Читать книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray - Страница 9
6
ОглавлениеLank, baie lank, kyk hy net na haar. Toe staan hy op en onwillekeurig gaan haar hand uit om hom te keer. Ondanks al haar goeie voornemens, is dit nou vir haar dringend noodsaaklik dat hy vir haar sê hy is nie van plan om aan Lucia se plan deel te hê nie.
“Mark …”
“Ja?” Sy stem en sy gesig is ongenaakbaar.
Die bruin oë kyk pleitend na hom, maar eindelik laat sy haar blik sak en skud haar kop woordeloos. Sy het gedink hy het lankal weer gaan lê toe hy naby haar praat. Dié keer kyk hy nie na haar nie. Hy kyk na die sterwende vuur; die ligte skemering verraai dat nog ’n nuwe dag in aantog is.
“Gistermiddag het ek gedink jy het eindelik grootgeword. Maar jy het nie. Jy ken jouself nog nie.” Skielik kyk hy weer na haar. “Jy is nog ’n kind, ’n kind wat verdwaal is in ’n vreemde oerwoud.” Sy stem verander skielik, klink byna teer. “Antwoord my op net een vraag, sal jy?”
Die bruin oë kyk hom openlik bevrees aan, tog knik sy stom.
“Hoeveel beteken Ian Crebbin werklik vir jou?” Toe sy hom net sit en aankyk, skiet hy die volgende vraag op haar af: “Is dit nog ’n dringende behoefte by jou dat ons hom moet raakloop, dat hy nog moet lewe?”
Sy kyk vinnig weg, want sy weet sy sal hom nie kan antwoord solank sy in daardie deurdringende oë kyk nie. “Ek … natuurlik! Ons is verloof. Hy is die man … die man met wie ek gaan trou … as hy nog lewe.”
“Wíl jy nog met hom trou?”
Haar asem ruk in haar keel vas. Sy sit verlam voor dié reguit vraag. Wil sy nog met Ian trou? Maar natuurlik wil sy, maak sy haarself heftig wys. Daar het mos niks verander sedert die vliegtuig in die oerwoud geval het nie. Wat kon dan in die bestek van ’n paar dae gebeur het wat haar nou laat aarsel om hierdie vraag te beantwoord? Hoe kan sy wegskram van ’n antwoord? Daar kan mos net een antwoord wees.
Moedig lig sy haar kop op. “Natuurlik wil ek.”
’n Vreemde glimlag lê om sy een mondhoek. “Willemien, as hy op hierdie oomblik, nou hier, tussen die bosse aangestap kom … As hy in lewende lywe en gesond hier voor jou in die skemer verskyn … sal hy nog die enigste man vir jou wees?”
Dis meteens baie stil om die vuur. Is Ian Crebbin nog die man van haar hart of … sal daar in die toekoms tye aanbreek dat sy in sy arms sal wees en iemand anders … ’n vreemdeling … se beeld tussen hulle sal inskuif?
“Jy antwoord nie. Hoekom? Is jy nie meer seker nie?”
Sy kyk byna verwilderd op en haar stem is uitdagend: “Natuurlik is ek seker. Ek het Ian Crebbin lief en ek gaan met hom trou! Tevrede?”
“Nee.” Sy gesig is meteens weer dié van die vreemdeling van wie sy niks weet nie. “Want jy is oneerlik … met my, maar veral met jouself. Maar as jy jouself vir die res van jou lewe wil bedrieg, is dit jou saak. Dan het ek ook geen simpatie met jou as die toekoms jou op ’n harder manier as wat ek nou wou doen, gaan dwing om die waarheid in te sien nie. Dan verdien jy elke traan wat dalk op jou wag, en moenie dán na my toe kom en verwag dat ek hulle sal afdroog nie. Ek het nie tyd vir mense wat van hul harte moordkuile maak nie.
“In daardie opsig kan jy gerus by Lucia Cane leer. Sy is wat sy is, en sy gee nie voor sy is beter as wat sy is nie. Ek sien honderd keer liewer kans om met haar oor die weg te kom as met jou. Sy is miskien ’n goedkoop vrou, maar ek weet waar ek met haar staan. Maar met iemand soos jy, iemand so vals … so lafhartig soos jy …”
Sy sagte fluisterstem tref haar soos hamerhoue; sy oë is magneties, vol kille veroordeling. ’n Rukkie kan sy hom net verbyster aanstaar. En juis omdat daar so ’n verskriklike moontlikheid van waarheid in sy aantygings skuil, laat dit haar dinge sê wat sy andersins nie sou gedroom het om te sê nie.
“Jy is ’n mooi een om van ’n ander se valsheid te praat! Jy, Mark, is die laaste mens wat kan sê dat ’n ander ’n moordkuil van sy hart maak! Wie is jy? Wat is jy? ’n Skurk en ’n … dief! Gewetenloos! Beginselloos!”
Knellend sluit sy hand om haar pols. “Bly stil! Jy weet nie waarvan jy praat nie!”
“O, nie? Dan is jy nie van plan om saam met Lucia Cane, die vrou wat jy vir my as voorbeeld voorhou, geld te steel wat nie aan jou behoort nie? Dan is jy nie van plan om …”
“Willemien, bly stil!”
“Hoekom? Omdat ek die waarheid praat?”
“Jy weet nie wat die waarheid is nie, jou snobistiese, bedorwe brokkie!”
“Ek is liewer snobisties en bederf as sleg … deur en deur sleg soos …”
“As jy een woord verder sê, sal jy jammer wees!”
“So? Gaan jy my weer klap? Dis mos wat jy gewoonlik doen, nie waar nie?”
“Nee.” Haar pols is nog pynlik tussen sy vingers vasgeknel. Hy los dit skielik, staan op, kyk af na haar en sê verdoemend: “Jy is nie ’n klap werd nie!” Toe draai hy om en stap die bosse in.
Willemien bly wesenloos voor haar in die dooie vuur staar. Bokant haar kop hang die eerste strale van die son oor die boomtoppe. En oorkant die vuur, oënskynlik nog vas aan die slaap, glimlag Lucia Cane.
Dis ’n martelende dag wat verbygaan.
Soos Mark gewaarsku het, versnel hy die pas aansienlik, en die dag word vir Willemien ’n louter pyniging wat sy moet deurworstel. Die afmatting, stromende sweet en senutergende spanning van die vorige dag is kinderspeletjies teen vandag, en boonop het sy die vorige nag niks geslaap nie. Maar vandag is sy ook geestelik uitgeput.
Dis asof sy meteens nie meer moed het nie, nie meer geloof het dat hulle Ian sal raakloop, dat hulle self ooit lewend uit hierdie oerwoud sal kom, dat daar nog ’n toekoms op haar wag nie. ’n Morbiede neerslagtigheid het van haar besit geneem en sy probeer nie eens daarteen stry nie.
Somber kyk sy na die groot man voor haar, maar vandag wag sy vergeefs dat hy telkens moet omkyk, dat hy bemoedigend moet glimlag. Die enkele kere dat hy wel omkyk, is dit net vlugtig en is sy oë onpersoonlik, traak-my-nieagtig, asof dit hom nie sal raak as sy nie meer kan byhou nie. Sy oë soek gedurig, nes dié van Lucia, en Willemien weet dat hulle nie vandag na dreigende gevaar soek nie.
Maar dit kan haar nie meer skeel as hulle die geld kry en dit vir hulself toe-eien nie. ’n Gevoellose onverskilligheid het oor die wanorde in haar hart neergesak, maar tog weet sy dat dit onder daardie onverskilligheid seer is.
Sy ignoreer dit, sluit haar gedagtes met haar laaste bietjie wilskrag daarvan af … want sy is nie van plan om daardie seer te ontleed nie. Sy durf nie! Iets waarsku haar dat sy liewer nie te diep moet delf nie, liewer nie die bron van daardie kloppende pyn moet probeer ontleed nie.
Lucia, daarenteen, het nog nooit so op en wakker en lus vir die lewe gevoel soos juis nou nie. Sy kan nog nie heeltemal glo dat sy nooit weer na Julius Cane hoef terug te gaan nie, dat sy hom nooit weer sal sien nie. Waar die kaping en val in die oerwoud vir Willemien ’n ramp is, is dit vir haar ’n bedekte seën.
Sy moet soms met alle mag die drang onderdruk om uitbundig aan die lag te gaan. Die lewe is heerlik! Wonderlik!
Heel voor beweeg die vreemdeling egalig en ritmies, maar teen ’n pas wat vir die vroue dodelik uitmergelend is. Hy is vandag haastig, baie haastig. Sy gesig is strak, maar in sy oë brand ’n opgewondenheid, maar ook ’n vasbeslotenheid om dít wat hy vermoed hier voor op hulle wag, tegemoet te gaan, al weet hy dat dit selfs die dood kan wees …
Sy sesde sintuig wat hom in sy waaghalsige lewe al so dikwels te pas gekom het, vertel hom dat die poppe gaan begin dans. Van vandag af, elke oomblik van nou af. Hy voel dit in elke styf gespanne spier in sy liggaam; hy voel dit in die fyn, elektriese prikkeling wat deur elke senuwee in sy liggaam gaan.
Hy is seker dat sy instink hom soos talle kere in die verlede vroegtydig waarsku. Waarteen presies weet hy op hierdie oomblik nog nie. Al wat hy weet, is dat hy op sy hoede moet wees soos nog nooit tevore nie. Êrens hier voor wag meer as ’n bruin leersak met ’n aardige losprys daarin …
Teen die middag is daar egter nog geen teken van die bruin sak nie. Daar is steeds net lowergroen oerwoud om hulle.
“Sou ons dit miskien misgekyk het?” wonder Lucia hardop toe Willemien ’n oomblik tussen die struike verdwyn, maar Mark skud sy kop.
“Nee, ek twyfel. Ek dink nie ons is al presies in die omgewing waar dit afgegooi is nie. Ons behoort môre daar te kom. As dit nie aan die boomtoppe vasgehaak het nie, sal ons dit raaksien. Dis ’n groot sak en die rivieroewer is nie hier so vreeslik ondeurdringbaar nie. Volgens my skatting, moet dit in die gebied lê waar ons môre sal kom. As dit nog daar is.”
Sy kyk hom skerp aan. “Wat bedoel jy?”
Hy glimlag grimmig en kyk na die plek waar Willemien tussen die struike verdwyn het. “Enigiets kon daarmee gebeur het, Lucia. In die oerwoud kan baie dinge gebeur. Ons is dalk nie die enigste mense wat hier ronddwaal nie.”
Hy swyg toe Willemien haar verskyning maak, en Lucia dring nie op ’n verduideliking aan nie, maar haar blou oë het weer saamgetrek tot twee harde splete. Niks … en niemand gaan daardie geld voor haar neus wegraap nie. Dis haar paspoort tot ’n nuwe toekoms saam met Mark. Sy sal daarvoor veg tot die dood toe as dit moet.
Dié nag brand die vlamme weer hoog in die donker oerwoud van Fernando Poo en gooi ’n klein ligkol om die drie by die vuur. Om die ligkol is ’n ondeurdringbare duisternis wat om hulle toevou soos ’n dreigende onheil waarin die dood in vele gedaantes skuil; waarin die nag met baie oë na hulle staar, peinsend, opsommend.
Hulle is onbewus daarvan dat daar, afgesien van die oerwoudoë wat hulle al baie nagte lank dophou, ook ander oë bygekom het wat lank en intens staar na die drie gesigte in die gloed van die vuur; oë wat elke gesigsuitdrukking noukeurig bestudeer.
’n Takkie kraak digby hulle en Mark spring onmiddellik op, die pistool dreigend en roerloos op die swart kol voor hom.
Die drie sien hoe ’n man, skaars herkenbaar weens die toiings aan sy lyf en die baardstoppels op sy gesig, voor hulle in die ligkring verskyn.
Mark se donker oë trek saam. Daar is ’n eienaardige onpeilbaarheid op sy gesig terwyl hy na die gehawende mens voor hom kyk.
Lucia se gesig verstil. Haar oë is sonder verbasing, maar onverklaarbaar gelykmatig toe sy die man herken.
Willemien staar wasbleek met groot oë vol ongeloof na hom terwyl sy roerloos van skok bly sit. Dit kan nie wees nie, maar … dit ís hy!
“Ian!” Die volgende oomblik is sy in sy arms en sy klou krampagtig aan hom vas terwyl sy deurmekaar lag en huil. Ian lewe nog!
Hy hou haar styf vas en maak sy oë ’n oomblik toe terwyl ’n diep sug van dankbaarheid oor sy lippe kom. Eindelik is hy weer tussen mense. Dit was lang dae en langer nagte alleen in die oerwoud …
Willemien se vingerpunte streel oor sy wange en haar bruin oë is nog vol ongeloof terwyl sy haar dwing om kalm te bly. “Ek het nie gedink … gedink … O, Ian, dis ’n wonderwerk!”
Hy glimlag moeg, maak haar arms om hom los en sak op die gras neer. Met oë wat diep in die oogkasse weggesink is, kyk Ian hulle beurtelings aan. “Ek is so moeg ek kan sterf,” sê hy en trek Willemien se arm deur syne toe sy langs hom neersak. “Ek het omtrent nooit geslaap …”
“Waar was jy die hele tyd, vriend?” Dis Lucia wat die vraag stel.
Hy lag kortaf, half verleë, en erken dan: “Ek weet self nie. Ek het gister maar eers tot my sinne gekom en weer van myself bewus geword – waar ek is en hoekom.” Hy sidder openlik. “Dit was ’n nagmerrie … Ek weet ek was aan die ronddwaal, maar het nie geweet waarnatoe en hoekom nie … En gedurig was daar die verskriklike vrees, die gevare …”
“Dan was dit presies soos Mark gesê het,” roep Willemien uit.
Ian kyk haar met ’n ligte frons aan. “Mark?”
“Ja, hy,” en sy wys na die man wat nog steeds roerloos op dieselfde plek staan. “Hy het gesê al wat met jou kon gebeur het, is dat jy half gek van skok sommer die wildernis ingevlug het. Maar dat jy bly lewe het … O, Ian, dit is ’n wonderwerk!”
“Ja, beslis.” Die vreemdeling praat vir die eerste keer. “Dis waarlik ’n ongelooflike wonderwerk dat ’n half waansinnige man blindelings die oerwoud invlug en nie deur ’n slang of wilde dier doodgebyt word nie. Ons wat elke oomblik op ons hoede was, het al ’n paar keer die dood net-net vrygespring.” Hy grynslag teenoor Ian. “Jy weet nie hoe gelukkig jy is nie. Jy moes, alles in ag geneem, dae gelede al dood gewees het.”
Ian knik. “Ja, ek besef dit nou. Dit was net genade. Ek is vol skrape en kneusplekke, hoofsaaklik as gevolg van die val uit die vliegtuig, maar andersins makeer ek niks. En ek is natuurlik ontsettend moeg. Ek het byna nooit geslaap nie. Ek het snags in die bome geskuil, hoewel die gevaar daar nie juis minder is nie. Die wêreld hier krioel van die slange, het ek agtergekom. Ek wou môreoggend begin stap in die rigting waar ek vermoed die wrak moet lê.” Sy blik dwaal na Willemien. “Ek was al byna van my kop af van bekommernis oor jou.”
Sy slaan haar oë vinnig neer en druk haar kop teen sy skouer vas. Haar gewete vreet aan haar. Sy moenie aan die afgelope dae dink nie, sê sy vir haarself, alte bewus van die ander twee se oë op haar. Dis verby. Ian is terug. Alles sal nou weer normaal wees. Dit sal!
Dit was maar net die skok en spanning wat haar so vreemd laat optree het, wat sulke onverklaarbare emosies in haar ontketen het, wat haar dinge laat dink het … O, sy moenie, mag nie langer … Sy moet nou aan Ian dink, dat hy lewe, dat hulle weer bymekaar is, dat daar weer ’n toekoms op hulle wag, dat hy die man van haar hart is, dat hý die man is wat sy liefhet, altyd sal liefhê …
“Hoe het jy vanaand op ons afgekom?” vra Mark met ’n besadigde stem.
“Ek was net besig om weer ’n gerieflike mik vir die nag te soek, toe ek ’n flikkerende lig tussen die bome gewaar.” Sy stem daal. “Ek kan julle nie vertel hoe ek gevoel het toe dit tot my deurdring dat dit ’n vuur moet wees nie. En waar ’n vuur is, moet mense wees …” Hy kyk op. “Ek weet ek het ’n geweldige kans gewaag om in die donker hierheen te kom, maar niks, nie eens vrees, kon my keer nie. Ek kon my oë nie glo toe ek sien wie om die vuur sit nie.”
“As alles goed gaan, behoort ons oor ’n paar dae uit die oerwoud te wees.”
“Wonderlik! Ek kan nie gou genoeg hier uitkom nie,” sê Ian met gevoel. Dan frons hy. “Waar is die … ander twee?”
“Hulle is op slag dood,” gee Mark die inligting. “Ons ander was baie gelukkig om die ramp te oorleef. Wel …” Vir die eerste keer glimlag hy teenoor die ander man. “Jy kan die hele nag slaap en goed uitrus. Welkom in ons midde. Ek dink julle drie moet nou maar slaap. Die twee vrouens het ’n vermoeiende dag agter die rug en jy lyk asof jy elke oomblik kan omdop. Ek sal waghou.”
Hulle gehoorsaam dadelik en dit word stil om die vuur.
Eenkant, effens weg van die twee verliefdes, lê Lucia, skynbaar aan die slaap, maar met woelende gedagtes. Waar sy eers gehoop het dat hulle Ian Crebbin sou raakloop, is sy nie meer so seker of sy bly is dat hy weer by hulle is nie. Miskien sou dit tog beter gewees het as Ian Crebbin nooit weer sy verskyning gemaak het nie, dat sy geluk nie so groot was nie. Ás dit werklik geluk was.
Is dit nie net te vergesog dat ’n mens dae lank reddeloos deur die oerwoud dwaal en sonder letsel daarvan afkom nie? Is dit, benewens die wonderwerk dat hy lewe, bloot toevallig dat hy juis hier, juis in die gebied waar die geld afgegooi is, tot sy sinne gekom het; dat hulle hom juis hier raakloop; dat hy hier uit die bloute sy verskyning maak?
Dit kan nie kwaad doen om te probeer vasstel nie, dink sy voordat sy haar doelgerig omdraai om te slaap. Dit kan nie kwaad doen om Ian Crebbin dop te hou nie, hom die volgende paar dae baie goed dop te hou nie …
Met haar kop op Ian se skouer, sy een arm om haar, lê Willemien met oop oë die nag en instaar. Weer eens ontwyk die slaap haar, is haar gedagtes soos wilde perde: ontembaar, onkeerbaar, onbeheerbaar. Sy kan nog nie heeltemal glo dat dit werklik Ian is wat sy teen haar voel nie. Net soos Lucia, is dit vir haar ook byna onaanvaarbaar dat hy lewend en gesond by haar is.
Toe sy hom so skielik in die ligkring van die vuur sien verskyn, was haar eerste gevoel nie dié van vreugde nie, erken sy nou aan haarself, maar eerder van verligting. Haar krampagtige vasklou aan hom was soos dié van ’n drenkeling in ’n storm.
Selfs nou, met sy rustige asemhaling hier teen haar, wag sy vergeefs dat die ou gevoel van opgewondenheid in haar moet opstoot. Daar is geen reaksie in haar nie. Alles is dood. Maar dit sal môre terugkom, verseker sy haarself. Dit het alles te vinnig gebeur, sy skielike verskyning, die wete dat hy nie dood is soos sy al begin glo en aanvaar het nie. Môreoggend, ná ’n nag se rus, sal alles weer dieselfde wees, sal sy in sy oë opkyk en daardie gevoel van tere en allesoorheersende liefde ervaar soos … soos ’n week gelede. Is dit werklik maar net ’n paar dae dat hulle hier in die oerwoud ronddwaal?
Dit voel vir haar asof daar ’n leeftyd verbygegaan het sedert die dag toe sy en Ian die vliegtuig met soveel blye vooruitsigte bestyg het.
Maar dit is maar net ’n paar dae. Dit is tog onmoontlik dat die gevoel wat sy vir Ian gehad het in so ’n kort tydjie kon verdwyn het. Nee, dit is maar nog hier diep in haar. Môre … môre sal dit terugkom, sal sy weet dat sy maar net ’n kort rukkie in haar eie persoonlike klein oerwoud van emosies verdwaal geraak het, maar dat Ian haar daaruit gered het … net betyds …
Ian Crebbin voel weer mens toe hy die volgende oggend wakker word. Suutjies lig hy hom op langs die slapende Willemien, kyk vlugtig na die ander man wat ook nog slaap en verdwyn dan in die rigting van die rivier om te gaan was. Toe hy op die rivieroewer kom, is dit duidelik dat Lucia hom voorgespring het. Sy gewaar hom en waai vriendelik vir hom.
“Ek is jammer. Ek het nie geweet jy is hier nie. Ek sal later kom,” vra hy om verskoning.
Lucia skud haar kop laggend. “Moenie verspot wees nie. Die rivier is groot. Hier is genoeg plek vir ons albei. Ek sal my rug draai solank jy jou klere uittrek … as jy daardie toiings klere kan noem!”
Sy voeg die daad by die woord en ’n rukkie later plons hy langs haar in.
Haar laggende gesig dryf bo die troebel water en sy roep vrolik uit: “Heerlik, nè? Hoe voel jy vanmôre?”
“Honderd persent. Aarde, ek is bly dat ek julle raakgeloop het,” antwoord hy met ’n breë glimlag.
“Ek is ook bly jy het, Ian. Veral ter wille van Willemien. Jy het net betyds opgedaag, weet jy?”
“O? Hoekom?”
“Wel … Ag, miskien moet ek liewer stilbly. Willemien is nog so jonk, veral in sekere opsigte. Sy was dié paar dae ’n verdwaalde kind en dit was seker maar heeltemal natuurlik dat sy …”
“Dat sy wát?” Ian frons diep. “Wat wil jy vir my sê, Lucia?”
“Dis … eintlik … ’n bietjie moeilik. Jy moenie … Ian, het ons mekaar nie al vantevore ontmoet nie? Daar is iets bekends in jou gesig. Waar was jy in Europa?”
“O, hier, daar, oral. Nee, ons het mekaar ongelukkig nog nie ontmoet nie. Ek sal ’n vrou soos jy nie vergeet nie.”
Sy glimlag weer en dofweg sien hy die beweging van haar ledemate deur die modderwater. Nee, hy sou haar beslis nie vergeet het as hulle mekaar al ontmoet het nie.
“Maar wat wou jy my vertel? Wat van Willemien?”
“Ag, dis niks ernstigs nie. Sy het haar maar net ’n kort rukkie verbeel dat sy … wel, dat sy die vreemdeling baie aantreklik vind en … ek dink hy het ’n bietjie misbruik van haar kinderlikheid gemaak. Maar ek is seker sy sal tot haar sinne kom noudat jy terug is. Wees net eers ’n bietjie geduldig met haar.”
Ian Crebbin se oë word koud. “Wie is hierdie Mark?”
“Ek weet nie. Ons weet net sy naam is Mark. Dis al. Hy swyg soos die graf oor homself. Jy weet, ek is byna seker daarvan dat hy iets met die kaping te doen gehad het.”
“So?” Hy kyk haar vinnig aan en sy knik, haar gesig nou ook ernstig. “Wat laat jou so dink?”
“O, ek weet nie presies nie. Noem dit maar vroulike intuïsie. Maar een ding weet ek. Hy stel in die geld belang, in die losprys wat betaal is. Hy is op soek daarna, ek is seker daarvan.” Sy skep ’n halfversuipte insek wat in die modderwater spartel op, bewus daarvan dat die man haar betrag. “Die helfte van daardie geld is deur my man en jou aanstaande skoonpa betaal. Ek sou nie graag wou sien dat hy daarmee wegkom nie.” Sy kyk hom tersluiks aan. “Ons moet probeer om die geld voor hom te kry.”
“Maar hoe? Waar is die geld? Waar gaan jy dit in hierdie woesteny opspoor?”
Haar oë vernou. “Het jy dit nie miskien al raakgeloop nie? Dit is in hierdie omgewing afgegooi en jy het hier rondgedwaal.”
Hy kyk vinnig op. “Hier? Ek het nie geweet nie. Nee, ek het niks gewaar nie. Maar dan, ek sou daarop getrap het en dit nie geweet het nie, want ek was nie op die uitkyk daarvoor nie. Om die waarheid te sê, ek het totaal vergeet van die geld.”
“Totaal vergeet van só ’n som geld?” Sy glimlag ongelowig.
“Ja, dit klink ongelooflik, maar dit is so. Ek was nie op die uitkyk nie.” Hy trek sy skouers op.
“Dan moet jy van nou af op die uitkyk wees, vriend … of jy gaan nie net jou aanstaande skoonpa se geld kwyt wees nie, maar ook jou aanstaande bruid.” Sy glimlag op in sy fronsende gesig. “Draai nou om sodat ek uit die water kan kom.”
Sy begin ook sommer dadelik uitklim en hy moet hom vinnig omdraai, maar hy sien skaars hoe sy tussen die struike verdwyn. So … die vreemdeling is op die uitkyk vir die geld … die vreemdeling sonder naam wat sy aanstaande bruid glo baie beïndruk het …
Toe Willemien ’n paar minute later op die oewer kom staan, wink hy haar vrolik nader. “Komaan! Kom sê vir my môre!”
Sy skud haar kop en skree terug: “Nee, ek wil kom was. Maak klaar daar.”
Toe hy ’n rukkie later uitkom agter die struik waar hy aangetrek het, stap sy hom tegemoet, maar aarsel toe sy sy fronsende gesig sien.
“Wat makeer?”
“Ek wonder maar net of jy ook so preuts met die vreemdeling was soos wat jy met jou aanstaande man is.”
Sy kyk hom geskok aan, en sy kan skaars glo sy het reg gehoor. Ian het nog nooit só met haar gepraat nie, en die insinuasie is so duidelik dat sy nie kan voorgee sy begryp dit nie.
“Ian!” sê sy beskuldigend.
Meteens ruk hy haar in sy arms en fluister skor in haar oor: “Ek is jammer, my kleintjie. Natuurlik bedoel ek niks nie. Dis … hierdie oerwoud … As ons net hier kan uitkom. Ek is jammer, liefling. Ek het maar net gedink daar is niks mee verkeerd nie. Die water is modderig en troebel. Dit sou nie saak gemaak het as jy saam met my …” Hy bly stil toe hy haar geskokte uitdrukking sien en sê half ongeduldig: “Vergeet daarvan! Wat maak dit saak? Kom sê liewer vir my môre.”
Maar sy lippe het hare nog skaars geraak, of sy trek terug, ’n bewerige glimlaggie om haar lippe. Haar oë is ontwykend. “Jou … jou baard krap my.”
Hy frons weer. “Ek is jammer, maar daaraan kan ek niks doen nie.” Hy los haar en staan ’n tree terug, sy oë ondersoekend. “Beteken dit dat ek jou nie weer mag soen voordat ons in die beskawing is nie? Is dit werklik my baard wat jou hinder of … soek jy maar net verskonings, Willemien?”
Sy kyk hom verslae aan. “Ian! Wat makeer jou vanmôre? Hoekom sou ek verskonings soek?”
“Dis wat ek myself afvra.” Hy kyk haar priemend aan. “Jy het verander, Willemien.”
“Jy is verspot. Hoe kon ek verander het? Hoekom sou ek? Dis net … jou baard is lank en … ek het nog nooit kaal saam met ’n man geswem nie. Ek … ek is nie daardie soort meisie nie.”
Hy stap sonder ’n verdere woord weg. Sy kyk hom bekommerd agterna. Sy het netnou, toe sy wakker geword het, na hom gesoek en toe by Lucia gehoor dat hy by die rivier is. Sy kon nie gou genoeg by hom kom nie, want sy het vas geglo as sy hom vanoggend sien, alles weer sal wees soos ’n week gelede. Sy sou na hom hardloop en hy sou haar in sy arms opraap. Wanneer hulle lippe mekaar ontmoet, sou die ou vreugde, die ou wete van hulle liefde weer helder in haar opvlam.
Maar dit het nie. Sy baard het haar gekrap. Maar Mark het ook baard op sy gesig, en toe hy jou gesoen het, het jy dit nie eens agtergekom nie, vertel ’n stemmetjie haar. Sy roer haar skouers onrustig. Ian kon tog nie regtig verwag het dat sy, al is die water troebel, saam met hom moes swem nie! Tog het jy naak in Mark se arms gelê en jy het dit nie eens agtergekom nie, sê die stemmetjie weer.
Jy het verander, het Ian gesê. Sy het dit heftig ontken, maar diep in haar weet sy dit is so. Iets het verander, onherkenbaar verander. Hoe sy ook al probeer, dit maak haar nie opgewonde dat Ian weer by haar is nie. Toe sy lippe hare netnou geraak het, het iets in haar teruggedeins. Dit was nie net preutsheid, soos hy dit genoem het, wat haar daarvan weerhou het om saam met hom te swem nie. Dit was meer as dit. Dit was ’n openlike weersin om so intiem met haar verloofde te verkeer.
Maar as die uitnodiging van Mark gekom het …
Sy sidder en begin haar klere byna gewelddadig afstroop. Een ding staan soos ’n paal bo water en sy kan dit net sowel aan haarself erken: Ian se teenwoordigheid het geen verandering in die storm van emosies in haar gebring nie. Dit het die storm eerder laat aangroei, want nou is sy nog meer as ooit tevore daarin verdwaal. Die man wat sy geglo het haar tot nugterheid en tot die werklikheid sal terugbring, laat haar meteens koud, roer nie ’n enkele snaar in haar hart nie; kan nie die geringste gevoel in haar optower nie.
Waar Lucia smaaklik aan die tropiese vrugte sit en eet wat Mark vir ontbyt gebring het, sien sy hoe Ian nader kom, en sy glimlag toe sy die onstuimigheid in sy oë gewaar. Peinsend kyk sy na hom. Sy kan sweer sy het daardie gesig al êrens gesien …