Читать книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Maar op hierdie oomblik dink Willemien nie aan reëls nie. Sy kyk nie ’n enkele keer om haar nie. Nadat sy haar hare deeglik afgespoel het, gaan lê sy op haar rug terwyl sy aan ’n oorhangende tak vashou sodat die stroom haar nie moet afdryf nie. Sy maak haar oë toe.

Sy moet meer aan Ian dink, op Ian konsentreer. Sy voel skuldig dat sy die afgelope dae so min aan hom gedink het. Hy behoort elke uur, elke oomblik in haar gedagtes te wees as sy hom werklik liefhet. Maar natuurlik het sy hom lief, dink sy driftig. Natuurlik is hy nog die enigste man in die wêreld vir haar. Natuurlik is dit verskriklik om daaraan te dink dat hy miskien nie meer lewe nie, dat sy hom nooit weer sal sien nie …

Om haar kabbel die rivier. Die stroom vloei egalig, want dit het nog nie werklik begin reën nie. Die stroom is op hierdie laatmiddag byna glad; so glad dat die geringste rimpeling duidelik gesien kan word.

Maar Willemien sien geen rimpeling nie, want sy konsentreer met alle mag op Ian se gesig. Op die dierbare gesig wat sy so liefhet en wat telkens verdring word deur ’n ander gesig wat sy met geweld op die agtergrond moet terugdwing.

Dieselfde rimpeling het Lucia ’n rukkie gelede vinnig uit die water laat padgee, want daardie rimpeling kan net een ding beteken … gevaar … dodelike, grusame gevaar.

Waar Lucia en Mark op die gras ontspan ná die dag se uitputtende staptog, is dit rustig en vreedsaam. Bokant hulle kwetter die kleurryke voëls. Om hulle hang die rankplante soos groen gordyne en sluit hulle af in ’n intieme hoekie.

Lucia se blou oë is donker van emosie. Nog nooit in haar lewe het sy ’n man meer begeer as hierdie vreemdeling nie. Aan haar maak dit geen saak wie en wat hy is nie. Die afgelope dae het die hartstog en verlange na hom haar byna rasend gemaak. Dit het ’n brandende vuur geword: hierdie man wil sy hê, nie net in wilde, ongetemde hartstog in hierdie tropiese oerwoud nie, maar ook wanneer hulle eendag hier uit is, wanneer hulle verplig sal wees om hulle weer by die beskaafde wêreld aan te sluit. Die onbekende Mark is die man wat sy vir die res van haar lewe aan haar sy wil hê, waar sy gaan, waar sy sit, waar sy slaap.

Vir die eerste keer in haar lewe het sy ’n man ontmoet om wie se ontwil sy bereid is om Julius Cane se miljoene op te offer net om in sy arms te wees. Die afgelope twee jaar was daar baie mans in haar lewe – veral wanneer sy jaarliks oorsee ontvlugting gaan soek het. Sy het almal wat die lewe op haar pad geplaas het, met albei hande aangegryp, sonder gewetenswroeging.

Maar elke keer het sy terugkeer na Julius Cane wat nog altyd die troefkaart in sy bleek, maer hande vasgehou het. Hy het geld, die een ding wat die mans met wie sy roekeloos rondgeflerrie het, haar nie kon bied nie, altans nie soveel soos wat Julius Cane haar kon gee nie.

Tot onlangs was geld Lucia se god. Selfs in die donker ure toe elke vesel in haar liggaam geroep het om ’n maat, het sy onthou van haar kinder- en jongmeisiedae, van die verskriklike armoede, die vernederings, die frustrasies, die verbittering en opstand. Nee, daar was geen man op hierdie aarde vir wie sy Julius Cane se miljoene sommer sou prysgee nie.

En toe, op ’n dag, in die lughawegebou van Madrid, het haar blik toevallig op ’n man geval … En die noodlot het ingegryp … en vandag, terwyl sy na die sterk gesig hier langs haar kyk, weet sy: nie eens Julius Cane se miljoene sal haar kan weghou van hierdie man af nie. Sy is bereid om af te sien van die vooruitsig om een van die rykste weduwees in Suid-Afrika te wees.

Maar heeltemal sonder geld sal sy ook nie kan leef nie. Want al het die vreemdeling niks anders as sy pragtige liggaam en sy jeug en sy hartstog om haar te bied nie, lê hier tussen die groen lower en baldadige plantegroei ’n bruin leersak …

“Mark, ek …”

“Netnou, Lucia. Ek moet eers gaan seker maak of alles veilig is by die rivier. Ek is nooit gerus as julle onder my oë uit is nie,” sê hy vinnig, en begin dadelik aanstryk.

Lucia se blou oë, wat ’n sekonde gelede nog geskitter het, verkil, verys. Terwyl sy sien hoe hy uit haar gesigsveld verdwyn, trek haar oë saam en tussen die skrefies blink ’n verbete, vasberade lig. Haar planne is agtermekaar en sy gaan baie beslis nie toelaat dat ’n meisietjie van negentien dit omvergooi nie.

Mark se houding teenoor Willemien is baie vaderlik, maar tog het sy al gesien dat hy na haar kyk met iets onpeilbaars in sy oë, iets wat haar ongerus maak. Sy het haarself al probeer wysmaak dat sy belaglik is om te dink dat Mark by ’n vrou soos sý sal verbystap na die kinderlike Willemien. Hy is tog ’n ervare, volwasse man. ’n Meisietjie soos Willemien sal hom tog nie aantrek nie. Nee, Willemien was heeltemal reg toe sy gesê het sy en Mark pas bymekaar; hulle is albei ervare, albei volwasse, albei mense wat die lewe ken …

Natuurlik is dit belaglik om benoud te voel omdat sy netnou vir Willemien in Mark se arms betrap het. Willemien se reaksie was ’n groot gerusstelling. Sy is nog dolverlief op daardie kêrel van haar. Lucia se lippe trek smalend. Hoe belaglik om Ian bo ’n man soos Mark te verkies. Nie dat dit háár nie pas nie. Inteendeel. As Willemientjie weet wat goed is vir haar, sal sy verlief bly op haar Ian Crebbin …

Maar Mark self … Sy roer onrustig. Dit het haar nog nooit so lank gekos om ’n man te oorwin nie. Teen hierdie tyd móét hy weet wat haar gevoelens teenoor hom is. Selfs Willemien, die klein snip, het dit al agtergekom. Hy weet dit dus, maar hy is besig om met haar te speel, besef sy met ’n skok. Ja, hy vermaak homself; hy kyk hoe ver hy haar kan dryf … en hy weet so goed soos sy dat dit juis sy effense terughouding is wat haar al sterker aanvuur, wat die vlam in haar al tot ’n hoogoond aangeblaas het.

Die feit dat hulle selde alleen is, bemoeilik haar pogings, want gedurig is sy bewus van Willemien se afkeurende oë op haar. Miskien is dit ook die rede hoekom Mark tot dusver nie veel reaksie getoon het nie, want die veroordelende oë van Willemien is altyd by.

’n Wrede trek lê nou op die lippe wat andersins so aanloklik lag. Ian Crebbin moet gou opgespoor word sodat hy sy Willemien kan besig hou.

Skielik bars die stilte om Lucia aan duisend skerwe, maar sy bly roerloos lê, ’n eienaardige uitdrukking van spanning en afwagting op haar gesig.

Willemien word uit haar somber gedagtegang geruk toe ’n waarskuwende stem digby haar op die oewer opklink. Sy voel hoe sy aan haar arm uit die water gepluk en ru oor die gras gesleep word. Die volgende oomblik word haar ontstelde gil deur ’n pistoolknal oordonder.

Sy lê wesenloos en kyk hoe die wrede kake skielik bokant die water oopsper, sien die rooi vlek al wyer om die afstootlike kop dein terwyl die stert wreedaardig deur die water klief en ’n stortreën oor haar en Mark laat spat.

Sy weet sy het die dood weer vierkant in die oë gekyk en besef dat sy met ’n sekonde aan ’n grusame dood ontsnap het, was dit nie vir die man wat nou teenaan haar sit asof hy haar met sy eie liggaam sal beskerm as dit nie anders kan nie.

Roerloos, met jaende asems kyk hulle hoe die massiewe, skubagtige liggaam sy laaste stuiptrekkings gee en dan stadig, soos ’n stuk stomp, deur die stroom meegesleur word. Op die oorkantste oewer kom grys skaduwees in beweging en vreemd grasieus gly die logge lywe in die stroom in. Daar is kos in die water …

Dis eers dan dat hulle hul oë van die water kan wegskeur en na mekaar kyk.

En vir die eerste keer sedert sy hierdie man leer ken het, sien sy dat hy sy onversteurbare kalmte kwyt is. Vir die eerste keer sien sy duidelike ontsteltenis in die brandende oë; voel sy die krampagtige bewing van sy groot liggaam teen hare … Meteens is daar ook ’n onbeheerbare bewing in die jong liggaam wat klam en warm teen syne lê terwyl haar oë asof deur ’n magneet vasgevang na hom staar.

“Willemien, in hemelsnaam, sal jy nie …?” Dan is dit asof daar iets in die groot man knak, asof ’n staalveer wat nie langer deur die ysere wilskrag vasgehou kan word nie, in hom losspring en hy soen haar. Wild, roekeloos, byna bruut. Sy arms trek die bewende lyfie styf teen hom vas.

Net ’n oomblik lê sy passief in sy arms. Dan, asof ’n vreemde mag groter as sy self van haar besit neem, sirkel haar arms om hom en soen sy hom soos sy nooit geweet het sy ’n man kan soen nie.

Dis asof selfs die natuur op hierdie oomblik van oorgawe sy asem ophou, want om hulle is dit stil, baie stil …

Die volgende oomblik klink Lucia se roepende stem tussen die struikgewasse op. Toe Willemien haar oë oopmaak, lê sy alleen op die gras. Sy sien hoe Mark vinnig in die rigting van Lucia se geroep verdwyn.

“O, hier is jy,” hoor sy Lucia duidelik sê. “Wat het gebeur? Ek het ’n skoot gehoor?”

“Daar was ’n krokodil …” antwoord Mark gedemp, asof hy nog nie heeltemal homself is nie.

Lucia laat ’n ontstelde uitroep hoor: “’n Krokodil! Jy wil tog nie sê … Willemien is … hy het …”

“Nee, ek was net betyds. Sy trek net gou aan.”

Willemien is besig om haar rok haastig oor haar kop te trek, toe sy Mark hoor sê: “Ek gaan kos soek. Bly julle twee bymekaar. En bly wég van die rivier af!”

Terwyl sy met bewende vingers die reeds vertoiingde rok toeknoop, is Willemien intens bewus daarvan dat Lucia haar doodstil staan en betrag. Toe sy eindelik verplig is om op te kyk, snak sy na asem. Soveel haat het sy nog nie tevore in ’n mens se oë gesien nie.

Tog glimlag die lippe, maar Willemien word nie om die bos gelei nie. Dis naakte haat wat uit die vrou straal. Sou Lucia gesien het wat gebeur het? ’n Verraderlike blos spoel oor die jong gesig.

Die blou oë sien dit en verkil nog verder, hoewel die glimlag breër word. “Jy is met ’n interessante speletjie besig, Willemientjie, maar ek dink nie jy besef hoe gevaarlik dit is nie.”

Spontaan trek die skraal skouers agteroor en sy dwing haar oë om kalm in die bloues terug te kyk. “Lucia, as jy dink ek wou met ’n krokodil speel, maak jy ’n fout.”

“Jy is besig om met iets gevaarlikers as ’n krokodil te speel, my liewe kind. Jy is besig om te speel met die hartstog van ’n volwasse man. Jy is te jonk daarvoor, Willemientjie. Jy gaan seerkry …”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie. En hou op om my Willemientjie te noem. Ek is nie twaalf jaar oud nie,” sê sy geïrriteerd. Haar selfversekerde woorde is net bravade. Sy ís bang, erken sy aan haarself. Sy is sedert ’n paar minute gelede ontsettend bang vir haarself, vir Mark … en nou ook vir hierdie vrou voor haar …

“Jy gedrá jou soos ’n kind van twaalf,” sê Lucia en die onheilspellende ondertoon in haar stem verraai dat sy verteer word deur jaloesie. Sy het beslis gesien wat tussen haar en Mark gebeur het, besluit Willemien. Wat het my makeer, vra sy haarself af. Wat het my makeer om myself so te vergeet in ’n vreemde man se arms?

Lucia beskou haar op en af en die jaloesie sied deur haar. Sy sien nog die pragtige liggaam styf teen dié van Mark; sien die bewende hande wat haar vasgehou het, die lippe wat honger oor die jong mond beweeg het …

Sy het versteen gestaan. Sy kon nie beweeg nie. Sy was vasgenael teen die aarde terwyl sy aanskou het waarna haar eie liggaam, haar hele wese gesmag het. En dit was besig om met ’n ander vrou te gebeur … met Willemien!

Sy was op daardie oomblik in staat tot koelbloedige moord. Maar gelukkig het ervaring haar beweeg om stadig te retireer, om te maak asof sy na hulle soek, hulle nie gesien het nie …

En nou kyk sy na die jong liggaam voor haar, en in ’n waansinnige oomblik kan sy vorentoe storm en daardie mooi liggaam vir die krokodille voer. Maar met ’n selfbeheersing wat bewonderenswaardig is, bly sy roerloos staan, bly die glimlag om haar lippe, bly die haat ingehoue in haar oë smeul.

“Moenie kwaad word nie, Willemien. Ek bedoel dit goed. Maar die feit bly dat jy jou werklik soos ’n verspotte bakvissie gedra. Ek moet erken, ek is teleurgesteld in jou. Jy is veronderstel om ’n verloofde meisie te wees, nie waar nie? Jy is veronderstel om mal van bekommernis oor jou verloofde te wees.”

Willemien kan haar net staan en aankyk. Sy het geen verweer nie. Maar vir die eerste keer in haar lewe kom sy agter dat aanval die beste verweer is en dat sy ook katterig kan wees. “Ja, Lucia … net soos jy veronderstel is om ’n getroude vrou te wees, nie waar nie?”

Roerloos gluur hulle mekaar aan, en met verbystering vra Willemien haarself af: is dit werklik waar dat ons besig is om oor ’n man te baklei? Ek is verloof en Lucia getroud. En ons twee is besig om te baklei oor ’n onbekende vreemdeling sonder van, oor ’n man van wie ons niks weet nie, ’n man wat ons ’n week gelede nie geken het nie. Het ’n oerwoudwaansin ons beetgepak?

“Moenie jou naeltjies vir my wys nie, Willemien. Jy is te onervare daarvoor. Ek is jammer dat jy my woorde in so ’n verkeerde lig sien, want eintlik wil ek net keer dat jy seerkry. Ek ag dit my plig om jou te waarsku.”

“Teen wát?”

“Sal ons maar die toneelspel staak, Willemien? Ons weet albei waarvan ek praat. Ek is jammer as ek nou wreed gaan klink, maar as jy dink dat jy die enigste vrou in hierdie oerwoud is wat Mark al geliefkoos het, maak jy ’n fout. Om die waarheid te sê, ons … hoe sal ek dit stel? … was ook besig toe hy skielik ongerus begin word en besluit het om eers te kom kyk of alles veilig is.”

Sy sien die skok en ongeloof in die bruin oë en vervolg, haar stem nou amper moederlik: “Mark is ’n man, Willemien, en as ’n meisie nakend in sy arms lê, sou elke man gedoen het wat hy gedoen het. Solank jy net besef dat dít die beweegrede agter sy soen was, is jy veilig. Moet net nie meer daarin sien as wat daar was nie … om jou eie onthalwe.”

Willemien besef dat sy heeltemal weerloos voor Lucia is. Dit kan sy nie ontken nie. Sy kan nie sê dat Lucia ’n spul leuens aan haar opdis nie, want Lucia en Mark was alleen.

“Dan wil ek jou ook sê dat ek en Mark in die toekoms gaan saamstap sodra ek van Julius geskei is. Mark behoort aan my, Willemien. Jy moet dit baie goed verstaan.” Sy glimlag nou goedig, klop die jongmeisie selfs liggies op die arm. “Konsentreer jy maar liewer op Ian Crebbin, kindjie. Julle pas beter by mekaar. Moenie jou hart in die oerwoud verloor nie, want jy sal dit nie saam met jou terug beskawing toe kan neem nie. Dit sal hier agterbly … en dit sal baie dwaas wees, nie waar nie?”

Verwese kyk Willemien hoe sy verdwyn, en in haar bars ’n storm los wat haar bewend op die gras laat neersak en haar gesig in haar hande laat verberg. Wanhopig trag sy om orde uit die chaos in haar te skep, probeer sy al die vreemde, tot nou toe onbekende emosies in haar uitsorteer. Hoe kon sy, hoe kón sy haarself so in die vreemdeling se arms vergeet het? Dit was ’n duiwelse betowering wat skielik oor haar verstand en sinne neergedaal het toe sy lippe oor hare sluit. Sy het alles vergeet behalwe dat elke spier in haar liggaam eensklaps intens van hom bewus was. Iets in haar het vir die eerste keer met soveel ontembare vuur geroer en gespartel om uit te bars dat sy selfs nou nog bewus is van ’n eggo daarvan in haar liggaam. Selfs nou, terwyl sy eerlik probeer verstaan en ontleed wat met haar gebeur het, deins sy terug om daaraan ’n naam te gee. Iets wat tot dusver nog net vir haar ’n woord was, het ’n lewende, werklike ding in haar geword met Mark se bewende liggaam teen hare …

Sy kreun soos iemand wat pyn het toe sy moet erken dat sy nie eens in die teerste oomblikke tussen haar en Ian naastenby iets ervaar het soos netnou nie. Sy was nog nooit in haar lewe so bewus van ’n man nie; so bewus daarvan dat hy ’n man en sy ’n vrou is … dat daar ’n rede vir die verskil is …

In die hart van dié groen, ontembare oerwoud het sy vir die eerste keer ervaar dat daar in elke mens, diep in sy wese, óók ’n ontembare oerwoud skuil. ’n Oerwoud wat deur min ontdek word; ’n oerwoud waarin die primitiewe loerend lê en wag; ’n oerwoud wat die beskaafde wêreld goed afgebaken hou … maar wat jou soms, in oomblikke van onverwagte openbaring, in oomblikke waarin die waaksaamheid verslap, meteens skokkend laat besef dat dit daar is en dat die kern van menswees deur die eeue heen eintlik nie verander het nie – dat mense nog maar net man en vrou is … niks meer … en niks minder nie …

Met ’n sidderende sug lig sy haar kop op en kyk na die plek waar die gras nog platgedruk lê. Maar dit was die verkeerde man wat die vrou in haar wakker gemaak het, wat die oerwoud in haar binnegedring het. Dit moes Ian gewees het, die man wat sy liefhet. Want sy het hóm lief. Natuurlik het sy Ian Crebbin lief! ’n Paar dae gelede nog was haar hele toekoms om hóm gebou. Sy weet wie hy is, wát hy is. Sy ken hom. Sy is veilig by hom.

Hierdie … ander man behoort aan Lucia Cane. Sy moet dit nie vergeet nie. Sy mag dit nooit weer vergeet nie!

Uiterlik lyk Willemien maar net soos altyd toe sy haar by die ander aansluit. Behalwe miskien dat sy bleek is, wat te verstane is. Was dit nie vir Mark se vinnige optrede nie, sou sy nie nou hier gewees het nie.

Maar innerlik, daar waar die speurende oë nie kan sien nie, is dit ’n vreemde Willemien wat werktuiglik hout begin nader sleep vir die nagvuur. As die man en die vrou wat haar ongemerk dophou, tot in haar wese kon sien, sou hulle nie die jong, onervare meisie van ’n paar uur gelede herken het nie.

Want hoe vreemd ook al, word ’n vrou dikwels binne ’n paar minute gebore; vind die rypwordingsproses by menige jong meisie binne enkele sekondes plaas; word die onervare tiener ’n volwasse vrou met die enkele swaai van die pendule van die tyd.

Soos die onbekende Mark gewaarsku het – die oerwoud leer jou jouself baie gou ken, wat jy is, wie jy is … waartoe jy in staat is. Binne ’n paar sekondes het Willemien meer emosies ervaar as in die hele negentien jaar wat verby is; het sy meer gelewe as al die jare van haar bestaan, en het sy meer ervaar.

Hoekom het sy juis op dáárdie betrokke vlug beland en hoekom is sy gedwing om na hierdie eiland in die son te vlieg?

Doelbewus dwing sy haarself om van die tropiese vrugte te eet, dwing sy haarself om haar kop op te lig en in die donker oë te kyk wat haar so stip dophou. Sy sê selfs met ’n glimlaggie: “Ek het jou nie bedank nie. Jy het weer ’n keer my lewe gered. Baie dankie.” Sy glimlag selfs teenoor Lucia. “Ek begin met jou saamstem. Ek is darem baie onverantwoordelik en kinderagtig, maar ek belowe ek sal van nou af my bes doen om minder ergernis te veroorsaak.” Weer kyk sy moedig na die man oorkant die vuur. “Nogmaals baie dankie, Mark.”

Haar glimlag word nie beantwoord nie. Inteendeel, die uitdrukking op sy gesig laat Willemien se glimlag verstyf.

Lucia trek haar oë op ’n skrefie.

Mark antwoord nie, knik nie eens sy kop in erkenning nie. Sê net kortaf: “Julle moet sommer dadelik gaan slaap. Van môre af gaan ek die pas versnel. Ons moet uit hierdie verbrande oerwoud kom.”

Nie een van die twee vroue sê iets nie.

Mark is natuurlik haastig omdat hy so gou moontlik met sy en Lucia se toekomsplanne wil begin. Hy is haastig om uit hierdie oerwoud te kom, want hy en die jong miljoenêrsvrou het planne van hul eie, planne wat nie háár of die arme ou Julius Cane insluit nie.

Sy slaap nie. Uur ná uur lê sy met toe oë en doen haar bes om egalig asem te haal sodat die stil gestalte aan die oorkant van die vuur nie moet agterkom dat sy wakker is nie. Teen middernag, soos dit die reëling die afgelope nagte was, maak hy Lucia wakker. Sy sal nou drie uur lank waghou en dan kom Willemien aan die beurt tot dit lig word.

Willemien bly roerloos lê. Sy hoor hoe Lucia opstaan, hoor duidelik hul fluisterstemme.

“Mark, ek wou nog gistermiddag met jou praat …”

Sy stem klink moeg. “Ons kan môre praat, Lucia.”

“Nee, Mark. Nóú. Wat ek wil sê, sal nie lank duur nie. Asseblief! Dis van die uiterste belang.”

“So? Vir wie?”

“Vir my … en vir jou.”

“O?”

“Ons kom nader aan die plek waar die geld afgegooi is, nie waar nie? Soos ek bereken het, moet ons min of meer van môre af in daardie gebied wees, of hoe?”

Daar is ’n kort verposing voordat hy antwoord, en nou klink sy stem meer belangstellend. “Ja. Wat daarvan?”

“Ek het gedink …” Haar stem klink nie so seker soos altyd nie. “As ons twee daardie geld in die hande kan kry … Dis baie geld.”

“Dis kleingeld vir ’n vrou wat getroud is met Julius Cane.”

“Maar ek gaan nie terug na Julius toe nie, Mark. Ek het vandag finaal besluit. Ek gaan nie terug na hom toe nie.”

Haar aankondiging hang swaar in die stilte om hulle.

“Jy moet baie goed dink, Lucia. Jou man is miljoene sterk, sover ek weet.”

“Ek het klaar gedink, Mark. Julius kan sy miljoene hou. Ek sal heeltemal tevrede wees met wat hier wag om opgetel te word. Selfs as dit gedeel word, is dit nog baie geld,” vervolg sy betekenisvol en weer lê die stilte smorend om die vuur.

“Ja. Selfs die helfte is ook nog baie geld.”

“Tog … as dit die volle bedrag bly, nie nodig is om gedeel te word nie, kan ’n mens soveel meer daarmee uitrig, nie waar nie?”

“Ja, dis logies.”

Sy lag saggies, seëvierend. “Ek het ook so gedink.”

Willemien hoor hoe hy hom uitstrek op die grond. “Ons praat maar weer wanneer ons die sak optel … as iemand anders nie voor ons daar was nie. Nag, Lucia.”

Willemien dwing die bewing in haar liggaam onder beheer. Skok, ongeloof en ’n gevoel van diepe teleurstelling oorweldig haar. Dan is hy nog ’n skurk ook!

Teen wil en dank kan sy die gevoel van teleurstelling in haar nie ignoreer nie. Sy weet hy kan roekeloos word, selfs genadeloos. Sy weet hy het ’n harde streep in hom, maar dat hy oneerlik sal wees, geld vir homself sal toe-eien wat nie aan hom behoort nie …

Nog meer as tevore verag sy haarself vir dit wat só ’n man in haar wakker gemaak het; dat sy hom selfs toegelaat het om haar te soen. Lucia het heeltemal reg gehad. Sy en Mark pas honderd persent bymekaar. Hulle is ewe beginselloos, ewe gewetenloos. Koel en kalm kan hulle planne beraam om bloedgeld wat nie aan hulle behoort nie, te deel en daarmee te verdwyn.

Om te dink Julius Cane het ’n groot som bygedra om die lewe en vrylating van sy jong vrou te verseker. En nou is daardie selfde vrou besig om planne te beraam om die geld te steel om met ’n ander man weg te loop. Wat meer is, Dirk Heyns het ook onmiddellik en vrywillig betaal vir sy dogter se lewe. Dis ook van háár geld wat hulle wil steel, háár geld waarmee hulle saam wil gaan lewe!

So iets sou sy van Lucia verwag het, maar … Sy byt hard op haar bewende onderlip en ’n kille vasbeslotenheid neem van haar besit. Sy weet nie hoe nie, maar Lucia en Mark gaan nie met daardie geld wegkom nie, dit sweer sy. Sy het op hierdie oomblik nie die vaagste benul van wat sy gaan doen om hulle te keer nie, maar dis ’n stille eed wat sy in hierdie middernagtelike uur teenoor haarself aflê: wat ook al gebeur, Mark gaan beslis nie vir die res van sy lewe met háár pa se geld in weelde leef nie. En dit nogal saam met Lucia!

As Ian net hier was … Nog nooit het Willemien so ernstig en opreg gebid dat Ian Crebbin nie dood moet wees nie, maar dat hulle hom nog sal raakloop.

Toe dit haar beurt is om wag te hou, staar sy met somber oë in die vuur, onbewus daarvan dat sy stip dopgehou word en dat haar wisselende gesigsuitdrukkings fyn bestudeer word. Toe Willemien opkyk, staan hy voor haar.

“Willemien …” Toe sy nie antwoord nie, maar in die vuur bly staar, praat hy verder. Sy probeer so hard om uiterlik kalm te lyk dat sy nie die onseker toon in sy stem hoor nie. “In verband met gister …”

Pynlik skiet die rooi gloed in haar wange op. “Jy bedoel die krokodil?” Hemel, kan ’n mens werklik so kalm klink as alles in jou kolk en kook, wonder sy half verslae. “Ek verseker jou ek sal dit nooit vergeet nie. Jy kan daarvan seker wees dat my pa jou rojaal sal vergoed. Dit was nie die eerste keer dat jy my lewe gered het nie.”

“In hemelsnaam, ek praat nie van die krokodil nie!” Dis duidelik dat hy net betyds daaraan dink om fluisterend te praat.

Koel draai sy haar oë na hom. “O? Waarvan praat jy dan?”

Lank hou hy haar blik gevange en sy weet nie waar sy die krag vandaan haal om hom in die oë te bly kyk nie.

Dan sug hy meteens, sy fluisterstem koud: “Ek sien. As jy sit en wag dat ek jou om verskoning moet vra vir my … gedrag, gaan jy lank wag, Willemien.”

“Ek …”

“En as jy my nog een keer bedank dat ek jou lewe gered het, of ooit weer vir my ’n beloning daarvoor aanbied, breek ek jou nek! Ek stel nie in jou óf jou pa se geld belang nie.”

“Nee, natuurlik nie. Jy sal mos binnekort genoeg van jou eie hê, nie waar nie?”

Eers toe sy sy oë sien, besef sy wat sy gesê het, besef sy dat sy haarself in ’n oomblik van woede en teleurstelling verraai het. En wat sy nou in die gloed van die vuur in sy oë lees, laat alles in haar versteen van vrees, want nog nooit, nie eens in sy grootste woede, het sy sy oë so boosaardig sien blink, daardie mond so wreed sien inkeep nie.

Ena Murray Keur 18

Подняться наверх