Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 15

9

Оглавление

“My liewe vrou,” skryf die magistraat daardie aand voor die oop venster van sy hotelkamer waardeur die ligte windjie die geroesemoes vanuit die kroeg aanwaai, “toe ek vanmiddag op die plaas van die Moolmans buk en die koue metaal van die boormasjien teen my vingertoppe voel, het ek gemeen dat hy moontlik die skuldige is, dat ek ook sý getuienis behoort af te neem – sy hele verhaal, vandat hy met ’n goederebus by die Halte aangekom het, toegewikkel in olielappe, tot waar hy nou in onkruid vasgerank lê, vergete agter die melkstal waarin Abel Moolman se spog-Jerseys gemelk word. Die ene oliebome en brandnetel en duwweltjies is dit tussen en om en oor die masjien se stukke. Maar nêrens kon ek roes sien nie.

“Dit het meer onderdele as wat ek gemeen het. Die stukke het oor ’n groot area gestrooi gelê: staal van allerlei formaat en vorm. Pype, stange, ratte, kabels wat in mekaar verknoop lê, ankerstutte. Ek kon my verwonder aan dié stuk masjinerie wat Abel Moolman, die baas van die plaas, in die ban gedoen het daar agter die melkstal.

“Nie dat die masjien ooit onklaar geraak het en nou onbruikbaar is nie. Hulle vertel my dat Abel Moolman self die ding stuk vir stuk uitmekaar geskroef het en bo die aarde begrawe het. As hy nie so bang was dat die masjien onder die aarde sy duiwelswerk sou voortsit nie, só sê die hotelkroegman gisteraand vir my, sou hy hom sekerlik begrawe het. Buite sig en buite sinnigheid.

“Ek weet nie, my mooi vrou, hoe ek aldag te werk moet gaan in die ondersoek van hierdie saak nie. So vele kere wens ek dat jy hier was om die saak met my te bespreek. Ek het hier geen oor waarmee ek my gedagtes kan deel nie. Inteendeel, snags is ek en my gedagtes alleen in dié hitte. Maak ek die gordyne oop, is dit asof die swoel aand my oorweldig en moet ek uitkyk op die donker hap van die gruisgat teen die heuwel. Bedags moet ek tevrede wees met die stomme assistentklerk van die kriminele hof – ’n stompsinnige en immer vaak jong man. Hy moet my in die staatsmotor rondneem en het die gewoonte om op die lang, eensaam paaie in die distrik geen woord te rep nie.

“Dit is so dat ek, soos jy dikwels gesê het, die sake van die regbank nooit met jou bespreek het nie. Die reg is ’n moeisame beroep, moet jy weet, en dit is dikwels alleen in die stilte van jou enigheid dat jy dinge helder sien. Maar vir die eerste keer in my beroepsjare, uitgesonderd my tyd as jongeling op die bank, voel ek dat ek oor ’n aangeleentheid moet beslis waarvoor ek nie die aanleg het nie.

“Dit is ’n vreemde distrik dié, en snags as dit so warm is, kan ek aanvoel hoe vroetel die dorpsmense in hul huise. Wát hulle doen, weet ek nie. Miskien rangskik hulle koppies koffie op skinkborde, of klop hul pype uit teen die skemer stoepmure, of sit bakke water uit vir die honde wat snags so onophoudelik blaf. Dalk loop hulle net onrustig van die hitte rond. Ek leun dan by my hotelvenster uit en kyk hoe die ligte in die vensters uitdoof. Later brand daar net hier en daar nog ’n lig en uiteindelik is dit net die dominee se studeerkamerlig en die ou vrou oorkant die straat wat aan maagkanker sterf, wie se lig nog aan is.

“Die plase lê wydverspreid en die mense is stug. Hulle wil nie praat nie. Nie dat ek voel dat daar ’n gebrek aan respek vir my amp is nie. Inteendeel. Maar ek voel aan dat hul getuienisse (en tot dusver is dit maar informele gesprekke) nie spontaan kom nie. Daar is vrese, ou vrese, vrese van die bloed en die ou tyd. In die berge is daar bygelowe, jy sien dit in die mense se oë opstaan soos wilde onkruid as hulle begin praat. Jy sien dit in hulle wegkyk. Hulle lewe onder ’n vloek, dié mense van die verste distrikte. Ek kan dit aanvoel. Maar as man is my intuïsie te skraal om my te lei. Ek het die oog van ’n vrou nodig, ’n vrou soos jy, wat kan kyk en oordeel met die insig van haar gees.

“Ek is ’n ou magistraat en ek is skielik moeg. My arm pyn in die hitte. Dit is vreemd – gewoonlik gee hy net las in die koue. Onthou jy nog De Aar se winters? Toe het jy altyd die bloekomverband aangesit voor ek hof toe is soggens. Nou pyn hy van die hitte. Ek vind dit vreemd en ek wens dat jy hier was om my rug te vryf.

“’n Man waardeer sy vrou net as sy nie by hom is nie. Dit is die onverskilligheid van manwees.

“Hier is ’n gevoel op die dorp, moet ek ten laaste aan jou sê (en ek sê dit nie ligtelik nie, en, moet ek byvoeg, niemand het dit só pertinent aan my gestel nie, maar ek voel dit tog aan) hier is ’n gevoel op die dorp en nog meer verbete op die plase, dat ek hier ou kaiings kom oopkrap. Hulle hou nie van die reuk wat loskom nie; dit is dinge wat hulle reeds gebêre het vir die vergetelheid. Ek het egter my plig, en soos jy weet, is dit my grootste prioriteit. Ook moet ek byvoeg, tot my eie verleentheid, dat die samewerking van my kollega, die plaaslike landdros op die bank, nie na wense is nie.

“Hy is ’n man met ingehoue asem. Hy weet meer as wat hy wil toegee. Hy vrees my, want hy weet ek kom op kommissie.

“My liewe vrou, môre skryf ek verder. Ek hoop jy het die verhale oor die radio vandag geniet.

“Innige wense.

“Jou eggenoot en lewensmaat, Abraham van der Ligt.”

Die magistraat vou die brief op nadat hy sy pen toegeskroef het. Hy staan voor die venster en staar oor die dorp uit. Stadig maak hy die gordyne toe en trek sy hemp uit. Dan doen hy strekoefeninge. Toe sy hartklop bedaar, begin hy tydsaam salf aan sy stompie smeer.

Ek is soos ’n ou hond wat sy eie wonde lek, dink hy.

Klassiek reeks: Toorberg

Подняться наверх