Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 5
2
ОглавлениеCarina draf met die trap op na die woonstel van die gebou se superintendent op die volgende verdieping.
Voor sy mevrou Ehlers kan vra om Tinus se kantoor en die polisie en hospitaal te bel, skree tant Susie: “Stop! Karrietjies, waar’s jy? Hier’s hy! Hy’s hier!”
Carina haas haar terug na hul woonstel toe.
Tinus leun teen die bruin deur, sy arms voor sy bors oormekaar gevou. Een kyk na sy gesig laat haar wens hy het liewer nog ’n rukkie weggebly.
“Hallo, lief. Is iets … Wat skeel?” hakkel sy.
Hy groet nie. “Alles.”
“Het jy ’n ongeluk gehad?”
“Ja.”
Carina merk nou eers dat sy hande vol ghries en olie is, maar daar is gelukkig nie bloed of gebreekte bene nie.
“Het jy seergekry, Tinus?”
“Binnekant.”
“Inwendig? Was jy by ’n dokter?”
“Ek glo nie ’n dokter het daarvoor raad nie; dalk ’n sielkundige.”
Carina frons. “Ekskuus?”
Tinus vee met ’n moeë hand oor sy gesig. Hy sug en soek in sy sak na die voordeursleutel. “Kom ons praat binne, voor die hele wêreld hoor wat ons sê.”
“Is nie, ek luister nie af nie,” stry ’n verontwaardigde tant Susie. “Ek probeer net hoor wat gebeur het. Watse ongeluk was jy in, Tienie?”
“Per ongeluk,” antwoord Tinus.
“Watse ding is dit?”
“Toeval.”
“Ook maar ongeskik, vandag se jong kêrels,” mompel tant Susie toe hy nie verder antwoord nie en die deur agter hom en Carina toemaak.
Carina bly in die eetkamer staan. “Wat het gebeur, Tinus?”
Hy stap deur sitkamer toe.
“Hoekom is jy laat?” vra sy weer.
“Die Volkswagen wou nie vat nie. Ek moes eers die battery se pole skoonmaak.”
“Was dit die toeval waarvan jy gepraat het?”
“Nee.”
“Wat dan?”
Tinus gaan sit op ’n stoel so ver moontlik van haar af. “Ek het gedink jy sal moeg wees, daarom wou ek jou by die bushalte gaan haal.”
“Dankie. Dit was bedagsaam van jou.”
“Bedágsaam?” herhaal hy sarkasties. “Eerder ongeleë.”
Carina begryp nie waarop hy sinspeel nie. “Hoekom?”
“Terwyl ek bedagsaam gewag het, het jy en ’n blink Stefaans in ’n lang, slap motor daar verbygewoerts. Jolig en gesellig, te besig om links of regs te kyk. Te behep met mekaar om my raak te sien, al het ek gewuif en geroep en in die proses byna onder ’n vragmotor beland.”
Daar is ’n hol gevoel op Carina se maag. Sy sluk. “Ek het jou nie gesien nie …”
“Nee, natuurlik nie, want jy het net vir daardie vent oë gehad.”
“Is nie!”
“Per ongeluk het ek op die regte tyd opgekyk. Of moet ek sê verkeerde tyd? Toevallig het ek gesien hoe hy na jou oorleun en iets sê. Hoe jy lag en na hom kyk … Of die vragmotor my raakgery het of nie, kon jou min skeel. Hy was baie belangriker as ek. Wie is die skepsel?”
“Meneer Du Toit.” Voor hy kan antwoord, gaan Carina voort: “Hy het niks daarby bedoel nie. Hy woon in Lynnwood of …”
“O, het julle adresse uitgeruil?” val hy haar in die rede.
“Nee. Ek het gesê óf … of Menlopark of Waterkloof. Iewers in die oostelike voorstede. Vir al wat ek weet, Siberië of Timboektoe. Sunnyside was op sy pad, daarom het hy aangebied om my op te laai.”
“Hoe het hy geweet ons woon in Sunnyside as jy hom nie vertel het nie?”
“Dit staan op my aansoekvorm.”
“Daar werk seker ’n honderd meisies by die plek. Laai Du Toit almal op wat op sy pad is?”
“Ek weet nie.”
“Hoeveel ander meisies was in die Mercedes-Benz?”
“Jy’s onredelik, Tinus.”
“En jy? Wat is jy? ’n Vrou wat vergeet dat sy getroud is?”
“Liewe land, ons het skaars twee woorde met mekaar gepraat!”
“Dit het nie so gelyk nie.”
“Jy moet ’n bril kry.”
“En jy het ’n gehoorapparaat nodig. Terwyl ek julle dopgehou het, het blink Stefaans twee dosyn woorde te sê gehad. Jy ook.”
Carina gaan sit oorkant Tinus. “Ons is albei oorspanne, ek omdat ek moeg is na ’n lang dag en jy omdat jy met ’n saak besig is wat nie vlot nie, ’n eksamen op hande het en die motor lol. Moenie dat ons oorreageer en mekaar onnodig seermaak nie. Ek is jammer dat jy verniet bushalte toe gery het. Al wat gebeur het, is dat meneer Du Toit smiddae in dié rigting ry en aangebied het om my op te laai. As ons gesels, was dit oor die pad, boeke en liassering. Niks om jou oor te ontstel nie, engel.”
“Gaan dit nou ’n gereelde affêre wees – dié oplaaiery?”
“Nee. Die uitgewers by die algemene kantoor was nie juis vriendelik met my nie en meneer Du Toit het dit blykbaar agtergekom. Al wat hy wou doen, was om daarvoor te vergoed en my die busgeld te spaar.”
Tinus het nog nie afgekoel nie. “Ek vra nie aalmoese nie. Ek kan my vrou se busgeld self betaal.”
“Ek sal ons hoofbestuurder so inlig. Geen aalmoese, geen liefdadigheid nie. Ek op die Noordpool, hy op die Suidpool. Ek sal skriftelike memorandums stuur en nie weer my mond op kantoor oopmaak nie. Nie eens teenoor Henk Rautenbach nie. Goed so? Sal dit jou tevrede stel?”
Carina het verwag hy sal vra wie Henk Rautenbach is. Sy het altyd gekla hy is konserwatief, maar Tinus verras haar. Hy vra niks. Praat nie. Maak nie verder rusie nie. Trek haar op sy skoot en hou haar styf teen hom vas.
“Engel, bokkie, liefste … Ek is laag en gemeen. Al verskoning wat ek kan aanbied, is dat ek jou liefhet, dat ek my tekortkominge besef en bang is om jou te verloor. Ek is jammer …”
Carina klem hom om die nek vas. “Jy is al een wat ek het. Ek wil vir jóú lief wees, nie ander mans nie. Ons was nie jolig en gesellig nie. Ek het die hele ent pad in my hoekie van die motor gesit, te bang om boe of ba te sê, en aan jou gedink. Aan ons woonstel; wat ek vanaand gaan kook en wat ons gaan …”
Tinus maak haar stil met ’n soen.
“ … eet?” voltooi hy Carina se sin. “Nie weer maalvleis of hoender nie. Biefstuk met sampioene, gebakte ertappels en suurroom.”
Luukshede wat buite hul bereik is.
“Ons het nie sulke goed nie. Net ertappels …”
“Restaurante het sulke goed.”
“Uiteet?” Carina wil huil. Hulle kan dit nie bekostig nie en dis nie nodig dat Tinus met Ras du Toit probeer kompeteer of byhou nie. Sy het hóm lief soos hy is, al is hy moeilik, onredelik jaloers en besitlik. Hy bly die man met wie sy bereid was om die res van haar lewe deur te bring, al was haar ouers daarteen gekant omdat hulle nog jonk is. Hulle het voorgestel dat hulle solank verloof kan raak, maar ’n paar jaar moet wag en eers geld bymekaarmaak voor hulle trou.
“Ek verlang nie na my dae van uiteet en partytjies nie,” sê Carina. “Ek gee nie om om te kook en by die huis te sit terwyl jy studeer nie. Brei en lees en televisie kyk is net so lekker, solank jy net naby is. Dis genoeg.”
“Dit is nie. Jy is verveeld en gefrustreerd. Jy kom te min uit.”
Terwyl hy met die battery gesukkel het, het Tinus oor hul huwelik gedink. Hy het besef hy skeep sy vrou af. Hy het nie vir Carina gegee wat hy haar aangebied het nie; wat hy haar pa en ma belowe het nie.
“Wat het jy van jou jong lewe gehad, Carrie? Te min. Ek kon jou nooit uitneem na die plekke wat ek wou nie. Hoeveel Saterdagaande moes jy droëmond by die huis sit, terwyl jy beter verdien het, terwyl jou broer en jou vriendinne pret gehad het?”
“Dit maak nie saak nie.”
“Dit maak. Gaan trek vir jou ’n mooi rok aan.”
“Ons hoef nie uit te eet nie.”
“Ons hoef.”
“Nee …”
“Ja!”
Tinus is ’n goeie gasheer. Carina kan kies hoe laat en na watter restaurant sy wil gaan, waar sy wil sit en wat sy wil bestel.
Met enorme biefstukke en sampioensous voor hulle, wil hy weet: “Hoekom sê jy die uitgewers was nie juis vriendelik nie?”
“Miskien was ek te sensitief en is dit maar net ’n kwessie van onbekend maak onbemind. Dalk omdat die vorige tikster nie haar werk gedoen het nie, nou dink hulle ek gaan dieselfde wees.”
“Was dit Henk Rautenbach wat onvriendelik was? Omdat jy nie voor sy sjarme geswig het nie?”
Carina lag. “Henk is te verstrooid om op te let ek is ’n vroumens.” Sy vertel hom van die telefoongids, arme Henk se onpaar skoene en hoe hy sy pyp sommer op die vloer of langs die asbakkie uitklop. “Tertia is baie puntenerig, maar nie vyandig nie. Sy’s net …”
“Hoekom?”
“Sy het blykbaar die een of ander kompleks. Hoekom weet ek nie, want sy is mooi. Sy lyk soos ’n model. Lank en skraal, met blonde hare wat amper tot by haar middel hang.”
“Was dit teenoor jou dat sy komplekse het?”
“Nee. Almal het deurgeloop, selfs die proeflesers en posbode. Meneer Du Toit ook. Erger as ek. Sy het hom skaars gegroet, verder geïgnoreer en nie eers opgekyk wanneer hy met haar praat nie. Dit het amper gelyk asof sy haar rug na hom draai elke keer wanneer hy naby haar kom. Liaan is neuroties …”
Tinus is ’n regstudent. Dié professie het hom geleer om logies te dink, die oorsaak en gevolg te soek en by die kern van die saak uit te kom. Hoewel hy raai, vermoed hy wat die oorsprong is.
“Is sy getroud?” vra hy.
“Nee. Tertia is, en ek lei af dat sy twee kinders het. Van Henk weet ek nie. Dit lyk nie so nie. Geen vrou sal met hom kan huishou nie.”
“En Du Toit?”
“Getroud? Ek weet nie.”
“Liaan Botha sal weet.”
Carina snap nie wat hy bedoel nie. Biefstuk en uiteet is egter spesiaal en sy wil nie die aand bederf deur oor haar kollegas te praat nie. Dis vir Tinus seker vervelig, want hy ken die mense nie en is duidelik nie dol oor haar hoof nie.
Later bestel hulle koffie, en sy vra: “Het jy regtig amper onder ’n vragmotor beland, of het jy ’n bietjie oordryf sodat ek jou moes jammer kry?”
Tinus voel skaam oor sy optrede. “Soos ’n visterman oordryf. Die voorwiele het my met ’n meter gemis, nie ’n sentimeter soos ek voorgegee het nie.”
Hoewel hy ligweg praat, is Carina ontsteld. “ ’n Meter? ’n Armlengte? Dis naby. Jy kon dóód gewees het.”
Hy grinnik. “Dis presies wat die vragmotorbestuurder gesê het nadat hy my ’n idioot genoem het.”
Dis ernstiger as wat Carina gereken het. “Het hy stilgehou? Was daar onaangenaamheid?”
“Toe maar, daar het genoeg nuuskieriges saamgedrom; hulle sou gekeer het as hy my ’n opstopper wou gee,” stel Tinus haar gerus.
Haar man amper doodgery, in ’n onaangename struweling betrokke en byna aangerand, dink Carina. En sy woerts belangeloos verby, saam met haar gesellige baas in sy lang, slap motor. En toe Tinus agterna wou ry, wou die Volksie nie vat nie. Geen wonder hy was omgekrap nie. Sy sou heftiger gereageer het.
“As ek gesien het wat gebeur, sou ek uitgespring het om jou te gaan help. Meneer Du Toit ook.”
As ’n man so omgekrap soos hy was, neem dit lank om af te koel. “Ek het nie hulp nodig nie. Ek kan vir myself sorg.”
Carina weet die misverstand was haar skuld. Sy probeer sê wat sy dink Tinus wil hoor.
“Ek onthou … op hoërskool was jy ’n bokskampioen.”
“Ek boks sommer weer.”
As hy grappe maak, voel hy beter en het die onweer verbygetrek. Carina ontspan en drink haar koffie.
Donderdag is Liaan nie op kantoor nie – glo tandarts of dokter toe – en haar twee kollegas is baie toegankliker en selfs gemoedelik. Veral Henk Rautenbach.
“Mevrou Van der Reeder, is jy ’n kameel?” verneem hy.
Carina tik ’n kontrak met ingewikkelde tabellering. Na gister se komplimente wil sy nie ’n gemors aanvang en meneer Du Toit teleurstel nie. Sy probeer konsentreer.
“Ek dink vriend Henk praat met jou, Carina,” sê Tertia droogweg.
Carina voltooi die laaste sin. “Ekskuus, meneer Rautenbach?”
“Is jy ’n kameel, mevrou Van der Reeder?”
“Nee, meneer Poggenpoel, ek is ’n dame.”
“Kan jy ’n el gare deur die oog van ’n naald na die beloofde land laat gaan?”
Carina lei af dat hy kerk toe gaan en Bybelse vergelykings ken, hoewel hy dit verkeerd inspan.
“Dis die kameel self wat nie as ryk man deur die naald se oog kan gaan nie. Wat kan ek vir jou doen, Henk? Knoop aanwerk?”
Hy glimlag breed. “Eintlik so sewe of agt …”
“Sal dít die beloofde land wees?”
“Enige plek sonder haakspelde en pakgoed is die paradys. Tertia het in die begin gehelp, nou verseg sy en sê ek moet nuwe klere koop. Maar dis my vriende. Hoe kan ’n man sy vriende weggooi?”
Die naald wat hy van die huis af saamgebring het, is ’n els en die gare ’n skel posbusrooi.
“Ek het tuis ’n laai vol bruin en grys gare,” sê Carina. “Gee my die broeke en hemde, dan werk ek vanaand al die knope aan en bring dit môre terug.”
Henk sê nie dankie nie. Hy verdwyn op ’n drafstap by die deur uit en waag dit nie om elfuur weer vir haar koeldrank te koop nie.
Rasmus du Toit het ’n snyerspak aan, sonder haakspelde of Bostik. Dieselfde tyd as gister stap hy by die algemene kantoor in met ’n dringende jeugmanuskrip wat besliste voorskryfmoontlikhede het.
“Tertia …” flikflooi hy.
“Jammer, Rasmus, ek sit vas met blommerangskikkings en koekversierings,” maak Tertia verskoning.
“Dis ’n wenner. Lees, kyk net daarna …”
“Ek ken nie fiksie nie, Ras. Jeugverhale is Liaan se baba.”
“Liaan sal eers Maandag terug wees en dié boek moet dringend gekeur word.”
“My mening is … Ek kan nie jeugverhale beoordeel nie.”
Rasmus draai na Henk wat pas terug is en op die punt van sy stoel sit. “Ou vriend, dis doodsake. Besef jy hoeveel geld Fokus uit ’n boek kan maak wat voorgeskryf word?”
Henk beduie na sy lessenaarblad, waar manuskripte opgestapel is. “Sit neer. Sit maar neer, Rassie, ek sal mettertyd na dié pleging kyk.”
“Henk, ek en Jan het dit gelees. Dis ’n goeie manuskrip. Al wat ons vra, is ’n derde mening ter wille van sekerheid en rompslomp se dokumentasie.”
Rasmus wend hom tot Carina. “Dagsê. Bly jy is steeds hier, mevroutjie. Wil jy kyk? Lees en ’n mening uitspreek?”
“Ja, graag. Maar wat weet ek, meneer?” vra sy verleë. Sy weet net van skottelgoed was en tik en liassering. Hoe kan sy ’n jeugverhaal evalueer?
Rasmus knik soos Henk Rautenbach: “Was jy ooit elf of twaalf, Carina?”
“Ja, ek was.”
“Jy lyk steeds twaalf. Ideaal. Lees!”
“Ek het nie kinders nie, meneer,” sê Carina.
“Wat het dit met die prys van vleis te doen? Dat ’n skrywer moet kinders hê om oor kinders te kan skryf, is ’n mite. Dieselfde geld vir lesers en keurders. Beter en meer outentiek, is eie ervaring. As jy ’n taalaanvoeling het, as jy ’n boek ken, as jy self eens op ’n tyd ’n tiener was, kan jy jou in ’n twaalfjarige se denkprosesse indink. Jy kan sê dis gemors of briljant. Ek hoor dié een is laasgenoemde. Lees en rapporteer sodra jy klaar is.”
“Ek weet nie of ek kan nie,” hou Carina vol. Maar die manuskrip lê reeds op haar lessenaar en die grootbaas het gepraat. Sy het geen keuse nie.
“Rasmus het nie gekom waar hy is sonder aanvoeling, ’n sesde sintuig en ’n vlymskerp brein nie,” sê Tertia. “Al noem ons hom op sy voornaam en al is ons vriende, bly hy die man wat oor ons wel en wee beskik. Los die telefoon en Charmaine se gemors. Jy is jonk en intelligent. Lees die verhaal en sê wat jy dink.”
Carina volg Tertia se raad. Sy lees. Twee ure gaan verby. Pos- en koffietyd ook. Sy ignoreer skrillende telefone en vorder driekwart deur die manuskrip. Dan kyk sy op.
“Wat van die keurverslag en briewe wat vieruur in die possak moes wees?”
“Afgehandel en in. Geen koerantman is haar sout werd as sy nie kan tik nie.”
“Koerantman is háár …? Nie koerantvrou of -meisie nie?”
“Koerantman,” herhaal Tertia. “Die woord ‘koerantvrou’ het soos ‘redaktrise’, ‘uitgeefster’ en ‘joernaliste’ uit woordeboeke verdwyn. Dis terminologie wat in die eeu van die geëmansipeerde vrou in onbruik geraak het. Wat dink jy van die manuskrip?”
“Ek is amper klaar …” Carina verdiep haar in die laaste gedeelte van die manuskrip.
Henk kom tel die naald en gare om kwart oor vier van haar lessenaar op. Hy gee haastig pad voor Carina kan reageer of vrae stel.
“Wat makeer hom?” wil sy by Tertia weet.
Tertia haal haar skouers argeloos op. “Dis volmaan … of hy het pampoene geplant wat nie groei nie. Is jy klaar?”
“Ja. Dis ’n baie goeie boek.”
“Manuskrip. Gaan sê dit vir Ras, dit sal sy dag maak; Fokus se jáár maak, as jy die anglisisme sal verskoon.”
Carina wens sy kon haar belofte aan Tinus nakom en ’n memorandum op Rasmus se lessenaar gaan neersit, wens sy kon draaie om Ras du Toit loop, soos sy haar voorgeneem het en soos Henk om die een of ander rede vandag met haar gemaak het.
Carina stel dit so lank moontlik uit; tot op die laaste minuut; tot dit amper huistoegaantyd is. Soos gister, aarsel sy in hul hoofbestuurder se kantoordeur.
“Meneer Du Toit, ek reken die verhaal is skitterend, as my mening enigsins van belang is; die agtergrond en emosies goed geteken en die gebeure oortuigend.”
“Sit,” beveel Rasmus. “Vertel my hoekom jy so reken.”
“Kinders hou van ’n bekende milieu, karakters waarmee hulle hulle kan vereenselwig en van spanning, pleks van lang verduidelikings, wat hulle in elk geval oorslaan.”
“Het jy?”
“Bedoel u in die boe … manuskrip?”
“Stukke oorgeslaan toe jy ’n kind was?”
“Lang stukke waar die verteller aan die woord is?” Carina is skaam. “Op twaalf het ek meer in handeling en aksie belang gestel as oninteressante verduidelikings.”
“En nou?”
“Nou … Nóú lees ’n mens ’n bietjie dieper. Jy let op die uitbouing van karakters, hul emosies, beweegredes en … maar die aksie is steeds belangrik.”
“Dis nie ’n sonde nie. ’n Sterk verhaallyn is die kern van enige suksesvolle boek. In watter standerd was jy toe jy twaalf was?”
“Standerd vyf.”
“Sou jy dié … e … boek deurgelees het as jy dit kon lees toe jy in standerd vyf was?”
“Gewis. Ek sou hom nie kon neersit nie.”
“Sou jy gedeeltes oorgeslaan het?”
Carina huiwer. Wie is sy, wat nog nooit een enkele skeppende woord op papier vasgelê het nie, om ’n bekende skrywer se werk te kritiseer?
“Ek het gevra jy moet eerlik wees,” versoek Rasmus.
“Daar is te veel …” Carina weet nie wat die regte woord is om te gebruik nie. “Ek dink daar’s te veel … e … prekerigheid?”
“Moralisering?”
“Ja. Dit word met ’n …” Carina wens sy kon haar gedagtes beter in woorde uitdruk, haar argumente beter formuleer. “Hy gee dit met ’n lepel in; druk dit in die kind se keel af. Die storie is so goed … ek dink die uitgerekte … moralisering is onnodig en aan die hare bygesleep. Die verhaal self leer die seun ’n les van oos, wes, tuis bes. As hy van die huis af wegloop en een ramp na die ander tref hom, is die boodskap tog glashelder. Dit hoef nie deur die verteller beklemtoon te word nie.”
Carina het gedink sy praat te veel, dat Rasmus hom gaan vererg, die manuskrip vir Henk gaan gee of wag tot Liaan terug is. Maar hy knik. “Korrek. Nie ’n slegte opsomming nie. Reg so. Slaan dood.”
Liaan het ook daardie uitdrukking gebruik. Carina is nie heeltemal seker wat ‘doodslaan’ beteken nie.
“Haal uit. Verwyder. Deurstreep,” verduidelik Rasmus toe hy sien sy begryp nie.
“Die moralisering?” vra Carina.
“Die preke wat in die kind se keel afgedruk word. Die manuskrip is in elk geval te lank. Sny sowat elf bladsye. Méér, as jy dink die tempo en spanningslyn sal daarby baat vind.”
“Ek …?” vra Carina.
“Wie onderskat jy? Jouself of vir my en my vermoë om mense op te som?”
Carina weet nie wat om te antwoord nie.
“ ’n Mens leer vinniger swem wanneer die water diep is. Dis swem of verdrink, suster! Jy’s nie net mooi nie, jy’s talentvol ook. Beskou dié manuskrip as ’n vingeroefening. Van jou, Carina Rheede, gaan ek nog ’n uitgewer maak – een van die bestes. Kan ek jou huis toe neem?”
Hoewel die aanbod op kort kennisgewing geskied, is Carina beter voorbereid. “Baie dankie, meneer, maar … e …”
“Ras,” korrigeer hy.
“Baie dankie …” begin Carina weer.
“Maar …?” vra hy en glimlag sy effense glimlag.
“Maar ek wil vinnig inkopies gaan doen.”
Rasmus dring nie aan nie. “In die haak. Wikkel, anders is jy laat. Gee, ek sal die manuskrip in die kluis gaan wegsluit.”
“In Johanna?” vra sy.
Rasmus glimlag. “Jy leer gou. Sal jy met die bus oor die weg kom?”
“Ja, dankie.”
Toe Carina uitstap, sien sy hom nêrens nie. Reeds weg huis toe, na sy vrou en kinders toe, besluit sy. Dis beter so. ’n Mens kan nie anders as om van hom te hou nie. As sy nie ’n moeilike man gehad het nie, sou sy maklik met Ras goeie vriende kon word. Selfs meer. Maar sy is getroud en hy waarskynlik ook. Dis beter om ’n professionele afstand te behou. Nie sy op die een pool en hy op die ander nie, maar gewis ook nie te familiêr nie.
Tinus en haar huwelik is belangriker as ’n nuwe werk en ’n nuwe vriendskap. As sy vriende soek, het sy haar skoolmaats. Of Tertia. En Jan en Henk. Selfs Liaan, wat ’n uitdaging bied en by wie sy baie ten opsigte van jeugverhale kan leer.
Dis beter so. En veiliger so, besef sy. Sy groet die deurwag en loop bushalte toe.