Читать книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеDit wemel op die groot internasionale lughawe van Madrid. ’n Bedrywige atmosfeer hang oor die mense wat óf pas van die een of ander uithoek van die aardbol aangekom het, óf reg is om na die een of ander uithoek van die aardbol te vertrek. Dis ’n kosmopolitiese versameling van tale en gesigte by een van die grootste lughawens op die vasteland van Europa. Hier, soos op alle groot internasionale lughawens, kom die wêreld se nasies bymekaar, en dis seker een van die min plekke op aarde waar hulle in so ’n ontspanne atmosfeer dieselfde lug inasem.
Die groot vliegtuie op die aanloopbane spog met die name van ’n stuk of twaalf verskillende groot lugrederye van oral oor die wêreld.
Willemien Heyns voel die opgewondenheid in haar opstoot. Hoewel dit nie die eerste keer is dat sy ook deel van hierdie prentjie uitmaak nie, is en bly die atmosfeer op ’n lughawe vir haar iets unieks, iets so anders as die gewone, dat sy haarself moet dwing om wêreldwys en ervare te lyk.
Maar die blink in haar oë kan sy nie wegsteek nie, en sy is onbewus daarvan dat ’n paar oë haar al ’n hele tydjie ongemerk dophou en geamuseerd elke wisselende gelaatsuitdrukking reg vertolk.
Sy merk eers die fyn waarnemer op toe haar blik terloops op hom val en sy ’n oomblik vas in die donker oë kyk. Verwarring flits oor haar gesig toe sy sien hoe geamuseerd hy lyk. Die bruin oë skiet ’n verergde vonkie na hom en met die pikante neusie effens in die lug, kyk sy vinnig weg. Maar dis of haar opgewondenheid skielik gedemp is, en sy is nou intens bewus van die oë wat haar bestudeer.
Sy draai na die man langs haar. “O, Ian, is dit nie wonderlik om te dink dat ons oor ’n paar uur, oor ’n enkele paar uur, terug in Suid-Afrika sal wees nie? Ek het die tydjie by die ambassade baie geniet en ek sal dit vir niks op aarde verruil nie, maar …” Sy lag effens verleë. “Ek is nou eenmaal ’n Suid-Afrikaner in murg en been en ek het ontsettend huis toe verlang. En hoe nader ons aan vertrek kom, hoe meer verlang ek! Foei! Arme Pappa en oom Martin sit seker al op die lughawe!”
Ian glimlag en druk haar terloops teen hom vas, iets wat die oë van die waarnemer nie ontgaan nie.
“’n Mens sou sê jy is ’n baba, Willemien, en nie al negentien nie!” terg hy en laat dan ernstig hoor: “Maar ek moet erken, ek is nou self haastig dat ons moet vertrek. Ek was nog nooit op hierdie roete nie.”
“Ja, ek is self nuuskierig om die vasteland van Afrika uit ’n ander hoek te sien. Ek is nou bly jy het daaraan gedink dat ons met ’n ander roete terugkeer Suid-Afrika toe. Om eerlik te wees, ek het nie eens geweet dat die Iberiese lugdiens ’n regstreekse vlug van Madrid na Johannesburg het nie.”
“Een van die landingsplekke is op die tropiese eiland Fernando Poo. Dis naby die kus van Nigerië en die Kameroen. Santa Isabel is die hoofstad van die eiland en is glo ’n paradysie op sigself. Met dié vlug sal ons dit alles sien.”
“O, en daaroor is ek baie bly,” lag Willemien, en weer sien die vreemdeling hoe haar oë skitter van opgewondenheid. “Jy weet mos dat ek ’n manie oor tropiese eilande het!”
“H’m.” Ian Crebbin kyk sy nooientjie glimlaggend aan. “Wel, Fernando Poo is die eerste wat jy gaan sien, maar dalk nie die laaste nie. Wie weet wat die toekoms alles inhou? Miskien wys ek jou nog eendag hoe lyk Hawaii en Tahiti.”
Sy skud haar kop laggend en lê dit in ’n teer gebaar teen sy skouer. Natuurlik is dit maar net drome, en drome sal dit bly. Ian is maar ’n junior in die diplomatieke diens en om veraf droomeilande te besoek, sal seker net ’n droom bly. Maar dit doen nie kwaad om te droom nie …
“Ek gaan gou ’n pakkie sigarette koop. Verskoon my,” sê hy en haar blik volg hom tot hy by die groot restaurant instap.
Vir die vreemdeling is dit duidelik dat die meisie baie verlief is, en sy oë vernou effens. Sy lyk ’n bietjie jonk vir haar vriend. Met die eerste oogopslag lyk die man byna haar ouderdom, maar vir die skerp oë wat hom ongemerk bestudeer het, is dit duidelik dat hy al ouer as dertig moet wees. En die meisie met die geesdriftige oë lyk nog soos ’n kind.
Daar is geen ringe aan haar vingers nie, maar as sy sý dogter was, sou hy haar beslis nie toegelaat het om alleen met hierdie man rond te flenter nie.
Die vreemdeling glimlag effens in sy enigheid. Waarom sal hy hom moeg maak oor ander mense se doen en late? Maar dis nogal ’n interessante manier om die tyd te verwyl terwyl hy wag vir die aankondiging dat sy vlug gereed is.
Sy blik dwaal oor die res van die mense om hom. Meteens verstyf hy en hy staar met strak oë na die twee mense skuins oorkant hom. Verbeel hy hom, of … ken hy daardie gesigte? Sy oë trek peinsend saam. Daar is soveel honderde gesigte in sy verstand ingeprent … Is die twee na wie hy nou kyk onder hulle? Hy wil net in sy gedagtes begin delf toe hy weer glimlag en doelbewus ontspan. Daardie tyd is verby, vriend, spreek hy homself stilswyend aan.
Onwillekeurig gaan sy blik terug na die meisie voor hom. Weer ontmoet sy oë dié van Willemien vlugtig, en weer kyk sy eerste weg. Op daardie oomblik kom die aankondiging dat die passasiers vir die vlug na Johannesburg oor Fernando Poo hulle by uitgang drie moet aanmeld.
Die vreemdeling staan op en begin langsaam aanstap. Toe hy agter Willemien is, sluit Ian hom weer by haar aan.
Hulle gaan staan in die ry, Ian voor Willemien. Reg agter Willemien neem die vreemdeling sy plek in. Hulle beweeg vorentoe en eindelik is al die formaliteite afgehandel en kan hulle aanstap na die groot staalvoël wat reeds met suisende motore op die aanloopbaan wag.
’n Sjarmante Spaanse lugwaardin wag hulle in en wys hul sitplekke aan.
Sonder dat Willemien dit doelbewus doen, merk sy op dat die vreemdeling twee rye agter hulle gaan sit. Maar onmiddellik vergeet sy van hom toe al die motore van die kragtige vliegtuig die een na die ander versnel word. Die waarskuwing kom dat alle veiligheidsgordels vasgemaak moet word. Die vliegtuig begin beweeg …
Die donker vreemdeling ontspan en begin weer met sy ou tydverdryf. Weer rus sy oë op die swartblink hare. Haar naam is Willemien, het hy gehoor … Pas nogal. Weer glimlag hy effens. Sy blik dwaal na ’n blonde vrou. Sy is mooi, nog jonk; baie duur en deftig aangetrek. Maar die mond is ietwat sinies. En die blou oë wat stip voor haar uitstaar, is hard. Peinsend trek die vreemdeling se oë saam …
Waar Lucia Cane stip by die venster uitstaar, is haar gedagtes bitter, haar bewegings senuweeagtig. Die paar weke van verposing is verby. Nou weer terug na daardie grafkelder, terug na daardie slaapkamer wat sy met ’n lyk deel … Hoe lank sal sy dit nog kan uithou? Hoe lank sal sy nog haar siel en haar jeug aan ’n ou man verkoop? Is dit die geld werd?
Toe sy twee jaar gelede met Julius getroud is, was hy reeds ’n man wat baie jare lank al vergeet het dat hy ook eenmaal jonk was; dat daar ook eenmaal lewenskragtige bloed deur sy are gebruis het. Maar sy het met hom getrou, want Julius Cane het geld gehad. Daarom kon hy haar mooi liggaam koop. Sy het toegelaat dat hy haar met harde munt koop, want hy was oud, sieklik, en so te sê sterwend. En wanneer hy dood is …
Maar dis nou al twee jaar … twee jaar dat sy wag dat hy moet sterf … en hy sterf nie. Een keer ’n jaar laat hy haar toe om oorsee te gaan, gee hy haar ses weke van vryheid, van grasie … wat sy ten volle benut. Dan lewe sy al die opgekropte hartstog in haar jong liggaam uit … want dit moet ’n volle jaar lank hou. Maar aan die einde van die ses weke moet sy terugkeer. Soos nou …
Die vreemdeling se donker oë rus weer op Willemien. Haar vriend het hom reggeskuif en is blykbaar besig om ’n uiltjie te knip. Tog is daar ’n ligte beweging in die vingerpunte teen sy voorkop wat verraai dat hy nie werklik slaap nie. Waaraan sou hy dink? Aan die voorgenome huwelik met Willemien? Maar waarom dan so senuweeagtig? Bang vir die toekoms en die ontmoeting met die aanstaande skoonfamilie miskien? Die vreemdeling tuit sy mond.
Ook Willemien rus teen die nekstut en hy kan sien dat haar oë toe is, maar aan haar asemhaling kan hy sien dat ook sy nie slaap nie.
Nee. Willemien slaap nie. Haar gedagtes is besig om rond en bont te spring. Eers dink sy terug aan die afgelope ses maande. Een van die personeellede by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Londen het skielik siek geword en ’n plaasvervanger moes gestuur word. Wonder bo wonder het sý die pos as tikster by Suid-Afrika Huis gekry. Haar pa het ingestem dat sy kan gaan omdat dit ’n tydelike pos was. En dit was natuurlik ook die rede waarom oom Martin ingestem het.
Die vreemdeling sien haar glimlag.
Liewe oom Martin! Vandat sy maar kan onthou, was Paps en oom Martin daar, die middelpunt van haar lewe, soos sy die middelpunt van hul lewens is. Haar pa was al bejaard toe hy getroud is. Haar ma is met haar geboorte dood. Tant Ellie, oom Martin se vrou, het haar as baba versorg. Maar toe sy haar verstand begin kry het, het tant Ellie verongeluk. Toe was dit net hulle drie – sy, Paps en sy vennoot en boesemvriend, oom Martin.
Die vreemdeling merk nou ’n ligte fronsie op die voorkop.
Nee, dis nie heeltemal reg nie. Hulle was vier … Markus was ook daar … oom Martin se seun. Hoe kon sy van Markus vergeet het? Maar dis nou al soveel jare dat hy uit hul lewens verdwyn het, dat niemand oor hom praat nie, durf praat nie … Maar dit is so dat Markus ’n baie belangrike persoon in haar kinderlewe was. Hy moes haar oppas – tot sy grootste ergernis!
Deur half geslote ooglede sien die donker oë weer eens ’n glimlaggie in die een mondhoek huiwer.
Ja, oom Martin se opgeskote seun het dit verpes om die dogtertjie op te pas, om haar oral met hom saam te sleep, al haar nuuskierige vrae te beantwoord en haar snipperige verklikkery te verduur.
En tog was sy baie lief vir hom. Hy het tyd gehad om met haar speelperdjie te ry en hy het baiekeer met ’n vuil seunshand ’n bietjie spuug oor ’n stukkende plek gesmeer en êrens vandaan ’n lekker opgetower om die trane verder mee te verdryf.
Want Paps en oom Martin, hoewel hartstogtelik lief vir haar en hoewel hulle haar tot in die afgrond bederf het, het selde týd gehad. Hulle was besige sakemanne, in beheer van ’n bloeiende maatskappy, Kampfer en Heyns.
Die man sien dat sy effens verskuif en haar kop gemakliker laat lê.
Vreemd dat sy nou aan daardie tyd dink. Dis so lank verby, voel dit vir haar. Só lank dat sy nie eens meer die skraal seunsgesig kan onthou nie. Wat sy wel op hierdie oomblik goed onthou, is hoe verskriklik sy gehuil het toe daardie seunsgesig skielik op ’n dag verdwyn het, sommer net weg was … Sy was in standerd een en Markus aan die begin van sy jongmansjare. Maar op ’n dag was Markus net nie meer daar nie …
Weer is daar ’n fyn fronsie tussen die donker wenkbroue. Haar botande byt effens op die onderlip.
Maar ’n kind vergeet gou. Markus se beeld het vervaag en later heeltemal verdwyn. In haar matriekjaar het sy haar pa eendag oor Markus gepols. Hy was ongeneë om op haar vrae te antwoord.
“Maar wat het van hom geword, Paps?” het sy aangedring, verward oor die geheimsinnigheid wat Markus en sy verdwyning omhul.
Sy onthou nog so goed haar pa se ontwykende blik; die peinsende, onpeilbare lig in sy oë toe hy eindelik geantwoord het: “Pa en seun het ’n geweldige rusie gehad, my kind. Oom Martin wou gehad het Markus moet by ons kom werk as die aangewese persoon wat eendag die leisels sou oorneem. Markus het net eenvoudig verseg en oom Martin het hom uit die huis gejaag. Markus het net … verdwyn. Soos jy weet, mag sy naam nie eens genoem word nie.”
“Maar wat het van hom gewórd?” Sy móés net ’n antwoord kry.
Haar pa het geaarsel, toe kortaf gesê: “Markus Kampfer bestaan nie meer wat oom Martin, my én jou betref nie, Willemien. Vergeet dat daar so ’n mens was, soos wat ek en oom Martin vergeet het dat ons ooit drome gedroom het …”
“Drome? Watse drome?”
Die ou man het wrang geglimlag en toe eerlik erken: “Soos so baie ouers maar droom, my kind. As my dogter nou eendag met jou seun trou … Jy weet, daardie soort ding. Dit sou so ideaal gewees het … jy en Markus …” Toe het hy hom ferm reggeruk. “Waarom praat ons tog oor hierdie goed? Dis tog so futiel. En wat laat jou juis vandag ou koeie uit die sloot grawe? Hy was al so te sê vergete …”
Sy het haar skouers opgetrek, half verleë erken: “Ek weet self nie. Seker maar … nuuskierigheid …”
Die vreemdeling sien hoe sy meteens onrustig roer.
Wat laat haar skielik nóú aan Markus Kampfer dink … duisende meters in die lug, op pad terug na haar vaderland, met haar aanstaande man langs haar? Haar aanstaande man …
Haar lippe versag in ’n mooi glimlag.
Ian … Hoe wonderlik het die lewe en die hele wêreld nie geword die dag toe sy Ian Crebbin ontmoet het nie! Sy het hom op ’n partytjie in Londen ontmoet. Dit was liefde by die eerste aanskoue vir haar. Dat almal wat die wêreldwyse Ian Crebbin geken het, ietwat verbaas was dat hy aan so ’n jong meisietjie aandag gee, het sy besef.
Vir die eerste keer in sy lewe het Ian Crebbin meer as net verbygaande belangstelling in ’n meisie getoon, het sy in die verbygaan gehoor toe twee kollegas haar eenkeer bespreek het. Dat dit haar ongekunstelde kinderlikheid is wat hom aantrek. Dat sy net ’n verfrissende verandering is. Aan dié praatjies het sy haar nie veel gesteur nie – dit was amper asof sy half gevlei wou voel.
Selfs op hierdie oomblik weet Willemien eintlik nie veel van haar aanstaande man af nie. Maar dit is nie belangrik nie. Sy is verlief, vir die eerste en die enigste keer, en dit is genoeg.
Toe haar ses maande in Londen byna verstreke was, was sy uitbundig van vreugde toe sy hoor dat Ian besluit het om saam met haar na Suid-Afrika terug te keer.
Haar drome het groter afmetings aangeneem. Ian is nog nie seker wat hy gaan doen wanneer hy in Suid-Afrika aankom nie, maar sy weet dat hy die man is wat die leisels uit haar pa en oom Martin se hande gaan neem. Sy weet hulle sal van hom hou en sy weet Ian sal eendag die bestuur van Kampfer en Heyns kan oorneem.
Droomverlore kyk sy voor haar uit. Die toekoms lyk rooskleurig, volmaak. Die feit dat Ian so ontwykend is oor sy verlede, is nie van belang nie. Wat maak dit saak wanneer hy uit Suid-Afrika weg is en wat hy al die jare gedoen het voordat hy in die diplomatieke diens begin belangstel het? Daardie dinge is die verlede. Dis die toekoms wat belangrik is.
Onwillekeurig kyk sy na die man langs haar, en sy frons liggies. Tog … tog is daar soms iets wat haar hinder. Verbeel sy haar dit of is Ian die laaste paar dae gespanne? Sy kyk hom stip aan. Ook nou, op hierdie oomblik, is sy kake opmekaar geklem, voel sy die spanning in sy arm aan wat teen haar druk. Is dit maar net haar verbeelding dat Ian onseker voel oor sy terugkeer na die land wat hy jare gelede verlaat het? Hy het geen familie meer in Suid-Afrika nie, het hy haar vertel. Sy ouers is intussen dood, en hy is eintlik heeltemal alleen op die aarde. Voel hy onseker oor sy ontvangs, bevrees dat haar pa en oom Martin hom nie sal goedkeur nie?
Sy glimlag en steek haar arm deur syne. “Ian …”
“H’m?”
Die vreemdeling sien hoe sy oorleun, hoe die man ook sy kop oorbuig … Die donker oë wat hul agterkoppe ongemerk dophou, vernou ’n bietjie … Dit sal ’n sonde wees …
Dan kry hy sy gedagtes onder beheer. ’n Gewete op so ’n laat uur van die dag? Wie is hy om … Weer keer hy sy gedagtes. Sy breë skouers roer onrustig en hy verskuif, kyk vinnig na agter, vas in ’n paar oë, kyk weg, laat sy blik ’n oomblik op ’n ander gesig rus, draai hom dan terug in sy sitplek.
Vir almal wat terloops na hom kyk, lyk hy ontspanne en rustig. Dit sal ’n fyn waarnemer soos hy self kos om die spanning in sy lenige liggaam raak te sien – in die spiertjie wat teen sy slaap spring, in die fyn trekkies om sy mond en oë.
Dis die gesig van ’n ervare man, ’n man wat in die bestek van ’n paar jaar ’n lang pad afgelê het. Nie ’n man wat sy innerlike op die mou dra soos die jong Willemien nie. ’n Man wat daarin geskool is om sy innerlike vir homself te hou, om nie eens onder die grootste druk, selfs op die oomblik van breekpunt, emosie te verraai nie … ’n Man wat die lewe ken, die harde lewe.
Lucia Cane het hom reeds in die lughawelokaal gewaar. Sy is ook ’n vrou wat die wêreld ken … Sy het die sterk gesig, amper te strak om aantreklik te wees, ’n oomblik beskou … en die ligte opwinding in haar gewaar. Nie dat sy gedink het dit sal enigsins help om oor hierdie donker vreemdeling opgewonde te word nie. Hulle sal immers net reisgenote wees. Oor ’n paar uur sal elkeen sy eie pad gaan sonder dat hulle eens mekaar se name ken.
Maar dit het nietemin nie voorkom dat sy die ligte ekstase gevoel het toe hul oë terloops ontmoet nie. Sy het hom dadelik geklassifiseer … die gevaartekens was almal daar. Hy is een van daardie soort mans wat ’n vrou, as jy jou gemoedsvrede wil behou, soos die pes moet vermy … iets wat sy nooit doen nie.
Hy is een van daardie soort mans wat ’n vrou heeltemal verstandeloos maak; jou verander in niks anders nie as ’n bondel hartstog en primitiewe begeertes. ’n Enkele intonasie van sy stem of ’n lang, diep, donker kyk van sy oë laat jou alles vergeet. Dat jy getroud is, dat jy beginsels het, dat jy ’n sekere kode het waarvolgens jy lewe, dat daar geskrewe en ongeskrewe wette in die beskawing bestaan. Alles, alles laat hy jou vergeet, behalwe … dat jy ’n vrou is …
So ’n man is hierdie vreemdeling, het die ervare, wêreldwyse Lucia Cane onmiddellik geweet … en sy het met ’n ligte suggie aan haarself gesê: Jammer dat ons mekaar vandag vir die eerste keer sien … Jammer dat ek hom nie ’n dag gelede, ’n week gelede, aan die begin van my vakansie ontmoet het nie … Of miskien is dit gelukkig vir my … want daardie soort man … hy neem alles … en gee niks …
Die vreemdeling roer weer sy skouers. Dis of die spiertjie al hewiger spring, so asof die spanningsdraad al stywer en stywer in hom trek. Sy oë is nou toe en sy gedagtes skarrel rond, dan hier, dan daar, net flitse uit ’n ryk en opwindende verlede …
Toe Willemien ’n keer omkyk, val haar blik op die vreemdeling. Sy sien sy oë is toe. Dit lyk asof hy slaap. Sonder dat sy weet hoekom, fassineer sy gesig haar … en anders as Lucia Cane, kan sy nie die gevaartekens sien nie. Sy kan hom nie uitken nie, maar tog … soos Lucia Cane, voel sy ’n ligte trilling deur haar gaan, voel sy iets in haar roer, ruk haar asem in haar keel … en sy weet nie hoekom nie, sy kan dit nie begryp nie. Dis nie opgewondenheid nie. Dis iets soos … vrees …
Op daardie oomblik maak hy sy oë oop, gryp hare vas … hou hulle vas …
Die paar keer dat hulle in die lughawelokaal na mekaar gekyk het, kon sy maklik wegkyk, want sy oë was kalm, geamuseer soos dié van ’n grootmens wat goedig oor ’n kind se opgewondenheid glimlag. Maar nou … Dis twee donker, broeiende oë met ’n onpeilbare uitdrukking wat haar blik vasgryp, en met die beste wil ter wêreld kan sy nie haar oë losskeur nie.
Hy glimlag meteens, maar ook sy glimlag is anders. Dis ’n trekking van die lippe, ’n siniese glimlaggie, maar die donker oë lag nie saam nie. Die glimlag verbreek die vreemde hipnose van die donker oë en Willemien draai haar kop vinnig terug. Dit voel vir haar asof sy bevry is uit ’n tronk waarin sy haar vir ’n nagmerrie-oomblik bevind het.
’n Ruk later skuif die vasteland van Afrika onder hulle in. Soos ’n groen juweel in ’n see van blou fluweel lê Fernando Poo, die tropiese eiland aan die noordelike weskus van Afrika, onder hulle – die eiland wat al besing is as “’n paradys in die son”.
Die vliegtuig het reeds hoogte begin verloor en Willemien, wat belangstellend na onder loer, sien dat die eiland oordek is met tropiese plantegroei en woude. Santa Isabel kom in sig, eintlik maar ’n groot dorp met ’n kenmerkend Andalusiese karakter. Die meeste geboue is in Spaanse styl. Daar is ’n pragtige katedraal en ander heilige plekke. Sypaadjies en stoepe geplavei in gekleurde teëls soos in die eg Spaanse dorpies aan die Middellandse See, is oral te sien.
Die eiland het groot plantasies en ook digte tropiese woude wat nog deur min mense binnegedring is. Dis ’n eiland wat hout, kakao en koffie uitvoer, maar dis ook ’n eiland wat in sy diepste wese nog baie onheile, nog baie primitiwiteit, verskuil hou.
Die drie dorpe van die eiland word deur teerpaaie met mekaar verbind. Die see om die eiland wemel van haaie wat jaarliks honderde inboorlinge grusaam vermink.
Die eiland is een van kontraste; stukkies van die oue en nuwe is inmekaar gevleg; die primitiewe en die beskaafde gaan hand aan hand. Willemien kyk op die naderende stukkie land van 800 hektaar af en besluit dis onbeskryflik mooi … ’n eiland in die son.
Op hierdie oomblik, toe die waarskuwingsliggies begin flits dat die veiligheidsgordels vasgemaak moet word, staan twee van die passasiers vinnig op. Die lugwaardin stap met ’n vriendelike glimlag nader om hulle te waarsku dat die vliegtuig besig is om te daal en dat hulle moet gaan sit.
Die donker vreemdeling spring soos ’n losgelate staalveer regop … maar hy steek in sy spore vas toe hy in die loop van ’n rewolwer vaskyk. “Gaan sit.” Dis ’n kortaf bevel in ’n onverbiddelike stem.
Die kaptein kyk verbaas op na die lugwaardin wat skielik in die deur van die stuurkajuit verskyn. Sy gesig verbleek toe hy die blink loop by haar elmboog eien en die vrees in haar donker oë sien.
Kaping.
Dis ’n besef wat onmiddellik deur almal op die vliegtuig se gedagtes skiet. Die onheil waarvan hulle al so dikwels in die koerante gelees het, is besig om met hulle te gebeur. Die vliegtuig word gekaap.
’n Vrou gil, ’n kind begin huil. Die een kaper se stem klap deur die beperkte ruimte waar hy stelling ingeneem het sodat hy almal onder oog kan hou.
“Julle sal niks oorkom as julle net kalm bly nie,” sê hy met ’n swaar Engelse aksent. “Julle sal toegelaat word om die vliegtuig veilig te verlaat wanneer ons op Santa Isabel neerstryk. Maar dit hang van julle self af. Een verdagte beweging, en …” Hy beweeg die loop van die rewolwer. “Ek sal nie aarsel om te skiet nie. Ek bedoel dit,” voeg hy by terwyl sy blik strak oor die rye dwaal.
In die stuurkajuit knik die kaptein sy kop magteloos. Wat anders kan hy doen as om te gehoorsaam? Die passasiers is sy eerste verantwoordelikheid. Hy durf niks doen wat hul veiligheid in gevaar sal stel nie. Gehoorsaam sein hy per radio die bevele oor na die beheertoring terwyl die vliegtuig al laer oor die lughawe sirkel en dan op die verste aanloopbaan neerstryk.
Toe die motore eindelik afgeskakel word, sak ’n doodse stilte neer. Ook oor die lughawe. Hierdie keer is daar nie die geskarrel van haastige voetstappe en voertuie wat die inkomende vliegtuig nader nie.
Uit die beheertoring kyk bekommerde oë na die vliegtuig wat nou bewegingloos, skynbaar sonder ’n beduidenis van lewe aan boord, staan en wag. Uit die vliegtuig staar die oë beangs en vol afwagting om hulp na die lughawegebou. Maar nêrens is daar ’n beweging te sien nie.
Die ultimatum word weer aan die beheertoring oorgedra. Die antwoord kom terug: ’n uur uitstel word gevra.
Dis ’n lang uur, sestig minute wat skaaf en vreet aan gespanne senuwees, sestig maal sestig sekondes, wat elk soos ’n ewigheid verbygaan. Niemand praat nie. Niemand mag sy of haar mond oopmaak nie.
Net in die stuurkajuit probeer die kaptein en sy medevlieënier nog ’n slag redeneer, soekend na ’n plekkie in hierdie soort mens se mentaliteit waar nog ’n greintjie menslikheid kan skuil … vergeefs. Dan raak dit ook daar stil.
Hulle wag.
’n Uur later kom die beheertoring deur. Nog uitstel word gevra. Nog ’n uur. Dit word teësinnig toegestaan. Maar net nog hierdie een keer, kom die waarskuwing uit die vliegtuig. Oor ’n uur moet die geld en ’n ligte tweemotorige vliegtuig gereed wees, of … Daar is plofstof aan boord. Dit kos net die druk van ’n knoppie om alles en almal die lug in te blaas. Dit kan bluf wees, maar … dit kan waar wees. Hoe kan enigiemand seker wees?
Noodoproepe word oor duisende kilometers oorgesein. Die Iberiese lugdiens word genader. Ook meneer Julius Cane van die Republiek van Suid-Afrika word verwittig dat daar ’n losprys te betaal is vir sy mooi jong vrou. Die passasierslys is goed nagegaan. Ook meneer Dirk Heyns word in kennis gestel dat daar ’n losprys op sy dogter se kop is. Die losprys is ’n aardige som … en dit moet binne ’n uur beskikbaar wees!
Die aardbol krimp in hierdie oomblikke. Binne ’n paar minute is die nuus in Europa. Nog ’n paar minute en die Republiek van Suid-Afrika ontvang die skokkende tyding – twee Suid-Afrikaners word as gyselaars aangehou op ’n gekaapte vliegtuig op die eiland Fernando Poo.
Dringende reëlings word getref. Vreemdelinge wat tot op hierdie oomblik nie eens van mekaar se bestaan geweet het nie, raak makkers wat saam stry teen die tyd.
Maar in die vliegtuig gaan die tyd oneindig tydsaam verby …