Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Terug in sy kantoor sit die grootbaas van Günther diep ingedagte, en dis nie oor sy onderneming wat hy dink nie.

In die dae wat volg, tref sy personeel hom dikwels so aan agter sy lessenaar – kop vooroor, pen doelloos besig met strepies trek op die vel papier voor hom, en dan lyk hy gesteurd as hulle hom iets vra. Soms lyk dit selfs asof hy moeite het om sy gedagtes te rig op die probleem wat voor hom neergesit word. Dikwels is hy ongeduldig – iets waarvoor hy nie bekend is nie. Soms is hy kortaf; enkele kere selfs amper bars wanneer dinge nie glad verloop nie.

“Wat sou hom gebyt het?” wil ’n ontstelde tikster weet toe sy een middag uit sy kantoor kom. “Die baas was amper ongeskik,” sê sy vir haar kollega.

Een van die meisies trek haar skouers op. “Nugter alleen weet. Ek werk nou al ses jaar hier, en ek het hom nog nooit so beduiweld gesien nie. Ek wonder of daar iets met die besigheid skort.”

“Moenie laf wees nie,” laat die ander een hoor. “Daar kan niks met Günther verkeerd wees nie. Die state wys dit. As jy my vra, dink ek hy is verlief.”

“Verlief!” Almal se oë draai na die wyse segsman en dié glimlag.

“Ja. Hoekom nie? Hy is nog jonk genoeg om verlief te raak. Hy toon al die tekens.”

“Liewe aarde, maar dáármee behoort hy nie probleme te ondervind nie. Daar kan net nie ’n vrou bestaan wat nie onmiddellik in sy arms sal val as hy hulle oophou nie. Net … ek sal graag die gelukkige vrou wil sien. Sy sal iets heel besonders moet wees.”

“Hoekom?” vra Amanda Conradie.

Die ouer dame kyk haar uit die hoogte aan. Dié is mos een van sy suikerbroodjies. “Die feit is, meisietjie, dat hy anders as ander mans is. Hy is heeldag en aldag omgeef van beeldskone vroue. Hulle is nie meer vir hom snaaks nie. Nee, as Raul Günther weer vir hom ’n vrou gaan vat, gaan dit iemand uit die boonste, boonste rakke wees. Miskien sal sy glad nie eens so danig beeldskoon wees nie.”

“Ag kom, Cora,” val ’n ander in. “ ’n Mens kan hom nie voorstel sonder ’n pragtige vrou nie. Dis eenvoudig deel van Raul Günther.”

“Is dit?” Die ouer vrou glimlag peinsend. “Ek wonder … Hy hét ’n beeldskone vrou gehad. Sy was sy hoofmannekyn. En wat het gebeur? Toe hy tot die ontdekking kom sy is net mooi en niks meer nie, toe laat spat hy. Nee. Ek dink as hy weer trou, gaan hy ons almal verras. Ek is oortuig hy sal nie weer vir ’n poppie met ’n madonnalyfie val nie. Raul Günther is nie ’n aap nie.”

Die veronregte tikster sug en sak agter haar lessenaar neer. “O, wel, laat dit wees wat dit wil, maar ek wens van harte hierdie buierigheid van hom gaan nou verby. ’n Mens kan beswaarlik deesdae met hom huishou.”

Amanda aarsel voor die kantoordeur voordat sy aanklop. In die verlede sou sy aangeklop en dan vrymoedig binnegestap het, haar hart bonsend in haar keel. Hy sou opgekyk, haar gewaar en geglimlag het.

Maar deesdae … Dis beslis waar dat iets met Raul skort. Deesdae het selfs sy, die suikerbroodjie, soos sy weet die ander haar agteraf noem, geleer om te wag tot daar op haar klop geantwoord word.

Sy hoor hom antwoord en sy stap binne, sien met ’n sinkende hart die frons tussen sy wenkbroue. Huiwerig lê sy die brief voor hom neer. Hy kyk vlugtig daarna, teken dit en gee dit dan terug. Sy weet hy verwag dat sy dadelik sal gaan, maar sy bly staan.

Toe hy ongeduldig opkyk, kan sy nie langer stilbly nie. “Raul …” Die ongelukkigheid lê oop en bloot in haar oë. “Raul, wat is verkeerd?”

Sy stem klink soos dié van ’n vreemdeling. “Ek het nie geweet dat daar iets verkeerd is nie.”

“Maar daar ís! Jy is nie meer soos altyd nie. Is jy dan nie meer lief vir my nie?”

Sy frons word onheilspellender, maar dis duidelik dat hy ’n poging aanwend om sy humeur te beteuel. “Amanda, ek het klaar gepraat. Werk en … liefde meng nie. En ons is nou aan die werk.” Hy sien die blou oë vol trane skiet en hy sug skuldig. Vir ’n emosionele breekpunt sien hy nie kans nie. Hy staan op en druk haar kop spontaan teen sy bors vas. Hy hou haar liggies vas, sy frons nou een van bekommernis. “Ons kan vanmiddag ná klas gesels. Ek sal jou daar kry en dan kan ons êrens iets gaan drink. Goed?”

Die blou oë kyk op en hy lees haar hele hart daarin en sluk. Baie liggies soen hy haar op die punt van haar neus en gee haar dan ’n speelse klappie. “Nou toe, weg is jy. Ek het baie werk.”

Maar toe die deur agter haar toegaan, neem hy nie weer agter sy lessenaar plaas om met die baie werk voort te gaan nie. Hy gaan staan voor die venster.

Dit het alles so onskuldig begin. Omdat dit uit die aard van sy beroep tweede natuur is om ’n mooi vrou raak te sien, haar potensiaal op te som, op te let hoe sy aantrek, of sy die meeste van haarself maak, bloot uit ’n professionele oogpunt, het hy gou die nuwe tikstertjie in sy kantoor opgemerk. Dit was die manier waarop sy aangetrek het, die wyse waarop sy beweeg het, en veral die kinderlike onskuld wat van haar uitgestraal het, wat sy aandag getrek het.

Veral haar klere het hom begin interesseer. Hy het opgemerk dat dit nooit van die duurste en beste materiaal was nie. Tog was die styl en snit altyd iets besonders. Haar klere het nooit die stempel van ’n kettingwinkel gedra nie. Dit was oorspronklik. Maar sy self het ook reg laat geskied aan dít wat sy gedra het. Gou het hy die potensiaal in haar raakgesien. Amanda Conradie was ’n gebore mannekyn.

Daar het dit begin. Maar die professionele belangstelling wat hy in haar gehad het, het baie gou tot iets meer persoonliks ontwikkel. Hy het haar kinderlike spontaneïteit verfrissend gevind, so anders as waaraan hy deur die jare gewoond geraak het in sy kunsmatige wêreld. Hy het sterk aangetrokke gevoel tot haar, haar op ’n besondere manier liefgekry. Nou, vandag, op hierdie oomblik, kan hy die gevoel wat sy in hom wakker gemaak het in die regte perspektief plaas, kan hy dit sien vir wat dit was en is.

Daar is ’n siniese trek om sy lippe. Hy het deur die jare geleer om ’n mooi vrou op te som. Hy werk jare lank al daagliks met hulle en hy dink hy kan sê hy kén die vrouegeslag. Hy weet dat baie van hulle net ’n mooi gesig en ’n mooi liggaam as enigste bate het en verder is daar niks nie. En selfs dié wat intelligensie kan byvoeg, boet dikwels karakter in. Op die oog af is hulle pragtig, maar van binne is hulle lelik.

Hy besef dat hy miskien te kras oordeel. Die lewe stel baie meer eise aan ’n mooi vrou. Daar is soveel meer versoekings, soveel meer slaggate. En dikwels val daardie pragtige beeld omdat dít wat binne is nie sterk genoeg is om dit staande te hou nie.

Hy weet. Hy was met so ’n vrou getroud.

Daarom dat Amanda Conradie hom so aangetrek het. Hy het homself dikwels betrap dat hy gewens het dat sy in jare ’n bietjie ouer was. Tog het die waarskuwingsligte gedurig geflits wanneer hy na haar gekyk het: Sy is te jonk, hopeloos te jonk vir hom. Aan die begin sal dit goed gaan, maar soos die jare aanloop, het sy nugter verstand hom gewaarsku, sal dit nie meer goed gaan nie. Sy bied hom nou haar liefde met kinderlike openhartigheid aan, maar hy sal ’n skurk wees as hy dit vir homself gaan toeëien.

Al hierdie dinge het sy verstand hom vertel, en tog het hy geweet dat hy vasgevang was. Amanda was reeds hopeloos verlief op hom. Diep in sy hart hoop hy dat dit van verbygaande aard sal wees, maar as dit nie is nie? Soos haar ma vermoed.

Hy weet hy het te veel aandag aan haar gegee. Hy weet dat hy in ’n onverantwoordelike oomblik vir haar gesê het dat hy lief is vir haar. Dit was ook nie ’n leuen nie. Hy ís lief vir haar. Sy wek in hom net die teerste gevoelens op, ’n beskermingsdrang wat hy nog nooit ervaar het nie. Maar hy weet nou presies wat sy liefde vir haar behels.

’n Ander gesig verskyn voor hom en sy hande trek stadig tot vuiste in sy broeksakke saam. As hy haar net vroeër ontmoet het. As hy Amanda se moeder net maande gelede leer ken het.

Hy voel weer die verbasing in hom posvat terwyl hy na die beeld voor sy geestesoog kyk. Sy innerlike blik is baie krities en hy kyk niks mis nie. Genadeloos dwaal sy oë vanaf die reguit, gryswordende hare tot by die huisdraskoene … en daar is verbystering in Raul Günther se hart.

Wena Conradie hoor daardie middag weer haar voorhekkie kraak, en toe sy vinnig opkyk, voel sy iets in haar styftrek. Sy sien hom die paadjie opgestap kom en haar gelaat verstil. Maar ín haar is dit nie stil nie.

Sy wag tot sy sy klop teen die voordeur hoor opklink. Dan eers staan sy op. Nog aarsel sy. Sy kyk om haar rond, amper asof sy na ’n uitvlugkans soek. Dan stap sy amper teësinnig voordeur toe.

“Goeiemiddag, Wena.”

“O … middag … Raul.”

Hy glimlag effens. “Dit klink asof dit nog steeds swaar gaan om my op my voornaam te noem.” Sy lyk verleë, laat haar oë sak, en hy vervolg vraend: “Mag ek jou kom pla?”

Sy glimlag skuldig. “Natuurlik. Waar is my maniere? Kom binne.”

“Dankie.”

Raul volg haar weer die kort gangetjie af, en weer moet sy eers materiaal van die stoel af optel voordat sy hom sitplek kan aanbied.

“Sit.”

“Dankie.”

Dis stil. Albei se oë rus op die tapyt voor hul voete.

Dan vra sy sag: “Is daar iets verkeerd? Amanda …?”

“O nee. Sy vorder nog steeds pragtig.”

“Ek is bly.”

Hy kyk op. “Maar jý is nog baie bekommerd, nie waar nie?”

Sy knik eindelik. “Ja,” antwoord sy eerlik. “Amanda is nie gelukkig nie.”

“Hoekom sê jy so?”

“Die laaste paar dae … Daar is iets wat haar hinder, haar seermaak. Sy probeer dit wegsteek, maar ek ken my kind. Het julle … miskien woorde gehad?”

Hy frons nou. “Nee. Ek het haar net baie duidelik laat verstaan dat ons nou eers net op haar loopbaan gaan konsentreer …”

“Sy sal nie daarmee tevrede wees nie. Jý is vir haar belangrik. Nie haar loopbaan nie.”

“Ek weet, maar wat moet ek daaromtrent doen? Ons het dit tog al bespreek.”

“Ek weet.”

Hy sug. “Jy neem my kwalik, nie waar nie?”

Sy antwoord nie onmiddellik nie, sê dan gelykmatig: “Maak dit saak? Dis Amanda wat tel, dit is sy wat seerkry …”

“Nie net sy nie.” Hy aarsel. “Ek wou nie vanmiddag oor Amanda kom gesels nie. Ek glo tyd sal daardie probleem oplos.”

“Ek hoop so. Ek hoop van harte so, meneer Günther.”

Die formele aanspreekvorm maak hom vies. “Jy wil my nie toelaat om nader te kom nie. Is dit bloot net oor Amanda dat jy my so op ’n afstand hou, Wena?”

Sy lyk verbouereerd en haar stem is styf toe sy antwoord: “Ek weet nie wat jy bedoel nie.”

“Nie?”

Sy vou haar hande styf inmekaar, sê dan moedig: “Ek dink dis beter as ons liewer by ‘meneer’ hou.”

Hy hou haar blik lank gevange, maar haar oë huiwer nie voor syne nie. Daar is ’n streng uitdrukking om sy mond toe hy sê: “Sê my, dink jy ooit aan jouself?”

“Dit hang af wat jy bedoel.”

“Jy skerm verniet. Jy weet wat ek bedoel. Daar kan nog twintig, dertig, veertig jaar van geluk vir jou voorlê.” Hy sien haar mond wrang trek, en daar flits ongeduld in sy oë. “Jy is nog jonk genoeg om weer te begin. Jy maak asof veertig die end van ’n mens se lewe is.”

“Weer te begin waarmee, meneer Günther?” Haar stem klink onverwags uitdagend.

“Om ’n nuwe toekoms vir jouself te skep. Om jouself nog ’n kans op geluk in die lewe te gun. Om weer te glo, te bemin …”

“Jy weet nie waarvan jy praat nie,” sê sy afwysend.

“Ek weet. Ek het ook teleurstellings agter my. Of het jy vergeet dat ek ook eenkeer getroud was?”

“Jy kan ons twee nie vergelyk nie.” Sy kyk waarskuwend op. “Meneer Günther, ek kan geen doel in hierdie gesprek sien nie. As jy …”

“Is jy bang, Wena?”

“Waarvoor?”

“Dat ek dinge gaan sê wat jy nie wil hoor nie?”

Haar ooglede fladder. “Ek kan nie dink dat daar enigiets is wat jy vir my wil sê nie, meneer Günther. As dit iets is in verband met Amanda …”

“In hemelsnaam, vergeet net vir een enkele oomblik van Amanda en dink aan jouself!”

“Ek verkies om liewer aan my dogter te dink.”

Hy sak terug in die stoel, kyk haar lank aan. “Soos jy dan verkies, mevrou Conradie.”

Dis stil. Sy wens hy wil opstaan en loop, maar ten spyte van die ongemaklike stilte bly hy sit, ’n koppige trek om die mondhoeke.

Ten einde raad moet sy eerste die stilte verbreek. “Kan ek … kan ek jou ’n koppie koffie aanbied?”

Hy aarsel ’n oomblik, sê dan: “Ja dankie, mevrou. As dit nie te veel moeite sal wees nie.”

Sy staan sonder ’n woord op, stap uit en gaan skink die koffie. Haar hande bewe toe sy die karringmelkbeskuit in ’n klein bakkie plaas. Hy neem die skinkbord by haar, wag dat sy eers hare neem en help hom dan self.

“Dis lekker. Ek weet nie wanneer laas ek tuisgebakte beskuit geëet het nie. Ek dink dit was nog as kind in Namibië by my ouma aan moederskant.” Hy glimlag asof teësinnig vir die verbasing in haar oë, maar sy blik is nou weer vriendeliker. “Moenie so verras lyk nie. Ek is ’n doodgewone mens. Ek het ook ’n ouma gehad … of dink jy ek het in ’n rol rokmateriaal van ’n wolk afgeval?”

Dit lyk asof sy wil begin glimlag, maar dan vra sy: “Was hulle boere?”

“Ja. Doodeenvoudige boermense. My plaasvakansies is van die mooiste herinneringe wat ek het. Soms wonder ek of ek nie ’n beter mens sou gewees het as ek Ouma se plaas oorgeneem en met beeste geboer het in plaas van rokke te maak nie.”

Sy moet nou glimlag. “Jy is verspot. Jy is ’n modebaas.”

“Soos jy ’n modeontwerper is.” Hy sit sy koppie neer. “Dis eintlik waaroor ek vanmiddag met jou kom praat het … en toe ruk die gesprek handuit,” erken hy met ’n skewe glimlag. “Wil jy nie vir my ’n paar ontwerpe doen nie?”

“Ek?” Sy lyk volkome verbaas. “Ek vir … jóú ontwerpe doen?”

Hy knik. “Ja. Hoekom nie?” Sy staar hom net aan en hy vervolg, ligte spot in sy oë. “Probeer jouself voorstel jy doen dit vir ’n doodgewone beesboer van Namibië.”

“Moenie spot nie.”

“Ek spot nie.” Hy kyk haar vas aan. “Ek is ernstig, Wena. Asseblief.”

“Maar …” Sy beduie verslae met haar hande.

“Jou idees is baie oorspronklik. Dit kan nie kwaad doen om te probeer nie, kan dit?”

Sy lag verdwaas. “Ek weet nie wat om te sê nie. Ek … kan probeer …”

Hy lyk verlig. “Natuurlik kan jy probeer. Jy het niks om te verloor nie. As ek van hulle gebruik maak, sal die vergoeding goed wees.”

“Dis nie … van soveel belang nie.”

“Ek noem dit maar net. Wel? Dan is dit afgespreek. Sodra jy iets gereed het, laat my weet.” Hy staan op asof hy skielik haastig is om te gaan. “Dankie vir die koffie en die beskuit.” Hy glimlag op haar af, maar sy oë is goedig toe hy groet. “Tot siens, mevrou Conradie.”

Sy glimlag spontaan. “Tot siens, meneer Günther.”

Toe hy weg is, val sy op die stoel neer waarop hy gesit het, ’n verdwaasde vreugde in haar oë. Sy is gevra om vir Günther ontwerpe voor te lê. Sý!

Die vreugde wat sy in die jare wat verby is, ervaar het, was om haar kinders se ontwil. Maar vandag, vir die eerste keer in jare, het sy vreugde aan haarself. Sy voel asof sy soos Amanda in die lug kan opspring en in die rondte kan tiekiedraai. ’n Droom wat sy as jong meisie gekoester het en wat sy reeds lankal onderdruk en amper van vergeet het, het vandag weer skielik gestalte aangeneem – en dis Raul Günther wat weer lewe daaraan gegee het.

Hy het gepraat van ’n nuwe begin, ’n nuwe toekoms. Sy het net na hom gesit en luister met die meerderwaardige wete dat hy van goed praat waarvan hy niks weet nie, en met woordelose bitterheid besef dat daar nooit weer vir haar ’n nuwe toekoms kan wag nie.

En tog kán daar, besef sy nou met ’n hart wat opgewonde klop. Iets, in watter geringe maat ook al, kan sy terugwin van gister se drome. Raul Günther het dit skielik moontlik gemaak. Amanda is reg. Hy ís ’n fantastiese man.

Haar oë is nog blink en droomverlore toe dit op haar dogter val wat skielik in die deur verskyn. Intuïtief beweeg sy vorentoe om haar die wonderlike nuus te vertel, want sy weet haar kind sal saam met haar bly wees.

“Amanda, weet jy wat …” Dan gaan sy staan. “Manda? Is daar iets verkeerd?”

“Nee, niks is verkeerd nie. Hoekom?” Die blou oë is koel, die gesiggie sfinksagtig.

“Jy lyk … Daar ís iets verkeerd. Wat is dit, my kind?” Die jong meisie wil wegdraai, maar die moeder kry haar aan die skouers beet, draai haar terug, opregte kommer in haar oë. “Amanda, wat is dit deesdae met jou? Jy is ongelukkig. Daar is iets wat jou hinder. Vertel my, asseblief.”

’n Oomblik aarsel die jong meisie nog. Dan is dit of daar skielik iets in haar knak en sy werp haar teen haar ma vas soos toe sy nog ’n klein dogtertjie was en wilde snikke ruk deur die skraal lyfie. Die hande met die fyn barsies streel die blonde hare en soos hoeveel keer in die verlede bid sy om insig en begrip, om die vermoë om te kan help, die hartseer en ongelukkigheid uit haar kind se hart te kan weer.

“O, Mams, ek is so ongelukkig!”

“Dit kan ek sien, my skat. Kom sit hier en vertel my alles.” Sy lei haar dogter na die bank, kyk teer na die gesiggie wat op daardie oomblik weer so bitter jonk lyk. “Vertel vir Mams, wat is dit?”

“Dis … Raul.”

Êrens verstil dit in die moeder. “Ja? Wat het hy gedoen?”

“Dis juis die ding! Hy doen niks nie … nie meer nie.”

Dit word nog stiller in Wena Conradie. “Wat bedoel jy, my kind?”

“Alles was so wonderlik aan die begin, Mams,” sukkel sy dit uit, en die moederhart krimp vir die vreeslike hartseer wat sy voor haar sien. Ag, hoe kwesbaar is ’n jong hart tog nie!

“Toe het alles skielik verander. Hy is nie meer teenoor my soos hy was nie. Hy sê hy het my nog lief, maar dit lyk nie meer so nie. Hy is deesdae onmoontlik op kantoor. Ook teenoor my gedra hy hom styf en formeel en het selfs al ’n paar keer met my geraas. Verder … Hy vra my nooit meer om saam met hom te gaan uiteet of fliek nie. Hy gesels skaars met my! En vanmiddag …”

Weer volg ’n nuwe tranevloed en die moeder wag stil tot haar dogter weer ’n mate van beheer oor haar stem het. “En vanmiddag het ons ’n afspraak gehad. Ek het hom vanoggend reguit in die kantoor gevra wat aangaan, of hy my dan nie meer liefhet nie.”

“Ai, Mandatjie, my kind …” begin Wena vermanend.

Die nat oë is uitdagend. “Hoekom nie? Ek is lief vir hom en ek is nie skaam daaroor nie.”

“Maar ’n meisie vra nie sommer vir ’n man of hy haar liefhet nie.”

“Hoekom nie? Hy het eerste gesê hy het my lief,” kom dit driftig.

Die moeder kyk haar kind magteloos aan. Dis so moeilik om te verduidelik. Günther het dit nie só bedoel nie. Aan die ander kant … Sy het net sy woord daarvoor. Watter versekering het sy dat hy nie besig is om met haar dogter te speel nie … en terselfdertyd besig is om haar moeder met mooi woorde en vleiende aanbiedinge ’n rat voor die oë te draai nie? Wat laat haar die man se woord sonder meer aanvaar? Wat weet sy van hom af? Hoe goed ken sy hom?

Maar haar dogter ken sy. Sy weet dat albei haar kinders ’n inherente eerlikheid in hulle het – iets waarvoor sy die Vader nooit genoeg sal kan dank nie.

“ ’n Meisie moet trots en selfrespek hê, Amanda. Sonder integriteit kan sy nooit volwaardig vrou wees nie. My kind, as ’n man duidelik toon dat hy nie langer belang stel nie, dan moet jy nie aan hom bly vasklou en jou aan hom opdring nie. Dan maak jy jouself goedkoop.”

“Dis nie dat hy nie meer belang stel nie, Mams. Maar daar het iets tussen ons ingesluip. Ek voel dit aan! As daar ’n ander meisie is … As ek weet daar is ’n ander meisie vir wie hy meer omgee, dan is dit iets anders. Maar daar is niemand nie, en ek kan sien hy is ook ongelukkig. Ek kan dit nie verstaan nie, Mams!” Haar blou oë pleit. “As ek net kan agterkom wat aangaan!”

Wena kyk stilswyend terug. Sy verstaan ook nie. Sy behoort te verstaan. Sy en Raul Günther het tog openlik oor Amanda gepraat. Tog moet sy met haar dogter saamstem: Hier is iets wat nie rym nie. Amanda vertel hy is moeilik op kantoor. Sy sê hy is ongelukkig. As hy werklik net ’n vaderlike liefde vir haar het soos wat hy voorgee, hoekom ontstel die saak hom dan so hewig?

“Jy het my nog nie vertel wat toe vanmiddag gebeur het nie.”

“Ons het ’n afspraak gehad. Toe ek hom in sy kantoor vra of hy nog vir my omgee, toe sê hy ja, maar dat ons vanmiddag verder sal praat. Hy sal my ná my klas kry en dan kan ons iets gaan drink. Ek het ’n ronde uur gewag. Hy sal nou nog opdaag. Dís nie Raul nie, Mams!”

Haar mond gaan oop om haar dogter daarop te wys dat hy miskien ’n onvoorsiene oponthoud gehad het, en toe tref dit haar. Raul Günther was hiér! Hy is pas voordat Amanda tuisgekom het, hier weg. Hy was die hele tyd hier terwyl hy ’n afspraak met haar dogter gehad het!

Wena dink fronsend terug. Hy was beslis nie buierig of moeilik nie. Weliswaar was daar een of twee keer ’n tikkie ongeduld in sy stem, maar deurentyd was hy die kalm, goedgemanierde man wat sy leer ken het. Hy het ook rustig en ontspanne gelyk terwyl hy sy koffie en beskuit geniet het. Hy het nie ongelukkig of rusteloos voorgekom nie. Inteendeel.

Sy ruk haar gedagtes tot stilstand, fokus op haar kind voor haar, en besef dat dit nou vir haar onmoontlik is om Amanda van die wonderlike aanbod te vertel. Sy weet sy behoort haar te vertel dat Raul hier was, maar dis of iets haar lippe snoer. Sy weet nie hoekom nie. Daar is tog niks om weg te steek nie. Die man het hier aangekom en gevra sy moet vir hom ’n paar ontwerpe doen. Dis al.

Maar diep in haar hart weet Wena dis nie al nie. Diep in haar hart weet sy dat sy meteens skuldig voel oor Raul se besoek en dat sy hoop dat Amanda nooit sal uitvind dat hy hiér was toe hy veronderstel was om ’n afspraak met háár na te kom nie.

Daardie aand in haar kamer, alleen met haar gedagtes, knaag iets al erger aan haar. Het Raul werklik vanmiddag van sy afspraak met Amanda vergeet, of wóú hy dit nie nakom nie? Is Raul besig met ’n speletjie? Nie net met Amanda nie, maar ook met haar? Is die man besig om met fyn vernuf en ervaring ma en dogter om sy pinkie te draai? Is sy aanbod van vanmiddag opreg, of doen hy dit met ’n spesifieke doel voor oë?

Eindelik laat sy haarself toe om die eerste deel van hul gesprek te ontleed. Wat het hy werklik bedoel met alles wat hy gesê het? Wou hy haar maar net week maak, en ás dit sy doelwit was, hoekom? Hoekom het hy so gedelf, so hard probeer om hulle op gelyke vlak te kry? Wat beoog die man?

In die kamer langsaan kan sy hoor hoe haar dogter rusteloos lê en rondrol … en sy wens meteens diep uit haar hart dat haar en haar dogter se paadjies nooit met dié van die groot modebaas gekruis het nie.

Ena Murray Omnibus 23

Подняться наверх