Читать книгу Klassiek reeks: Toorberg - Etienne van Heerden - Страница 8

2

Оглавление

Vir die reis bring die magistraat enkele stukke saam: twee tasse, ’n kleiner een met meer onmiddellike noodsaaklikhede en ’n groter een met ’n paar boeke en hofverslae oor sake wat hy vooraf gemeen het tersaaklik mag wees; ook ’n foto in ’n silwerraam, ’n aantekeningboek, ’n whiskyflessie, ’n doos sigare, ’n flessie salf vir sy stomp arm en ’n kamera vir in loco-inspeksies. Hy is ’n stil, deeglike man wat jare lank al in die howe van die agterdistrikte werk.

Terwyl die magistraat in die skommelende treinkompartement sit en kyk hoe die veld verbyskuif, drink hy whisky.

Hy is in ’n padkamp gebore, in ’n tent by ’n veldvuur. Só het sy ma vertel. In die nag, terwyl sy pa en ’n span werkers die dinamietladings in die rotsskeure van die koppie waardeur die nuwe treinspoor moes loop, geplant het. Toe die dolomiet knars en breek en die aarde skeur, het hy gekom.

Sy pa se lyk is nooit gevind nie. Net die ring aan die hand waarmee die magistraat nou sy whiskyglas optel, is dae later gekry, sonder ’n skrapie of ’n bloedspoortjie, net met ’n droë vingerbeentjie lossies binne-in. Die ring het naby ’n rooimiernes beland en die miere het die beentjie skoongevreet. Die beentjie alleen kon hulle nie begrawe nie en tot die dag van haar dood het sy ma die vingerbeentjie in haar voorskootsak gedra en wanneer sy bekommerd was, altyd haar hand daarop gelê. Toe sy sterf, het die magistraat dit saam met haar laat begrawe en kon hy ook die naam van sy vader op die grafsteen aanbring.

Voordat hy op die trein geklim het, het hy sy werk deeglik gedoen. Alles te wete gekom van Toorberg se jaloerse aarde. Dit is ’n plaas met bogrond tot op die rotstafel eenhonderd voet ondertoe – só het die boormanne glo vertel. As hulle proewe trek met die holpunt, kom die suiwerste swart aarde uit tot op negentig voet. Dan eers die gruisklippers en uiteindelik, op honderd voet, die harde kors wat ondeurdringbaar oor die geheimenisse daaronder lê.

Jaloerse grond, dink die magistraat. Abel het een saaiseisoen glo ’n ondier se skedel raakgeploeg. Toe dit oopgegrawe is, was dit so groot soos ’n Fordjie en die been was spierwit bewaar. Hy het die oerdier se skedel met die trekker laat opsleep na die opstal. Daar het hy dit behoorlik opgemeet met ’n duimstok, van alle kante foto’s geneem en alles neergeskryf wat hy gemeen het van belang sou wees. Abel het geweet wat die waarde van sy vonds is, want hy’t gaan oplees in die Encyclopaedia Britannica in Toorberg se studeerkamer. Daarna het hy die skedel met ou karolie laat deurdrenk om te keer dat dit verrot of dat ongediertes daaraan knaag, en dit onder die vloere van die ramstal laat begrawe. Hy’t geglo die urine van die ramme sal die kopbeen bewaar. Toe het hy sy prokureur tot stilte gesweer, die vonds in sy testament laat omskryf en ’n kodisil aangeheg waarin hy die kopbeen bemaak aan die Royal Museum in Londen.

Watter van dié stories evangelie was en watter leuens, moes die magistraat op kommissie kom bepaal. Hy weet nou al wat sy eerste vraag sal wees. Gedurende die lang treinreis het hy dit geformuleer: “Wys my waar het die boormasjien gestaan …” Dít sal hy eerste vra, en as hy eers dié antwoord het, sal die ander vrae vanself kom. En die antwoorde. Uiteindelik, het hy homself beloof, sal hy ’n uitspraak lewer waarin aanklag, getuienis en vonnis helderder is as die helderste boorgatwater.

Dit was ’n uitgebreide familie, en hy’t reeds aan die begin van die reis die stamboek op ’n skoon, wit stuk papier geteken. Die Skaamfamilie uit die lende van Floors Moolman links, en regs die fiere Moolmans – van StamAbel en Magtilt tot by die jongstes. Nou sit hy dit weer en memoriseer. Hy kan die bloedlyne reeds in sy gedagtes volg as hy sy oë toemaak. Deeglikheid; dít het Justisie hom geleer.

Maar rekening met die drif van die Moolmans – in lewe én dood – het die magistraat nie gehou nie, want terwyl hy nog op pad is in die trein, só word vertel, staan OuAbel Moolman, die seun van StamAbel en die vader van Abel, uit die dood op. Hy ry met sy ou jeep om die magistraat op kommissie in die hoofstraat van die dorp in te wag.

Toe die trein die dorp se stasie binnestoom, leun die magistraat uit en kyk na die portier met die bruin uniform op die perron. Ook na die ry sinjaallanterns en die hond wat opgekrul by die stasiemeester se kantoortjie lê. Hy klim af en wink die portier nader. Hy vra hom om sy bagasie met die perronkruiwa tot by die hotel te neem. Hy besluit om die ent na sy verblyf te stap, sodat hy van meet af aan die dorpie en sy mense kan peil. Terwyl hy by die stasie se trappe afstap en probeer om die nuuskierige oë op hom te ignoreer, gooi OuAbel soos van ouds ’n windmaker draai voor die koöperasie en hou stil dat die gruis spat. Met sy karwats wat piets teen sy kalfsleerkamaste, klap OuAbel, selfs in die dood glo nog ’n indrukwekkende figuur, sy jeep se deur toe en gaan wag onder die peperboom.

Die magistraat kom stadig met die hoofstraat opgestap en toe die man uit die skaduwee van die peperboom voor hom kom staan, vra hy: “Wie is u?”

“OuAbel Moolman van Toorberg se Moolmans. Jy kan maar terugkeer na jou regbank, meneer die magistraat, want ons distrik het van die oerdae vir sy eie sondes leer sorg.”

Die magistraat dink ’n oomblik aan die verhale wat hy gehoor het voordat hy hierheen gekom het. Dit is ’n koorsige wêreld dié. Helder oordag het die mense hard geboer, want dit is ’n veeleisende wêreld wat bloed uit ’n klip kan trek. Maar in die wilde, donker nagte wat oor die uitgestrekte velde daal, en in die warm somerdae wanneer jou brein in jou harspan lê en broei, loop waarheid en verdigsel, geskiedenis en toekoms, en lewe en dood deurmekaar.

Die magistraat vryf aan sy stompie en vra bedaard: “Hoe sien u die Reg, meneer Moolman?” Waarop OuAbel die verdoemenis op die Regbank afsweer, sodat die magistraat moet vra: “Weet u dat dit ’n misdaad is om só teen die Bank te praat?” OuAbel se karwats bly ongeduldig teen sy kamaste speel. Hy was nie net van nature ongeduldig nie, maar hy is nou ooglopend haastig om die saak af te handel en na sy lêplek terug te keer.

“Magistraat!” roep hy uit. “Jy sal vind dat dit nie in jou broek sit om reg of verkeerd oor die Stam van Abel uit te spreek nie. Daarvoor lyk jy vir my alte armsalig.” Toe die magistraat nie antwoord nie, gaan hy voort. “Gaan eerder na die hof en stuur die donnerse veediewe wat die wêreld so pla in hulle moer!”

“En u,” antwoord die magistraat toe glo kalm, “gaan terug na u graf, meneer, want volgens my rekords is u lankal oorlede.” Hierop loop hy óm OuAbel en vermy sy skaduwee – want mens trap nie op die skaduwee van ’n dooie nie – en stap na die hotel waar hy die register teken, ’n whisky bestel en op die veranda gaan sit. Só het die agterdistrikte, lank nadat hy al weg was, dit oor sy aankoms gehad.

Tot laatmiddag sit hy daar en praat met niemand nie. Hy kyk hoe die kruiptrekkers in die gruisgat teen die koppie bokant die dorp kruie. Hy dink aan die vingerbeentjie. Hy weet min van sy vader; net dat hy mank was. Lief vir boeke, maar hy’t nooit die geleentheid gehad om sy studie te voltooi nie. Glo uit ’n goeie familie, het sy moeder altyd vertel. En mank, van kindsbeen af.

Dis my aarde soveel as julle s’n, dink hy met die stamboek op sy skoot. My uitspraak sal soveel julle s’n wees as myne.

Klassiek reeks: Toorberg

Подняться наверх