Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеDie man in die deur kyk vlugtig na sy polshorlosie toe Amanda die trappies haastig optrippel. “Ek het bekommerd begin raak. Jy is amper laat.”
“Ek weet,” laat sy uitasem hoor. “Die bus was laat en ek moes ook eers na ’n sedepreek van my ma luister voordat ek kon wegkom. Ek sal nou gereed wees.”
’n Rukkie later stap sy selfversekerd voor die skare op die verhoog uit, en hulle hou van wat hulle sien, klap spontaan hande.
Raul Günther glimlag tevrede, en toe hy die meisie se oog vang, knik hy goedkeurend. Weer was sy keuse volmaak. Amanda Conradie is ’n gebore mannekyn. Sy is ook anders as die ander meisies met wie hy voortdurend te doen kry. Sy het ’n jeugdige frisheid en ’n spontaneïteit wat haar onderskei van die res van die groep. En tog, jonk soos sy nog is, vertoon sy volwasse genoeg.
Weliswaar lê daar nog baie poleerwerk voor voordat sy onder die bekendes sal kan tel, maar met die regte leiding sal sy ’n topmodel word.
Toe die vertoning verby is, verskyn sy weer in die fleurige rokkie waarin sy hier aangekom het en die blou oë kyk vol verwagting na hom op.
“Hoe was dit?” wil sy op daardie kinderlike manier weet wat hom soveel vreugde gee.
“Seker reg.”
Sy tuit haar lippe vir hom. “Ag, Raul, moenie naar wees nie! Was ek darem … gangbaar?”
Hy haak by haar in en glimlag op haar af. “Heel gangbaar, juffrou Conradie, maar …” Hy lig ’n waarskuwende hand toe die gesiggie straal. “Daar lê nog harde werk voor, hoor? Maar jy het dit, kleintjie. Baie geluk met vanaand se vertoning.”
“Dankie, Raul.” ’n Klein fronsie keep tussen haar wenkbroue. “Ek hou nie daarvan dat jy vir my kleintjie sê nie.”
“Hoekom nie?” vra hy terwyl hy haar na sy motor lei. “Jy is eintlik nog klein.” Hy kyk af, terg: “Jy is ’n baba onder hierdie klomp. Jy hoort tuis met ’n fopspeen in jou mond.”
“Raul!” Sy lyk opreg verontwaardig en hy hou vir haar die deur oop.
“Maar ek sal die baba vanaand ’n bietjie voer. Enige spesifieke plek waar jy graag wil gaan eet, jonge dame?”
Die frons is weg en die gesiggie straal weer. “Enige plek is goed solank jy by is.”
Hy druk die motordeur toe en stap om na sy kant, ’n vlugtige frons tussen sy wenkbroue. ’n Ruk later stap hulle ’n baie gewilde restaurant binne en kry dadelik ’n tafel.
Amanda glimlag by haarself. O, dis heerlik, hierdie soort lewe! Deure gaan vir jou oop, tafels is altyd beskikbaar en om jou is die luukse atmosfeer van geld en weelde, die fyn sofistikasie wat net die blink munt kan koop.
Vlugtig, baie vlugtig sien sy die huisie in die agterstraat, die deurgetrapte tapyt, die afgeleefde winkeltjie op die hoek van die straat … Maar dan sak haar hakke diep weg in die sagte mat en hou Raul die gestoffeerde stoel vir haar uit en dit voel vir haar asof sy soos ’n koningin op haar troon neersak.
Die ekstase wat hierdie oomblik in haar opwek, wys onverbloem op haar gesig en Raul Günther glimlag fyn terwyl hy oorkant haar plaasneem.
Dis wat hom so aantrek in hierdie meisie. Sy kan nog wys wat sy voel, hoeveel sy dinge geniet. Hy dink aan die ander vroue wat hy gereeld hierheen bring. Hulle is so wêreldwys, so gewoond aan alles dat hulle soms openlik verveeld voorkom. Hulle sit hier voor hom en beskou die wêreld om hulle apaties. Maar nie hierdie meisie nie. Haar kop draai heen en weer en die blou oë blink verwonderd. Sy gee nie om dat die hele wêreld sien dat dit die eerste keer is dat sy in hierdie restaurant kom en dat sy dit baie geniet nie.
Hy sit doodstil en gee haar genoeg tyd om alles eers goed in te drink. En toe sy eindelik genoeg gekyk het, keer die blink oë terug na hom. “Dis die eerste keer dat jy my hierheen bring. Dis ’n … vreeslike spif plek, nè?”
Sy tande blink wit in die dowwe beligting. “Ja, dit is ’n spif plek. Dis te sê as spif deftig beteken.”
“O, Raul, jy lag al weer vir my,” betig sy liggies. “Jy moes my gewaarsku het. Ek is nie reg aangetrek nie.”
“Ek het sommer op die ingewing besluit dat ons vanaand hierheen kom.”
“Maar moet ’n mens dan nie lank voor die tyd bespreek om hier ’n tafel te kry nie? Die hele plek sit kant en wal.”
“Ja, eintlik, maar ek kry altyd ’n tafel.”
Sy glimlag half verlangend teenoor hom. “Dit moet wonderlik wees om Raul Günther te wees.”
Sy gesig verstil, die oë trek saam. “Miskien. Soms.”
“Nee, altyd. Alles gaan sommer so oop voor jou. Jy hoef nie …” Sy swyg vinnig. Nee. Sy wil nie die aand bederf nie. Sy lê meteens haar hand oor syne. “Dankie, Raul.”
Hy trek sy hand terug en laat glip sy vingers oor hare, gee dit ’n drukkie en sê opreg: “Liewe kind, die plesier is myne.”
Nou frons sy. “Daar bederf jy dit al weer. Hoekom praat jy soms asof ek ’n kind is en jy Metusalag?”
Hy glimlag, maar tog is daar erns in sy stem en oë. “Miskien is dit goed as ons soms onthou dat ek baie jare ouer is as jy. Daar is ’n ouderdomsverskil van twintig jaar tussen ons.”
Sy trek haar hand onder syne uit en sit terug. Dis asof die glans van die aand verdwyn het. “Wat maak dit saak? ’n Man van veertig is in die fleur van sy jare. O, Raul, moenie dat ons nou weer daarmee begin nie. Ons het al daaroor gepraat en …” Sy glimlag pleitend na hom op. “Kom ons vergeet van alles en ons onthou net … die lewe is mooi en wonderlik en … ek is lief vir jou. Daar. Ek het dit gesê.”
Haar oë is uitdagend en uiteindelik glimlag hy. “Goed. Kom ons vergeet alles.” Hy wink na die kelner. “Sal ons vanaand sjampanje waag?”
Meteens laat ’n stem langs hulle hulle opkyk. ’n Ouerige man, bles en met ’n taamlike boepmagie, staan met ’n jong vrou langs hul tafel. “A, Raul. Goeienaand.”
“Naand, Tom.”
Die ander man kyk opsommend na Amanda. “Nog ’n mannekyn, hm?”
Daar is iets in sy stemtoon wat Amanda hinder, wat krap, en sy sien dat Raul hewig frons.
“Ja.”
“Jy begin hulle al jonger vat, hm?”
Raul staan vinnig op. “Verskoon ons, asseblief. Ons was op die punt om te gaan dans. Amanda …” Hy hou sy hand na haar toe uit en sy is bly om weg te kom van die man met sy betekenisvolle glimlag en die alwetende blik in sy metgesel se oë. Sy is dankbaar om van hulle af weggelei te word, want hulle laat haar kriewelrig voel, skuldig, en sy weet nie hoekom nie.
“Wie is hulle?” wil sy weet toe hulle op die dansvloer begin beweeg.
“Die vrou ken ek nie – gelukkig. Hy is ’n mislukte sakekennis en van geen belang nie. Vergeet hulle.”
Weer verdwyn die glans uit die aand. Daar is ’n deel van Raul se lewe wat sy nie ken nie. Maar dan ruk sy haar reg. Sy is besig om dit te leer ken, deel daarvan te raak. Sy lê haar kop in die holte van sy skouer en sluit haar oë. Dis om van te droom. Dis die soort lewe wat sy begeer, wat sy gaan hê, besluit sy. Saam met Raul Günther …
Toe hulle weer by die tafel aansit, hou hy die borrelende sjampanje omhoog.
“Op jou – en ’n blink toekoms.”
“Op ons – en ’n wonderlike toekoms,” sê sy en haar hart lê in haar oë. Hy is wonderlik, fantasties, hierdie man wat sy so liefhet! Wat maak dit saak dat hy veertig is? Hy is nog net grys by sy slape en sy atletiese liggaam sal menige jong man groen van jaloesie laat word. Boonop is hy so galant, so sjarmant, so alles wat reg is. So alles wat sy in ’n man verlang. Hy is dierbaar en sy het hom lief. Verskriklik lief!
Die man kyk swyend terug. Sy is pragtig, hierdie ongekunstelde kind wat so maklik haar hart in haar oë dra. Die ongemak roer vaag in hom. Daar wag ’n wonderlike toekoms op haar. Hy is seker daarvan. Maar is sy ryp genoeg daarvoor? Hy twyfel. Dis so goed as om ’n lam in ’n kamp vol honger wolwe te gaan injaag.
Maar daaraan is geen keer meer nie. Die eerste tree is reeds geneem en nou kan sy net vorentoe. Sy is reeds by keerpunt verby. Haar voete, hoewel nog onervare, staan reeds op die eerste sport van die leer na sukses. Maar die bedoeling was nie dat hý ook in die prentjie sou wees nie. Weliswaar as baas, as die man wat haar teen hierdie leer gaan ophelp, maar nie as minnaar nie.
Sy kon jou dogter gewees het, betig hy homself heftig, sy oë stip op die gesiggie voor hom. Twintig jaar lank al is jy ’n wêreldwyse man. Jy ken reeds die dinge wat sy nog moet leer. En dít wat nog vir haar nuut is, is oorbekend vir jou. Die dinge wat sy nog so graag wil ervaar, het jy lankal reeds ervaar – en ontnugter anderkant uitgekom. Sy verdien iets beters as jy. Sy verdien iemand soos syself, iemand wat saam met haar die lewe kan gaan ontdek.
“Raul …” Sy lyk onseker. “Hoekom is jy skielik so stil?”
Hy glimlag skeef. “Ek het sommer net gedink … Waar koop jy jou klere?”
Sy lyk verbaas, wil eers wegskram, maar erken dan: “My ma maak omtrent al my klere self. Hoekom? Moet ek liewer in die winkels …?”
“Nee, natuurlik nie. Dis juis omdat jou klere altyd so besonders is dat ek vra. Jou ma moet ’n baie besonderse vrou wees.”
“Mams?” Eers lyk sy eerlik verbaas. Dan frons sy. “Wel, ek weet nie. Mams is maar net … Mams.” Sy lyk nog steeds half verward. “Sy is baie oulik met naaldwerk. Doen dit haar lewe lank. Baie keer ontwerp sy die patrone ook, soos hierdie een.”
Sy kennersoog gaan opsommend oor haar en hy knik. “Die snit het my getref toe jy vanaand die trappies opkom. Dis beslis anders as die gewone. Hoe oud is sy?”
Die verbasing slaan oor in verstomming. “Mams? Ek weet nie presies nie. Hier om en by …” Dan swyg sy, trek haar skouers op. “Ag, so … middeljarig.”
“Hoe lyk sy?”
Sy lag nou. “Liewe aarde, Raul. Dit klink na ’n kruisverhoor. Jy stel tog nie regtig belang in hoe my má lyk nie.”
Hy glimlag terug. “Nogal. Sy moet iets besonders wees om so ’n besonderse dogter te hê.”
“Vleier! Maar ek is bevrees … Wel, sy lyk maar soos alle ander middeljarige ma’s. Sy is skraal, met donker hare. Grys al. Bruin oë. My broer lyk na haar. Ek lyk glo soos my pa …”
Hy sien die flits van emosie wat oor haar gesiggie trek, maar gee voor dat hy niks agtergekom het nie. Hy klink belangstellend. “Jou pa? Ek het nog nie gehoor jy praat van hom nie. Wat doen hy?”
Sy is eers stil, kyk dan na hom. “Hy is dood. Jare gelede al. Ek was so vyf en Andrew omtrent drie.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Is jou ma nooit weer getroud nie?”
“Nee. Sy het nooit weer in ’n ander man belang gestel nie.”
“Dan moes sy hom baie liefgehad het. Sy was seker nog jonk toe hy dood is. Hulle was seker baie gelukkig.” Sy antwoord nie en hy lig die sjampanjebottel. “Jammer, meisie. Dis seker nie die plek om oor die dood te gesels nie. Moenie so hartseer lyk nie. Kom, neem nog ’n slukkie wyn, dan gaan ons weer ’n slag dans.”
Op pad terug van die restaurant af sê hy: “Ek sal graag jou ma wil ontmoet.”
“Vir Mams? Hoekom?”
“Wel, sommer net. Hoekom nie?” Hy glimlag teen haar frons vas. “Ek sou haar graag wou komplimenteer met haar naaldwerk.”
“Dis … dis nie nodig nie. Ek sal haar sê.”
Hy frons ook nou, sy stem agterdogtig. “Dit klink amper asof jy nie wil hê ek moet jou ma ontmoet nie, Amanda.”
“Nee. Nee. Dis nie dit nie. Dis net … Ag, julle het tog niks gemeen nie. Julle sal niks hê om vir mekaar te sê nie.”
“Ek dink nogal weer ons sal lekker gesels. Jou ma stel in klere belang, en ek ook.”
“Ja, maar … O, hier is die huurmotors. Jy kan my maar hier aflaai. Ek sal nou regkom, dankie.”
Maar hy ry verby, hou ’n ent laer af in die straat stil en draai direk na haar, en nou is daar ’n frons tussen sy wenkbroue.
“Amanda, ek gaan jou nie weer in die straat aflaai soos die vorige kere nie. Ek neem jou terug huis toe … soos dit hoort. Wat is jou adres?”
“Jy klink nou amper nes Mams.” Haar stem is verwytend, maar ook onseker, selfs bang.
“Hoekom?”
“Sy is ook altyd so gesteld op wat hoort en nie hoort nie. Moenie verspot wees nie, Raul.”
“Dis jý wat verspot is, kleintjie. Jou ma klink my na ’n verstandige vrou. Daar is dinge wat hoort en nie hoort nie. ’n Man behoort, wanneer hy ’n meisie die aand uitgeneem het, haar weer veilig by haar voordeur terug te besorg.”
“Maar ek het jou reeds gesê hoekom dit soveel beter is as ek hiervandaan met ’n huurmotor huis toe gaan. Jy bly heeltemal aan die ander kant van die stad en dis totaal onnodig om hierdie vreeslike draai te ry …”
“Ek weet. Ons het nog elke keer daaroor geredeneer en ek is steeds nie daarmee tevrede nie. Ek het nog nooit ’n vroumens in die straat afgelaai nadat ek haar onthaal het nie. Gee my jou adres, Amanda.” Toe daar net ’n stilte op sy woorde volg, sug hy. “Dan het jy jou ma nóú nog nie vertel nie. Dis wat dit is, nè?” Sy knik haar kop swyend en sy stem klink nou streng. “Is jy skaam om my aan jou ma voor te stel?”
“Raul! Dis … dis ’n gemene vraag! Jy weet dit is nie dít nie …”
“Wat is dit dan?”
Sy beduie magteloos met haar hand en die trane sit vlak. “Jy … sal nie verstaan nie …”
Hy speel met die gedagte om maar weer toe te gee soos die vorige kere, maar dan verstreng sy mond. “Amanda, ek wil jou ma ontmoet. Ek dink ek verstaan. Ék sal met haar praat … verduidelik. Vra jou ma om my môremiddag vir ete te ontmoet. Ek sal ’n motor stuur om haar te kom oplaai.”
“Nee, dit … sal nie nodig wees nie.”
“Nou goed dan. Ek sal haar presies om halfeen onder in die restaurant van ons gebou ontmoet.”
“Maar …”
“En as jy haar nie die boodskap gee nie, dan sal ek jammer wees, kleintjie. Weet sy darem al dat jy deeltyds mannekynwerk doen?”
“Nee.” Die woord kom gesmoord uit en Raul Günther se oë vernou. Hier is êrens ’n slang in die gras.
“Nou maar goed. Ek sal jou toelaat om met ’n huurmotor huis toe te gaan. Net vanaand. Dit moet jy goed verstaan. En ek sien jou ma môre om halfeen en as sy nie kan kom nie, moet sy my laat weet wanneer ek haar kan ontmoet.”
“Mag … mag ek by wees?”
“Môremiddag?” Hy aarsel, gee dan toe. “Ja, natuurlik. Daar is mos niks om te bespreek waarvan jy nie weet nie, is daar? Kom gerus saam.”
Dis nie Amanda se gelukkige aand nie. Toe sy suutjies by die voordeur inkom, gaan haar ma se slaapkamerlig aan en sy verskyn in die deur.
“Is dit jy, Amanda?”
“Ja, Mams.”
Haar ma kom nader en Amanda probeer haar effens meer terugtrek in die gang se skaduwee. “My kind, dis al halfeen.”
Die antwoord kom ongeduldig, dadelik op die verdediging: “Ja, ek weet. Ek is jammer. Nag, Mams.”
“Amanda …” Haar ma frons bekommerd. Daar is iets in haar dogter se houding wat haar agterdogtig maak. “Amanda, kom hier.”
“Asseblief, Ma. Ek wil gaan slaap.”
Die ouer vrou voel onrustig. As Amanda haar so kortaf Ma noem, weet sy dat haar dogter iets wegsteek, of skuldig voel oor iets. Sy aarsel. Miskien moet sy die saak maar daar laat. Sy kan maar later weer hieroor praat. Maar dan besluit sy daarteen. Miskien het sy al klaar te veel kere dinge oor die hoof gesien en sake daar gelaat wat teen die end op die lange baan geskuif is.
“Amanda, kom na my kamer toe. Ek wil met jou praat.”
“Maar, Ma …”
“Kom.”
Amanda pers haar lippe op mekaar. Sy het ’n liewe, goeie, sagmoedige ma, maar sy weet ook as haar ma die slag dáárdie stemtoon gebruik, duld sy geen teëpraat nie. Sy volg onwillig en druk die kamerdeur agter haar toe.
“Waar was jy gewees tot hierdie tyd van die nag?”
“Maar Ma weet mos. Ek het mos gesê …”
“Nee, Amanda. Jy het niks gesê nie. Jy het gesê jy weet nie wat op die program is nie. Wel, wat wás op die program?”
Amanda se oë begin flits en haar ma weet dat daar onaangenaamheid voorlê. Maar haar kommer laat haar beslis optree. “Ek wag op ’n antwoord, Amanda.”
“Ma, luister, ek is nie meer ’n kind nie. Ek werk al meer as ’n jaar vir myself. Ek is ’n grootmens. Ek hoef nie verslag te doen elke keer wanneer ek uit was nie. Ek …”
“Sodra jy ophou om jou soos ’n kind te gedra, sal jy soos ’n grootmens behandel word, my kind.” Soos altyd is haar stem kalm. Nie een van haar kinders het haar al ooit hoor skel en skree nie. Gewoonlik word haar stem sagter, maar nie minder gesaghebbend nie. “Ek beskou dit nie as die optrede van ’n verantwoordelike, volwasse grootmens om op ’n weeksaand, wanneer sy die volgende oggend vroeg op kantoor moet wees, om halfeen die nag eers huis toe te kom en … dan nog na drank ook te ruik nie.”
“Ma! Wil Ma beweer ek is …”
“Nee, my kind, jy is nie dronk nie … en mag die Vader my dit spaar om jou ooit so te sien. Dit sal iets in my breek. Maar jy het wel alkohol in, nie waar nie?”
Die dogter se oë sak voor die reguit blik en sy weet sy kan maar erken. Haar ma se daaglikse kringetjie mag klein en beperk wees, maar sy is geen swaap nie. “Nou goed. Ek het … ietsie gedrink vanaand. Maar dit was net twee glasies, nie ’n bottel vol nie.”
“Wat was dit?”
“Liewe hemel, Ma, wat maak dit saak? Nou goed, as Ma moet weet … dit was sjampanje.”
Niks op die stil gesig verraai die skielike angs in die moederhart nie. “Ek het nie geweet Ted se salaris kan tot by sjampanje kom nie.”
“Dit was nie …” Sy swyg vinnig, maar te laat.
“Dit was nie Ted nie, wou jy sê. Met wie was jy vanaand uit?”
“Dis … sommer iemand by die werk. Ma ken hom tog nie.”
“Maar ek kan hom seker leer ken. Wat is sy naam?”
Amanda swyg. Sy weet sy moet haar ma liewer alles vertel. Dit sal nie help om verder te skerm nie. Wat meer is, Raul het dit ook voorgestel. Maar sy aarsel nog. Sy ken haar ma. Sy lyk maar so mak en sag, maar kan streng wees as sy dink dis nodig. En Amanda is seker dat wat sy nou gaan vertel, nie haar ma se goedkeuring sal wegdra nie. Beslis nie.
Haar ma beskou Amanda skerp en geen woorde kan die onrus in haar beskryf nie. Sy is so mooi, so jonk, so onaangeraak. So lyk sy altans, selfs met die nors uitdrukking wat sy nou op haar gesig het. Maar ís sy nog? “Amanda, jy is besig om iets vir my weg te steek. Lankal al. Ek het begin agterkom dat jy anders is.”
“Wat sal ek nou wegsteek? Ma soek sommer net …”
“Nee, my kind, ek het nog nooit sommer net na dinge gesoek nie. Ek het jou nog altyd vertrou … geglo ek kan jou volkome vertrou.” Sy stap nader, lig die kennetjie met haar vingers op en kyk af in die blou oë. “Kan ek nog, Mandatjie?”
Dis of die ligte gelaatskleur ietwat verbleek, en die parmantige stem klink nou minder verdedigend, minder selfversekerd. “Ek het niks verkeerd gedoen nie.”
“Ek sê nie jy het nie, my kind. Maar jy is êrens aan die verdwaal, nie waar nie?” Sy gaan sit op die bed en klap liggies met haar hand langs haar. “Kom sit hier by my, Mandatjie, en vertel my … asseblief.”
Amanda gehoorsaam eindelik en kyk dan reguit in haar ma se oë op, ietwat skuldig en selfbewus, maar die opstandigheid is weg.
“Daar is regtig niks verkeerd nie, Mams. Daar is niks waaroor ek my hoef te skaam nie. Ek … wou eintlik al vir Mams vertel, maar …”
“Ja, my kind?”
“Maar ek weet nie of Mams daarvan sal hou nie. Sien, ek doen deeltydse mannekynwerk.”
“Amanda!” Haar ma kyk haar verbaas aan, en dan glimlag sy. “Maar my liewe kind, daarmee is niks verkeerd nie. Dis … wonderlik! Om die waarheid te sê, ek het al lankal so in my enigheid gedink dat jy ’n pragtige mannekyn sal uitmaak.”
Die blou oë blink bly. “Regtig, Mams? Gee Mams nie om nie? Dink Mams regtig …”
“Ek gee beslis nie om nie en ek dink regtig jy het alles wat ’n mannekyn moet hê. Jy is nog baie jonk, natuurlik, maar dit gee jou genoeg tyd om te leer. Waar doen jy dit?”
Die ooglede val ’n oomblik. “By Raul Günther.”
Maar die moeder glimlag breed. “Dis wonderlik, Mandatjie. ’n Beter plek kon jy kwalik gekies het. Raul Günther is ’n gevestigde naam in ons modewêreld.” Sy druk haar dogter se hand. “Ek is bly vir jou ontwil, my kind. Die dag toe jy as tikster by Günther aangestel is, was ek nie baie gelukkig nie. Ek het gevoel jy is tot meer in staat.”
“Ek weet,” glimlag die meisie. “Mams wou gehad het ek moes verder gaan leer.”
“Ja. Ek het net gevoel dat daar meer in jou toekoms wag as om elke dag lang tabelle syfers te sit en tik. En nou is jy een van die Günther-mannekyne! O, my skat, ek is so bly!”
“Ek is nog maar heel aan die begin, Mams. Maar … meneer Günther dink daar wag ’n groot toekoms op my.”
“Hy het self so gesê?”
“Ja.”
“Hoe het dit gekom dat jy daarmee begin het?”
“O … dit was eintlik Mams wat die deur oopgemaak het.”
“Ja?”
Die dogter lag vir haar ma se verbasing. “Dis die mooi rokkies wat Mams vir my maak wat eerste die oog gevang het. Die ander tiksters wou by my weet waar kry ek my klere. Toe vertel ek hulle Mams maak alles. En op ’n dag laat roep meneer Günther my toe kantoor toe en hy sê ek dra altyd sulke interessante rokke en of ek nie belang stel in mannekynwerk nie. Ek het natuurlik dadelik ja gesê en daar het dit begin. Ek doen bedags nog kantoorwerk, maar hy laat my nou party middae klas loop en begin my nou stadig inwerk in sy vertonings.”
“En dis waar jy vanaand was – by ’n modeparade?”
“Ja. Ek het swemdrag en ’n aandrok vertoon vanaand. O, Mams, dis … fantasties! Ek geniet dit vreeslik.”
“Mandatjie, ek is so dankbaar. Dit gaan ’n nuwe wêreld vir jou oopmaak.” Net ’n oomblik verstil haar glimlag effens. Weliswaar gaan dit ook ’n wêreld wees wat sy toetse gaan stel, maar … sy glo in haar kind. Sy glo dat die opvoeding wat Amanda in hierdie eenvoudige huisie gekry het, sterk genoeg sal wees om haar staande te hou teen die versoekings. Sy glimlag weer, nou effens tergend: “En toe gaan julle klomp mannekyne ná die vertoning om die sukses te vier met ’n glasie sjampanje?”
Amanda aarsel, erken dan eerlik: “Nee, Mams. Ek en Raul Günther het ná die vertoning gaan eet.”
“Jy en … Raul Günther?” Sy lyk ongelowig en weer val haar dogter se ooglede.
“Ja. Die grootbaas self. Ons … het al vantevore ook saam gaan eet. Hy het … was van die begin af baie gaaf teenoor my, het my baie aangemoedig en … so aan … Hy is fantasties gaaf. Hy is net ’n fantastiese man in alle opsigte.”
Iets in die bewende stem, in die blink van die oë laat die ma haar dogter skerp aankyk. “Julle … ken mekaar redelik goed?”
“Ja. Ons … om die waarheid te sê, Mams, daar is ’n spesiale vriendskap tussen ons.”
“O?” Die ouer vrou se gesig verstil. “Hoe spesiaal?”
“Dis …” Dan kyk die blou oë eerlik en reguit op. “Ek het hom verskriklik lief, Mams.”
Dis baie stil in die slaapkamertjie. Dis die ma wat haar blik laat sak, afkyk op die fyn handjies in hare. Sy sien die bewing in die vingerpunte, besef met beklemming hoe gewigtig die oomblik is wat nou tussen haar en haar dogter lê … en hoe delikaat dit werklik is.
Sy probeer om die foto’s wat sy die afgelope jare van hierdie man in koerante en tydskrifte gesien het, weer voor haar geestesoog op te tower. Maar die gesig bly vaag. Tog is daar dinge wat sy nou onthou, persoonlike feite in verband met hierdie modebaas wat nie voorheen saak gemaak het nie en net so terloops opgemerk is, maar wat nou meteens allerbelangrik geword het.
Sy kyk stadig op na haar dogter, sien die afwagting, maar ook die waaksaamheid op die pragtige gesiggie. “Mandatjie, Raul Günther is baie jare ouer as jy. Ek kan nie raai presies hoe oud hy moet wees nie, maar hy is beslis reeds by sy veertigs, indien nie ouer nie.”
Onmiddellik word daar tot die verdediging oorgegaan. “Raul is in die fleur van sy lewe. Hy is nog in sy dertigs.”
“Nee, my kind, dit glo ek swaar. En hy is ’n geskeide man, nie waar nie?”
’n Oomblik stilte. “Ja. Hy is jare gelede van sy vrou geskei. Hulle het nie kinders gehad nie.”
“Dis nie járe gelede nie, my kind. As ek reg onthou, moet dit maar iets soos ’n jaar of twee gelede wees. En intussen …”
“Ja?” Daar is ’n vyandige ondertoon in die jong meisie se stem, maar haar ma weet sy moet nou reguit praat. Haar kind is verdwaal, soos sy vermoed. Net … sy het verder afgedwaal as wat sy self ooit sal besef.
“Intussen is hy op elke foto wat van hom geplaas word, omring deur mooi vroue …”
“Dis sy mannekyne.”
“Nie almal nie, my skat. En al is dit ook mannekyne, is dit …”
Amanda spring op en haar blou oë blits op die ou bekende manier. “Ma is nes die res van die wêreld. Moet altyd iets verkeerds sien of iets verkeerds vermoed. Raul is ’n ordentlike man.”
“Ek het nie beweer hy is dit nie,” sê sy en staan ook op. “Maar Raul Günther is te oud vir jou en gans te ervare vir jou, Manda. Jy gaan net seerkry.”
“Ek het hierdie houding verwag. Dis hoekom ek niks wou sê nie. Wel, dit maak nie saak wat Ma sê of dink nie. Ek gaan nie my vriendskap met hom verbreek nie. Ma het geen reg om sleg van hom te dink nie. Ma ken hom nie eens nie. Hy is ordentlik en ek weet hy bedoel dit opreg met my. Hy is lief vir my, opreg lief vir my en ek vir hom.”
“Het hy jou dit al in soveel woorde gesê, my kind?”
“Ja! En ek glo hom. Hy is dierbaar en ek sal sterf as ek sonder hom moet lewe! Ma is …” Die trane begin rol. “Hy wou Ma môre vir ete ontmoet. Hy het gesê ek moet vir Ma sê, maar nou … Ek sal hom sê Ma wil hom nie sien nie, soos ek verwag het. Maar niks wat Ma kan doen of sê, sal my van Raul laat afsien nie. Dit moet Ma goed verstaan.” Haar hele houding is uitdagend en die moeder dwing die spontane woede terug. Dis nie nou die tyd om kwaad te word nie. Daar is te veel op die spel.
“Amanda, jy sê hy is ’n ordentlike man. Maar ’n ordentlike man sal ’n meisie wat hy die aand uitgeneem het, self by haar huis terugbesorg, haar nie met ’n huurmotor terugstuur nie.”
“Dis ék wat daarvoor verantwoordelik is. Ek het daarop aangedring om met ’n huurmotor terug te kom. Raul wou my elke keer huis toe bring, maar ek wou dit nie toelaat nie.”
“Hoekom nie?”
“Vra Ma nog?”
Dis ’n skerp, genadelose dolksteek wat brutaal deur die moederhart dring. Sy beweeg effens asof sy die brandpyn nie heeltemal kan wegsteek nie. Maar die stem bly kalm, klink byna emosieloos: “Jy sê hy wil my ontmoet?”
“Ja, maar ek dink dit moet liewer bly.”
“Hoekom?”
“Ma gaan net kwaad stook. Ek sê Ma ek sal nie toelaat dat Ma ’n wig tussen ons indryf nie. Ek sal nié van Raul afsien nie.”
“Hoe laat het hy gesê sal hy my ontmoet?”
“Om halfeen onder in die restaurant van ons gebou.” Die oë is wantrouig. “Gaan Ma?”
“Ja, my kind, ek gaan. Ek sal halfeen daar wees.”
“Ek sal by wees. Raul het gesê ek kan by wees.”
Dit klink na ’n waarskuwing en haar ma knik, die hartseer in haar verbloem. Amanda … Mandatjie, my dogter …
“Dis goed so, my kind. Ek veronderstel nie daar is iets waaroor ek en meneer Günther sal praat wat jy nie mag hoor nie.”
Amanda kyk haar ma onseker aan. Sy is nou nog minder te vinde vir hierdie samekoms. Maar voordat hulle dalk in die geheim ontmoet en sy nie by is om te hoor wat daar gepraat word nie, laat dit dan maar so wees. “Ma moet net asseblief môre dink wat Ma sê. Ek wil my nie skaam nie.”
Dis ’n rukkie stil. Dan: “Nee, my kind, jy sal jou nie hoef te skaam vir my nie.”
Amanda gee ’n lang gaap. “Ek gaan nou slaap.” By die deur draai sy om. “Het Ma darem iets ordentliks om aan te trek?”
“My Sondagrok. Dis al wat ek het.”
“Daardie ou ding … Nou toe maar. Raul stel tog nie in Má belang nie. Dit moet maar doen. Nag, Ma.”
“Nag, Mandatjie.”
Die deur gaan toe en die moeder sak terug op die bed, staar voor haar uit, vrees en kommer en onrus soos lewende monsters in haar. En die seer …