Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 6

3

Оглавление

Toe Wena Conradie die volgende oggend haar dogter se ontbyt voor haar neersit, kyk Amanda met ongelukkige oë op.

“Dankie. Mams, ek … is jammer oor gisteraand. Ek … weet ek het weer goed gesê wat … nie mooi was nie.”

“Alles reg, Mandatjie. Jy sal moet roer. Die bus vertrek oor vyftien minute.”

“Mams …”

“Ja?”

Daar is smeking oor die hele gesiggie geskryf. “Asseblief, Mams, moenie … Ek bedoel, probeer verstaan en moenie lelik met hom wees nie.”

Wena se blik verteder terwyl haar hart in haar saamtrek. Sy glimlag gerusstellend. “Ek belowe.”

Amanda staan op, soen haar vlugtig op die wang. “Ek sal moet waai. Tata, Mams. Sien jou halfeen.”

“Tot siens, my kind.”

Die huis word stil. Sy maak dit aan die kant soos elke oggend, maar haar gedagtes is nie by wat sy doen nie. Later gaan sit sy voor die naaimasjien. Sy kan nog goed ’n uur of twee werk voordat sy gereed hoef te maak vir die afspraak met Raul Günther.

Maar haar hande lê vanoggend willoos op die materiaal. Dis of haar vingers sonder krag is, sonder lus. Haar oë staar op die blink naald af wat wagtend in die lug hang … maar dis haar dogter se oë wat sy sien blink. Ek het hom verskriklik lief, sing die masjien toe sy ’n entjie stik en weer ophou.

Amanda kan al liefhê. ’n Man verskriklik liefhê. Sy is negentien, amper twintig. Sý was agtien toe sy getroud is, toe sý ’n man verskriklik liefgekry het. Só lief dat sy alles oorboord gegooi het, alles vir hom opgeoffer het … en wat het sy daarvan gekry?

Gaan dit ook met haar dogter gebeur? Asseblief nie, pleit sy woordeloos. Moenie dat Amanda ook daardie hartseer, daardie vernederings leer ken nie!

Maar dis moontlik, baie moontlik dat dit gaan gebeur saam met ’n man soos Raul Günther. Dis byna vanselfsprekend moontlik.

Eindelik staan sy maar op en begin gereed maak om stad toe te gaan. Sy kyk na haarself in haar enigste ordentlike rok en sy hoor weer haar dogter se vraag. Haar mondhoeke trek wrang. Hulle sê mos ’n skoenmaker het nooit skoene nie. Dag ná dag neem vormlose materiaal vorm aan onder haar vlytige vingers, maar daar is nooit tyd om vir haarself iets te maak nie. Sy sug en soek na haar handsak, merk op dat dit ook duidelike tekens begin toon van tamheid. Baie beslis sal die groot modebaas se kennersoog hierdie dingetjies raaksien.

Wat daarvan? vra sy haarself driftig af. Soos Amanda tereg opgemerk het, is dit nie in háár wat hy belang stel nie. Dis in Amanda, in haar mooi, ongeskonde dogter in wie hy belang stel.

Traag klim sy later van die bus af en begin aanstap in die rigting van die groot gebou op die hoek. Sy kyk op na die naam Günther wat in swierige letters op die uithangbord pryk. Dié naam is landwyd bekend vir eksklusiewe klere en goeie smaak. ’n Günther-uitrusting is die droom van elke vrou wat smaak het vir ontwerpersklere.

Sy kom in die deur van die restaurant tot stilstand, laat haar blik teësinnig om haar dwaal. Iets vertel haar dat sy liewer nie moes gekom het nie. Iets onverklaarbaars waarsku haar om liewer om te draai en terug te gaan na die huisie in die agterstraat, waar sy hoort. Dis nie haar plek hierdie nie.

Maar hoe kan sy omdraai? Ter wille van haar dogter moet sy bly, moet sy Raul Günther ontmoet, die man wat in so ’n totaal ander wêreld as sy leef; al weet sy watter beproewing dit vir haar gaan wees.

Dis amper deur ’n waas dat sy Amanda en die man langs haar gewaar. Sy begin stadig aanstap in hul rigting, weet net op hierdie oomblik dat haar eie wense en begeertes nie tel nie, dat sy hierdie treë tussen haar en Raul Günther moet aflê, nes sy jare gelede geweet het dat sy vorentoe móét aanstap.

“Hallo, Mams.” Amanda se stem klink lughartig, maar die ingestelde moederoor hoor ook die ongemak daarin.

Sy glimlag vir haar dogter. “Hallo, Amanda.”

“Mams, dis Raul.”

Sy is verplig om haar blik van haar dogter af te verplaas na die man wat sy hand na haar toe uithou.

“Aangename kennis, mevrou. Ek is werklik bly om u te ontmoet. Baie dankie dat u gekom het.”

Sy stem is gesaghebbend en amper bevelend, maar tog ook gaaf. Sy sien hom voor haar staan, die suksesvolle man van die wêreld; ’n ervare man met kennis van die lewe in sy oë, in sy hele houding – daardie daar-is-niks-wat-jy-my-kan-vertel-nie-houding; daar-is-niks- wat-jy-weet-wat-ek-nie-reeds-weet-nie.

Wena sien die grys langs die slape, daardie silwerblink skynsel wat menige onervare hart al in die verlede gevang het en nog sal vang. Sy sien die skerp blou oë, die reguit neus, die stewige mond met die ferm kakebeen, en sy besef in alle regverdigheid teenoor haar dogter dat sy haar nie kan kwalik neem omdat sy haar nugter rede oor hierdie man verloor het nie. Hy is absoluut perfek aangetrek, byderwets, maar met ’n fyn ontwikkelde smaak wat by sy jare pas … en haar hart sak in haar skoene. Sy het reeds verloor voordat sy nog begin het.

Sy sien die peinsende oë op haar, besef met ’n innerlike terugdeinsing dat hy alles aangaande háár ook raaksien. Die grimeringlose gesig. Die hare wat sommer net los agteroor afgekam is. Die verslete handsak in haar hande met die kort naels. Die Sondagrok en skoene wat voorverlede jaar se mode weerspieël.

Sy staan weerloos voor hom, maar tog is haar ken trots gelig, ontmoet sy sy blik, woordeloos, wag dat hy moet klaar kyk … en sy gevolgtrekking maak.

Dan glimlag die man. “Kom sit. Ek het reeds vir ons ’n bottel droë wyn op die ys.”

Sy laat toe dat hy haar met sy vingers liggies onder haar elmboog na die tafeltjie lei. ’n Man met gepoleerde maniere. ’n Fantastiese man, het haar dogter gesê …

“Ek is jammer u moes met ’n huurmotor kom, mevrou. Ek kon enige tyd ’n motor gestuur het.”

Sy voel, eerder as sien, die vae gebaar wat haar dogter langs Raul Günther maak, maar sy sê met ’n vaste stem: “Ek het met die bus gekom.”

Daar is ’n vinnige frons tussen sy oë en sy stem klink ontevrede. “Ek het verstaan dat … Ek is baie jammer vir die ongerief, mevrou Conradie. Ek sal u met die motor terugstuur ná ons afspraak.”

“Dis glad nie nodig nie, dankie, meneer Günther. Ek is gewoond bus ry.” Dan eers kyk sy reguit na haar dogter, sien die openlike verwyt in haar oë en die ligte gloed op haar wange. Sy glimlag teer. Arme Mandatjie. Sy ken die lewe nog te swak om te weet dat dit op die lange duur nie baat om ’n valse front voor te hou nie. Op ’n dag word jy tog uitgevind.

“Mevrou, ek wil u komplimenteer met u dogter. Het sy u vertel dat sy baie goeie vordering maak in die modewêreld? Ek verwag groot dinge van haar as mannekyn.”

Nou glimlag die moeder spontaan en die bruin oë blink trots. “Ja. Amanda het my vertel en ek moet u bedank, meneer Günther. Dis ’n wonderlike kans wat u haar gee. Ek is baie dankbaar.”

“Ek het nie veel daarmee te doen nie, mevrou. Amanda hét dit net in haar.”

Die ouer vrou glimlag net. Maar jy is die stukrag agter alles, sê sy aan haarself.

“Ek wil egter haar moeder ook komplimenteer. As ek persoonlik mag wees … U is besonder knap met naaldwerk en wat my veral boei, is u ontwerptalent.” Hy glimlag vriendelik. “Amanda het my vertel wie die skepper is van die meeste van haar klere.”

“Ag, ek geniet dit om vir haar klere te maak.”

“Dis nie net bloot klere maak nie, mevrou. Besef u dat u ’n besonderse talent het?”

Sy kyk hom stil aan en haar gedagtes gaan terug na toe sy nog jonger as Amanda was. Toe is daar ook vir haar vertel dat sy ’n besonderse talent ontvang het, dat sy dit moet ontwikkel, dat sy dit ver gaan bring. En sy het haar drome gedroom, groot drome. Maar toe …

“Het u enige opleiding ontvang?”

“Nie juis nie. Daar was ’n onderwyseres … Ag, nee wat, ek doen dit maar sommer, eintlik net vir Amanda.” Sy glimlag weer teenoor haar dogter. “Sy inspireer ’n mens om vir haar mooi klere te wil maak, dis al.”

Maar Raul Günther se gesig bly ernstig. “Dis nie al nie, mevrou. U dogter is ’n gebore mannekyn en u is ’n gebore ontwerper.”

Sy lag en skud haar kop. “Ag nee, nou oordryf u darem.”

Amanda se oë blink dankbaar in haar moeder s’n. Die ontmoeting verloop wonderlik! “Raul, Mams is maar net beskeie. Jy moet sien wat sy uit ’n stuk goedkoop materiaal kan tower. Sy vermors haar talent op mense wat geen begrip het van haar waarde nie. Ek word soms so kwaad …”

“Dan maak u klere vir ander mense ook?”

Daar is ’n oomblik stilte. Die moeder sien die effense skrik in haar dogter se oë en sy begryp, knik skaars merkbaar asof sy haar dogter die versekering wil gee dat sy nie hoef bang te wees nie. “Ja, meneer. Sommer vir die … buurvrouens.”

“Gelukkige dames,” is sy kommentaar. “Is dit hoe u uself besig hou ná u man se dood?”

“My man …?” Die gesig verstil, die oë versluier. “Ek doen dit al van skooldae af. Maar ek het eers daarmee begin nadat … nadat ek en my kinders alleen agtergebly het.” Sy aarsel, erken dan sag: “Ek moes.”

Die blou oë rus skerp op haar. Dan knik hy. “Ek sal graag weer met u wil gesels oor hierdie talent van u. As u nie omgee nie?” Sy knik net, aanvaar die modebaas is maar net beleefd. Sy weet maar te goed hoe gebrekkig dit is wat sy doen.

“Ons het vandag ontmoet om oor Amanda te praat. Ek verwag baie van haar, maar ek wou nie dat sy voortgaan voordat ek nie eers met u gepraat het nie. U is haar moeder en sy is nog baie jonk.”

“Ja, meneer Günther. Amanda is nog baie jonk – eintlik nog ’n kind.”

“O, Mams, julle maak asof ek nog ’n baba is,” sê Amanda vies.

“Jy ís jonk, Amanda,” val hy haar beslis in die rede. “Dis nie ’n feit wat verdoesel of weggepraat kan word nie. Ek begryp hoe jou ma voel.” Sy oë is ernstig. “Ek begryp hoe u voel, mevrou. Ek wil u belowe dat u niks te vrese het nie. Ek respekteer haar en u en ek sal altyd my bes doen om Amanda te beskerm en die regte leiding te gee. Ek is bewus van die slaggate wat op haar wag, maar ons mag haar nie daarom van ’n wonderlike toekoms beroof nie. So sal niemand ooit êrens kom nie, of hoe? Ek wil u vra om my te vertrou, asseblief.”

Sy kyk stil terug. Wat kan sy sê? Hy het dit so goed gestel. Sy woorde is so fyn gekies dat sy nie anders kan as om saam te stem nie. Maar die vrees in haar is nie deur hierdie paar goedgestelde sinne besweer nie. Inteendeel.

Sy druk haar handpalms styf op haar skoot inmekaar. “Solank u net altyd sal onthou dat sy my enigste dogter is en …”

“Ja, mevrou?”

“En dat sy vir my baie kosbaar is, meneer Günther.”

“Ek begryp, mevrou. Sy is ook kosbaar vir my.”

Langs hom roer Amanda met jeugdige ongeduld. “Regtig, Mams, ’n mens sou sê ek is ’n suikerklontjie. Op ’n dag moet ek tog die lewe ingaan en my eie pad oopveg. Ek kan nie vir altyd aan Mams se roksbande vasklou nie!”

“Ek begryp heeltemal wat jou ma bedoel, Amanda,” sê Raul Günther, sy oë op die vrou voor hom. “En sy is reg. Volkome reg. Sy sou nie die ma gewees het wat sy is as sy nie bekommerd oor jou was nie. Ek is óók bekommerd oor jou.”

“Raul! Hoe kan jy so iets voor my ma sê?”

Hy glimlag gerusstellend teenoor die ontstoke gesiggie. “Toe maar, kleintjie. Ek en jou ma verstaan mekaar, dink ek.” Hy glimlag oor die tafel. “Ons twee verstaan mekaar.” Hy blik na sy polshorlosie, en sy stem klink werklik spytig. “Ek sal moet gaan. Ek het ’n afspraak. Ek wens ons kon nog langer gesels, maar u sal my moet verskoon, asseblief.”

“Sekerlik, meneer Günther.”

Hy staan op, hou sy hand uit en sy lê hare daarin en voel hoe dit warm en styf toegevat word. Sy vind dit skielik moeilik om in die begrypende oë op te kyk.

“Tot siens, mevrou. Nogmaals dankie vir die tyd wat u aan my afgestaan het. Dit was ’n voorreg om u te ontmoet. Ons sal weer later gesels.”

“Tot siens, meneer Günther. Dankie vir die ete.”

Sy sien hoe haar dogter hom met haar oë volg terwyl hy uitstap en haar hart krimp weer saam. As sy net nie so onervare was nie! Maar sy is verlore teen ’n man soos Raul Günther. Heeltemal verlore. Hy kan met haar maak wat hy wil. Hy kan haar maak of breek. Hy kan haar gebruik soos hy wil en weggooi wanneer hy wil. Amanda is absoluut en totaal versonke in hierdie man.

Sy kyk af op die kunstige rangskikking in die middel van die tafel. Haar kind is net so broos en kwesbaar soos hierdie blomkelkies voor haar. En so kosbaar. Sy probeer haarself troos. Raul Günther het tog openlik erken dat hy haar net so kosbaar vind. Sal ’n man dít wat vir hom kosbaar is, skend of selfs vernietig?

Met die wysheid van jare weet sy dat die antwoord daarop ja kan wees. Dikwels skend en vernietig die mens juis dít wat vir hom die kosbaarste is. So dikwels trap ’n mens op dit wat eintlik jou kosbaarste besitting is. So dikwels hanteer jy die broosste en mooiste in jou lewe met harde hande, breek dit selfs met ongeërgde vingers. Sy weet. O ja, sy weet …

“Wat dink Mams van hom? Hy is fantasties, nè?”

Sy kyk op, haar gesig stil, weemoed diep agter in die bruin kykers. “Ja, my kind, hy is … indrukwekkend.”

“Indrukwekkend!” Haar dogter lag haar uit. “O, Mams, jy kan ’n ding soms so snaaks sê! O, wel, dis verby en dit het nogal besonder goed afgeloop, nè?”

Wena glimlag weer, knik net. “Ja, my kind.” Maar was dit werklik so suksesvol? Wat is eintlik gesê? Hoe goed hét sy en hierdie vername man mekaar werklik begryp? ’n Paar woorde is gewissel, ’n belofte is afgelê – maar hoeveel is dit werd? Ook dít ken sy, die beloftes wat so maklik gemaak word. En so maklik vergeet word. In die erns van die oomblik word dit miskien opreg bedoel. Maar later … Sy ken dit. Daar was ook al baie beloftes aan haar gedoen. Sy onthou …

“Amanda, hoekom het jy vir meneer Günther vertel dat jou pa dood is?”

Haar dogter bly eers skuldig stil. Dan kyk sy uitdagend op. “Hoe kon ek hom die waarheid vertel? Verwag Ma werklik …”

“Nee, my kind. Maar doelbewus ’n leuen daaroor vertel? Mandatjie, sulke dinge kom uit.”

“Dan kan dit later uitkom, as dit moet. Nie nou al nie.” Sy kyk pleitend op. “Asseblief, Mams, dis nie nodig dat hy moet weet nie. Dit het tog niks met hom te doen nie. Wat maak dit saak?”

Wat maak dit saak … terwyl jou lewe reeds om hierdie man draai, vra sy haar in haar hart af, maar sug net saggies. Sy verstaan. Amanda se stem ruk haar gedagtes weg van die brandpyn in haar.

“Hier kom Raul weer. Hallo. Iets vergeet?”

“Nee. Die man met wie ek die afspraak gehad het, kan dit nie meer nakom nie. Nou kan ek jou ma self huis toe neem.”

“O, maar dis glad nie nodig nie, Raul,” verseker Amanda hom vinnig, te vinnig. Sy kyk dringend na haar ma. “Mams wil nog ’n paar inkopies doen.” Vir Raul sê sy: “My ma sal sommer later ’n huurmotor kry.”

Wena staan op, kyk onwillig na hom. “Ek sal regkom, dankie, meneer Günther.”

“Daar bestaan nie so iets nie. Ek neem u huis toe.”

“Maar Mams gaan nog lank besig wees en …”

Die vrou kyk die man verskonend aan en dan val sy haar dogter in die rede: “Ek dink ek sal maar direk huis toe gaan, Amanda. Dankie, meneer Günther. As dit nie te veel moeite sal wees nie …”

“Geen moeite nie, mevrou. Kom.” Weer word haar elmboog liggies omvou. “Amanda, hulle wag vir jou in die kantoor.”

Dit lyk asof die jong meisie wil huil, maar Raul begin aanstap deur toe en Wena se oë is ontwykend, hoewel sy diep verwytende blikke kan aanvoel, voel hoe dit tot in haar siel brand.

“Tot siens, my kind.” Maar Amanda het reeds omgeswaai en stap met ’n verwoede pas na die hysbak toe.

’n Deur word vir haar oopgehou en sy sak in die weelde weg. En skielik dam die trane in haar oë op. Sy kyk deur die venster en gee haar huisadres in ’n emosielose stemtoon.

Sy probeer onthou wat sy haar alles voorgeneem het om vir hierdie man te sê en te vra toe sy vanoggend op pad was stad toe. Daar was so baie wat sy wou sê, so baie wat sy wou vra. Nou kan sy niks meer onthou nie. Noudat hulle alleen is, kan sy openlik praat, maar haar tong sit teen haar verhemelte vas.

“U sal net hiervandaan af moet beduie, asseblief. Ek ken nie hierdie deel van die stad baie goed nie.”

Nee, jy sal nie, Paul Günther, dink sy wrang. “Hou maar reguit aan. Ek sal betyds sê wanneer u moet afdraai.” Ná ’n paar minute: “Nou regs en dan die eerste straat links.” Nog ’n rukkie later: “Daardie huis met die blou hekkie voor. Dis my huis.”

Die deftige motor kom tot stilstand en hulle sit roerloos langs mekaar. Sy kyk met nuwe oë na die bekende toneel. Vir die eerste keer in jare sien sy alles weer werklik raak, sien sy dit soos deur Paul Günther se oë. En sy wonder met ’n pynende hart of sy nie onnodig wreed teenoor haar dogter was nie. Soms moet ’n moeder wreed wees teenoor haar kind, is dit noodsaaklik om jou hard te hou en streng op te tree. Sy sien Amanda se oë voor haar, die skrik en verwyt daarin. Miskien kon dit maar gebly het. Dis egter nou te laat. Die deur word vir haar oopgehou en sy klim uit, klem haar handsak styf vas en kyk dan op.

“Dankie, meneer Günther. Dit was vriendelik van u.”

Hy bly staan, kyk peinsend op haar af, sy hand nog op die deurknop. Daar is iets in sy oë wat sy nie kan peil nie toe hy sag sê: “U is waarlik ’n besonderse vrou, mevrou Conradie.”

Sy aarsel, laat haar blik om haar dwaal, gee ’n fyn, siniese glimlaggie. “Ja. Ek kan glo … hierdie omgewing is iets besonders vir u. Wat vreemd en onbekend is, is gewoonlik besonders.”

“Dis nie wat ek bedoel het nie. Ek praat van jou … jyself …”

Sy kyk direk na hom, glimlag mistroostig. “My dogter het my vertel u is ’n baie wel opgevoede, verfynde persoon, meneer Günther. Sy was nie verkeerd nie. Dankie vir die huis toe bring. Goeiedag.”

Sy stap aan, kyk nie een keer om nie, ook nie toe sy die voordeur krakerig oopstoot en agter haar toedruk nie. Dis eers ’n hele rukkie later dat sy hom hoor wegtrek. Dan eers val die handsak uit haar styfgespanne vingers en druk sy haar hande teen haar gesig vas, en huil soos net ’n moeder kan huil. Maar sy huil ook soos ’n vrou wat vir die eerste keer in jare weer die leegheid, die alleenheid, die frustrasie en die swaarkry van haar eie lewe raaksien … ’n Lewe wat aan die verbygaan is.

In sy kantoor kyk Raul Günther half gesteurd op toe daar ’n ligte kloppie aan die deur is, en die frons verdwyn nie heeltemal toe Amanda binnestap en ’n vel papier voor hom neerlê nie.

“Hier is die tabel waarvoor jy vanoggend gevra het. Ek het dit gou getik voordat ek klas toe gaan.”

“Dankie.”

Dit lyk asof hy dadelik sy aandag daarby wil bepaal, maar sy bly staan met ’n onseker uitdrukking op haar gesig. “Raul?”

Hy kyk nie op nie. “Ja?”

Sy maak eers keel skoon. “Wat … dink jy van my ma? Ek bedoel, hou jy van haar? Sy is eintlik ’n dierbare mens. Sy was ’n bietjie styf vandag, maar sy was maar seker gespanne en …”

Hy kyk op van die tabel voor hom. “Ek vind jou ma ’n baie aantreklike, gawe vrou. Beslis nie middeljarig en sommerso, soos wat jy my laat verstaan het nie.” Sy kan net terugkyk in die streng oë. “Sy is pragtig. Van die min natuurlike mooi mense wat jy kry. Ek weet nie hoekom jy my onder die indruk wou bring dat sy stokoud en afgeleef is nie. Sy kan nie ’n dag ouer as ek wees nie.”

Toe die meisie hom nog steeds net in swyende verbasing staan en aankyk, gooi hy die pen neer en sit terug in sy stoel, ’n hewige frons tussen sy wenkbroue. “Ek begin agterkom dat jy my nie altyd die volle waarheid vertel nie, Amanda. Soos in jou ma se geval … of is jy werklik so blind vir haar mooi eienskappe? Sy het die pragtigste glimlag. Om die waarheid te sê, ek vind jou ma ’n heel besonderse vrou – en dis tyd dat jy ook besef dat jy ’n ma het wat ’n mens nie agter elke bos uitskop nie. Hoe durf jy vir haar skaam wees?”

“Raul!” Sy lyk totaal verslae. “Dis glad nie dat ek skaam was vir Mams of …”

“Was jy nie?” Die stem bly ongenaakbaar. “Dis die indruk wat ek gekry het. Dan is ek bly ek was verkeerd. As jy my nou sal verskoon, ek wil aangaan met my werk. Jy gaan laat wees vir jou klas.”

Sy stap parmantig deur toe, maar daar huiwer sy. “Het jy … het jy haar toe tot by die huis geneem?”

Sy oë bly op die tabel voor hom gerig. “Ja. Ek het haar tot by julle huis geneem.”

Sy stem waarsku haar dat sy liewer die gesprek moet beëindig, maar ’n desperate vrees dryf haar om te vra. “Was jy … binne?”

“Nee. Ek is nie ingenooi nie.”

Die trane wurg haar keel toe. “Was sy … ongeskik met jou?”

Sy kop ruk omhoog. “Jou ma is ’n dame, en dis jammer dat ek, wat haar vandag vir die eerste keer ontmoet het, jou dit moet vertel. Amanda, jy moet liewer nou gaan voordat hier dinge gesê word wat eerder kon gebly het.”

Die deur klap toe en hy buig weer sy kop vooroor, maar die syfers dans voor sy oë rond. Dan neem hulle vorm aan, gee gestalte aan ’n liefdevolle gesig en hy kyk lank daarna, spring dan rusteloos op en gaan staan voor die venster, kyk met onsiende oë af op die woelende verkeer daar ver onder hom.

Die naaimasjien se dreuning verstil onmiddellik toe die voordeur oopgaan en toeklap, en Wena draai halfpad om na die gangdeur.

“Amanda!” Sy is op haar voete, wil haar dogter omarm, maar dié deins weg. “Wat makeer, my kind?”

“Ma vra nog!” Dan rol die trane in stormagtige opstand oor haar wange en kom die verwyt: “Ma het dit doelbewus gedoen!”

“Wat, my kind?”

“Om hom toe te laat om Ma huis toe te bring, natuurlik. Ma het geweet wat sal gebeur as hy eers sien waar ons bly en in watter omstandighede. Ek hoop Ma is tevrede.”

Haar gesig is uitdrukkingloos. “Wat het gebeur?”

“Wat Ma gehoop het sal gebeur. Hy wil niks verder met my te doen hê nie. Ja, dit is so. Moenie my so aankyk nie. Hy het my so te sê uit sy kantoor gejaag. Alles is … verby. Ek … ek sal Ma nooit hiervoor vergewe nie, nooit nie!”

Wena staan doodstil terwyl wilde snikke haar kind se skouers ruk.

Dan kyk die blou oë weer op, en byna hatig sê Amanda: “Hoekom het Ma dit gedoen? Dis omdat Ma my nie gun om hier weg te breek na ’n beter lewe nie. Dis omdat Ma nooit hier sal kan wegbreek nie, nou gun Ma dit ook nie vir my nie.”

“Ek gun jou alles, alles wat ek self nooit gehad het nie, Amanda.”

“Dit lyk nie so nie. Dit lyk eerder asof Ma doelbewus daarop uit is om my lewe te vernietig.”

“Amanda! Hoe kan jy so iets sê?”

“Dis waar. Ma het! O, ek sal Ma nooit vergewe vir wat Ma vandag gedoen het nie.”

Haar moeder sug, sluit haar oë moeg. “My kind, as dit is soos wat jy my vertel, dan het ek jou vandag ’n guns bewys. Jy sal dit nie nou insien nie, maar dit is beter so, veel beter so voordat jy seerkry.”

“Ek kry klaar seer. Kan Ma dit nie sien nie? Ek het hom lief! En my hele toekoms lê aan skerwe. Hoe kan Ma sê dis beter so?”

“Jy sal nie nou verstaan nie, Mandatjie. Later eers – heelwat later eers.”

Sy neem weer voor die naaimasjien plaas, en agter haar storm haar dogter na haar slaapkamer. Sy sit en kyk deur die venster, haar oë op die verbleikte blou voorhekkie en sy kan nie begryp hoekom sy op hierdie oomblik nie van dankbaarheid wil huil nie, maar van hartseer. ’n Hartseer wat skielik verby alles in haar strek, ook verby haar kind, en deurdring tot daar waar sy self skaars die afgelope jare ingedring het. ’n Seer wat soos ’n blinkwit meslem diep in haar inklief.

Ena Murray Omnibus 23

Подняться наверх