Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 13

7

Оглавление

Amy O’Leary-Moolman het swaar uit die bed opgestaan. Sy het die vorige aand tot laat die plaasskoolkinders se opstelle nagesien. Laatnag het sy op die stoep gaan kyk of sy reën kan ruik, en ver teen Toorberg se laagste hange ’n hoë vuur by Kaatjie Danster-hulle se huis sien brand. Sy hoop nie die Stiefveld brand weer af soos die jaar toe Koevert gebore is nie, was haar laaste gedagte voor sy die huis in is. Almal weet dat Kaatjie Danster en haar seuns nie ’n maklike stryd stry met hul bokke op daardie stuk dooieveld nie.

Amy is bly dat dit genadiglik die einde van die maand is. Soos haar gewoonte is, het sy die kinders afgegee sodat hulle vir hul ouers winkels toe kan stap. Voetpad se Algemene Handelaar lê ver. Ook moet baie kinders hul oumas en oupas se pensioengeld kom haal by die Halte. Sy het destyds al, toe sy ná Koevert se geboorte die skooltjie begin het, vir Posmeester Moolman gesê dat dit tog nie help om elke einde van die maand voor ’n leë klas te staan nie. Die hele buurt se kinders is met ’n sjieling of ’n sikspens in die hand iewers op ’n voetpaadjie.

Sy trek die gordyne van die eetkamer oop en kyk op na Toorberg. Vanoggend, sien sy, is die kop toe van die mis.

“Dalk kom daar reën,” sê sy vir Posmeester Moolman toe hy uit die slaapkamer kom en aan tafel gaan sit. Sy skink vir hom koffie. Hy sit met die dag se busrooster voor hom. Hy lyk moeg, die hand wat die bladsye omblaai, bewe liggies. “Jy’t weer bloeddruk vandag,” sê sy. “Het jy nie die ekstrak gedrink wat die Slams hier gelos het nie?”

Posmeester blaai die rooster toe. Hy kyk op. “Die Slams is net op ’n maklike pond uit. Ek kan sweer daardie ekstrak is suiwer beespis uit Abel se melkstalle.”

“Haai, Posmeester!” betig sy. “Het jy kopseer?”

“Net ’n bietjie bloedsmaak in die mond,” sê hy. “Dis seker van die biltong wat ek gisteraand geëet het. Ek wonder waar kry Abel die biltong, noudat hy nog steeds skop teen die slagtery.”

Amy haal haar skouers op. “Hy koop dit seker by sy bure. Daar’s mos genoeg geld. Hulle stink van die geld, Ella-hulle.” Haar mond kry die trek wat dit altyd dra as hulle oor Abel Moolman gesels. Sy sny haastig brood. Koevert kom die kamer binne, gaan sit aan tafel en snuit sy neus in sy kakiesakdoek. “Solank hy net die vruggebruik eerbiedig,” sê sy. “Kyk wanneer kom die biltong hier aan – nóú eers. Vyf maande laat. Dis slagtyd in Junie, nie nou in die hoogsomer nie. Ons moet sorg dat ons volgende jaar s’n betyds kry, Posmeester. In die winter. Dis wanneer mens biltong wil hê. Vir voor die kaggel. En om soggens in die pan te braai saam met eiers, vroegoggend, as dit sneeu op Toorberg. Nè, Koevert?”

“Die duiwel gaan hulle haal,” sê haar seun oor die rand van sy koffiebeker. “Ek voel dit so aan my lyf. Hier gaan niks reën kom nie.”

“Daar’s mis op Toorberg,” sê Amy. “Wat dink jy, Posmeester, is dit droë mis?”

Posmeester Moolman staan op en sug. Hy sit die kort potloodjie agter sy oor, die opgevoude busrooster in sy hempsak.

“Koevert,” sê hy, “jy moet jou agterent wikkel. Dis die einde van die maand en toe ek netnou die windlaaier se briek gaan aandraai het, kon ek al vir Kaatjie Danster sien aankom. Die agtervelders gaan netnou begin toustaan vir hul koeverte. Daar’s nog gister se middagpossakke wat jy moet sorteer.”

Amy kyk na Posmeester. “Maar gaan jy nie nog ’n koppie koffie drink nie?” vra sy bekommerd.

“Nee. As my kop so draai, dan is dit beter om nie nog koffie bo-op te drink nie. En dit gaan nie reën nie. Hoor hoe roep die ganse. Ek het onder hulle grootgeword. Dis ’n reënroep. Hulle klae.” Hy stap uit en hulle luister na sy voetstappe oor die jaartgruis na die Halte.

“Die biltong is ses maande laat,” sê Koevert toe sy ma oorkant hom kom sit. Hy neem ’n handvol snysels, kantel sy kop agteroor en toe hy dit in sy mond druk, sien Amy die ink onder sy vingernaels.

“Jy moet daardie naels van jou borsel, Koevert,” sê sy. “Ek sê dit elke dag vir die kinders by die skool. En hier sit jy in my eie huis, en kyk hoe groei die vel al oor die vuil.”

Hy antwoord nie en neem nog biltong.

“Ek kon weer heelnag die boormasjien hoor,” sê hy ná ’n rukkie.

“Sommer aanstellerigheid.” Amy kyk vies by die venster uit. “Abel-hulle kan nie, soos al die ander boere, water uit die staatsdam ry nie. Nee, hulle’s te goed vir die fiskaalwater. Hulle wil hul eie water hê, Toorbergwater.”

“En dit gaan hulle nie kry nie.”

“Hoekom sê jy so?”

“Ek voel dit aan my lyf. Ek voel dit net. Hulle boor nou al maande.”

“As dit nie jare is nie.” Amy staan op en vee haar hande aan haar voorskoot af. “Toe, Koevert, jy moet jou roer. Jy weet jou pa’s nie lekker as hy al vroegoggend met die verkyker Toorberg se kant toe kyk nie. Hy’t juis netnou gesê hy’t Kaatjie Danster sien aankom. Toe, daar roep hy nou. Moenie vandag sy bloeddruk toets nie. Netnou slaan hy weer neer.”

Koevert staan traag op en gaan uit. Sy hou hom dop deur die venster. Met skewe skouers stap hy oor na die Halte. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy skud haar kop. Hy’s ’n Moolman, mens kan dit sien in sy oë, partykeer as hy vinnig opkyk. Dan lyk hy nes OuAbel. Sommige mense sê hy trek na Ouma Olivier se mense. Hulle’t so skuins geloop, asof hulle iets dra op die een skouer. En gister toe daardie loskop van ’n seun van Abel, klein DwarsAbel Moolman, hier in ’n stofwolk met sy pa se Land Rover voor haar huis stilhou om die sak biltong af te gee en nie eens sy hoed vir haar lig nie, kon sy ’n oomblik die trekke tussen hom en Koevert sien. Om te dink dié twee het nog as seuntjies in die Vlei skelm saamgespeel, tot Abel hulle eendag betrap en sy seun verbied het om met die Katolieke Amy O’Leary se kind te speel. Huil-huil het Koevert by die huis aangekom. Later het hy na die Skaamfamilie in die Stiefveld begin dwaal en hy, Shala en Oneday het groot maats geword. Sy het hom laat begaan en nie vrae gevra toe hy later as opgeskote seun saans tot laat by Kaatjie Danster-hulle gebly het nie.

“Die kind kan nie so by die Skaamfamilie aan huis lê nie,” het Posmeester Moolman gesê.

“Ag wat, dis maats vir hom,” het sy gekeer. “Buitendien, Kaatjie Danster se kleinkinders is van die oulikste kinders in my skool. Hulle kom uit ’n goeie huis, verflenterd soos wat hulle is.”

“En daardie flerrie KleinKitty Riet?” het Posmeester gevra. “Jy moet sien hoe staan en flankeer sy met Koevert deur die tralies van die postoonbank as sy hier kom.”

Sy was onmiddellik kwaad. “Posmeester, doen jy dan nou dieselfde as wat jou pa met ons gedoen het? Oor ek Katoliek was, moet ons nou hier in die onderveld sit en leef uit OuAbel se testament uit.”

“Wag nou, Amy,” het Posmeester gekeer. “Ek meen net, hulle’s naasfamilie, jy weet. Dit kan moeilikheid bring, buitendien …”

“Koevert sal mos nou nie gaan lol met sy eie bloedniggie nie, Posmeester,” het sy woedend gesê. “En jy weet so goed soos ek dis nie jou redes nie. Of jou eie lewe nie vir jou ’n les is nie. Onthou net, KleinKitty Riet kom uit die afstammelinge van ’n sendeling.”

“Dit maak nie van haar ’n non nie,” het Posmeester geantwoord en opgestaan.

“Jy’s weer aspris vandag, Posmeester!” Sy’t haar rug na hom gedraai. “Mense is mense. En KleinKitty is ’n pragtige kind, met haar potblou oë.”

“En bruin vel,” het Posmeester teruggeroep voor hy die deur agter hom toegeklap het.

Amy sug as sy daaraan terugdink. Posmeester se Moolmanbloed loop diep in hom, dink sy toe sy sy broer De la Rey se verkyker agter die kamerdeur gaan ophang. Dis die verkyker waarmee De la Rey as kind glo die voëls beloer het. Nou kyk Posmeester deur die verkyker as hy die dag weemoedig voel en terugverlang na Toorberg se werf. Vir haar en Koevert sê hy dat hy soggens na die weer teen Toorberg kyk. Maar met ’n pyn oor haar hart weet sy dat hy die werf van sy kinderjare bespied met ’n verlange wat sy met haar hand kan voel as hy van buite af terugkom en sy oor sy voorarm streel en die hoendervel onder haar vingertoppe voel. Sy weet dis van verlang dat hy hoendervel kry, selfs op die warmste somersoggend.

Dis dié dat die bogkind van ’n snuiter wat die vorige dag die biltongsak op haar drumpel kom neersit het met die woorde “Tante Amy, dis die vruggebruik”, haar so kwaad gemaak het. En toe Posmeester vir ete huis toe kom en vra wie dit was wat so wild draaie op die gruis voor die huis gegooi het, was sy opnuut kwaad toe sy sien hoe sak Posmeester se kop. “O, dis die biltong,” is al wat sy gesê het.

Die hele aand het hy by die oop venster biltong gekerf en geluister na die boormasjien op Toorberg se werf, tot sy hom later gevra het om die venster toe te maak – die lig lok lusernmotte en muskiete in.

Maar een van die Moolmans sal haar Koevert nooit wees nie. Hulle is te trots om te deel. Destyds, toe sy as jong onderwyseres in die kloosterskool op die dorp begin skoolhou het, het Posmeester in die geheim by haar in die losieshuis kom kuier. Tóé al het die mense haar gewaarsku teen die Moolmans se trotsheid. Toe Posmeester uiteindelik om haar hand gevra het, het sy die kloostermoeder gaan spreek. In die karige kantoortjie in ’n dakkamer van die vervalle ou klooster onder die peperbome het die ou non met skerp blou oë na haar gekyk en haar bleek hande gevou. ’n Oomblik het sy afgekyk. “Amy,” het sy gesê, “die Moolmans is ’n trotse, hegte familie. Hulle is stoer Protestants. Hulle is baie familievas. Vir hulle is eergister soos gister, en van gister praat hulle of dit vandag is. Die dooies begrawe hulle nooit nie. En hulle vergeef nie.”

Sy het nie begryp wat die ou non vir haar wou sê nie. “Dit mag wees dat dié jong man ’n uitsondering is, maar of hulle hom gaan toelaat om ’n uitsondering te wees, is ’n vraag wat miskien vóór die huwelik eers beantwoord moet word.”

Dis al wat die kloostermoeder wou sê. Sy’t beloof om vir Amy te bid, met haar bleek hande ’n kruis geslaan en geglimlag toe sy opstaan om vir Amy te groet. Die non se hand was koel. “Julle moet vir Vader Diephuys kom spreek,” het sy gesê. “Gesels met hom ook.”

Toe die ou non jare daarna oorlede is, het sy en Posmeester reeds in die onderveld gewoon. Tydens die begrafnis het sy weer die skerp reuk van peperboombessies gekry en sy was jammer dat sy nie versigtiger geluister en mooier nagedink het nie.

Nou bekruip die inhaligheid ons ook, dink sy. Kyk met hoeveel bitterheid word die biltong ontvang – en sy’s self die bitterste van almal. ’n Bitterheid wat sy nooit sou vermoed het toe sy jare terug op die dorp die legendes van StamAbel moes aanhoor nie. Reeds in sy tyd, het die mense vertel, het die smouse se kapkarre tougestaan by Toorberg se hek. Hulle’t geweet StamAbel koop alles wat van ver af kom of ’n Hollandse handelsmerk dra. Hy’t drie klaviere vir Ouma Magtilt se musikale vingers gekoop; hy’t veertig gewere besit, een vir elke dier of inboorling wat kruip op die veld. By ’n Italiaanse smous het hy ’n voorraad hoesstroop gekoop wat ’n honderd jaar sou hou en waarop Posmeester en sy broers – en Ella se kinders glo ook – grootgemaak is. Hy’t ’n teleskoop aangeskaf wat op ’n pakmuil se rug vasgemaak moes word wanneer hy die dag die gier gekry het om teen Toorberg uit te klim en van bo af oor sy rykdomme uit te kyk. By ’n Russiese Jood het hy later jare goudaandele in die myne in die Noorde gekoop. Hy’t snuifdose, silwerstiebeuels, koperkrane en Spaanse saals gekoop. Ook ’n vergrootglas vir sy oudag as hy nie meer die Bybel met die blote oog sou kon lees nie.

Amy het grootoog na al hierdie stories geluister, want dié wêreld was vir haar nuut. Ook, is aan haar vertel, het StamAbel op ’n dag besluit om al die diere op die plaas te brandmerk met ’n groot A. Die dag toe StamAbel die brandyster by ’n reisende Jood gekoop het, het die kuddes teen die hange, in die valleie en op die vlaktes glo al ’n voorgevoel gekry. Hulle het onrustig begin raak en, het die agtervelders vertel, ’n troppie van tweehonderd van StamAbel se vetste hamels het Toorberg uitgehardloop en sienderoë aan die ander kant by die steil kranse afgeboender, tot op die wilde turksvye onder op die vlakte van die Kamdeboo. Twee weke lank het die aasvoëls daar gedraai.

Met die aanbring van die groot A op al die lewende hawe kon jy volgens oorlewering dae daarna nog die reuk van geskroeide vleis veertig myl onder die wind ruik. Elke vel op Toorberg is gebrandmerk en uiteindelik, teen die aand van die vierde dag, was StamAbel tevrede.

Maar twee maande later het ’n goudsmid by Toorberg aangedoen en StamAbel het hom permanent aangestel om sy voorletters in goud op al wat besitting is op Toorberg aan te bring – op elke saal, teen elke meubelstuk, onder die koppies en borde. StamAbel het glo goudstof laat kom van die myne in die Noorde waar hy sy aandele gehad het. En toe ’n besoekende smous die goudsmid eendag met een van StamAbel se stewels sien werk, het die distrik besef dat StamAbel se rykdom sy kop aangetas het. “Geen man kan soveel besit en oopkop bly nie,” het hulle gesê.

Die kêns Moolmanbloed is in daardie jare gevestig, maar het eers weer in KênsTillie behoorlik uitgeslaan. “So word die sondes van die vaders besoek aan die kinders, tot in die derde en die vierde geslag,” het Amy destyds gesê toe Tillie op tweejarige ouderdom haar eerste stuipe kry. “Dit kry jy nou van hovaardigheid.” Eers het Abel en Ella vir DwarsAbel gehad, wat met die vlek van onvrugbaarheid oor sy oor gebore is. Toe is daar die rits doodgebore kinders, en heel laaste, toe Ella se senuwees al wou ingee, was daar Tillie.

Tillie, wat van die begin af onrustig gedwaal het waar sy nie moes nie en eendag byna onder een van die busse by die Halte beland het. Tillie, wat eers begin kalmeer het toe die Slams aanbeveel het dat hulle haar soggens en saans daggatee gee. Dié tee is getrek van opgekookte daggapitte wat in Ella se fyntuin gekweek is, voor almal se oë, onwettig soos dit ook al was. Dit is medisinaal, het die mense gesê. Tillie, wat toe uiteindelik met Waterwyser gaan lol en geboorte gegee het aan die arme Druppeltjie.

Druppeltjie was so stief soos Kaatjie Danster se kinders en kleinkinders, en haar eie Koevert met sy skewe skouers. Al hierdie stiefkinders, dink Amy bitter, bly op die rand van Toorberg. Wég kan hulle nie kom nie, maar deel is hulle ook nie.

“Julle is vervloek deur julle bloed,” het sy eendag aan Posmeester gesê en soos gewoonlik het hy nie geantwoord nie. Net één keer het sy hom iets hoor sê teen sy familie. Dit was nadat hy, oorlede Andries Riet en Waterwyser du Pisani op ’n keer by Abel gaan pleit het vir erkenning van hul kinders in sy testament, want iemand het Ella hoor sê dat Abel besluit het om die vruggebruikklousule uit sy testament te skrap. By dié vergadering het Abel beloof dat die Skaamfamilie op die Stiefveld kan bly boer vir die volgende honderd jaar. Hy’t egter geweier om Waterwyser du Pisani, wat sy dogter sonder huwelik in die ander tyd gebring het, eens in die oë te kyk. Vir Posmeester Moolman, sy eie bloedbroer, het hy gesê dat hy die stuk serwituut al langs die spoorlyn af vir Koevert sou byhuur as Koevert sinnigheid sou hê in ’n klompie beeste. Die beeste kon hulle afbetaal en as Koevert eers op sy eie voete was, kon hy die serwituut se huur by Abel oorneem.

Koevert en Posmeester het die aanbod aanvaar en selfs ’n brandyster in die vorm van ’n posstempel vir Koevert gesweis. Maar dit was nie lank nie of die treine trap al Koevert se beeste dood en jare nog moes Amy uit haar skoolgeld afbetaal aan die dooie beeste. Een van die busbestuurders het vir Posmeester gesê: “Nou het jou Toorbergfamilie die laaste skuld aan jou betaal.”

Posmeester het ver weg gekyk en gesê: “Familie van my is hulle nie. Gespuise het hulle geword – Abel en Ella in daardie huis.” ’n Dag later het hy sy eerste breinfloute gehad en moes Koevert hom begin help op die Halte.

Toe Amy haar kom kry, staan sy in die slaapkamer met die hangertjie van die Heilige wat die ou non aan haar gegee het, in haar hand. Elke keer as sy begin nadink oor die onregverdighede waarmee haar man en haar seun as StiefMoolmans moet saamleef, kom sy terug na die hangertjie. Dan onthou sy weer die ou non se koel, blou oë toe sy haar die middag gaan vertel het dat sy finaal besluit het om met Posmeester Moolman, seun van die skatryk OuAbel Moolman van Toorberg, te trou. Die kloostermoeder het die hangertjie van haar eie nek afgehaal en dit om Amy s’n gehang met die woorde: “Hierdie hangertjie is aan my geskenk deur ’n ou vriendin en suster toe ek die stad verlaat het om na hierdie klooster te kom. Sy het vir my gesê: ‘Moenie vergeet waarvandaan jy kom nie, maar moenie dat dit jou verhoed om te gaan waarheen jy moet nie.’ En ek gee dit aan jou met dieselfde woorde.”

Die hele oggend, terwyl sy op die stoepie in die skaduwee sit en opstelle nasien, en later toe sy deur die huis beweeg om seker te maak dat alles netjies is voor Posmeester en Koevert vir middagete oorstap, het Amy onrustig gevoel: bekommerd oor Posmeester se bloeddruk en sy floutes, bekommerd oor wat van Koevert sal word as sy pa nie meer daar is nie, bekommerd oor die vruggebruik, en bekommerd oor die groeiende inhaligheid wat sy soos ’n vreemde, onbekende gewas in haar binneste voel groei.

Sy het voor die kombuisvenster gestaan met haar oë op Toorberg en die hangertjie in haar hande toe iemand buite op die gruis verbyhardloop na die Halte en skree: “Posmeester, bring die sleepkabels, Abel vra na die kabels! Druppeltjie du Pisani het in ’n boorgat afgeval!”

Klassiek reeks: Toorberg

Подняться наверх