Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 7

1

Оглавление

Volgens Kaatjie Danster, wat die oggend van die Stiefveld af op pad was na die Halte om haar pensioenkoevert af te haal, het sy die getuie van groot weemoed met haar eie oë gesien. Sy’t vroegoggend vertrek, toe die mis teen Toorberg se hakskene afdwarrel en die kolganse begin roep na mekaar. Dit was hoogdroogte en elke oggend was daar dié geroep na water en klam broeiplekke.

Voor sy in die pad geval het, het sy eers die ysterpot oor die vorige aand se kole gehang en fyn houtjies buite gaan breek. Met die terugkom het sy katvoet oor die bondels kleingoed onder hul karosse in die voorhuis getree, die fyn hout op die as gestoot, dit met haar hande vasgedruk en saggies geblaas. Toe dit vlam vat, het sy kaphout opgesit – só dat die water sou kook en die pap warm sou wees wanneer die res van die huis wakker word. Met die stram opstaan ná die blasery, het haar seun Shala in die deur gestaan, agter haar. Hoe laat jy my skrik, dink sy, maar sy praat nie, want sy wil nie haar kleinkinders wakker maak nie. Shala beweeg altyd soos ’n skaduwee en dra nooit hemp nie. Aan die vlek oor sy linkeroor kan jy hom eien as ’n Moolman. Ook aan die uitbundige woede in sy oë en sy manier om nooit voor hom te kyk op die pad nie, maar altyd ver, na die horison of die bulte se prampunte.

“Môre, Shala Riet,” sê sy terwyl sy deur die voordeur na buite buk, en onderlangs na hom kyk. Hy is steeds vies, want hy was by toe sy die vorige aand, met haar kleinkinders om haar, haar hart leeg gepraat het oor Toorberg en die Moolmans. Hulle moet weet, het sy gevoel, en later het sy haar verwonder dat sy juis dié tyd moes kies om die stam vir die kinders uit te lê.

“Môre, Ma Kaatjie,” sê hy met sy stem wat haar altyd laat dink aan haar skoonpa, Floors Moolman – nie omdat sy ooit vir Floors Moolman gesien het nie, maar omdat Ouma Kitty kleintyd al oor Shala gesê het: die tong is Floors s’n. Daar is net die voosgevatte foto van Floors Moolman wat hulle bêre by die pensioenpapiere en Abel Moolman se brief waarin hy belowe dat hulle die Stiefveld met hul afstammelinge vir eenhonderd jaar kan bewoon.

“Daar was ’n ondier by die bokke vannag,” sê Shala. “Ek het hom gaan verjaag.”

“Was dit ’n jakkals, Shala Riet?” vra sy terwyl hulle op die houtbank neffens die voordeur gaan sit. Ver onder in die vallei, deur die mis heen, kan hulle die groothuis se dak sien blink – die Engelse sink wat StamAbel Moolman met ’n skip laat kom het van oor die water. Dis nadat die Boesmans die grasdak van die eerste kleihuis bo in die Vlei kom brand steek het die nag toe StamAbel en Ouma Magtilt onder die vloere moes wegkruip.

“Ek sien nie spore nie, Ma Kaatjie,” sê hy.

“Seker die tokkelos, my kind.” Sy kyk op na Toorberg se kop. Die baken begin wys in die mis. “Daar’s nog baie tokkelos wat bly in dié berg,” sê sy. “Gaan vra maar vir Slams daar oorkant. Die kranse is vol skeure en jy kan maar gaan soek daar, jy sal die geraamtes van jou voorvaders kry.”

“Ek en Oneday ken elke krans, Ma Kaatjie,” sê Shala ongeduldig. “Daar’s net die Boesmantekeninge in die een naby die Oog. Ma weet self daar’s niks tokkelos nie.” Toe staan hy vererg op en sy kyk hoe hy wegstap: haar skaam seun, met sy regop lyf en mooi skouers. Hy gooi die kraal se hek oop en du met sy heupe tussen die bokke in, woel tot agter die trop en druk hulle dan met ’n gefluit by die hek uit.

Wanneer hy die hek agter hom toegooi en die trop veld af begin loop, die witbaarde voor en die ooie in uier heel agter, skree sy vir hom: “Shala, jy’t nog nie gebrekfis nie!” Maar hy waai ongeduldig en later kan sy hom nie meer sien deur die rooi stof, die dwarrelmis en die vaalte in haar oë nie. En Kaatjie Danster weet Shala Riet is haar mooiste seun, met sy trotse woede teen die Moolmans, sy kaal lyf, sy hande wat kan breek of regmaak en sy onvrugbare lende wat hy kry van die vlek oor sy linkeroor – die teken van die onvrugbares in die Moolmanstam. Maar sy bloed is goed; dis die bloed van sy pa, Andries, en sy ouma, Kitty Riet, en Kitty se sterk voorgeslagte wat terugloop tot by die sendeling James Read, by wie hulle hul van gekry het, en verder terug, deur dié heilige man se are tot in die mistige wêreld oorkant die see.

Maar dat hierdie dinge nie vir Shala en haar ander seun, die slim Oneday, belangrik is nie, begryp sy ook – hulle is kinders van vandag en môre, nie gister nie. Dié ook dat hy, toe hulle die vorige aand praat oor die boormasjien wat so lank reeds oral gate trek en niks vind nie en sy die storie van Toorberg vertel, so vies geraak het. Maar Oneday se kleingoed, wat nou in bondeltjies op die voorhuisvloer lê en hul laatopbly uitslaap, het geluister.

Die storie van water, het Kaatjie Danster hulle vertel, is die storie van die Moolmans. Die Oog hoog bo in Toorberg, wat nou opgedroog het, is deur StamAbel ontdek toe hy hier deurgetrek het met sy hings, sy pakperd, die agterryer Jan Swaat en sy spoorsnyer, HansBoesman, vas aan sy stiebeuel met ’n leiriem. Hulle sê HansBoesman het vier dae suid reeds die water geruik, toe hulle tagtig myl ver was, en hy’t vir StamAbel gelei, die nek oor, die vleie deur, Toorberg se kranse op tot waar die soet, helder water uit die sewe klipgleuwe van die fontein spu.

StamAbel het tussen die varings, paddaslym en riete afgesaal nadat hulle die perde teen die steil kranse moes uitsleep. Terwyl die perde ’n entjie van hom af blinkpens gesuip staan, die agterryer onder die wind ’n dampie slaan en die hans-Boesman wakker soos ’n meerkat die kranse bekyk, het StamAbel oor die vallei uitgekyk en besluit om ’n grondbrief van die naaste landdros aan te vra. Daar in Toorberg se lies het StamAbel kamp gemaak en sy plaas beplan.

’n Goeie drie dae het hy in alle windrigtings verken, die grond bekyk, die water se loop gevolg, in die vleie gedwaal en die ganse bekruip, die wildehoenders voor hom uit die gras sien opvlie en ver op die kim die troppe bok en volstruis gewaar. Op die derde dag het hy skote op ’n troppie Boesmans wat hy in ’n holkrans teen die hange teëgekom het waar hulle heuning aan die uithaal was, gelos. Die klompie het laat spaander terwyl HansBoesman stil langs StamAbel se perd gehurk het en StamAbel het later lank in die holkrans rondgekruip en die Boesmantekeninge teen die wande bekyk.

Bedags het die bobbejaantroppe teen die berg geblaf en snags kon hulle rooijakkalse en tiere hoor roep agter die vure wat hulle om die kampplek gepak het.

In daardie dae, het Kaatjie Danster haar kleinkinders vertel terwyl Shala stug geluister het, het julle Grootoupa StamAbel die grond liefgekry en omdat hy die wonder van dié nuwe wêreld met sy Oog, vleie en gras nie heeltemal begryp het nie, het hy die berg Toorberg genoem en besluit om sy plaas, as hy die grondbrief kon kry, dieselfde naam te gee.

Hy’t sy trek gaan haal waar dit drie weke suid teen ’n rivier gelê het, met Ouma Magtilt reeds hoog swanger met Regter Lucius. Hy’t die trek gebring tot by die Toorberg se Soetveld, waar die Oog se water oopgesprei het in die loop van die Toorrivier. Daar het hy staning gemaak en besluit dat dit die aarde is waarin hy en sy nageslagte wou heengaan.

StamAbel het sy waens in ’n driehoek getrek en ’n takkraal gebou, ’n kookskerm opgerig en ’n deelmud koring gesaai ’n entjie van die kamp af. Hy’t ’n klompie bokke platgetrek en strikke in die Vlei gestel. Toe die biltonge in baie rye in die kookskerm hang, het hy sy perd gevat en binne sewe verskriklike dae tot by die naaste landdros en terug gejaag. Op die sewende dag, met die perd wat skuim om die stang, en StamAbel self lam van die koors, het hy op Toorberg aangekom met die grondbrief in die saalsak. Hy was ’n veel armer man, want die landdros se prys was hoër as wat hy verwag het. Toe hy by die wa inloer, het hy Ouma Magtilt gekry met Regter Lucius in die arm.

Vir Ouma Magtilt, uit die stam van die taai Van der Merwes van die Koue Bokkeveld, het ’n moeilike drie maande voorgelê. Regter Lucius, soos alle slim babas, was gepla deur die koliek. En toe het StamAbel ook nog twaalf weke lank met hoë koors in die siekwa gelê. In dié twaalf weke, só het die ou mense vertel, het hy al sy voorgeslagte se sondes uitgesweet, maar in die lang nagte van rondrol in die wa, het hy sewe duiwels opgedoen. Want toe hy uiteindelik met bewerige kniekoppe uit die siekwa klim, was die hel self los en binne drie jaar het StamAbel geskiet en geploeg en gekap en gebou totdat Toorberg dié spogplaas van die woesteny was. ’n Plek waar predikers, smouse en vlugtende moordenaars in bewondering sou oornag, om te luister na die roep van kolganse, die borreling van die Oog as alles stil word in die nag, die getjank van jakkalse en die snuifgrom van tiere.

Toe Kaatjie Shala nie meer sien en die trop nie meer hoor nie, staan sy met ’n sug op. Om aan die voorgeslagte te dink laat haar altyd sug. Die nageslagte is jonk en sterk, maar die dooies is so moeg gelewe dat sy altyd oor hulle bekommerd is.

Dit is nog nie behoorlik dag nie toe sy in die voorhuis ’n bondeltjie knoop van ’n muntstuk, ’n duim pruimtwak, ’n dolossie vir geluk en hoop, en die kruisie wat Ouma Kitty Riet op haar sterfbed aan haar toevertrou het met die woorde: “Dit was Grootoupa Sendeling s’n. Moet dit nie dra nie, dis reg van sy heilige bors af. Sy meid het dit afgesteel op sy doodsbed. Draai dit in jou bondel toe en neem dit op al die paaie wat daardie weggooivel Andries jou sleep.” Dit was Ouma Kitty se laaste woorde, sy’t die asem uitgeblaas en Andries moes gaan kisplanke bedel by sy neef Abel Moolman sodat hulle Kitty met eer kon bêre.

Met haar bondeltjie onder die arm, trek Kaatjie die kopdoek styf bo haar oë en met ’n laaste blik na haar slapende kleinkinders uit die lende van Oneday Riet en daardie losvrou wat so gereeld wegloop na haar mense in die Kamdeboo, Meisie Pool, begin sy kloofaf stap, die Stiefveld uit, tot waar die donker saaigrond van Toorberg se vleie begin.

Later kon sy nie aan die magistraat sê wat haar dié oggend heldersiende gemaak het nie. Of dit die vorige aand se stories oor StamAbel was, of die gedagte aan die tokkelos, of dalk Shala Riet se beneuktheid. Dalk Oneday, haar slim seun, se praatjies wat hy by die kerkskool geleer het. Of dalk was dit die ganse se geroep na broeiplek en die mis en die stof wat so voor die vroeë son opgestaan het wat dinge ’n waas gegee het sodat sy die boosheid kon voel blaas in haar ruggraat toe sy afstap na die Halte op die vlak en skielik met groot weemoed in die voetpaadjie voor haar vir Druppeltjie du Pisani, die kind van KênsTillie en Waterwyser du Pisani, gewaar waar hy staan en luister na die wind.

Later het Kaatjie die magistraat vertel dat Druppeltjie haar nie gesien het nie en toe sy naby hom kom, kon sy sien dat hy reeds die lewe vir die dood verruil het. Hy’t opgekyk na die kolganse wat oor hom vlieg en na water roep. Hy was ’n spook van ’n kind, soos hy daar gestaan het. En toe hulle agterna aan Kaatjie verduidelik dat Druppeltjie eers drie dae later gesterf het, het sy steeds volgehou dat sy hom daar in die voetpaadjie vir dood aangesien het waar hy na die roep van die kolganse gestaan en luister het.

As baba, het almal geweet, het Druppeltjie du Pisani nooit sy oë vir die son geknip nie en hy’t van kleins af die gewoonte gehad om in boorgate af te staar. Verder het hy sy ma se vrees vir die donker en sy pa, Waterwyser du Pisani, se liefde vir wilgerbome geërf. Druppeltjie het altyd op Toorberg se werf onder die wilgerbome gespeel en Kaatjie het met haar eie oë gesien hoe hy, as Abel Moolman verbykom, wegkoes agter ’n stam of sy lyf kleinmaak teen die grond onder die lae takke. Daar sou hy lê en asem ophou tot Abel buite sig was. Eenkeer, só vertel die mense, het Abel naby Druppeltjie na ’n miskruier en ’n bal mis gestaan en kyk en die kind het só lank asem opgehou dat hy blou in die gesig vir dood opgetel is. Sy pa moes die Slams roep om hom te kom lawe.

Sedert Druppeltjie in sy eerste boorgat afgeloer het, was hy pal by die boormasjien en die nuwe gate wat gesink is. Die maande toe die boormasjien oral om die werf gestaan en hamer het dag en nag, terwyl die boormanne snags vuur maak om te kan sien hoe die stange en ratte werk, het Druppeltjie nooit ’n oog toegemaak nie. Hy’t gereeld weggehol van die plaasskooltjie waarin Waterwyser du Pisani met sy ses kinders gewoon het. In die donker het hy naby die boordery op sy maag kom lê om alles gade te slaan met sy groot, stil oë.

En later, toe die magistraat op kommissie haar huisie in die Stiefveld besoek het om haar te vra waar sy die dag was toe die weemoedige ding met Druppeltjie gebeur het, het Kaatjie voor haar sy vaal gesiggie gesien waar hy krappe soek onder die klippe by die drif of waar hy, asof hy droom, by die windpomp sit en luister na die stang wat in en uit die aarde sleep.

Druppeltjie was ’n kind van die weemoed, het die mense altyd gesê as hulle die seuntjie op die werf sien dwaal het. Die Moolmans het eers agtergekom dat Druppeltjie anders in die kop is toe hy een nag by ’n oop venster die opstal ingesluip en Toorberg se groot staanhorlosie uitmekaargehaal het om te kyk hoe laat dit is. Eers toe het almal besef dat die kind dinge nie op sigwaarde neem nie.

Terwyl Kaatjie Danster Druppeltjie op sy staanplek in die voetpaadjie sien draai het sodat sy oë die kolganse kon volg, het sy die nag onthou toe KênsTillie, aan die einde van haar tyd, in die klowe soek geraak het. Almal, ook die Skaamfamilie van die Stiefveld en Posmeester Moolman se mense, is met lanterns die berg in om na Tillie te soek. Uiteindelik is sy gekry by die opgedroogde Oog hoog op teen Toorberg se steilste krans, met die nat bondeltjie kind in haar arms. Ná sy geboorte, vertel die agtervelders, het daar sewe maande lank konstant ’n druppeltjie aan Druppeltjie se linkerwang gekleef en elke keer as ’n grootmens dit afvee, was dit maar weer daar.

Van toe af het die mense gesê hy’s ’n kind van die weemoed self.

KênsTillie sou nooit van haar kind ’n Moolman kon maak nie – daarvoor was sy self te deurmekaar en haar houman se bloed te bedenklik. Die Du Pisani’s van die Knersvlakte het maar altyd met hul wilgerlote gesmous waar daar nood was en het self nooit wortel geskiet nie. Hulle was swerwers en Abel sou Toorberg nooit oorgee aan ’n kind met swerfbloed nie; ’n kind wat altyd sal wonder hoe dit lyk anderkant die horison as jy by Toorberg se baken staan en jy kyk oor die Kamdeboo na waar die aarde hoepel trek in die skimmel verte. Moolmans moes wortel skiet en selfs na die dood mog hulle nie reis nie. Toorberg was hulle s’n en hulle was Toorberg s’n.

Terwyl Kaatjie dié gedagte gedink het, het Druppeltjie skielik die veld ingedwaal en sy het hom nooit weer gesien nie. Sy’t haastig aangestap, want die rooidag het reeds gebreek. Toe sy later by die Halte kom, het sy vir Koevert Moolman gesê: “Ek het die dooie Druppeltjie du Pisani in die pad gekry”

Koevert het haar net vinnig skeef aangekyk. “Die pad raak te lank vir jou, tant Kaatjie Danster,” het hy gesê. “Jy moet daardie ingat Shala-seun van jou stuur. Hoekom laat jou mense jou so swaar kry?”

Eers het sy nie geantwoord nie, maar sy hande dopgehou waar hulle posstukke sorteer op die tafel met die inkmerke.

“En daardie Oneday-kind van jou, tant Kaatjie Danster. Die hele wêreld weet van sý soort kerkery in die lokasies. Die polieste gaan hom nog optel.”

Sy’t uitgekyk buitentoe, na die rooi bus onder die peperbome voor die Halte. “Jy’s ook maar ’n StiefMoolman, Koevert,” het sy gesê. “Jy weet van swaar kry, jy en jou ma en jou pa, die posmeester.”

Koevert se hande het stil geraak toe hy opkyk. “Tant Kaatjie,” het hy gesê en sy kon sien hoe trek sy een oog skeef soos dit altyd maak as hy hard dink. “Die droogte wat Toorberg nou so wurg, sal die Moolmans laat voel hoe voel die lyf as die ribbes riwwe onder die vingers maak. Ek sê vir tant Kaatjie, ek voel dit kom in my lyf, daar’s swarigheid vir die Moolmans vorentoe. Daardie boormasjien het nou al oral geboor waar ’n groen varkoor sy wang wys of waar ’n groen klossie gras staan of waar Waterwyser se wilgermikkie gebuig het. Maar hulle boor net ou bene en klippers los, tant Kaatjie. Jy sal sien, die Here het al die water uit Toorberg se watertafels getrek. Die sonde, tante, vra om gestraf te word.”

Koevert het weer afgekyk en voortgegaan om die pos te sorteer.

Kaatjie was stomgeslaan. In al die jare dat Koevert voor haar grootgeword en saam met Shala en Oneday om haar huisie gespeel het, het sy hom nog nooit so baie op een slag hoor praat nie. Toe hy die possak nog een skud gee om seker te maak dat dit leeg is, het hy weer opgekyk. “Die pensioen is nog nie hier nie, tant Kaatjie. Miskien volgende week. Die Goewerment is maar so draaierig.”

Sy het gegroet, haar bondeltjie gevat, ’n mondvol water by die kraan onder die peperbome gedrink en begin aanstryk met Kaatjie-se-paadjie. Teen die eerste rantjie het sy die bondel neergesit, dit oopgeknoop en ’n stukkie pruimtwak uitgehaal. Lank het sy daar gesit en uitkyk oor Toorberg. Ver aan die oorkant van die vallei kon sy ’n rokie uit haar huis se skoorsteen sien trek.

Teen die vroegmiddag het sy die Stiefveld bereik en toe sy by die huis kom, het sy by Shala gehoor van die verskriklike ding wat met Druppeltjie du Pisani gebeur het.

Klassiek reeks: Toorberg

Подняться наверх