Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 6

Voorwoord

Оглавление

Die Magiese Realisme wat gewoonlik (te maklik) net met Latyns-Amerika vereenselwig word, het in Suid-Afrika eintlik ’n lang aanloop, gevoed deur ’n oerou Afrika-tradisie van orale vertelkuns waarin die realistiese en die fantastiese, die wêreld van die lewendes en dié van die gestorwe voorvaders, vryelik met mekaar verkeer; en ’n ewe eerbiedwaardige Boeretradisie van vertelling waarin die natuurlike en die bonatuurlike (veral in die vorm van spoke) sonder moeite plekke kan ruil. Op die spoor van Leipoldt en Marais en Langenhoven kry die sameloop van hierdie tradisie ’n modernistiese of later selfs postmodernistiese nuwe lewe in byvoorbeeld Anna M. Louw se Kroniek van Perdepoort (1975), en bowenal in die satiriese en fantasmagoriese verbeelding van Etienne Leroux.

Dit is in hierdie tradisie dat Etienne van Heerden hom in Toorberg (1986) skaar en hom, ná boeiende vroeër werk in My Kubaan (1983) en Om te awol (1984), aan die voorpunt van ’n jong generasie in die Afrikaanse prosa plaas. Dié kort roman is dan ook dadelik herken as ’n besonderse nuwe bydrae en nie net met die ATKV-prys vir goeie, gewilde prosa bekroon nie, maar ook met die CNA-letterkundetoekenning, die Hertzog-prys vir prosa en die W.A. Hofmeyr-prys.

Dit is waar dat Toorberg in party opsigte te swaar dra aan die invloede van sy voorgangers (veral die stem van die grootmeester Gabriel García Márquez slaan plek-plek duidelik deur), maar in sy gedurfde ontginning van inheemse materiaal en ’n soort argetipies-Afrikaanse geskiedenis bly dit ’n baken op die pad van die jonger prosa.

In ’n verbeeldingryke neutedop word dit ’n herskrywing – maar ook ’n ondergrawing – van die gedeelde en tog tragies geskeide verlede van wit en swart in Suid-Afrika: die lewe van vyf generasies in ’n geslote klein samelewing in die Oos-Kaap word in beroering gebring deur die besoek van ’n magistraat (met die betekenisvolle naam van Van der Ligt) ’n jaar ná die onopgeklaarde dood van “die kind van die weemoed”, Druppeltjie du Pisani, in ’n put. Die bekende formule van die “vreemdeling van buite” versteur die prekêre balans wat nog altyd gehandhaaf is tussen die twee lote van ’n gesplete familie: die wit heersers, die Moolmans, en die bruin Stief-Moolmans, afstammelinge van een van die stoere pionierseuns wat oor die tou getrap het met die kleinkind van die 19de-eeuse eerwaarde John Read en dié se Khoi-vrou.

Teen die agtergrond van die woelinge van die jare Tagtig – noodtoestand op noodtoestand, die stuiptrekkings van apartheid, ’n verbete vasklou aan mag deur ’n wit minderheid wat uiteindelik ingehaal is deur die sondes van die vaders en die blindheid van die kinders – bring Toorberg dan ’n ondersoek na die herkoms en aard van skuld en verantwoordelikheid – nie net in ’n familiestorie nie, maar in ’n hele gemeenskap. En uiteindelik is alles aangewese op die woord, al is dit dan, in ’n sprekende metafoor, in die ongeposte briewe van die magistraat aan sy vrou.

André P. Brink

Kaapstad, 2003

Klassiek reeks: Toorberg

Подняться наверх