Читать книгу Ena Murray Keur 12 - Ena Murray - Страница 10
7
ОглавлениеGedurende die volgende paar dae is daar spanning in Festus Dumas se huis.
Poens kan nie presies uitmaak wat aan die gang is nie, maar hy weet die gemors het begin met die besoek van daardie tannie met die min klere. Maar hoekom Katryn haar só daaraan steur, verstaan hy ook nie. Wat maak dit aan háár saak as die vroumens se lyf by haar klere uitpeul? Oom Festus het hom bitter min daaraan gesteur. Dit kon hy sien.
Eers probeer Festus om Katryn tot ander insigte te bring. Later begin hy hom vererg. Sy is per slot van rekening ’n blote kind. Wie is sy om hom te veroordeel? Wat weet sy van die grootmenswêreld af? Maar hy besef sy weet meer as wat hy dink. Dis die een ding wat hom baie ongemaklik laat voel, ten spyte van sy ongeërgde houding. Katryntjie het reeds baie meer dinge raakgesien as waarvan hy bewus was. Hy grinnik. Van wanneer af gee hy om wat ander van hom dink? En tog . . . dit maak saak. Die koelheid in Katryn se houding en haar beskuldigende oë hinder hom, krap aan hom. Deksels! Dis net ou Poens wat nie teenoor hom verander het nie, want hy ken nie die ware feite nie. Poens bewonder hom. En hy wil nie hê die kind moet in hom teleurgestel word nie. Maar hy wil ook nie hê Katryn moet allerhande verkeerde dinge van hom dink nie. Verkeerde dinge? Hy roer onrustig. Dis die ellende van die saak! Wat sy dink, is presies die waarheid!
Sondagoggend besluit hy om maar liewer sy stokke te neem en gholf te gaan speel. Hy voel deesdae soos ’n indringer in sy eie huis!
Maar hy kan ook nie op die gholfbaan op stryk kom nie en keer dan maar terug.
Hy kry die twee kinders by die voorhek. Hy hou stil. “Waar was julle?” vra hy onnodig.
“Kerk toe.”
“O . . .” Hy voel sy nek rooi word. Hy voel kompleet so oud soos Poens! Is dit nodig dat sy hom moet laat voel soos ’n kind wat tereggewys is? Hy sluk. “Ek het gedink ons kan vanmiddag dieretuin toe gaan. Dít sal julle geniet, nie waar nie?”
Poens stem dadelik opgewonde in, maar daar kom geen reaksie van Katryntjie nie. Festus frons. Hierdie nukke moet end kry, of hy kan dalk net op ’n dag sy humeur regtig verloor. “Katryntjie . . .?”
“Ek wil nie gaan nie.”
“Hoekom nie?”
“My kop is seer. Ek gaan ná ete lê.” Sy stap dadelik aan, en Festus kyk half hulpeloos na Poens en sê gemaak vrolik: “Dan gaan ons twee mans, nè, ou Poens? Laat sy bly as sy haar wil snaaks hou.”
Poens frons hewig. “Ek weet nie wat met haar aangaan nie. Sy lê elke nag tot wie weet hoe laat en tjank. Vroumense is snaakse goed. Hulle tjank mos sommer net vir die lekkerte.”
“Hmm . . . kom ons gaan eet.”
Die besoek aan die dieretuin is ook nie juis ’n groot sukses nie. Poens geniet dit wel, maar hy bly sê dit sou baie lekkerder gewees het as die diere nog vry in die natuur kon wees.
Die aand verdwyn Katryntjie vroeg uit hul midde en Festus stap met die trap op na haar kamer. Wat genoeg is, is genoeg.
Hy druk haar kamerdeur sonder meer oop en stap tot by die bed. “Wat gaan met jou aan, Katryn? Is jy siek of is jy beduiweld?” vra hy reguit.
“Ek makeer niks nie. Ek wil my boek lees.”
“Wat lees jy?”
Sy het die boek vinnig neergesit en dis duidelik dat sy dit probeer wegsteek. “Sommer een wat ek uit oom se boekrak gehaal het.”
“Laat ek sien, Katryn. Gee hier!” Sy het nie ’n keuse nie, en sy kan die skok op sy gesig sien. “Katryn, waar kom jy aan hierdie boek?”
“Ek het mos gesê uit jou boekrak in die studeerkamer.” Sy kyk uitdagend terug. “Dis . . . baie interessant.”
“Dank jou die duiwel!” ontplof hy. “Waar kom jy daaraan om sulke goed te lees? Jy is ’n skone kind . . .”
“Maar ek is besig om groot te word,” verweer sy heftig. “Ek wás al sestien, oom Festus. Dis tyd dat ek van die lewe begin leer . . . ek bedoel nou die grootmenswêreld . . . Oom se wêreld, nie waar nie?”
Hy grom soos ’n beer. “Luister, dogtertjie, as daar een ding is wat ek nie kan verdra nie, is dit ’n kind wat te groot is vir haar skoene. Jy is ’n kind en jy lees nie grootmensliteratuur nie. Laat ek jou weer met hierdie soort boek vang, dan . . . dan waai jou velle, verstaan jy? Hier! Vat! Dis twee pille vir jou hoofpyn en dit moet môreoggend oor wees . . .” laat hy dreigend hoor en stap uit sonder om nag te sê.
Katryn kyk hom weemoedig agterna. Ag, hy bly dierbaar . . . ten spyte van . . . Dan glimlag sy, spring uit die bed en raap die boek op wat hy op die bed laat lê het toe hy vir haar die pille kom gee het. Sy was op ’n lekker passievolle plek toe hy binnekom . . .
Bes kyk verbaas op toe Festus met ’n kartondoos vol boeke in die kombuis verskyn. “Bes, hierdie goed moet die huis uit. Sorg dat jy daarvan ontslae raak.”
Bes frons. “Maar dit lyk dan na sulke goeie boeke.”
“Bes, hier is nou kinders in die huis, en dis nie die soort leesstof wat ’n kind onder oë moet kry nie.”
Maar toe hy terug is in sy studeerkamer, besef hy dat die probleem nie opgelos word deur net ’n klomp boeke te sensor nie. Dit is van veel groter en ernstiger oorsprong. Katryntjie word groot. Soos sy tereg uitgewys het, sy wás al sestien. Sal hy, as ongetroude man, haar die regte leiding kan gee? Hy voel die onrus in hom roer. ’n Navolgenswaardige voorbeeld het hy beslis nie vir haar gestel nie. Hy ys as hy daaraan dink dat sy sy voorbeeld gaan probeer navolg. Hy wil liewer nie daaraan dink nie. En die riglyne wat sy moes gekry het in daardie boek wat sy gisteraand gelees het! Dis kompleet of iets hom wil wurg.
Hy sug beswaard. Hy sou nooit kon dink kind grootmaak is so ’n moeilike taak nie. En veral ’n dogter so oulik soos Katryntjie . . .
Die atmosfeer is die volgende oggend wonderbaarlik normaal, en albei mansmense slaak ’n sug van verligting. Een ding het hulle die afgelope dag of wat geleer: Die geluk en vrede in hierdie huis hang grootliks van Katryntjie af. Albei glimlag breed terug toe sy vriendelik môre sê.
“Ek sal vanmiddag vroeg huis toe kom en dan gaan ons mallemeule toe,” sê Festus roekeloos.
Katryn glimlag en Poens fluit hard. Tevrede dat die vrede weer herstel is in sy huis, staan Festus op, krap Poens se rooi kuif deurmekaar, en Katryn kry ’n innige kus op die voorkop.
“Soet wees, julle twee – tot vanmiddag.”
Hulle hoor hom fluit-fluit aanstap motor toe en Katryn en Poens glimlag vir mekaar. Die lewe is sommer weer lekker.
Dit word ’n aand om te onthou. Nie een van Festus se vriende sou hom herken het nie. Hy het vroegmiddag die werk op kantoor weggeskuif en hom teruggehaas huis toe. Daar het hy ’n ou trui en ’n broek uit sy studentedae uit die bêrekas uitgekrap en toe het hy met sy twee kinders afgesit mallemeule toe. Poens lyk naderhand soos Kersvader met die sak goed wat hy oor sy skouer dra wat hulle by al die stalletjies gewen het. Al drie voel skatryk. Later moet Katryn waarsku: “As jy nog één spookasem eet, gaan jy in ’n spook verander, Poens!”
“Ag, laat hom maar eet. Dis tog net wind,” doen Festus voorspraak en druk hulle in die rigting van die spieëlsaal. Hulle kry Poens kwalik daar weg en al drie voel half siek van al die lag toe hulle in die groot wiel klim.
“Eers iets kalms voordat ons die ander goed aandurf. Ek weet nie hoe lank my maag gaan hou nie,” laat Festus hoor.
Dis twee doodmoeë kinders wat hy laat daardie aand terugneem huis toe. Poens het klaar op die agterste sitplek omgedop, totaal gedaan. En hier langs hom, merk hy, sak sy dogter ook sywaarts. Teer trek hy haar teen hom vas sodat haar kop teen sy skouer kan rus. Eers toe hy voor die huis stilhou, word sy wakker en kyk hy glimlaggend op haar af.
“Ons is tuis. Die dag geniet, kleintjie?”
“Ja, dankie. Dit was ’n wonderlike dag . . . die wonderlikste . . .” Hy voel haar hand om sy nek kruip. “Dankie, oom Festus.”
Vir die eerste keer voel hy haar lippe teen syne druk en hy soen haar teer. Dan is dit of haar lippe skielik meer dringend teen syne druk en ’n oomblik lank voel hy verward. Maar dan is sy besig om uit te klim en hy hoor haar sê: “Ek weet nie hoe ons vir Poens bo gaan kry nie. Hy slaap soos ’n klip.”
“Ek sal hom bring. Kry solank sy bed reg.”
Festus is weer peinsend toe hy later in sy bed lê. Iets in verband met Katryntjie se soen hinder hom. Natuurlik glo hy nie vir een oomblik sy het iets daarmee bedoel nie, maar dit het hom ontstig, want dit het ’n baie belangrike feit duidelik by hom tuisgebring. Katryntjie het ryp geword, groot genoeg vir die dinge wat deel van die grootmenswêreld is. Sestien is nog baie jonk, maar nie té jonk nie. Sy is al amper groot. Tog kan hy nie help om hartseer te voel nie. Hy sou haar graag vir nog ’n rukkie kind wou gehou het – sy kaalvoet Katryntjie van die plaas.
Wat gaan hy doen as sy op ’n dag skielik met kêrels begin lol? Hy roer onrustig. Een ding is seker – hy sal nie elke Jan Rap en sy maat hier toelaat nie. O nee! Hulle sal gekeur word. Maar al is dit ook wié se seun wat hier kom vlerksleep, bloot die gedagte ontstel hom, en hy wens in alle opregtheid sy was maar nog net so oud soos Poens. Dan het daar nog járe van suiwer, onbekommerde vreugde vir hom voorgelê. Maar nou . . .
Die volgende oggend voel Katryn dadelik iets in die atmosfeer aan. Dis al of oom Festus hulle vanoggend nie in die oë wil kyk nie, en sy stem klink half kortaf.
“Katryntjie, jy sal Poens se klere moet regkry en inpak. Oom Pieter het gister laat weet Johann – dis sy seun – sal môre die donkie vir ons terugneem plaas toe. Dis ’n ideale geleentheid vir Poens om terug te gaan. Kyk dus dat sy goedjies bymekaarkom.”
Doodse stilte heers. Hy hou hom besig met sy koffie, maar sien hoe Poens se blou oë smekend na die onderpunt van die tafel draai. Ook Katryn lyk bleek en gespanne. Net vlugtig lig haar pleitende oë na die bopunt van die tafel. Dan antwoord sy gedemp: “Goed, oom Festus.”
Daar word egter meer as Poens se klere ingepak, hoewel alles in ’n swaar, doodse stilte geskied. Later kan Katryn dit nie meer uithou nie.
“Poenie, asseblief, moenie so na doodgaan lyk nie. Ons het mos geweet die vakansie kan nie vir ewig duur nie.”
“Maar ek moet alleen teruggaan . . .”
“Jy gaan nie alleen terug nie. Hier sien jy dan ek pak my klere ook in.”
Maar Poens is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. “Oom Festus het niks van jóú klere gesê nie. Hy het net van myne gepraat.”
Katryn pers haar lippe opmekaar. “Dit maak nie saak nie. Ek sê ek gaan saam met jou terug. Wat moet ek langer hier maak? Ek moet teruggaan plaas toe.”
“Oom Festus sal nie dat jy teruggaan nie,” sê hy met oortuiging, want hy weet wie is eintlik die baas.
Katryn probeer haar stem so beslis moontlik hou. “Oom Festus is nie my baas nie. Ek gaan saam met jou terug en basta.”
Maar Festus wil nie kopgee nie.
Haar oë staan stokstyf in haar kop. “Ek wil teruggaan plaas toe. Ek gáán terug plaas toe môre.”
Festus probeer geduldig wees. Hy voel self ontstig en ontsenu en nou moet Katryntjie dinge vir hom nog moeiliker maak. Hy probeer verduidelik. “Kindjie, luister, dis nie wat jý wil en nie wil nie. Jy kan nie teruggaan plaas toe nie. Jy kan nie alleen daar gaan woon nie. En moenie vir my sê Poens sal snags by jou kom slaap nie, want dit beteken niks nie. Jy gaan nie terug plaas toe nie en dis finaal.”
“Ek het hom belowe ek sal by hom bly.”
“Ja, ek weet. Ek het gehoor toe jy daardie belofte gemaak het, maar jy het geen reg gehad om so iets te belowe nie. Dis net nie moontlik dat jy en Poens altyd bymekaar sal kan wees nie, Katryntjie. Die kind moet teruggaan na sy ma toe en skool toe gaan. Oor jóú toekoms sal ons binnekort besluit, maar ek kan jou nou al sê jy sal hier in die stad bly.”
Haar blik sak voor syne. Dan kyk sy weer op. “Ek kan darem seker saamry . . .”
“Nee.”
Ook sy moet nou haar humeur met alle mag beteuel. “Hoekom nie? Ek wil maar net saamry.”
“Nee. Ek laat nie toe dat jy saamry nie – nie met daardie Johann nie. Hy is ’n klein windlawaai wat nie weet hoe om hom agter ’n voertuig se stuurwiel te gedra nie. Hy sal jou verongeluk.”
“Maar Poens ry dan saam!”
“Dis iets anders.”
“Hoe kan dit iets anders wees? Poens se –”
“Katryn, ek het nou klaar gepraat!” Hy bring sy vuis met geweld tussen hulle op die tafel neer. “Jy ry nie môre saam nie en Poens gaan terug huis toe. Uit en gedaan.”
Soos dit so baie keer in die verlede al gebeur het, kom lê Poens die nag styf in Katryn se arms. Hulle hou mekaar vas soos twee bang, hartseer kinders.
“Jy het belowe!” kom die gedempte verwyt.
“Ek sal my belofte nakom, Poenie. Luister, ek het aan ’n plan gedink.”
Festus, diep ongelukkig, sit en speel rusteloos met ’n pen tussen sy vingers in die studeerkamer. Hy kon vanaand die vyandigheid van die twee kinders duidelik aanvoel en met die gemompelde leuen dat hy werk het om te doen, het hy maar liewer gemaak dat hy in sy studeerkamer kom. Die hele tyd sit en beraam hy planne, maar nêrens sien hy ’n ligstraal nie. Poens moet huis toe en daar sal oor Katryn se toekoms besluit moet word. Sy kan nie vir ewig by die huis rondsit nie. Sy gaan net allerhande duiwels wakker maak. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, sê Bes altyd. En Johann het ’n hele lang universiteitsvakansie waarin hy geselskap sal soek. Nie dat die seun onaardig is nie. So ’n bietjie groot vir sy skoene en pronkerig soos alle tweedejaarstudente maar is. Tog . . .
Die donkie staan rustig op die bakkie en wag. Johann kyk na oom Festus en die kinders. Oom Festus lyk besonder streng, maar hy kan sweer hy is meer ongemaklik as streng. Die dogter . . . Sy oë vernou. ’n Dekselse oulike meisiekind, daardie poniestert ten spyt. Sy lyk soos ’n wasbleek feetjie. Die seuntjie, rooi kuif omhoog en elke sproet afgeëts op sy gesig, staan asof hy ’n laaistok ingesluk het. Johann glimlag effens. Die kannetjie probeer baie moedig wees, maar hy gaan die stryd verloor. Hy steek ’n bewende handjie uit en Festus neem dit stewig in syne. Met die ander hand druk hy ’n geldnoot in die bosak van die kind se baadjie.
“Totsiens, Poens. Ons sien jou weer volgende vakansie as jou ma sal toelaat dat jy kom. Soet leer, hoor?”
“Ja, oom. Dankie, oom . . . vir alles. Totsiens, oom.” Hy kyk met betraande oë na Katryn, draai dan om en hardloop na die bakkie toe. Festus knik vir Johann en dié spring agter die stuurwiel in. Toe Festus omdraai, is Katryntjie al die huis in en hy besluit om maar liewer dadelik kantoor toe te gaan. Dis nie nou die tyd vir gesels nie.
Toe hulle net ’n entjie daarvandaan ’n lap bome bereik, sê Poens iets wat Johann dadelik van die pad af laat swenk.
“Hoekom het jy nie by die huis klaargemaak nie?” raas hy.
“Daar was nie tyd nie.”
“Luister, kannetjie, jy moet gou maak. Hier is ook nie juis plek nie.”
“Ek sal bome toe hardloop.”
“Nou toe, maak gou. Ons het nie die hele dag tyd nie.”
Minute later besef hy dat Poens ’n nood van ’n heel ander aard gehad het. Twee gesigte verskyn by die venster. Die deur gaan oop en sy klim in.
“En wat dink jy doen jý? Jou oom het nie gesê jy kan saamgaan nie.”
Sy kyk hom uit die hoogte aan. “Hy is nie my oom nie. Hy is niks van my nie. Ek ry saam plaas toe.”
Johann glimlag. Regtig ’n oulike meisiekind. Nou wel ’n bietjie jonk vir hom, maar so vir ’n vakansie . . . “Festus Dumas sal my velle aftrek. Katryn, ek kan jou nie saamneem nie.”
Sy draai haar blou oë vol op hom, glimlag verleidelik en druk so effens teen hom aan. As ’n laaste oorredingsaksie lê sy haar hand op sy bobeen en steel dit liggies. “Ag toe, Johann! Ek sal soet wees! Ek belowe! Ons kom môre al weer terug. Wat is een ou naggie en daggie dan nou? Ag toe, wees ’n skat . . .” Sy sien die onsekerheid in sy oë. “Ek belowe ek sal al die blaam op my neem. Ag toe, Johanntjie.”
“Meisiekind . . .” Dan glimlag hy. “Nou goed. Maar onthou, dis jou . . . en Poens se dinge hierdie. Ek het niks hiervan geweet nie.” Hy kyk met glinsterende oë op haar af. “Ek moet sê ek hou van ’n meisiekind wat ’n bietjie durf in haar het. Hoe lyk dit? Gaan ons mekaar hierdie vakansie baie sien?”
“As jy wil!” koketteer sy skaamteloos.
Poens kyk oopmond toe. Hy hou nie baie van die manier waarop die jongetjie vir Katryn glimlag nie, maar as dit al manier is om op die plaas te kom . . . Die doel heilig die middele, sê die spreekwoord. Net verlede kwartaal was dit een van sy eksamenvrae. Vandag begin verstaan hy eers die betekenis daarvan.
Ongelukkig verloop alles nie volgens plan nie. Halfpad plaas toe raak die bakkie onklaar en Johann is verplig om huis toe te bel. Op sy pa se navraag is hy verplig om eerlik te antwoord. Ja, Katryn is by hulle. Ja, hy weet oom Festus gaan vreeslik kwaad wees, maar toe hy sien, klim Katryntjie net in en sy weier om weer uit te klim. O, Pa sê oom Festus is al rasend en het die hele polisiemag aan die soek? Nee, Pa kan maar vir hom sê sy is veilig en, ja, goed, hy sal wag dat hulle ’n ander bakkie stuur. Reg, Pa.
Dat Katryn veilig is in die gebreekte bakkie, is seker. Toe Johann van die plaas terugkeer waarheen hy noodgedwonge moes loop om huis toe te bel en sy hoor die nuus wat hy mee te deel het, besef sy dat haar lewe in die baie nabye toekoms nie meer so veilig gaan wees nie. Tot dusver was oom Festus nog altyd baie toegewend en vergewend, maar . . .
Die ander bakkie en ’n motor hou gelyktydig langs hulle stil. Dis reeds lank ná middernag. Sy het net tyd om baie vlugtig vir Poens te fluister: “Ek sal weer ’n plan maak, Poenie. Gaan nou maar eers soet huis toe. Ek belowe jou ons sien mekaar binnekort weer. O ja! Stuur van my klere saam met Johann terug. Tata.”
Dan word sy deur ’n sterk hand uit die bakkie getrek, beslis by die motor ingehelp en vir die res van die lang rit terug stad toe word daar nie ’n enkele woord gepraat nie.
Ook toe hulle tuiskom en die ligdag net-net wil breek, word Katryntjie steeds stilswyend geleide gedoen na haar kamer. Ook toe hy met haar bed toe marsjeer, kom sy nog niks agter nie. Sy weet weliswaar dat hy so kwaad is soos wat sy hom nog nie gesien het nie, maar . . .
Dis eers toe hy skielik gaan sit en haar oor sy skoot trek dat die skokkende besef tot haar deurdring wat hy in sy kop het. Sy snak van skok en ongeloof toe die eerste hou val. Sy kan nie glo dit gebeur werklik nie! Maar dis beslis aan ’t gebeur, vertel ’n sekere deel van haar anatomie haar.
“O, jou bees! Jou . . . Hoe durf jy my . . .”
Nog twee stewige houe beland op die regte plek en dan skuif hy haar van sy skoot af, kyk vas in die stormagtige, natblou oë. “Dis ’n skande dat ’n kind van jou ouderdom nog ’n pak slae moet kry, maar as jy jou dan soos ’n stout dogtertjie wil gedra, sal jy so behandel word.”
Toe Festus gereed is om kantoor toe te gaan ná ’n slapelose nag, loer hy versigtig om die deur en sien dat sy aan die slaap geraak het, die traanmerke nog op haar wange. Hy glimlag skielik teer en skud sy kop. Nee a! Waar kom sy vandaan om sommer van hom af weg te loop! Baie saggies lê hy sy hand ’n oomblik op daardie deeltjie waar hy weet dit nog baie seer moet wees. Sy eie hand het behoorlik gebrand. Dit was drie van die bestes, drie wat sy sal onthou – hopelik . . .
Dis egter aan Bes te danke dat Festus nie ’n dikmond aantref toe hy die middag van die kantoor af kom nie. Dis eerder ’n baie skaam en skuldige dogtertjie wat voor hom staan. Bes het dit goed ingevryf hoe haar meneer byna rasend van kommer was.
“Ek is jammer, oom Festus. Ek het regtig nie so ver gedink nie . . . Ek is baie jammer.”
Hy glimlag op haar af, druk haar dan teen hom vas. “Toe nou maar. Dit moet net nooit weer gebeur nie, Katryntjie. Ek was byna van my verstand af. Is ons nou weer maats?”
Sy kyk op na hom en glimlag. Sy wou verskriklik graag weer op die plaas gekom het, maar terselfdertyd is sy vreeslik bly om terug te wees by hom.
Johann laat nie gras onder sy voete groei toe hy terug in die stad is nie. Daardie meisiekind het beloftes gemaak. En beloftes maak skuld.
Festus gee teësinnig sy toestemming dat Katryntjie die aand saam met sy vriend se seun kan uitgaan.
“Jy ry versigtig. Ek wil my dogter nie in stukke kom optel nie. Ek draai jou nek om, mannetjie!”
“Nee, oom. Natuurlik nie, oom. Ek sal versigtig wees, oom.”
“Jy waag nie kanse op draaie en hoogtes nie, hoor? En luister, mannetjie, Katryntjie is ’n ordentlike kind. Ons moet mekaar liewer uit die staanspoor duidelik verstaan. Jy gedra jou!”
“Ja, oom. Natuurlik, oom!”
Waar Katryntjie op die trap tot stilstand kom, kan sy kwalik haar lag bedwing. Die arme Johann lyk klaar spyt. Sy beweeg vinnig na hom toe, glimlag gerusstellend.
“Waar kom jy aan daardie rok wat jy aanhet? Ek dog dan jy het nie klere nie.” Festus klink sommer van voor af omgekrap.
Poens het gelukkig onthou en van haar klere saam met Johann gestuur. En vol bravade het sy vanaand die poniestert losgemaak. Sy weet haar hare is haar grootste bate. Sy het selfs kleursel aan haar lippe. “Johann het vir my klere van die plaas af gebring,” sê sy heel liefies.
Hernieude onrus laat Festus hom weer vinnig tot Johann wend. “En jy sorg dat sy nie later as tienuur terug is nie. Nie ’n minuut ná tien nie!”
“Maar, oom Festus! Dan het die fliek skaars begin!”
“Nou ja, dan net ná die fliek uit is. Onmiddellik! Julle kom reguit huis toe. Geen ander draaie nie, hoor?” Eindelik is hulle in Johann se sportmotor en skielik voel dit vir Festus hy kan Katryntjie uit die motor trek en die jong man na sy peetjie stuur. Johann trek met ’n vaart weg en Festus voel die bloed in sy slape pols. Die klein sot! En hy het nou net gesê hy sal versigtig wees! Vandag se jeug!
Hy voel skielik eienaardig verlore en eensaam. Die huis se stilte is byna te veel om te verduur. Met Poens weg en Katryntjie op die kattejag . . .
Hy vlug studeerkamer toe, gaan sit by sy lessenaar, kyk op sy horlosie en sit terug. Die lang wag het begin . . . Totdat Katryntjie veilig tuis is, sal hy geen rus of duurte hê nie. En hy sal nie weer toelaat dat sy uitgaan nie. As sy wil gaan fliek, sal hý haar neem. Watse lawwigheid is dit? Sy is ’n kind van sestien. Sy het nou die dag nog ’n pak slae gekry. Waar kom sy vandaan om nou al met jongetjies te wil uitgaan? Hy sug diep en kyk weer op sy horlosie. Die ure strek eindeloos voor hom uit.
“Sjoe! Ek sou nooit kon dink jou oom Festus kan só sanik nie!” sê Johann.
Katryn lag en vra: “Hoekom sê jy so?”
“O, my niggie, daardie oom van jou is dié Romeo van die stad. Hy het al meer nooiens gehad as wat daar sterre aan die hemel hang.”
Katryn se gesig versober. Dan byt sy op haar onderlip. Sy weet Johann praat die waarheid, en hoekom sal dit haar hinder? Festus Dumas is so onbereikbaar vir haar soos die sterre bokant haar kop. Sy moet ophou om haar so belaglik te gedra. Hier langs haar sit ’n gawe jong man. Wel ’n bietjie jonk vir haar, maar hy is die regte geselskap vir haar, nie Festus Dumas nie. Toe Johann na haar hand soek en dit druk, druk sy terug. Sy gaan nie toelaat dat die gedagtes aan Festus Dumas haar aand bederf nie.