Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 10

7

Оглавление

Rasmus en almal by die bushalte kon sien dat die jong paartjie by die Volkswagen in ’n hewige argument gewikkel is. Te oordeel aan die manier waarop haar man wegtrek en sy verwese agterbly, is dit duidelik wie die rusie gewen het. Haar bleek gesig en trane wat heel duidelik baie vlak lê, bevestig sy vermoede. Rasmus sê niks toe Carina by hom in die motor klim nie, neem net haar hand bemoedigend in syne. Dan konsentreer hy op die verkeer terwyl hy haar ’n geleentheid bied om tot verhaal te kom.

Carina waardeer sy bedagsaamheid. Sy is bly Rasmus gesels nie en dankbaar hy vra nie vrae wat haar trane sal laat oorloop nie.

Wat is besig om met haar en Tinus te gebeur? Waardeer sy hom nie genoeg nie? Of verstaan hy haar nie?

Op ’n keer het haar ma gebel en het sy raad gevra. Wat maak ’n mens as ’n vriendin van jou man hom vir ete nooi, maar jóú uitsluit? As sy hom allerhande gunste bewys en dit lyk of sy jou plek wil inneem?

Pleks dat sy stilgebly het of met haar pa gepraat het, wat sou weet hoekom Tinus nie kon wag om eerder Annerie van Wyk se kos te gaan eet as hare nie. Haar pa sou rustig aan sy pyp gesuig en daarna by die kern van die saak uitgekom het: “Jóú werk was nie so dringend nie. Jou man was in daardie stadium belangriker. Jy moes liefdevoller opgetree het, ’n koningsmaal voorberei het. Dan sou Tinus gebly het. Jy moes veral van sy werkopdrag onthou het, sodat jy die ander vrou nie ’n geleentheid gebied het nie.”

Maar toe praat sy met haar ma … “Ek het jou gewaarsku, gesê hy is nie die man vir jou nie. As Tinus nie vir jou goed is nie, los hom en kom huis toe, waar jy hoort. Waar jy in die eerste plek moes gebly het.”

As haar ma weer bel, sal sy sê alles het reggekom. Hulle hou opnuut wittebrood en as sy huis toe kom, sal dit net wees om te kuier. En sy sal haar man saambring.

Wat sal haar ma sê as sy hoor Tinus was sedertdien weer twee keer by Annerie, maar beskuldig háár van ontrouheid?

Carina kom agter dat Rasmus reeds geparkeer het.

“Droog?” Hy vryf met sy vinger oor haar wang. “Of is daar steeds trane? Voel jy nou beter?”

“Ek weet nie …” Tinus reken sy is oneerlik, sy vertel leuens. Sy kan net sowel die aantygings verdien. “Geen trane nie. Ja, dankie, baie beter,” jok Carina.

Rasmus hou haar arm ’n oomblik langer vas as wat nodig is terwyl hy haar uit die motor help. “Was dit my skuld?” vra hy op die man af.

Carina skud haar kop. “Jy het nie geweet Tinus is erger as ’n turksvy nie. Jy wou help en het niks om oor sleg te voel nie.”

Rasmus bly lank stil. “Ek dink ek het geweet,” sê hy uiteindelik. “Jy is lojaal en dapper en maak vir hom verskoning. Maar ek het geweet jou man is veeleisend en jy het dit tuis nie altyd maklik nie. Ek moes eers uitgevind het, gevra het, voor ek sommer eie reg gebruik het deur by die bushalte vir jou te gaan wag.”

“Dit maak nie saak nie. Dit was nie jou skuld nie,” hou Carina vol.

“Dit maak saak,” stry hy. “Want jy maak vir my saak, Carina. Soveel saak, dat ek nie vir jou ekstra probleme wil veroorsaak nie. Ek moes voorsien het dat my teenwoordigheid vir jou nog probleme kan skep.”

“As dit nie jy was nie, het hy ’n ander rede gesoek.” Carina vee oor haar oë. “Dit was nie slegs die feit dat jy my soms oplaai nie.”

Sy besef sy moes nie uitgepak het en soveel laat blyk het nie. Al noem sy hom jy en jou, bly Rasmus steeds haar werkgewer en dis onprofessioneel om haar en haar man se verhouding met hom te bespreek. Maar hy is begrypend en simpatiek. En hy het gesê sy maak vir hom saak … Hy het haar hand vasgehou en gesê hy wil nie vir haar probleme veroorsaak nie …

Carina voel skielik weer ongemaklik. “Ek is laat. Dis twintig oor agt! Die telefoon lui seker al en Tertia wag op Elita Broodryk se lêer. Sy kom haar om nege-uur spreek oor die resepteboekreeks.”

“Tertia is groot en oud genoeg om haar eie lêers uit die kas te haal.”

As hy so sê … Hy is die baas. Carina bly langs hom in die parkeerterrein staan.

“Ek is jammer dat jy dit weens my moes ontgeld,” sê Rasmus gedemp. “As ek kon, sou ek dit graag wou verhoed – ter wille van ons vriendskap. Ter wille van my gevoel vir jou. Ek het geen verweer nie, Rina. Behalwe dat ek ook tuis ongelukkig is, dat ek jou vanoggend wou sien en bly was oor ’n verskoning om so gou moontlik van die huis te kon wegkom.”

Carina sluk, onseker wat om te antwoord.

“Glo jy my?” vra Rasmus.

“Dink jy nie ek moet ingaan nie?” ontwyk sy ’n antwoord.

“Ter wille van poeding en terte? Elita steur haar nie aan tyd nie. Sy sal eers teen tienuur hier ingestorm kom, die metrisering kritiseer, oor die stofomslae kla en op ’n hoër skrywersvergoeding aanspraak maak.”

Carina wens ’n ander motor wil kom parkeer, sodat hulle die gesprek kan beëindig. Maar die kelderparkering word vir direksielede gereserveer. Niemand kom help nie en Rasmus kyk na haar, wag op haar antwoord.

“Weet jy dat ek vir jou omgee?”

“Moenie … Asseblief, Ras, moenie so sê nie.”

“Hoekom nie?”

“Ons ken mekaar skaars vyf weke. Ek weet hoeveel hartseer deur oorhaastigheid veroorsaak kan word.”

“Vyf minute is lank genoeg. Van die eerste oomblik dat ek jou tydens die onderhoud gesien het, het ek geweet dié blondinetjie gaan diep spore deur my lewe trap. Ek het daarteen gestry, want ek het besef dit mag nie gebeur nie; ons is albei getroud. Maar ek kon nie van jou vergeet nie. Glo jy aan liefde met die eerste aanblik?”

“Ons is nie meer tieners nie,” skerm Carina. “Net op sestien is ’n mens so impulsief.”

“En ons is nie sestien nie. Ja, ek besef dit.” Ras aarsel en opeens lyk hy nie so selfversekerd en bekwaam soos Carina hom leer ken het nie. “Jy is nader aan sestien as ek. Twee en twintig teenoor vier en dertig. Twaalf jaar verskil is baie. Vra my, ek weet. My vrou is nege jaar ouer as ek. ’n Kleiner verskil, maar ’n groter bron van onaanpasbaarheid. As ek lus kry om sommer skielik ’n naweek te gaan visvang of seil, kla Anta sy is moeg. Sy wil liewer tuis ontspan. Sy hou nie van swem of ry nie. Al wat vir haar belangrik is, is die kinders. Sy glo sy is middeljarig, driekwart van haar lewe is verby en nou is dit die kinders se beurt. As ons ’n naweek weggaan, wat van haar naaldwerk? Die nuwe rok wat sy vir Sulet maak. Tobie se kategese?”

Rasmus besef hy verveel Carina seker. Sy stel nie in sy vrou en kinders belang nie.

“Hoekom ek in ’n oomblik van swakheid soos ’n grammofoon vasgehaak het, was omdat ek wou hê jy moes weet my huwelik is ook op ’n sinkplaatpad. Ek is nie ’n wolf wat vir elke nuwe tikster ogies maak nie. Daarom het ek die agtergrond geskets – sodat jy die geskiedenis ken en weet ek is ernstig. Ek is nie net daarop uit om jou te verlei en ’n lekker tyd te hê nie.”

“Ek het nie so gedink nie.”

“Henk dink so. Tinus waarskynlik ook.”

Carina onthou Henk se stramheid teenoor Ras, sy duistere opmerkings wat sy nie begryp het nie. Die onderstrominge in die kantoor … Was sy blind? Het hulle Ras se toegeneentheid raakgesien terwyl sy gedink het hy is bloot vriendelik? Is dit die rede waarom Liaan so onvriendelik is? Uit afguns omdat sy ook ’n gevoel vir hul hoofbestuurder het? Carina kan haar nie kwalik neem nie. Ras du Toit is ryk, sjarmant en aantreklik. Die antwoord op enige meisie se drome. Veral as Liaan vermoed het sy huwelik is nie wat dit moet wees nie. As sy gehoop het om Anta du Toit se plek in te neem, is dit te verwagte dat Liaan nie kompetisie sou verwelkom nie.

Ras sit sy hande op haar skouers en draai Carina na hom toe sodat hy haar gesig kan sien.

“Carina, wat almal ook al sê en skinder – dis nie die klassieke geval van ’n wolf in slaapklere nie. Jy is belangrik. Meer as belangrik. Meer as wat jy dink. Solank jy dit weet, is ek tevrede en sal ek nie oorhaastig wees nie.” Sy greep op haar skouers gly af na haar arms, na haar hande wat hy in albei syne neem. “Ek was ’n grammofoon, ek wil nie ’n stoomroller ook wees nie. Gaan paai Piet van Breda en maak vir Elita tee. Los die poedings en soufflés, dan eet ons vanmiddag êrens. Al is dit net om mekaar te troos en dat ek jou kan bedank vir die moeite met Liaan.”

Carina se eerste impuls is om nee te sê. Hulle kan nie. Saam gaan eet is stap twee. Daar moes nooit eens ’n stap een gewees het nie. Stap drie gaan handuit ruk. Sy mag dit nie toelaat nie.

Voorheen het Carina sy bedagsaamheid waardeer. Nou ook. Hy soen haar vlugtig op die voorkop. “Ek het gesê ek wil nie ’n stoomroller wees nie. Dink daaroor na, Rina-nooi.”

Ras was reg. Die top-huishoudkundige daag eers na elf op. Sy is aggressief, dring aan op haar regte en kritiseer die lettertipe waarop Fokus besluit het. Terwyl Carina tee maak, is haar gedagtes ’n maalkolk van onsekerheid. Sy behoort gevlei te wees dat ’n man soos Ras in haar belangstel, maar sy is nie. Haar lewe is ingewikkeld genoeg, sy wil nie nog verdere verwikkelinge hê nie. Dan soek sy liewer ander werk. Al moet sy weer ’n paar maande opgehok in die woonstel sit, is dit nie die ergste nie. Tinus is belangriker as ’n tjek die einde van die maand.

En Ras? Carina se gesig versomber. Hy het ook vir haar belangrik geword, besef sy. As vriend en as werkgewer. Indien hy werklik vir haar omgee, indien hy so ernstig oor haar voel soos hy voorgee, kan sy hom nie seermaak nie. Hy het haar aangestel, haar gehelp en haar ’n bevordering aangebied. Sy kan hom nie in die steek laat nie. Sy kan nie sommer net bedank nie en sal in elk geval eers ’n maand kennis moet gee. Maar waar sal sy weer so ’n salaris kry en met boeke werk, wat haar groot liefde in die lewe is?

Sy behoort weg te gaan, maar sy wil nie, kan nie. As die geleentheid opduik, wil sy uitgewer wees, al is dit net ses maande lank. Dit sal ’n herinnering wees wat sy die res van haar lewe sal vertroetel. Dan het sy ook ’n kwalifikasie as sy eendag om ander werk aansoek doen. Miskien by die koerante. Liaan was eers joernalis en toe uitgewer. Sy kan dit dalk andersom doen. Verslaggewer wees is interessanter as tikster of liasseerklerk.

Ras het gevra sy moet daaroor dink en Carina het. Miskien in ’n dieper sin as wat hy bedoel het. Maar skielik is dit asof ’n koue wind oor haar waai. Sy het ’n kwalifikasie en ervaring oorweeg, die koerante of selfs ander uitgewerye. Maar as Tinus ’n vennoot in die firma word, sal hy genoeg verdien sodat dit nooit weer vir haar nodig sal wees om te werk nie, veral nie as daar ’n gesin is wat sy moet versorg nie. Of weet sy diep in haar onderbewussyn dat hul huwelik nie slaag nie, dat daar nie kinders sal wees nie en dat die tyd gaan aanbreek wanneer sy vir haarself moet sorg?

Dis ’n gedagte wat haar bang maak. Haar ouers het haar beskermd grootgemaak, óórbeskermend opgetree na Wynand se dood. Sy weet nie wat opofferings beteken nie. Op die oomblik kry sy swaar sonder nuwe skoene en ’n haarborsel. Sy weet as sy net bel en vra, sal haar ma vir haar tien paar skoene en twintig borsels bring; haar met oop arms verwelkom as sy wil huis toe kom. Maar dit is nie reg nie. Wanneer ’n meisie die dag mondig is, moet sy leer om op haar eie bene te staan. Anders gaan sy ’n klimopplant word, met Pa en Ma as steunpilare. Pa en Ma wat natgooi, voed en oplei. In die proses word hulle misbruik en sal sy haar selfrespek verloor. En sy sal haar inisiatief en die bietjie selfvertroue wat sy nog het, inboet.

Die telefoon lui gelukkig selde. Terwyl Tertia met Elita onderhandel, het Carina ’n verposing. Personeellede word toegelaat om private oproepe te doen, maar sy bel nie haar ma of pa nie. Soos Ras gesê het: sy is groot en oud genoeg om haar eie probleme op te los. Sy bel Tinus.

“Meneer Rheede? Ja, hy is op kantoor. Net ’n oomblik …” antwoord die firma Coetzer en Horak se telefoniste, Lisa of Lize, afgelei van Elisabeth. Carina kan nie onthou hoe Tinus gesê het nie.

Elisabeth is professioneel. “Wie is dit wat met meneer Rheede wil praat?”

“Sy vrou, Carina.”

Stemme praat in die agtergrond. Dan hoor Carina weer Elisabeth se stem: “Dit spyt my, mevrou Rheede, meneer Rheede is pas uit.”

Maar nou-nou was hy daar … Beskikbaar, tot hy gehoor het wie dit is? Wil hy nie met haar praat nie? Probeer Tinus haar vermy? Carina besef sy is dalk onredelik. Hulle het reeds te veel misverstande gehad sonder dat sy nog een skep wat moontlik nie bestaan nie.

“Is hy hof toe?” wil sy weet.

“Nee, die hof is reeds in sitting.”

Carina weet ook die landdroshof begin vroeg, nie twaalfuur die middag nie.

“Weet u hoe laat hy terug sal wees?”

“Ongelukkig nie. Kan ek ’n boodskap neem?”

Carina weet nie wat sy wou bereik deur te bel nie. Dalk omdat sy bang was. Dalk omdat sy sommer net vir Tinus wou sê sy is lief vir hom, sy sal bedank en dinge gaan regkom. Hy het nie vir haar gesê hy sal vanmiddag uit wees nie. Sover sy weet, is dit die dronk motorbestuurder of die pensioentrekker waarvoor hulle vroegoggend hof toe sou gaan om uitstel te vra.

“Weet u dalk waarheen hy is?”

“Net ’n oomblik …” Carina hoor Elisabeth verneem, lag, dan ’n ander meisie wat giggel en onderlangs fluister.

Elisabeth bly lank weg en is skielik minder amptelik toe sy uiteindelik na Carina terugkom. “Hallo? Is jy nog daar? Kan ek jou na Annerie van Wyk deurskakel? Sy sal weet waar Tinus is.”

Carina verstyf. Bedaar! maan sy haarself. Moenie op hol raak nie.

“Asseblief,” vra sy beleef.

Dié keer is Lize of Lisa gou terug. “Jammer, Annerie is ongelukkig ook nie op kantoor nie.”

Carina se keel is droog. Saam weg … Saam uit, die hele oggend en waarskynlik die middag ook. As sy nie gebel het nie, sou sy nie daarvan geweet het nie. Sou sy soos ’n groot gek vanaand weer vir Tinus biefstuk probeer gaarmaak het. Biefstuk is om mee fees te vier. Wat vier hulle? Die feit dat haar en Tinus se huwelik ook op ’n sinkplaatpad is? Die feit dat hy iemand anders gevind het wat beter aan sy behoeftes voldoen?

“Is daar ’n boodskap?” herhaal die meisie.

“Geen boodskap nie,” antwoord Carina kortaf.

“Ek sal hom sê u het geskakel.”

“Dis nie nodig nie.”

Carina gaan maak vars tee, haal koekborde uit en sny die appeltert wat ’n bode by die tuisnywerheid om die hoek gaan koop het. Elita Broodryk sal seker vra waar die geklopte room is. Carina gee nie om nie. Die einde van volgende maand is sy waarskynlik weg. Nie eens meer in Pretoria nie, maar op ’n ander dorp waar niemand haar ken nie, waar niemand weet sy was te sleg om haar man te behou nie.

“Haai,” groet Rasmus.

Hy lyk net so omgekrap soos sy.

“Hallo,” antwoord Carina. “Die ketel kook. Wil jy saam tee drink?”

“Saam met jou, ja, nie saam met die voortreflike Elita nie.”

“Haar resepteboekreeks gaan vir Fokus baie geld beteken.”

“Fokus … Soos ek voel, kan sy op die maan fokus. Ek sal selfs die teleskoop skenk.”

“Jy klink net so befoeterd soos ek.”

“Ek is. Net honderd persent meer so.” Sy een mondhoek lig. “In watter bui is jy?”

“Lus vir arseen en strignien.”

“Sal ons gaan kyk of die restaurant dit op die spyskaart het?”

Carina knik.

“Het jy nagedink?” verneem Rasmus.

“Ure lank.”

“Wat was die resultaat?”

“As jou uitnodiging nog staan: baie dankie, Ras, ek sal graag saam met jou gaan eet.”

Die seekosrestaurant in Schoemanstraat is nie ’n goeie keuse nie. Te naby die hof, en sy en Tinus het ook al per geleentheid daar geëet. Onwillekeurig kyk Carina rond of sy hom en Annerie dalk sien. Daar is een of twee mans met togas, maar niemand wat sy ken nie.

“Biefstuk?” stel Rasmus voor.

Sy skud haar kop. “Ek is nie Tinus nie. By ’n Sjinese, Indiese, Griekse, selfs Italiaanse restaurant eet hy biefstuk. Nee dankie, dis duur en ek is allergies daarvoor.”

“Tipiese Suid-Afrikaner.” Rasmus lag en bestel ’n garnaalvoorgereg en kreef as hoofdis. Dan vertel hy haar van die skrywer wat ’n afskrif van sy manuskrip aan ’n ander uitgewer gestuur het sonder om hom te raadpleeg. Fokus publiseer vinniger as hul opposisie en die boek het reeds verskyn. Nou wil die ander uitgewer Fokus dagvaar omdat hulle intussen ook setkoste aangegaan het.

“Hulle behoort die skrywer te dagvaar,” sê sy.

“Nee, jong, die skrywers praat met mekaar. Maak ’n uitgewer ’n skrywer kwaad, kry die uitgewer nie weer ’n manuskrip van hom en twintig ander nie. Daardie proefbladsye wat jy persklaar gemaak het, is in die kol. Subwerk is egter net ’n bysaak. Jy sal leer ’n uitgewer se hooffunksie is om skrywers te werf en te bearbei.”

Carina voel gevlei. “Is my subwerk nou meer akkuraat?”

“Perfek noudat Jan jou goed touwys gemaak het. Tertia sou nie ’n goeie onderwyser gewees het nie en Henk is te verstrooid.”

En Liaan? wonder Carina. Of sou Liaan haar juis die verkeerde tekens geleer het?

“Genoeg oor die werk.” Oor ’n glasie wyn kyk Ras na haar. “Ek het genoeg stoom afgeblaas. Jy het nou gehoor wie ek wou vermoor. En jy? Vir wie wou jy arseen en strignien koop?”

“Ek gesels graag oor die werk. Dis stimulerend en ek wil jou nie met my katastrofes verveel nie.”

“Jy is pragtig en intelligent en talentvol. Maar vervelig?” Hy glimlag. “Nooit nie. Pak uit, as uitpak jou beter sal laat voel. Ek het vanoggend dieselfde teenoor jou gedoen.”

Toe Carina haar kom kry, borrel alles oor. Sy vertel van haar ma wat nie begryp nie, wat net van egskeidings praat. Van Annerie van Wyk. Van Tinus en dat hy háár van ontrouheid beskuldig terwyl hy vier keer – vier keer waarvan sy weet – by ’n ander vrou gaan kuier het. Sy vertel dat hy nooit tuis is nie, en wanneer hy is, is hy erger as ’n ystervark. Sy sê dat Tinus haar veroordeel omdat sy werk, omdat sy nie by die huis wil sit en wasgoed was en kinders grootmaak nie.

Hy roep die wynkelner nader. “Nog ’n bottel, asseblief. Van dieselfde. Ons gaan lank kuier.”

Carina neem ’n slukkie wyn. “Dink jy ek is ondankbaar en selfsugtig? Paranoïes en onnodig agterdogtig?”

“Nee. Wat ek dink, is dat jy ’n besonderse persoon met besondere lojaliteit is en dat Tinus jou nie waardeer nie. Hy besef nie hoe gelukkig hy is om jou as vrou te hê nie. Wat gaan soek hy by ’n ander vrou wat hy nie dubbel en dwars by jou kan kry nie?”

“Hy stel nie in my belang nie.” Sy neem nog ’n slukkie wyn. Eers dan het sy genoeg moed om van die balkon te vertel, dat Tinus saans skaars nagsê en dan omdraai en slaap.

As Ras geamuseerd is, toon hy dit nie. Sy gesig is baie ernstig. “Ek kan ’n kuur aanbeveel, maar moontlik is dit in dié vroeë stadium ietwat drasties.”

Carina kyk oor haar glas in sy blink, blou oë. Die boodskap wat sy daarin lees, laat haar bloos en oor Anta gesels. Oor sy kinders en hul skoolbedrywighede.

Rasmus onderdruk ’n grinnik. “Ons het dieselfde leesstof onder hande gehad. Ken jy ook die artikels waarin raad gegee word oor hoe om ’n amoreuse man te hanteer en af te skakel? Waarin aanbeveel word dat jy hom oor sy kinders uitvra? ’n Taktiek gewaarborg om alle tekens van toenadering in die kiem te smoor.”

Carina ontken dit nie. Wanneer laas het sy parfuum en lipstiffie aangesit vir ’n afspraak met ’n man wat reken sy is mooi en interessant, met potensiaal? Die ete is heerlik, sy geniet sy geselskap … en dit maak haar bang. Die artikel het ook aanbeveel dat ’n mens ’n pak foto’s van die afgelope vakansie byderhand moet hou, wat jy een na die ander uithaal en wys. Daar moet net nie een van jouself in ’n skrapse bikini wees nie. Dié sal sy Ras egter spaar. Hy verdien dit nie.

“Ek en Anta maak ook rusie,” erken hy. “Bitterlik en sonder om agterna vrede te maak. Vier normale mense. Maar nie vir haar bedoel nie. Daarom sal ons al vier, teen ons sin, die slegste in mekaar wakker maak.”

“Ek en Tinus was aanvanklik eenders, nou kom ek agter ons het uiteenlopende belangstellings. Ons verskil in geaardheid, gewoonlik, belangstellings, selfs persoonlikhede.”

“Aanvanklik is die nuutjie van getroud wees ’n bindende faktor. Na ’n ruk irriteer selfs dít wat in die begin dierbaar was ’n mens.”

Carina onthou haar nat sykouse en onderklere in die stort. Tinus het gesê dit lyk huislik. Nou reken hy seker sy is rojaal met die seeppoeier en ’n swak huisvrou. Dieselfde met sy skoene saans wat hy op die mat uitskop sodra hy by die huis kom. Hy herinner haar nie meer aan Wynand as jong seun nie. Nou sien sy net die slordige sitkamer, die opruim elke môre en nóg sokkies om te was.

“Wat is die oplossing?”

Ras huiwer. “As twee mense agterkom hulle is uiteenlopend van geaardheid en nie vir mekaar bedoel nie, is daar geen sin om met ’n huwelik voort te gaan en mekaar onnodig seer te maak nie. Hoekom jou maat aftakel, sy of haar persoonlikheid probeer verander om by joune te pas? Dan is dit nie meer dieselfde persoon op wie jy verlief geraak het nie.”

Soos met sy raad aan Henk en Tertia, besef Carina opnuut hoe logies en nugter Ras is. Hy moes prokureur geword het en Tinus uitgewer.

“In die proses van verandering breek jy jou maat se selfvertroue af,” vervolg hy. “Ook inisiatief en selfrespek. Uiteindelik, op die lange duur, doen jy meer as afbreek. Jy vernietig sy of haar kans op ’n tweede probeerslag. Daar is geen nut in vermorste jare nie, terwyl albei partye die tyd beter kon benut en intussen gelukkiger kon gewees het.”

Die wyn help Carina om minder skuldig te voel, met minder inhibisies. “Sal Tinus gelukkiger saam met Annerie wees?”

“En Anta gelukkiger sonder my?” Rasmus haal sy skouers op. “Ek wens ek was agtien, wanneer ’n mens al die wysheid in pag het. Maar die vrae kom eers na dertig.”

“Wat doen jy wanneer Anta haar onttrek, as sy nie jou belangstellings wil deel nie?” vra Carina.

“Ek bly tuis. Slaan ’n paar balle teen die muur of swem tien lengtes om van die frustrasie ontslae te raak.”

Carina wens hulle het ook ’n swembad en tennisbaan as uitlaatklep gehad wanneer die druk te groot word.

“En daarna? Na die balle en die lengtes?”

“Daarna?” Oor die tafel reik Ras na haar hand. “Daarna dink ek aan jou. Dit help.”

Hy het mooi hande. Skraal en sensitief. Kunstenaarshande. Carina skuif nie weg nie.

“Noudat ek jou gevind het, kan ek jou nie laat gaan nie. Ek sal nie eise aan jou stel nie, Carina. Ek sal jou tyd gee om deeglik te dink voor jy besluit. Al wat ek vra, is dat jy ons die kans gun om mekaar beter te leer ken – op kantoor en af en toe tydens ete. Is dit ’n onbillike versoek?”

“Nee.” Sy neem nog ’n slukkie wyn. “Ek wens Tinus was so redelik.”

“En Anta … Soos jy en Tinus, is daar ’n afgrond tussen ons. Soos met die kinders, is daar die generasiegaping. Of Pa twintig of vyftig is, wat jou kinders betref, is jy stokoud en outyds. Jou opvoeding is net daarop gemik om hulle in te perk of te straf. Al prys jy hulle of erken jy hou ook van popmusiek en fliek, bly jy steeds die gesagsfiguur waarteen hulle rebelleer. Om met Pa vriende te wees, is onaanvaarbaar in die jongmenskliek.”

Carina onthou toe sy ’n tiener was, wou sy nie saam met haar ouers gaan kuier nie. Dit was onaanvaarbaar, want almal sal dink jy het nie vriende en ’n kêrel nie.

“As hulle in tel wil wees, moet hulle uit beginsel in opstand kom,” troos sy. “Dit gaan nie om jou as pa nie, maar om ’n eie identiteit. Hulle is nog soekend, met ’n vrees om ‘anders’ te wees, om nie deur die tienergemeenskap aanvaar te word nie.”

“Ironies. Wanneer ’n mens ouer word, is jy bang om een van die massa te wees en in obskuriteit te verdwyn. Dan wil jy juis ‘anders’ wees, om te wys jy is nie ’n nonentiteit nie.”

“Gee Tobie en Sulet kans,” bemoedig Carina hom. “Hulle sal ook ouer word en ander waardes ontwikkel.”

Rasmus lyk nie oortuig nie. “Hulle beskou my net as die broodwinner. As mens en as man gee my gesin nie ’n duit vir my om nie.”

Carina kan nie glo dat iemand soos Ras nie waardeer word nie. As hy hare was, het sy hom bederf.

“Ek wens ek kan elke dag vir jou sjokoladekoek bring,” terg sy ligweg.

“Jy bring jouself – dis meer werd. Net om jou soggens te sien, laat my heeldag beter voel.” Rasmus se duim vryf oor haar arm, dan haar gewrig en handpalm. Sy vingers vou om hare. “Ek het gesê jy is belangrik. Spesiaal. Ek gee vir jou om. Maar het ek gesê dat ek jou liefhet?”

Carina was nog nooit ’n tranerige persoon nie, maar skielik sien sy hom deur ’n mistige waas. Sy kan nie verby die knop in haar keel praat nie.

“Jy hoef niks te sê nie, Rina-lief. Die feit dat jy hier saam met my is, is genoeg. Tot dusver was die kantoor en my werk ’n plaasvervanger waarin ek myself kon verdiep. Ek erken daar was vergoeding en ’n mate van bevrediging. Maar dit was ’n leë, doellose bestaan. Jy sal weet. Jy kan nie ’n manuskrip uitneem balkon toe nie en saans as jy eensaam is, is ’n boek nie genoeg kompensasie nie.”

Haar oë kan nie behoorlik fokus nie, maar dis nie trane nie, besef Carina. Dis die wyn, waaraan sy nie gewoond is nie.

“Vandag is die eerste keer dat ek werklik gelukkig is,” sê Rasmus. “Die paar kosbare ure saam met jou gee my moed om nie tou op te gooi nie, om iets van my lewe te maak en te besef ek het dalk ’n toekoms wat nie so donker soos die verlede is nie.”

Hy praat nog, maar Carina neem nie veel in nie. Al wat sy wil doen, is huis toe gaan en in die bed klim. Sy skaam haar morsdood as Ras moet agterkom haar kop draai … Hy sal niks weer met haar te doen wil hê nie.

Carina kom vaagweg agter dat Rasmus die rekening vra en betaal, dat hy haar stoel uitgetrek het en sy arm om haar sit toe hulle uitstap. Maar dis al. Van die rit in die motor weet sy niks. Toe sy opkyk, sien sy nie die kantoorgebou nie, maar hul woonstel.

Rasmus help haar uitklim en druk die slanke, bewerige figuurtjie ’n oomblik teen hom vas. “Jy het twee weke dubbelskof en oortyd gewerk. Jy is op ’n vry middag geregtig.”

“Hoe laat is dit?” vra Carina.

“Halfvier. Al wat jy vry kry, is ’n uur, as vergoeding vir jou harde werk en etenstyd af.” Hy stap saam met haar die trap op. By hul voordeur soen hy haar op die voorkop. “Ek het jou lief. Al vergeet jy alles wat ons gepraat het, onthou dit.”

“Ek onthou.”

Rasmus sluit die deur vir haar oop, dan laat hy Carina gaan. “Volgende Vrydag, dieselfde tyd, dieselfde plek?”

Carina knik. As Tinus drie uit vier aande by Annerie kuier, wat is daarmee verkeerd as sy een maal per week saam met Rasmus gaan eet?

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх