Читать книгу Ena Murray Keur 12 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

Festus Dumas glimlag toe hy uit sy motor klim en aanstap voordeur toe.

Hy het ook rede om te glimlag. Die lewe behandel hom goed – so goed as wat hy maar kan verwag. Om die waarheid te sê, daar is niks op hierdie aarde wat hom ontbreek nie.

Op pad voordeur toe tel hy sy seëninge een vir een af. Hy is een van die bekendste argitekte in die stad. Op agt en twintig is hy gevestig en boonop is hy ’n ryk man. Daarvan getuig die huis wat hy binnestap – luuks, maar sprekend van die klassieke eenvoud waarvoor hy bekend is.

Om dit alles volmaak af te rond, is hy ’n aantreklike man – dis nou te oordeel na sy gewildheid by die skoner geslag. Dis te betwyfel of daar ’n meer gesogte hubare man in die stad is as hy.

Hy sug toe hy sy studeerkamer binnestap. Dis by hierdie laaste gedagte dat die sonskyn wat so mildelik oor sy lewe skyn, effens verflou. Dis die probleem met vroumense. Hulle kan die lewe nie net geniet nie. Nee, die een of ander dag wil hulle trou. So het menige romanse al ’n vinnige dood gesterf. Dit gaan voor die wind totdat die betrokke dame versigtig, en hoe subtiel ook al, die strop oor sy kop probeer skuif. Dan maak hy dadelik spore. Menige dame het al die trouklokke hoor lui net om skielik te ontdek dat die potensiële bruidegom nou saam met iemand anders op ’n foto in die sosiale rubrieke verskyn.

Festus glimlag droog toe hy agter sy lessenaar gaan sit en met sy vingers op die blad voor hom trommel terwyl ’n denkbeeldige lys name voor sy geestesoog ooprol. Hy weet daar is vermiste name ook – dis onmoontlik om almal te onthou. Daar was al te veel vroue in sy lewe.

Dis nietemin ’n indrukwekkende lys wat verskyn. Daar is ’n vonkel in sy oë. Hy is beslis nie ’n askeet nie, dink hy geamuseerd.

Sy grinnik verdiep. En die liewe leste een wou hom voor die kansel sleep – as hulle dit net kon regkry. Tot dusver het hy egter nog ongedeerd daarvan afgekom. Op agt en twintig is hy steeds ’n vrygesel – ’n báie gewilde vrygesel – en hy is nie van plan om sy status prys te gee nie.

Tog is daar nou ’n klein fronsie tussen sy oë. Hy het dit nog altyd reggekry om betyds weg te kom, maar hierdie keer . . . Die frons verdiep. Hy het ’n onrustige gevoel dat Shirley of Zelda – die twee wat hy op die oomblik op sleeptou het – miskien net hierdie keer slim se baas gaan vang. Hy voel behoorlik ’n koue rilling langs sy ruggraat afloop. Daar is een ding waarvoor Festus Dumas bang is – eerlik en opreg bang is – en dis ’n trouring.

In die verlede was dit nog altyd vir hom maklik om van ’n meisie ontslae te raak wanneer hy sien sake dwing preekstoel toe. Jy bly net eenvoudig weg. Sonder ’n woord. Jy bel nie meer nie en jy maak geen afsprake nie. En as jy haar raakloop op ’n plek, knik jy vriendelik, maar duidelik afsydig. Jy sien die ongeloof en ontnugtering in die oë wat na jou kyk, maar elke keer werk dit. Sy draai weg en met soveel trots as wat sy kan monster, maak die dame asof daar niks gebeur het nie – en jy weet jy is ontslae van nog een.

Maar Shirley en Zelda is ’n ander saak. Die verskil tussen hulle en die ander vroue wat al sy pad gekruis het, is dat die ander vroue se trots hulle daarvan weerhou het om hom langer te probeer vashou toe hy duidelik laat blyk het dat hy nie meer belangstel nie. Maar Shirley en Zelda het geen trots nie . . . nie dáárdie soort trots nie. Dit moes hy tot sy ontsteltenis uitvind.

Toe hy van hulle ontslae wou raak, het hulle net geweier om te verdwyn. In plaas daarvan dat hy nog twee name kon byvoeg by die lys van gewese minnaresse, het dié twee knaend bly klou. Hy moes gisteraand en vanmiddag tot die ontstellende ontdekking kom dat hy hierdie keer nie so maklik gaan loskom nie . . . ás hy loskom.

Gisteraand . . . Hy het hier gesit waar hy nou sit, toe hy opkyk en haar in die deur sien staan – pragtig, eksoties, begeerlik soos altyd . . . maar dit het hom koud gelaat. Die vrou voor hom kon hom nie meer roer nie. So was dit nog altyd met hom. Solank ’n vuur in hom gebrand het, het dit hoog gebrand. Maar net so skielik as wat dit ontstaan het . . . deur ’n enkele blik, deur ’n ligte aanraking . . . net so skielik en onverwags kon dit sterf, en het dit nie eens smeulende as agtergelaat nie. Daarom sal hy nooit trou nie, het hy besluit. Hy is net een van daardie mans wat nooit moet trou nie.

Wat honderd keer in die verlede gebeur het, het weer gebeur . . . met Shirley. Vir ’n rukkie was sy soos ’n vuur in sy are, maar nou stel hy nie meer in haar belang nie. Maar dat daar beslis iets aan die broei was in die mooi vrou wat stadig nader gestap het, was vir hom duidelik.

Hy het fronsend opgestaan, hom stilweg afgevra: Hoekom kan ’n vrou nie aanvaar dat alles verby is as ’n man nie meer in haar belangstel nie? Hardop het hy egter gesê: “Goeienaand, Shirley. Dis ’n verrassing.”

Haar oë het oor hom gefladder, hard en verbete, maar tog was daar ’n gloed . . . ’n gloed wat hy weet hý daarin laat ontbrand het. Hy het geweet dat, as hy op daardie oomblik na haar toe sou stap en haar in sy arms neem, alle ander emosies in haar sou wegsterf voor die hartstog wat hy in haar sou kon ontketen.

Maar hy was nie van plan om nader te stap nie, het net beleef agter die lessenaar bly staan.

“Ek hoop dít wat ek vir jou te sê het, sal ook ’n . . . e . . . verrassing wees, my dierbare Festus.” Hy het net sy wenkbroue gelig. Hy het half en half geweet wat om te verwag. “As jy dink jy kan my sommer nou opsy skuif, begaan jy ’n groot fout, Romeo. Dit kan net wees dat ek uit skone frustrasie en verlange na jou ’n goeie vrou word en alles wat tussen jou en my gebeur het, aan my man bieg. Ek kan my voorstel wat dán sal gebeur. Kan jý?”

Hy het roerloos gestaan en die vraag stilswyend beantwoord. Ja, hy kon. Evert Rossouw sal hom hof toe vat en hom breek. Evert Rossouw is ’n multimiljoenêr – ’n multimiljoenêr wat nog altyd geweet het hoe om sy geld te gebruik om ander mense te manipuleer. Dit is algemeen bekend dat Shirley baie jonger as hy is en dat sy nie met hóm getrou het nie, maar met sy geld. Hy verwag dat sy getrou aan hom moet wees omdat hy haar met weelde oorlaai, maar hy het nie rekening gehou met haar jong, verraderlike hart nie.

Festus het die egpaar Rossouw een aand op ’n partytjie ontmoet. Sommer dadelik het Evert Rossouw hom gevra om vir hom ’n huis te ontwerp wat by sy pragtige vrou sou pas. Toe het sy blik na die vrou langs die vet lummel gegaan . . . en hy het byna ’n oorval gekry. Sy eerste gedagte was dat dit ’n sonde is dat ’n man soos Evert Rossouw só ’n vrou moet hê. Sy het soos ’n eksotiese droom uit die Arabiese Nagte gelyk. En haar donker oë het diep in syne opgekyk . . .

Natuurlik het hy die huis ontwerp. En natuurlik moes hy en die dame van die huis dikwels konsulteer . . . en nie net in verband met huisbeplanning nie. So het dit begin.

In die verlede het hy weggeskram van getroude vroue af. Dit was nie die moeite werd om sy goeie naam in gevaar te stel nie. Hy het in elk geval nie nodig gehad om verhoudings met getroude vroue aan te knoop nie. Daarvoor is daar genoeg ongetroude vroue in die stad wat hom maar te gretig ontvang.

Maar Shirley Rossouw was anders. Behalwe dat sy van die eerste oomblik af ’n magnetisme na hom uitgestraal het, was die feit dat sy nie werklik ’n man in haar eggenoot gehad het nie, genoegsame rede om hom sy goue reël te laat verbreek. Hy frons weer ergerlik. Hy moes Shirley Rossouw nie die uitsondering op die reël gemaak het nie. Nou sit hy met ’n minnares van wie hy nie so maklik ontslae gaan raak nie. Dit wat hom eers in haar aangetrek het – die uitnodigende blik in haar donker oë – stoot hom nou af. Hy wil niks meer met haar te doen hê nie.

Hy het haar probeer ignoreer, maar dit het geen indruk op haar gemaak nie. Inteendeel. Dit het haar net meer aangevuur. Sy het nie daarin belanggestel om van haar man te skei nie, maar Festus moes haar minnaar bly, en haar minnaar sál hy bly. Dit het haar donker, gloeiende oë hom gisteraand vertel, of . . .

Die ultimatum is sonder omhaal gestel. Geen subtiele, bedekte dreigemente in ’n uiters beskaafde stemtoon soos dié van die ander dame op die toneel nie.

Sy gedagtes keer weg van Shirley, pen nou op die blonde beeld voor sy geestesoog vas. ’n Pragtige, verfynde vrou met klassieke gelaatstrekke en slanke kurwes, maar nie so sensueel soos Shirley Rossouw nie. Natuurlik weet almal sy is eintlik Zelda de Waal, maar aangesien De Waal te alledaags is vir ’n verhoognaam, het sy dit na Duval verander. Sy is ’n uitmuntende aktrise. Sy kom uit ’n goeie huis, maar is al twee keer geskei. ’n Vrou met agtergrond en opvoeding . . . totdat sy verlief raak. Dís wat sy belangstelling in Zelda Duval lank gaande gehou het: die altyd korrekte, verfynde vrou wat skielik in ’n hoogoond ontaard as Festus haar in sy arms neem wanneer hulle privaat is. Ontaard is die regte woord. En op ’n dag het dit hom begin afstoot, het hy besef dat sy verhouding met die begaafde aktrise niks verder as ’n minnaar-minnares-verhouding sal gaan nie. Maar soos haar opponent, het sy geweier om haar te laat ignoreer. Net – sy is meer subtiel, en miskien juis daarom gevaarliker. En sy het nie ’n man nie.

Sy het hom vanoggend onverwags op kantoor besoek, soos altyd pragtig geklee: ’n suksesvolle aktrise van haar blinkgoue haarkroon tot by haar handgemaakte Italiaanse skoene. Die hele tyd wat sy daar was, het sy geglimlag, en vir die eerste keer het hy die vasberadenheid in die blou oë gesien.

Die getrommel van sy vingerpunte op die lessenaarblad hou tyd met die onrustige bonsing van sy hart. Festus Dumas erken op hierdie oomblik aan homself dat hy bang is – so bang soos wat hy nog nooit in sy lewe was nie. Daar is niks wat hom meer afskrik as ’n vasberade vrou wat hom in ’n hoek wil vaskeer en die huwelikstrop om sy nek wil sit nie, of ’n ander soort strop, soos wat Shirley Rossouw beoog. Tot dusver was hy ’n man wat baie lig oor die lewe se oppervlak geskaats het, oor talle meisies se harte geskaats het. Maar hy is skielik op dun ys . . . en dit dreig om onder hom te breek.

Die huishulp wat al jare lank na sy huishouding omsien, verskyn in die deur. Bes is baie erg oor haar meneer. In haar oë doen hy net reg.

“Die hospitaal het gebel, meneer. Die een hier naby ons. Hulle het gesê meneer moet terugbel en vra vir suster Wiid. Daar is ’n boodskap.” Festus frons. Hy wonder waaroor dit kan gaan. “Kan ek vir meneer tee bring?”

“Dankie, Bes.”

Toe Bes weer binnekom met die tee, sit hy net die telefoon neer. “Onthou jy nog vir meneer Herklaas wat vroeër by my ouers gewerk het? Hy het na die tuin en alles omgesien.”

“Maar natuurlik. Hoe sal ek vir meneer Herklaas vergeet? Foei tog, sy vrou is mos dood en toe is hy weg met die kleintjie. Glo êrens ’n plasie gaan koop.”

“Ja, Pa het hom nog gehelp. Op die platteland. Hy het mos van daardie wêreld gekom. Toe tant Miem dood is, wou hy nie hier bly nie. Hy het altyd gesê hy wil nie sy kind in die stad grootmaak nie.”

“Juis, meneer. Ek onthou. Die kind het mos maar laat in hul lewe gekom. Hulle was eintlik al albei bejaard toe die dogtertjie gebore is.”

Festus knik. “Nou ja, die oproep van die hospitaal staan in verband met oom Herklaas. Hy is baie siek en lê hier in die hospitaal. Die suster het gesê ek kan maar enige tyd kom. Dit gaan glo glad nie goed nie. Ek dink ek ry maar gou sodra ek my tee gedrink het. O ja, Bes, as iemand na my soek, sê net jy weet nie waar ek is nie.”

Sy knik begrypend. Daardie opdrag kry sy dikwels. As iemand bel, weet sy niks nie. Sy klik haar tong op pad kombuis toe. Ai, dié meneer van haar gee haar grys hare. Hy is al ’n groot man, maar wil niks weet van trou nie. En die vroumense! Bes is gek na Festus, maar hy stel haar diep teleur omdat hy so flankeer met die meisies. Maar dis omdat hy nog nie die regte een ontmoet het nie. Daarom dat hy so die een vroumens ná die ander het. Nie een van dié wat hy al ooit hierheen gebring het, is die regte een nie. Dit weet sy. Maar eendag is eendag, dan sal hy haar ontmoet en sal hy gevestig raak . . . en Bes se kommer sal op ’n end wees. Maar hy sal moet opskud. Sy word nie jonger nie.

Dan gaan haar gedagtes na die arme meneer Herklaas. Sy oorlede vrou het haar vertel hoe hulle uitgeboer het en toe in die stad ’n heenkome kom soek het. Meneer Herklaas het in die myne gaan werk, maar toe gee sy longe in en hy moes daar ook padgee. Ten einde raad, ná dae se vrugtelose gesoek na werk, het hy sommer op ’n dag by meneer Dumas se hek ingestap en werk gevra.

Dáár was nou ’n man met ’n hart van goud, daardie meneer Dumas, haar meneer Festus se oorlede pa. Meneer het ’n ou buitegebou laat regmaak en meneer Herklaas en sy vrou en kind het daar ingetrek. Dit was nou wel ’n bietjie beknop, maar dit was ’n heenkome en ’n dak oor die kop.

Bes onthou nog goed die dag toe hulle ingetrek het. Festus was toe nog op universiteit. Goeie, egte boeremense. En toe sterf mevrou Miem skaars twee jaar later skielik aan ’n bloedklont. Dis toe dat meneer Herklaas gesê het hy sal ’n plan moet maak. ’n Man kan nie ’n dogter alleen in die bose stad grootmaak nie. Hy wou maar terug platteland toe.

Sy onthou haar meneer het meneer Herklaas gehelp om êrens ’n klein plasie te bekom. Toe is hulle hier weg, maar ai, sy het verlang na hulle, veral na daardie kaalvoet Katryntjie van hulle. So ’n liewe kind. Meneer en mevrou was net so gek na haar.

En nou lê meneer Herklaas ernstig siek hier in die hospitaal . . . Ai, foei tog, klik Bes met die tong . . .

Festus se gedagtes is min of meer dieselfde as Bes s’n op pad hospitaal toe. Hy het die Klems nie eintlik geken nie, want hy was destyds op universiteit. Die vakansies wat hy wel by die huis was, het hy selde met hulle in aanraking gekom, want hy was selde tuis. Hy is ’n man wat van jongs af sy lewe ten volle geniet het. Hy het ’n bietjie met die ou oom te doen gekry, maar hy kan nie onthou dat hy sy vrou of die kind ooit gesien het nie. Hy onthou egter dat sy ouers met groot lof van hulle gepraat het en dat hulle opreg spyt was toe die tannie dood is en oom Herklaas met die dogtertjie platteland toe getrek het.

In al die tyd – dis seker nou al omtrent agt jaar – het hy nooit weer aan hulle gedink nie. Sy ouers is intussen ook dood en Bes het haar intrek by hom geneem en hom versorg soos geen huweliksmaat dit sou kon doen nie. Sy ma het Bes as jong meisie in diens geneem en haar so goed geleer dat haar hande vandag vir niks verkeerd staan nie. Dis nog ’n rede hoekom hy geen nodigheid het om te trou nie – Bes is ’n huishoudster duisend.

Hy hou voor die hospitaal stil en ’n rukkie later ontmoet hy die suster in haar kantoor. Sy skud haar kop in antwoord op sy vraag.

“Nie goed nie. Sy longe is gedaan. Hy kry byna pal suurstof. Hoe lank dit nog sal duur, weet ons natuurlik nie. Hy het gevra dat ons u moet bel. Ek sal u nou na hom toe neem.”

Toe hy oor die bed buig, kan hy kwalik die gelaatstrekke herken. Oom Herklaas het die afgelope jare ’n ou man geword, afgetakel deur siekte en swaarkry. Maar hy sien herkenning in die flou blou oë wat na hom opkyk en ’n bewende, maer hand word omhoog gebring.

“Môre, oom Herklaas. Ek is jammer om oom hier in die bed te sien.”

Die ou man knik swak. “Ek is bly om jou weer te sien, Festus. Jy het ’n groot man geword.”

Festus glimlag. “Wat kan ek vir u doen? Ek sal graag wil help as ek kan, oom.” Hy weet sy ouers sou dit van hom verwag het. “Pa en Ma is albei al oorlede . . .”

“Ek weet. Ek het die doodsberigte in die koerant gelees. Ek was so jammer . . .” Hy sluk swaar. “Festus, ek wil nie pla nie, maar daar is niemand tot wie ek my kan wend nie . . .”

Die smeking en verskoning in die ou oë is pateties, en Festus herhaal opreg: “Ek het mos gesê ek sal graag wil help, oom. Sê net.” Dit lyk of die ou man nie die moed kan bymekaarskraap nie, en hy vervolg: “Is dit u dogter? Wil u hê ek moet haar hierheen bring?”

“Nee! Nee, ek wil nie hê sy moet hierheen kom en my só sien nie . . . Sy sal haar net ontstel. Dis onnodig.”

“Waar is sy?”

“Op die plaas. Sy kyk maar na die goedjies daar terwyl ek hier lê. Nee, dis iets anders . . .”

“Vra maar, oom.”

“Festus . . . ou seun . . . as ek moet . . . gaan . . . Katryntjie is nog so jonk. Sy is so . . . Ek is so bekommerd oor wat van haar gaan word as ek . . . Sal jy . . . asseblief, sal jy nie na my ou dogtertjie omsien nie? Sy is nog so ’n kind om alleen . . . Ek weet ek vra baie van jou, maar daar is niemand anders nie.”

“Natuurlik sal ek, oom. Moenie bekommerd wees nie.”

Die dankbaarheid in die ou oë is onbeskryflik. “Dankie, Festus. Ek was so bang om jou te pla . . . Nou weet ek ek was verniet bang. Jy is ’n goeie man . . . nes jou pa. Dankie, ou seun. Sal jy . . . sal jy nie net gaan kyk hoe dit met haar gaan nie?”

Hy knik. “Oom sê sy is op die plaas? Alleen?”

“Klein Poens gaan slaap snags by haar . . .”

“Ek sal gaan, oom. Is oom seker ek moet haar nie saambring nie?”

“Nee. Ek wil nie die kind ontstel nie. Sy het ook al swaar gehad in haar kort lewetjie. Nee, gaan kyk net of alles nog wel is daar.”

“Goed. Ek belowe. Wat moet ek vir haar sê? Enige boodskap?”

“Sê net dit gaan goed. Moenie vir haar sê ek . . . lyk só nie. Sê dit gaan goed en dat ek een van die dae weer terug sal wees. Maar as . . .” Weer lig die kommervolle ou oë omhoog. “Maar as dit nie gebeur nie, sal jy . . . sal jy na my dogtertjie omsien?”

“Ek sal, oom. Ek sal ’n plan maak. Moenie bekommerd wees nie. Ek sal nou moet gaan, want suster het my gewaarsku om nie te lank te bly nie.” Hy neem weer die ou hande in syne. “As ek my dinge so gereël kan kry, sal ek nog sommer vanmiddag vertrek en gaan kyk hoe dit gaan. Gee my net die adres en beduie my die pad plaas toe.”

Op pad na oom Herklaas se plasie is Festus se gedagtes met verskillende dinge besig terwyl die kilometers onder sy motor se bande deurgly.

Eers dink hy aan oom Herklaas en die belofte wat hy gemaak het. Hy weet hy was oorhaastig, maar hoe weier ’n mens ’n sterwende se laaste versoek? Dit was veral die gedagte aan sy ouers en hoe hulle in hierdie omstandighede sou optree, wat hom so vinnig dinge laat sê het wat hom later miskien duur te staan kan kom. Maar weer . . . Die ou man was so pateties, sy oë so smekend; die tenger, uitgeteerde gestalte in die wit hospitaalbed so ontredderd en weerloos, so afhanklik van hom. Hoe kon hy weier?

Fronsend staar hy na die pad voor hom. Miskien kom oom Herklaas weer reg, herstel heeltemal. Dan het hy hom nou verniet sit en verknies. Miskien . . . Maar diep in sy hart weet hy oom Herklaas sal nie weer daar opstaan nie. Die belofte wat hy gemaak het, sal hy moet nakom.

Hy sug diep. Asof hy nie genoeg probleme in die vorm van twee beeldskone vroue het nie! Hoe kon hy, ’n vrygesel, belowe dat hy na oom Herklaas se dogtertjie sal omsien? Nee, daar sal ’n ander plan gemaak moet word as die toekoms bewys dat hy tog oor die wel en wee van oom Herklaas se kind moet besluit. ’n Weeshuis?

Hy voel diep bekommerd. Hy weet oom Herklaas sal nie van hierdie gedagte hou nie. Dis juis hoekom hy hom gevra het om na sy kind om te sien. Maar wat kan hy anders doen? Hy kan tog onmoontlik self vir die kind sorg!

Hy sug. Die beste is om liewer nie probleme vooruit te loop nie. Hy het op die oomblik genoeg probleme sonder dat hy dié in die toekoms ook nog moet byhaal. Die gedagte dat die kind alleen by die onbekende Poens slaap, staan hom reeds nie aan nie. Hy sal iets moet bedink, die kind by bure plaas tot tyd en wyl hy ’n ander plan kan maak.

Maar op die oomblik is oom Herklaas se dogtertjie die geringste van sy probleme. Zelda was woedend omdat hul afspraak vir vanaand gekanselleer is. Die storie van oom Herklaas se dogtertjie het sy duidelik nie geglo nie. Om heeltemal regverdig te wees, hy kon haar ook nie kwalik neem nie. Dit het vir homself, in sy eie ore, na ’n leuen geklink. Dat hy, Festus, skielik gaande is oor die kind van die man wat jare gelede in sy oorlede pa se tuin gewerk het, kan hy self amper nie glo nie.

Hy besef nou dat hy hierdie geleentheid aangegryp het om ’n bietjie weg te kom van die twee veeleisende vroue. Dit is net die geleentheid waarna hy gesoek het om ’n slag weg te kom. Weg van die stad, buite in die vrye natuur met oop ruimtes om hom, sal hy weer helder kan dink – dit is wat hy wil hê.

Hy draai by ’n hek in, hou stil. Dis laatmiddag en die armsalige huisie is geen vreugde vir sy argiteksoog nie. Dit is darem netjies gewit en uit die skoorsteen trek ’n rokie. Hy klim uit, kyk om hom rond en is halfpad op pad voordeur toe toe ’n gedierte om die hoek kom en op hom afstorm. Hy verstyf in sy spore. Hy is ’n liefhebber van honde, maar die ding wat hier na hom toe aankom, is nóg vis nóg vlees. Dis ’n groot hond – as dit ’n hond is – met slordige lang hare. Om die waarheid te sê, hy kan nie sweer die dier kom nie agterstevoor na hom toe aan nie. Die voor- en agterkant is ewe behaar en bebos en gekoek met klitsgras. Dis eers toe die dier met twee modderpote teen hom opspring en hom waterpas in die oë kyk, ten minste waar hy dink die oë tussen die hare moet sit, dat hy seker is watter kant is voor en watter agter.

“Siejy! Voert!”

Maar die gedrog met die honderd en twaalf verskillende soorte bloed in sy are, behou sy druk met die groot, harige pote op die netjiese hemp en ’n rooierige tong gee ’n nat sleepsoen dwarsoor die gesig voor hom.

“Siejy . . . jou vloekskater!”

Die twee paar oë wat hom verwonderd aanstaar, rek en dan glimlag die kortste van die twee wesentjies.

“Mag! Dis ’n mooie daardie! Ek moet hom onthou!”

“Poens! Jy het belowe jy sal nie weer lelik praat nie.”

“Ja, maar . . .”

“Voertsek, jou maaifoerie!” roep Festus uit.

“Oho! Die oom ken ’n paar goeies!” ’n Breë, bewonderende glimlag breek deur die swart strepe op die gesiggie.

Katryntjie stap vorentoe, kry die hond aan die nekband beet en begin trek. “Beauty! Af! Beauty!”

Skielik is Festus bevry van die onding, en hy kyk af op die ongelooflikste vuil mensie wat hy seker nog gesien het.

Ena Murray Keur 12

Подняться наверх