Читать книгу Ena Murray Omnibus 23 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

Die son val deur die klein venstertjie en maak ’n geelbleek streep oor die kant van die gesig agter die naaimasjien.

Die meisie wat agter die vrou in ’n binnedeur verskyn, bly net daar staan – asof iets in die beeld hier voor haar haar tot swye ruk.

Mams.

Deur die jare het sy die prentjie voor haar leer ken, só goed leer ken dat sy dit byna nie meer raaksien nie. Dis die eerste ding wat sy onthou vandat sy haar verstand gekry het: Mams agter die naaimasjien, vooroor gebuk, die hande besig om die een meter materiaal ná die ander vir die hongerige naald te voer. Soggens, smiddae, saans …

’n Ligte fronsie keep tussen die netjiese wenkbroue. Jaarin. Jaaruit. Hoeveel jaar al? Dit moet seker al goed vyftien wees. Vyftien jaar agter daardie naaimasjien.

Sy kyk weer. Die sonbaan het verskuif, val nou op die kort swart hare, beklemtoon die silwer wat amper ongemerk daarin verskyn het. Haar mooiste jare is reeds verby. Dit behoort aan gister – en gister was net swoeg. Elke dag dieselfde roetine, elke dag die pad van plig getrou bewandel.

Amanda staan doodstil, kyk net na die vrou hier voor haar asof sy haar vandag vir die eerste keer sien. En eintlik ís dit so. Sy sien haar ma vandag vir die eerste keer werklik raak. As mens, as vrou … as iemand wat ook van vlees en bloed gemaak is.

Want nog altyd was Mams maar net Mams, die onontbeerlike persoon in die huis, in hierdie klein huisie in die minder gegoede deel van die stad. Hier was sy deur die jare altyd net daar, en die dinge wat nodig was, was beskikbaar. Weliswaar geen luukse nie, maar die dak oor die kop, hoewel eenvoudig en klein en weggesteek in ’n agterstraatjie, was altyd daar. Die versorging was daar. Sy kan nie onthou dat sy een keer honger gaan slaap het nie. En dit alles het van Mams gekom. Van Mams wie se hare nou al silwer strepe begin toon …

Dis of die vrou agter die naaimasjien haar dogter se blik aanvoel, want sy kyk nou oor haar skouer en die moeë trek om die sagte mond verdwyn in ’n glimlag.

“Reg om te gaan? Jy lyk pragtig, my skat.”

Haar dogter kom nader; die oomblik van insig is verby en byna dadelik vergete. Die jeug is selfsug. Die oomblik van ongemak word op die agtergrond geskuif. Dis soveel makliker en aangenamer om maar net te ontvang. Die tyd vir gee en waardeer lê nog vorentoe. Dis nie nou al nodig om te diep oor Mams te dink nie.

“Gaan jy en Ted fliek?”

Weer is daar ’n ongemak in haar, maar net so vlugtig verdwyn dit weer. Tog kry sy dit nie reg om sommer net ja te sê nie. “Ek … weet nie wat presies op die program is nie. Ek sal maar hoor as ek daar kom.”

Daar verskyn ’n klein fronsie tussen die donker wenkbroue. “Mandatjie, ek hou nie daarvan dat jy na Ted toe gaan as julle uitgaan nie. Die regte ding is dat hy jou hier moet kom haal. Dit lyk nie mooi …”

Maar Amanda lag, slaan ’n liefdevolle arm om die skraal skouers. “Ag, Mams, jou dierbare ding, jy’s outyds. Ons lewe nie meer in die jare toet, toe jy jonk was nie. Die lewe het verander. Ek het tog al hoeveel keer verduidelik. As Ted nog hier moet aankom nadat hy van die werk gekom en gebad en aangetrek het, sal ons laat wees vir elke fliek. Nou gaan ek maar na hom toe sodat ons dadelik kan ry sodra hy klaar is. Wat is nou verkeerd daarmee?”

Haar ma lyk onseker. Die jeug kan so maklik dít wat verkeerd is, regstel met woorde. En dan weet jy nie wat om te sê nie. Sy glimlag effens, kyk amper verskonend na haar dogter op, maar daar is tog nog ’n tikkie onsekerheid in die diepbruin oë. ’n Kort stonde dink sy terug aan die dae toe haar kinders nog klein was, toe sý besluit het wat reg is, wat hoort. Maar hulle het grootgeword en vandag is dit Mams wat moet hoor wat reg is en wat lankal outyds is.

Sy glimlag meteens haar bekende, liefdevolle glimlag, trek haar dogter nader en soen haar liggies op die voorkop. Sy is verniet bekommerd. Haar kinders is kerngesond. Hulle is reg grootgemaak. En sy is dankbaar dat dit Ted is met wie Manda uitgaan. Hy lyk weliswaar wild en baie byderwets, maar in sy hart is hy ’n goeie seun.

“Goed, my skat. Ons sal nie weer daaroor redeneer nie. Geniet die aand. En moenie weer so laat huis toe kom nie, Mandatjie. Ek sukkel my soggens dood om jou uit die bed te kry en dis môre maar Donderdag, onthou.”

“Goed, Mams. Soet bly.”

Sy is by die deur uit en haar ma hou haar deur die venster dop, sien haar die klippaadjie afstap na die voorhekkie en dan verdwyn.

Net ’n oomblik versluier die bruin oë; net ’n flitsende moment is daar ’n trek om die sagte mond wat amper verbitterd vertoon. Soet bly, Mams. Dis of die een mondhoek net wil-wil wrang trek. Soet bly … Dis wat sy elke dag, jaarin en jaaruit doen … Soet bly … Soet bly tuis … agter die besem, agter die kospotte, agter hierdie naaimasjien.

En voor hierdie venster met die klein, outydse ruitjies gaan die lewe by haar verby, het sy net ’n klein raampie waardeur sy daarna kan kyk, is die uitsig maar baie beperk. Want sy moet soet bly … hoeveel jare nou al? Hoeveel jare bly sy nou al soet by die huis, ken sy net die paadjie van die een klein vertrekkie na die ander en veral die paadjie van die kombuis na die venstertjie waar die naaimasjien staan? Die uitgetrapte tapyt agter haar vertel hoe goed sy dit ken, hóé soet sy deur die jare by die huis gebly het.

Maar reeds begin haar vingers weer soek na die materiaal hier voor haar, die taak wat voor hande lê. Die fynbesnede gesig word stil. Dis baie jare laas dat sy toegelaat het dat selfbejammering haar vasdruk. Daar was ’n kort rukkie in haar lewe dat sy onder in daardie put gelê het. Verslaan, verslae.

Maar toe het sy aanvaar daar is ’n pad wat gestap móét word. Sy is nie alleen nie. As sy alleen was, kon sy maar onder in die put van selfbejammering bly lê het. Dit sou nie saak maak nie. Maar daar was Amanda en Andrew, haar kinders. Hulle was die stukrag wat haar haarself laat optrek het uit daardie put, moedig die pad vorentoe laat aandurf het. Dít was ’n donker pad, ’n swaar pad wat vir haar gevoel het asof dit net uit selfopoffering en selfverloëning bestaan. Maar sy het hom gestap. Elke dag. Getrou in die wete dat daar geen keuse is nie, dat sy móét.

En met die jare het sy in ’n genadige groef verval; in gister en eergister en die dag voor eergister se spore gestap, dieselfde paadjie. Elke dag, elke uur … die pad van plig. ’n Deel van haar het stomp geword. Stom. Daardie deel wat vrae gevra het. Daardie deel wat in opstand gekom het. Sy het nie meer hóékom gevra nie. Sy het nie meer ’n alwyse God vertel dat sy seker ook die reg het op ’n klein bietjie geluk nie; dat haar mooiste jare verbygaan; dat sy nie langer dag ná dag, uur ná uur agter hierdie naaimasjien kan sit en so die lewe by haar sien verbygaan nie. Daardie aansprake het in haar verstom en gesterf.

Die bruin oë lig van die naald toe die voorhekkie piep. Sy sien hom die paadjie afgestap kom. En tog sien sy hom ook nie. Hoekom is daar dan vandag skielik weer ’n vae opstand in haar? Hoekom wil sy nou, terwyl die blink drade al in haar hare gevorm het, daaraan dink dat die kosbare lewe en sy vreugdejare verbygaan? So byna reeds verby is? Die besef dat die jare van liefhê en geluk wat agter haar lê, leë jare was, met niks om die jare vorentoe te verwarm as die bloed koud en die liggaam oud geword het nie, treiter haar skielik vandag weer.

“Hallo, Ma.”

Sy kyk stadig oor haar skouer, probeer die na binne gekeerde blik terugbring na die hede, na haar seun wat vuil en besmeer voor haar staan. “Middag, Drew.” Sy knip haar oë en dan is sy weer die vrou met die sagte glimlag. “Daar is vars beskuit op die kombuisrak.”

Hy glimlag terug. “Dit klink gaaf. Ek wil my net gou gaan skoonkry.”

Hy verdwyn en sy ma se blik sak terug na die blink naald. Arme Drew. Hy verpes die vuil oorpak en die olie aan sy hande. Dis die eerste ding wat hy doen wanneer hy middae van die garage af kom, om te gaan bad en skoon aan te trek. Hy het verlede jaar matriek geskryf en toe by die naaste groot garage gaan inskryf as vakleerling. Maar hy haat dit, sy weet.

Hy het nog nooit iets gesê nie. Hy is so anders as Amanda, wat so maklik oorborrel en uitborrel. Sy weet altyd presies hoe haar dogter voel oor ’n saak. Maar nie haar seun nie. Hy is stil, ’n introvert oor wie se gevoelens jy maar moet raai en wonder.

Maar sy ken hom, weet dat hy nie gelukkig is in die garage nie. Hy is nie een vir olie en vuil motoronderdele nie. Hy is kunssinnig. Sy weet hy droom drome oor ’n eie fotoateljee. Dis sy rigting. Maar daar is nie geld vir sulke dinge nie. Daar was nog nooit, daarom dat hy maar die eerste die beste werk aanvaar het. Hy wou ook nie verder leer nie, selfs nie eens met behulp van ’n beurs wat hom aangebied is nie.

“Ek gaan werk, Ma.”

Sy het gepleit. Sy wou hierdie stil, besadigde seun van haar so graag die hele wêreld gun, maar sy het so min gehad om self aan te bied. Tog …

“Die beurs sal baie help, Andrew. Jy sal omtrent net klere en sakgeld nog nodig hê.”

“Juis. En waar moet dít vandaan kom? Nog altyd uit daardie … daardie masjien.”

Vir die eerste keer het haar seun iets van sy innerlike laat deurskemer en sy het sy blik gevolg tot by die naaimasjien, toe weer verward teruggedraai na hom.

“Hoekom … hoekom sê jy dit só?”

Vir die eerste keer het sy sy bruin oë in hare sien blits. “Omdat ek daardie ding verpes! Ek kan dit soms gerus stukkend kap!”

“Drew!”

Haar verbystering het sy onverwagse uitbarsting getemper en hy het sy kop laat sak. “Jammer, Ma. Ek het dit nie so kras bedoel nie. Nee, ek lieg nou, ek het. Maar …” Sy arms het in ’n halfsirkel beweeg, so ’n wanhoopsgebaar wat haar hart aangegryp het. Hy het weggedraai. “Aag, laat staan maar …”

“Andrew!” Haar stem het hom gekeer voordat hy die vertrek uit is. “Kom hier, my seun. Drew, kom hier.”

Hy het onwillig teruggekom, met troebel oë in haar bekommerdes afgekyk. “Ja, Ma?”

“Ek het … ek het nooit besef dat jy só voel oor … oor my naaldwerk nie. Hoekom? Irriteer die geluid van die masjien jou wanneer ek werk en jy moet leer of …?”

“Nee, Ma, dis nie dit nie. Dis … Ek weet dis kinderagtig, maar ek haat hierdie naaimasjien! Dis of hy asemhaal, lewe … en van Ma ’n slaaf maak. Vandat ek maar kan onthou, sit Ma voor hom, dag vir dag. Ek … hou nie daarvan nie. Ek … wil nie hê Ma moet so hard werk nie. Ek wil nie hê Ma moet vir ’n klomp lui vroumense klere maak vir ’n hongerloon nie. En dan is hulle nog vol dinge ook, soos daardie mevrou Black gister. Sy is ’n … Ma weet wat sy is. Dis geen geheim hoe dit daar by haar huis gaan nie. En dan kom sy hier en wil hê Ma moet ’n kunsskepping uit ’n stuk minderwaardige materiaal maak. Ek haat dit!”

Sy het swyend bly sit, verbaas, verwonderd, hartseer … maar ook vreemd dankbaar. Sy het gedink hulle sien dit nie raak nie. Maar een het. Een van haar kinders het wel. Dit het nie ongemerk verbygegaan nie. Maar die opstand, die byna wilde opstand in sy stem het haar ook verontrus.

“Ons moet almal werk, my seun. En die nederigste werkie kan iets groots word as dit met die regte gesindheid gedoen word.”

“Ma verstaan nie. Ek sien nie op Ma se naaldwerk neer nie. Dis net … Aag, los maar. Maar ek gaan nie verder leer nie. Ek gaan werk, die eerste werk wat ek kry. Ons kinders het lank genoeg op Ma se nek gelê.”

“Andrew! Ag nee, jy maak my nou seer. Julle is my kinders … al wat ek het. Julle was nooit ’n las vir my nie, Drewtjie. Glo my.”

Hy het geknik en een van sy seldsame uitings aan gevoel gegee deur haar baie vlugtig op die wang te soen. Die seunstem het meteens diep gevibreer. “Ek weet, Ma. Maar ons is nou groot en ons kan Ma nou begin help. Dis nou weer ons beurt. Ek het klaar met die man van Omega Garage gepraat. Hy het gesê ek kan volgende week begin.”

Hy het uitgestap en hulle het nooit weer daaroor gepraat nie. Andrew het die volgende week as vakleerling begin werk en nooit deur woord of daad laat blyk hoe hy dit verpes nie. Maar sy weet … soos sy so baie dinge weet al sit sy haar dae en jare om voor die naaimasjien.

Hy kom weer binne, ’n beker koffie in die een hand en ’n groot stuk vars beskuit in die ander. Hy neem plaas op die klein bankie langs die naaimasjien.

Die naaimasjien gaan voort met sy eentonige wysie en die seun sit en eet sy beskuit. Dis toe hy die beker neersit, dat die dreuning van die masjien ophou.

“Drew, hoe gaan dit?”

“Ma?”

Sy pen hom met haar oë vas. “Ek bedoel hoe gaan dit werklik by die werk?”

Die bruin oë versluier. “Die baas het nog nie gekla sover ek weet nie.”

“Dis nie wat ek bedoel nie en jy weet dit. Gaan dit al … makliker, of haat jy dit nog?”

Twee paar oë kyk eerlik en vas in mekaar en die moeder lees haar antwoord in die bruines voor haar. Dan is die sluiers terug. “Dis … orraait.”

“Dis nie regtig orraait nie, nè, Drew? Hoekom soek jy nie iets anders nie?”

“Wat, Ma?”

“Kantoorwerk of … of so iets.”

“Ek is nie vir ’n pen en papier gemaak nie. Ma weet dit.”

“Ja. En ook nie vir olie nie,” voeg sy swyend, ongelukkig by.

“Hoe gaan dit met Má?”

“Met my?” Sy kyk verbaas op.

“Ja.” Haar seun se oë lyk ietwat uitdagend. “Word Ma nooit moeg en sat vir hierdie ding nie?” En hy klap met sy hand op die naaimasjien langs hom.

“Soms wel ’n bietjie, maar ’n mens raak alles gewoond,” gee sy met neergeslane oë toe.

“Presies. Ek sal ook.” Hy staan op. “Van die end van hierdie maand af kry ek salaris. Dan begin ek vir Ma losies betaal … en Amanda ook. Sy werk al meer as ’n jaar en sy trek alles aan haar bas. Dit moet nou ophou. Sy moet ook vir Ma losies begin betaal en Ma gaan ophou om dagin en daguit agter hierdie verduiwelse ding te sit.”

“Andrew!” Sy kyk hom bekommerd aan. Haar stil, besadigde kind is besig om te verander, en sy weet nie of dit ten goede is nie. “ ’n Jong meisie het baie dingetjies nodig. En jy het ook goedjies wat jy graag wil hê. Ek kom reg. Dis nie nodig …”

“Dit ís nodig, Ma. Ma het ook goedjies en dingetjies nodig. Jare lank al nodig. Maar Ma moes maar net daarsonder klaarkom. Daardie rok wat Ma aanhet, ken ek nou al ’n paar jaar … Jammer, Ma. Ek wil nie persoonlik raak nie. Dis net … Dinge moet nou verander.”

Dinge hét reeds verander, dink sy toe hy uitstap. Sy kyk fronsend na die stuk goedkoop materiaal wat roerloos onder haar hande lê.

Haar kinders het verander. Ongemerk het hulle grootgeword, buite haar bereik beweeg. Hulle het albei met ’n nuwe lewe begin, ’n lewe buite hierdie huisie en sy grense.

Nou, op hierdie oomblik, erken sy aan haarself dat sy al lankal die verandering – veral in haar dogter – waargeneem het. Daar is iets anders aan Amanda. Dis of sy altyd half koorsig gejaag is, en sy het al die gevoel gekry dat Amanda nie meer so volkome die vertroueling is wat sy vantevore was nie. ’n Stuk van haar dogter het vreemd geword die afgelope tyd. ’n Deel van haar dogter se lewe het ’n geslote boek geraak. En dis of Amanda, soos vanmiddag, haar nie meer heeltemal vas in die oë kan kyk nie, of sy gedurig versigtig is. Op haar hoede is … Waarvoor? Hoekom het haar dogter waaksaam teenoor haar geword?

Haar oë trek peinsend, weemoedig saam. Dis die lewe, troos sy haarself. Hulle is net deel van jou as kind. Sodra hulle grootmense word, skuif hulle al verder van jou af weg. Sy moet aanvaar dat Amanda reeds ’n grootmens is; haar eie lewe begin lei. En tog …

Haar dogter dínk sy is ’n grootmens, maar eintlik is sy nie. Sy dínk maar sy het die wêreld se wysheid in pag. Miskien het sy as moeder haar kinders altyd te veel beskerm. Miskien het sy, onwetend, te lank aan hulle vasgeklou; hulle onder haar vlerk gehou. Juis omdat hulle in hierdie deel van die stad bly, juis omdat hulle arm is, het sy die bane waarin sy haar kinders se voetstappe gelei het, dalk te nougeset gestel.

Loop haar kind nog reg? vra sy haarself vir die eerste keer af. Loop Amanda nog soos sy geleer is? Hierdie vreemde opgewondenheid wat deesdae in haar bruis, hoewel sy haar bes doen om dit te verberg, wat beteken dit?

En Andrew, watter vreemde, ongekende opstand bemerk sy deesdae in hierdie stil seun van haar? Wat broei agter sy gelate uiterlike? Amanda was die een wat in die verlede soms in onredelike woedebuie teen hul materiële toestand losgebars het. As sy ’n nuwe paar skoene wou hê, en daar was nie geld daarvoor nie. Of as sy ’n nuwe rok begeer het, en die fondse was net nie daar nie. Dan het sy met jeugdige vrymoedigheid en onnadenkendheid losgebars, die géselhoue laat neerkom en net so weer bedaar. Skaam gekry en kom sê sy is jammer. En sy is elke keer dadelik vergewe. Sonder verwyte, sonder dat haar ma ooit getoon het hoe diep en seer die verwyte getref het.

Andrew was egter altyd tevrede. Hy het nooit kom vra vir nuwe skoene nie, al was sy oues gedaan. Hy het nooit getoon dat hy omgee vir die stopsel op sy skoolbroek nie. Hy het nooit iets gesê as Mams nie geld gehad het vir ’n Saterdagmiddagfliek nie.

Maar sy weet nou dit het nie sonder opstand geskied nie. Die stil kind het nie uitgebars soos sy suster nie, maar gebroei …

Maar ook hy het grootgeword, byna oornag. En die frustrasie van ’n arm lewe, van dinge begeer en nie kan kry nie, van dinge wil doen en nie kan nie, kan nie meer so maklik weggesteek word nie.

Dis met onrus dat sy, terwyl die laaste sonstraal oor die vensterbank terugtrek, wonder of die swaar jare miskien nou eers voorlê. Dit was swaar jare wat agter lê, jare waarin sy alleen moes spartel vir ’n dak oor haar en haar twee kinders se koppe. Toe sy soms lê en wonder het of hulle môre gaan kos hê om te eet. Toe sy nagte lank planne beraam het om ’n nuwe rok vir Amanda en ’n paar nuwe skoene vir Andrew iewers vandaan te probeer haal. Oor haarself het sy nooit wakker gelê nie. Sedert sy met haar twee kinders alleen agtergebly het, was syself nooit weer van belang nie.

Dit het nie saak gemaak as sy die verbleikte rok in die aand moet uitwas en die volgende oggend vroeg moet stryk om iets te hê om aan te trek nie. Die uitgetrapte paar skoene het sy nie eens raakgesien nie. Sy as persoon het heeltemal verdwyn, soos wat haar begeertes verdwyn het. Dit was net haar kinders … en die stryd om in die nodige te voorsien.

En toe het sy gedink dis swaar. Toe het sy gewonder of sy hulle ooit alleen sou grootkry, op só ’n manier dat sy haar trots en selfrespek sal behou. Toe het sy dikwels wanneer sy laatnag met ’n pynende rug in die bed klim, net genade gevra om hulle groot te kry. As hulle net eers groot is … As sy hulle net kan kry dat hulle die lewe kan ingaan, vir hulself kan werk en sorg. Dan sal sy voel haar taak is afgehandel.

En nou is sy daar … daar waar albei werk het. Hulle is skielik groot. Hulle kan vir hulself dink. Hulle moet vir hulself besluit. Dit gaan nog lank nie breed en weelderig in hierdie huisie nie, maar sy hoef darem nie meer te lê en wonder waar môre se kos en klere vandaan sal kom nie. God het haar gebring tot by hierdie punt wat sy gevra het.

Haar oë sluit as sy onthou … onthou hoe sy menige nag in die donker gelê en luister het na haar kinders se asemhaling en hoe sy dan gebid het: Help my net dat ek hulle grootkry. Help my net tot daar.

En nou is sy dáár. En sy weet dis nie die amen van haar gebed nie. Sy het ’n gevoel dat dit die begin van ’n ander, veel intenser gebed is. Op hierdie oomblik het sy die gevoel dat as sy ooit Sy leiding in die verlede nodig gehad het, sy dit soveel meer in die toekoms gaan nodig hê, noudat haar kinders groot is …

Sy besef dat sy nie meer die Mams van die verlede is nie, die Mams wie se woord aanvaar is, op wie se leiding onvoorwaardelik staatgemaak is. En daar is ’n onrus in haar, ’n onrus vir die onbekende toekoms wat veel groter is as die onrus wat sy in die jare wat verby is, geken het. Haar hande rus bewend op die materiaal voor haar en sy vra die vraag fluisterend: “Wat hou die toekoms in?”

Ena Murray Omnibus 23

Подняться наверх