Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 7

4

Оглавление

Die armvol hemde en broeke kort meer as net knope. Die hele Saterdagoggend sit Carina voor die masjien om nate toe te stik, sakke heel te maak en voerings vas te werk.

“Gelukkig dat jy soveel potensiaal het,” merk Tinus op. “Dat naaldwerk ook een van jou talente is.”

As dit veronderstel was om ’n grap te wees, vind Carina dit nie snaaks nie. Sy wens hy wil gaan draf, of werk of studeer. Sy rustelose op en af gedrentel maak haar senuweeagtig. Die stapel hemde sak nie en sy is haastig om met die manuskrip aan te gaan. Die knope wat sy het, gaan in elk geval nie genoeg wees nie, besef sy. En daar is ook nie tyd om winkels toe te gaan nie. Henk sal maar tot Dinsdag moet wag. Hy het jare lank met af knope geloop. Nog ’n dag sal nie saak maak nie. Sy vou die laaste drie hemde op en pak hulle weg.

Tinus kom langs haar staan. “Nou sien jy skielik weer kans vir die sleurbestaan van huisvrou wees.”

Carina kyk op. “Ekskuus?”

Hy wys na die berg hemde wat klaar is en die drie wat eenkant lê.

“Vir ander mense is jy bereid om tyd op te offer, maar nie vir jou man nie?”

“Ek het die eiers gebak, jou bord en jou asbakkie gewas, jou kant van die bed opgemaak en die bad gewas nadat jy gebad het. Is dit nie genoeg nie?”

“Dis nie waarvan ek praat nie.”

Carina is nie lus om te vra wat hy bedoel nie. Gisteraand het hy ’n kliënt gaan sien en vanoggend het hulle nie veel vir mekaar te sê gehad nie. Tinus is koel en afsydig en sy enigste bydrae tot ’n gesprek is sarkastiese aanmerkings wat haar irriteer.

Hy wys na die drie laaste hemde. “Hoekom is hulle eenkant gegooi?”

“Ek het nie genoeg knope nie.”

“Hoekom het die ander voorkeur gekry?”

Carina frons. Tinus het baie foute, maar om kleinlik oor die een of ander nietigheid aan te hou torring, is nie een van hulle nie. Skielik, toe sy na die stapel kyk, lyk die boonste hemp vir haar bekend. Wit, met ’n effense streperigheid in. Groter as die res en netjieser gestryk.

“Dié drie is joune,” sug sy.

“Jy kla altyd ek sê jy lyk mooi as jy ’n stokou rok aanhet en ek let nie op as jy ’n nuwe een dra nie. Maar jý ken ook nie mý klere nie.”

“Ek het nie onmiddellik opgelet nie. Ek was en stryk hulle immers elke week – natuurlik ken ek elke enkele hemp van jou.”

“Is dit hoekom jy myne eenkant gegooi het?”

“Ek het hulle netjies weggepak, nie eenkant gegooi nie.”

“Maar Henk Rautenbach s’n heelgemaak?”

“Ek het nie geweet wie se hemde is wie s’n nie, net van bo af begin tot die knope opgeraak het. Dis jou skuld dat joune agterweë gebly het. Hoekom het jy hulle onder die stapel ingedruk?”

“Jy het sy spul bo-op myne gesit.”

“Is nie. Ek het nie met opset jou hemde gelos nie. Dis jy wat dit onder die ander weggesteek het.”

“Dis nie belangrik nie.” Tinus stap weg. “Vergeet dit.”

“Wat het van jou hemde se knope geword? Het jy nie dié gehou wat afgebreek het nie?”

“Stukkend. Ek het dit weggegooi.”

“Dis die wasmasjien. Hy breek die ritssluiters ook en hy was nie skoon nie. Kon jy nie net reguit sê daar is knope af nie?”

“Ek het. Weke gelede.”

Carina onthou. “Jy oordryf. Dit was nie weke gelede nie. Gister of eergister. Hoekom het jy my nie herinner nie?”

“Jy was te moeg. Te besig.”

Soos nou … Carina het nie die energie óf tyd vir ’n lang, uitputtende argument nie. En dit oor onbenullighede soos knope en wasmasjiene. Wat wil hy hê moet sy doen? Dié van Henk se hemde afknip en aan syne werk en nóg ’n uur van haar kosbare tyd mors?

“Te besig met ander mense …” voeg Tinus oor sy skouer by.

“Dis werk vir brood en botter.”

“Ek het gesê ek kan vir jou sorg.”

“Ja, tien keer, oor en oor. Maar hoe? Skaars brood, wat nog te sê botter.”

Die oomblik toe die woorde uit is, besef Carina sy was gemeen om hom daarvoor te verwyt. Die dag toe sy met Tinus getroud is, het sy geweet ’n jaar of meer se swaarkry lê voor. Dit het erger gegaan as wat sy of haar ouers verwag het. Tinus het homself afgeskeep om die rekeninge te betaal. Om vir haar ’n botteltjie parfuum as verrassing te koop; ’n ruiker blomme met haar verjaarsdag, ’n paar sandale wat sy in ’n winkelvenster gesien en begeer het … Tinus het sy manlike trots, al het hy nie ’n behoorlike inkomste nie. Hy was bekommerd oor die lewenskoste, maar sy was die een wat wou trou. Die een wat volgehou het liefde en koue water is genoeg, beter as uitstel en kaviaar. Dis sy wat gesê het sy bly liewer saam met hom in ’n armoedige agterkamertjie, as sonder hom in haar ouers se luukse huis.

“Tinus!” roep Carina agter hom aan. “Vergewe my. Ek het dit nie so bedoel nie.”

“Ek het gesê vergeet dit.” Hy is by die voordeur met die motorsleutels in sy hand. “Ek gaan kafee toe om sigarette te koop. Het jy iets nodig?”

Hy rook te veel, maar dis spanning.

“Nee.” Carina byt haar onderlip vas. Toe hulle verloof was, sou haar ma gesê het dis voorbarig om haar aan ’n man op te dring. Maar nou is hulle getroud. Hy is nie meer haar kêrel nie. “Ek het niks nodig nie, net vir jóú.”

Haar groen oë pleit en haar lang blonde hare, los oor haar skouers, is onweerstaanbaar. Verlede week sou Tinus haar teen hom vasgedruk het, sy vingers deur haar hare gevleg het en haar alles vergewe het, omdat Carrie hom liefhet. Maar Carrie het Carina geword. Hard geword, dinge gesê wat hy tyd nodig het om te verwerk. Hy het geglo sy is gelukkig, al wat sy verlang is om by hom te wees. Sáám … Al is dit saam swaarkry, saam opoffer. Nou verwyt sy en maak beskuldigings.

“Ek het bedoel: brood en melk of tamaties,” antwoord hy stilweg.

“Nee, niks nie, dankie.”

“Dan ry ek maar …”

“Ry versigtig en oppas vir lamppale,” maan sy.

Maar hy is reeds weg en hoor nie.

Carina soek in haar masjienlaai of daar êrens ’n paar knope rondlê. Maar daar is niks. Om te vergoed, sit sy ’n paar mansjetknope by die hemp waarvan die mou se knoop weg is. Dan, haar plig gedoen en met een oog op die horlosie, gaan sit sy by die eetkamertafel met Noordvlug. Dit is ’n goeie verhaal. Die skrywer verdien beter as ’n keurder wat geïrriteerd is en met huweliksprobleme sukkel. Sy moet vergeet en konsentreer.

Sy sit so en werk dat sy heeltemal van die tyd vergeet. Drie uur sedert Tinus weg is. Net om sigarette te koop? Carina lees nog ’n paar bladsye, dan kyk sy by die voordeur uit of sy nie die Volkswagen sien nie.

“Hallo daar,” groet tant Susie. “Vir wat lyk jy of jy ’n hamer wil vat, Karrietjies? Is jou man op die katerjag en die flerrie uit?”

Carina het nie besef sy lyk of sy op die oorlogspad is nie. Sy probeer doelbewus ontspan. Tinus is in ’n omgekrapte bui hier weg. As hy terugkom en sy maak weer rusie, loop hy dalk ’n tweede keer. “Nee, tant Susie weet hy is nie só nie. Hy sal seker nou-nou kom.”

“Waar is Tienie?”

“Kafee toe.”

“Ja, so sê almal, tot hulle die dag uitgevang word. Julle jonges het ook maar ’n swaar tyd. Tjops en kleingeld tot hulle die regte een kry.”

Om met tant Susie te gesels, laat die tyd verbygaan en as sy in die deur staan wanneer Tinus kom, sien hy darem dat sy bekommerd was.

“Of hoe sê die Ingelse? Chop en change,” vertaal haar buurvrou. “Trou en skei, tot jy jou deel kry.”

“Tinus is my deel in die lewe.”

“Vir wat het hy dan met die strykyster hier weggevlieg of hy ’n Boeing is?”

“Die battery is pap, hy wou hom seker laai.”

“As mans wil afwys en vrouens begin toesmeer, is daar rondflerrie-moeilikheid, sê ek altyd. Wil jy inkom, Karrietjies? Kom tee drink?”

Carina wil nie. “Ek het te veel werk, tant Susie.”

“Pasop dat jy nie altyd te moeg is en te veel werk het nie, hartjie. Mans wil hê hulle vrouens moet altyd vir hulle reg wees. Dit was mos my moeilikheid – hoekom my Bernie begin rondloop het en ek hom gelos het. Ek sal nie weer trou nie, sê ek jou nou. Ek het te swaar dae gehad, met die drank en die perde en die flerries …”

Carina gaan liewer in en maak die deur toe. Arme tant Susie bedoel dit goed, maar selfs vir háár word hul inmengerige buurvrou soms te veel.

Carina probeer nog ’n hoofstuk deurwerk. Sy weet sy oorreageer. Sy is waarskynlik neuroties, soos haar ma. Maar haar broer het met sy motorfiets verongeluk toe sy in matriek was en sy kan die trauma steeds nie vergeet nie. Die dae by die hospitaal, terwyl Wynand in ’n koma was … Hy kón nie herstel nie. En as ’n wonderwerk sou geskied en hy dalk wel eendag bykom, sou hy verstandelik gestrem wees. Die slag waarmee hy die lamppaal op die sypaadjie getref het, het sy nek gebreek …

Soos verlede keer, dink Carina weer eerste aan ’n motorongeluk met die Volkswagen – veral nadat tant Susie gesê het Tinus het soos ’n laag vlieënde Boeing weggetrek. Sy oorweeg dit om kafee toe te loop, maar daar is ’n keuse van dosyne en sy weet nie waarheen hy gegaan het nie. Sy dwaal van venster tot venster, hardloop deur toe met elke motor wat verbyry. Sy gooi Tinus se koue koffie uit en maak varses. Wat doen sy as Tinus ook verongeluk? Hy is die enigste kind en sy ouers is nie meer jonk nie. Hoe bring sy die tyding aan sy pa en ma? Hoe troos sy hulle?

Wie troos háár?

Teen die tyd dat Tinus uiteindelik die voordeur oopmaak, het Carina haarself in ’n toestand opgewerk en al aan boedels en testamente begin dink. Haar naels is stomp afgekou. Sy huil histeries en sy kan nie normaal dink nie.

“Waar was jy?!” roep sy uit.

Tinus is gedaan. Die verkeer was druk, hy kon nie parkeerplek kry nie en die battery het weer gepla. Al wat hy wil doen, is afskakel en ontspan.

“Hallo, lief.” Hy steek sy arms uit en wil Carina met ’n soen groet, maar sy ruk weg.

“Waar wás jy?” herhaal sy skril. “Ek is al byna rasend. Tant Susie ook. Waar het jy die hele dag ronfgeflerrie?”

“Gewát?”

Carina weet sy is onredelik en dis nie woorde om ligtelik te gebruik nie. Maar sy huil so, sy kan nie helder dink nie. Sy is oorspanne en tant Susie het te veel idees in haar kop ingeprent.

“Rondgeflerrie. Dink jy net aan jouself? Nie aan Wynand en my en my ouers, of aan jou eie pa en ma nie?”

Tinus het Wynand geken. Hoewel haar broer ’n jaar ouer was, was hulle op skool vriende. Dit was Wynand wat hom aan sy kleinsus voorgestel het, wat albei goed genoeg geken en geweet het dit sal liefde met die eerste aanblik wees. As hy geleef het, sou Wynand seremoniemeester op hul troue gewees het, peetpa van hul eerste baba … Sy dood was vir Tinus net so ’n skok as vir haar. Hy het begrip vir Carina se nagmerries en haar vrees vir motors en motorfietse.

Tinus sit sy hande op haar skouers. “Bedaar, Carrie. Ek is terug. Ek is veilig,” sê hy rustig, in ’n poging om haar te kalmeer.

Sy stoot hom weg. “Drie uur laat! Ek dag jy lê ook iewers op ’n sypaadjie.”

“Ek is veilig, my lief.”

“Waar was jy? Tant Susie sê dis hoe mans maak – rondloop, vir tjops en kleingeld.”

“Vir wát?”

“Vir kleingeld en kwaadgeld. Vir skei en ander vroumense soek.”

Tinus is nie van nature ’n geduldige man nie en hulle moenie met hom sukkel as hy moeg en warm en vuil is nie. Hy laat sy arms sak en raak nie weer aan haar nie.

“Jy is net so neuroties soos jou ma, Carina,” sê hy ergerlik.

Sý mag haar ma kritiseer, maar nie ander mense nie. Dan is Carina lojaal en op die verdediging. “Los my ma uit. My ma makeer niks nie. Sy is net so normaal soos ek en jy.”

“Solank die pille hou, ja.”

“Slaappille en kalmeerpille. Almal gebruik dit. Is dit ’n sonde?”

“Almal? Jy ook?”

“Nee. Nog nie. Maar jy sal my na pille dryf. Jy self sal nooit ’n senuweeaanval kry nie, net veroorsaak dat ánder mense ineenstortings kry.”

Tinus stap kamer toe, pluk sy hemp uit en trek ’n kortbroek aan.

Carina loop agterna. “Hoekom het jy my nie laat weet jy is veilig nie?”

“Daar was nie ’n telefoon nie en ek het nie gedink ek sal so lank weg wees nie.”

“Ek het probeer werk.”

“Ek is jammer. Jy kan nou jou tyd inhaal, want ek het ook ’n nuwe studiestuk om mee te begin.” Tinus haal sy boeke uit en pak hulle op die eetkamertafel. “Wat eet ons? Weer verbrande kool?” vra hy in ’n poging om vrede te maak.

“Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Dis Saterdagaand. Sop en toebroodjies.”

Carina is reg vir hom as hy kla omdat hulle verlede Saterdag dieselfde gehad het, en die vorige Saterdag en die vorige week …

Maar hy stel blykbaar nie genoeg belang nie of wil nog ’n argument vermy.

“Dit sal lekker smaak.”

Carina is nie honger nie. Nadat sy Tinus se kos vir hom geneem het, gaan sit sy in die sitkamer met die manuskrip op haar skoot. Twee by een tafel werk nie. Hulle sal mekaar steur en sukkel om te konsentreer.

Op skool was Carina se beste bloktyd vroeg in die oggend. Tinus, het sy agtergekom, klim soggens met die verkeerde voet uit die bed. Hy verkies om tot laat snags te werk. Sy het nie die vorige aand nag gesê nie, net stil opgestaan en gaan slaap, om hom nie te steur terwyl hy besig is nie.

Die volgende oggend is sy klaar met nog twee hoofstukke toe hy vaak en half deur die slaap by die eetkamer instap.

Carina blaai terug waar Gerrie besluit om ’n treinkaartjie Harare toe te koop. “Het jy ooit duimgegooi?” vra sy.

“Nee.”

“Of ’n spaarbussie gehad?”

Tinus is nog nie mooi wakker nie. “Gaan dit oor die brandstof wat ek gemors het om na Annerie toe te ry? Dit was skaars ’n halfliter. Ons kan dit seker in ’n krisis bekostig.”

“Nee, dit gaan oor die seun in die storie.” Carina sit botstil. “Na wié?” Selfs in haar eie ore klink haar stem hoog en onnatuurlik. “Na wie toe het jy gery?”

“Annerie. Annerie van Wyk. Jy weet van haar. Sy doen saam met my haar klerkskap by dieselfde firma.”

“Ek dag sy is getroud.”

“Sy is.”

“Ek dag sy is ouerig.”

“Sy is jonger as Du Toit.”

Carina haal ’n slag diep asem. Sy staan op, loop kombuis toe en skakel die ketel aan. Dit gee haar tyd om nie oorhaastig te antwoord nie.

“Dit was op ’n ingewing dat ek besluit het om gou tot by haar te ry.”

Carina haal melk en suiker uit. “Wat het jy by Annerie gaan maak?”

“Gaan vra of sy my taak sal tik.”

“Hoekom?”

Carina besef dit was ’n dom vraag en Tinus benut die kans wat sy hom gebied het. “Omdat my eie vrou te besig is met ander mense om haar verpligtinge na te kom.”

“Die taak moet eers volgende week in wees.”

“Hierdie week.”

“Vrydag?”

“Maandag. Môre.”

“Ek onthou nou. Handelsreg.” Carina voel skuldig. “Ek sou dit vandag vir jou getik het.”

“Strafprosesreg. Jy sou nie. Vandat jy by Fokus begin het, onthou jy niks nie.”

Sy beskuldigings is te na aan die kol. “Verpligtinge?” herhaal Carina. “Is ek verplig om jou take te tik? Ek dag dis ’n guns wat ek jou bewys?”

“Los die koffie,” sê Tinus kortaf. “Ek is nie dors nie. Gaan voort met jou ander verpligtinge.”

“Ek gee nie om om vir jou koffie te maak nie.”

“Ek sal dit self maak, dankie.” Hy gaan was, skeer en trek aan. Dan begin hy werk.

Die res van die dag is hulle albei besig en afgetrokke – Tinus by die eetkamertafel en sy in die sitkamer.

Carina se trane lê steeds vlak. Vyf dae, dink sy. Wat gaan met haar en Tinus aan? In vyf dae het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. In die verlede het hy haar geterg dat sy net skoor soek, ter wille van die opmaak daarna. Nou is dit rusies en verwyte en beskuldigings. Veel erger as skoor soek. Maar hulle maak nie na die tyd vrede nie. Hulle ignoreer mekaar en gaan aan – elkeen met sy of haar belange asof hulle nie van mekaar bewus is nie. Tot die volgende rusie …

Tinus is onder druk omdat hy bedags ’n veeleisende beroep volhou, snags studeer en ’n eksamen in die vooruitsig het. Omdat hy oor hul finansies bekommerd is. Sy moet toegewings maak, besef Carina. Al is sy ook onder druk met ’n nuwe werk waar sy graag ’n goeie indruk wil maak en bevorder wil word.

“Jy kan nie van koffie en beskuit leef nie,” sê sy dus. “Sal ek vir ons macaroni maak?”

“Dankie. Ek waardeer die aanbod, veral omdat jy soveel pligte het en jou tyd kosbaar is.”

Nie sarkasties bedoel nie, dink Carina. Sy raak te gou op haar perdjie en is onnodig op die verdediging. “Die manuskrip kan eers Dinsdag ingaan, dit maak nie saak nie.”

“Dit maak. Jy wil jou eerste opdrag betyds ingee. Ek het Annerie vertel jy tik, liasseer, keur, redigeer en antwoord nog die telefoon ook. Twintig voltydse take. Sy was simpatiek genoeg om jou tyd te bespaar. Sy het aangebied dat as ek vanaand die taak kom haal, kan ek sommer ’n stukkie daar eet, dan hoef jy nie met kosmaak te sukkel nie.”

“Iets beter as macaroni?”

Tinus pak ’n stapel boeke op sy arm. “Ek weet nie. En of ek miskien eers haar tikwerk sal moet nasien voor ek die taak inhandig nie. Dalk kom ek eers laat terug. As jy vaak is, moenie vir my wakker bly nie.”

Sy weet hy het Annerie voorheen geken. En hulle werk al twee jaar saam en hulle het dieselfde belangstellings.

Carina bêre die macaroni en maak die kas toe. Sy kla nie, loop net saam deur toe.

“Ek is lief vir jou, my man.” Gewoonlik noem sy hom liefste. Wou sy haar kleim afpen? wonder Carina. Haar besitreg uitoefen of hom subtiel daaraan herinner dat hy ’n getroude man is? Carina wil nie haar onstuimige gemoed ontleed nie. Sy sit haar arms om Tinus se nek en lê haar kop teen sy bors.

Hy soen haar op die wang. “Sien jou môre …”

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх