Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 9
3
ОглавлениеElla Moolman het oor die ryp in haar fyntuin gestap om pietersielie te pluk vir die middagete wanneer Abel en die geoloog uit die veld gaan kom. Sy het gehoop dat hul nuus oor uitkoms vir Toorberg sou bring. ’n Oomblik het sy opgekyk na die kolganse wat roepend oor die opstal kom draai en weer terugvlieg na die mis om Toorberg se kop. En toe sy buk en die yskoue blaartjies in haar hand voel, het haar hart ’n sprong gegee van die skrik. Voor haar, met die een voet duidelik dieper as die ander, het Abel se oorlede broer, De la Rey, se spore gelê. En in ’n oogwink het al die dinge rondom De la Rey en sy vorige besoek – die enigste vandat sy met Abel getroud is – in haar opgekom.
Stories was daar altyd oor De la Rey, vernoem na die veggeneraal. Daar is vertel dat hy, in navolging van sy oom Andreas, in die grootstad verlore gaan raak het tussen die skilders, die skrywers, die musikante en ander wat afbeeldings van die Skepping maak. Ná baie jare het die stories oor De la Rey opgedroog. “Almal se duime is nou lam gesuig oor De la Rey,” het Abel destyds nog aan haar gesê. “Hulle vergeet om te skinder oor die Moolmans as hulle bekommerd raak oor droogtes en veesiektes.”
Totdat De la Rey, ’n gryse oupa sonder kind of kraai, ’n rasegte Moolman sonder ’n morg grond in sy besit, daardie dag op Toorberg opgedaag het. Volgens die rekords van die staat het hy enkele jare vantevore intestaat gesterwe. Hoe hy die werf bereik het, kon niemand sê nie. Daar was geen wielspore nie, Posmeester Moolman het gesweer dat hy nie by die Halte afgeklim het nie, en ver kon hy ook nie stap nie, met sy een been korter as die ander.
Maar opeens het hy daardie môre drie jaar gelede deur die fyntuin aangehink gekom tot waar sy daggapitte vir KênsTillie se tee aan ’t pluk was. Ella het hom ná al die jare nie herken nie. Toe sy met Abel getroud is en haar intrek op Toorberg neem, was De la Rey reeds weg, by die universiteit in die stad besig met sy tesis oor die Skaamte. Hy’t glo gehoop, só het die mense geweet te vertel, dat die studie hom sou lei na al die hoofstede van die wêreld.
Toe hy nader kom, was daar iets in sy kopknik wat haar herinner het aan OuAbel en sy het vinnig begraafplaas se kant toe gekyk. Maar toe hy voor haar kom staan en vra: “Waar’s OuAbel?” het sy geweet dit ís familie, maar nie OuAbel self wat uit die graf opgestaan het nie.
“Dáár,” het sy gesê en na die begraafplaas beduie.
“O,” was sy antwoord en aan sy manier van kyk het Ella, altyd vlug van begrip, afgelei dat dit De la Rey, die dromer, moet wees.
“Jy’s De la Rey,” het sy gesê en haar hand teen die skerp oggendson oor haar oë gehou. “My swaer, die dromer.”
Terwyl sy nou die spore in die fyntuin versigtig bekyk, gaan haar gedagtes terug na die dae wat gevolg het op De la Rey se verskyning uit die niet. Hulle het Soois se ou kamer, wat al die jare leeg gestaan het met Soois se bebloede uniform nog in die kas, vir hom ingerig en daar het De la Rey die meeste van sy tyd deurgebring deur die boeke uit die glaskaste in die studeerkamer te lees. Snags, as sy en Abel al lê, het hulle hom op en af hoor skuifel in die gang soos hy boeke gaan haal en terugneem. Hy was onrustig, en veel het hy nie gesê of geëet nie, maar tot Abel se ergernis Druppeltjie nader geroep waar dié onder die wilgerbome weggekruip het, en vir hom voorgelees uit die klassieke verhale. Mettertyd het almal aan De la Rey se teenwoordigheid gewoond geraak, maar een môre het hy by die werf se hek uitgestap en nooit weer teruggekeer nie.
Eers toe Abel ’n week later, ná die soektog in die berge afgelas is, met OuAbel se Lee Metford in die slagkraal staan en hulle die jong os met rieme tot voor hom sleep, het hy besef wat gebeur het. Twee weke, het hy skielik onthou, was hulle al besig om vir die slagtery voor te berei. Die slagtafels is met koeksoda geskrop; blinknuwe biltonghake het reeds in die biltongskuur gehang. En dié veertien dae het De la Rey ál meer gedwaal en ál minder geëet. En toe Abel die jong os in die oë kyk, het hy verder onthou dat De la Rey as kind glo sy groot terugslag gekry het toe hy in die slagkraal afgekom het op OuAbel, besig om sewe jong osse vir die groot winterslag te skiet. Van daardie dag af was De la Rey nooit weer dieselfde nie. Koelbloedigheid kon hy nooit weer verduur nie.
Toe dié dinge hom byval, het Abel die os met ’n skoon skoot gevel, opdrag gegee dat die slagtery so gou moontlik afgehandel moet word, en die biltongskuur se deure toegespyker. Hy het al die biltonge in die tuishuis se waenhuis laat hang. Alhoewel almal gereken het dat Abel mettertyd sy meegevoel met sy broer se vleisvrees sou verloor, is daar sedertdien nog nie weer bees op Toorberg geslag nie.
Of De la Rey ooit verlossing gevind het op sy reise, het niemand geweet nie. En of hy weer in die dood gaan verdwaal het, kon hulle ook nie sê nie. Maar toe Ella op dié môre in die fyntuin buk en die koel pietersielie vasvat, het al dié gedagtes oor De la Rey weer by haar opgekom.
Sy’t gou ’n paar stukkies groenigheid gepluk en haar na die kombuis teruggehaas. Sy’t die pietersielie op die kombuistafel gelos en die lang gang afgeloop. In haar kamer het sy by die spieëltafel gaan sit, haar hare gekam en haar lippe rooigemaak. Sy’t die borsspeld wat sy by Ouma Olivier geërf het, aangesteek en met haar hand teen haar wang na haarself in die spieël gekyk. Toorberg het geen Moolman nog vry laat gaan nie, het sy gedink, nie in die lewe en nie in die dood nie. Sy het opgestaan en deur die groot kamers van die huis gedwaal, by die staanhorlosie in die sitkamer en die koperpotte in die gang verby, verby die portrette van StamAbel en Ouma Magtilt bokant die buffet in die eetkamer. Sy’t by al die slaapkamers ingekyk en in die gastekamers het sy die vensters oopgemaak vir vars lug, en die kussings elk ’n uitklop gegee en die dekens reggetrek. Sy’t die stof in die kose onder die gastebeddens laat uitblaas en die matjie in die gastebadkamer gaan haaks skuif.
Daarna het sy nog een maal deur die huis geloop en toe by haar stinkhoutskryftafeltjie op die sonstoep gaan sit. Sy het haar dagboek met die buiteblad van kalfsleer oopgemaak en daarin geskryf: “De la Rey het vanoggend skielik op besoek hier aangekom. Abel en die geoloog het gaan water soek in die boveld. My hande bewe en ek kan aanvoel iets gaan gebeur.”
Later het die magistraat op kommissie vir Ella gevra om – as dit nie inbreuk sou maak op haar privaatheid nie – hierdie bladsy uit haar dagboek aan hom te toon. Hy’t lank daarna gekyk en sy kop geskud, maar eers niks gesê nie. Toe het hy gegroet en by die voordeur aan haar gesê: “Dit lyk my u het ’n aanvoeling.”
Nadat sy haar dagboek oopgemaak en weer gebêre het in die geelhoutkissie, het Ella op De la Rey gewag. Hy dwaal seker op die werf rond, het sy gedink. Of dalk het hy weer aan die gesels geraak met die kind onder die wilgerbome.
Van haar lessenaar op die sonstoep af kon Ella oor die grasperk uitkyk tot by die roostuin, en verder oor die werf tot by die krale en die skure. Terwyl sy so sit, sien sy Kaatjie Danster in die verte aanstryk met die voetpaadjie wat bokant die skure teen die koppie afloop na die ondervlak en die Halte. Sy word ook al oud, dink Ella terwyl sy die figuurtjie dophou. Sy moet al naby die tagtig wees en kyk hoe fluks loop sy nog. Hulle is darem ’n taai nasie. Toe onthou Ella dat dit die einde van die maand is en dat Kaatjie Danster waarskynlik op pad is om haar pensioen by Koevert Moolman te gaan afhaal.
Soos Kaatjie Danster se familie, is De la Rey ook ’n StiefMoolman – mense wat deur OuAbel en Abel se trots verstoot is eenkant toe. Waarom sou hy nóú terugkom, wonder Ella. Destyds het sy as jonggetroude vrou by Ouma Olivier gehoor dat De la Rey eintlik OuAbel se lieflingseun was, nie Abel nie. De la Rey sou Toorberg erf, want hy was die oudste, en in sy stap en sy hoogmoed kon jy sien dat hy StamAbel se kleinkind was. Hy was taai en trots, maar terselfdertyd eenkant en stil, veral toe hy ouer word en een been hom al meer pla. Almal het aanvaar dat hy eers sou gaan leer, maar later sou terugkeer om Toorberg te boer.
Iets het egter in sy kleintyd gebeur, het Ouma Olivier vertel, wat hom verander het. Ella het nie ingevra nie, maar toe Abel met De la Rey se eerste besoek vertel van die osskietery, het sy begryp. Die sensitiewe kind het so groot geskrik toe hy sy pa in die middel van die kraal kom kry met drie dooie osse om hom en nog vier wat teen die mure brul en maal, dat hy van daardie dag nóg meer van ’n ingedagte geaardheid gekry het. Sy vrees vir vleis het gemaak dat hy beesslagtye in die tuishuis op die dorp gaan bly het – ’n stil, senuweeagtige seun wat sy pa teleurgestel en voëls deur ’n verkyker dopgehou het. Ná skool is hy weg universiteit toe en hy’t nooit weer teruggekeer nie – nie eens vir ’n tussenverkiesing of ’n Nuwejaarsfees op Toorberg nie.
Abel moes die broek van sy ouer broer dra en volgens die grondbriewe in die akteskantoor het OuAbel, die dag toe De la Rey universiteit toe is, in die geheim volle titel en alleeneienaarskap van Toorberg aan Abel oorgedra. Dit het Abel eers ontdek toe OuAbel jare later oorlede is en Abel die sleutel van die kluis in die studeerkamer ten aanskoue van die ondernemers van sy oorlede pa se nek afgehaal het. Dit was OuAbel se manier, het Ouma Olivier ná sy dood gesê, om De la Rey so gou moontlik uit sy lyf te sny.
Maar heeltemal uitsny kon OuAbel nie die loslopers van sy stam nie. StamAbel se testament het bepaal dat elke Moolmanvrou en Moolmanman wat nie op Toorberg boer nie, geregtig was op Toorberg se vrugte, en dié bepaling, só het hy voorgeskryf, moes opgeneem word in elke erfopvolger se testament tot in allerewigheid. Lewenslank het al die ander Moolmans ná hul mondigwording twee dosyn eiers en ’n slagding per week ontvang, ook ’n kan afgeroomde melk, een mud koring per kwartaal, dertig kilogram biltong per slag- of jagseisoen, een afgeslagte springbok uit die winterveld, ’n kas kwepers uit die laning in kwepertyd, ’n mandjie perskes uit die boord in persketyd, daagliks soveel groente uit die groentetuin as wat nodig sou wees vir ’n gesin met ses seuns. En ’n laaste bepaling wat die nageslagte verskriklike soektogte in die Toorberg besorg het: ’n pint bergskilpadsop gekook van die sagvleisies van ’n Toorbergse bergskilpad een keer per jaar – vir die medisinale kwaliteite daarvan.
Elke Abel sou hierdie goedere aan sy bloedmense voorsien. Dit was die dinge wat die Moolmans sou herinner aan hul heimat en hul sterfplek – die familiebegraafplaas waar al die Moolmans in testamentêre opdrag van StamAbel begrawe word met hul voete na die Ooste sodat hulle, as die Wederkoms aanbreek, met die regopsit reguit in die nuwe môre kan inkyk. Dominees oor baie generasies het die Moolmans berispe oor dié heidense gewoonte. Dit was Abel wat ’n einde aan die klagtes gemaak het met die opmerking aan ’n jong domineetjie dat hulle die mense uit nétheid so begrawe – sodat almal dieselfde lê.
Selfs ná De la Rey se wegraak moes daar steeds aan hom vruggebruik gegee word. Kort ná sy mondigwording het ’n telegram van hom van die universiteit gekom waarin hy sy wense vir sy vruggebruik uiteengesit het. Die biltong wou hy niks mee te doen hê nie. Die groente, vrugte, eiers en melk moes gaan na die klooster op die dorp, die vangery van die bergskilpad het hy as sonde beskou, die slagding moes hulle nie slag nie, die springbok mog nie geskiet word nie en die mud koring moes teruggesaai word.
Gebind deur die testament van sy pa en sy oupa, moes Abel jare lank groente, vrugte, eiers en melk by die klooster laat aflewer. Met De la Rey se eerste besoek aan Toorberg – kort voor hy weer die niet in is – het Abel een aand die studeerkamerdeur agter hulle toegemaak en Ella het gehoor, waar sy in die sitkamer gesit en hekel het, hoe Abel met De la Rey spook om skriftelik afstand te doen van dié bepaling.
Sedert Posmeester se skelm trouery met die Katolieke goewernante Amy O’Leary en OuAbel se doodsbedbitterheid daaroor, wou Abel niks van die Katolieke geloof hoor nie. Hy’t nie eens die nonne toegelaat om na die Skaamfamilie in die Stiefveld te ry wanneer hulle by die plase aandoen in hul ou kombi nie. “Heidense pikkewyne,” het OuAbel altyd gesê, “wat nie onder die hand van ’n man wil lewe nie.”
Maar De la Rey het voet by stuk gehou en Abel het opnuut gedreig om met die testamente van StamAbel en OuAbel na die hoogste hof te gaan om al die moeilike klousules van nul en gener waarde te laat verklaar. De la Rey het vasgestaan en ’n volle twee dae het hy en Abel nie aan tafel met mekaar gepraat nie.
Dié gedagtes kry Ella terwyl sy vir Kaatjie Danster dophou totdat die ou vrou oor die kim van die koppie verdwyn. Die hele oggend sit Ella só, asof die voetspoor so swaar op haar gemoed lê dat sy nie kan opstaan nie. Buitendien het sy onrustig geslaap. Die boormasjien het die hele nag deur gestamp en een keer, so teen drieuur, was daar ’n geroep. ’n Oomblik het sy gedink dat hulle ’n aar gebreek het. Maar dit het weer stil geraak en met ligdag het sy gehoor dat dit ’n muishond was wat tussen die vure om die boormasjien deur gehardloop het. Toe hy tussen die bene van ’n boorman beland, het hy só ’n vreeslike stank gelos dat dit nie eens met paraffien afgespoel kon word nie.
Teen middagete hoor sy Abel se Land Rover aankom. Sy gaan weer na die slaapkamer en druk haar hare reg voor die spieël. Aan die geure uit die kombuis ruik sy dat die boud gaar is. Sy gaan wag op die veranda met die hoop dat daar goeie nuus sal wees. Miskien het hulle ’n nuwe wateraar ontdek onder die kranse.
Abel hou voor die waenhuis stil. Hy en die geoloog spring uit en hardloop na die voordeur. ’n Oomblik wil Ella se hart in haar bors spring van vreugde en sy roep uit: “De la Rey het ook nog vandag hier aangekom!” Maar dit lyk of Abel nie hoor nie en toe hy by haar verbyhardloop die huis in, sien sy sweetkolle op die blaaie van sy kakiehemp.
Die geoloog kom staan voor haar, pluk sy helm af en sê: “Mevrou Moolman, ’n vreeslike ding het gebeur.”