Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 6

3

Оглавление

Aangesien dit spitstyd is, staan die mense tou by die bushaltes en is die busse vol. As die eerste bus nie verbygery het nie, sou Carina nie meer by die halte gestaan het toe Rasmus verbykom nie. Sy sien dat hy verbaas na haar kyk. Hy skakel die rigtingwyser aan en swaai oor na die linkerbaan, dan kyk hy opeens voor hom en ry verder.

Carina beweeg saam met die massa vorentoe en soek ’n staanplek in die volgende bus. Sy voel skielik alleen en ellendig. Is hy kwaad omdat sy ’n leuen oor die inkopies vertel het, of was hy taktvol deur voor te gee dat hy haar nie gesien het nie? Is hy vies omdat sy die manuskrip gekritiseer het, of was daar nie stilhouplek nie? Daar is ook ’n derde en vierde moontlikheid. Hy is haastig om by die huis te kom, of hy is nie lus vir haar naïewe geselskap nie. Om weer soos ’n argaïese skoolhoof behandel te word nie.

Wat maak dit saak? dink sy. Solank sy aan die einde van die maand haar salaristjek ontvang en Tinus kan bystaan met die betaling van die woonstelhuur, water- en elektrisiteitsrekening en aankoop van kruideniersware, maak dit nie saak wat die hoofbestuurder van ’n obskure tikstertjie dink nie.

Die Volkswagen wag nie by die bushalte toe sy afklim nie. Die leuen was dus onnodig … Hy kón haar maar opgelaai het, sonder dat Tinus daarvan sou weet, sonder dat hy weer ’n kabaal sou opskop.

Nee, besef sy halfpad deur die derde straatblok op pad woonstel toe. Dan moes sy vir Tinus jok. ’n Huwelik is ’n vennootskap wat op vertroue gebaseer word, op elke vennoot se eerbaarheid. As die een begin toesmeer en noodleuens uitdink – glo dat die doel die middele heilig – is jy oneerlik teenoor jou maat wat beter verdien. Wat sou gebeur as sy een middag onverwags by Tinus se kantoor opdaag en hoor hy is saam met sy sekretaresse huis toe? Of as sy hom in ’n restaurant saam met ’n ander meisie sou sien? Hoe sou sy voel?

Carina is boetvaardig toe sy uitasem by die woonstel aankom. Selfs met die deurdringende reuk van gebrande kool toe sy die voordeur oopmaak, bly sy vrolik en waarderend.

“Hallo, engel. Maak my barmhartige Samaritaan kos?”

“Ek wou …” Hy het nie nodig om verder te verduidelik nie. Die vloer en wasbak spreek boekdele van wat hy wou, maar nie kon doen nie.

Sy het vanoggend na ontbyt opgewas en die woonstel silwerskoon agtergelaat. Nou lyk die kombuis soos die eerste dag van ’n uitverkoping. Oral staan vuil kastrolle met gebrande inhoud, ’n smerige stoof, spatsels en vuil skottelgoed net waar sy kyk. Tinus se hare is deurmekaar en hy laat die laaste opskepbak uit die kas aan skerwe val.

Carina is moedeloos. “Ons moet eerder vanáánd gaan uiteet het …”

“Ons kan steeds, as jy wil.”

“En veroorsaak dat die telefoon- sowel as die elektrisiteitsdienste beëindig word? Wees realisties, Tinus. Ons kan dit nie bekostig nie.”

“Dis die einde van die maand se bekommernis. Los dié gemors. Kom ons gaan eet iewers iets, al is dit net ’n hamburger.”

Los die gemors … En wie moet dit skoonmaak? Die feetjies? Die kastrol waarin die kool was, is oor die muur. Nie krag en skuur nie, nie seepsoda nie, niks sal die bodem ooit weer kookbaar kry nie. Die opskepbak was ’n trougeskenk … En hy het die kosbare skaapribbetjie wat sy vir Sondag gebêre het ook tot houtskool verbrand, sien Carina.

Sy kritiseer nie, bind net ’n voorskoot om en begin opruim.

“Daar skeel iets met die stoof. Hy verbrand alles.”

“Daar skeel iets met die operateur. Hy vergeet om die plate se temperatuur laer te stel.” Tinus lyk moeg en vaal. Carina wil nie met hom rusie maak nie. “Vorder jou hofsaak?” vra sy.

“Nee.”

“Hoekom nie?”

“Ek het die verkeerde kliënt.”

“Die posman?”

“Ja. Ek sou liewer die ander party se saak wou neem – die poedel.”

Sy gooi koeksoda en bleikmiddel in die bakskottel en laat dit stadig kook om die aanbrandsel los te maak. ’n Tweede keer uiteet? Tinus is onverantwoordelik en spandabelrig. Wie sukkel die meeste sonder water en elektrisiteit? Die huisvrou. As hy geld wil uitgee, moet hy dit liewer bestee om nuwe kombuisgoed te koop.

Carina besluit om aan ander goed te dink, oor iets anders te praat.

“Meneer Du Toit reken ek het potensiaal,” vertel sy.

Tinus verstyf. “Ag so? En wat het hom dié interessante afleiding laat maak?”

Carina is besig om die glasskerwe op te ruim. Sy besef nie dat Tinus haar opmerking verkeerd vertolk het nie; sien nie die uitdrukking op sy gesig nie. “As gevolg van my moontlikhede.”

“Wanneer het hy jou móóntlikhede ontdek?”

“Vandag.”

“Weer in sy motor? Of waar het hy jou dié keer beetgekry?”

Carina frons. Dan, op haar knieë, besig om met ’n handbesem die laaste splinters op te vee, snap sy meteens wat hy bedoel. Sy gooi die besem en skropborsel neer. Wie het die plek per slot van rekening so bemors? Sy of hy? Hy behoort skoon te maak.

“Jy het ’n vorige keer my integriteit in twyfel getrek en my beledig deur te suggereer dat ek vergeet het dat ek getroud is. Doen jy dit nou weer?”

“Nee.” Tinus is skielik nie meer so aggressief nie en probeer witvoetjie soek. “Wat is potensiaal? Moontlikheid, talent?”

“Nie net in een rigting, soos jou brein blykbaar net een deuntjie ken nie. Moontlikhede in ’n ander rigting. Nie die soort talente wat jy in gedagte het nie. Potensiaal as uitgewer.”

“Ek dag jy is as tikster aangestel.”

“Tiksters het ook ambisie.”

“Waarvoor?”

Carina vererg haar. Dink hy ’n vrou is slegs vir ’n man se gerief gemaak, om hom te bedien en sy slaaf te wees? Het hy nog nooit van emansipasie van die vrou en gelyke regte gehoor nie?

“Om uit die modder te kom,” antwoord sy kil. “Om van voorskote en vadoeke en die sleurbestaan van huisvrou-wees te ontsnap.”

“Jy is die taalkenner, nie ek nie. Wat ek bedoel het, is: ambisie waarvoor? Vir watter beroep?”

“Uitgewer, soos ek nou al drie keer gesê het.”

“Wat gaan jy uitgee?”

“Boeke,” antwoord sy kortaf. “Wat anders gee ’n uitgewer uit?”

“Sal jy kán?” vra Tinus.

“Ons hoofbestuurder reken so. Jeugboeke.”

“Ja, kinderboeke is seker die maklikste.”

Tinus het belangstellend en gerusstellend probeer wees, wou haar selfvertroue gee, maar vanaand kan hy niks reg doen nie.

“As jy geluister het wat ek na my werkonderhoud gesê het, sou jy gehoor het Fokus publiseer nie kinderboeke nie. Daar is ’n verskil tussen jeug- en kinderliteratuur. Die een is vir kleuters bedoel, die ander jong mense.”

“Jammer. Maar dan is selfs jeugliteratuur makliker en eenvoudiger as dié vir grootmense?”

“Wie onderskat jy?” het Rasmus gevra. Dis wat Tinus nou doen.

Hy het gesê sy is talentvol en mooi. Haar man dink sy is ’n pampoen en ’n vloerlap.

Carina maak die koelkas se deur wrewelrig oop. “Sal dit jou pas as ek ophou drome droom en pampoen en patats gaarmaak?”

“Enigiets behalwe kool.”

Gister sou Carina gelag het. Ook oor die saak van die ou tannie se hond wat die posman gebyt het en dat Tinus vir die poedel kant kies, want die posman het die ding begin deur na die hond te skop. Maar sy voel nie opgeruimd nie.

Dink hy sy is ’n los meisie sonder integriteit? Dink hy Ras du Toit is ’n wolf, ’n goedkoop kansvatter?

Of dink hy sy is ’n koolkop wat aangebrand het, wat vir niks beters bestem is nie as tik en huis aan die kant maak en kinders grootmaak? Dink hy sy waardeer nie komplimente nie, het hulle nie nodig nie? Sy is sonder ambisie?

“Taalaanvoeling,” het Ras gesê en haar genooi om te kom sit, omdat hy belanggestel het in wat sy dink, omdat hy vertroue in haar en haar oordeel het. Hy het ook gevra sy moet eerlik wees. As sy eerlik is, sien sy kans om die manuskrip te evalueer? Ja, dink Carina. Op skool was sy ’n fanatiese boekwurm, van graad een tot matriek. Vóór en ná haar twaalfde verjaardag. Selfs nou, tien jaar later, voel sy ’n gemis as sy nie besig is om ’n boek te lees nie. Boeke is haar lewe. En kinders ook, jong mense.

Maar is dit genoeg aanleg? Om boeke en kinders te ken en bedrewe te wees in tale? Wat gebeur as sy nie kan oordeel nie; nie kan swem nie en aan die diep kant verdrink? Sy is bang Ras oorskat haar vermoëns.

“Kan ek help afdroog?” bied Tinus aan.

En weer die helfte van die glase breek en haar vadoeke bemors?

“Toe maar, dankie, ek kom reg.”

“Gee, laat ek jou help.”

Carina is moeg en geïrriteerd. “Néé dánkie.”

Plaas van afdroog, pak hy weg. Hy hanteer elke bord en bak en skottel versigtig en bêre dit op die regte plek. Daarna maak hy vir hulle koffie.

Keramiekbeker in die hand, kom sit hy met gekruisde bene langs Carina op die wasbak.

“Jy lyk mooi vandag.”

Sy weet hy sal nie kan sê watter kleur haar rok is of hoe haar hare lyk as sy hom sou vra nie. Hy sal nie kan sê of sy skoene aanhet en of haar gesig gegrimeer is nie.

“Dankie.”

“Ek praat aldag oor poedels en bankwissels en aksepkoerse. Dit verveel jou seker. Vertel my meer van jóú dag.”

Haar pa het gesê ’n huwelik bestaan uit gee en neem. Meer gee as neem. Carina gee vir haar man die beskuitblik aan. Dis makliker as vergiffenis en liefkosings.

“Ek het alles vertel wat daar te vertel is.”

“Jy het gisteraand van Pieter van Breda begin vertel toe ek jou in die rede geval het. Was hy by Fokus?”

“Gebel. Dit was wonderlik om te dink ek praat met hom. Ek het ’n eerste uitgawe van Tolgras. As hy kantoor toe kom om weer oor tantième te kla, gaan ek meneer Du Toit vra om hom te vra om die boek vir my te teken.”

“Het jy Du Toit se toestemming daarvoor nodig?”

“Nee, seker nie. Ek bedoel: ek gaan Pieter van Breda vra om die boek vir my te teken.”

“Hy sal dit as ’n kompliment beskou en dan is die uitgawe meer werd.”

“Ja.”

“Met of sonder Du Toit se toestemming.”

“Ja.”

“Het hy al ooit ’n boek geskryf?”

“Ek weet nie. Moontlik. Hy lyk skeppend.”

“Hoe oud is die vent?”

Carina wens hy wil ophou om na Ras du Toit as “die vent” te verwys. “Dertig, vyf en dertig … maak dit saak?”

“Hy het ’n vet pos en verdien seker ’n vet salaris.”

“Ek weet nie.”

Die beskuitblik is vergete. Tinus is lank stil. Hy sit ingedagte en afgetrokke met sy hande om die koffiebeker gevou.

“Geld is nie belangrik nie. Dalk was dit ’n fout dat jy gaan werk het, Carrie,” sê hy eindelik. “Dit was dalk glad nie wys nie. Jy werk bedags onder druk, daar is menseverhoudings wat probleme skep en wat jy moet verwerk. Dit maak jou saans moeg en kortgebonde.”

“Miskien.”

“Ons kan op my salaris en met die hulp van ons spaargeld kop bo water hou. Dit is nie nodig dat jy werk en boonop nog die huishouding behartig nie. Ek kan vir jou sorg en die einde van die jaar is my kop deur. Dan het ons ook nie meer die las van bykomende studiegeld nie.”

Carina se hande verstil. Sy kyk na Tinus. “Wat sal gebeur as ek besluit ek wil ook verder studeer?”

“Wil jy?”

“Dalk moes ek, lankal.”

“Jy hoef nie. Jy het nie nodig om uitgewer te word nie. Ek kan vir jou sorg.”

Hoeveel keer gaan hy dit nóg sê? Dink hy die alfa en omega van ’n vrou se bestaan is om mevrou so en so te wees, aan haar man se sy, sy eggo en getroue skaduwee, sonder ’n eie persoonlikheid en identiteit?

“Of dalk moes jy by ons kantoor kom werk het, waar ek naby is om jou te help.”

“Of dop te hou?”

“Help,” herhaal Tinus.

Help die afgrond in, ja. Carina lewer nie kommentaar nie. Sy is dankbaar toe hulle uiteindelik kan eet, sy die soveelste keer opwas en daarna gaan slaap. Môre is gelukkig Vrydag. En dan, dankie tog, naweek!

By Fokus heers daar ook ’n naweek-atmosfeer. Tertia se seun is aangewys as prefek en die algemene uitgewery brei uit. Jan Goosen het bevordering gekry. Hy bly steeds vertaler, maar is van die volgende week af uitgewer ook; skoolboeke. Jan koop koek en southappies en Tertia drinkgoed, om die goeie nuus te vier.

Net Henk bly afsydig en ontwykend. Hy maak ’n toespraak om hul nuwe kollega welkom te heet, maar loop wye, Kaapse draaie om hul tikster.

“Word uitgewers toegelaat om manuskripte huis toe te neem?” vra Carina.

“Fotokopieë. Vra Hermie om vir jou te maak.”

“Bêre die oorspronklike in Johanna, in die kluis,” gee Jan raad.

Rasmus het ’n promosievergadering gehad en daag eers teen die einde by die partytjie op.

“Hoekom wil jy fotostate huis toe neem?” wil hy weet.

Sy mansjetknope en das hang los. Net so moeg en oorwerk soos Tinus, dink Carina. Die verskil is net dat hy sy spanning kan hanteer en dit nie op potte en panne en ander mense uithaal nie.

“Noordvlug is belangrik. Die telefoon lui kort-kort en daar is te veel onderbrekings, meneer Du Toit, dat ek behoorlik op die manuskrip kan konsentreer, soos ek graag sou wou.”

“En te veel notules en liassering om op datum te kry?” las hy by. “Ek sal met ons volgende uitbreiding vir jou ’n assistent moet kry.”

Assistent-sekretaresse? Of ’n meisie wat met haar tikwerk help? Sy vra nie uit nie. “Ek gee nie om om my werk huis toe te neem nie, meneer.” Carina glimlag. “Dit sal my uit die kwaad hou terwyl my man heel naweek by sy boeke sit.”

“B.A. Regte?”

“B.Prok.”

“ ’n Man se kwalifikasies is ook belangrik. Jy moet seker met sy take en werkstukke help. Jy hoef nie die manuskrip oor te tik nie. Verander en sny sommer met ’n pen. Die subs sal weet wat jy bedoel.”

“ ’n Pen, of ’n potlood?” waag Carina dit.

Hy lag. “Sy eerste dag op skool, toe my seun se onderwyseres vra watse werk sy pa doen, kon hy nog nie die klanke onderskei nie. Hy sê toe sy pa is ’n uitveër, pleks van uitgewer. Nee, Carina, ek gaan nie agterna jou voorstelle en doodslaan uitvee nie. Gebruik ’n pen.”

Nou weet sy … dink Carina. Hy is getroud. Hy het ’n seuntjie, moontlik ander kinders ook. Sy voel skielik teleurgesteld, asof sy iets verloor het wat vir haar kosbaar was. Maar hoe kan ’n mens iets verloor wat jy nooit besit het nie?

Rasmus vertolk die uitdrukking op haar gesig verkeerd.

“Maandag, wanneer Jan by ons aansluit en Liaan terug is, sal dinge rustiger wees,” troos hy.

’n Ruk lank het Carina gedink hy is aantreklik, sjarmant, volwasse … alles wat ’n meisie in ’n man verlang. ’n Ruk lank het sy die skanse laat sak. Nou, opeens, wetend hy behoort aan iemand anders, is sy opnuut formeel en korrek. “Alles reg, meneer.”

“Ek weet, mevrou,” glimlag hy skeefweg. “Dankie vir jou moeite. Sê jou man moet die rekening vir my stuur.”

Carina skud haar kop. “Enige werknemer by ’n nuwe maatskappy moet bereid wees om van sy vrye tyd in te boet om die werk onder die knie te kry.”

“Om die werksaangeleenthede van die maatskappy en die onbekende faktor van ’n nuwe werkgewer te bemeester,” stem Rasmus saam.

Hy klink oordrewe hoogdrawend en vroom. Rasmus weet wat sy dink, hoekom sy in haar dop kruip, en hy lag vir haar, besef Carina. ’n Vinnige kyk na sy gesig help nie. Dis niksseggend.

“Korrek, meneer,” antwoord sy.

Die blou oë met die omkrulwimpers glinster. “Korrek, juffrou,” koggel hy.

“Mevrou.”

“Mévrou,” boots hy haar sedige stemtoon na.

Jan Goosen maak haar touwys ten opsigte van die basiese persklaarmaaktekens. Dis nie soos op skool met ’n opstel nie. Pleks van die verskillende, netjiese kappie-teken as ’n mens iets wil invoeg, maak jy ’n duidelike, opsigtelike hoofletter-“S” wat soos ’n kleinletter-“f” sonder ’n dwarsstreep lyk. Wat behoue bly, word met ’n stippellyn onderstreep en “stet” genoem. Sny is “delete”. Aanloop na die volgende reël “overrun”. ’n Kleinletter wat ’n hoofletter moet wees, word dubbel onderstreep en omgekeerd word die hoofletter met ’n enkelstreep deurgehaal. Punktuasie wat onduidelik is, word omkring.

“Verwarrend en ’n mondvol, ja,” stem Rasmus met Tertia saam. “Sal sy alles onthou?”

“Ek glo nie.”

“Ek reken so,” jok Carina dapper.

“Dis baie en ons was haastig …” tree Jan vir haar in die bresse.

Rasmus knik instemmend. “My telefoonnommer is in die gids. Die adres is Eikerylaan 10. As jy vasbrand, Carina … dis waarvoor ek daar is – om raad te gee. Ek sal die naweek tuis en tot jou beskikking wees.”

Met sy seuntjie op die grasperk krieket speel, vleis braai, swem en buite in die tuin wees en saans ’n drankie op die stoep saam met sy vrou drink … dink Carina.

“Dankie, meneer Du Toit.”

Carina het verwag hy gaan haar weer spottenderwys “mevrou Rheede” noem. Maar sy oë is skielik weerloos. “Bel gerus as jy my hulp die naweek nodig kry, Carina,” herhaal hy. Onderlangs, sodat Jan en die ander in die kantoor nie hoor nie, voeg hy gedemp by: “As jy my ooit sou nodig kry, Carina …”

Pieter van Breda het hóm op die verkeerde oomblik nodig. Of, soos Tinus sou sê, op die regte tydstip. Een oomblik staan sy en Rasmus nog eenkant langs haar lessenaar en kyk hy na haar asof hy haar die eerste keer behoorlik raaksien; lyk dit asof hy meer wil sê en sy hand na haar wil uitsteek. Die volgende oomblik klink die skril geluid van die telefoon op en is die oomblik verlore.

“Fokus Algemeen, goeiemiddag,” antwoord Carina.

“Hallo, dametjie. Is jou baas dié keer beskikbaar?” vra Pieter. “Of loop hy soos gewoonlik weer die hele wêreld vol rond?”

Carina probeer saaklik klink. “Net ’n oomblik, meneer Van Breda, ek vind vir u uit …” Sy druk die gehoorbuis toe. “Dis meneer Van Breda. Wil u die oproep hier of in u kantoor neem, meneer Du Toit?”

“My kantoor. Skakel hom deur en bring my sy lêer, asseblief, Rina,” versoek Rasmus.

“Tantièmetjeks pleks van … wat?” wonder Carina, haar keel droog en haar hande onseker toe sy die lêer uithaal en die kabinet toestoot.

Wat wou hy sê? Wou hy haar hand in syne neem, al was dit net in ’n onpersoonlike handdruk, net om haar te bemoedig of te bedank vir die ekstra werk wat sy bereid is om die naweek te doen? Of raai hy Tinus is moeilik, daarom dat sy gesê het die manuskrip sal haar uit die kwaad hou? En gister se leuen oor die inkopies na werk? Is dit daarom dat Rasmus verwag ’n tyd mag aanbreek wanneer sy hom nodig sal kry?

Sy ly aan ’n oorvrugbare verbeelding, soos Tinus, maak Carina haarself wys. Sy moet TV- of verhoogdramas keur, pleks van jeugmanuskripte. Sy is ’n dom huisvrou, ’n dom tikster sonder ambisie, herhaal sy haar man se argumente van gisteraand terwyl sy die Van Breda-lêer die gang af na hul hoofbestuurder neem.

“Dankie.” Van agter die lessenaar glimlag hy tergend. “Ons vriend Piet wil weet of die dametjie lyk soos sy klink.” Rasmus praat in die spreekbuis: “Nee, ou Pieta. Sy is pure turksvy. Maar glo dit as jy wil, die groenoog-blondinetjie is nóg mooier.”

In drie dae het sy drie jaar ouer geword … Carina gee pad, soos Henk, tot halfpad in die gang. “Sal dit al wees, meneer?”

“Om jou gunsteling-uitdrukking te gebruik: Ek weet nie …”

Sy bly staan. Sy weet nie of dit uit beleefdheid is of omdat hy haar werkgewer is nie.

Rasmus knip sy gesprek kort met beloftes van ’n hoër oplae en verhoogde vergoeding wat die direksie ’n oorval sal laat kry.

Toe hy die handstuk op die mikkie plaas, kyk hy na Carina. Meteens is hy ernstig. “Kan ek jou vanmiddag oplaai?”

“Ek moet na werk eers by die winkel melk en brood koop,” antwoord Carina, net so duidelik.

“Wat lank sal neem?”

“Ongelukkig, ja.”

“Sien jou dus Maandag …”

“Ja.”

Op die kop halfvyf, huistoegaantyd, daag Henk by Carina op, versigtig om ’n veilige afstand van drie armlengtes plus haar lessenaar tussen hom en haar te behou.

Hy gluur haar aan. “Wat reken jy moet ek aantrek terwyl jy die knope aanwerk?” bars hy verontwaardig los.

Carina is sprakeloos en kan ’n borrelende giggellag nie verhoed nie.

“Moet ek ’n koerant om my draai of soos ’n baba doek dra?” wil hy verontreg weet.

Carina dwing ’n ernstige gesig na vore. “Henk, was dit twee dae lank die probleem – dat jy bang was ek vat jou broek?”

“My broek se knope is ook af.”

Sy besef met ’n man soos Henk Rautenbach moet ’n mens jou langsaam haas.

“Dra jy ’n frokkie, Henk?”

Hy hou alle nate en openinge styf toe. “Hoekom?”

“Omdat ek solank die hemde sal neem om die knope die naweek aan te werk, wetende met ’n frokkie aan is jy darem nie kaal in die bus nie.”

“Gmf!”

Carina weet nie of dit ja of nee beteken nie.

“Trek Maandag een van jou geknoopte broeke aan, dan gee jy my die res in ’n pakkie om te gaan versorg.”

Hy bly steeds agterdogtig. “En dié een wat ek aanhet?”

“Gee hom Dinsdag. Of Woensdag.”

Hy hou aan brom en mompel, los die stapel hemde op haar lessenaar en verkas.

Is sy en Henk eenders? wonder Carina. Nie een weet hoe om terg of spot te hanteer nie.

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх