Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 9

6

Оглавление

Carina werk aan die proefbladsye wat Rasmus haar gegee het om persklaar te maak. Ses ton vragmotor, lees sy. Dit is klaarblyklik nie korrek nie. Seston-vragmotor? Ses-tonvragmotor? Sy slaan na, maar kan die korrekte vorm in geen woordeboek vind nie. Sy besluit om haar eie oordeel te gebruik. Dit is een begrip. Sy skryf: “Sestonvragmotor; een woord, geen koppelteken nie.”

Tinus kom tuis; dit lyk of Carina hom skaars raaksien. “Moet ek ’n afspraak maak om jou te mag groet?”

“Haai! Hallo! Nog net een reëltjie, dan’s ek klaar.”

Carina lig haar gesig om te groet.

“Dag.” Tinus loop verby.

Die laaste reël is maklik: “Jou bloedsirkulasie sal vir honderd jaar hou,” sê die spesialiteit. Sy verander dit na bloedsomloop en spesialis, haal die vir uit, skryf lank na die jaar en plaas die werkblad aan die einde van die sin.

“Tinus!” roep sy. “Ek is klaar! Waar is jy?”

Hy is nie in die slaapkamer, besig om te verklee nie. Ook nie in die eetkamer by sy boeke nie. Sy tref hom buite op die balkon aan, waar hy teen die reling leun en voor hom uitstaar. Carina gaan staan styf langs hom.

“Hallo,” sê sy sag. “Ek is jammer ek kon jou nie behoorlik groet nie.” Sy haak by hom in, rek om by te kom en lê haar wang teen syne. Sy baard skuur haar vel. Heerlik manlik. Aantreklik en pure Tinus …

“Ek het jou lief,” fluister sy.

’n Oomblik lank voel Carina sy hande teen haar rug opskuif om haar vas te hou, dan stoot Tinus haar weg.

“Die mense kyk vir ons.”

“Laat hulle kyk.” Carina nestel teen sy bors. Deur die dun materiaal van sy hemp kan sy die hitte van sy lyf voel deurslaan; sy hart voel klop – vinnig en onstuimig. Dis gerusstellend. Al is Tinus vir haar kwaad, al vermy hy haar, is hy nie so lou soos hy wil voorgee nie … Sy hou hom stywer vas, sodat hy haar nie weer kan wegstoot nie. “Ons is getroud. Is dit onwettig om vir die wêreld te wys ’n mens is lief vir jou man?”

“Hallo, daar!” klink tant Susie se stem van die balkon langsaan af op. Sy loer oor die afskorting. “Is die duifies besig om op te maak?”

Tinus brom ’n woord wat Carina nie ken nie. Die volgende oomblik staan sy alleen op die balkon.

“Ook g’n respekte vir die skarniere nie,” veroordeel tant Susie haar jong buurman. “ ’n Mens sal nie sê hy huur nie. Soos hy die deure toeklap, klink dit hy dink hy is prins Charles wat die hele Sunnyside gekoop het.”

Sy moes nie op die balkon gepraat het nie, besef Carina. Sy moes tot later gewag het en hom nie buite ten aanskoue van almal in die verleentheid gestel het nie.

“Hoe gaan dit, tant Susie?” vra sy hoflik.

“Klein Johnnie het weer kroep. Ek sit die ganske nag nie ’n ooglid opmekaar nie. Dis sy bors, jy weet. Hy hyg en hoes sonder ophou.”

Carina wil na Tinus toe gaan, maar uit buurskap luister sy na Johnnie se kwale. Asma en kroep en kinkhoes …

“You name it … Johnnie het als al gehad, sê ek jou,” borduur tant Susie lustig voort. “Jy weet nie hoeke dae ek met die kind gehad het nie.”

“Ek weet, tant Susie.”

“Hoe sal jy weet? Deur die muur gehoor hoe die kind kef? Foei, julle kon ook seker nie rus kry nie. Een ding van die flêts, jy hoor als wat langsaan aangaan. Maar jy sal nie regtig weet nie, Karrietjies, voor jy nie self ’n kind moes grootmaak nie.” Tant Susie knipoog. “Maar soos ek jou nou-nou uitgekyk het, lykit of dit ook nie meer lank gaan wees nie, dan begin jy self brei en hekel …”

Pleks dat Tinus vroeër gekeer het … Carina se gesig is rooi. Sy maak verskoning en vlug na binne.

Tinus het alles gehoor. Sy gesig lyk na donderweer. Met reg …

Carina besluit om versoening met ’n mompel te bewerkstellig. “Hoe gaan dit by die werk? Hoe vorder die poedel en die posman?”

“Die saak is uitgegooi.”

“En jou werkopdragte?”

Tinus wys na die stapel boeke langs hom. “Soos jy kan sien …”

“Is daar tikwerk wat ek vir jou kan doen?”

“Dankie. Annerie het gehelp met die dringende goed.”

“Tik sy goed?”

“Sy kla die ‘o’ op haar tikmasjien is onderstebo. As jy op die skouer geklop wil word: ja, jy is beter.” Dan bederf hy die kompliment deur by te voeg: “Maar dis tog waarvoor jy opgelei is. En jy sit heeldag voor ’n tikmasjien.”

Dink hy sy sit heeldag net en tik?

Carina vra nie hoe oud Annerie is en hoe sy lyk nie. Sy waag dit nie. As sy vrede wil maak, moet sy onderwerpe soos Annerie van Wyk en Ras du Toit vermy.

“Ons werk albei hard, Tinus, en ons het in ’n groef beland. Ons moet meer dikwels uitgaan. Het jy nie lus om Sondag by die Fonteine te gaan vleis braai nie?” pleit sy.

“Wanneer ons eendag ons eie huis besit, sal ek elke naweek by die swembad braai om al die verlore vleisbraaie in te haal. Intussen moet ek studeer. Ek het nie tyd nie.”

“Eendag …” eggo Carina. “Ons leef by mekaar verby, Tinus. Ons kan nie jare lank wag voor ons eendag tyd het om gesellig te verkeer en saam gelukkig te wees nie.”

“Toe ons getroud is, het jy geweet ek is nog besig met my klerkskap. My salaris is klein. Ek kan nie vir jou weelderige goed koop nie.”

Carina trek ’n stoel langs hom nader. “Wie praat van weelde? Ek is doodgelukkig met dít wat ons besit.”

“Jy is nie, anders was ek goed genoeg en sou jy nie jou eie geld wou verdien nie.”

“Nie myne nie. Ons s’n.”

“Goed, koop dan vir ons ’n nuwe rok en ’n nuwe hoed sodat ons mooi kan lyk vir die nuwe baas.”

“Ek wil nie! Ek wil nie nuwe klere hê nie. Dis materiële dinge waarsonder ons kan klaarkom.”

“Hoekom het jy dan gaan werk?”

Hy dink al weer aan Ras, besef Carina. En oor die werkopdrag waarvan sy vergeet het; en die kool en die vragmotor en die hemde en tant Susie se taktloosheid. Maar veral oor Ras.

Omdat sy skuldig voel, bly Carina kalm. “Ek dink steeds ons moet die naweek ’n bietjie ontspan, Tinus.”

“Daar sal nie parkeerplek wees nie, nêrens koelte nie. Net radio’s en sokkerballe en lawaai en bierblikke die hele wêreld vol. Dink jy só ’n dag, ten koste van nuttiger tydsbesteding, sal ons goed doen?”

Carina gee Tinus gelyk. Die prentjie wat hy skilder, klink vir haar ook nie aanloklik nie. Sy wonder of hulle nie ’n gasbraaier moet koop om op die balkon te gebruik nie. Dit is darem beter as niks. Mevrou Ehlers sal weet of braaiers by die woonstelgebou toegelaat word. Daar mag dalk rook en reuke wees wat die ander huurders pla.

Carina gooi sout en peper oor twee biefstukke en laat hulle ontdooi. Vanaand se ete is duur, maar nodig. Dis ’n cliché wat Liaan, en Tertia miskien ook, sal laat lag, maar Henk sal saamstem: die pad na ’n man se hart loop deur sy maag.

“Jy kan gerus wees,” paai sy uit die kombuis. “Ras du Toit is getroud. Al lank. Minstens agt jaar.”

Ras …? Van voorname gevorder na ’n bespreking van hul onderskeie huwelike, dink Tinus. Volgende keer sal sy seker hoor dat Du Toit se vrou hom nie begryp nie. En sy sal sê sy begryp. Sy sal hom simpatiseer en byvoeg dat dit met haar en haar man dieselfde gesteld is. En reg in Du Toit se kraal, sal sy vertel dat haar man nie net selfsugtig is nie, maar armlastig ook. En die vent verdien natuurlik ’n fortuin waarmee hy sy tiksters kan beïndruk … seker onthaal ook, op die maatskappy se koste.

Carina weet nie wat deur sy gedagtes gaan nie. “Want hy het ’n seun wat al skoolgaan, wat seker al sewe of agt jaar is.” Sy bedwing haarself om vrolik te klink. “Henk is in die wolke oor sy hemde en broeke. Hy loop nie meer Kaapse draaie om my nie en ek kry dalk bevordering.”

“Geluk.”

“Is dit ál wat jy kan sê? Nadat ek hoe lank my vrye tyd opgeoffer het – vanaand ook – om werk huis toe te bring? Nadat ek dalk uitgewer gaan word … Net: geluk?”

Tinus blaai om en soek in ’n ander handboek na die verwysing van ’n belangrike saak ten opsigte van crimen injuria en lastereise. Hy verwag ’n vraag oor persoonlikheidskending in die eindeksamen.

“Bevordering beteken ’n hoër salaris, ’n bonus en ’n dertiende tjek. Maak dit nie vir jou saak nie?”

Al wat vir Tinus saak maak, is om sy kwalifikasies te verbeter en ’n vennoot in die prokureursfirma te word sodat hy vir Carina ’n volwaardige man kan wees en met Erasmus du Toit kan kompeteer. Die toneel van hulle twee saam, laggend, gesellig, so ingenome met mekaar dat albei se hoor en sien vergaan, bly in sy gedagtes vassteek.

Vanmiddag toe hy haar wou gaan haal, het ’n stroom busse die een na die ander gekom en gegaan sonder dat Carina uitgeklim het. Later het hy moed opgegee en gery – en niks gesê toe hy hier kom en vind sy is lankal tuis nie. Hoe gereeld laai die vent haar in sy lang, slap motor op? Elke dag? Elke oggend ook? Hy weet nie wat gebeur nadat hy haar afgelaai het nie. Die vent wag dalk vir haar om die hoek. Carina bespreek dit nie met hom nie en Tinus is te trots om haar daarna uit te vra.

“Plus ’n verhoging na ’n jaar,” las Carina by.

“Het jy vir jou goeie vriend verduidelik jy bly net vir ses maande, net tot die einde van die jaar by die firma?”

“Aan,” korrigeer Carina. “Aan. Aan hom verduidelik. Vir is ’n anglisisme wat ’n mens soveel moontlik moet vermy. Nie vir ses maande nie. Ses maande lank is beter.”

Tinus vererg hom. “Ons is nie almal taalkenners nie. Wát jy sê is belangriker as hóé jy dit sê. Du Toit het seker ook ’n onderskeiding in Afrikaans gehad?”

“Ek weet nie.”

“Vra hom, aangesien julle klaarblyklik op so ’n intieme voet verkeer. Terwyl hy dink ’n vet salaris en bonus wat hy soos ’n wortel voor jou neus hou, koop vir hom nie slegs ’n sekretaresse nie, maar ook haar gunste en gawes.”

Carina verstyf. Wat dink Tinus van haar? Dat sy ’n los meisie is? Dat sy met Ras flankeer?

Sy probeer waardig bly. “Liewe land, is jy doof? Ek dag jy het gehoor hy is getroud.”

“Jy ook. Besef hy dit?”

“Ons is bloot vriende.”

“Ek is nie ’n moroon nie. Wat wou jy gehad het? Dat ek B.A. loop en ook uitgewer word? Ek reken daar is belangriker dinge as boeke, byvoorbeeld mense. Ek reken ’n ma wie se kind deur ’n dronk bestuurder noodlottig beseer is, weet nie van vir en aan nie. Nog minder ’n skielike pensioentrekker wie se spaargeld deur ’n skelm makelaar gesteel is.”

“Is dit nuwe sake wat jy hanteer?”

“Probeer hanteer, mits my vrou sal ophou rondflerrie en my toelaat om op my werk te konsentreer.”

Carina hoor ook hoe erg die woord klink. Geen wonder Tinus was so die josie in toe sy dit gesê het nie.

“Ek loop nie rond nie, Tinus. Daarvoor het ek jou te lief. Ras is my werkgewer en ek ’n junior werknemer. Die kere wat ons wel gesels, hakkel en stamel ek en noem hom meneer. As ons miskien vriende is, is dit oppervlakkig en platonies. Soos jy en Annerie van Wyk hopelik ook is. Hy ry smiddae dié kant toe met ’n leë motor – ’n motor pleks van ’n rammelende, skuddende bus waarin ek die hele pad moet staan en vasklou om nie uit te val nie. Ek is eerlik: hy het aangebied om my in die toekoms elke middag op te laai.”

“En jy het oor jou voete geval om sy gáwe aanbod te aanvaar?”

“Jy behoort bly te wees. Dan is ek vroeër tuis om jou sokkies te was en stryk.”

“Sokkies word nie gestryk nie. En daar is ’n wassery om die hoek. Jy hoef nie met die hand te was nie.”

“ ’n Laundromat. Teen hoeveel rand ’n bondel? Geld wat ek waar moet kry?”

Tinus klap sy boeke toe. “Laat staan dit! Ek gaan slaap.”

Carina besef sy moes stilgebly het, nie verwyt het nie. Maar vandat hy by die huis gekom het, het alles skeefgeloop.

“Wat van die biefstukke? Vleis wat ontdooi het, kan nie weer bevries word nie.” Pleks van ’n vredesaanbod, klink dit beskuldigend.

“Ek is nie honger nie,” antwoord Tinus kortaf.

“Ek wou vanaand ’n spesiale aand gemaak het.”

Tinus pluk sy skoene uit. “Jy het. Uiters spesiaal. Met vertellinge van Du Toit en hoeveel jaar jy nog vir hom gaan werk. Of is dit aan hom werk? Hom bearbei?”

Carina is spyt sy het ooit die taalkwessie geopper. “Ek wou biefstuk en sampioene maak, met kerse op die tafel …”

“Ek kan vir elektrisiteit betaal.”

“Die kerse was veronderstel om romanties te wees.”

“Bêre die romantiese dinge maar vir die wonderlike Du Toit en tant Susie. Hulle waardeer dit meer as ek.”

Carina bly verslae in die kombuis staan. Sy het gekla hulle leef by mekaar verby. Maar dis erger. Sy en Tinus begryp mekaar nie meer nie en maak mekaar seer, sonder dat hulle besef hoeveel skade aan hul verhouding berokken word.

Carina bêre die biefstukke. Gekoop ten koste van ’n hareborsel wat sy dringend nodig het. Liaan en Tertia lyk asof hulle uit die bladsye van ’n modeboek gestap het. En sy soos ’n voëlverskrikker. Sy kry skaam oor haar armoedige klere. Hoe kan sy skrywers besoek en voorskryfkomitees gaan spreek in verlede jaar se erfstukke van haar ma as sy uitgewer word? Dit maak ’n swak indruk.

Carina loop nie agter Tinus aan om te piep en paai nie, soos Henk dit genoem het. Sy kyk na die nuus op TV, sodat sy darem ’n bietjie algemene kennis opbou, lees ’n paar hoofstukke van Ouboet en gaan dan slaap.

Tinus reageer nie toe sy die kamer binnekom nie, hoewel sy aan sy asemhaling kan hoor hy is wakker. Sy trek uit en klim in die bed.

“Nag.”

“Nag,” antwoord hy ewe kil.

Aan ontbyttafel die volgende oggend probeer Tinus vrede maak.

“Wat het met ons gebeur, Carrie? Ons kan nie so aangaan nie – twee vreemdelinge onder een dak. Ons was lief vir mekaar. Ons is getroud …”

Ras het nie weggesteek dat hy getroud is nie. Maar onthou Annerie van Wyk dit ook? En Tinus?

Carina antwoord nugter en logies: “Dis maar soos die lewe is. Die eerste ses maande van enige huwelik is seker vol rose en maanskyn. Alles is in pienk sellofaan toegedraai en die lewe voel soos een, lang, idilliese wittebrood. Maar dit kan nie altyd so aanhou nie. Die een of ander tyd moet ’n mens uit jou drome wakker word. Ek dink dis wat met ons gebeur het. Die glans het verdwyn en ons het realisties geword.”

“Wat is realisme? ’n Lewe vol irritasie en misverstande waarin elkeen in ’n geslote lugleegte leef sonder plek vir die ander? Dis nie die rede waarom ek getrou het nie. Ek wil nie ’n kok en ’n huishoudster en ’n sakevennoot hê wat meer geld as ek verdien nie. Eerder ’n maat, ’n kameraad, ’n geesgenoot. En veral ’n vrou wat ek kan liefhê.”

“En ek wil nie ’n robot hê wat nooit hier is, wat te besig is met sy eie sake om my dag of nag te sê nie. ’n Robot wat my wantrou en ignoreer.”

Tinus tel sy skoene op en gaan bêre dit saam met die koerant. “Wat probeer jy sê? Dat jy moeg is vir my? Dat jou ouers reg was en dat ons moes gewag het?”

“Nee, ek sal nooit oor die afgelope halfjaar spyt wees nie, al gebeur wat ook al. Ons het die regte besluit geneem. Ons moes nie gewag het nie en ons kan nóú ook nie wag nie. Dis kwart voor agt! Ek moet nog opruim en ons moet al ry!”

“Dié bespreking is belangriker as tydtafels en horlosies.”

“Ek stem saam. Dis nodig. Dringend noodsaaklik dat ons die saak uitpraat. Maar daar is tyd en ’n plek vir alles.”

Carina lyk skielik soos die skoolmeisie wat hy toentertyd leer ken het. Windverwaaid en nie so selfversekerd soos sy probeer voorgee nie …

“Soos gister buite op die balkon?” Tinus grinnik. “Die plek is nou beter, want tant Susie slaap. Hoe lyk dit met die tyd?”

Carina gooi haar hare oor haar skouer. “Opmaak neem langer as veertien minute. Bêre dit vir vanmiddag.”

“Ek het net twee minute nodig.”

“Hou op spog.” Ondanks haar ergernis omdat Tinus so tydsaam is, kan Carina nie haar lag bedwing nie. Solank een van hulle twee ’n sin vir humor behou, kan daar nie veel skeel nie; niks wat nie reggestel kan word nie.

Sy kan nie onthou wanneer laas sy spontaan gelag het nie, besef net dat dit ’n terapeutiese uitwerking op ’n mens kan hê. Carina streel die deurmekaar hare van Tinus se voorkop weg en hou hom styf teen haar vas.

“Manliefste, alles sal regkom, nè? Dis sommer net ’n fase wat sal oorwaai. Ons sál weer vir mekaar lief wees, nè?”

“Nie wéér nie, stééds. Ons het nog nooit opgehou om mekaar lief te hê nie.” Tinus se arm om haar is soos ’n tuiskoms. Soos die lugleegte waarvan hy gepraat het, behalwe dat hulle saam daarin is. Sonder misverstande.

“Kom ons begin van nuuts af aan,” stel Carina voor. “Voor jy vanoggend soos ’n stoomlokomotief uit die kamer gestorm het sonder respek vir die skarniere … Môre, my liefste man,” groet sy.

Hy lyk skaam. “Ek het môre gesê, maar jy het nie gehoor nie.”

“Omdat jy gebrom en onderlangs gemompel het. Diertjie, het jy lekker geslaap?”

Tinus speel saam. “Nie ’n ooglid opmekaar gesit nie, nie die ganske nag nie. En jy, skapie?”

“Nee. Ek kan nie slaap as ek weet jy is vir my kwaad nie.”

“Ek is nie. Maar jy sál wees as ons laat is …” Hy help haar afdek en toesluit. Saam hardloop hulle die trap af na die parkeerterrein.

In die motor op pad bushalte toe, is hy weer die ou Tinus op wie sy met die eerste blik halsoorkop verlief geraak het toe Wynand hulle aan mekaar voorgestel het.

Hoewel die Volksie se verrinneweerde sitplekke dit nie eintlik toelaat nie, sit sy styf teen hom. Hy het sy arm om haar en Carina moet die ratte verander.

“Dis net iesegrimmigheid wat sal oorwaai,” troos hy. “Jy was reg. Ons het ’n vakansie nodig om uit die groef weg te breek. ’n Naweek. Selfs net ’n dag … Ons kan Sondag na die Fonteine toe ry as jy wil.”

“Nie ten koste van jou studie nie. Kom ons vier jou laaste vak wat geskryf is, met ’n vleisbraai tussen sokkerballe en radio’s.”

“Of tuis, met biefstuk en kerslig.”

“Of net by mekaar …”

“Dis al wat saak maak. Ek en jy saam …”

Carina voel toe hy skielik regop sit. “Kyk die mense! Die toue!”

“Ja, want ek en jy was mos belangriker as busse en horlosies,” herinner Carina hom laggend.

“Jy gaan laat wees!”

“ ’n Paar minute maak nie saak nie.”

“Dit gaan ’n paar uur wees!”

Carina sit ook orent. Die halte lyk soos die hoofingang by Loftus Versveld tydens ’n Curriebekerwedstryd wanneer Noord-Transvaal teen die WP speel. “Dis omdat ons later as gewoonlik is.”

“Ek sal jou kantoor toe neem.”

“Jou werk is belangriker as myne. Ek sal stap, as dit moet. Dis goeie oefening.”

“Die hele ent stad toe? Jy kan nie.”

“Ek gee nie om nie. Ek sal op kantoor verduidelik daar was ’n krisis en ’n verkeersknoop.”

“Nee. Dan kom ék liewer laat en verduidelik …”

“Die hof begin vroeg. Ry, Tinus, ek sal ’n plan maak.”

“Ek ry nie sonder jou nie.”

Carina klim uit. “Ek het plathakskoene aan. Stap sal my nie kwaad doen nie. Ry, Tinus. Die belangrikste is dat jy betyds is.”

“Nie sonder jou nie,” hou hy vol.

Hulle sien gelyktydig die silwerblou Mercedes-Benz wat eenkant, uit die verkeer, op die sypaadjie getrek staan. Tinus is die eerste wat die motor herken.

“Geen wonder jy het aangedring ek moet ry nie.” Netnou se warmte en gemoedelikheid het uit sy stem verdwyn. Dit is skielik kil en onpersoonlik. “Goed, ek sal ry. ’n Ekstra minuut sonder my is ’n ekstra minuut saam met hom. Geen wonder jy was so haastig om uit te klim nie.”

“Ek was nie. Of, as ek was, wou ek jou tyd spaar.”

Sy stem is nou ysig. “Wat ek nog altyd van jou bewonder het, wat my tot jou aangetrek het, Carina, was jou eerlikheid. Moenie nou jou goeie rekord bederf nie. Soos ek gesê het, ek is nie ’n moroon nie. Moenie my intelligensie onderskat deur my met leuens om die bos te probeer lei nie. Ek sal meer van jou dink as jy eerlik is, al maak dit seer om die waarheid te hoor.”

“Tinus …” Carina bly verslae langs die motor staan. “Ek begryp nie. Waarvan praat jy?”

“Van jou en Du Toit se afsprake nie net smiddae nie, maar soggens ook. Daarom dat jy my so aangejaag het. Jy kon nie wag om by hom te kom nie, dié dat jy nie veel tyd gehad het vir my nie.”

“Ek hét vir jou tyd gehad. Dit was ék wat eerste my arms om jóú gesit het.”

“ ’n Oomblik lank. Hoeveel uur kry hy?”

“Tinus, jy praat snert! Jy is doof. Ek het jou gesê daar is nie ’n verhouding tussen ons nie.”

“En ek het gesê ek glo jou nie. As dit agtuur die oggend al so gaan, sidder ek om te dink hoe dit bedags op kantoor vorder. Nou begryp ek waarom jy saans so moeg is dat jy skaars kan kosmaak of twee woorde met my praat.”

“Ek is moeg omdat ek hard op kantoor werk en dan nog boonop ’n huishouding moet behartig waarmee jy nie help nie.”

“Vertel dit vir Du Toit! Hy sal jou waarskynlik glo. Ek nie.”

“Ons het geen afsprake nie. Gister was die tweede keer dat hy my opgelaai het en vanoggend die eerste keer dat hy by die halte wag.”

Carina kon net sowel nie praat nie.

“Wanneer jy by hom is, is jy natuurlik nooit moeg en oorwerk nie. Met hom praat jy seker nie oor wasmasjiene en gebrande kool nie. Geen wonder jy wil nuwe skoene en ’n nuwe haarkontrepsie hê nie.”

“My skoene met die hoë hakke is gedaan, dié dat ek vanoggend plattes aanhet. En ek vra nie ’n duur kontrepsie vir my hare nie, net ’n doodgewone borsel.”

“Vra vir Du Toit.”

“Tinus, ek hoop jy besef jy is onbillik,” sê Carina so bedaard moontlik.

“Al wat ek besef, is dat ek vanoggend ’n gek van myself gemaak het deur jou te vertrou en te wys ek gee om.”

“Ek gee ook om.”

“Vir wie? Watter een van ons?”

“Tinus …”

Die Volkswagen se enjin brul. “Geluk! Dis nie elke dag dat ’n meisie twee mans aan ’n lyntjie het nie.”

“Is nie!” Carina loop om na die ander kant van die motor, waar hy sal hoor wat sy sê. “Nee, Tinus, is nie. Jy is verkeerd. Elke keer is dit ’n sameloop van omstandighede wat die misverstande veroorsaak. Henk se hemde, die knope, die balkon en tant Susie, die kerse, ’n dringende manuskrip en vergete werkopdragte …”

Tinus hoor net een woord. “Manuskripte. Aand na aand. Dag na dag … Gaaf, dan het jy iets oorspronkliker om met hom oor te gesels as wasserye en vuil sokkies. Geniet dit.”

“Ek is sy tikster, dis ál. Sekretaresse of wat ook al, ek weet nie. Maar niks méér nie.”

“As jy nie weet nie, hoe sal ék weet? Vra hom wat jy is. Hy sal nie twyfel nie.” Tinus trap die koppelaar en verander ratte. “Tot siens. Geniet jou dag.”

“Tinus! Wag!” roep Carina.

Maar die ruit aan sy kant is ook toegedraai en hy hoor nie. Of hy wíl nie hoor nie. Ongeag die druk verkeer, vleg hy tussen die stroom ander motors deur. Terwyl Carina nog probeer kyk, verdwyn die Volksie agter ’n bus en is hy buite sig.

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх