Читать книгу Ena Murray Keur 12 - Ena Murray - Страница 11

8

Оглавление

Dis lekker om weer ’n slag grootmens te wees en Katryn geniet die aand.

Johann is beslis ’n verliefde man toe hy haar weer by die huis aflaai. Hulle het ’n klomp maats van Johann by die fliek ontmoet en ná die fliek het hulle eers iets by ’n kroeg gaan drink, oom Festus se waarskuwing ten spyt.

Sy laat toe dat Johann haar ’n ligte soentjie gee en glip by die voordeur in.

Die lig brand nog in die studeerkamer en sy loer versigtig na binne. Dan glimlag sy en stap nader, haar oë teer. Hy het vir haar sit en wag – en aan die slaap geraak!

Haar blik dwaal oor die ontspanne gelaatstrekke en sy voel haar hart pyn. Hoe verskriklik lief het sy hom, en hoe verskriklik onmoontlik is dit nie! Dan steek sy haar hand uit en streel die hare weg van sy voorkop. “Oom Festus! Oom Festus!”

“Hoe?” Hy sit orent, duidelik die kluts kwyt.

“Ons moet gaan slaap.”

“O . . .” Hy vee oor sy hare, staan op. “Jy is terug. Die aand geniet?”

“O ja! Dit was heerlik!”

Festus frons. Dis nie nodig om so gaande te raak oor ’n doodgewone fliek nie! Hy vererg hom half. ’n Mens sou sê sy is niks gewoond nie. “Hm . . . Nou ja toe, kom ons gaan slaap.” Ná ’n tree gaan hy weer staan, kyk speurend op haar af. “Het Johann hom gedra?”

Sy kyk onskuldig in sy oë op. “Hoe bedoel oom nou?”

Hy frons kwaai in haar onskuldige oë af. “Jy weet wat ek bedoel. Het hy jou . . . e . . . lastig geval? Ek bedoel . . . e . . . gesoen en . . . so aan?”

Haar oë rek rond. “Haai nee, oom Festus! ’n Mens doen dit mos nie sommer al die eerste aand nie! Of doen oom dit as oom ’n meisie die eerste aand uitneem?”

“Nee, natuurlik nie . . . e . . . Gaan slaap!”

“Ja, oom. Nag, oom.”

“Nag, Katryntjie. O, Katryntjie . . .”

“Ja, oom?”

“Net ’n oomblik. Sê my . . . Jy begin nou met seuns uitgaan. E . . . jy ken mos darem die feite van die lewe, nè?”

Katryn kan gerus bars, maar sy trek haar gesig op ’n sedige plooi. Hy lyk so dierbaar ernstig en bekommerd . . . en ongemaklik! “Feite van die lewe? Watse feite is dit, oom?”

“Ek bedoel nou . . . e . . . die verskil tussen jou geslag en die ander geslag.” Sy bly half vertraag lyk en hy vervolg ongeduldig: “Ek bedoel dat daar seuns en dogters is en dat . . .”

“Maar natuurlik weet ek daar is twee geslagte, oom. Maar wat daarvan?”

“Maar jy ken darem seker die rede hoekom daar twee geslagte is?”

Dit lyk of sy ernstig daaroor dink. “Noudat oom dit noem . . . Ek het nog nooit só daaraan gedink nie. Hoekom is daar twee geslagte, oom?”

“Wil jy my sê jy weet nie hoekom nie? Het jou ma jou niks van die lewe vertel nie?”

“My ma? Maar ek was bitter klein toe sy dood is en Pappa . . . Wat moes hy my vertel het, oom?”

Dis ’n groot skok vir Festus. Natuurlik! Wie moes die kind die feite van die lewe geleer het? Sy was bitter jonk toe haar ma oorlede is en haar pa het haar juis so oorbeskermd op die plaas grootgemaak. Waar sou sy hierdie belangrike feite kon leer? Hy voel sy maag ’n draai maak. En hy het haar sowaar vanaand met ’n ervare seunskind laat uitgaan!

Hy gryp na die eerste verskoning waaraan hy kan dink. “Dis nou te laat om te praat. Gaan slaap maar eers. Ons kan later daaroor praat.”

“Goed, oom.”

Die volgende dag ontvang Katryntjie ’n geskenk van haar voog met dié ernstige woorde daarby: “Ek wil hê jy moet hierdie boekie met aandag deurlees, Katryntjie. En onthóú wat daarin staan. Dis van die allergrootste belang.”

“Goed, oom.”

Toe sy in haar kamer kom, bars sy uit van die lag toe sy die titel op die buiteblad lees: Wat moet ek my kind vertel?

Sy lees dit met aandag deur, soos sy beveel is. Die netelige saak word só briljant gehanteer dat Katryn daar en dan besluit om die boekie te bewaar. Eendag wanneer sy haar eie kinders het, gaan dit handig te pas kom.

Sy moet haar dartelende oë vinnig onder neergeslane ooglede verberg toe haar voog later die aand vra of sy al die boek deurgelees het.

“Ja, oom.”

“E . . . verstaan jy alles wat daarin staan?”

Eers is sy lus om hom weer te terg, maar besluit dan daarteen. Sy durf dit nie te ver dryf nie. Festus gaan haar in elk geval braai wanneer hy op ’n dag die waarheid uitvind.

“Ja, oom,” antwoord sy sedig, en Festus slaak ’n sug van verligting. Wel, Katryntjie is nou ingelig. Dit sal nie sy skuld wees as die kind verkeerd trap nie.

Maar hierdie gerusstellende wete is nie genoeg om die onrus in hom te laat bedaar nie, vind hy uit toe sy twee aande later genooi word na ’n partytjie. Feit is, duisende meisies het die feite van die lewe geken en tog nog verkeerd getrap. As dit met sy Katryntjie moet gebeur . . .

“Johann sal haar omstreeks sewe-uur kom kry,” hoor hy Pieter oor die telefoon sê, en hy keer vinnig.

“Dis nie nodig nie. Ek sal haar self bring.”

Pieter aarsel, grinnik dan verbaas. Festus klink nes ’n te streng vader!

“Moenie verspot wees nie, man. Johann kan haar kom haal. Festus, ou vriend, dit help nie om ’n kind te goed op te pas nie. Jy leer hulle dan net om skelm te wees. Vra my. Ek het drie.”

“Ja, maar . . . ek verkies om haar self te kom aflaai. Ek sal haar self weer kom haal ook wanneer ek dink dis tyd.”

Pieter Cilliers skud sy kop en glimlag geamuseerd toe hy die telefoon neersit. Festus Dumas en sy ooilammetjie het al ’n hele spottery in hul groep veroorsaak. Mense kan hul ore en oë nie glo oor die adolessente dogter waaroor hy soos ’n broeis hen waak nie. Festus Dumas nogal! Sy grinnik verdiep. Festus het omtrent ’n reputasie wat ander mense se dogters betref! Maar noudat hy self een het, sing hy ’n heel ander deuntjie!

Katryn is egter nie tevrede met die verloop van sake nie. Sy het gehoor wat hy oor die telefoon sê en kom nou voor hom staan. Sy gaan nie dat hy ’n gek van haar maak nie!

“Oom Festus, as oom my partytjie toe wil neem en weer daar gaan haal, dan bly ek net hier.”

“O so? En hoekom?”

“Omdat die ander my sal uitlag. Oom gaan ’n gek van my voor almal maak. Ek gaan nie as Johann my nie kan kom haal en weer terugbring nie.”

Sy swaai op haar hak om en stap kop in die lug uit, en Festus sug diep en swaar, staan en dink eers ’n oomblik fronsend en tel dan weer die telefoon op . . .

Toe Katryn later met die trap afkom, is Festus nêrens te sien nie. Bes vertel dat hy uit is. Sy voel diep teleurgesteld. Sy wou so graag sy reaksie toets wanneer hy haar sien. Vir die eerste keer lyk sy soos die vrou wat sy is. Sy het haar mooiste rok aangetrek, haar hare gewas en geborsel en volledig grimering aangewend. Bes slaan haar hande saam en daar is openlike bewondering in Johann se oë. Maar dit verlig nie die teleurstelling in haar nie. Sy wou gehad het dat Festus haar moes sien, en nou is hy weg. Seker weer na daardie ander man se vrou toe . . .

Met die besef dat die aand vir haar bederf is, stap sy saam met Johann motor toe . . .

Johann se ouers is ook vir die aand uit en die huis behoort aan die jongklomp. Hoewel sy die aand geniet, besef sy dat sy nie regtig hier inpas nie. Hierdie onbekommerde jongmense het nog selde, indien ooit, met die skadukant van die lewe te doen gekry. Op ’n baie redelike tyd dring sy daarop aan dat Johann haar huis toe neem, en vanaand wil sy hom nie toelaat om haar weer nag te soen nie. Sy kan in sy oë lees dat hy van plan is om die ligte nagsoentjie van die vorige keer ’n stap verder te voer, en sy glip vinnig by die motor uit toe dit tot stilstand kom en sê sommer daar op die inrit goeienag.

Weer wag daar teleurstelling op haar. Festus is nog nie tuis nie. Sy stap rusteloos deur die huis, sit ’n rukkie hier, gaan staan ’n rukkie daar, maar later, toe die horlosie se wysers na eenuur toe aanskuif, stap sy maar stadig op na haar kamer.

Sy gedra haar belaglik, raas sy met haarself. Hoekom sal Festus tog beïndruk word net omdat sy soos ’n volwasse vrou lyk? Sy sal altyd vir hom net ’n kind bly. Hy is buitendien ’n ander soort vrou gewoond. Hy sal haar nie eens raaksien nie. Sy is maar net ’n kaalvoet Katryntjie . . . en dis al.

Dis drie-uur toe sy haar kamerdeur hoor oopgaan en hom langs haar bed gewaar. Sy gee voor sy is vas aan die slaap en sy hoor weer die deur toegaan. Drie-uur in die oggend. Hy kan net van daardie vroumens af kom!

Hoe heftiger sy haarself wysmaak hy is nie één traan werd nie, hoe vinniger rol die trane . . .

Festus gaan sit agter sy lessenaar en staar somber voor hom uit. Hy verstaan homself nie meer nie. Wat makeer hom? Niks is skielik meer lekker nie. Kyk nou vanaand. Gewoonlik geniet hy sy klubaande baie. Hy is nie net onder die skoner geslag gewild nie. Mans hou ook van hom en hy kon in die verlede tot wie weet watter tyd van die nag aan die pret en praatjies deelneem. Maar hoewel hy hom teëgesit het en uit skone koppigheid tot hierdie tyd van die oggend gebly het, was daar in werklikheid vir hom niks aan die aand nie.

En dis alles Katryntjie se skuld! Hy was bekommerd oor haar. Geniet sy die aand? Raak die jong mans dalk klouerig? Drink hulle nie te veel nie? Is daar nie van hulle wat haar dalk by die deur probeer uitlok of, nog erger, met haar probeer wegry om op een van die gewilde plekke in die stad te gaan parkeer nie? Daar waar hý ook al geparkeer het? Die koue sweet het op sy handpalms uitgeslaan.

En natuurlik het sy vriende van die geleentheid gebruik gemaak om hom oor sy mooi “dogter” te terg! Hy kon later slange vang. Feit bly, Katryntjie is nie die dogtertjie wat hy aanvanklik gedink het sy is en wat hy aan die wêreld wil voorgee sy is nie. Dat daar reeds heelwat reperkussies oor hierdie saak in sy vriendekring is, het hy vanaand agtergekom. Die besef dat Katryntjie nie langer by hom sal kan inwoon nie, het hom soos ’n voorhamer getref. In sy hart het hy sy vriende as ’n bemoeisieke, bekrompe spul uitgeskel wat net altyd verkeerde gedagtes koester, maar teen wil en dank moes hy ook aan homself erken dat dit ’n ongewone situasie is wat tonge sal losmaak. Katryntjie is ’n jong meisie op die drumpel van die lewe en hy is beslis nog nie oor die muur nie. Tot elke prys moet daar gekeer word dat haar goeie naam in die gedrang kom. Want hy kan hom sy huis nie meer sonder haar voorstel nie. Hy wíl nie . . .

Katryn is in die tuin doenig toe daar ’n motor stilhou en haar oë word waaksaam toe sy sien wie die besoeker is.

“Oom Festus is op kantoor,” deel sy die vrou sommer dadelik mee.

“Ek weet. Ek het vir jóú kom kuier.”

Katryn is verbaas, maar sê niks daarop nie, en Shirley Rossouw vervolg: “Ek gaan met jou heeltemal eerlik wees. Festus weet van hierdie besoek, hoewel ons ooreengekom het dat ek jou dit nie sal laat agterkom nie. Maar ek gaan baie reguit wees.” Katryn staan en kyk haar maar net aan. “Jy moet besef dat jy oom Festus in ’n baie moeilike posisie geplaas het deur hier te kom bly. Jy is nie meer só ’n kind dat die mense nie sal praat nie. Oom Festus is tog nie ’n ou man nie. Sy goeie naam is op die spel. Mense het reeds begin skinder en ek weet nie of jy besef watter skade dit hom kan berokken nie. Jy kan nie langer hier bly nie, Katryn.”

Katryn sluk en kyk af. “Ek hét hom al gesê ek wil teruggaan plaas toe.”

“Maar jy het nie baie hard probeer nie, nè? Festus weet hy moet van jou ontslae raak, maar hy weet nie hoe nie. Hy is ’n man met ’n onwrikbare pligsgevoel. Hy glo hy kan jou nie toelaat om alleen op die plaas te gaan bly nie omdat jy ’n jong meisie is. Hier kan hy jou nie langer hou nie. Kan ons nie vir jou êrens werk probeer kry nie? Is daar iets wat jy kan doen?”

Katryn kyk strak op. Die feit dat Festus haar met hierdie vroumens bespreek het en haar hulp ingeroep het om van haar ontslae te raak, gaan soos gal in haar af. Sy lig haar ken op. “Ek het nog familie. Ek sal met hulle in aanraking kom.”

“Nou goed dan. Maar doen dit vinnig. Jy is in die pad hier.”

Katryn staan en kyk die vrou bekommerd agterna. Sy het al weer uit haar beurt gepraat. Natuurlik sal dié vroumens Festus vertel wat sy gesê het. Hy sal haar natuurlik nie glo nie, want waar sal sy nou skielik familie vandaan haal? Hy weet mos sy het nie.

Haar frons verdiep. Dit sal darem nou baie handig te pas kom as sy van êrens vandaan ’n familielid kan opdiep. Dit sal Festus Dumas dadelik onthef van sy sware verpligting, dink sy bitter. Haar oë word peinsend. Miskien kan sy tog ’n plan maak. Sy voel skielik opgewonde. Ja, sy kan altyd probeer. Miskien slaag dit nog. Dis tot daarnatoe as sy uitgevang word. Maar langer as wat absoluut nodig is, bly sy nie hier nie. Natuurlik kan die situasie dadelik opgelos word as sy Festus die waarheid vertel, maar weer kan sy nie genoeg moed bymekaarskraap nie. As dit moet uitlek dat Festus geensins ’n tiener gehuisves het nie maar wel ’n meisie van twintig jaar oud, sal niemand glo dat hy nie van die ware feite bewus was nie, en hy sal van ’n kant af beswadder word. Sy kan haar voorstel wat Shirley en daardie filmster te sê sal hê as hulle dít moet uitvind. Nee, al het Festus ook bloot uit pligsbesef opgetree, was hy baie goed vir haar. Sy durf nie toelaat dat sy goeie naam in die gedrang kom nie. Dis een ding om ’n Don Juan onder volwasse vroue te wees. Dis ’n ander ding om ’n onskuldige meisie by jou in die huis te neem. Dit kan ’n lelike skandaal afgee.

Net voordat Festus die middag huis toe gaan, kry hy ’n oproep.

“’n Juffrou Catherine Reynders wil met u praat, meneer.”

“Skakel maar deur, juffrou. Ja? Goeiemiddag. Ja, dis Festus Dumas wat praat.” Hy frons hewig. Die stem klink baie bekend. Wie . . .? “Ja? Herhaal, asseblief. U sê u is ’n niggie van Katryntjie? Waar kom u dan nou so skielik vandaan en hoe het u van haar uitgevind?”

Aan die ander kant sluk Katryn eers. Sy het ’n gevoel hierdie ding gaan nie werk nie, maar sy het nou eenmaal daarmee begin . . .

“Ek het navraag gedoen en toe by ’n plaas Skaars-van-als uitgekom. Hulle het my daar gesê Katryn is in die stad by u. Aangesien ek haar enigste familielid is, is dit vanselfsprekend dat Katryn na my toe moet kom. Ek sal dit dus waardeer as u die nodige reëlings sal tref en haar na my toe stuur.”

“Wag net so ’n bietjie, juffrou Reynders!” Festus vererg hom bloedig. Waar kom dié vroumens vandaan om skielik uit die bloute op die toneel te verskyn en bevele uit te deel asof sy al een is wat ’n sê het oor Katryntjie? Sy stem is beslis kil: “U kan nie verwag dat ek die kind sommer soos ’n pakkie na u toe moet stuur nie! Ek wil eers bewyse hê dat u is wie u sê u is, en dan sal die saak eers baie goed bespreek moet word. Ek sal haar nie sommer net so laat gaan nie. Die feit dat u haar niggie is, gee u geen reg oor haar nie. Inteendeel, Katryn se pa het haar aan mý toevertrou . . .”

Katryn pers haar lippe opmekaar. Dis glad nie dat hy gretig is om haar te behou nie. Sy weet dit tog. Dis skone koppigheid en sy misplaaste pligsbesef wat stroomop dwing.

“Dis natuurlik belaglik. Oom Herklaas was seker nie meer by sy volle positiewe nie. U is ’n ongetroude man, nie waar nie?”

“Wat het dit met die prys van eiers te doen?” is sy geïrriteerde weervraag. Hoe durf die vroumens beweer hy het die hele ding versin? “Ek verseker u dat oom Herklaas presies geweet het wat hy doen toe hy Katryntjie aan my sorg toevertrou het.”

“Is daar enigiets onderteken?”

“Nee. Wat bedoel jy?”

“Dan het u geen wettige reg op haar nie, meneer Dumas. Ek, as haar naaste en enigste familielid, het dan die reg op haar.”

Katryn moet die hoorbuis ’n entjie van haar oor af weghou soos hy aan die ander kant ontplof. “Dank jou die duiwel! Katryn gaan nêrens heen nie. Sy bly by mý.”

Katryn glimlag. Sy begin die speletjie geniet. Sy praat uit die hoogte. “U taal alleen oortuig my dat u nie die gewenste persoon is om na Katryn om te sien nie, meneer Dumas. U is waarskynlik ook ’n wolf in skaapsklere. Ek sal Katryn nie ’n dag langer by u laat nie. U sorg dat sy vanaand nog die trein haal.” Sy gee ’n adres op ’n plek wat hopelik ver genoeg is.

“Juffrou Reynders,” kom dit afgemete in haar oor. “Laat ons twee mekaar goed verstaan. Katryn gaan nêrens heen voor ek oortuig is dis tot haar beswil en dat sy onder behoorlike sorg en toesig sal wees nie. U klink nie vir my na die aangewese persoon nie.”

“O, regtig? Wat weet jy van my af om my sommer so te beledig?”

“Net soveel soos jy van my af weet om my sommer ’n wolf in skaapsklere te noem!”

Katryn glimlag. Hy klink regtig briesend. Maar sy besef sy sal betyds moet besin. Dit sal haar niks help om hom in die harnas teen dié juffrou Reynders te jaag nie. Dan sal hy haar nooit laat gaan nie. Maar sy wou hom graag terugbetaal omdat hy haar met sy vriendin bespreek het.

Sy gebruik ’n ander taktiek. “Ek stel dan voor dat Katryn eers ’n ruk by my kom kuier. Dan kan sy self besluit by wie sy verkies om te bly. Dit is tog redelik, meneer Dumas.”

Maar Festus voel nie meer na ’n redelike man nie. “Ek sal eers daaroor moet dink, juffrou. Bel my maar oor ’n dag of twee terug, dan kan ons verder praat. U sal my nou moet verskoon. Ek het nie langer tyd om met u te redekawel nie. Totsiens.”

Die telefoon klap in haar oor en met opgetrekte wenkbroue sit Katryn die hoorbuis terug op die mik. Toe sy ’n ruk later sy motor voor die deur sien stilhou, staal sy haar vir wat voorlê. Soos sy verwag het, word sy dadelik na die studeerkamer ontbied. Sy gesig lyk donker en ontevrede.

“Weet jy iets van ’n niggie van jou – Catherine Reynders?” val hy met die deur in die huis.

“O, Catherine? O ja! Wat van haar?” Dit verg al haar moed om hom vas in die oë te kyk.

“En hoekom het jy my nooit van haar vertel nie?”

“E . . . ek het nie gedink jy . . . oom sou belangstel nie,” hou sy haar onskuldig.

Sy frons is onheilspellend. “Katryn, jy het my goed laat verstaan jy is stoksielalleen op die aarde.”

“Maar Catherine is net ’n niggie. Ek het haar jare laas gesien. Ek het haar eintlik al vergeet.”

“Wel, sy het jóú blykbaar nie vergeet nie. Sy het jou nou skielik onthou, en sy is danig gaande oor jou. Sy verwag dat jy by haar gaan bly. Sal jy wil?”

Katryn aarsel. Dit klink so ondankbaar om dadelik ja te sê, maar wat kan sy anders doen? “Ja, graag, oom. Ons sal lekker maats wees.”

“Hoe oud is sy?”

Katryn plooi haar voorkop. “O, so . . . e . . . ’n entjie in die twintig, dink ek. Maar darem nog nie so oud soos oom nie.”

Hy kug en frons vererg. Katryn hoef darem nou ook nie te maak asof hy al met ’n kierie loop nie. “Wat doen hierdie niggie van jou?”

“O, sy verpleeg, dink ek.”

“Hm . . .” Hy frons peinsend. Hy voel amper teleurgesteld om dit te hoor. Iemand wat verpleeg, sal seker ’n verantwoordelike persoon wees. Hy sou verkies het dat sy ’n nagklubdanseres moes wees, dan sou hy rede gehad het om te weier dat Katryn na haar toe gaan. “Ek sal myself eers moet oortuig dat sy die regte persoon is, veral om die verantwoordelikheid van so ’n jong kind soos jy op haar te neem, voordat ek sal droom om jou sommer af te gee. Sy het voorgestel dat jy ’n rukkie by haar gaan kuier. Dan kan jy self kies by wie jy wil bly. Wat dink jy daarvan?”

“Ek dink dis ’n goeie voorstel.” Sy voel gemeen, maar omdraaikans is daar nie meer nie. Dit lyk of haar plan gaan werk! “As . . . oom bang is, dan kan oom vir haar sê dat sy en ek vir ’n rukkie op die plaas kan saamkuier,” stel sy versigtig voor.

Hy kyk verlig op. “Dit klink na ’n goeie plan. Ja, ek dink dit sal die beste wees. Ek hou nie van die idee om jou sommer net na haar toe te stuur nie. Ek weet nie wat haar omstandighede is nie. Maar as sy bereid is om saam met jou op die plaas te gaan kuier . . . Ek sal haar sê sodra sy weer bel.”

So word die saak beklink. Toe juffrou Catherine die volgende dag bel, is sy natuurlik dadelik te vinde vir die voorstel – tot Festus se verbasing, want hy het eintlik teenkanting verwag. Toe hy die telefoon neersit, is daar ’n diep frons op sy gesig. Hy kan nie van die gevoel ontslae raak dat iets nie pluis is nie. Hy kan egter nie dink wat nie. Hierdie verlore niggie het ’n bietjie skielik op die toneel verskyn, maar dis nie onmoontlik dat Katryntjie ’n niggie iewers op die aarde kan hê nie. Feit is, daar is maar min mense op aarde wat werklik géén familie het nie. En hul stemme klink so eenders! Nee, dié juffrou Catherine is seker maar Katryntjie se niggie, maar dit laat hom nogtans nie beter voel nie. As Katryntjie regtig by haar niggie wil gaan bly, kan hy kwalik iets daarop teë hê. Soos die slim niggie reeds uitgewys het, het hy geen dokumentêre bewys dat hy Katryntjie se voog is nie.

Na regte behoort hy innig dankbaar te wees vir dié familielid wat van nêrens af opgeduik het. Dit red hom uit ’n netelige situasie. Tog vind hy tot sy verbasing dat hy glad nie jammer is oor die netelige situasie nie. Nog minder hou hy van die idee dat Katryntjie weer net so uit sy lewe gaan stap as wat sy onverwags daarin beland het. Hy sal hom altyd oor haar bekommer, waar sy ook al mag wees. Hy wil dit nie aan homself erken nie, maar hier diep in sy hart hoop hy maar Katryntjie en haar niggie se plaasvakansie sal op ’n mislukking uitloop. Sy oë blink skielik geamuseerd. As Poens net sy deel sal doen en dié niggie op loop jaag. Miskien moet hy ’n briefie vir hom skryf en so ’n bietjie aanvoorwerk doen. Feit is, as Katryn verkies om by haar niggie te bly, sal Poens haar ook verloor. Ja-nee, hy dink hulle twee manne moet koppe bymekaarsit in hierdie saak . . .

Natuurlik is sy baie bly om weer plaas toe te kan gaan. Dis mos wat sy nog altyd wou gehad het, nie waar nie? Tog pak Katryn haar goedjies sonder enige geesdrif in.

Festus lyk besonder sedig toe hy later haar kamer binnestap. Hy kyk na die oop laaie en tas op die bed. “Jy lyk haastig om te vertrek.”

Sy kyk vlugtig op, laat dan haar blik sak. “Ek het nogal taamlik baie goed om in te pak,” maak sy verskoning.

“Ons kan maar môreoggend vroeg vertrek. Ek het my sake so gereël . . . Wat makeer?”

“Maar . . . neem Johann my dan nie met die bakkie nie? Hoe gaan ons al die diere in die motor kry?”

“Hulle het almal in die motor hierheen gekom,” sê hy beskuldigend.

“Ja, maar . . . Dis regtig nie nodig dat oom oom se werk om my onthalwe moet laat staan nie. Johann gee nie om om my . . .”

Sy kwaai frons laat haar stilbly. “Wat is dit met jou? Natuurlik neem ek jou plaas toe!”

Sy voel half paniekerig. Dit mag nie gebeur nie! Want dan gaan hy ontdek daar bestaan nie ’n Catherine Reynders nie! Sy móét hom van plan laat verander!

“Maar ek het klaar vir Johann gevra en oom Pieter het klaar sy bakkie gegee en . . .”

“Ek sal hulle bel en sê dis onnodig. Ek weet nie waar jy daaraan kom om reëlings sonder my medewete en toestemming te tref nie.”

“Maar . . .” Sy lig haar kop op. Sy het geen ander keuse nie. Sy sal hom moet kwaad maak. “Ek verkies dat Johann my neem.”

Sy oë vernou. “O so? Dís hoe die wind waai. Klaar verlief op die eerste ou kêreltjie wat vir jou glimlag. My liewe Katryntjie, Johann stel net in jou belang vir die vakansie. As hy terug is op universiteit, sal hy nie eens weer aan jou dink nie. Moenie jouself belaglik maak nie!”

Haar oë peul byna uit haar kop van verontwaardiging. “Ek is g’n verlief op Johann nie!”

“Dis so duidelik soos daglig. Jy loop deesdae met ’n sieklike kyk in jou oë rond en dis Johann voor en Johann agter. Nou sê ek vir jou – ek sal nie toelaat dat jy ’n gek van jouself maak nie. Daardie snuiter is gans te gevorderd vir jou. Jy is ’n blote kind. Ek het juis nie veel tyd vir die mannetjie nie. Hy gee my ’n kramp met sy grootmeneerhoudinkie.”

Katryn hyg na asem. “En weet jy wat gee mý ’n kramp?” vra sy parmantig. “Weet jy wat? ’n Klouerige pappatjie! Ja, dis presies wat jy geword het – ’n bemoeisieke ou pa wat my in ’n glaskas wil toesluit, en ek is nié die glaskastipe nie! As Johann my nie kan neem nie, gaan ek met die trein.”

Hy gee haar net een lang kyk en stap dan driftig uit. Sy kyk hom verwese agterna. Wat het haar besiel om sulke lelike, onware goed vir hom te sê? Maar dit was skrik wat haar so laat optree het. Hy het dus al agtergekom sy is verlief . . . en al wat hy kan dink, is dat sy op Johann verlief is. Om haarself te beskerm, sal sy hom maar so moet laat dink. Sy sal haar doodskaam as hy uitvind op wie sy werklik verlief is!

Die volgende oggend neem hulle styf van mekaar afskeid en sy kan kwalik die trane bedwing. Daar is nog iets wat Festus Dumas nie weet nie. Hulle sal mekaar seker nooit weer sien nie. Sy gaan ’n brief saam met Johann terugstuur. Nadat hy dit gelees het, sal hy sy hande met vreugde van Katryn Klem was. Sy sal vir haarself – en vir Poens – ’n toekoms moet uitwerk.

Ena Murray Keur 12

Подняться наверх