Читать книгу Ena Murray Keur 12 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Shirley Rossouw weet nie wat haar getref het nie. Toe sy haar kom kry, lê sy op die naat van haar rug terwyl ’n gedrog, iets uit ’n grilrolprent, wydsbeen oor haar staan, en vir haar lyk dit of die breë, oop bek gereed is om haar die fatale byt toe te dien.

Haar deurdringende, angsbelaaide gil bereik Festus agter sy lessenaar. Hy spring werktuiglik op.

Katryn en Poens staan verslae by die oop kattebak. Katryn wip soos sy skrik toe Festus se bulderende stem langs haar opklink.

“Beauty! Af! Kind, keer jou hond! Hy vreet haar op! Beauty!”

Beauty kry ’n skop op die sitvlak wat hom verbaas laat omdraai. Dan is Katryn en Poens by, en Katryn sit dadelik haar arms om die hond se nek en kyk verwytend op. “Hy het niks gemaak nie!”

“Niks! Toe nou maar, Shirley! Shirley! Jou taal! Hier is kinders by!”

Poens verdedig die hond met oorgawe: “Beauty het haar net gegroet!” Dan keer sy blik terug na die vrou wat deur Festus op haar bene gehelp word. “Mag, maar jy ken darem ook ’n paar goeies!”

“Poens! Shirley! Staak dit nou! Jy makeer niks nie. Die hond het jou net omgeloop. Poens! Katryn! Loop, en vat Beauty saam. Toe! Gee pad onder my oë uit!” Dan eers sien hy sy geamuseerde buurman se belangstellende blik en hy voel ’n rooi blos oor sy gesig vlek. Liewe aarde, wat moet die buurt van hom dink! Met min ontsag druk hy die vrou, wat nie meer so vreeslik deftig lyk nie, voordeur toe.

“Nie ’n woord verder van jou nie! Die mense sal dink dis ’n openbare kroeg hierdie. Bly stil. Ons kan binne verder praat,” sê hy met ’n gedempte stem.

En terwyl Festus al sy dae met sy minnares het, klou Katryn en Poens en Bes mekaar vas terwyl die trane oor hul wange rol.

“O, ek het lank laas so ’n spektakel gesien!” kreun Bes en die trane loop weer oor haar gesig. “Die kastige grênd juffrou lê daar met haar bene in die lug! Beauty moes lankal gekom kuier het!”

Katryn vee haar trane met die rugkant van haar hand af en vra: “Hoekom sê jy so? Hou jy nie van haar nie? Wie is sy?”

Bes snuif en haar glimlag verdwyn. “Een van die hope vroumense wat so agter my meneer aanloop. En dan moet jy weet sy hét ’n man. Maar jy kry mos ’n soort vir wie dit nie saak maak nie.” Dan beteuel sy haar. Dis seker nie reg dat sy haar meneer se privaat sake met die kinders bespreek nie. Maar dis so ’n verligting om haar mening ook ’n slag hardop te kan lug.

“Jy sê sy hét ’n man?” vra Katryn fronsend.

“Ja, maar . . . moenie dat meneer hoor ek het jou gesê nie. Dit het niks met ons te doen nie. Maar almaskie. Dis ’n goeie ding dat sy ’n slag onder die stof geloop is. Sy is gans te baasspelerig as sy hier kom. Wil mos nou die dag skoon vir my leer hoe om tee te maak. Verbeel jou! Nou toe, julle kinders. Bring julle tasse dat julle kan uitpak. Ek gaan solank aandete maak. Ek hoop net daardie vrou loop voor die tyd.”

Shirley sien op hierdie oomblik ’n sy van Festus Dumas se karakter waarvan sy tot dusver nie bewus was nie. Hy is so kil en ontoeganklik as kan kom.

“Jy kan nie ernstig wees nie! Dáárdie twee kinders hier by jou in die huis? ’n Mens kan met die blote oog sien hulle is totaal onopgevoed! Jy kan nie droom om . . .”

Festus weet nie wanneer laas hy hom so bloedig vererg het nie. Hoe durf sy Katryntjie ’n onopgevoede kind noem? Sy stem is ysig: “En ek kon netnou met die blote oor hoor – en my bure ook – hoe onopgevoed jý is!”

Shirley ruk haar asem in en verbleek, maar haar oë blits. Niemand het dit sedert sy Evert Rossouw se vrou geword het, gewaag om na haar agtergrond te verwys of net daarop te skimp nie. Sy kan nie dadelik dink wat om hom te antwoord nie. Sy het, toe sy so groot geskrik het, teruggeval op die taal wat sy gebesig het toe sy as kind vir haarself en haar regte moes veg. En soos die seuntjie vrypostig opgemerk het, dit wás ’n paar goeies wat sy kwytgeraak het.

Festus kyk haar met spleetoë aan en wonder wat hy ooit aan hierdie vrou gesien het. Hy moes van sy verstand af gewees het. Ten spyte van die diamantbehangsels en peperduur klere kan hy nou sien wat sy nog altyd was en is.

“Katryntjie is ’n sestienjarige kind wat in my sorg geplaas is, en sy gaan van nou af hier bly. Dis haar huis hierdie.”

“Moenie sotlik wees nie! Hoe kan jy alleen hier bly met ’n meisie van sestien? Hoekom het jy nie eers die saak met my bespreek nie?”

Festus voel skielik tam. Daar is openlike afkeer in sy stem: “Só ’n opmerking pas presies by jou. Ek kon amper haar pa gewees het. Sy sal heeltemal veilig wees hier by my en ek is nie bang dat my vriende dieselfde verkeerde gedagtes hieroor sal hê as jy nie. Hulle is gelukkig opgevoede mense.”

Sy spring op en as hy nie so woedend was nie, sou hy kon lag. Haar kouse hang vertoiing teen haar bene af en dit lyk regtig of ’n orkaan haar getref het. Maar haar stem is ysig – en gevaarlik: “Jy is daarop uit om my te beledig, nie waar nie, Festus? Maar dit sal jou niks baat nie. Ek sien deur jou hele plan. Hierdie skielike voogdyskap van jou is ’n poging om van my ontslae te raak.” Sy glimlag, maar sy lyk vir hom lelik. “Ek laat my nie deur ’n slonsige tienderjarige wegdryf nie. Jy sal aan iets anders moet dink.” Sy tel haar handsak op. “Hou jou dogtertjie gerus. Dis jý wat haar moet grootmaak, nie ek nie. Ek het niks met haar te doen nie. Sy verander nie sake tussen óns nie.” Sy kom nader. “Totsiens, skat. Ons sal mekaar een aand in hierdie week nog moet sien. Ek sal wag dat jy bel.” Sy stap deur toe, kyk terug. “Lekker kind grootmaak, my skat. Gee haar pedagogie as sy jou snags uit die slaap uit hou.”

Katryn sorg dat haar hand stewig om Beauty se halsband is toe die vrou weer haar verskyning maak. Sy kyk hulle aan asof hulle uitvaagsels van ’n ander planeet af is, dink Katryn vererg. Sy stap kop omhoog aan na haar motor en hulle kyk haar stilswyend agterna totdat sy vertrek.

Poens lug hardop sy mening terwyl hy die eerste tas uit die kattebak haal: “Sy is sommer ’n donnerse feeks.”

“Poens!” Festus het skielik langs hom verskyn en dit is duidelik dat sy humeur genoeg beproef is vir een dag. “Luister, mannetjie, as ek jou weer sulke woorde hoor sê, word jou mond met seep uitgewas. En ek bedoel dit! Verstaan jy, Poens?”

“Ja, oom.” Die oë is neergeslaan.

Katryn besluit hulle moet liewer maar vandag verder ligloop. Festus lyk regtig omgekrap. Sy waag dit om vinnig na hom op te kyk en sy wonder waaroor hy so ontsteld is – oor wat Poens kwytgeraak het of omdat sy vriendin baie duidelik nie ingenome is met die nuwe inwoners in sy huis nie?

Sy voel ongemaklik en diep ongelukkig. Dit was ’n fout om saam te kom hierheen, besef sy nou. Festus Dumas was in ’n ongemaklike posisie. Hy het haar pa belowe hy sal na haar omsien. Hy het geen keuse gehad nie. Maar sý moes nie toegelaat het dat hy die verantwoordelikheid aanvaar nie. Dis nie regverdig teenoor hom nie. Die nuwe verwikkelinge het – en gaan nog – sy hele lewe ontwrig. Soos met hierdie getroude vriendin van hom. Sy en Poens het klaar moeilikheid tussen hulle veroorsaak.

“Wat gaan hier aan?” Sy sien Festus oor ’n tas buk. “Wat loop hier uit? Iets het gebreek of iets is aan die lek hierin.”

Katryn tree vinnig nader. “O, dis seker my parfuum. Ek het dit seker nie goed toegedraai nie.”

“Jou parfuum?” vra hy verbaas. Hy sou nie kon dink sy gebruik parfuum nie. Hy frons, trek sy vinger oor die nat kol en bring dit na sy neus. Dit ruik allesbehalwe na parfuum! “Katryn, maar dis mos . . . Gits, dit ruik . . . aaklig!”

Poens hou sy kop laag oor die ander tasse, maar die gesmoorde geluid wat teen wil en dank ontsnap, laat Festus meteens hond se gedagtes kry. “Maak oop daardie tas, Katryn. Maak oop dat ons kan sien of jou . . . e . . . parfuum stukkend is.”

“Ag, oom, dis sommer goedkoop parfuum.”

“Katryn!” Hy neem die tas beslis uit haar hand, sit dit neer en knip dit oop. Pensie, verlig en dankbaar oor die uiteindelike bevryding, spring uit, gevolg deur haar ses kleintjies wat half dronk lyk ná die lang opsluiting.

Festus bedwing net betyds ’n “goeie een”.

Poens en Katryn staan doodstil, waag dit nie om op te kyk nie. Dan hoor hulle ’n ysige stem sê: “Neem daardie kat en haar kleintjies na die buitegebou en moenie dat ek een van hulle in die huis betrap nie. Ek draai sy nek om! Wat krap in daardie tas, Poens? Maak oop – dadelik!”

Poens het geen keuse nie, en die volgende oomblik is Romeo en Loffie ook vry. Romeo klap sy vlerke en knip sy oë teen die skielike lig en Loffie uiter ’n tevrede brom, bekyk die wêreld om hom en besluit die beste plek om die nuwe omgewing te bespied, is bo-op Festus se kop. Katryn red hom net betyds, anders sou Festus se plat hand hom vol getref het.

“Vat die ding weg, en hou hom weg!”

“Ja, oom.”

“Keer daardie ver . . . e . . . hoender, Poens! Hy skrop de laaste plant uit!”

“Ja, oom.” Poens moet Romeo soos ’n rugbyspeler op die aanval duik, en hy ploeg knieë en elmboë deur die grond. Natuurlik kom die kapokhaantjie die beste daarvan af en pyl reg op Festus af. Katryn staan hulpeloos met Loffie in haar hande en toekyk terwyl ’n skouspelagtige naelloop oor die groot grasperk plaasvind. Weer staak die buurman sy gepeuter aan die foutiewe grassnyer en kom loer oor die grensmuurtjie, en aan die ander kant kom die ou oom en tante nou ook op die been, die tee vergete op die tafeltjie op die stoep. Vandag gaan hier darem ongewone dinge in hul kontrei aan.

“Het jou!” Dis werklik ’n sierlike duik wat uitgevoer word, en met ’n humeur wat dreig om oor te kook, stop Festus Romeo in Poens se hande. “Vat hom weg, voor ek sy nek stomp afdraai.”

Poens neem haastig by hom oor en Katryn klou Loffie stywer vas.

“Het julle ooit klere saamgebring?” vra Festus kil.

Dis Poens wat verbouereerd antwoord: “Ja, oom. Ek het ’n ekstra broek en hemp en nog ’n onder- . . .”

“Ja, oom. My klere is in die ander tas,” antwoord Katryn ook vinnig.

Festus voel hy kan slange vang. Dat hy hom deur twee snuiters so om die bos laat lei! “Regtig? Is jy seker daar is nie ’n koei of ’n perd of ’n vark in nie?”

“Nee, oom.” Sy aarsel. Sy kan maar net sowel met die hele mandjie patats vorendag kom. Die meeste is tog al uit. “Daar is regtig klere in . . . en Snoefie, natuurlik.”

“Snoefie? En wie . . . of wat is Snoefie? ’n Krokodil miskien?”

Katryn buk, maak die tas oop en die meerkat spring op haar skouer. ’n Powere bondeltjie klere lê omgewoel in die tas.

Festus sug, vee met sy hand oor sy oë. As hy sy sonde nie ontsien nie . . . Intens bewus daarvan dat die bure aan weerskante alles met die grootste belangstelling staan en beskou, probeer hy sy stem so beskaaf moontlik hou en kners deur sy tande: “Neem hierdie diere na agter en kyk dat hulle onder beheer kom, en laat ons mekaar goed verstaan: As hulle een keer, een enkele keer, moeilikheid veroorsaak, word hulle almal van kant gemaak. Skoert!”

Hulle laat hulle nie twee keer beveel nie en hy gaan soek die salige privaatheid van sy studeerkamer op – die enigste plek in die huis wat hy seker van nou af net vir homself sal hê. Hy sak moeg agter die lessenaar neer. Mag! Die dekselse haan het hom laat hardloop! Hy is skoon uitasem! Dit wys net hoe onfiks hy die afgelope tyd geword het. Dis tyd dat hy meer aandag aan dié sakie gee.

Dan gaan sy gedagtes terug na Shirley wat haar neus so optrek vir Katryntjie. Sy streng gesig versag effens. Hy het tot dusver baie bedenkinge oor sy voogdyskap oor Katryn gehad, maar nou begin hy dit in ’n ander lig sien. Miskien gaan Katryntjie hom nog help om uit sy penarie te kom. Hy is seker daarvan dat Zelda ook nie van die nuwe verwikkelinge gaan hou nie, en dit pas hom uitstekend. Kom wat wil, Katryntjie bly hier. Terwyl hy haar help, kan sy hom ook help – al is dit onwetend. Die een hand was mos die ander, sê die spreekwoord.

Dat daar ook letterlik gewas moet word, is vir hom duidelik toe hulle eindelik aan tafel sit en twee paar handjies na hom uitgehou word.

“Poens, kyk hoe lyk jou hande! Gaan was hulle en . . . en sommer jou gesig ook. En kam jou hare. Dit staan orent soos ’n skropborsel s’n.”

Die ander paar is egter skoon en hy neem dit in syne, kyk na die uiters bedeesde gesiggie. Hy voel skielik skuldig. Dit was nie nodig om so ’n bohaai op te skop nie. Sy is nog maar ’n kind. “Ek hoop jy sal baie gelukkig wees hier, Katryntjie,” sê hy en hy glimlag toe die blou oë waaksaam na hom opgeslaan word.

Sy glimlag bewerig terug. “Is jy nie meer kwaad nie?”

“Nee.” Sy glimlag verdiep. “Hulle is nou hier. Dit sal nie juis help nie, sal dit?”

Haar glimlag verbreed en sy kyk hom verskonend aan. “Ek kon dit net nie oor my hart kry om hulle agter te laat nie. Ek is te bang hulle gaan dood of word nie goed versorg nie. Ek is jammer . . . oom.”

Hy knik, gee haar hand ’n drukkie. “Nou toe nou maar. Die saak is afgehandel.”

Poens neem weer sy plek in, kyk opsommend van die een na die ander en sien gou dat die vrede weer herstel is. Hy glimlag sy haasbekglimlaggie. “Dis oom se beurt om die seën te vra.”

“O . . .” Festus is bewus daarvan dat Bes in die deur tot stilstand gekom het en hy voel weer sy boordjie warm word. Tog, toe hy sy kop ’n oomblik later oplig, sien hy openlike goedkeuring in ou Bes se oë en sy sê met die vrymoedigheid wat jare van troue diens haar gee: “Dit laat ’n mens terugdink aan die goeie ou dae, nè, meneer?”

Hy knik glimlaggend. “Ja, Bes. Dit laat ’n mens terugdink. Gee aan jou bord, Poens.” Bes is amper by die deur uit toe iets hom byval. “O ja, Bes – ek het jou gesê Katryntjie is meneer Herklaas se dogtertjie?”

Groot oë word vir Bes getrek en die ouer vrou bedwing haar openlike verbasing. “Ai, nou is ek eers bly sy is hier by ons. Ek het jou pappa goed geken, Katryntjie. Hy was ’n goeie man. Én jou mamma. Om te dink jy is hul klein Katryntjie. Ai, ai, foei tog.”

Baie fluks help Poens en Katryn ná ete met die skottelgoed, maar dis nie om dowe neute nie. Bes moet so gou moontlik privaat gespreek word. Die misverstand in verband met haar ouderdom word omslagtig aan Bes verduidelik wat natuurlik dadelik gesnap het dat Katryn heelwat ouer is as wat Festus dink.

“Jy sien, Bes, dis maar net vir die skoolvakansie. Dan gaan ek en Poens terug. En dis nie ék wat gesê het ek is sestien jaar oud nie. Hy het dit sommer self besluit. Ek . . . ek was bang om sommer dadelik so alleen op die plaas agter te bly . . .” erken Katryn skuldig.

Bes klik haar tong simpatiek. Natuurlik verstaan sy. Sy mag al twintig wees, maar sy is ook maar nog bitter jonk; ’n wesie, alleen in die wêreld. En sy is meneer Herklaas se kind. Wat maak dit ook saak hoe oud sy is? Natuurlik moet sy en haar meneer hulle oor haar ontferm. Maar miskien ís dit beter dat haar meneer nie weet hoe oud sy rêrig is nie. Bes ken ook die lewe . . . en mense. Daar sal baie mense wees wat iets te prate sal hê as hulle weet wat is wat. En waarheen moet die arme wees haar wend?

“Dis alles reg, Katryntjie. Ek sal nie vir meneer Festus vertel nie. Laat hom maar dink jy is nog ’n dogtertjie. Jy lyk in elk geval soos een, so wat maak dit saak? My meneer het jou natuurlik nooit destyds gesien nie en dink maar jy was nog heel klein toe jou mamma en pappa van ons af weg is plaas toe. Maar ek onthou nog ons Katryntjie!” sê sy liefdevol.

Katryn se oë skiet onwillekeurig vol trane. Dierbare Bes! Sy kan haar ook nog vaagweg onthou en sy druk haar kop teen die moederlike ou bors vas. Sy weet dat sy van hierdie oomblik af op Bes se liefde en lojaliteit kan staatmaak.

Skoon gebad, gesiggies blink geskrop, verskyn hulle ’n rukkie later in die studeerkamer se deur. Festus kyk op en sy hart versag onwillekeurig. Hulle is maar net twee kinders. En kyk hoe pragtig lyk hulle soos hulle daar langs mekaar staan!

Hy frons liggies. “Poens, hoekom het jy nie nagklere aan nie?”

Poens, net geklee in ’n onderhemp en klaarblyklik ’n swembroek, lyk heel verontwaardig. “Ek slaap nie met nagklere nie. ’n Man slaap nie met nagklere nie. Dis vroumensgoed.”

Festus en Katryn wissel ’n glimlag. “Maar jy moet ten minste ’n kamerjapon aantrek,” sê Festus.

“Hy het nie so iets nie,” sê Katryn, en kyk teer op Poens se rooikop af.

“Dan moet hy een kry. Hy kan nie só hier rondloop nie. Ons sal môre kyk wat ons kan doen.” Sy vlugtige blik na haar kaal voete laat hom sê: “Jy het ook ’n paar belangrike items nodig.”

Katryn knik, voel weer skuldig. Sy het weliswaar nie ’n gebrek aan klere nie, maar met die klomp diere in die tasse was daar nie plek vir ’n verskeidenheid nie. Sy het net die nodigste saamgebring. Nou lig sy haar ken en sê: “Dankie . . . oom, maar ek hét klere. As oom regtig wil, kan oom vir Poens iets koop.”

“Ek wil g’n nog klere hê nie. Wat wil ek met so baie maak? Dan moet ’n mens weer heeldag was en aantrek . . .”

Weer glimlag hulle teenoor mekaar, en Festus laat beslis hoor: “’n Mens moet darem genoeg klere hê, Poens. En jy is nou in die stad, nie op die plaas nie. Hier by die huis rond maak dit nie saak nie, maar as ons êrens heen gaan, moet julle ordentlik aangetrek wees.” Hy frons. Dis nóg ’n onvoorsiene probleem. Hy sal Poens kan help, maar hy weet niks van vroumensklere af nie. Hy kan wel sien of ’n vrou smaakvol geklee is of nie, maar dis sover sy kennis strek. En soos hy Katryntjie opgesom het, weet sy beslis niks van modes af nie.

Hy trek sy skouers op. Dis ’n probleem vir môre. Van nou af sal elke dag genoeg aan sy eie kwaad hê. Môre se dinge moet maar vir môre bly, besluit hy wyslik.

Hy glimlag. “Wil julle ’n rukkie televisie kyk voor julle gaan slaap?”

’n Rukkie later sit hy ontspanne in ’n diep leunstoel terwyl die twee kinders by sy voete op die mat sit. Maar dis nie lank nie of die vaak oorweldig hulle. Poens val eerste om op die mat en van onder sy ooglede deur sien Festus dat Katryntjie ook ’n verlore stryd stry. Skielik sien hy haar swik en meegee en hy glimlag. Wanneer laas het hy so ’n rustige aand tuis deurgebring?

Sy oë is peinsend toe hy Poens optel en na sy kamer dra. Hy is selde saans tuis, en as hy tuis is, sit hy in sy studeerkamer en werk. Die televisiestel in die sitkamer was tot dusver omtrent in onbruik. As dit vir die twee plaasjapies vanaand ’n rare ervaring was om televisie te kyk, was dit vir hom ook amper iets nuuts om in sy eie huis te sit en ontspan.

Terug in die sitkamer staan hy ’n rukkie op die slapende gesiggie op die mat en afkyk. In haar slaap, een hand onder haar wang, die ander argeloos oor die mat gesprei, lyk sy kwalik ouer as Poens, dink hy met deernis.

Hy buk af, lig haar orent. “Katryntjie . . .”

“Hm?” Sy is net vaagweg bewus van hom. Sy het die afgelope nagte sleg geslaap, en om haar lewe te red, kan sy nie haar oë oopkry of haar swemmende brein iets laat inneem nie.

“Slapenstyd. Kom, meisie.”

Maar haar knieë knik onder haar toe hy haar orent het, en met ’n geduldige glimlag tel hy haar dan ook maar op. Sy is in elk geval nie veel swaarder as Poens nie.

Hy is net op pad deur toe toe hy gaan staan. Die vrou in die deur kyk hom met ’n strak gesig aan.

Hy kom in sy spore tot stilstand, en sy arms om die slapende Katryn verstewig spontaan.

“Is jy getroud oor die naweek?”

Hy frons verward. “Nee, natuurlik nie. Wat . . . wat bedoel jy?”

Sy glimlag soet. “Jy lyk kompleet soos ’n bruidegom wat sy bruidjie bed toe dra.”

“Moenie belaglik wees nie, Zelda. Dis ’n skone kind hierdie!”

“Jy het een woord korrek beet. Sy is ’n skone . . . hoewel bietjie jonk vir jou, nie waar nie?”

Hy kners op sy tande. “Waar kom jy so skielik vandaan?”

Weer die harde glimlaggie. “Glad nie so skielik nie. Ek staan al van netnou af en kyk hoe jy droomverlore op jou nuutste belangstelling staan en afstaar. En ek hét geklop, maar jou gedagtes was blykbaar elders besig.” Haar wenkbroue trek omhoog. “Gaan jy haar nie wakker maak en ons bekend stel nie? Ons het immers ’n gemeenskaplike belangstelling, nie waar nie?”

Hy pers sy lippe opmekaar, stap by haar verby en Katryn voel hoe sy op haar bed neergelê word. Dan hoor sy hom uitstap.

Sy kan sterf van skaamte en vernedering. Watter aaklige, nare vriendinne het Festus Dumas! As sy hy was, sou sy hulle nie eens met ’n tang aangeraak het nie!

Die oomblik toe Festus haar opgetel het, het sy in so ’n mate wakker geword dat sy wou begin protesteer, maar net toe het sy die sarkastiese vrouestem gehoor. Soos die gesprek gevorder het, het sy gebid dat hulle nie moes agterkom dat sy wakker is nie.

Die slaap bly haar nou ontwyk. Sy lê met oop oë in die donker, haar ore gespits vir elke woord wat uit die sitkamer kom, maar sy kan niks uitmaak nie.

Dit gaan oënskynlik baie beskaaf daaraan toe in die sitkamer. Maar daarmee misreken Festus Dumas hom glad nie. Al is hierdie vrou hóé verfynd, hy weet dat sy ewe vasberade is.

“Dit sal jammer wees as die koerante hierdie sappige storie moet beetkry,” sê sy.

“Wátter sappige storie?”

“Bekende filmster in die steek gelaat vir minderjarige dogter. Die publiek sal dit opslurp. Sensasie, jy weet? Jy weet mos hoe die mensdom is. Altyd gereed en oorgretig om ’n ander te kruisig. Aan my sal dit nie soveel skade berokken nie. Ek is immers die lydende party. Ek dink hulle sal nogal simpatie met my hê. Ek het wel my vyande, soos daardie miljoenêrsvrou uit die agterstrate, maar ek is nogal gewild by die publiek. En almal weet dat ek en jy die afgelope tyd dikwels saam gesien is. Die joernaliste het al gevra of jy die volgende meneer Zelda Duval gaan wees. Maar ek dink eintlik aan jou . . . Jy is beroemd en bekend. Maar daar is baie briljante mense in die wêreld wat nêrens gekom het nie omdat mense hulle nie ook kon respekteer nie. Dis verstommend hoe kwesbaar beroemde mense soos ek en jy eintlik is. Stem jy nie saam nie?”

Festus voel ’n koue rilling langs sy ruggraat afgaan. Hy voel net veragting vir die vrou hier voor hom, maar hy is nie ’n gek nie. Wat Zelda so pas kwytgeraak het, is waar. Mense soos hy ís baie kwesbaar. Hy weet van ’n kollega wat veral naam gemaak het met sy ontwerpe van kerke. Hy is van sy vrou geskei en daar was ’n smerige hofsaak . . . en daardie man soek vandag werk. Bekwaam, so bekwaam as kan kom, maar, soos Zelda tereg uitgewys het, mense het hul respek vir hom verloor.

Hy twyfel nie aan die egtheid van haar dreigement nie. Sy sál so ’n storie aan die pers vertel, en op so ’n wyse dat hy as die opperste skurk gebrandmerk sal wees. En dis nie net hy wat in dié gedrang is nie. Katryntjie se naam sal ook genoem word – ’n onskuldige kind, beswadder deur die tong van ’n listige, wêreldwyse vrou.

Hy dink vinnig terwyl hy na die beeldskone gesig voor hom kyk. Soos hy op hierdie oomblik voel, kan hy haar maklik wegjaag en laat kom wat wil. Maar hy durf nie. Hy durf nie toelaat dat Katryntjie in ’n skandaal betrokke raak nie. Hy sal nooit weer met sy gewete kan saamleef as so iets moet gebeur nie. Daarom het hy tyd nodig om ’n oplossing te probeer vind.

In die bed rol Katryn rusteloos rond. Sy is baie teleurgesteld in Festus. Hy het so gaaf voorgekom. Tot dusver was hy nog net goed vir haar en Poens. Maar hoekom het hy sulke hekserige vriendinne? Sy kan dit nie help nie – haar hart voel seer toe sy ’n ruk later ’n motor hoor wegtrek.

Sy en Poens moes nooit gekom het nie, besef sy opnuut. En haar pa moes Festus Dumas nooit gevra het om na sy dogter om te sien nie. Dit was ’n fout. En sy moes nie toegelaat het dat sy so baie van hierdie voog van haar begin hou het nie.

Ena Murray Keur 12

Подняться наверх