Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 11
8
ОглавлениеHaar bruin oë het weer daardie stil uitdrukking toe Raul Günther die volgende dag binnestap. Hy sien dit onmiddellik raak, ook dat daar vandag geen spontane vreugde en verwelkoming is nie, en iets verstil ook in hom.
“Goeiemiddag. Sit gerus.”
Daar is ’n merkbare verstrakking in hom by die aanhoor van haar formele stemtoon en hy neem vinnig plaas.
“Ek veronderstel jy het kom hoor of ek jou aanbod aanvaar.”
“Nee, glad nie. Dit is net logies en vanselfsprekend dat jy dit sal aanvaar. Daar is nie ’n kans dat jy daarteen kan besluit nie.”
’n Oomblik is sy stil. “Ek is bevrees dat jy die bal misslaan. Dankie vir die aanbod – maar ek neem dit nie aan nie.”
“Wena!” Hy spring op, kyk haar verbysterd aan, draai half weg. “Magtig!” Hy draai terug, en vir die eerste keer sien sy Raul Günther se oë blits. “Ek sal nie toelaat dat jy jouself langer opoffer …”
“Dis nie vir jou om dinge in my lewe toe te laat of nie toe te laat nie, meneer Günther. Ek besluit self daaroor.”
Hy is totaal onkant betrap. “Jy is vyandig. Jy is waaragtig vyandig teenoor mý!” Sy stem is skor. “As ek jou nie beter geken het nie, sou ek amper nou kon dink jy is kleinlik en kinderagtig.” Haar kop ruk omhoog, maar sy antwoord nie en hy gee ’n tree nader, ’n wit kring om sy mond. “Jy is al weer besig om agter jou dogter te skuil.”
“Amanda het niks met my besluite te doen nie. Sy wil baie graag hê dat ek jou aanbod moet aanvaar, maar ék wil nie.”
“O, jy wil nie. Gee my een enkel rede hoekom nie?”
“Ek het nie nodig om redes te verskaf nie. Dit staan my vry om ja of nee te sê. En ek sê nee.”
Sy oë vernou. “Jy, Wena Conradie, is ’n lieflike vrou met lieflike karaktertrekke wat jou uiters beminlik maak. Maar een ding het jy nie. Jy het nie moed nie. Jy, dierbare engel van ’n mens, is te lafhartig om die waarheid in die oë te kyk. Jy dink jy hardloop van my af weg, maar dis van jouself wat jy probeer weghardloop. Maar met jou ervaring van die lewe behoort jy so goed soos ek te weet dat jy net so min van jouself kan weghardloop as wat jy van jou eie skaduwee af kan wegkom.”
“Jy … Ek weet nie waarvan jy praat nie. Feit is …”
“Jy weet presies waarvan ek praat en wat meer is, jy weet ek praat die waarheid. Nee, moenie wegdraai nie.” Hy gryp haar skouers vas en draai haar terug, sy oë uitdagend: “Kyk in my oë en sê weer jy weet nie waarvan ek praat nie.”
Daar is ’n diep onrus in haar bruin oë, maar uiterlik vertoon sy kalm en waardig, hoewel sy oorbewus is van die bewing in sy vingerpunte op haar skouers.
“Ek is nie bereid om die saak verder te bespreek nie, meneer Günther. My antwoord op jou aanbod om vir Günther te ontwerp, is nee. Daar is niks verder wat ek vir jou te sê het nie, net …”
“Ja, mevrou Conradie?”
“Ek sal dit waardeer as jy nie weer hierheen sal kom nie.”
Sy asem ruk hoorbaar en ’n oomblik maak sy vingers haar seer. Dan trek hy sy hande vinnig terug, prop hulle in sy broeksakke en ook sý oë verloor alle uitdrukking.
“Soos jy verkies, mevrou. Sê my net … Ek vra dit bloot uit nuuskierigheid. Gaan die verbleikte rokkies en skewe skoentjies nou weer terugkom?”
Sy verbleek onder die brutale hou, maar antwoord nie.
“Goed. Ek veronderstel dit het ook niks met my te doen nie. Ek gaan nou. Maar voordat ek gaan, mag ek darem seker ter wille van die dertig jaar wat voorlê tot siens sê.”
Weer vang hy haar onverhoeds. Vir die tweede keer voel sy Raul Günther se mond op hare neerkom. Maar vandag soen hy haar sonder enige teerheid. Dis ’n desperate, byna wrede soen, en hierdie keer is daar nie weer ’n onderbreking nie. Hy soen haar vir so lank hy wil. Dan laat hy haar skielik gaan, sodat sy na ’n stoelleuning moet gryp. Wit in die gesig sien sy hoe hy ’n koevert uit sy sak haal en op die ou naaimasjien neersit.
“Jou vergoeding vir die sketse wat ek gaan gebruik. Tot siens, mevrou Conradie.” By die deur draai hy weer halfpad terug. “Nog net een ding. Jy weet waar om my te kry as jy ooit eendag genoeg moed het.”
In die dae wat volg, is dit of daar ’n swyende ooreenkoms in die klein huisie met die blou voorhekkie ontstaan. Raul Günther se naam word nie genoem nie.
Waar Amanda altyd oorgeborrel het van Raul, haar werk en van elke modeparade waaraan sy deelneem, het sy nou niks meer te vertelle nie, en Wena vra ook nie uit nie. Sy vertrek soggens werk toe en kom die meeste van die tyd saans bitter laat weer tuis, maar Wena bevraagteken dit nie.
Oënskynlik gaan die moeder van die huis haar normale gang. As sy stiller is as gewoonlik, slaan niemand daarop ag nie. Amanda konsentreer op haar loopbaan en Andrew het net oë vir die fantastiese kamera waarmee sy ma hom op ’n dag verras het.
Sy oë het byna uit sy kop geval toe hy dit die eerste keer sien.
“Hemel, Ma, maar … dié affêre kos ’n fortuin! Waar het Ma die geld gekry?”
Sy het net geglimlag, en van die hartseer agter daardie glimlag het hy nie geweet nie.
“Dis nie so vreeslik erg nie. Hulle gee ’n goeie afslag as ’n mens kontant betaal.”
“Nogtans. Dis die beste en die bekendste fabrikaat. Ek weet nou nog nie hoe Ma dit kon bybring nie.” Maar sy oë het geskitter en sy was bly dat iemand in hierdie huis darem gelukkig is.
Sy het die dag met die belaglike groot tjek van Raul Günther in haar hande gestaan. Toe het sy dit gaan wegsluit vir omtrent ’n maand lank. Eindelik het sy die tjek gewissel en besluit om elke sent op Andrew te spandeer. Sy wil niks, niks daarvan vir haarself gebruik nie.
Sedertdien weet sy dat haar seun middae nie gou genoeg ontslae kan raak van sy oorpak nie. Dan gryp hy die nuwe kamera en maak dat hy wegkom. Op ’n dag kom hy met ’n breë glimlag by haar aan.
“Kyk hier, Ma!”
Sy kyk verbaas na die tjek wat hy uithou. “Waar kom dit vandaan?”
“Ek het van my foto’s aan ’n tydskrif verkoop. Ek het nooit besef hulle betaal so goed nie. Noudat ek ’n ordentlike kamera het, kan ek goeie foto’s neem. Nou kan ek weer film koop met die geld.”
“Ek is bly, Drew.”
Hy knik, kom sit vir die eerste keer in weke by haar. “Toevallig het ek vandag ’n ongeluk in die middestad sien gebeur. En raai nogal wie was in die een motor? Amanda se baas.”
“Günther! Het … het hy seergekry?”
“Nee. Die modderskerm is net in sy peetjie.”
“O.”
Wena hou haar doenig met die soom waarmee sy besig is en haar seun kyk haar onseker aan. Hy hou nie daarvan om dinge vir sy ma weg te steek of iets agter haar rug te doen nie. Hy wonder nou nog hoekom meneer Günther hom gevra het om liewer stil te bly.
Toe hy die twee motors sien bots, het hy spontaan vorentoe gehardloop. Hy was eerste by die motor en het Amanda se baas dadelik herken toe hy uitklim. Dié het hom ook onthou.
Terwyl hulle op die polisie gewag het, het Günther opgemerk: “Jy het ’n goeie kamera daar.”
Hy het dit trots omhoog gehou vir nadere inspeksie. “Ja, my ma het dit onlangs vir my present gegee.”
“Wat neem jy af?”
“O, sommer dit en dat, alles wat my oog vang. Dis maar eintlik ’n stokperdjie. Kyk hier. Ek het hierdie foto’s verlede week in die park geneem.”
Raul Günther het die foto’s geïnteresseerd beskou. “Dis goed. Baie goed. Jy sê jy doen dit sommer vir ’n tydverdryf?”
“Ja. Eintlik sou ek dit graag pal wou doen, maar …” Die jong skouers het veelseggend opgetrek.
“Stel jy só intens belang?” wou die ouer man egter weet en Andrew het geknik. “Wat van modelle? Stel jy nie daarin belang om mense af te neem nie? Modefoto’s byvoorbeeld?”
“O ja, maar wanneer sal ek so ’n geleentheid kry?”
Die beampte het opgedaag en dit was eers toe Raul hoor hy kan maar ry, dat hy hom vinnig na die jong man gewend het. “Luister. Kom vanaand na Günther toe. Kom kyk wat jy uitgerig kan kry met daardie soort fotografie. Ek kan doen met ’n goeie fotograaf.”
Andrew kon sy ore nie glo nie. “U bedoel ek moet vanaand ’n modeparade kom afneem?”
“Ja. Daar sal natuurlik ander ook wees, maar kom probeer. Is ek tevrede met jou foto’s, kan ons verder praat.”
“Heng!” was al wat die jong man kon uitkry en Raul Günther het vlugtig geglimlag.
“Net een voorwaarde. Jou ma moet nie hiervan weet nie.”
“Hoekom nie?” wou Andrew verbaas weet, maar die grootbaas van Günther was ontwykend.
“Ons kyk maar eers hoe jy vaar. Dan praat ons weer. Sien jou vanaand agtuur.”
Nou kou Andrew sy onderlip. Hy sou sy ma graag wou vertel van hierdie wonderlike kans. Dan frons hy. Daar is ook iets anders wat hom al lankal hinder en hy dink dit het tyd geword dat hy sy ma daarvan vertel.
“Ma, wat gaan met Amanda aan?”
Wena kyk vinnig op. “Hoekom?”
“Daar is iets met haar aan die gang.”
Hy het nou sy moeder se volle aandag. “Ja, Andrew?”
“Ma, ek kan verkeerd wees, maar … Amanda is besig om verkeerd te loop. Sy vertel vir Ma sy gaan modeparade toe, maar ek dink sy gaan ’n ander koers in. Ek dink sy is met verkeerde maats deurmekaar, want ek het haar al twee nagte hoor inkom en dan …”
“Wat is dit, Drew? Moenie goed vir my wegsteek nie.”
“Nee, Ma, ek … sal nie. Dit het vir my geklink asof sy nie so … vas op haar voete was nie.”
“Andrew!”
“Ja, Ma, ek het dit uitdruklik gehoor. Sy is ook heeltemal anders deesdae. Ma het seker al opgelet. Sy gesels nie meer soos voorheen nie en, om die waarheid te sê, ek weet nie wanneer laas ek haar hoor lag het nie. Daar is ’n groot skroef los.”
Wena voel die skuldgevoel soos ’n donker wolk oor haar toesak. Sy is die afgelope tyd so in haarself gekeer dat sy niks meer raaksien nie. Dis waar wat Andrew sê. Noudat sy daaraan dink … Amanda gesels nie meer nie. Sy lag nie meer nie. Haar kind is diep, diep ongelukkig, en sy – haar ma – sien dit nie eens raak nie!
“Ek sal ingaan op die saak, Andrew. Dankie dat jy my gesê het,” probeer sy kalm antwoord, hoewel ’n storm in haar ontketen is.
’n Paar uur later voel dit vir Wena of iets in haar wil breek toe sy met aandag na haar dogter kyk. Amanda het opmerklik verander. Sy is maerder en die jong gesig lyk gespanne, selfs ’n bietjie ouer; die vel bleek, die blou oë te groot. Wena besef dat sy vandag die waarheid in die oë kyk: Amanda is besig om onder haar oë tot niet te gaan.
“Mandatjie, ek wil met jou praat.” Sy druk die kamerdeur agter haar toe, stap beslis na haar dogter wat skuins sit-lê op haar bed. “Waar was jy gisteraand?”
Die blou oë flits vyandig op. “Ek het mos gesê ek was by ’n vertoning.”
“En ná die vertoning? Het jy en Raul …” Sy moet eers sluk. “Het jy en Raul Günther êrens gaan uiteet? Jy het vanoggend twee-uur eers ingekom, nie waar nie, my kind?” Daar heers stilte. “Jy het nou mos ’n leuen opgedis, Amanda.”
Die jong meisie spring op, haar gesig vertrek. “Goed. As Ma dan moet weet … Natuurlik was ek nie gisteraand saam met Raul nie. Ek is nie sy soort nie. Mans soos Raul Günther gebruik jou, en dan smyt hulle jou weg.”
“Wat … wat bedoel jy?”
“Net wat ek sê. Het Ma dan gedink ons verhouding bestaan nog? Dis lankal tot niet. Eintlik wás daar nooit ’n verhouding nie. Dit was maar ék wat myself aan hom opgedring het, myself goedkoop gemaak het. Soos Ma ook gesê het. En Ma was reg. Hy wil deesdae niks met my te doen hê nie. Ek werk nou vir meneer Duvenhage, en by die parades gee hy altyd pad as ek naby is. Ek sien hom omtrent nooit meer nie. Nee. Ek besef nou ek was gek om te dink dat …” Sy swyg vinnig, sluk die trane weg. Toe sy haar blonde kop weer lig, is die blou oë hard, kliphard. Dis of Amanda skielik so volwasse, so oud vertoon. So verbitterd … “As Ma dan moet weet waar ek was … Ek was saam met my maats by die Young Eagle. Dis waar ek hoort.”
“Nee! Nee, my kind!” Wena is yskoud. Die Young Eagle is ’n onheilsnes waar dagga en selfs sterker goed gerook en verskaf word. En haar pragtige dogter was dáár … blykbaar al ’n hele paar keer.
“Hoekom nie, Ma? Wie is ek tog? Ek hoort nie by Raul Günther en sy deftige pakke nie. Kyk waar bly ons. Kyk wat was my pa. Kyk om ons. Hoe lyk dit vir Ma? Na Raul se soort? Nee. Ek pas by die Young Eagle.”
“Mandatjie, my kind …” Sy trag om kalm te bly, bid om wysheid en insig. “En jou toekoms? Jou werk? Gee jy nie daarvoor om nie?”
Amanda beduie met haar arms.”Ek … weet nie. Ek weet nie of daar nog iets is om voor om te gee nie. Ek weet nie, Ma. Ek weet net … dis nie meer die moeite werd om te lewe nie.”
“My kind …” Sy stap vinnig nader, omraam die maer gesiggie met haar hande, kyk diep in die blou oë af. “Is dit … Raul? Gee jy nog so baie vir hom om?”
Amanda slaan haar arms om haar ma se middellyf en druk haar kop teen haar vas. “Ek … het hom so lief, Mamma, ek kan dit nie help nie. Ek kan hom nie vergeet nie.”
Dan het sy Raul Günther werklik lief! Haar kind het nie net kalwerliefde gehad vir die man wat haar pa kon gewees het nie. Sy het Raul Günther werklik lief. En daardie liefde is besig om haar te verteer.
Oomblikke nadat sy geskakel het, beantwoord hy die oproep: “Raul Günther.”
Sy lek eers oor haar droë lippe. “Dis … Wena Conradie wat praat.”
’n Kort stilte. “Goeiemôre.”
“Goeiemôre … meneer Günther. Ek wou jou … graag spreek. Dis baie dringend. Ek … sal nie lank wees nie.”
Die stem aan die ander kant verraai geen emosie nie. “Ek het ongelukkig net vanaand oop.”
“Dit … sal ook goed wees, dankie. Waar sal ek …?”
“Ek sal ’n motor stuur. Agtuur?”
“Goed. Ja, goed … dankie. Ek waardeer …”
“Dan is dit afgespreek. Tot siens.”
Wena is dankbaar dat Amanda en Andrew uit is toe die motor voor die huis stilhou. Sy klim selfbewus in en wonder wat die man agter die stuur daarvan dink dat sy baas hom in hierdie deel van die stad instuur om ’n vrou te kom oplaai. Maar dit maak ook nie saak nie. Niks maak saak nie behalwe Amanda …
Dis eers toe die motordeur vir haar oopgehou word en sy uitklim, dat sy gewaar dat hulle nie by die besigheid is nie, maar by ’n luukse blok woonstelle. Sy kyk onseker om haar rond en die man wys na die ingang.
“Meneer Günther se woonstel is op die agtste verdieping. Hy verwag u.”
Sy stap onseker vorentoe, en dan sien sy hom skielik by die hoofingang verskyn. Hy kom met sy bekende afgemete tred nader, sy gesig uitdrukkingloos.
“Goeienaand. Kom.”
Sy laat toe dat hy haar na die hysbak lei en toe die deur toeskuif, staan sy met neergeslane oë. Sy weet sy oë rus op haar, dat niks sy blik ontsnap nie, en sy het nie die moed om op te kyk nie. Hy lei haar die woonstel binne, sien toe dat sy gemaklik sit en neem dan op die armleuning van die stoel regoor haar plaas.
Toe die stilte langer rek en haas onuithoudbaar word, sê hy met ’n vreemde, kalm stem: “Waarmee kan ek help?”
Sy is verplig om op te kyk, hoewel sy nie weet waar sy die moed vandaan haal nie. Meteens weet sy nie wat om te sê en wat sy hier kom soek het nie.
Sy kyk om haar na die ultraweelde, en besef wrang dat haar dogter miskien tog gelyk het. Hierdie dinge pas nie by die Conradies nie. Maar Amanda pas ook nie by die Young Eagles nie! skreeu dit in haar.
Sy sluk swaar. “Jy het ’n mooi plek hier.”
Vir die eerste keer is daar ’n beduidenis van emosie op sy gesig. “Ja. Dis seker mooi. Dis baie gerieflik.” Hy staan op. “Kom ek wys jou. Ek het ’n pragtige uitsig van die balkon af.”
Sy staan gewillig op, dankbaar vir die uitstel, want sy weet glad nie hoe sy moet begin nie. Hy staan ’n hele entjie van haar af weg en hulle kyk in stilte oor die stad se liggies.
Dis weer hy wat eerste die stilte verbreek. Daar is ’n toon in sy stem wat die vreeslike spanning in haar laat bedaar.
“Wat is verkeerd, Wena? Ek besef dat dit baie van jou moes geverg het om hierheen te kom. Ek het vanoggend, nadat jy gebel het, vir ’n oomblik gedink dis … Maar ek sien nou dit was nie die rede nie.” Sy kan sy profiel in die vae skemerte redelik duidelik uitmaak. “Het jy gekom om vir my te sê dat jy my aanbod heroorweeg het?”
“Nee.”
“Ek het so gedink. Dis nie dit nie. Dan is dit ’n probleem – ’n ernstige probleem wat jou gedwing het om my weer te kontak. Wat is dit?”
“Dis … Amanda.”
Hy sug gelate. “Ek het so vermoed.”
Sy kyk vinnig op na hom, haar oë groot en donker. Raul vind dat hy op sy tande kners. “Het jy ook opgemerk … die verandering in haar agtergekom?” vra sy half beangs.
“Ja. Dis te ooglopend om dit mis te kyk. Om die waarheid te sê, was sy nie jou dogter nie, het ek haar al in die pad gesteek.”
“Nee!”
“Ja. Wat is met haar aan die gang?”
Wena draai haar kop weg. Dis nie maklik nie. Deur al die jare was sy te trots om te gaan lê, te trots om oor te gee, te trots om te erken dat die eise van die lewe te veel geword het. Maar vanaand sal sy haar trots moet sluk.
“Dis jy.”
“Ek?” Daar is ’n stilte. “Wena, wil jy my kom vertel sy is besig om haarself te vernietig oor ’n man wat haar pá kon gewees het? Liewe hemel, wat sal van die wêreld word as elke jong meisie wat haar verbeel sy is verlief op ’n man …”
“Sy verbeel haar dit nie, dis juis die ding!” Wena kyk amper hulpsoekend na hom. “Sy ís wérklik lief vir jou!”
“Twak!”
“Dit is nie twak nie. Vir my is dit beslis nie twak om te sien hoe my kind onder my oë tot niet gaan nie.”
“Maar wat wil jy hê moet ek daaromtrent doen? Ek het haar al uit my kantoor geskuif. Ek vermy haar en ek was al baie streng, dalk onnodig streng met haar. Ek gee haar absoluut geen aanmoediging nie.”
“Dis miskien juis die moeilikheid. Jy het jou te skielik onttrek. Die een oomblik het sy nog geglo dat jy haar liefhet en die volgende oomblik …”
Hy staan nader en sy oë priem in hare af. “Wena, ek hoop nie jy het vanaand hierheen gekom om my te vra om Amanda se verliefdheid aan te moedig nie, want dis die een ding wat ek nie vir jou sal doen nie. Ek gaan jou dogter nie eens ter wille van jou onder die indruk bring dat ek meer vir haar voel as blote vriendskap nie.”
Sy skud haar kop, kyk weg. “Ek … weet nie wat ek jou kom vra het nie,” erken sy dan eerlik. “Ek weet nie eintlik wat ek hier kom maak het nie. Maar ek is so bekommerd …” Haar kop sak toe haar stem in trane wegsink.
Hy prop vinnig sy hande in sy broeksakke en sy stem is byna bruusk: “Moet in hemelsnaam net nie huil nie. Ek kan alles verdra, maar net nie dat jy huil nie. Kom ons gaan sit binne en praat die ding kalm uit.” Toe sy sit, stap hy na die drankkabinet. “Ek skink eers vir ons ’n drankie. Ons het dit nodig.”
Hy plaas haar glasie voor haar neer en neem teenoor haar plaas. “Wat bedoel jy as jy sê dat sy onder jou oë tot niet gaan?”
Met bewende lippe en swemmende oë vertel sy hom en sluit af: “Die Young Eagle is ’n gure hool waar met verdowingsmiddels gesmokkel word. Die polisie hou gedurig klopjagte daar. Dis die swakste tipe wat daar saamdrom en dis die plek waar my dogter na vermaak gaan soek en … jou probeer vergeet.” Sy vang haar onderlip hard vas. “Ek bedoel dit nie as ’n verwyt nie. Asseblief, moet my nie verkeerd verstaan nie, maar … kan jy nou verstaan hoe verskriklik bekommerd ek is? Ek kan mal word daarvan!”
Hy knik, sy oë ernstig. “Ek begryp.” Hy sug, kyk op sy hande af. “Ek kan haar verplaas na ons Kaapstad- se tak.”
Sy skud haar kop. “Nee. Hier is sy darem nog onder my toesig, maar daar … daar sal sy maar net in nóg ’n Young Eagle gaan inkruip en dan is daar niemand wat haar kan red nie. O, Raul, wat moet ek doen?”
Dis ’n desperate uitroep wat tot in sy siel sny en sy kake klem styf op mekaar. Die intense teerheid in sy oë ontgaan haar in hierdie oomblik van vertwyfeling en vrees.
“Ek sal kyk wat ek kan doen. Ek is seker daar … is ’n oplossing.” Hy swyg, want albei besef dat daar net een oplossing is – en dis die een wat hy subiet geweier het om as oplossing te aanvaar. Weer sê hy, sy oë ontwykend: “Ek sal aan iets dink. Moet asseblief nie so bekommerd wees nie.” Hy sien haar pleitende oë en hy weet wat sy van hom wil vra, maar weer skud hy sy kop. “As sy net nie jóú dogter was nie. Maar hoe gaan ek …” Hy staan vinnig op, gaan gooi vir hom nog ’n drankie in. Dan draai hy om. “Wil jy nie maar van plan verander en vir my kom werk nie? Die aanbod staan nog.”
Sy skud haar kop, glimlag spytig. “Ek kan nou op niks anders konsentreer as op Amanda nie.”
“Maar as Amanda se probleem opgelos word?”
Sy kyk hom opsommend aan. “Dan kan ons weer praat.” Sy staan op. “Ek moet nou gaan.”
“Dis nog vroeg.”
“Ek wil vroeg tuis wees.” Albei weet hoekom. Sy moet tuis wees voordat Amanda huis toe kom. “Raul, Amanda mag nie weet dat ek hier was nie, asseblief.”
Hy knik net, lei haar na buite. “Ek kan maar met die bus teruggaan,” protesteer sy toe hy haar na die motor lei.
Weer is sy stem bruusk: “Om vredeswil, Wena, moenie my te ver dryf nie. Dink jy ek sal jou hierdie tyd van die aand laat bus ry? Klim in.” Dis stil tussen hulle tot hy voor haar donker huis stilhou. “Sy is vanaand werklik by ’n parade.”
Sy knik. “Ek wonder wat saans van Andrew word. Hy was nooit ’n seun wat rondgeloop het nie, maar ook hy is deesdae taamlik uithuisig. Ek hoop tog net nie …”
“Wena! Wena! Jy is besig om jouself uit te mergel.” Hy klink ongeduldig. “Jou seun se uithuisigheid is mý werk. Hy fotografeer saans vir my die parades, en hy doen deksels goeie werk.”
Sy kyk hom verslae aan. “Ek … weet daar niks van nie.”
“Ek weet. Ek het hom gesê hy mag jou nie vertel nie. Jy sou nie tevrede wees nie, en jy ís nie, nè?”
Wena weet nie wat om te sê nie. Nee. Hy is reg. Nog ’n kind van haar is nou vasgevang in sy sjarme. Nog ’n band tussen haar en hierdie man gesmee.
Sy klim uit en hy volg haar voordeur toe, en sy voel meteens so swak, so hulpeloos. Sy wens sy kan alles vergeet, alles en almal, en haar seer teen sy bors uitsnik. Maar sy staan terug toe hy die voordeur oopgesluit het en na haar toe draai. Dis asof hy haar gedagtes lees en hy staan doodstil.
“Nee, ek sal jou nie soen nie. Nag, Wena.”
Sy staan stil in die voordeur terwyl hy terugstap na die motor. En weer het sy ’n onbesonne wens in haar hart – om hom agterna te hardloop en hom te vra om haar tóg nag te soen …