Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 8

5

Оглавление

Eers Woensdag het Carina die redigeerwerk aan Noordvlug voltooi. Sy voel tevrede. Die gedeeltes wat sy baie moes verander, het sy netjies oorgetik en van al die persklaarmaaktekens voorsien.

“Sit neer,” sê Liaan. “Ek sal daarna kyk wanneer ek tyd het.”

“Ek wil graag die veranderings wat ek aangebring het met jou bespreek, juffrou Botha,” sê Carina skoorvoetend.

Liaan stel meer belang of ’n ongeskonde afskrif van die oorspronklike manuskrip bewaar gebly het as in ’n onopgeleide tikstertjie se mening. “Ek het gesê sit neer, ek sal volgende week daarna kyk,” herhaal sy koel.

“Ek het gedink …” Carina aarsel. “Die manuskrip is dringend …”

“Wás dringend,” korrigeer Liaan kil. “Ons program vir die jaar is vol. Nadat jy so lank op dié paar bladsye sit en broei en ’n gemors daarvan gemaak het, weet ek nie waar ons ’n nuwe publikasie sal inpas nie.”

Hoe weet sy dis ’n gemors as sy nog nie daarna gekyk het nie? wonder Carina.

Tertia knipoog en Henk haal sy skouers op. Carina begryp nie wat hulle probeer beduie nie. Sy bespreek die manuskrip nie verder met Liaan nie, sit net haar aantekeninge en aanwysings daarby neer en gaan voort met die notule van Dinsdag se bestuursvergadering.

Rasmus is die hele week in en uit – meer uit as in, daarvan getuig die stapel pos en die lys telefoonboodskappe wat Carina geneem het.

“Lekker om aan die krip te sit,” merk Liaan op. “Heerlik om die baas te wees en te kom en gaan soos jy wil.”

“As jy nie gedurig siekverlof neem nie, kon jy ook nou al ’n direkteur gewees het,” antwoord Henk. “Ras mors nie die firma se geld nie.” Hy wys na ’n stapel blaaie voor hom. “Literêre opstelle oor die werk van Brink. As Rassie nie die medewerkers gepiep en gepaai het nie, sou Fokus nie die manuskrip gekry het nie.”

Liaan is nie beïndruk nie. “ ’n Goeie skakelbeampte sou dieselfde reggekry het.”

“Doktors en professors wil met die base onderhandel, nie met juniors nie.”

“Onderhandel? Is dít wat gholf speel en uiteet deesdae genoem word?”

“Liaan, ek probeer die aanwysings vir ’n resepteboek metriseer. Dis ingewikkeld …” Tertia klink geïrriteerd.

Liaan gooi haar pen neer en haal haar gramskap op Carina uit: “ ’n Mens kan nie oor die tee by dié plek kla nie, want ons kry nie tee nie.”

Carina skakel haar tikmasjien af en staan op. “Ek sal gaan maak.”

“Nee. Sit,” keer Henk. “Gaan aan, Rheedetjie, dis nog ver van elfuur af.”

Carina gaan sit senuagtig op die punt van die stoel. Sy wil nie hê Henk moet dit op sy beurt ontgeld omdat hy vir haar in die bresse getree het nie.

“Toe Charmaine nog hier gewerk het, het ons darem agtuur soggens koffie gekry.” Liaan loop kleedkamer toe en klap die deur agter haar toe.

Koffiepoeier, ekstra melk en suiker, maak Carina ’n aantekening in haar notaboek. As dit nodig is, sal sy die voorrade uit haar eie sak aankoop as dit Liaan tevrede sal stel.

Carina wil aangaan, maar kan nie op haar werk konsentreer nie. Sy skakel die tikmasjien weer af en byt op haar onderlip. “Sy hou nie van my nie,” sê sy.

Henk en Tertia kyk na mekaar, maar nie een sê ’n woord nie.

“Hoekom nie?” dring Carina op ’n verduideliking aan. “Voel Liaan ek oortree op haar terrein? Ek het nie aangebied om die jeugmanuskrip te lees nie – meneer Du Toit het my gevra of ek daarvoor kans sien. Liaan behoort bly te wees omdat daar nou minder werk vir haar is.”

Jan Goosen is nog ’n nuutjie in dié kantoor. Hy wou eers swyg en onbetrokke bly, maar hy kan sien Carina voel ongelukkig … én hy hou nie juis van Liaan Botha nie.

“Jy is van die verkeerde geslag, juffie.”

“Ek verneem hulle sê deesdae uitgewer en redakteur en bestuurder. Maar ek het nog nooit van ’n tikker gehoor nie.”

“Die feit dat jy kan tik, is ’n bonus,” spot Jan.

Carina begryp glad nie waarvan hy praat nie.

“Jy is nie mooi nie.” Jan beskou haar deeglik. “Jy is mooier as mooi. Mooier en jonger as sy. Daarby is jy boonop ’n blondine …” Hy laat die laaste woord in die lug hang, toe Tertia vir hom beduie om stil te bly. Hy buig sy kop en gee voor dat hy verdiep raak in die flapteks wat hy geskryf het.

Carina voel weer die atmosfeer en onderstrominge waarmee sy die eerste dag kennis gemaak het …

Die telefoon lui, die notule wag, die ketel kook en Rasmus du Toit het pas binnegekom. Carina het nie tyd om Jan uit te vra nie. Sy maak tee vir almal in die kantoor.

Gewoonlik drink Rasmus sy tee alleen in sy kantoor, maar vandag besluit hy om saam met hulle te drink.

“Ras, hoeveel dekselse kiloliter is in ’n pond?” kla Tertia. “Die ou dae se resepte van ’n koppie dit en ’n eetlepel dat was minder ingewikkeld.”

“My ouma het ’n kookboek wat lui: ’n Handvol meel, ’n knypie kerrie, ’n knippie sout, ’n skudseltjie peper, twee vingers borrie. Wees bly ons moet dít nie herdruk nie.” Rasmus frons. “Hoe kan jy liter en gram wil vergelyk? Een is inhoud, die ander massa.”

“Ek weet, dis waarom ek ’n wrak is,” antwoord Tertia.

“Het ons lesers nog nooit van Wimpy’s en take-aways gehoor nie?”

Rasmus haal sy sakrekenaar – of soos hy dit noem, sy enjin – uit. Hy en Tertia sit koppe bymekaar met die berekeninge en gaan haar metrisering na. Albei brom oor Daan Desimaal wat Piet Pond moes gebly het, maar sommer ook Gert Gram geword het.

Dit duur lank voor hulle tevrede is en Rasmus opkyk. “Een is klaar, tien om te gaan. Vólgende …!”

Dis Henk. Hy weet wat releveer en remitteer beteken. Sy hemde kan toeknoop en sy geld verloor nie meer deur die stukkende sakke nie. Hy besit drie broeke, almal gepars en in werkende toestand. Op die oomblik het hy nie probleme nie. “Alles in die haak, Rassie,” rapporteer hy.

“En die literêre opstelle?”

“Dooddollies, Ras.”

Rasmus het ook gesien sy letterkundige uitgewer se klerasie het ’n metamorfose ondergaan, te danke aan sy goeie oordeel ten opsigte van ’n nuwe, talentvolle aanstelling met potensiaal.

“Nie slegs mooi nie,” terg hy, “hardwerkend ook?”

Henk het as kind nie ’n ma geken nie. Ook nie susters, tantes of selfs ’n ouma nie. Tertia is altyd te besig en Liaan op die oorlogspad. Charmaine Knox was ’n leë blik en haar voorganger net daarop uit om man te soek – waarvoor hy nie ’n kandidaat was nie. Carina Rheede is die eerste vroumens wat vir hom omgee, wat wou help, wat nie lag as hy verstrooid is en ’n gek van homself maak nie. Sonder dat sy dit weet, het sy in Henk Rautenbach ’n kampvegter – lewenslank.

Henk antwoord stram: “Nee.”

“Hoekom?”

“Sy is nog baie jonk … en getroud. Nee, ek glo nie. Nie dié keer weer nie, Erasmus.”

Van Rassie na Ras na Erasmus … tel Rasmus die volgorde uit. Hy hou hom dom. “Wat skort? Wil jy Brink ook metriseer?”

“Nee.”

Rasmus blaai deur die literêre verhandelings van die medewerkers. Almal letterkundiges en professore aan Afrikaanse departemente by verskillende universiteite. Hy knik goedkeurend, maak hier en daar ’n aanbeveling en prys Henk vir sy goeie werk wat moontlik êrens ’n voorskryf inhou. Dan lê hy sy hand op Henk se skouer. “Ou vriend, moenie te gou oordeel en veroordeel nie. Dié keer is dit anders. Ernstig, belangriker.”

Henk kyk na Liaan, dan na Carina.

“Ernstiger as ernstig,” verseker Rasmus hom.

“Jy …” dreig Henk. “Sy verdien beter.”

“Ek weet.” Rasmus beëindig die gesprek en draai na Jan. “Hoe gaan dit?”

“Ek het ’n probleem.” Jan wys na ’n manuskrip op sy tafel. “Goed gedoen, maar dit bly verwerkte en gepleegde plagiaat. Kopie gesteel van ’n Skandinawiese skrywer, hopend dat Afrikaanssprekendes nie Noorweegs kan lees nie en dat die resensente nooit uitvind nie.”

“Van wie gesteel?”

“Njensk. Ek het toevallig ’n paar jaar gelede van sy werk gelees.” Jan is bekommerd. “Ons kan dit nie uitgee nie, Ras, tensy ons hofsake en regsgedinge en eise en skadevergoeding wil betaal. Wat doen ons in sulke gevalle?”

“Jy skryf ’n brief aan die pleger van die plagiaat.”

“Wat sê ek?”

“Maklik.” Rasmus is min gepla. “Jy laat weet die skrywer die manuskrip is beide goed en oorspronklik.”

“Ek kan nie, dan moet ons uitgee.”

“Nee. Jy voeg ’n naskrif by: Ongelukkig is die dele wat goed is, nie oorspronklik nie. En die dele wat oorspronklik is, is nie goed nie.”

Jan lag. “Uitstekend. Briljant! Meer as net goed en oorspronklik.”

“Volgende …!” sê Rasmus.

Liaan druk haar neus in haar koppie en draai haar rug op Rasmus.

“Enigiets waarmee ek kan help, Liaan?” vra hy.

“Niks nie, dankie,” antwoord sy kortaf.

“Het jy die goeie resensies gesien wat Ouboet kom huis toe gekry het?”

“Ek kan lees en ek koop koerante. Ek het ’n afskrif daarvan aan Ouboet se pa gestuur.”

“En ’n afskrif vir jou plakboek gehou?” terg Rasmus.

“Ek is nie meer tien nie. Die glans van bylines en resensies het lankal verdof.”

“Moenie,” sê Rasmus. “Jy is ’n gebore boekmens. Moenie oor ’n treffer en wat jy persoonlik bereik blasé raak nie, Liaan.”

“Ek het lankal nie meer sterre in my oë nie. Neem jy my kwalik?”

“Jou hele lewe lê nog voor. Jy is te jonk om nou al moeg te wees vir die lewe, Liaan.”

“Sterre of depressie? Het ek ’n keuse?” vra Liaan. Sy wag, haar gesig afgewend en haar oë op haar hande gerig, asof sy meer in haar vingernaels as in hom belangstel. Die sekondes word minute. Toe hy stilbly, gryp Liaan blindweg na die eerste die beste ding waarop sy haar hand kan lê: ’n stofomslag. Dit dien as ’n verskoning om die onderwerp te verander en haar trots te behou. “Daar skeel iets met die kleurskeidings. Ek moet by Hermie gaan uitvind wat aan die gang is.”

Rasmus knik. “Laat die tipograwe die letterwerk ook dokter. Vir my lyk dit oorweldigend in soveel kleure.”

“Wat wil jy hê? Swart en wit?”

“Jy is die uitgewer. Gebruik jou goeie oordeel.” Rasmus bly langs Liaan se lessenaar staan terwyl hy die boekomslag optel en beskou.

“Hét ek ’n goeie oordeel?” vra sy.

“Daaroor het daar nog nooit enige twyfel bestaan nie. Gaan gesels met Hermie, as dit jou beter sal laat voel.”

“Beter?”

“Goed dan … tevrede sal stel.”

’n Ongemaklike stilte volg na Liaan se vertrek. Tertia sit en somme maak, Jan hou hom besig en Henk is op die verdediging. Volgende aan die beurt is Carina …

“Noordvlug,” sê Rasmus. “Is Gerrie en Joe nog by die Suidpool?”

“Nee, in Harare,” antwoord Carina. Sy is nie seker of hy kritiseer omdat sy te lank daaraan gewerk het en of hy ’n grap maak nie. “Ek het dit klaar geredigeer, meneer Du Toit. Liaan het belowe dat sy my aanbevelings later sal nagaan.”

“Wanneer?”

“Volgende week … wanneer sy tyd het.” Carina het slegs feite herhaal, maar skielik klink haar antwoord vir haar net so sarkasties soos Liaan s’n. “Sy is besig en ek het te lank op die manuskrip gebroei …”

“Jy kon nie honderd en veertig bladsye in ’n naweek afhandel nie. Waar is die manuskrip?”

“Ek het dit vir haar gegee.”

Hul jeuguitgewer is ’n mens wat van orde hou. Die dag se werk is in ’n presiese stapel op haar lessenaar neergesit. Rasmus vind Noordvlug, tel dit op, lees hier en daar en kyk na die veranderings wat Carina aangebring het. Carina wag gespanne dat Rasmus sy mening lug.

Hy blaai heen en weer. Lees en lees weer, sommige dele ’n derde en vierde keer. Carina wens sy kan ook kleedkamer toe vlug, wens die telefoon lui of hy wil nog tee hê, sodat sy kan ontsnap.

Rasmus trek ’n stoel tot langs haar lessenaar. Hy bring wysigings aan en haal hier en daar iets in potlood deur. Hy verander leestekens en punktuasie, dié keer met ’n pen.

“Nie sleg nie, Rina. Baie goed vir ’n beginner,” lewer hy kommentaar. “Die snywerk is reg, subwerk swak. Goeie dialoog … maar jy het persklaarmaaktekens nog nie onder die knie nie. Jan of Liaan sal die manuskrip weer moet nagaan.”

“Ek is jammer.”

“Om vir Fokus te werk, is om nooit te sê jy is jammer nie.”

Wat beteken só ’n antwoord? wonder Carina.

Rasmus verduidelik nie.

“Gaaf, lyk my Fokus se vlagskip seil nog,” spot hy en stap in die rigting van die tipograwe se ateljee, wat langs die drukkery is.

Rasmus is ’n ruk lank in sy kantoor besig met sy eie werk. Een van Henk se samestellers daag op vir samesprekings en daarna die aankoper van ’n reeks boekwinkels, vir nóg samesprekings. Vieruur flits die liggie van die binnetelefoon in die algemene afdeling. “Mevrou Rheede, kan jy asseblief na my kantoor kom?” versoek hul hoofbestuurder.

Carina vee haar hare plat, gryp die notule en haas haar na sy kantoor.

Hy staan hoflik op toe sy binnekom. “Hallo, Rina. Dankie. Sit …”

Sy gaan sit ongemaklik, voete teenmekaar en haar hande op haar skoot inmekaar gevleg.

Rasmus kyk na die notule, dan na Carina. “Ek is bang my kritiek netnou was dalk te kras.”

“Kritiek op die regte tyd is beter as komplimente op die verkeerde tyd.”

Pleks van te spot, maak sy gebruik van clichés, dink Rasmus.

“Elf uit tien. My geld was op die regte perd. Jy gaan ’n topgewer word. Al wat kortkom, is leiding en ervaring.”

Baie van albei, besef Carina. Sy lug nie haar vrees hardop nie, bang dit klink suggestief en hy dink sy gee hom aanleiding.

Rasmus sit ’n vel papier uit die woordverwerker voor haar neer. “Geen haas nie. Vanaand, môreaand of die naweek … Wanneer daar geleentheid is, moet jy dié stuk persklaar maak. Daarna gesels ons weer.”

Carina kyk na die getikte letters. Sinne, paragrawe en dialoog. Op die oog af lyk dit maklik. Of sy is te voortvarend, dié dat sy Liaan omkrap en arme Henk oor haar bekommerd is?

“Ek sal probeer, meneer.”

“Met ’n pen.”

Carina lag verleë. “Eers met ’n potlood, tot ek seker van my saak is.”

Rasmus lyk nie op sy gemak nie. “Gebruik die Rheeders baie brood en melk?” vra hy ineens.

Carina weet waarop hy sinspeel. Sy hou haar stem lig. “Dis noodsaaklikhede wat ’n mens van dag tot dag nodig het.”

“Van die winkels af? Smiddae na werk?”

Carina knik.

“Op kantoor is jy die bekwaamste sekretaresse met wie ek nog te doen gekry het. Voor ek die notule vra, het jy dit gereed. As ek van ’n afspraak vergeet, onthou jy. Jy dink vooruit en beplan goed.”

Carina bloos. Hy oordryf en vlei haar onverdiend; nie sonder rede nie …

“Ek kan sien jy het ook al ’n stel met manlief afgetrap. Daarom dat jy skepties is en wonder waarheen al die vleitaal lei …” Rasmus grinnik. “Rina-nooi, jy is reg. Ek vermoed jy het môre se kos al gister gekoop. Jy is nie die soort huisvrou wat elke dag winkels toe hardloop nie.”

Hy som haar te goed op. Of is sý vrou soos die prentjie wat Ras geskilder het: kort-kort is die sout op, die eiers gedaan, die meel op? Dalk onprakties … maar mooi, raai Carina. Waarskynlik ’n model, beeldskoon en baie vroulik. Anders sou Rasmus du Toit nie met haar getrou het nie. In die tydperk sedert sy hom ontmoet het, het Carina ook haar aantreklike baas leer ken en hom opgesom. Mooi mans het outomaties ’n oog vir mooi vroumense.

“Dus het jy nie vanmiddag nodig om eers weer inkopies te gaan doen nie.” Dis eerder ’n stelling as ’n vraag.

Carina dink aan die twee liter melk in die yskas, die brood in die blik en aan Tinus. Die volgorde is verkeerd, besef sy. Tinus is die belangrikste en moes haar eerste oorweging gewees het.

Vanaand sal sy hom met biefstuk verras, neem Carina haar voor. Later met kakao, voor hulle gaan slaap … Sy sal liefdevol wees, belangstellend na sy hofwerk uitvra en stiptelik onthou wanneer sy volgende werkopdrag afgehandel, getik en ingehandig moet wees.

“Ek ry elke middag in daardie rigting,” sê Rasmus. “Ek het die klomp mense by die haltes en die vol busse gesien. My motor is leeg en ek weet jy is moeg na ’n dag se werk. Dis nie moeite om jou na werk op te laai nie.”

En Sondag sal sy aan Tinus voorstel dat hulle ’n mandjie pak en iewers gaan vleis braai, besluit Carina. Net om uit te kom, saam te wees, te gesels en te kuier en in ’n ontspanne atmosfeer te probeer terugvind wat die afgelope ruk tussen hulle verlore geraak het …

“Dan is jy smiddae vroeër by die huis, Carina,” gaan Rasmus voort.

Dit gee die deurslag. Die feit dat hy haar Carina genoem het en Tinus netnou manlief. Hy het nie bybedoelings nie; hy weet sy is getroud en lief vir haar man.

“Dankie,” antwoord sy. Om sy aanbod op die regte grondslag te hou, herhaal Carina: “Dankie, meneer Du Toit, ek waardeer u moeite en bedagsaamheid.”

“En ek joue, saam met al die ekstra ure se harde werk wat jy ingepas gekry het, by al jou huishoudelike pligte.” Rasmus staan op, neem sy baadjie en kyk op sy horlosie. “Dis halfvyf. Almal is weg en jy is van diens af, mevrou Rheede. Is jy oorwerk en suf, of vergeet jy my naam is Ras?”

“Nee. Ek is nie oorwerk nie,” skerm Carina. “Ek geniet die uitdaging van ’n nuwe werk.”

Ras wag tot hulle in die motor is en uit die ergste verkeer, dan sê hy: “As jy uitgewer word, kom jou salaris op die volgende kerf met ’n bonus, ’n dertiende tjek in Desember en ’n verhoging na ’n jaar.”

Sake verloop vinnig. Carina is nie seker sy hoor reg nie. “Jy het gesê ek het punktuasie nog nie onder die knie nie en Liaan reken ek het ’n gemors van Noordvlug gemaak. Ek is onervare, ek het nie kwalifikasies nie en moet nog baie leer.”

“Dis waarom ek jou daardie bladsy gegee het om persklaar te maak. Dis die standaardtoets wat alle voornemende uitgewers aflê wanneer hulle om ’n pos aansoek doen.”

“Ek doen nie aansoek nie. Ek wil nie Liaan se werk oorneem nie.”

“Liaan was ’n joernalis by ’n koerant. Ek het groot waardering vir haar ervaring en bekwaamheid. Ek dink steeds as sy volhou, kan sy bo uitkom. Maar sy het belangstelling verloor.”

Carina is nie blind nie en het ’n aanvoeling wat menslike verhoudings betref. Dié tussen Liaan en Ras is nie natuurlik nie, dit kan enigiemand sien. Sy het nie ’n goeie woord vir Ras nie en wil geen hulp van hom aanvaar nie. Hoeveel van Liaan Botha se komplekse en neuroses is te wyte aan haar baas? wonder Carina. Tertia was ontwykend en Henk wou nie skinder nie. Maar Jan Goosen was redelik uitgesproke.

Liaan lyk in haar twintigs, dus is sy jonger as hul jeuguitgewer. Maar mooier? Nee. Carina het nie illusies oor haarself nie. Op skool het sy ook komplekse gehad. Haar neus wip, haar oë is te groot en haar vel te lig. Wanneer ander meisies bruin brand, brand sy rooi, of sproete. Oor haar neus sit ’n hele ry wat nooit sal weggaan nie. Tinus reken hulle gee karakter aan haar gesig, maar sy weet hy sê net so om haar te troos. Watter meisie wil ’n gespikkelde wipneus hê?

Ras gesels nog oor Noordvlug, haal ’n eksemplaar van Ouboet kom huis toe uit die paneelkissie en oorhandig dit aan haar.

“Lees die boek, ook soveel ander jeugverhale as wat jy kan, om ’n oordeel op te bou,” gee hy raad.

Carina hoop sy klink intellektueel en nie so dom soos sy voel nie. Die helfte van haar verstand is in die motor, by Ras en sy gesprek. Die ander helfte by Liaan Botha. Is Liaan jaloers op haar, dié dat sy so katterig en foutvinderig is? Dis onnodig. Liaan is verder geleerd as sy; slimmer, kunstiger, met ’n sterker persoonlikheid en mooier klere. In geen opsig is sy vir Liaan kompetisie nie. Veral nie wat jeugpublikasies betref nie.

Rasmus hou voor hul woonstelgebou stil. “As jou man ontevrede is omdat ek jou huis toe gebring het, bel my.”

Carina soek in haar handsak na haar voordeursleutel. Dit was ’n vreemde opmerking. Soos toe hy gesê het: “Bel as jy my nodig het. As jy my ooit sou nodig kry …”

“Ek sal met hom praat, verduidelik ons is vriende en waarom ek jou huis toe gebring het. As hy nie daarmee tevrede is nie, moet hy met my rusie maak, nie met jou nie,” voeg Rasmus by.

“Dankie, dis nie nodig nie. Tinus is nooit onredelik nie,” antwoord Carina lojaal. “Hy maak nooit met my rusie nie.”

“Hoe laat kom hy smiddae tuis?”

Carina weet nie. Die afgelope tyd was dit laataand. Tinus het nie ’n rede verskaf nie en sy het ook nie gevra nie. Kommunikasie tussen haar en haar man bestaan deesdae amper nie meer nie. Elkeen is besig, hy met sy studie en kliënte en sy met haar werk en manuskripte.

Die woonstel se vensters is toe en die Volkswagen is nie in die parkeerterrein nie. Carina onderdruk gedagtes aan Annerie van Wyk. Hulle is eenders en deel dieselfde belange. Sy kan begryp dat hulle tot mekaar aangetrokke voel. Maar Tinus sien haar elke dag op kantoor. Is dit nodig dat hy na werk en saans ook vir haar gaan kuier? Kan hy haar nie in die loop van die dag vra of sy vir hom ’n werkopdrag sal tik nie? Sy glo egter dit gaan lankal nie meer om werkopdragte nie. As hulle saam is, gesels hulle nie oor werkstukke nie …

Carina onthou Rasmus het ’n vraag gevra. “Hy is lankal tuis,” jok sy. “Seker al besig om aandete voor te berei.”

Rasmus het opgemerk in watter rigting Carina kyk. Die woonstel op die punt, links onder. Hy het ook die verlate vensters gesien waar nêrens ’n lig brand nie. “Carina … Ek kan jou nie hier aflaai, sommer op die sypaadjie, en wegry nie. Sal jou man na jou omsien?”

Tinus sien deesdae niks anders as sy boeke nie. En natuurlik Annerie van Wyk … Kan ’n verhouding tussen twee mense wat oor jare opgebou is, binne weke verbrokkel? Binne dae? Wat het geword van die feit waarmee sy altyd gespog het, waarmee sy haar ouers getroos het – dat sy en Tinus geesgenote is, dat hulle mekaar begryp en met mekaar kan praat? Hulle praat nie meer nie. Deel nie, kommunikeer nie.

“Ja. Ja, natuurlik sal hy,” antwoord Carina, met meer oortuiging as wat sy bedoel. “Dankie dat jy my opgelaai het. Ek waardeer dit.” Sy het al soveel keer dieselfde woorde teenoor Rasmus gebruik, dat dit soos ’n refrein klink. ’n Leë rympie. “Dankie, Ras,” sê Carina gedemp. “Ek waardeer jou besorgdheid. Maar jy hoef jou nie oor my te bekommer nie.”

“Is jy nie bang so alleen in die woonstel nie?”

Carina klim uit. “Nee. Tinus sal nou-nou kom …”

Sy lyk weerloos. Te jonk om die verpligtinge van ’n beroep, ’n huwelik en ’n veeleisende man te hê. Fyn en broos, so asof sy nog op die skoolbanke hoort. So totaal anders as sy vrou … Rasmus weet hy moet ongeërg groet en ry. Maar hy soek verskonings om so lank moontlik by haar en van sy huis af weg te bly.

Carina wil hom innooi en self vir hom koffie maak. Al is dit net om dankie te sê dat hy haar aangestel het, dankie dat hy vertroue in haar het. Dankie dat hy haar sy vriendskap aangebied het.

Sy skud haar kop. “Ek sal regkom, moet jou nie oor my bekommer nie,” antwoord sy met meer optimisme as wat sy voel. Die versoeking is groot om haar hart uit te praat. Tant Susie sal verkeerde raad gee, soos haar ma. Haar pa sal help, maar hy het reeds genoeg hartseer gehad. Haar vriendinne is almal te besig, te gelukkig getroud om haar probleme te begryp. Miskien Rasmus? Hy is simpatiek en hy lyk nie haastig nie …

Carina vryf met haar hand oor haar oë. “Tinus werk lang ure en kom dalk eers baie laat. Wil jy nie inkom nie?” bied sy aan.

Rasmus is ouer, minder impulsief. Hy wil nie dieselfde foute as voorheen maak nie, nie weer sy kop teen dieselfde klip stamp nie. Carina Rheede is baie spesiaal en hy wil niks doen wat skade veroorsaak nie, niks wat hul verhouding skipbreuk sal laat ly nie.

“Daar is niks wat ek liewer sou wou doen nie. Maar ek dink in dié stadium sal dit probleme meebring,” antwoord hy. “En probleme is die allerminste wat ek jou wil veroorsaak, Rina-nooi.”

Carina is skielik verleë. Sy was voorbarig. Tinus dink sy gee Rasmus du Toit aanleiding, nou dink Rasmus seker ook so.

Sy probeer verduidelik: “Ek het gedink as jy lus is vir koffie – ’n sitkamer is beter as ’n padkafee. Hier is nie een naby nie en dis moeite om in die druk verkeer ’n ver ent te ry om ’n padkafee te soek.”

“En dalk is daar nie koelte nie, die bediening swak en die koppies vuil.”

Sy kyk vlugtig na hom. Dis bewolk en skemerdonker. Deur die venster kan sy nie sien watter soort uitdrukking op sy gesig is nie. Terg hy net of spot hy met haar?

Rasmus steek sy hand na haar uit. “Ek wil lánk saam met jou koffie drink, gesels, uitpraat, jou beter leer ken. Maar nie ’n ander man se sitkamer nie, nie as hy enige oomblik kan opdaag en vra wat soek ek daar, my kan wegjaag en dit later op jou uithaal nie. So ’n situasie sal meer skade as goed doen.”

Soos gewoonlik, is Rasmus du Toit reg. Asof die man in die motor agter hom saamstem, druk hy sy toeter en wys Rasmus moet ry. ’n Verkeersbaan is nie ’n parkeerplek nie. Tinus sou hom gewip het, maar Rasmus beduie verskonend dat hy ry.

Tussendeur die volgende sarsie op die toeter, druk Rasmus haar hand en wuif ’n soentjie. “Dankie vir die koffie-aanbod. Sien jou môre.”

Carina sien nie die kyk wat die bestuurder in die agterste motor haar gee nie; hoe die man se gesigsuitdrukking verander toe hy sien dis ’n mooi blondine wat die oponthoud veroorsaak het. Al wat sy sien, is Rasmus wat wegry, wat oplaas waai, dan wegkyk en in die verkeerstroom verdwyn.

Tinus, vra sy, jy is my man, maar waar is jy? By ’n ander vrou? Terwyl ’n ander man my huis toe gebring het … Terwyl ek hom ingenooi het, tot hom aangetrokke gevoel het en hóm ook beter wou leer ken. Besef jy nie wat besig is om met ons te gebeur nie? Weet jy nie dat ek jou nodig het nie, nou, op hierdie oomblik, meer as ooit tevore?

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх