“Ja. Ek het die hele pad hierheen sit en wonder waaroor dit alles gaan. En al wat ek kan dink, is dat jy kwaad is omdat ek gister vergeet het van my afspraak met Amanda. Ek het ’n paar minute gelede eers daarvan onthou.” Toe sy nie antwoord nie, vervolg hy: “Soos ek Amanda ken, het sy seker weer te kere gegaan, en toe besluit jy, uit blinde lojaliteit, om my terug te betaal daarvoor en om my aanbod van die hand te wys. Dink jy nie jy kyk ’n bietjie skeef na sake nie, Wena?”
Sy laat weer haar kop sak, pers haar lippe styf op mekaar, skud haar kop net weerloos heen en weer.
“Kan jy jouself glad nie as ’n aparte mens van jou kinders sien nie? Kan jy jouself nie ’n slag die kans gun om ’n mens uit eie reg te wees nie? Het jy geen ander motivering in die lewe behalwe jou kinders nie? Het jy werklik deur die jare só in hulle versink dat jy self verdwyn het? Dat jy net ’n leë dop is?”
Daar kom geen antwoord op sy vrae nie en hy sug. Sy hoor hom stap, op en af agter haar, met ongeduldige treë trap hy die blompatrone wat op die tapyt oor is, nog dowwer.
“Dis goed en reg dat ’n ouer sy kind liefhet, Wena. Ek kan goed verstaan dat jy hulle wil beskerm. Maar hulle is nou groot. Hulle is besig om van jou af weg te beweeg. Wat gaan van jou word in die jare wat oorbly? Het jy al daaraan gedink dat hulle binnekort heeltemal uit hierdie huis sal weg wees? Wat dan? Wat gaan dan van jou word, Wena?”
Nog steeds het sy geen antwoord vir hom nie, en hy kom weer agter haar staan, sy oë stip op haar agterkop.
“Ek is jammer ek het die afspraak met Amanda vergeet. Ek het dit nie doelbewus gedoen nie. Soos jy self weet, was ek hier … by jou.” Hy swyg en dis asof sy laaste woorde soos iets tasbaar tussen hulle hang, asof dit verduideliking genoeg is. “Het jy haar vertel dat ek hier was?”
“Nee.”
“Het jy haar vertel van my aanbod?”
“Nee.” Sy sug gelate, maar draai nie om toe sy verder verduidelik nie: “Sy was so ontsteld. Ek het gedink dis wys om liewer nie te sê dat jy … hier was nie. Ek kon haar dus ook nie van jou aanbod vertel nie.”
“En toe het jy verlede nag lê en rondrol en besluit dat dit beter is as jy jou nie aan só ’n skurk verbind nie, al is dit ook net om ’n paar sketse aan hom voor te lê. Dis beter dat jy liewer niks met Raul Günther te doen het nie, want hy is maar soos alle mans: selfsugtig en onbetroubaar.” Dis so na aan die waarheid dat sy merkbaar verstyf, en agter haar druk Raul sy vuiste vinnig in sy broeksakke. “Jy sal liewer dít wat jy die graagste wil hê en wil doen, van die hand wys as om iets verder met my te doen te hê. Jy is al weer bang, Wena … soos gister.”
Sy draai nou om, haar gesig strak. “Jy is heeltemal reg as jy sê dat ek nie ’n mens is sonder my kinders nie. Ek is nie. Wat my kinders raak, raak my. Ek is net ’n dop sonder hulle.”
“En dis nie waar nie,” sê hy dringend terwyl hy effens vooroorbuig. “Jy is ’n volwaardige mens en vrou in jouself – as jy dit net wil erken … en toelaat. Jy speel net met jouself wegkruipertjie, Wena. Jy bluf niemand anders nie.”
“Ek weet nie wat jy …”
“Ja, jy weet goed. Jy skuil agter Amanda. Jy wil nie hê sy moet seerkry nie. Maar jou grootste vrees is dat jy sélf weer sal seerkry.” Sy kyk hom net bleek en roerloos aan, en sy oë priem genadeloos in hare af. “Of wil jy my werklik kom wysmaak dat jy so ontsteld is omdat ek ’n afspraak met jou dogter vergeet het? Hierdie traanmerke … Was hulle vir Amanda? Jy het my gaan bel en jouself wysgemaak jy doen net jou plig teenoor jou dogter … en intussen kruisig jy weer jouself, kom sit en huil jy hier omdat jy graag my aanbod wil aanneem, maar nie die moed het nie. Vir hoe lank gaan jy jouself nog agter hierdie ou naaimasjien wegsteek vir die lewe? Ek kan jou maar sê, Wena. Dit sal nie help om hier weg te kruip nie. As die lewe jou hier agter die naaimasjien wil kom uithaal, sál hy … en jy sal daar niks aan kan doen nie!”
Hy kom orent, vat hierdie keer self die stuk materiaal van die stoel af en sit dit eenkant neer. “Ek sal Amanda om verskoning vra omdat ek ons afspraak vergeet het. Ek sal haar nie vertel dat ek hier by jou was nie. Ek laat dit aan jou oor of jy haar wil vertel, ook van my aanbod. Maar vandag oor ’n week is ek weer hier … en dan wil ek ten minste twee of drie ontwerpe van jou hê. Verstaan ons mekaar?”
“Ja.” Sy luister verbaas na haar onderdanige stemtoon.
Hy glimlag meteens, al die strengheid weg. “En nou … As daar nog koffie en beskuit is …”
Sy knip haar oë vinnig, staan dan huiwerig op. “Ja. Ja, natuurlik.”
Tot haar ontsteltenis volg hy haar kombuis toe, neem langs die tafel plaas asof dit die doodnormaalste ding is vir die grootbaas van Günther om om elfuur in die oggend koffie en beskuit langs ’n eenvoudige kombuistafeltjie te geniet.
Sy voel verleë, maar probeer dit wegsteek. “Wil jy nie liewer tee hê nie?”
“Net as jy nie koffie het nie. Jy maak lekker koffie.”
“Nee. Hier is koffie. Ek het maar net gedink …”
Hy glimlag. “Dan is dit koffie, dankie.” Hy is duidelik van plan om net daar langs die kombuistafel sy beskuit en koffie te geniet en sy moet ook maar daar plaasneem. “Het jy al iets in gedagte?”
“Ja. Ek het al so ’n paar idees. Nog nie juis spesifiek nie,” skram sy weg.
Hy eet eers sy beskuit klaar, sluk sy laaste koffie weg. “Jy is ’n mooi vrou, Wena. Hoekom gee jy nie soms meer aandag aan jouself nie?” Hy sê dit op so ’n manier dat sy nie aanstoot kan neem nie. Maar nou bloos sy diep en hy raak haar wang liggies aan. “Ek wil nie kleursel aan hierdie wange hê nie, maar so ’n bietjie kleur aan die lippe en die hare reg geknip …”
Sy is pynlik selfbewus en sy sien nie die vreemde teerheid in die oë wat op haar rus nie. “Gee jy om as ek dit vir jou sê?”
“Nee. Dis die waarheid. Ek is … verwaarloos, maar ek was nooit van belang nie.”
“Dis waar jy verkeerd is, weet jy? Elke mens is van belang … anders sou God jou nie gemaak het nie … en Hy het jou mooi gemaak.” Hy sien die flits van verbasing in haar oë en glimlag weer, neem skielik haar een hand in syne. “Jy ken my nog nie, Wena. Jy sal my nog leer ken. En terwyl ek dit nou so ver gewaag het, gaan ek nog iets waag. Moenie vir my kwaad word nie, sal jy?”
Sy weet sy is vas. Sy weet hierdie man het reeds ’n web om haar gespin, dat hy nou enigiets vir haar kan sê en sy sal nie kwaad word nie. Sy skud haar kop en sy vingers span stywer om hare.
“Kan ek jou ’n voorskot gee op die ontwerpe?”
“ ’n Voorskot? Maar jy weet nie eens of jy dit sal kan gebruik nie.”
“Ek sal kan. Ek is oortuig daarvan.”
“Maar hoekom? Dis darem nie dat ons honger ly nie.”
“Nee. Maar die tyd vir verbleikte rokke en afgetrapte skoene is verby.”
Sy kyk hom ’n oomblik takserend aan, laat dan haar blik sak, die trane warm agter haar ooglede.
Sy stem is baie sag. “Ek het jou al dikwels aangetrek, weet jy? En jy is altyd onweerstaanbaar pragtig wanneer ek klaar is.”
Haar ooglede fladder en sy fluister amper: “Dit klink half … onbehoorlik.”
“Maar nie in ons geval nie. Ek wil graag, Wena. Kom môre stad toe …”
“Nee!”
Hul oë vang mekaar vas. “Ek doen geen onbehoorlike voorstel aan jou nie. ’n Uitrusting per ontwerp – ek wil niks meer hê nie.”
“Nee!” Sy trek haar hand uit syne, steek dit op haar skoot onder die tafel weg. “Ek … weet dis ’n … baie hoë betaling wat jy aanbied, maar ek wil die geld hê, dis te sê as jy my ontwerpe gebruik.”
“Mag ek weet waarvoor?”
Sy aarsel, kyk dan verleë op. “Jy gaan weer kwaad word.”
Hy glimlag skeef. “Al weer die kinders.”
“Dis vir Andrew. Ek wil hom so graag ’n goeie kamera gee. Hy is dol op foto’s. Jy moet die foto’s sien wat hy met ’n ou goedkoop kameratjie neem.”
Hy knik. “Die verbleikte rokkie en die skeefgetrapte skoentjies bly dan maar.”
Sy lyk verskonend. “Ag, ons kom al jare so aan. Ons kan maar nog ’n rukkie met mekaar regkom.”
Sy sien hom swaar sluk, kyk half verwonderd na die adamsappel wat so duidelik op en af beweeg, kyk dan in sy oë op. Iets in sy blik laat haar vinnig haar stoel agteruit stoot. “Nog koffie?”
“Nee, dankie. Ek moet nou gaan.” Hy staan op en begin dadelik aanstap voordeur toe asof hy meteens baie haastig is. By die voordeur draai hy terug. “Vandag oor ’n week.”
Sy knik net, kyk hom agterna. En sy weet dat haar lewe ná vandag nooit weer dieselfde sal wees nie.
In die week wat volg, gebeur daar dinge in die huisie met die blou voorhekkie wat nog nooit tevore daar gebeur het nie.
Gedurende die dag sing die naaimasjien maar soos gewoonlik, maar eienaardig, niemand kom om die klere wat gemaak word, aan te pas of af te haal nie.
Niemand raai hoe daar kopgekrap en gespartel word met die kruideniersbegroting nie en niemand kom agter dat die voorraad in die kombuiskas onrusbarend krimp sonder dat dit aangevul word nie.
Wena kou haar onderlip terwyl sy die twee eiers in die houertjie beskou. Een vir Amanda en een vir Andrew. Sy kan sonder een bly. Maar wat van môre?
Tog ontstel dit haar nie, en weer voel sy amper onrustig verbaas vir haarself. Daar het skielik ’n roekeloosheid in haar posgevat wat glad nie eie aan haar is nie en glad nie by haar verstandige jare hoort nie. ’n Ma gaan koop nie rokmateriaal as sy weet sy het nie genoeg eiers in die huis nie. Maar dan trek sy haar skouers op. Wat daarvan? Dan eet hulle pap. En die een wat lekkerbekkig is, gaan op dieet. Klaar.
Sy klap die kasdeur toe toe Andrew agter haar praat: “Wat staan Ma hier so alleen en mompel?”
Sy lyk effens skuldig, maar glimlag tog opgetoë. “Ek staan en dink nou net dat ons tot die end van die maand op dieet sal moet gaan. Ek weet nie hoe ek hierdie maand gewerk het nie, maar … die kos is haas op en daar is nog vyf dae oor en mevrou White het nog nie haar maakloon kom betaal nie en … Wat is verkeerd?”
Andrew lyk openlik verbaas. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat Ma se kos opraak voor daar weer geld is om te koop. “Nee, niks nie. Dit klink maar net snaaks. Ma werk alles altyd so presies uit.”
Wena lag selfbewus. “Maar hierdie maand het ek ’n glips gemaak.”
Hy glimlag. “Dis nie die ergste nie. Ek het vandag my salaris gekry. Ek sal Ma nou my losiesgeld bring. Ek het mos gesê ek sal Ma losies begin betaal.”
Wena se gesig verstil. “Drew, ek wil nie jou geld hê nie. Jy kry nog te min.”
Sy gesig neem ’n koppige trek aan. “Ek het Ma gesê ek begin losies betaal en Amanda ook. Ek bring nou die geld.”
Wena voel diep skuldig toe sy die paar note by hom neem. As sy nie skielik spandabelrig geword het nie, sou sy nie nou nodig gehad het om haar kind se geld te neem nie. Maar dan kyk sy in sy oë op en sy besef dat sy nie anders kan as om dit te neem nie. Hy is nou groot, soos Raul gesê het. En hy het ook sy trots.
“Dankie, my seun.”
“Alles reg, Ma. Maar wat is aan die gang?”
“Wat?”
“Ek weet nie, maar hier is iets aan die gang. Ma is anders. Dis of Ma iets verwag of … Ag, ek weet ook nie wat nie.”
“Ag nee, my kind, wat sal ek nou verwag?” lag sy dit weg en stap uit om die geld veilig te gaan bêre. Sy sal versigtiger moet wees. Andrew is maar so stil. Hy is baie opmerksaam. Sy kom by Amanda se kamer verby en loer in.
“O, jy is al hier? Ek het jou nie hoor kom nie. Wat maak jy?”
Amanda kyk op. “Ek sorteer ’n bietjie hierdie gemors uit. Kyk daar op die bed. Ek het vir my ’n paar nuwe skoene gekoop.”
Wena bekyk dit van alle kante. “Dis pragtig. Maar jy het mos al so ’n kleur.”
“Ja, maar hulle sit nie lekker nie.”
“Wat gaan jy nou met die oues maak?”
“O, ek weet nie. Ek sal op ’n manier ontslae moet raak van al die skoene wat hier lê en nooit gedra word nie.”
“Kan ek kyk of daar iets is wat ek kan gebruik?”
Haar dogter kyk verbaas op. “Ja, natuurlik, maar Mams dra mos nie hoëhakskoene nie.”
“Nee, nie juis nie, maar …” Sy begin krap tussen die bondel. “Ek kan altyd begin. Ek is darem nog nie só oud nie.”
Amanda bekyk haar ma met ’n eienaardige blik, trek dan haar skouers op en gaan voort met haar werk. Wena skud haar kop terwyl sy vyf pare skoene eenkant sit. Raul het seker in ’n mate gelyk. Dis mos skreiende geldmors hierdie. Maar so is die meeste meisies maar vandag. Kry salaris, sien iets moois, koop dit en vind dan uit dat dit nie so goed sit of regtig is wat sy wou gehad het nie. Miskien moes sy maar strenger met haar dogter gewees het, haar van die begin af losies laat betaal het.
Dan skraap sy die hele bondel bymekaar en glimlag. Ag, toe maar, Amanda is nou eenmaal jonk en sy ís lief vir mooi goed. Haar oog val op ’n ander hopie goed. “En dit?”
“Dis ou lipstiffies en ander grimeermiddels. Party is al oud en ander gebruik ek nooit meer nie. Dit moet asblik toe.”
Wena aarsel, tel dan met die een hand die bondeltjie op. “Ek sal dit vir jou gaan weggooi,” bied sy aan en verdwyn uit die kamer, die een arm vol skoene, die ander hand vol grimeermiddels. Maar sy stap glad nie asblik toe nie. Amper soos ’n skelm sluip sy haar eie kamer binne.
Die res van die week verloop rustig. Andrew verdwyn soggens werk toe, keer middae laat terug, stil en sonder eise. Amanda haal soggens die bus, kom soms laataand eers weer tuis as sy aan ’n parade deelneem. As sy in hierdie dae heelwat stiller en bedeesder is as vantevore, merk niemand dit op nie. Wena is te besig om enigiets raak te sien.
Dis of ’n nuwe wêreld vir haar oopgaan in hierdie week. Bedags doen sy nog naaldwerk. Hulle moet lewe. Maar ook dít het skielik anders geword – dit is nou eerder plesier as plig. En saans lewe sy werklik wanneer sy met die sketsboek en potlood in die bed lê en haar verbeelding vrye teuels gee. Dan gaan ’n wonderwêreld vir haar oop.
Maar sy skets nie net nie. Stilletjies pas sy die nuwe rokke in haar kas oor en oor aan, bekyk dit baie krities van alle kante, besluit dan dat selfs Raul Günther nie maklik daarmee fout behoort te vind nie. Weliswaar is die kwaliteit van die materiaal nie wat Raul sou wou gehad het nie, maar die ontwerp maak op daarvoor.
Ook begin sy na baie, baie jare eksperimenteer met haar dogter se oorskietgrimeermiddels. Wanneer sy haarself in die spieël betrag, moet sy erken dat Raul weer gelyk gehad het. ’n Klein bietjie kleursel op die lippe maak ’n ongelooflike verskil!
Die halwe potjies room begin vinnig sak, want dit word nou gereeld gebruik. Daar is nog barsies in haar hande, want die werk hou nie op nie, maar hulle is opmerklik sagter.
Die week is eindelik verby. Wena staan daardie oggend op asof sy aan die begin van ’n nuwe lewe staan. Sy stap na haar kas, haal een van die rokke uit wat sy so in die geheim gemaak het. Gistermiddag het sy van Andrew se losiesgeld geneem en haar hare laat sny. Andrew het niks opgemerk nie en Amanda het gisteraand baie laat eers ingekom. Sy bekyk haarself in die spieël, neem dan ’n lipstiffie. Daarna buk sy en trek een van die pare skoene aan wat Amanda nie meer wou hê nie. Gelukkig dra hulle dieselfde nommer. Dan stap sy uit.
Sy is ongeërg besig om ontbyt te maak toe haar kinders binnekom. Amanda gaan sit dadelik aan, en dis Andrew wat eerste stoof se kant toe kyk.
“Ma!” Hy rys uit die stoel uit op en Amanda kyk verbaas na hom. Dan swaai sy haar kop ook in die stoof se rigting en Wena draai haar om.
“Môre, kinders. Goed geslaap?”
Hulle antwoord nie, en sy skep hul eiers in die borde, moet dan weer opkyk toe die stilte darem te lank rek. “Sit, Andrew, en eet jou kos. Jy gaan laat wees.”
“Wat gaan met Ma aan?”
“Hoekom, my kind?” Byna versigtig kyk sy na Amanda en wat sy op haar dogter se gesig sien, laat haar ondeund glimlag. Sy druk Andrew op die skouer terug in sy stoel en streel oor sy donker kop. “Jou ou ma het haar maar net so ’n bietjie reggeruk. Dis al, my seun. Ek het daaraan gedink dat julle nou grootword en julle dalk vir julle ma skaam. Ek het deur die jare nooit aandag gegee aan hoe ek lyk nie. Toe het dit nie soveel saak gemaak nie. Maar nou is julle groot en ek wil nie hê julle moet julle vir my skaam nie.”
“Maar Ma is mooi.” Andrew sê dit asof hy nooit aan so ’n moontlikheid gedink het nie. Dan kyk hy met ’n verdwaasde glimlag na sy suster. “Heng, Amanda, ons ma is sommer deksels mooi!”
Amanda lag skielik, staan op en gooi haar arms spontaan om haar ma, gee haar ’n drukkie en staan dan terug om haar van alle kante goed te bekyk. “Jou ou skelm!” Dan verstrak die blou oë en sy neem die hande met die fyn barsies in hare. “Jy is pragtig, Mams. Ek spog met jou.”
Wena moet sukkel om die trane terug te hou, maar haar hart loop oor van dankbaarheid teenoor Hom wat haar mooi geskape het, teenoor haar kinders wat so dierbaar is en … teenoor Raul Günther wat haar oë oopgemaak het.
“Dankie, my kind. Dankie, Drew. Ek is … bly julle dink ek … sal reg aan julle laat geskied. Maar kom nou. Nou moet julle roer of julle gaan albei laat wees.”
Toe hulle stap, soen hulle haar met meer innigheid as gewoonlik.
“Tot siens, Mams. Soet bly, jou mooi ding,” terg Amanda voordat sy haar vinnig uit die voete maak.
Andrew gee sy ma een van sy seldsame drukkies, en kyk tergend in haar oë af. “Ek het mos nou die dag al gesê hier is iets aan die gang. Tot siens, Ma.”
Wena hou haar doenig met haar huishoudelike pligte, maar in der waarheid is sy soos ’n staalveer gespanne.
Dan hoor sy dit … die geluid waarop sy al die hele oggend wag. Die kraak van die voorhekkie …