Читать книгу Ena Murray Keur 12 - Ena Murray - Страница 6

3

Оглавление

’n Ruk lank staan hulle net so: Poens koponderstebo, en hy met die rukkende klein lyfie in sy arms. Hy is magteloos om haar groot smart te temper. Haar pa is al wat sy op aarde gehad het. Nou is sy heeltemal alleen in die wêreld.

Ná ’n rukkie staan sy terug, vee met die agterkant van haar hand oor haar nat gesig waarop die trane duidelik in die maanlig blink.

“Jammer. Ek moes nie myself so verloor het nie. Verskoon tog.” Sy snuif hardop.

’n Teerheid wat hy nog nooit ervaar het nie, neem skielik van hom besit. Hy kry haar skraal pols beet en trek haar terug in sy arms. Die gedagte dat sy haar hart alleen in haar kamer gaan uitsnik, staan hom nie aan nie. Sy een hand streel oor haar kop. Oom Herklaas het gesê sy het al swaar gekry in haar kort lewetjie. Dié dat sy met sulke grootmenswyshede vorendag kom. Katryntjie is ’n kind wat deur armoede en swaarkry gebrei is. Maar sy bly ’n kind, en op hierdie oomblik is sy net ’n eensame dogtertjie, verdwaal in ’n smart wat te groot is vir die klein hartjie.

Hy haal sy sakdoek uit, hou dit teen haar neus en beveel sag: “Snuit.”

Sy gehoorsaam, en toe hy sy sakdoek terugsit in sy sak, kyk hy af op die gesiggie hier digby sy bors. “Katryntjie, ek is so jammer. Maar jy moenie bang of alleen voel nie. Jy is nie alleen nie. Ek sal vir jou sorg.”

Hy sien die blonde koppie skud. “Dankie, maar dis nie moontlik nie. Ek is niks van jou nie.”

Hy glimlag met deernis, en dis skielik seer in hom. So klein – en ook so trots! “Ek het jou pa belowe ek sal na jou omsien as . . . as hy iets moet oorkom.”

Maar sy skud weer haar kop, die oë moedig na hom opgehef. “Ek weet hy het dit goed bedoel, maar hy moes dit nie gedoen het nie. Jy is niks aan ons verskuldig nie. Dis nie reg . . .”

“Asseblief, Katryntjie! Ek wíl dit doen. Glo my, ek wil. Dink jy ek sal jou sommer net hier los . . . alleen?”

Sy kyk onseker na hom op. Die gedagte om alleen hier agter te bly is te veel om te verdra. Sy vrees die eensaamheid en alleenheid wat op haar wag. Die gedagte dat daar nie meer een enkele mens op hierdie aarde is wat sy hare kan noem nie, is ’n verskrikking. Sy ís ’n verdwaasde, bang kind op hierdie oomblik.

Hy vee die los hare weg van haar gesiggie. “Ons sal ’n plan maak, kleintjie. Jy sal nie alleen wees nie. Van nou af sal ek vir jou sorg. Kom, gaan maak vir ons ’n koppie koffie en dan moet jy en Poens gaan slaap. Môre is ’n besige dag vir ons almal.”

Sy draai gehoorsaam om, maar te bly dat iemand die leisels oorgeneem het, dat iemand anders vir haar dink. Haar oog val op Poens wat hulle besonder stil staan en aankyk, en sy weet intuïtief wat in sy koppie omgaan en dat hy ook met vrese in sy kinderhartjie staan. Spontaan gaan haar arms na hom toe uit en sy trek hom styf teen haar vas.

Dis of die selfbeheersing, wat hy met verbete vasberadenheid toegepas het, knak. “Gaan jy . . . gaan jy nou weg van my af, Katryn?”

Dis ’n kort, bang vragie . . . en haar hart pyn opnuut. Sy weet wat hierdie vraag beteken . . . ook vir die klein seuntjie.

“Natuurlik nie, Poens. Natuurlik sal ek nie weggaan nie.”

“Belowe?”

Sy kyk in die bang ogies af. “Ek belowe. Kom. Ons moet nou ingaan.”

Arms om mekaar stap hulle na binne en Festus kyk hulle agterna. Hy het die vraag gehoor – en die belofte. Dis ’n belofte wat nie gestand gedoen kan word nie. Katryntjie sal nie hier kan bly nie. Daar is geen ander uitweg nie – hy sal haar moet saamneem stad toe. En natuurlik sal Poens hier moet agterbly by sy eie mense.

Onder die besef dat sy eie lewe ook ’n skielike omwenteling ondergaan het en dat die patroon daarvan van hierdie oomblik af radikaal sal verander, volg hy hulle ná ’n paar oomblikke . . .

Maandagmiddag ná die begrafnis kry Festus Katryn eenkant terwyl Poens besig is om die diere te versorg.

Sy lyk vir hom ontstellend volwasse in die wit begrafnisrok. Die poniestert het verdwyn en haar hare is in ’n breë vlegsel agter haar kop vasgesteek. Hierdie vreemde mengsel van kind en grootmens tref hom diep. Hy weet dat hy nie sy rug op hierdie arme meisie mag keer nie. Dit is ondenkbaar dat sy op haar jare so weerloos en onbeskermd die lewe ingestoot word sonder dat daar iemand is wat na haar sal omsien. Hy sal nooit weer met sy gewete kan saamleef as hy dit toelaat nie. Nee, hoe hy ook al die afgelope dae planne beraam het, hy het elke keer net by een antwoord uitgekom – sy is nou sý verantwoordelikheid.

Sy betrap sy ernstige oë op haar, en sy verstyf. Sy is hom dankbaar vir al sy hulp en sy weet nie wat sy sonder hom sou gedoen het nie, maar sy besef ook dat hy vanmiddag nog, of dalk môre, sal teruggaan stad toe en dat sy alleen hier gaan agterbly. Sy sal oor haar toekoms moet besluit, en sy weet nie hoe nie, want dit is nie net sy wat in die gedrang is nie. Daar is Poens . . . Sy kan hom nie sommer uit haar lewe stoot nie. Sy het belowe . . .

Haar blik sak voor syne. Sy wil nie eens aan haarself erken hoe sy die oomblik vrees wanneer hierdie man hier sal wegry en sy alleen gaan agterbly nie. Daar is soveel groot besluite om te neem. Die plaas, byvoorbeeld. Dit was nog nooit juis winsgewend nie. Dit het net siel en liggaam aanmekaar gehou. Maar haar pa was gelukkig hier. Hy het niks meer van die lewe gevra nie. En hierdie plasie was haar veilige hawe. Sy het dit lief soos wat haar pa dit liefgehad het. Sy kan nie dink dat sy verplig gaan word om dit te verkoop nie; dat daar in die toekoms nie meer ’n Skaars-van-als sal wees waarheen sy sal kan terugkom nie. Haar blik dwaal om haar rond. Die huisie en die meubels . . . dis nie baie werd nie, maar dit was deel van haar – soos elke asemtog wat sy neem, deel van haar is.

Bekommerd rus haar blik op Snoefie wat by die deur ingewaggel kom. En wat van haar diere? Hulle was haar gesin, die broers en susters wat sy nooit gehad het nie. Hulle was haar geselskap in die eensaamheid. Onbaatsugtig het hulle hul liefde en getrouheid aan haar gegee. Hulle is afhanklik van haar. As die plasie verkoop moet word . . . wat gaan van haar diere word?

Sy kan nie, sy kán hulle nie verkoop of laat doodmaak nie!

Onbewustelik lig haar oë pleitend na syne en hy voel weer sy hart saamtrek. Watter probleme hy hom ook al op die hals haal, hierdie mooi kind kan hy nie in die steek laat nie.

“Katryntjie, het jy al . . . het jy al gedink wat van die plaas?” Hy sien die vrees in haar oë, en hy staan vinnig op, kom langs haar staan, sit ’n gerusstellende arm om haar skouers. “Dit hoef nie verkoop te word as jy nie so voel nie, kindjie. Wil jy dit maar liewer hou?”

“Asseblief!” Met swemmende oë kyk sy na hom op. “Ek kan nie nog daarvan ook afstand doen nie! Dis al wat ek . . . oor het.”

Hy knik, druk haar gerusstellend. “Nou goed. Ons hou eers die plaas. Ek het op die begrafnis met jou een buurman gepraat. Hy is bereid om een van sy werkers aan ons af te staan om ’n ogie oor alles te kom hou.”

Sy frons liggies. “Dis regtig nie nodig nie. Ek kan alles behartig met Poens se hulp. Dis in elk geval nou skoolvakansie, en dan is hy pal hier.”

Festus staal hom vir wat voorlê. “Jy gaan nie alleen hier agterbly nie, Katryntjie. Jy kom môre saam met my stad toe.” Die blou oë protesteer onmiddellik, maar hy hou sy gesig streng, ’n vasberade trek om sy mond. “Dit sal nie eens help om daaroor te probeer argumenteer nie. Ek het klaar besluit. Daar bestaan geen moontlikheid dat jy alleen hier op die plaas kan bly nie. Jy is ’n kind, en ’n meisiekind boonop.”

“Maar . . .”

“Geen maars nie. Jy moet solank jou goedjies gaan inpak. Ek wil môreoggend vroeg ry. Ek moet Woensdag op kantoor wees.”

“Maar jy verstaan nie . . .”

“Daar is niks om te verstaan nie – nie aan mý kant nie. Dis jý wat moet verstaan, Katryntjie. Jy is ’n kind van sestien. Dis buite die kwessie dat jy alleen op die plaas kan bly woon. Jy gaan saam stad toe. Dis afgehandel.”

Sy slaan haar oë neer. Met al die hartseer van die afgelope dae het sy totaal vergeet dat hierdie man nog altyd onder ’n wanindruk verkeer aangaande haar ouderdom. Maar sy glo nie hy sal sake in ’n ander lig sien as hy weet dat sy twintig en nie sestien is nie. Hy sal dit steeds as ongewens beskou dat sy alleen op die plaas bly. Sy frons diep. Miskien is dit beter om hom maar onder dié indruk te laat. Feit is, as hy nou uitvind sy is ’n jong dame van twintig, gaan dit hom in ’n groot verleentheid stel. Dis een ding om ’n dogter van sestien met hom saam te neem huis toe, maar ’n perd van ’n gans ander kleur om met ’n twintigjarige meisie daar aan te kom. Wat sal die mense sê? Dit sal dit vir hom onmoontlik maak om haar in sy huis onderdak te gee, al is dit ook net vir ’n kort rukkie. Mense is altyd geneig om verkeerde dinge te dink . . . En sy wil skielik baie graag met hom saamgaan. Die alleenheid hier sal haar mal maak. Dit is tog net tydelik – totdat sy oor haar pa se dood is. Maar wat van Poens?

Hy sien die kommer op haar gesig en vra sag: “Wat hinder nog?”

“Poens. Ek het hom belowe . . .”

“Dis onmoontlik, Katryntjie. Jy is darem al groot genoeg om te besef dat ons hom nie ook kan saamneem nie. Hy het sy eie mense . . .”

“Dis nou skoolvakansie. Dan net vir die skoolvakansie . . . asseblief!”

Hy aarsel. Miskien is dit ’n goeie idee. Sy sal maar baie alleen wees in die stad; wildvreemd en met geen geselskap van haar eie ouderdom nie. Sy sal beslis nie in sy vriendekring inpas nie. Miskien moet Poens tog maar eers saamgaan tot sy ’n kans gekry het om aan te pas by haar nuwe omstandighede.

“As sy ouers instem . . .”

Sy kyk hom verlig en dankbaar aan. “Hy het net ’n ma. Sy sal nie omgee nie.”

Hy knik gelate. Hy het reeds begin agterkom dat dit vir hom moeilik is om sommer vir Katryntjie nee te sê. Hy sal daarteen moet waak. Hy begin verstaan hoekom oom Herklaas die leisels in so baie opsigte slap laat lê het. Die kind het ’n manier om jou toegewings te laat maak wat jy weet nie die regte ding is nie. Soos met Poens. Hy voel onrustig oor hierdie nuwe wending. In die eerste plek is Poens nie goeie geselskap vir ’n meisie wat moet leer hoe om ’n dame te word nie. Die mannetjie se taal alleen laat ’n mens se nekhare rys en is beslis nie bedoel vir die ore van ’n sestienjarige dogter nie. Dat sy opvoeding veel te wense oorlaat, is seker, maar . . . Hy sug. Nou ja, hy het klaar ja gesê, maar in die toekoms gaan hy beslis strenger wees. Katryntjie gaan hom nie weer so maklik om haar pinkie draai nie. Hy het nou eenmaal verantwoordelikheid vir haar aanvaar en hy sal toesien dat daar in elke opsig reg aan haar geskied, ook met haar opvoeding.

Dan is haar hande skielik agter sy nek saamgestrengel en sy druk haar lippe vlugtig teen sy ken. Dis so hoog as wat sy kan bykom. Haar stem is sedig, maar daar is tog ’n glinstering in haar oë wat hy nie heeltemal begryp nie.

“Dankie, baie dankie . . . oom Festus . . . vir alles.”

Hy frons, voel half ontevrede oor dié nuwe titel. Hy maak haar hande los en beveel: “Nou toe, jy moet inpak en Poens moet sy goed gaan kry. Aan die werk. Ons het min tyd.”

Poens is baldadig van vreugde toe hy hoor hy kan saamgaan. Katryn kyk hom glimlaggend agterna toe hy kortpad deur die veld laat spaander huis toe. Arme ou seuntjie! Hy was so bekommerd en dit het kompleet gelyk of daar ’n lig in hom aangesteek word toe sy sê dat hy môre kan saamgaan stad toe.

Binne rekordtyd is Poens terug met ’n verslete tas en, op Festus se bevel, ’n brief van sy ma dat sy haar toestemming gee dat hy vir die vakansie kan saamgaan stad toe. Die armoedige tas laat Festus frons. Hy was nog nooit so naby ware armoede nie, maar hy besef dat hy hier beslis te doen het met gebrek aan oorvloed. Hy sou nog meer bekommerd gewees het as hy die inhoud van die tassie kon sien . . .

Katryn kyk die powere inhoud van die tas onseker aan. “Jy sal mos nie deurkom met hierdie paar goedjies nie, Poens. Jy moes darem nog so ’n ekstratjie saamgebring het.”

“Ek kan mos my klere was as dit vuil word, Katryn,” sê Poens heel optimisties.

Sy knik onrustig. As Festus uitvind dat hulle allesbehalwe klere in hul koffers het, gaan die hare waai. Maar wat kan sy doen? Sy weet dat sy verniet gaan vra of haar diere maar kan saamgaan, en hoe kan sy hulle hier agterlaat? Netnou word hulle nie goed versorg nie en as sy terugkom, is hulle dood of vergaan van honger. Blommie en haar kalf Blessie en arme ou Sjah, haar hondmak perd, sal moet bly. Maar ’n plan kan darem gemaak word met Snoefie, die meerkat, Pensie en haar kroos en Romeo, die kapokhaan. En met Loffie, haar mak duif, natuurlik. En dan is daar nog Beauty. Vir Beauty sal sy openlik en eerlik toestemming moet vra, en sy weet daar wag ’n stryd op haar. Maar sonder Beauty gaan sy nie van die plaas af nie. Sy pers haar lippe verbete opmekaar toe sy by die kamer uitmarsjeer op soek na Festus om die bul by die horings te pak. Poens bly agter om sonder enige gewetenswroeging met ’n skêr gate in die koffers se sykante te maak.

Sy kom reg voor Festus staan, hande agter die rug en hy lig sy wenkbroue vraend. Dis duidelik dat sy nuwe beskermling iets op die hart het.

“Oom . . .” Die stemmetjie is baie beleef en báie pleitend. “Oom, kan Beauty maar asseblief saamgaan?”

Hy frons, wil dadelik nee sê, maar daardie blou oë pleit so ernstig dat hy aarsel. Dan probeer hy verduidelik – soos ’n mens omslagtig aan ’n kind moet verduidelik. “Ek glo nie Beauty sal gelukkig wees in die stad nie, Katryntjie. Hy is gewoond aan die plaas waar hy ruimte het. Die erf in die stad is nie te klein nie, maar hy sal nogtans geknel voel. Ek dink ons los hom maar hier. Ek sal die buurman vra om goed na hom te kyk. Ons koop vir hom ’n sak hondepille en hier is mos melk vir hom. Hy sal net die gelukkigste hier wees, kindjie.”

Maar sy bly staan en tot sy ontsteltenis sien hy die blou oë vol trane skiet en die stemmetjie bewe. “Asseblief, oom.”

“Kindjie, luister . . .”

“Ek sal hom uit oom se pad hou, ek belowe! Oom sal nie eens weet daar is ’n hond nie. Rêrig, oom! Asseblief tog, oom!”

Hy sug. Deksels! As dit nog ’n hónd was wat sy wou saamneem, maar daardie gedrog . . . Hy kyk moedeloos na die skraal gesiggie waarin die twee pleitende oë soos pierings staan. Dan kapituleer hy maar. Die kind voel bang en onseker. Dis te verstane. En Beauty is darem iets bekends wat sy met haar saamneem. Dit sal haar miskien minder alleen en hartseer laat voel. Sy stem klink streng. “Nou goed dan, Katryntjie, hy kan maar saam, maar onthou jou belofte! Jy sorg vir hom en jy hou hom uit die pad.”

Soos ’n sonstraal breek haar vreugdeglimlag deur en die volgende oomblik word hy weer eens bedank met kinderlike spontaneïteit. Hy kry ’n klapsoen op sy wang.

“O, dankie, oom Festus! Baie dankie! Ek belowe!”

Sy dartel by die voorhuisie uit en hy kyk haar kopskuddend agterna. Hy sal moet leer om streng te wees en nie toe te laat dat die kind hom in die sak kry nie. Sy het al klaar twee groot oorwinnings behaal – Poens én daardie hond is nou onder sy dak. Maar nie ’n millimeter sal hy verder toegee nie. Katryntjie is beslis te lank toegelaat om te maak en te breek soos sy wil. Dis tyd dat sy onder hande geneem word, en dis nou sý plig. Liewe aarde, dit gaan geen grap wees om pa te speel vir ’n jong dogter nie. En tog is sy soms só volwasse dat hy hom oor haar verbaas.

Hy het in ’n ewige vrees gelewe dat hy tydens die begrafnis met ’n histeriese kind te doen sou hê, maar sy het net treurig langs hom by die oop graf gestaan, die gesig geslote. Dit het hom vreemd aangegryp om sulke selfbeheersing in so ’n klein mensie te sien. Al teken van die smart in haar was die manier waarop sy Poens se hand vasgehou het, só styf dat hy op die seunsgesiggie kon sien dit maak seer. Hy het sy arm vertroostend om die skraal skouertjies geslaan, maar sy het soos ’n laaistok bly staan en hy het haar later maar laat begaan.

Nee, daar is baie potensiaal in hierdie dogter van oom Herklaas. Sy moet net die regte leiding kry. Maar of dit aldag so maklik sal gaan, betwyfel hy. Sy hart het al ’n manier om te wil week word wanneer sy verstand hom vertel hy moet streng wees. Maar van nou af sal hy nie net vir Katryntjie nie, maar homself ook kortvat. Katryntjie gaan dit nie regkry om hom elke keer met pleitende, traanblink oë te oorreed nie.

Poens is uitermate fluks en behulpsaam toe die tasse motor toe aangedra word. Ook Katryntjie help oorgretig en Festus het nie eens nodig om ’n hand te lig nie. Hy voel ietwat verbaas dat Katryntjie glad drie tasse klere het, maar dit is net ’n vlugtige gedagte. Hy het haar die hele naweek, behalwe tydens die begrafnis, in niks anders as dieselfde ou halfvuil broek en los bloesie gesien nie. Maar sy sal seker nie anders wees as die res van haar geslag nie. Daar is in elk geval genoeg plek. Hy het maar net ’n naweektas saamgebring en Poens het net een verweerde klein tassie.

Katryntjie en Poens kyk verlig na mekaar toe hulle die kattebak se deksel toeslaan.

Festus het sy hande vol met Beauty wat dreig om deur die venster by die motor in te spring.

“Poens, gaan haal eers ’n ou kombers of ’n ding wat ’n mens oor die sitplek kan gooi. Hierdie . . . e . . . brak sal my kar se bekleedsel flenters krap met sy naels.”

Beauty is skoon verspot en dit is ’n hele debakel om hom van die voorste sitplek af agtertoe te kry. Teen hierdie tyd is Festus se hare deurmekaar, lê ’n stofstreep teen sy hemp af en is sy humeur maar kort. Hy sou die hond graag ’n paar gepaste woorde wou toevoeg, maar gedagtig aan Poens se skerp ore, is hy verplig om hom te bedwing en woordeloos die saak met Beauty uit te spook . . . iets wat geen hond haaraf maak nie, te oordeel na die manier waarop die brak hom vriendelik met ’n oop, nat bek van die agterste sitplek af toelag.

Poens kry sy sit langs Beauty en vol lag maar met ’n sedige gesiggie klim Katryntjie voor langs haar nuwe voog in. As Romeo hom tog net in toom wil hou en nie agter in die bak begin kraai nie!

Tot haar verligting sien sy die radio raak, en toe hulle wegtrek van Skaars-van-als, laat sy gretig hoor: “O, Poens, kyk, ’n motorradio! Ag, oom, sit dit aan dat ons kan hoor!”

Hy glimlag maar net en doen wat sy vra. Arme kind! Is ook niks gewoond nie.

“Jislaaik, maar dis grênd!” kom dit van agter af. “Draai dit harder, oom!”

Hy gehoorsaam maar weer en Beauty blaf uitgelate.

Een keer is daar ’n vreemde geluid tussen die musiek deur en Katryn kyk met groot oë agtertoe. Poens begin sommer hardop saam met die musiek fluit, totdat Festus ergerlik sê: “Asseblief, man! Jy laat my ore tuit!”

“Ag, ekskuus tog, oom,” laat Poens verskonend hoor, en Katryn draai haar gesig vinnig weg.

Gelukkig word die reis sonder verdere onderbrekings afgelê.

Poens se oë wil uit hul kasse peul toe hulle deur die stad ry en sy op- en aanmerkings moet selfs Festus laat lag. Dis die eerste keer in sy lewe dat Poens in ’n stad kom.

Toe hulle by die erf se hekke indraai, rek Katryn se oë. Dit lyk geweldig indrukwekkend, en Poens uiter hul gesamentlike gedagtes hardop in een woord.

“Demmit!”

“Poens!” Festus se stem is glad nie so streng as wat dit behoort te wees nie. “Hou jy daarvan?” vra hy dan glimlaggend na agter.

Poens sit kiertsregop en elke sproet op sy gesiggie lewe van belangstelling en verrassing. “Oom moet ’n ryk ou wees! Katryn, kyk, daar is glad ’n swembad met water in!”

“Ek sien.” Sy kyk sydelings na die man agter die stuurwiel. “Dis ’n gróót erf. Baie plek vir Beauty om rond te hardloop.”

Hy kyk vinnig na haar. Hy kon sweer sy was sarkasties! Dan laat hy dit maar daar en hou stil.

Poens en Katryn en die hond is uit nog voordat die motor behoorlik staan. Beauty, heel komplimenterend, soek die grasperk uit om sy ingenomenheid met sy nuwe verblyfplek al rollende te betuig. Dat hy in die proses ’n paar lelies sleg karnuffel, kan hy nie verhelp nie, maar Festus besluit hulle moet mekaar uit die staanspoor goed verstaan.

“Katryn, kyk daar wat doen jou hond! Luister, meisie, van nou af sal jy daardie affêre in toom moet hou. Ek gaan nie toelaat dat hy my tuin verniel nie. As jy hom nie in toom kan hou nie, moet hy aan ’n ketting vas.”

“Ja, oom. Nee, ek sal kyk na hom, oom. Ekskuus tog, oom.” Sy hardloop na Beauty en kry hom aan die halsband beet en sy raas binnensmonds: “Moenie jou so boers hou nie, hond! ’n Mens sou sweer ons is niks gewoond nie!”

“Ek sal die tasse indra, oom,” bied Poens weer hulpvaardig aan en maak die kattebak oop.

“Goed. Kom ons gaan net eers in dat julle jul kamers kan kry. O, daar is Bes.”

Bes staan haar en vergaap aan die toneel voor haar.

Festus verduidelik ongemaklik. “Bes, dis Katryntjie en dis Poens. Hulle sal vir ’n rukkie hier by ons bly. Kan jy hulle hul kamers wys?”

Bes se verslaentheid word begroet met twee breë glimlagge. “En dis Beauty, Bes. Hy sal nie byt nie.”

Bes skud haar kop verdwaas. Waar het haar meneer aan hierdie twee gekom? Dan glimlag sy skielik terug. Sy moet sê, dit sal nogal lekker wees om ’n slag weer lewe in die huis te hê.

Met die twee “kinders” aan weerskante van haar en Beauty ongenooid op hul hakke, stap hulle die huis binne.

In sy studeerkamer gaan sit Festus agter sy lessenaar. Hy staar bedremmeld voor hom uit. Noudat hy tuis is, weet hy nog minder of hy die regte ding gedoen het. Bes se verslaentheid het boekdele gespreek. Hy glimlag grimmig. Hy wil liewer nie dink wat sy vriende te sê sal hê as hulle van die nuutste verwikkelinge hoor nie.

Hy trek sy skouers op. Erger as kopaf kan dit seker ook nie gaan nie, en ’n mens kan altyd aan ’n ander plan dink as dit moet.

Hy is nog besig om telefonies met sy kantoor te praat, toe Beauty die dame na die voordeur aangestap sien kom. En hy ken sy maniere. Hy is gewoond om kuiergaste gul en met al die liefde van sy groot hondehart te verwelkom . . . en hy pyl op die deftige, niksvermoedende vrou af.

Ena Murray Keur 12

Подняться наверх