Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 11

5

Оглавление

Die dag waarop sy ondersoek amptelik begin, staan die magistraat vroeg op. Hy trek die gordyne van die hotelvenster oop en kyk na die gruisgat teen die koppie. Dit is vroegmôre, maar reeds kan hy die vragmotors met vragte gruis die skuinste sien uitkruie. Hy skuif die venster oop en doen sy asemhalingsoefeninge voor die oop raam. Gesonde arm hoog bokant die kop, die stompie gemaklik daarnaas; nóg komiekliker omdat hy ’n langmoufrokkie aanhet. Dan afbuk en die tone raak met die hand, die stompie swaaiend saam in die frokkiemou wat leeg voor hom flap. Dan weer, met ’n diep teug lug, opwaarts. Sodra hy begin sweet, hou hy op. Hy gaan sit op die rand van die bed en met sy middelvinger voel hy die gepols in sy stompie. Toe sy hart bedaar, haal hy die blikkie salf uit die bedkassielaai en begin dit stadig aanmasseer. Hy bad, skeer en trek hom lig maar netjies aan. Hy maak die deur agter hom toe en stap na onder. Met die afkom by die trap, kyk die ontvangsdame op na hom: hy kan nie anders as om soos ’n toeris te voel nie.

“Môre, Edelagbare,” groet sy toe hy verbystap. Hy knik. In die eetlokaal is dit net hy en ’n jong paartjie. Nadat hy met ’n sny roosterbrood die laaste bietjie eiergeel uit sy bord opgevee het, steek hy met sy een hand behendig ’n sigaar aan. Die paartjie hou op om in mekaar se ore te fluister en kyk nou openlik nuuskierig na hom. Voor hy sy koffie klaar gedrink het, staan hulle op en stap uit. Die jong man het breë skouers en nou heupe; ook die meisie is goed gebou. Hul arms vleg inmekaar en by die deur soen hy haar op die voorkop.

“Nog iets, Edelagbare?” vra die kelner by hom. Hy skrik; hy was reeds weer besig om vrae in sy gedagtes te formuleer. Die volledige Moolman-stamboek is op sy versoek aan hom voorgelê. Ook ander stukke – onder meer ’n verslag van die veiligheidstak oor die bedrywighede van Oneday Riet, die kleinseun van Floors Moolman. Voor sy reis en weer op die trein het hy dit sorgvuldig gememoriseer. Hy ken die stake van die stamboek paraat. Van buite kan hy StamAbel se kinders opnoem, ook die afstammelinge van sy seun Floors Moolman.

Hy’t die vorige aand, nadat hy lank op die veranda gesit het, met skemertyd na sy kamer gestap en ’n kommissiejoernaal geopen. Agterin het hy die stamboek volledig geteken en as addendum notas aangeheg oor die enkele dokumente wat hy as vertrekpunt sou kon gebruik: die koerantberig wat net ná die insident in die plaaslike koerant verskyn het, die polisieverslag, die veiligheidstak se memorandum, twee foto’s van die toneel, ’n motiveringsverslag vir die afwesigheid van ’n ballistiese verslag, ’n beëdigde verklaring deur die plaaslike hof se beheeraanklaer en die plaaslike landdros se verslag-in-kamers.

“Nee dankie, kelner,” sê hy. Hy laat ’n fooitjie onder sy bord en stap na buite. Hy kan voel hoe oë hom volg en hy hou in die skaduwees op pad na die hofgebou. Die ontvangsdame het ongemerk uit haar hokkie gesluip en op die hotelstoep kom staan. Gretig volg sy die gang van die afarm-magistraat en gaan teleurgesteld na haar pligte terug toe hy buite sig raak.

By die hofgebou se voordeur stap hy onder die vlag van die Republiek deur. Later het die mense vertel dat daar dié oggend geen wind was nie, maar dat die Republiekvlag en die vlag van Justisie daarnaas uitbundig begin klapper het met sy aankoms by die hof. Hy stap verby die klerk van die hof se toonbank en volg die rigtingbordjie na die aanklaers se kantore. Wanneer hy presies vasgestel het waar dié kantore geleë is, begin hy na die landdroste se kantore soek. Toe hy dié opgespoor het, soek hy die latrine, en daarna die kinderhof, die hofselle, die karige hofbiblioteek en die parkeerterrein. Nadat hy eers ’n ruk in die deur van die blinde hoftelefonis se kantoortjie gestaan en kyk het hoe behendig die man se vingers die lyne wissel en deurskakel, is hy uiteindelik tevrede.

Hy stap terug na die hotel en bel die hofgebou uit sy kamer. Die blinde operateur skakel hom deur na die hooflanddros. “Dit is die magistraat op kommissie,” sê hy. “Ek sal ’n ruk op u dorp vertoef om die Moolman-verslag-in-kamers na te gaan. Kan u asseblief ’n motor aan my beskikbaar stel?” Hy weet watter vrese sy stem by die hooflanddros moet opwek. Hy ken dit: die merieteverslae, die omsigtige, nimmereindigende prosedures, die stempels en die rapporte, die kommissies en die rangordes.

“Baie dankie,” groet hy.

Hy is gereed om te begin.

Klassiek reeks: Toorberg

Подняться наверх