Читать книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеDie swanger stilte word verbreek deur die oorverdowende knal van die pistool. Terselfdertyd sien Willemien hoe Mark soos ’n staalveer op haar afskiet en die volgende oomblik duik hy haar uit die grond sodat hulle soos twee voetbalspelers oor die aarde skuif en in die gewasse beland.
Dit gebeur alles in ’n flits van ’n sekonde. Toe dit krullend uit die boom val, kan sy net onnosel daarna lê en staar. Wriemelend lê die groen slang digby hulle, die kop verbrysel deur die koeël.
En skielik is sy oorbewus van die man hier styf teen haar, die arms wat haar vashou, die sterk nek teen haar wang, die warm, jaende asem teen haar voorkop. Hy wou háár nie skiet nie …
Sy vingerpunte bewe nog effens toe hy haar aan die ken vat en haar kop agteroor teen sy skouer dwing, sodat sy nie anders kan as om skaam in sy oë op te kyk nie. Nie eens toe hy die blink trane sien, versag sy oë nie.
“Vir die laaste keer vra ek jou baie beleef en baie mooi, asseblief. Ek gaan dit nie weer doen nie. Volgende keer sal jy die afgedankste loesing kry wat jy al jare gelede moes gehad het, en ek bedoel wat ek sê! As jy weer een keer onder my oë uitgaan sonder my verlof, slaan ek jou so warm dat jy vir dae nie sal kan sit nie. Verstaan jy my, Willemien Heyns?”
“Mark, ek … is jammer.”
“Ek aanvaar geen verskonings nie. Ek is nie van plan om ’n derde persoon rivier toe te dra en vir die krokodille te voer nie, al dink jy dat ek groot genot daaruit put!”
Sy kyk hom geskok aan. “Ek het nie gesê …”
“Nee, maar wat jy met jou mond sê, is nie van soveel belang nie. Dis wat jou oë sê … Wat het jy netnou gedink toe ek die pistool gelig het?” Hy sien hoe sy haar ooglede skielik neerslaan, maar hy laat dit nie toe nie. Bruut dwing hy haar kop weer agteroor. Sy oë is yskoud, sy glimlag grimmig. “Sien jy? Jou oë vertel al jou gedagtes. Jy is nog bitter jonk, Willemientjie, jy moet nog baie leer. Maar jy sal vinnig moet leer, want jy is in ’n wrede oerwoud. En of jy van my hou of nie, en wat jy ook al van my dink, is nie van belang nie. Van hierdie oomblik af sal jy moet aanvaar ek is jou baas en wat ek sê, is wet.”
“Dis nie dat ek doelbewus ongehoorsaam was nie,” probeer sy flou. “Maar … Ian …”
Met ’n gedempte kragwoord laat hy haar gaan. Hy staan op en hou sy hand na haar uit. Toe sy voor hom staan, kyk hy haar met vernoude oë aan.
“Of jy my gaan glo of nie, weet ek nie, maar ek gee jou die versekering dat ek net so daarin belangstel om jou dierbare Ian op te spoor as jy. Ek sal graag jou vriend weer wil raakloop … hom ’n bietjie van nader leer ken.”
Sy kyk verward na hom. Daar is ’n onheilspellende klank in sy stem wat vir haar heeltemal onverstaanbaar is, nes sy woorde. “Maar … hoekom?”
Hy grynslag openlik, maar die donker oë bly koud. “Ek wil maar net vasstel watter soort man jou tot sulke sotte verliefdheid kan beweeg om jou eie lewe in gevaar te stel om hom te probeer opspoor. Hy moet voorwaar besonders wees. Maar ek twyfel. Ek twyfel of Ian Crebbin jou werd is, Willemientjie.”
Die bruin oë blits. Haar stem is weer styf, vyandig. “Jy het geen reg om so van Ian te praat nie. Jy ken hom nie eens nie. Hoe durf jy insinueer …”
“Ek het niks geïnsinueer nie. Dis net … wel, die tyd sal leer. In die oerwoud is daar niks vals nie. Hier word alle valsheid baie vinnig afgestroop, want hier geld net die natuurwette. In die oerwoud leer ’n mens iemand gou ken soos hy is; hier leer jy ook jouself ken.” Nou kyk die donker oë haar ernstig aan. “Selfs jy, kleintjie, gaan jouself in die volgende dae eers werklik leer ken. Jy gaan ’n Willemien leer ken wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Die oerwoud en die trope bring alles uit wat in ’n mens is, die goeie én die slegte.”
Sy is nou verslae. Sy verstaan glad nie waarvan die man praat nie. Sy stem klink so ernstig, so opreg, dat sy moeilik kan glo dit is dieselfde man wat koel en kalm ’n afkopman deursoek, sy klere uittrek en hom dan koelbloedig vir die krokodille gaan gooi. Vir die hoeveelste keer skiet die vraag in Willemien op: Wie is hierdie man werklik?
“Kom ons gaan terug, en kyk waar jy trap. Dit moet tweede natuur by jou word om eers te kyk voor jy jou voet neersit.”
Hulle stap in doodse stilte terug, en Willemien besef hoe ver sy afgedwaal het. In alle redelikheid moet sy erken sy kan Mark nie kwalik neem dat hy lus gehad het om haar oor sy skoot te trek nie. Sy besef ook dat sy baie maklik kon verdwaal het.
Toe hulle die opening tussen die bome bereik waar Lucia op hulle wag, wag nog ’n skok op Willemien. Daar is geen verwelkomende glimlag op die ander vrou se gesig nie. Die blou oë is amper vyandig. Willemien frons. Hoekom sou Lucia vyandig teenoor haar wees? Wat het sy gedoen …?
Sy sien hoe Lucia haar na Mark draai en nou straal die blou oë. Daar gaan meteens lig vir Willemien op. Lucia is jaloers! Dis belaglik, maar dis waar! Só jonk is sy darem nie om dit nie te kan uitpluis nie, dink sy in haar enigheid. Lucia het nie daarvan gehou dat Mark na haar gaan soek nie. Sy lyk teleurgesteld dat hy haar wel gekry en veilig teruggebring het.
Aan die glimlag op Lucia se gesig en aan die oë wat na Mark opkyk, sien Willemien dat Lucia Cane haar eie planne met die aantreklike vreemdeling het. Sy hou geensins daarvan dat hy aan ’n ander vrou aandag gee nie, al is die ander vrou meer soos ’n lastige kind vir hom as enigiets anders.
Ongemerk dwaal Willemien se blik na die man. Soos altyd voel sy hoe die opstand in haar opstoot. Die man is gans te selfverseker, dink sy half ergerlik. Kyk hoe staan hy daar! Hy ontmoet haar blik met ’n vonkeling in sy donker oë wat Willemien vertel dat hy presies weet wat Lucia beoog en dat dit hom amuseer.
Dis hul saak, besluit sy. Wat kan dit haar skeel as Lucia Cane ’n gek van haarself maak en as Mark Watsenaam hom met die jong miljoenêrsvrou wil vermaak omdat hy haar aantreklik vind? Dit het niks met haar te doen nie. Eintlik pas hulle uitstekend by mekaar, maak sy haarself wys terwyl sy ’n piesang eet. Lucia is beslis ’n ervare vrou. Dit kan ’n mens met die eerste oogopslag sien. As sy kans sien om haar flikkers vir ’n vreemdeling te gooi, behoort sy te weet wat sy doen.
Maar diep in haar hart wonder Willemien tog of die blonde vrou opgewasse is vir die speletjie. Al is sy net negentien en al moet sy volgens Mark nog baie leer, vertel blote vroulike intuïsie haar dat Mark nie ’n man is om mee te speel nie. Iets in haar deins elke keer terug wanneer sy sy donker oë op haar betrap. Iets in haar waarsku haar om weg te bly van hierdie man af. Sy is nooit ontspanne in sy teenwoordigheid nie. Dis of sy gedurig op die verdediging uit is.
Dat hy aantreklik is, is gewis. Nie dat sy baie van sy tipe hou nie, hoewel sy eerlik moet erken dat sy nie juis sy soort ken nie. Maar só jonk en onnosel is sy darem ook nie … Sy is soms ontstellend bewus van hom as man, soos gisteraand toe hy met ontblote borskas in die vuurlig gestaan het, en netnou weer toe sy in sy arms gelê en na die kronkelende slang gekyk het. Willemien erken aan haarself dat hierdie man vir elke vrou ’n gevaar is, selfs vir haar.
Sy glimlag. Gelukkig is sy nie van Lucia Cane se soort nie. Goed, sy erken Mark is ’n besonderse man, op ’n eienaardige manier uiters aantreklik, maar gelukkig hou sy nie van hom nie. Nee. Sy hou nie van hom nie. Hy dink te veel van homself, is te vol van homself, is te seker van homself en van die klaarblyklike sjarme waarmee hy die teenoorgestelde geslag betower.
Aan die lig in sy oë kan sy sien dat selfs die ervare Lucia ’n ding of twee by hom sal kan leer. En sy is welkom, dink Willemien ergerlik toe Lucia se melodieuse laggie weer opklink.
Mark-sonder-van is nie háár soort man nie. Gelukkig nie. Gee haar maar ’n man soos Ian.
’n Sagte glimlag plooi om haar lippe. Ian is in alle opsigte die man van haar drome. Hy het haar nog nooit anders as met die grootste respek behandel nie – nie soos hierdie vreemdeling wat links en regs klappe uitdeel nie. As sy net daaraan dink … En dan dreig hy nogal om haar ’n afgedankste loesing op die koop toe te gee! Ian sal nooit van so iets droom nie. Hy het haar nog altyd soos ’n dame behandel … nie asof sy ’n bedorwe brokkie is nie.
Vlugtig gly haar blik terug na Mark. Hy lyk glad nie meer so danig jonk nie. Hy moet al by die dertig wees, skat sy. Na alle waarskynlikheid het hy ’n vrou en ’n hele spul kinders by die huis. Sy wonder of Lucia al aan dáárdie moontlikheid gedink het …
Hy betrap haar geamuseerde oë op hulle en syne vernou. “Wat is die grap, Willemien? Vertel ons ook.”
Vir die eerste keer sedert sy hom ontmoet het, voel Willemien op haar gemak, só op haar gemak dat sy haar as sy gelyke beskou. Met ’n soet stemmetjie sê sy: “Ek het nou net daaraan gedink … Jou vrou en kinders is seker ook maar baie bekommerd oor jou, foei tog!”
Twee verslae gesigte staar na haar. Lucia het beslis nog nie aan daardie moontlikheid gedink nie, dit kan Willemien sien. Sy lyk selfs geskok, asof Willemien ’n ontoelaatbare ding gesê het.
’n Stadige glimlag sprei oor Mark se sonbruin gesig. “Wil jy glo! Hoe gaaf van jou om my aan die mense by die huis te herinner! Ja, foei tog, hulle is teen hierdie tyd seker al mal van bekommernis.”
Lucia kyk vinnig na hom en Willemien se selfversekerde glimlaggie taan.
Lucia se stemtoon spreek boekdele toe sy vra: “Is jy … is jy werklik getroud, Mark?”
Hy grinnik. “Vra vir Willemien. Daardie kind is blykbaar met die helm gebore. Sê my bietjie hoeveel kinders is daar nou weer?”
Haar oë vernou. Hy is openlik besig om haar uit te daag. Die bruin oë blink uitdagend, haar stemtoon is ongeërg. “O, ek het gedink aan ’n halfdosyn. En daar’s natuurlik een op pad.”
Hy lag nou openlik. “My liewe kind, hoe oud skat jy my?”
Sy hou haar kop skeef asof sy regtig ernstig daaroor dink en dan kom dit onskuldig. “O, ek sal sê jy is … so kort duskant vyftig …”
“Willemien!” Lucia lyk heel ontsteld. “Jy is laf! Mark kan niks ouer wees as …”
“Vyftig!” Mark kyk Willemien fronsend aan en sy kry innerlik lekker toe sy sien hoe sy glimlag verdwyn. So ja, meneer Mark. Dit sal jou op jou plek sit. Dit word altyd van ’n vrou gesê, maar die meeste mans is ook maar gevoelig oor hul ouderdom. Selfs die dierbare Ian skram altyd weg van die onderwerp. En nou blyk dit dat die heer Mark geensins daarvan hou dat ’n lastige kind soos sy dink hy is al vyftig nie.
Verontskuldigend sê sy: “Ek … ek is jammer as ek verkeerd was met my skatting. Ek het niks daarmee bedoel nie. Dis maar soos jy vir my lyk … O, gits, ek is jammer. Kom ons praat liewer oor iets anders.” Sy moet al haar selfbeheersing inspan om nie uit te bars van die lag nie. Sy gesig is kostelik. Maar dis goed so! Hy behandel haar mos asof sy net gister die kruipstadium verby is.
“Ja, ek dink ons moet liewer die onderwerp verander,” sê hy en gee haar ’n lang, ondersoekende kyk. “Ons kan nie hier rondluier en twak praat nie. Ons moet begin stap.”
Alle lus vir grappies maak verlaat Willemien onmiddellik. “Asseblief, Mark, moet nou nie weer kwaad word nie, maar … ons het nog nie vir Ian gekry nie.”
“Ja, maar ons kan nie hier sit en wag in die hoop dat hy op ’n dag hier aangestap sal kom nie. Ons moet uit die oerwoud kom voordat die reënseisoen in alle erns begin. Dan sal ons maande lank hier vasgekeer sit. Ek verseker jou ek het goed gesoek. Crebbin is nie binne vyftig meter van die wrak af nie. Dit skakel die moontlikheid heeltemal uit dat hy uit die vliegtuig geval en hier êrens beseer of bewusteloos lê.”
Willemien verbleek merkbaar en dis Lucia wat vra: “Maar wat sou dan van hom geword het, Mark? Hoe kon hy net so verdwyn het?”
Mark se gesig lyk grimmig en hy vermy Willemien se oë toe hy antwoord: “Daar is net een ander moontlikheid. Baie mense reageer eienaardig wanneer hulle ’n groot skok opdoen. Dis of hul verstand tydelik afskakel. Dit gebeur baie dikwels dat mense wat in motorongelukke beland blindelings die veld in vlug en dae later eers weer tot hulself kom.”
“Jy dink dis wat met Ian gebeur het?” vra Lucia.
“Dis al verklaring wat ek op die oomblik vir sy verdwyning kan gee. Ons moet maar begin stap en hoop dat ons hom langs die pad raakloop.”
“En as hy nie in daardie rigting gegaan het nie?” vra Willemien skor, en sy sien nie die versagting in die donker oë raak nie.
“As hy nie in daardie rigting gegaan het nie, moet ons so gou moontlik die beskawing bereik sodat daar soekgeselskappe georganiseer kan word. Daarom moet ons onmiddellik begin stap en vinnig ook.”
“Maar sal hy nog …?” Sy swyg en draai haar kop vinnig weg. Die moontlikheid dat Ian Crebbin teen hierdie tyd lankal deur ’n ongedierte verskeur of deur ’n slang gepik is, selfs deur ’n krokodil gevang is, is veel groter as die moontlikheid dat hy nog lewend gevind sal word. Vanoggend het sy self ervaar dat ’n mens hier nooit jou waaksaamheid durf verslap nie, want die dood skuil agter elke struik, in elke boom, agter elke baldadige rankplant. As Ian werklik blindelings van skok en half waansinnig die oerwoud ingevlug het, is daar ’n baie skrale moontlikheid dat sy hom ooit weer sal sien …
Meteens is die sterk arms van vanoggend weer om haar, voel sy weer sy warm vel teen haar. Haar arms gaan spontaan om sy nek en sy klou hom vas sonder dat sy weet sy doen dit. Op hierdie oomblik is hy net ’n mens aan wie sy kan vasklou om haar vrees en hartseer te besweer. Die arms wat haar vashou, is teer en beskermend, die oë wat bokant haar kop na die oerwoud staar, smeulend en peinsend.
Sy lippe trek styf saam. Crebbin moet gevind word, besluit hy. Dieselfde kille, onverbiddelike lig wat in die donker oë gebrand het toe hy die pistool op die swaaiende kop van die slang gerig het met die wete dat hy net een kans het om Willemien van ’n gewisse en aaklige dood te red, skyn nou weer in sy oë. As Ian Crebbin nog lewe, moet hy gevind word, en in sy hart bid hy dat hy wel nog lewe, bid hy net so hard soos die snikkende meisie in sy arms dat hulle haar verloofde op die terugpad sal raakloop.
Willemien besef dit nie, maar dis ook vir die vreemdeling noodsaaklik dat Ian Crebbin lewend gevind word …
Lucia Cane kyk afgunstig na die toneeltjie voor haar. Ook vir haar het dit noodsaaklik geword dat Ian Crebbin gevind word … en gou … Ook haar lippe is styf opmekaar gepers. Met elke uur wat verby is, het haar planne al vaster vorm aangeneem, en op hierdie oomblik is dit in die finale stadium. Sy is vasbeslote. Maar vir die sukses van haar plan is dit noodsaaklik dat Willemien Heyns se verloofde gevind moet word …
In die twee dae wat volg, word die hoop dat Ian Crebbin lewend gevind sal word, al skraler en skraler. In hierdie twee dae leer Lucia en Willemien wat dit beteken om te voet deur ’n tropiese oerwoud te stap, leer hulle die gevare ken wat om elke draai en agter elke blaar kan skuil. Albei besef dat hulle sonder Mark nooit lewend uit hierdie groen onheil sal kom nie.
Nie net is die hitte uitputtend nie, dit het ook ’n neerdrukkende uitwerking. Elke tree word ’n louter marteling en nooit, nie vir ’n enkele oomblik, mag hul waaksaamheid verslap nie. Gedurig moet hul moeë oë rondsoek na gevaar wat verskuil kan wees in die groen blaredak bokant hulle of in die groen mure rondom hulle.
Van die begin af hou Mark so na aan die rivieroewer as wat moontlik is. Êrens moet dit uitloop op ’n plek waar daar ander mense sal wees. Dit sal ook voorkom dat hulle verdwaal en dae lank in sirkels loop. Maar dit het ook sy nadele, want swerms insekte verpes hul moeilike tog. In die hitte stap hulle skaars tien tree of hul klere is deurweek en klou aan hul liggame asof hulle daarin geswem het.
Willemien sien nie meer die asemrowende prag van die natuur nie. Sy het blind geword vir die orgideë wat haar in ekstase gehad het en sleepvoetend trap sy nou op hulle.
Dit word ’n martelende tog, ’n folterende inspanning om by te bly, want Mark spaar hulle nie. Meedoënloos, uur na uur, met net kort tussenposes, dwing hy hulle voort. Willemien wonder soms of sy werklik ’n teerheid in sy samestelling ontdek het toe hy haar daardie dag getroos het. Nou is daar geen sagtheid, geen simpatie in hom merkbaar nie. Hy is ’n regte slawedrywer wat, as dit nie anders kan nie, hulle met brute krag van die grond af opdwing en voortsleep.
Daar kom oomblikke dat sy hom met haar hele hart haat; wanneer elke vesel in haar liggaam voel asof dit in twee skeur by die geringste beweging; wanneer die moegheid en sweet haar ooglede lam maak, sodat sy skaars ’n tree voor haar kan sien.
Lucia, hoewel ’n miljoenêrsvrou, is gebrei deur ’n harde kinderlewe, en sy pas haar makliker aan by die moeilike omstandighede.
Mark, tot Willemien se grootste ergernis, bly die koel, kalm vreemdeling van die eerste dag. Hoewel sy hemp sopnat aan sy breë rug kleef, bly sy oë helder om en bokant hom flits waar hy daar voor die pas aangee. Soms glo Willemien vas dat hy nie ’n mens is nie, maar ’n masjien – ’n koue, gevoellose stuk staal waarop selfs die wrede natuur van die trope geen uitwerking het nie.
En tog … tog is daar oomblikke dat hy so menslik raak dat sy onwillekeurig ’n knop in haar keel voel en met alle mag moet stry dat die branderigheid van warm trane in haar oë nie die oorhand kry nie. Oomblikke waarin hy haar help om oor ’n moeilike plek te kom of sy oë skielik warm op haar rus wanneer sy met ’n snik van uitputting op die gras neersak. Dié kere wanneer dieselfde hande wat haar ’n rukkie gelede genadeloos van die grond opgetel en gedwing het om voort te gaan op die martelpad, sag en teer word as hy ’n skraap aan haar been behandel, of ná ’n paar streng woorde tog die sweet en trane van haar wange afvee voordat hulle verder stap.
Willemien is dan so verward dat sy nie eens probeer om die man te verstaan nie; glad nie eens probeer om die wilde polsing daar waar sy vingerpunte haar aangeraak het, te begryp nie. Of die byna onbehoorlike drang wat sy ondervind om met haar moeë kop teen sy bors te lê en rus nie; sy probeer ook nie die onbegryplike verlange verklaar wat skokkend in haar opstu as sy sy sterk arms om haar voel nie.
Ek raak van my verstand af, maak sy haarself dan wys. Oerwoudwaansin … dis waaraan ek ly. Dis omdat ek na gees en liggaam so totaal uitgemergel voel. Dis omdat ek aan vertraagde skok ly. Dis omdat ’n mens gedurig bewus is van die gevare van die oerwoud om jou. Dis omdat ek so bekommerd is oor Ian …
Sy noem al hierdie redes oor en oor vir haarself op, en tog weet sy diep in haar hart almal is nie ewe waar nie, veral nie die laaste nie. Teen die einde van die tweede dag besef sy met ’n skok dat sy ure laas aan Ian gedink het, of gewonder het of sy hom weer sal sien, of met angstige, soekende oë om haar gekyk het op soek na die bekende en geliefde mens. Veel meer was haar oë op die man aan die voorpunt gerig, op die spelende spiere onder die nat hemp, hopende dat hy weer sal omkyk, weer ’n bemoedigende glimlaggie na agter sal stuur … Ek is mal! Ek is regtig aan die gek word, dink sy met byna wilde paniek toe hy eindelik gaan staan en hulle dadelik vermoeid op die mos neersak. Wat het ek met hierdie man te doen? Ek hou nie eens van hom nie. Wat makeer my dat ’n enkele kyk van sy oë, die onpersoonlike aanraking van sy hande my skielik ontsenu en ontstel? Hy is Lucia se soort. Hy pas by haar, nie by my nie. Ian is die man wat ek liefhet, die goed gemanierde, beskaafde heer. Nie hierdie een wat wel beskaaf voorkom, maar wreed optree en praat nie. Ek wil met hom niks te doen hê nie, verseker sy haarself.
Maar hy het haar gewaarsku, onthou sy nou. Hy het haar gewaarsku dat sy haarself eers in hierdie dae werklik sal leer ken, want die oerwoud stroop alles van jou af en laat jou naak voor jou eie oë. Hy het haar gewaarsku dat sy haarself moontlik nie sal herken nie, en hy was reg, besef sy met ’n koue gevoel om haar hart. Sy herken nie hierdie meisie wat hier lê nie. Sy ken nie hierdie Willemien wat soms die vreemdste begeertes en drange ervaar nie.
Vir die eerste keer in haar lewe ervaar sy jaloesie wanneer Lucia duidelik betekenisvol in Mark se oë lag, wanneer sy nonchalant, maar tog so suggestief, haar mooi lang bene ten toon stel, die boonste twee knope van die hemp altyd verleidelik los. Tot haar eie verbystering ervaar Willemien dan die drang om die blonde vrou te lyf te gaan, haar daaraan te herinner dat sy getroud is, dat sy haar soos ’n straatvrou gedra. Die reaksie wat haar optrede in Willemien ontketen, verstom en verbyster die jong meisie. Wat kan dit háár skeel as Lucia besig is om die vreemdeling te verlei? Hoe kan dit haar raak as hy die een of ander dag voor haar aanslae gaan swig, gaan neem wat so gasvry op ’n skinkbord vir hom aangebied word?
Tot dusver het hy Lucia se moedige pogings nog altyd met ’n vreemde glimlaggie beskou, maar dikwels merk Willemien dat sy oë peinsend op die blonde vrou rus, so asof hy haar nog ’n bietjie weeg, nog nie besluit het of hy die aanbod sal aanvaar of nie.
Wanneer hy haar afkeurende blik op hom betrap, het hy die vermetelheid om haar openlik uit te lag, asof hy die afkeer in haar oë reg verstaan en dit baie amusant vind.
Dit maak haar byna openlik vyandig teenoor hom. Dan ignoreer sy sy helpende hand en sukkel sy self oor ’n moeilike plek, ontwyk die donker oë en staar net stip voor haar in die groen hart van die oerwoud in. Sonder dat sy hoef te kyk, weet sy dat die donker wenkbroue omhoog gaan en dat die kenmerkende tergende glimlaggie aan sy mondhoeke pluk. Dis dan dat sy met haar hele hart wens dat daar wel ’n vrou en ses kinders in sy lewe moet wees en dat hulle op daardie oomblik soos ape uit die bome op hom moet neersak!
Maar sulke wonderwerke gebeur nie, en uur na uur moet sy aanskou hoe die vriendskap tussen die twee vorder. Teen die einde van die tweede dag begin dit tog lyk of Lucia vordering maak. Mark is beslis nie ongeneë vir haar geselskap nie en behandel haar in elk geval baie vriendelik.
Willemien maak weer dat hy dikwels diep frons, en dis duidelik dat waar hy gister haar buierigheid amusant gevind het, dit hom vandag begin irriteer. Maar natuurlik, dink Willemien wrang, ek is ’n vyfde wiel aan die wa, ’n lastige snip van ’n kleinsus wat ouboet se amoreuse planne bederf met my teenwoordigheid!
Sy ruk soos sy skrik toe hy skielik langs haar praat. “Luister, meisiekind, ek is nou moeg vir daardie suur gesig en dik onderlip van jou. Wat makeer?”
“Waar is Lucia?” vra sy ontwykend en kyk oral behalwe in die donker oë hier digby haar waar hy langs haar op die gras neergesak het.
“Sy het gaan was,” antwoord hy ongeduldig. “Ek vra wat makeer? Wat het ek nou weer gesondig dat daardie preutse hartjie van jou so in opstand is?”
“Jy verbeel jou dit. Wat het dit met mý te doen wat jy doen?”
“Presies. Dis presies wat ek al die hele dag wonder. Hoekom sou dit jou ontstel dat ’n ander vrou my geselskap aangenaam vind? Jy het nie ’n druppel tyd vir my nie, dus …”
Die bruin oë kyk hom woedend aan. Dan is hy by alles nog verwaand ook! “Meneer Mark,” sê sy op haar kilste, “wie jou aangenaam of aantreklik vind, kan my nie ’n bloue duit skeel nie, verstaan? Ek vind jou …”
“Ja?” Hy klink eerlik geïnteresseerd, en sy voel hoe die bloed hoër teen haar wange opstoot. “Ontstellend? Is dit die woord waarna jy soek?”
Die bruin oë rek. “Ontstellend? En hoekom sal jy my ontstel? Jy laat my koud.”
“O?” Sy voel hoe sy arms skielik onder haar skouers deursirkel en haar kop word agteroor gebuig tot sy die sagte gras teen haar agterkop voel.
Sy is heeltemal magteloos en kan net weerloos in die bestuderende oë opstaar. Lank, op sy tyd, bestudeer hy die gesiggie wat omraam word deur die styl, natgeswete hare, kyk hy diep en deurdringend in die bruin oë af …
“Kleintjie, jy is nog so bitter jonk. Maar jy begin grootword, vinnig grootword, sien ek. Nog so ’n week of veertien dae in die oerwoud, en ons twee sal mekaar goed verstaan …”
Seepglad, soos ’n vis, wriemel sy haar uit sy arms los. Die volgende oomblik staan sy soos ’n klein tierkat voor hom, voete effens van mekaar, hande op die heupe. Die bruin oë blits dodelik.
“Ek stel nie in die minste daarin belang om jou te verstaan of beter te leer ken nie, Casanova. Bepaal jou aandag maar by die blonde Lucia wat tog so hard probeer. Julle twee pas by mekaar – voëls van eenderse vere, ewe beginselloos. En as jy my weer kleintjie noem, sal ek jou … klap, verstaan jy?”
“Willemien! Waarheen gaan jy?” vra hy streng. Sy gee glad nie om dat Lucia haar verskyning gemaak het en hulle agterdogtig staan en betrag nie.
“Ek gaan was, soos Lucia. Ek is nie ’n kind nie, Mark Watsenaam. Ek kan my darem al skoon was sonder toesig.”
Hy wil opspring, maar Lucia sak langs hom neer en hou hom terug. “Los haar. Jy behandel haar darem regtig asof sy tien jaar oud is, weet jy?” Die blou oë glimlag nie saam met die lippe nie, maar is ondersoekend. Sy staan al ’n hele rukkie tussen die lower, en sy hou niks van wat haar oë gesien het nie.
“Ek moet eers gaan kyk of dit veilig is.”
“Ek kom nou daarvandaan. Dis alles veilig.” Sy sug en strek haar langs hom uit, heeltemal bewus daarvan dat die nat hemp wat sy uitgespoel het, aan haar mooi liggaam kleef en elke deining van vroulikheid volmaak beklemtoon. ’n Strelende hand lê meteens teen sy wang en sy draai sy gesig na hare.
“Ek wil met jou praat, Mark. Ernstig. Vergeet nou van Willemien.”
Woedend pluk Willemien die beswete klere van haar liggaam af toe sy by die rivieroewer kom. Eers spoel sy hulle uit en hang hulle oor ’n bos om droog te word. Dan gly sy af in die koel lafenis van die rivier, voel hoe die water die ergste onstuimigheid in haar tot bedaring laat kom.
Maar tog wyk die ontsteltenis nie heeltemal nie en noudat sy terugdink, kan sy nie verklaar waaroor sy so hewig ontsteld geraak het nie. Sy moes hom uitgelag het, dink sy wrewelrig. Natuurlik moes sy hom uitgelag het. Hy laat haar mos koud. Dis Ian wat haar hart besit, Ian van wie hulle nog nie ’n enkele spoor kon kry nie … Ian wat in twee dae ’n groter vreemdeling geword het as die man wat haar enkele oomblikke gelede so ontstel het dat sy, sonder om links of regs te kyk, haar klere uitgetrek en in die water geduik het … en so een van Mark se gulde reëls verontagsaam het.
Nie net is dit Mark se reël nie, dit is dié reël van selfbeskerming in die oerwoud – om eers, voordat jy dit in die rivier of selfs net dig teen die oewer waag, die wêreld om jou deeglik te bespied, veral die water …