Читать книгу Ena Murray Keur 18 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеAsof sy uit ’n ver, vreemde wêreld moet terugworstel na die bekende, sukkel Willemien om haar oë oop te kry terwyl sy roerloos bly lê.
Bokant haar is ’n blaredak wat aan haar onbekend is, en sy staar daarna soos ’n stom dier – onnosel, verward.
Die bruin oë dwaal verder, soek half paniekerig na iets bekends. Skuins langs haar aan ’n bos sien sy ’n stuk lap roerloos in die swanger stilte hang – roerloos, want daar trek nie ’n windjie wat die bedompige, stomende hitte om haar ’n bietjie verlig nie. Sy ken die patroon op die lap, het dit al vantevore iewers gesien. Maar waar?
Dis te veel moeite om te konsentreer, en haar blik dwaal verder.
Sonder herkenning kom haar blik tot rus op die gebukkende gestalte ’n paar meter verder. Dis ’n man … Wat sou hy doen? Daar is ’n fyn fronsie tussen haar oë soos sy haar verstand probeer dwing om te konsentreer. Hy is besig om iemand te deursoek. Hy dop elke sak uit. Sy sien die lang, skraal vingers se vlugtige bewegings en dis al asof hulle bekend wil voorkom. Daardie hande … Ook dit het sy al vantevore gesien … Vlugtig maar deeglik stryk die hande al langs die liggaam af, beweeg dan weer op, en soos iemand wat na ’n rolprent kyk, volg haar oë die bewegings. Sonder veel belangstelling. Sy kyk maar net daarna.
Dan is dit asof daar iets tot haar verstand deurdring en die lewe vloei in volle sterkte terug in haar verlamde liggaam; sy voel hoe elke senuwee wat tot dusver reaksieloos in haar gelê het, meteens saamtrek … in afgryse. Sy sien dit duidelik voor haar … die hande op die skouers waar die liggaam skielik stomp eindig …
Die man kyk om asof hy aanvoel dat iemand na hom kyk, betrap dan die bruin oë vol afsku op hom. Hy spring op en kom vinnig nader, sien hoe die skraal gestalte wegkrimp van hom af. Hy hurk voor haar sodat sy groot liggaam tussen haar en die toneel voor haar kom.
“Moenie kyk nie …”
Soos een wat nog steeds in ’n halwe koma van skok verkeer, dwing sy haar kop terug, kyk na hom op en protesteer flou: “Maar sy kop …”
“Willemien!” Met brute teerheid dwing hy haar gesig teen sy bors vas asof hy deur hierdie gebaar haar verstand wil afsluit van die grusame toneel wat sy moes aanskou. Hy dwing sy stem tot kalmte. “Ons het met die vliegtuig geval, onthou jy? Daar was ’n storm. Ek moes ’n noodlanding tussen die bome doen. Daardie man … is dood … Hy was een van die kapers. Onthou jy dat ons vliegtuig gekaap is?” Die donker oë brand in hare, soek na tekens wat hom sal gerusstel dat hier nie ’n tweede tragedie voor hom sit nie. “Willemien, onthou jy?”
Sy knip haar oë en hy sien hoe iets vaag deur die verstardheid begin deurskemer. “Ja, ek … onthou … Jy het my geklap ook …”
Sy bedaarde stem laat die newels oor haar verstand stadig wyk. “Ja, ek moes jou klap. Jy het histeries geword, nes Lucia Cane. Onthou jy haar?”
Sy knik fronsend. “Ja. Die blonde vrou. Sy het aan die lag gegaan en toe het Ian …” Haar asem ruk vas in haar keel en dis of die noem van sy naam haar meteens tot volle besef skok. “Ian! Waar is … Ian?”
Sy arms span stywer om die skraal skouers, maar sy stem bly kalm. “Hy is maar hier rond. Ons sal hom nou soek. Ons moet eers seker maak dat alles met jou reg is. Kom, staan op.”
Hy trek haar orent en sy staan wankelend in die halfsirkel van sy arm. Die bruin oë is nou onstuimig en vol lewe. Die werklikheid is op haar. Sy onthou alles.
“Bly kalm, Willemien. Dis nie nou die tyd of plek vir histerie nie. Bly asseblief kalm! Hy kan nie ver wees nie. Ek sal nou na hom begin soek.” Hy kyk half onseker na die verwronge stuk metaal wat eers ’n vliegtuig was.
Die volgende oomblik kom ’n gehawende gestalte te voorskyn. Net aan die blonde hare en die geskeurde klere kan hulle Lucia Cane eien. Verder is dit net bloed.
Weer snak Willemien na asem en weer span die vreemdeling se vingers stywer om haar skouers.
“Dis nie so erg nie. Sy bloei net baie. Ek het haar reeds ondersoek. Sy het gelukkig lig daarvan afgekom. Kom help haar om haar te was. Daar’s ’n stroompie hier naby.”
Willemien sien hoe hy vinnig na Lucia stap, hoe die blonde vrou haar arms om hom gooi, hom krampagtig vasklou en hom in die proses ook met bloed besmeer. Sy huil en lag deurmekaar en dis duidelik dat sy op die punt van histerie is.
Die vreemdeling se stem is rustig en vertroostend en hy praat met haar tot daar ’n mate van kalmte by haar intree. Hy wink na Willemien en hy lei hulle ’n entjie die struikgewasse in waar ’n stroompie verbymurmel.
“Hier. Dis ’n stuk van jou rok wat afgeskeur het. Was en maak julle skoon.”
Willemien neem onwillekeurig die stuk lap by hom en herken dit as die stuk waarna sy lê en staar het toe sy bygekom het. Dan eers sien sy hoe gehawend hulle al drie daar uitsien. Sy lyk nog die beste van die drie. Haar rok het ’n paar skeure, maar dis eintlik Lucia wat heeltemal vertoiing daar uitsien. Ook die vreemdeling se hemp is aan repe en sy een broekspyp is heeltemal afgeskeur.
Willemien laat Lucia sommer in die stroompie sit en die blonde vrou herwin haar kalmte toe die koel water oor haar stroom.
“Kyk hoe lyk ons! Maar ek veronderstel ons kan ons sterre dank dat ons nog lewe. Dit was darem amper,” en sy sidder. “Waar is die ander?”
Willemien se stem is gedemp. “Die een kaper is … dood. Ek weet nie van die ander nie. En Ian … my verloofde … is weg.”
Lucia kyk haar fronsend aan. “Weg? Maar hoe?”
“Hy is nie hier rond nie. Die vreemdeling vermoed dat hy uit die vliegtuig geval het. Ons moet nog na hom gaan soek.”
Toe die twee vroue terugkeer van die stroompie, maak die vreemdeling sy verskyning uit die bosse.
“Ek het oral gesoek. Ian Crebbin is nie hier nie,” sê hy ontevrede.
Willemien kyk hom wasbleek aan.
“Maar hoe is dit moontlik? Hy moet hier iewers wees!” sê Lucia ontsteld.
Sy blik rus op Willemien se bleek gesig en hy antwoord vinnig: “Dit is natuurlik moontlik dat ek hom kon miskyk. In die oerwoud kan jy twee tree van ’n persoon verbystap sonder om hom raak te sien. Ek sal weer môreoggend soek, maar nou sal ons eers gou ’n vuur aan die gang moet kry …”
“Teen môreoggend kan hy al dood wees as hy ernstig beseer is!” roep Willemien ontsteld uit. “Ons moet hom nóú soek, vanaand nog kry – voordat dit heeltemal donker is.”
“Dis buite die kwessie, Willemien. Dis al sterk skemer. Jy sal op hom trap en hom nie raaksien nie. Ons sal net verdwaal, dis al. Die oerwoud is nie ’n plek om snags in rond te dwaal nie. En die eiland krioel van slange en ander ongediertes. Dis te gevaarlik …”
“Ék gaan hom soek as julle my dan nie wil help nie.” Sy kyk die vreemdeling waterpas in die oë. “Ek gaan nie toelaat dat Ian aan sy beserings beswyk of vannag deur ’n wilde dier aangeval en opgevreet word net omdat ek te lafhartig was om na hom te gaan soek nie.”
Die oë wat na haar kyk, het alle vriendelikheid verloor. “Dit klink bewonderenswaardig, maar dis ’n dwaas wat so praat. Daar word nie vanaand verder na Ian Crebbin gesoek nie. Kom help dat ons genoeg hout bymekaarkry om ’n groot vuur aan die gang te hou.”
Willemien kyk hom met geskokte ongeloof aan. Verwag hy werklik dat sy moet help hout bymekaarmaak terwyl Ian onbeskerm hier êrens lê, miskien besig is om hom dood te bloei, besig is om te sterf, met al die gevare van die oerwoud om hom?
Lucia sien hier gaan moeilikheid kom en probeer ook van haar kant: “Willemien, dis te gevaarlik …”
Met ’n vernietigende blik draai Willemien om. Terwyl sy voel hoe die vrees soos ’n koue band om haar hart span, hoe die trane branderig in haar oë opstu, hardloop sy blindelings ’n rigting in. Sy vorder nie ver nie. Met geweld word sy gegryp en omgeruk. Vir die tweede keer klap hy haar genadeloos op die wang.
“Kom tot jou sinne, meisiekind! As jy dink ek gaan jou toelaat om nou in die oerwoud na daardie kêreltjie van jou te gaan soek, het jy dit mis. Verstaan my goed! En daar is nog iets wat jy goed moet verstaan. Ek neem van hierdie oomblik af die besluite en jy maak soos ék sê … as jy lewend uit hierdie groen hel wil kom. En jy gáán lewend hier uitkom as dit van mý afhang. Ek gee jou daardie versekering. Maar dan doen jy wat ek sê, verstaan?” Sy oë is op skrefies. “En as jy nie wil luister nie … daar is maniere om gehoorsaamheid af te dwing …”
Blind van woede kyk sy na hom. Hoe durf hy, hoe dúrf hierdie vreemdeling wie se naam sy nog nie eens ken nie, hom aanmatig om so van Ian te praat en haar te verbied om na haar verloofde te gaan soek?
“So? En op watter manier gaan jy my dwing om jou bevele te gehoorsaam? My aan ’n boom vasmaak?”
“Dis presies waaraan ek gedink het. Ek waarsku jou, ek sal nie ’n oomblik aarsel om jou vir die nag aan ’n boom vas te maak nie. Daar is genoeg probleme en gevare dat ek nog die ergernis en moeite van ’n verliefde bakvissie sal duld. Jy gedra jou, anders …” Hy gee haar ’n ligte stampie terug in die rigting waar Lucia met belangstelling alles staan en betrag. “Komaan! Soek hout!”
Tot die man se heimlike verbasing en verligting gehoorsaam sy, en met ’n grynslag begin hy ook takke nader sleep. Die hele nag sal ’n groot vuur moet brand om die wilde diere af te skrik.
Toe Lucia ’n keer by hom verbykom, sê sy droog: “Jy sal jou baie goed by die oerwoud aanpas, my vriend. Ek het al op die vliegtuig vermoed dat jy ’n harde streep in jou het, maar nie gedink dat jy só hardhandig kan raak nie.”
Hy glimlag effens en terwyl hy die hout opmekaar stapel, sê hy gedemp, sodat Willemien nie die gesprek kan volg nie: “Dit was noodsaaklik. Simpatie is nou die laaste ding wat sy moet kry. Sy is jonk en bang en het ’n geweldige skok weg. Sy is mal van bekommernis oor daardie kêreltjie van haar, wat natuurlik normaal en heeltemal te verstane is. Sy is op die oomblik so boosaardig kwaad vir my dat dit haar aandag ’n bietjie aftrek van die ander dinge. Dit sal haar help om oor die ergste skok te kom. Teen môreoggend sal sy nugterder redeneer en besef dat sy dwaas was om in die nag na haar vriend te wou gaan soek, en dit in ’n oerwoud.”
“H’m.” Lucia kyk hom met speurende oë aan. “Is jy dalk ’n psigiater van beroep?”
Hy lag meteens hartlik, en waar Willemien met bewende vingers takke probeer losruk, kyk sy vinnig op. Want die geluid krap aan haar rou senuwees. Hoe kan die buffel so hartlik lag terwyl hulle hulle in hierdie haglike posisie bevind? ’n Afkop man skaars vyf meter van hom af. Ian wat weg is. Is daar dan niks op aarde wat vir hom heilig is nie? wonder sy. Selfs toe die vliegtuig gekaap is, het dit byna gelyk asof hy die hele petalje geniet. Ook nou, met die dood om hulle en ’n kort tree agter hulle, lag hy sodat die tropiese voëls fladderend en skreeuend padgee. Soos hy nou daar staan, lyk dit eerder asof hy op ’n piekniek is as gestrand in die middel van ’n vyandige oerwoud.
Sy oë vonkel toe hy Lucia Cane antwoord. “Gedeeltelik. ’n Mens het beslis sielkunde nodig as jy met mense werk.”
“En jy het met mense gewerk?” Sy is openlik nuuskierig.
Sy glimlag word breër. “Ja … met vrouens ook. Alle soorte. Dit was interessant … en leersaam. Daarom sal ek julle twee kan hanteer tot ons weer in die beskawing is.”
“O!”
Sy glimlag verlig. Tot ’n minuut gelede het haar hart ook in haar keel geklop, het sy gevoel hoe histerie aan die bande van haar selfbeheersing trek. Hulle sit hier in die middel van ’n oerwoud, drie weerlose mense, alleen teen al die magte van die natuur. Maar nou …
Sy gaan die kans kry om hierdie man goed te leer ken, hier in die hart van ’n tropiese oerwoud met net die natuur om hulle … die rou natuur soos dit oorspronklik geskep is. Die beskawing is ver hiervandaan … so ook Julius Cane. Wie weet … miskien … miskien wag die interessantste deel van haar lewe op haar. En die belangrikste …
Weer voel Lucia Cane die rilling deur haar gaan, ’n rilling van genot maar ook van waarskuwing … ’n waarskuwing waaraan sy nie van plan is om haar te steur nie …
Willemien sleep haar drag hout nader, maar opsetlik merk nie een van die ander twee dit op nie. Die vreemdeling staan die jong miljoenêrsvrou met ’n fyn glimlaggie en betrag, en dis baie duidelik dat hy die flitsende emosies in die blou oë raaksien … en dit reg vertolk.
Dan dwaal sy blik na Willemien en sy oë rek tergend. Waar Lucia hom byna openlik uitnodigend aankyk en dit duidelik is dat sy hom baie aantreklik vind, is Willemien se donker oë vol vyandigheid en afkeer. Hy lag haar openlik uit.
So styf en minagtend as wat sy kan, keer sy haar rug op hom en gaan sit eenkant op die gras, haar oë neergeslaan en somber. Ian … Sy sluk swaar. Daar is ook liewe Paps en dierbare oom Martin. Sal sy hulle ooit weer sien? Waar is Ian? Wat sou van hom geword het?
Dit word nou vinnig skemer in die oerwoud. Spoedig is dit donker om haar. Teësinnig skuif sy nader aan die ligkring van die vuur. Om hulle begin die naggeluide opklink.
Onwillekeurig loer Willemien rond. Sy kan die gevoel nie van haar afskud dat daar oë op haar rus nie – wrede, geel oë wat die vreemde gedaantes in die vuurlig met konsentrasie betrag, die indringers wat uit die hemel hier in hul koninkryk neergestort het.
Sy betrap die vreemdeling se oë op haar en hulle sê duidelik: Sien jy nou? As ek jou nie gekeer het nie, sou jy nou alleen in die stikke duisternis van ’n oerwoudnag gewees het.
Sy kyk vinnig weg en pers haar lippe opmekaar. Niks op hierdie aarde sal haar beweeg om te erken dat die vreemdeling reg was nie.
Die vreemdeling sit haar nog ’n oomblik peinsend en betrag, buk dan oor en trek ’n groot tros piesangs nader. “Ons sal darem nie van die honger omkom nie,” laat hy tevrede hoor. “Hier is gelukkig baie wilde vrugte en die rivier is naby.” Hy breek een af en gee dit aan Lucia, maar Willemien draai haar kop weg toe hy ook een na haar toe uithou.
“Dankie. Ek … ek is nie honger nie.” Haar stemtoon verraai dat histerie net onder die oppervlak lê en met die sterkste inspanning in toom gehou word.
Sy stem is oorredend. “Jy moet iets eet. Daar lê veeleisende dae voor. Ons het ons kragte nodig. Dis nie kinderspeletjies om te voet deur ’n tropiese oerwoud te gaan nie. Kom, eet een.”
Die geur van die geelryp piesang is in haar neusgate toe hy dit weer uithou en dit voel of haar ingewande ’n draai maak. Haar kop swaai soos ’n tierwyfie s’n terug na hom en die bruin oë skiet vuur. “Hoe kan jy verwag dat ek moet eet terwyl …”
“As jy nog een keer vanaand daardie kêrel van jou se naam noem, sal ek nie verantwoordelik wees vir wat ek doen nie,” val hy haar ysig in die rede. “Vergeet vir een oomblik van jou wonderlike Ian en wees dankbaar dat jý nog lewe en net met ’n paar skrape en kneusplekke daarvan afgekom het. Honger ly sal niks aan Ian Crebbin se situasie verander nie. Ons het ure laas geëet. Jy ook. Jy moet honger wees.”
“Ek wou nie Ian se naam noem nie. Ek wou net sê hoe jy kan verwag ek moet sit en eet terwyl ’n verminkte lyk skaars vyf meter van ons af lê,” protesteer sy heftig, en weer kan hy sien sy is kapabel en gaan hom te lyf.
“Dan kan ek jou gerusstel. Hy lê nie meer daar nie. Ek het hulle albei … e … verwyder terwyl julle gewas het.”
Lucia kyk hom skerp aan. “Is albei kapers dood?”
“Ja.”
“Waarheen het jy hulle verwyder?”
“Rivier toe.” Sy stem is bot. Hy breek nog ’n piesang af en begin dit afskil. Hy hap ’n groot stuk af terwyl die twee vroue hom in stilte aankyk.
Dis Willemien wat vra: “Hoekom rivier toe? Het jy hulle nie begrawe nie?”
Hy lag humorloos. “My liewe kind, besef jy nóú nog nie dat ons in die hart van ’n oerwoud sit nie? Waar dink jy moet ek ’n graaf vandaan kry? Of verwag jy dat ek ’n lykwa met kranse en al met ’n swaai van die arm moet optower? Ek het hulle in die rivier gaan gooi, as jy dan moet weet.”
“In die rivier … gaan gooi? Maar … hoekom?” wil sy verbyster weet.
Hy sug hardop. Dis duidelik dat sy geduld aan ’n draadjie hang en dat hy net met die grootste wilskrag kalm probeer verduidelik: “Willemien, dis die trope hierdie. In hierdie soort klimaat vind ontbinding geweldig vinnig plaas. Afgesien daarvan, lok dit ook aasdiere. Ook muskiete en vlieë. Daar was geen ander uitweg nie. Ek moes hulle in die rivier gaan gooi.”
Ook Lucia lyk nou geskok. “Maar is daar nie … krokodille in die rivier nie?”
Sy stem is koel. “Natuurlik is daar.” Hy staan op, gooi nog ’n klompie hout op die vuur en dan kyk hy berispend na die twee geskokte gesigte. “Daar is een ding wat julle goed moet verstaan. Julle sit nie nou in jul ryk pa of man se sitkamer nie. Julle sit in die middel van ’n oerwoud waar net een wet geld – die wet van oorlewing. Dis nie ’n plek vir sentimentele twak nie …”
“Sentimentele twak!” Willemien spring op en oor die rooi gloed van die vlamme blits die bruin oë op hom. “Noem jy dit sentimentele twak om geskok te wees omdat jy twee mense koelbloedig vir die krokodille gaan voer het? Het jy geen menslikheid in jou nie?”
Sy oë is ewe ysig. “Meer as wat jy dink, Willemien Heyns. As ek geen menslikheid in my gehad het nie, sou ek my nie oor jou en Lucia bekommer het nie, maar my pad alleen teruggebaan het. Sonder julle sal dit baie gouer en veiliger gaan. Maar benewens menslikheid het ek ook ’n gesonde verstand, en dis meer as wat ek van jou kan sê.” Sy blik gly van die een na die ander. “Ons drie gaan uit hierdie oerwoud kom – lewend, al is dit die laaste ding wat ek op aarde doen. Ek gaan dit regkry, maar op mý manier, en of julle daarvan hou of nie, kan my nie ’n bloue duit skeel nie.”
Lucia kyk waarskuwend na Willemien toe sy paaiend sê: “Terwyl ons nou vir die volgende paar dae of weke so intiem saam sal wees, kan jy ons gerus sê … wie jy is, vreemdeling?”
Sy gesig ontspan effens en die ergste koudheid verlaat sy oë. “Ek het al gewonder of niemand dan wil weet wat my naam is nie: Mark.”
“Net Mark?”
Hy glimlag. “Dis genoeg vir die oerwoud, is dit nie?”
Lucia se oë is ondersoekend. “Ja. Oorgenoeg as ’n mens dit op die keper beskou. Wat is ’n van werd in die hart van ’n tropiese oerwoud?”
“Juis.” Hy kyk na Willemien. “Net so min soos geld.”
Vir ’n oomblik is dit baie stil om die vuur. Dan lag Lucia, maar dit klink nie spontaan nie. “O ja! Ek het sowaar dáárvan vergeet! Hier iewers is ’n paar rand weggegooi!”
Hy knik. “Ja. En op die oomblik is dit sonder baas.”
Lucia glimlag stadig. “Werklik! Ek besef dit nou eers. Dis allemansgeld, nie waar nie?”
Hy glimlag fyn en stap uit die ligkring. ’n Oomblik later kom hy terug met ’n bondel klere in sy hand.
Lucia kyk vraend op. “Wat is dit daardie?”
“Dis die twee kapers se klere. Nogal redelik onbeskadig. Ek het gedink … terwyl ons so gehawend daar uitsien …” Hy hou die klere omhoog. “Hier is twee broeke en twee hemde …”
“Ek wil nie daarvan hê nie, dankie,” sê Willemien met afgryse in haar stem en sy ril openlik. Sy kan haar die prentjie so goed voorstel: hoe hy die klere uitgetrek en eenkant gesit het en toe die halfnaakte liggame oor sy skouer gegooi en rivier toe gestap het … Sy loop liewer kaal voor sy daardie klere aantrek!
Weer rus sy oë koud op haar. “Dis jou saak as jy soos ’n sekskat deur die oerwoud wil loop, maar ek gaan beslis een van die hemde aantrek. Myne is flenters.”
Bedaard begin hy die toiings van sy lyf afskeur en stilswyend sit die twee vroue en toekyk. In die lig van die vlamme kan hulle die spiere op sy bors en boarms sien speel.
Willemien bestudeer hom noukeurig soos hy in die lig van die vlamme afgeteken staan. Hy is ’n fris man en in die speling van die spiere kan sy sien dat hy ook fiks is. In die rooi lig van die vuur sien sy die sonbruin borskas wat afloop in smal heupe. Daar is tekens van staalharde, geoefende weefsel onder die vel.
Stip bestudeer sy die gesig. Ook in die gelaatstrekke is daar ’n gebeitelde hardheid wat jy nie kan miskyk nie. Iets vertel haar dat hierdie man heeltemal koelbloedig sal raak as hy in ’n hoek vasgekeer word. Daar is iets meedoënloos in die hoekige kakebeen; ’n genadelose keep om die lippe; ’n vasbeslote, kil lig in die donker oë.
Sy vertrou hom nie. Hierdie vreemdeling … hierdie man wat homself as Mark voorgestel het … Wie is hy werklik? Hy het dit in ’n grap probeer afmaak, maar dit was baie duidelik: hy is teësinnig om homself ten volle bekend te stel. Sy twyfel of Mark sy werklike naam is.
Nadat hy die hemp in sy broek gesteek en weer gaan sit het, sê hy: “Nou moet julle probeer slaap. Ek sal waghou en die vuur aan die gang hou. Ek sal julle môreoggend vroeg wakker maak sodat ek ’n uur of twee slaap kan inkry. Dit sal genoeg wees vir my.”
Die twee vroue gehoorsaam, want die spanning van die afgelope ure het hulle totaal uitgeput. Hulle skuif hulle so gemaklik moontlik op die gras reg, maar ondanks hul moegheid ontwyk die slaap hulle.
Lucia lê met toe oë. Vreemd, maar sy voel heeltemal veilig, selfs gelukkig. Daar was geen vreugde in haar toe sy in Madrid in die vliegtuig geklim het nie. Die gedagte om terug te gaan na Julius Cane se paleis van ’n huis wat soos ’n tronk vir haar geword het, het soos ’n donker wolk oor haar gehang. En toe word die vliegtuig gekaap … en meteens het die lewe weer interessant geword … baie interessant …
Sy glimlag, loer vlugtig na die gestalte aan die ander kant van die vuur. ’n Interessante, donker vreemdeling met die naam Mark … en ’n losprys sonder baas hier êrens … Wat verwag ’n mens meer van die lewe, Lucia Cane? Wat kan ’n vrou meer van die lewe verlang as genoeg geld en ’n man soos hierdie geheimsinnige Mark? As jy jou kaarte reg speel, hoef jy nooit weer in jou lewe teen Julius Cane se verrimpelde oumansgesig vas te kyk nie; nooit weer ’n bed met sy uitgedroogde, afgetakelde liggaam te deel nie. Daar wag dalk ’n wonderlike toekoms op jou … geld en ’n daadkragtige man. Haar glimlag word breër. Tevrede raak sy aan die slaap.
Willemien lê die tropiese nag en instaar. Sy lê doelbewus met haar rug na die vuur, maar al kan sy hom nie sien nie, bly sy intens bewus van die groot gestalte ’n paar treë van haar af, weet sy dat sy donker oë dikwels op haar rus.
Sy roer onrustig. Sy is bang, ontsettend bang en dis nie vir die oerwoud nie. Dis ’n onverklaarbare vrees wat in haar opstu. As Ian net hier was …
In die vroeë oggendure maak Mark hulle wakker en strek sy groot gestalte op die gras uit. “Julle gaan nie verder as die stroompie nie, hoor? En kyk waar julle trap.”
Nadat hulle gewas het, sê Willemien ongeërg: “Ek loop net ’n draai.”
Met Lucia se “Wees versigtig” in haar ore, verdwyn sy agter die eerste struike. Sy kyk om haar en besef dit is ’n byna onbegonne taak om selfs in die daglig in hierdie wildernis na iemand te soek. Bekommerd kyk sy om haar rond terwyl sy voetjie vir voetjie vorentoe beweeg, haar oë soekend.
“Ian!” Daar kom geen antwoord nie. In haar kommer kom sy nie agter dat sy al verder wegdwaal nie. Ian móét net hier wees!
“Ian!” Die angstige stem dawer in haar ore terug.
“Willemien!” klink daar ’n stem agter haar op.
Toe sy omswaai, sien sy hom voor haar staan, en sy snak na asem. Stadig lig hy die pistool in sy hand. ’n Kille onverbiddelikheid straal uit sy oë en die pistoolloop hang roerloos in die stilte om hulle.
Sy kan net na hom staar, vasgevang in ’n yskoue doodsangs. Het hy van sy verstand geraak? Hoekom wil hy haar skiet?
“Mark!”
“Staan stil, Willemien … of jy sterf!”
Sy staan roerloos, haar liggaam verlam tot ’n beweginglose standbeeld, maar haar verstand is meteens helder. Sy onthou die gesprek van gisteraand, onthou hoe Mark en Lucia na mekaar gekyk het toe hulle van die geld gepraat het.
Meteens is dit vir haar duidelik. Terwyl sy weg was, het hulle twee gepraat. Die twee kapers is dood. Ian is weg. Dis nog net sy wat ’n struikelblok in die pad van hul planne kan wees … in die pad van die losprys wat hier êrens lê en wag.
Vasgenael staar sy na die beweginglose pistoolloop ’n paar treë voor haar … en sy weet dat sy die dood in die oë kyk.