Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 14
8
Оглавление“Wys my die boormasjien,” vra die magistraat toe Waterwyser du Pisani uitkom op die voorstoepie van die ou plaasskooltjie waar hy met sy vyf kinders woon. Gehaak in Waterwyser se lyfband is vyf wilgermikke van wisselende groottes: ’n dun gele, wat glo die oudste is en wat hy gebruik in kalkwêreld, dan ’n kort dikke wat hy in die vleiveld vasvat, daarnaas ’n blinkgevatte slap lat wat hy opneem as hy die water in sy voete voel, en twee kleintjies, wat hy nog na aard moet skat. Reg om sy lyfband is klein medisynebotteltjies vasgemaak waarmee hy monstertjies water skep by elke fontein en stroompie op Toorberg. Snags lê hy sy wilgerlatte in water in, waarby ’n bietjie beesurine en water uit sy botteltjies gegooi is om die hout taai te trek. Só het sy latte die water van die vleie en die berg intiem leer ken.
Waterwyser, wat stam uit die arm Du Pisani’s van die droë wêreld, hakkel en vat aan sy hoed en sy mikke terwyl hy voor die magistraat op sy stoepie staan.
Hulle stap in die rigting van Toorberg se melkstal terwyl die spannetjie Du Pisani’s hulle deur die skoolvensters agternaloer. Agter die melkstal lê die dooie masjinerie: stukke potyster wat eers lusernsnyers was, ’n kruppel dorsmasjien met sy disselboom in die aarde geleun, ’n stompneustrekker sonder voorwiele en met verrotte agterbande uit OuAbel se tyd, ’n eg met geroeste, stomp tande, en eenkant: ’n hoop ratte, hefbome en wiele wat suf tussen die brandnetels lê.
“Dit, u Edelbare, is die boormasjien.” Waterwyser trap met sy velskoene die onkruid tru. “Dis die ding wat die ellende op ons kom lostorring het,” gaan hy voort toe die magistraat nie nader staan nie, maar ’n sigaar aansteek en ingedagte na die stukke metaal kyk. “Stukkie vir stukkie,” sê Waterwyser. “Soos ’n garing in ’n onderbaadjie. Later is daar geen einde aan die torring nie en alles torring saam.” Waterwyser stap om die stukke yster. Die magistraat let op hoe hy elke onderdeel met sy skoenpunt skop en bevoel.
“Waar is die punt?” vra die magistraat. “Die boorpunt.”
“Nee, u Edelbare, dit weet niemand nie. Hulle sê oom Abel het hom begrawe in die dooieveld – daardie giftige stuk aarde waar StamAbel se waens gestaan het toe hy amper van die koors omgekom het. Waar niks wil groei nie. Hulle sê die duiwels wat StamAbel uitgesweet het, woon nog daar. Die vee loop al óm die plek. U Edelbare sal nooit ’n spoor daar sien lê nie.”
“Waar is dit, meneer Du Pisani?”
“In die onderveld, u Edelbare, op pad na die Halte toe.”
“En u sê Abel Moolman het die boorpunt daar gaan begrawe?”
“Ja, u Edelbare, hulle sê oom Abel, met sy stoepboerhande wat nooit aan ’n graaf of ’n trekker se stuurwiel gevat het nie, het self die boorkop op sy Land Rover gelaai en hy’t stowwerig en die hel in teruggekom en glo gesê: ‘Ella, ek het die skuld afgewas van my hande met die stof van die dooieveld. Laat ons vergeet van die dinge van dié jaar, laat ons vergeet van die masjien, laat ons rein wees met die eerste reën.’ Dit was sy einste woorde, u Edelbare, só vertel Kaatjie Danster se niggieskind wat as binnemeid op Toorberg werk, en met dié einste woorde, u Edelbare, het die reën begin uitsak oor Toorberg se opstalle – só erg dat al wat damwal is in daardie wolkbreuk gebreek het en die erdvarke natsnoet rondgedraf het in die veld, met die klonkies agterna, want al die gediertes se gate was toe onder die water.”
“En,” vertel Waterwyser du Pisani verder aan die magistraat wat nou op een van die stukke yster gaan sit om oor die dooie masjinerie uit te staar, “wat die distrik nog verder laat glo het dat die duiwel sy hand in dit alles had, is dat al die droë boorgate wat die masjien so sonder sukses staan en oopboor het op byna elke morg van Toorberg, begin water spu het.”
Dan skuif Waterwyser sy hoed terug op sy kop. “’n Ander ding, u Edelbare. Die Moolmans se familiebegraafplaas het oorstroom en toe die water weke later wegsyfer, toe was die graf van StamAbel ingesak. En die grafsteen was net weg, ingesluk deur die nat aarde, na daardie plek van die dood waaroor ons maar net kan gril.”
Die magistraat knik sy kop. “Só,” sê hy.
“Asseblief, u Edelbare, laat ons die duiwel nou los. Dié masjien moet eintlik toegegooi word. Eintlik moet hy ’n swart begrafnis kry met die vloek van die Slams oor hom. Want soos hy hier lê,” en Waterwyser skop-skop aan ’n hefboom, “is hy die ding wat die Moolmans geknak het.”
Die magistraat druk sy sigaar dood teen ’n stuk yster, staan op en sug. Hulle stap terug na sy motor, waarin die assistentklerk skuins agter die stuurwiel sit en dut.
“En wat sê die Wet nou van hierdie gebeurtenis, u Edelbare?” wil Waterwyser weet.
“Dit sal ek nog vasstel, meneer Du Pisani.” Die magistraat steek sy hand deur die oop motorvenster en haal ’n nuwe pakkie sigare uit die paneelkissie. Die klerk skrik vervaard wakker en trek sy das reg. Terwyl die magistraat die sigaar opsteek, voel hy hoe die onmeetlike stilte van die vlakte om hom kantel. Ver op die horison dans waterspieëlings en die tregter van ’n enkele warrelwind speel rondom Toorberg se voete. Alles swyg, dink hy, net die monde babbel, babbel soos bitter water.
“Dis droog,” sê hy aan Waterwyser en wys met sy sigaar na die stoftregter.
“Dis die Stiefveld wat daar so droog lê, u Edelbare. Uitgetrap deur Shala Riet se boktrop. Daar’s nie veel van daardie stuk veld oor nie.”
“O so.”
Hulle staan in die hitte; binne die motor sug die klerk. Die bakwerk kraak soos die son die metaal laat uitsit.
“Vertel my van Abel Moolman se verhouding met klein Noag Moolman, u oorlede seun.” Die magistraat kyk Waterwyser in die oë. Onverwags skerp is die terugblik voordat Waterwyser wegkyk en met sy skoenpunt liggies teen die motorband skop.
“Nee, u Edelbare, u het seker gehoor?”
Die magistraat skud sy kop. “Ek het nog niks gehoor nie, meneer Du Pisani.”
“Kyk.” Waterwyser vroetel met ’n botteltjie aan sy lyfband, wikkel dit los uit die riempie waaraan dit hang. Hy skroef die dekseltjie los. Vinnig bring hy dit na sy mond en sluk die water met een spring van die gorrel af. Hy vee oor sy mond. Die magistraat kyk effe verbaas of die klerk dit opgemerk het, maar dié se kop knik weer vooroor. “Kyk,” herhaal Waterwyser en vee sy mond behoorlik met die agterkant van sy hand af.
“Ja, meneer Du Pisani?”
“Ek en Tillie, u sien, u Edelbare, hoe sal ek nou sê? Ek en Tillie was nou nie juis getroud nie. Dié ding het maar gebeur toe sy in hierdie klomp mikke van my geïnteresseerd geraak het. U weet, u Edelbare, sy’t my bekruip in die veld as ek mik trek. Sommer agter ’n bos vlie sy uit en gryp my mik en hol die veld in daarmee. Nee, u Edelbare, ek het my probleme gehad met haar. Malkind soos sy is. U sal nog oplet as Ella haar vir u Edelbare wys, as hulle haar laat uitkom uit daardie kamer wat Abel laat aanbou het ná Druppeltjie se dood. U weet, Edelbare, daar’s nie ’n enkele venster in daardie kamer nie, en Kaatjie se niggieskind vertel my Tillie lê op net ’n matras en dis die een kooksel daggatee op die ander. Maar u Edelbare sal waaragtig sien as sy daar uitgebring word, sy’s die mooiste meisiekind in die kontrei, met haar hoë hakskene en haar mond wat altyd die snaaksste dinge praat.” Waterwyser hou skielik op en kyk na die magistraat. “Maar u weet dit tog seker alles, Edelbare?”
“Nee, meneer Du Pisani. Ek is nou hier om uit te vind. Sê my, was u eens getroud?”
“Dis die ander ding met oom Abel, Edelbare. Ek en my vrou het hier in die leë skooltjie ingetrek. Hy staan so leeg vandat Amy O’Leary die skooltjie by die Halte begin het. En dis toe dat die lollery met Tillie begin. My vrou, u Edelbare, is vort nog voor Druppeltjie ingeval het. Sy’s by haar familie in Namakwaland.”
“En sy’s weg oor u verhouding met Tillie Moolman.”
“Is so, ja, u Edelbare.” Waterwyser voel-voel weer na ’n botteltjie.
“Maar sê my, meneer Du Pisani, hoe het Abel presies oor Noag gevoel?”
“Hy’t die kind nie aangekyk nie, Edelbare. Soos ’n weggooilam het hy hom op die werf geduld, maar hy’t hom nie aangekyk nie. Nee, want hy was mos nie ’n Moolman nie. Buitendien was Druppeltjie ook ’n dwaler, en oom Abel het nie veel aan dwalers nie. Hy sê ook, Edelbare, u kan hom maar vra, hy sê ook die Du Pisani’s is dwalers. Waterdwalers, noem hy ons. En Druppeltjie was ’n Du Pisani. Al om die boorgate en die wilgerbome. Kom, ek wys u Edelbare iets.”
Waterwyser krap in sy sak en haal ’n klein wilgermikkie uit. “Hom, u Edelbare,” sê hy en daar is ’n mistigheid in die oë onder die hoed, “het ek juis vir Druppeltjie gesny die dag voor hy die gat in is. Ek wou hom die wysery leer. Ek kon sien hy’t die aanvoeling. Weet Edelbare, hy’t bogronds gestaan, dan staan hy die water en luister. Hy kon water hoor, Edelbare, al is dit honderd voet diep. Hy sou vir Abel baie werd gewees het. As hy groter was, sou hy sonder mik sy hakskeen kon inslaan en net sê ‘Boor!’ en ons sou boor met daardie dooie masjien en ek sweer, u Edelbare, ek sweer ons sou soetwaterare oopboor. Toorberg het hom nodig gehad, Edelbare; net die Moolmans, hulle’t hom nie aangesien nie. Hulle ken net hul eie soort talente, nie ander talente nie.”
“Meneer Du Pisani,” sê die magistraat simpatiek, “en u eie toekoms op Toorberg?”
“Nee, ek kan nie altyd sê nie, u Edelbare. Maar solank ek oom Abel eerbiedig, sal hy my laat aanbly. Ek het die kennis van Toorberg se waterlope oor die jare opgedoen. Ek het met die waterkar water uit elke kloof aangekarwei vir oom Abel en tant Ella en hul kinders om in te bad. Vir oom Abel om by sy brandewyn te gooi. Nou wil hy hê ons moet putte grou en die syferwaters wat daarin vergader, uitpomp. Dis die nuwe plan, u Edelbare.”
“En u het nie ’n wrok oor die gebeure nie?”
“Hoe kan ek ’n wrok hê, u Edelbare? Dit was dan die gat wat ek self gesink het?”
“En oor wat op die einde gebeur het, meneer Du Pisani?”
Waterwyser haal sy hoed af en vee oor sy hare. “Ons was almal daar, Edelbare. Daar was geen ander plan nie,” sê hy sag.
Die magistraat sug en vryf aan sy stompie. “Is u seker, meneer Du Pisani?”
“Kan mens ooit seker wees van dié dinge, u Edelbare? Ek het ook nagte wat ek wakker lê. Daardie kind van my is nou hier in Toorberg se watertafels opgelos, Edelbare, hy dryf elke dag onder my voete deur. Edelbare, u sal seker dink ek is verkeerd in my kop, maar ek dink ek dra Noag Moolman hier in dié botteltjies rond, u Edelbare.” Waterwyser vat-vat aan sy botteltjies. Sy gesig is in die skaduwee van die hoed.
“Ek verstaan wat u bedoel, meneer Du Pisani,” sê die magistraat. Hy kyk na Waterwyser se breë, bruingebrande hand wat oor die botteltjies lê. Die stoftregter teen die Stiefveld se rantjies het nou verdwyn. Daar lê ’n wasigheid in die klowe van Toorberg. “Ek moet ry,” sê hy aan Waterwyser. Hulle gee hand. Die magistraat skud die klerk wakker. Hulle trek weg en die magistraat kom skielik agter dat hy in stilte sy kop sit en skud.