Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 11

8

Оглавление

Carina slaap toe Tinus tuiskom. Veraf hoor sy ’n lawaai wat soos ’n gekap en getimmer klink. Dis in haar kop, dink sy. Dis die hamerslae teen haar slape wat haar hoofpyn vererger. Sy draai om en probeer slaap.

Die getimmer verminder nie; dring selfs deur die kussing wat sy oor haar ore gedruk het. Eers dink Carina sy droom, maar dan hoor sy dit weer – dié keer die geluid van glas wat breek. Sy sit regop. Inbrekers? Asseblief, bid sy, nie vandag nie, nie nou nie – nie terwyl sy so siek en naar voel nie.

Nog glas breek iewers in die woonstel. Dis nie ’n droom nie, besef Carina. Iemand probeer inkom. Skree sal nie help nie; buitendien is haar mond te droog om ’n geluid te maak. Die polisie? Sy kan nie die nommer onthou nie. Sy strompel in die gang af en gryp in die verbygaan ’n swaar geelkoper-kandelaar wat ’n trougeskenk was. Nie veel werd as ’n wapen nie, maar beter as niks.

By die voordeur lê die glassplinters oor die vloer gesaai en buitekant hoor sy stemme. Daar is meer as een …

“Wie’s daar?” roep sy uit.

“Carina …?” Dis Tinus, besorg en ontsteld.

“Wie’s dit? Is dit jy?”

Hy was buite weste omdat hy bang was sy het iets oorgekom. Toe Carina antwoord en hy besef sy is ongedeerd, is Tinus ergerlik. “Wat gaan aan? Hoekom maak jy nie oop nie?”

“Ek het nie geweet dis jy nie. Het jy jou sleutel vergeet?”

“Het jy die tyd vergeet? Die deur is gesluit en jou sleutel steek aan die binnekant in die slot. Ek kan nie inkom nie.”

“Hoekom het jy nie geklop nie?”

Tinus brom iets wat sy gelukkig nie snap nie. “Ek het byna my kneukels gebreek soos ek aan die deur gehamer het. Het jy nie gehoor nie?”

Carina vertel liewer nie van haar droom en dat sy ’n kussing oor haar kop gedruk het nie.

“As dit nie te veel moeite is nie,” vra Tinus sarkasties, “kan jy nóú dalk oopmaak, of moet ek steeds soos ’n inbreker deur die venster klim?”

Sy sluit haastig oop.

Eerste wat instorm, is tant Susie, haar oë so groot soos twee eetserviesborde. “Ons dog jy’s dood! Oor die kop geslaan of verwurg. Tienie was skoon mal van bekommernis. Hy’t gesê vergeet die skade, ons moet oopkap en loop kyk. Wat het gebeur?”

“Niks nie.” In die agtergrond sien sy mevrou Ehlers en van die ander bure staan. Carina voel verspot.

“So, jy was toe al die tyd net hier en springlewendig. Waarom wou jy nie oopmaak nie?”

Hoe erken sy die skande wat sy oorgekom het? Carina wens sy het iets groter as ’n kussing om onder weg te kruip.

“Ek het nie gehoor nie. Ek was ver … In die kamer.”

Tinus kyk na haar wasbleek gesig. “Lyk my dit was alles ’n misverstand. Dankie, almal. Dankie, tant Susie, vir die ondersteuning en die leen van die skroewedraaier.”

“Soos altyd, any time, Tienie, jy’s welkom.” Tant Susie wil die drama nog ’n rukkie uitrek. “Reken jy sy’s orraait? Vir my lyk sy soos ’n spook wat wil omval. Sy’s siek, sê ek jou.”

“Ek sal, indien nodig, die dokter inroep. Dankie, tante. Tot siens.”

Wanneer hy haar só noem, is hy nie Tienie nie. Dan is hy Marthinus M. Rheede, die fênsie prokureur doer bo op sy troon. Tant Susie blaas teësinnig die aftog.

Carina voel sy moet haar deel bydra. “Ons sal die ruit vervang, mevrou Ehlers.”

Hul superintendent hou nie van huurders wat probleme skep nie. Gisternag het die mense in 501 luidrugtig partytjie gehou. Vandag lol dit weer by 303.

“Ek sal die glaspaneel laat regmaak, mevrou Rheede, maar u sal vir die rekening verantwoordelik gehou word.”

“Natuurlik. Dankie, mevrou Ehlers.”

Die superintendent draai weg. Ordentlike mense, het sy die paartjie opgesom toe hulle die woonstel gehuur het. Nou lyk dit asof die man dwarstrekkerig is en met sy vrou skeel ook iets.

Tinus skop die glasstukke eenkant toe, pluk Carina se sleutel uit en sluit die slot met sy eie sleutel.

Carina bly handewringend in die sitkamer staan.

“Dis nie net die paneel nie. Eers het ek die slot probeer afskroef. Dalk nóg skade.” Hy bekyk haar. “Voel jy nie gesond nie, Carina?”

Wanneer laas het hy haar Carrie genoem? Sy sal die skade aan die slot ook betaal indien nodig. Carina antwoord net so formeel: “Ek voel heeltemal gesond, dankie, Tinus.”

“Was hier iemand? Was jy bang om die deur oop te maak?”

Van haar naels is niks oor om te kou nie. Carina vleg haar hande inmekaar. “Nee.”

Tinus lyk agterdogtig. “Was dit oor vanoggend? Het jy jou met opset doof gehou om my uit te sluit?”

“Nee. Ek het eerlik nie gehoor nie. Ek het ’n rukkie op die bed gelê en aan die slaap geraak,” erken Carina.

Dit lyk asof Tinus se bui gaan sak. Hy frons meteens.

“Vyfuur die middag in die bed? So vas aan die slaap dat jy nie hoor as ek omtrent die deur afbreek nie? Wat skort?”

“Niks nie. Ek was ’n bietjie moeg, dis al. Ek wou net ’n rukkie rus en het nie bedoel om aan die slaap te raak nie.”

Nou eers let Tinus die deurmekaar hare en die donker skaduwees onder die mooi groen oë op. Soos tant Susie volgehou het, Carina lyk nie gesond nie … Iets skort; iets wat sy nie wil erken nie.

Hy was ’n skurk, besef Tinus. ’n Gevoellose boef. Hy is te behep met homself en sy eie bedrywighede. Carina het probleme. Pleks dat hy help en sy verantwoordelikhede as man nakom, skree hy op sy vrou en verdink haar onnodig.

“Het jy ’n moeilike dag op kantoor gehad?” vra hy en klink gemoedeliker.

Sy het net tot eenuur gewerk, toe gaan kreef en garnale eet, terwyl sy nie eens aan arme Tinus se aandete gedink het nie … Carina voel erger as ’n skurk en ’n boef.

“Nee, dit was ’n maklike dag.”

Tinus maak koffie en probeer om nie op die kas te mors sodat sy agterna weer moet skoonmaak nie.

“Hoe vorder Noordvlug?” vra hy.

Sy antwoord nie. Koffie? Vermoed hy iets, wonder Carina, dié dat hy reken sy het sterk, swart koffie nodig?

Die koffie is egter normaal, met melk in, maar sy voel nie gerus nie. Toe hy langs haar op die bank kom sit, ver-skuif sy na ’n stoel en draai haar kop weg sodat hy nie haar asem moet ruik nie.

“Is jou dialoog toe goedgekeur?” wil hy weet.

Carina knik.

“En die bladsye wat jy persklaar gemaak het?”

Sy knik weer.

Toe hy nie verder reaksie kry nie, probeer Tinus ’n ander aanknopingspunt. “Was die bus vanmiddag weer so vol?”

Carina besef sy kan nie heeltemal met ’n toe mond sit nie. Hy gaan agterdogtig word. Iewers in die een of ander laai het sy dalk ’n stukkie kougom … Sy mompel iets wat na ’n verskoning moet klink en vlug kamer toe, waar sy vinnig die deurmekaar bed opmaak, hare kam en tande borsel. Onder in haar handsak ontdek sy iets beter as kougom. ’n Suiglekker … peperment. ’n Aandenking aan die aand toe Tinus so vrygewig was om met sy laaste geld vir haar ete te koop.

Haar verdoeseling en geïmproviseerde noodmaatreëls het blykbaar langer geduur as wat Carina gemeen het. Toe sy in die sitkamer terugkom, lyk dit soos ’n biblioteek van al Tinus se handboeke.

Sy het netnou nie in sy vredespogings belanggestel nie. Elke navraag het skaars ’n kopknik gekry. Tog probeer Tinus weer. “Hoe gaan dit met jou ma?”

“Goed, dankie.”

“Jy moet haar bel. Plaaslike oproepe kos min en sy het jou aanmoediging nodig.”

Carina weet Tinus probeer. Hy verkeer onder meer druk as sy, maar hy probeer darem kop bo water hou, terwyl sy saam met ’n ander man gaan eet en wyn drink het. Terwyl sy in alle eerlikheid teenoor haarself erken dat sy die ander man op die oomblik opwindend vind – ’n beter proposisie as haar eie man.

Sy is skaam en berouvol. Met Ras du Toit op die agtergrond gedwing en haar enigste gedagte om teenoor Tinus te vergoed, dink Carina nie verder nie. Sy gaan staan by hom en tel ’n lywige eksemplaar van Boedelbereddering in Suid-Afrika op. “Lywig en indrukwekkend. Sal jy ons bedoel eendag self kan beredder?”

Tinus is bereid om dit as ’n vredesoffer te beskou. Na vanoggend en vanmiddag se rusie is hy bereid om net so ligweg te skerts en nog koffie vir haar te gaan maak. Aand-ete ook, as sy te moeg is om kos te maak. Maar skielik ruik hy die skerp pepermentgeur op Carina se asem.

Hy sit sy pen langs sy aantekeninge neer. “Is jy seker jy voel gesond?”

“Piekfyn.”

“Wat het jy so lank in die kamer gemaak?”

“Ek het die een en ander gedoen.”

Hy kyk met verskerpte aandag na haar. “Waarom het jy vyfuur in die middag geslaap? So vas dat jy nie gehoor het hoeveel keer ek klop, nie gehoor het toe ek die ruit breek om in te kom nie?”

“Ek het gehoor. Ek het kom oopmaak, het ek nie?”

“ ’n Uur na die tyd. Deurmekaar en deur die wind. Waar was jy vanmiddag, Carina?”

Skielik weet Tinus wat daardie vreemde reuk was wat hy netnou geruik het. Hy het vermoed dis omdat die woonstel die hele dag toe gestaan het, selfs dalk ’n nuwe haarsproei of parfuum wat sy gebruik. Nou besef hy dit was ’n ander reuk. Dis hoekom Carina pepermente suig.

“Waar was jy vandag?” dring hy aan.

Oplaas probeer sy uitkomkans soek. “Vra ek jou om van elke vyf minute van jou dag verslag te doen?”

Tinus is ontsteld. “Was jy by jou ma?”

“Hoekom vra jy?”

“Omdat ek wil weet. Is jy ook nou al …”

Sy of haar pa mag haar ma kritiseer, maar nie buitestanders nie. Dan is Carina op die verdediging. “My ma het aan depressie gely na Wynand se dood. Maar sy het behandeling ontvang en is nou beter. Sy makeer niks nie.”

“Dit lyk nie so nie. Dit lyk eerder asof jy ook aangesteek het.”

“Hoe sal jy voel as ’n kind van jou op so ’n gewelddadige wyse gesterf het?”

“Ek weet. Ek verstaan. Ek begryp. Ek veroordeel haar nie en was nog altyd simpatiek. Maar dit gaan nie om jou ma se aanpassings nie. Sy het dit oorkom. Dit gaan om jou, Carina. Jy het vanmiddag iets gedrink.”

Hy ruk dinge uit verband; jaag spoke op wat nie bestaan nie. Haar ma het Valiums gedrink en slaappille.

“ ’n Bietjie droë tafelwyn,” erken sy. “Drie glasies … Is dit ’n misdaad? Almal doen dit. Dis sosiaal.”

“Jy is nie almal nie. Of wil jy sê almal was by dié sosiale partytjie?”

Kan sy sê dit was ’n partytjie? Iemand by die kantoor se verjaardag? Dit sal so maklik wees. Maar nóg leuens en nóg oneerlikheid?

“Fokus wou vergoed omdat ek in my vrye tyd ekstra werk vir die firma gedoen het.” Selfs dit klink nie reg nie, want sy het die feite verdraai om dit ’n beter kleur te gee.

Carina wou oor begin, haar woorde beter kies. Maar sy het vergeet Tinus Rheede studeer in die regte en weet hoe om deur die kamoeflering te sien; kortpad te neem om by die kern van die saak uit te kom.

“Fokus? Of Du Toit? Het hy jou vir ete uitgeneem?”

“Net om dankie te sê vir die jeugboek. Ek het selfs die proewe gelees en ons kunstenaar ’n idee vir die stofomslag gegee. Daardeur het ek Fokus geld bespaar. ’n Ete as vergoeding was min onkoste.”

Tinus stel nie in besparings belang nie.

“Is dit waarom jy weggeskuif het toe ek langs jou op die bank kom sit het? Waarom jy weggedraai het toe ek wou uitvind of jy siek voel? Omdat jy die hele middag met die vent geflankeer het, niks met my te doen wou hê nie?”

“Ek het nie met hom geflankeer nie. Ek het hoofpyn gehad en ek was vaak. Ek het weggeskuif, nie omdat ek hom bo jou verkies nie, omdat ek bang was jy ruik ek het wyn gedrink en raak omgekrap, soos gewoonlik. Soos jy wél gedoen het.”

“Een of twee glasies tafelwyn is niks. Dis die feit dat jy drie gehad het – saam met Du Toit – en dit vir my weggesteek het, wat my ontstel.”

“Jy sê ek flankeer met ander mans. Vee eers voor jou eie deur. Waar was jy en Annerie vandag?”

“Op kantoor. Hoekom?”

“Omdat ek uitgevind het jy wás nie. Nie jy nie; ook nie sy nie.”

“Het jy gebel? Liza het my nie die boodskap gegee nie.”

“Ek het nie ’n boodskap gelaat nie, want ek wou jou nie in ’n verleentheid stel nie. Ek wou nie hê julle moet saam ’n plan prakseer om my te bedrieg nie. Sy mag dink dis pret om ’n man van sy vrou te probeer afrokkel. Ek vind dit pynlik en vernederend.”

“Afrokkel? Waarvan praat jy?”

“Van elfuur vanoggend, toe jy uit was. Sy ook. Nie een van julle was die hele dag op kantoor nie.”

“Ek was by die assuransiemaatskappy in verband met ou oom Truter se pensioengeld.”

“Saam met Annerie?”

“Nee. Dit was ’n uur. As jy twaalfuur weer gebel het, was ek terug.”

“Al dink jy jou werk is baie belangriker as myne, is ek ook bedags besig. Ek het nie tien keer ’n dag tyd vir private oproepe nie … of om te luister hoe Lise of Liza suggereer Annerie van Wyk sal weet waar jy is nie.”

“Liza het geen reg gehad om enigiets te suggereer nie. Maar jy kan nie verwag dat ’n onervare meisietjie op die skakelbord almal se doen en late moet onthou nie. Die skakelbord lyk gewoonlik soos ’n kersboom, met al die liggies van inkomende oproepe. Daarom het ek gesê sy moet mense na Annerie verwys indien iemand my soek. Annerie is kalm en rustiger en kan selfs onder druk beter onthou.”

Liza is onervare, maar vir Annerie tree hy in die bresse en sy is alles wat goed is …

“Behalwe as Annerie van Wyk nie daar is nie. As sy elke keer dieselfde tyd as jy uit is.”

“Dit was toevallig. Ek weet nie waar sy elfuur was nie. Waarskynlik in die argief om ’n vorige saak na te slaan.”

“Of besig om jou werkopdragte te tik.”

Tinus skryf môre eksamen oor boedelbereddering en het nog twee handboeke om vannag deur te werk. Maar Carina se belange kom eerste. Hy probeer sê wat hy dink sy wil hoor.

“Karrietjies … Carrie, Rina … Jy is die beste kok en die beste tikster in die hele wêreld, beter as Annerie of wie ook al.”

Tinus wou haar gerus stel. Maar sy woordkeuse was verkeerd.

“Moenie my Rina noem nie!” Sy bars in trane uit en hardloop kamer toe.

Tinus haak by bladsy een vas; oor en oor lees hy dieselfde paragraaf sonder dat hy inneem wat hy lees. As hy môre nie gaan skryf nie, beteken dit nog ’n jaar van studie en ’n klein salaris. Dit kan hy nie bekostig nie. Hy probeer op paragraaf twee konsentreer. Bladsy twee. Bladsy drie … Dan staan hy op en gaan soek sy vrou.

“As jy wil, kan ons êrens gaan eet.”

“Ek is nie honger nie.”

“Ek ook nie.”

“Ek kan vir jou kerrie maak, as jy wil. Of spaghetti.”

“Moenie moeite doen nie. Ek het beskuit geëet.”

“Beskuit is nie voedsaam genoeg as jy môre moet konsentreer nie.”

“Ek sal by die padkafee kos koop.”

“Gaan jy uit?”

“Biblioteek toe.”

Biblioteek … Is dit wat Tinus se naam daarvoor is?

Hy trek die kombers oor haar. “Sien jou later.”

Carina se hoofpyn is erger. Sy krul haar in ’n bondeltjie op – haar arms om haar gevou en die kussing teen haar slape gedruk.

Sy hoor nie toe hy middernag terugkom en eers teen dagbreek aan sy kant van die bed inskuif nie – versigtig om haar nie wakker te maak nie.

Die volgende oggend verslaap hulle albei. Daar is nie tyd om gisteraand se argumente uit te stryk nie. Daar is nie tyd vir gesels of die glasskerwe op te vee nie. Elkeen soek klere en jaag net om betyds op kantoor te wees.

Nadat Tinus haar inderhaas by die rooi verkeerslig afgelaai het, besef Carina sy het hom skaars gegroet en nie eens sterkte met die eksamens toegewens nie.

Die silwerblou Mercedes staan op dieselfde plek as gister.

“Weer sulke tyd? Of erger?” vra Rasmus toe sy uitasem by hom kom.

“Ek is laat. Die wekker het nie gelui nie, of ons het hom nie gehoor nie. Dankie dat jy gewag het.”

Rasmus hou van die deurmekaar meisie wat vergeet het om lipstiffie aan te wend. Warhoofdig, het ’n skrywer hulle eendag genoem. Hy onthou die held in die boek het ook manliker gevoel, omring deur warhoofdigdes, almal so mooi en begeerlik soos Carina Rheede.

By nog ’n rooi verkeerslig trek hy haar hand nader, onder syne wat op die stuurwiel rus. “Is ek veeleisend? Moes ek nie vir jou gewag het nie?”

“Jy moes. Dankie. Anders was ek laat. Gaan jy nie ook laat wees nie?”

“ ’n Bietjie. Dit maak nie saak nie. Was daar weer oorlog?”

“Tinus was so haastig, ek glo nie hy het jou motor raakgesien nie. Hy het tot laat gestudeer en ek het die verskriklikste nagmerries gehad, daarom dat ons verslaap het.” Sy lag verleë. “Volgende keer drink ek net koeldrank.”

Rasmus is bly dat daar blykbaar wel ’n volgende keer gaan wees. “Ek voel ook nie te wel nie,” bieg hy.

Carina se gedagtes is nog by Tinus. “Het jy gestudeer terwyl jy getroud was?” wil sy weet.

“Afrikaans 111 en Engels 111 was erg genoeg. Ek sou nie nog ’n vrou ook kon hanteer nie.”

“Tinus neem drie hoofvakke en nog byvakke ook.”

“Dis straf.”

“Hy skryf vandag boedelberedding.”

“Ek hoop hy vaar goed.”

“Hy sal seker ’n onderskeiding kry. Ek hoop so, want hy verdien dit. Hy werk baie hard.” Carina wag tot hy uit Andriesstraat afdraai en in die kelderverdieping parkeer. Dan vra sy: “Mag ek hom nou-nou bel – om sterkte te sê met die eksamen?”

“Jou pos laat teetyd toe, etenstye, asook vrye gebruik van die telefoon.”

Verbeel sy haar of is Rasmus se stemtoon skielik kil? wonder Carina. Sy moes seker nie oor Tinus aanhou praat het nie. Hy ken hom nie en stel nie in hom belang nie.

“Ek maak selde private oproepe. Net as dit dringend is.”

“Bel wie jy wil. Tinus in Timboektoe ook, as jy dink dis nodig.”

Hy herinner haar aan Tinus toe hy die hyser se knoppie druk.

“Mans …” sê Carina. “Die wêreld sou eenvoudiger gewees het as daar net vroue op aarde was.”

Pleks van verslaap, het Rasmus die nag slapeloos in die vrykamer deurgebring, vol vrese en vrae; vanoggend het hy net ’n asbak vol sigaretstompies gehad, maar geen oplossings nie.

“Maar vir wie sou ons nuwe rokke en lipstiffies gekoop het, as daar nie manne was om dit te waardeer nie?” skerts Carina.

“Jy het nie hulpmiddels nodig nie, jy is mooi soos jy is.”

“Half deur die slaap?”

“Heeltemal deur die slaap is beter. In pajamas, sonder ’n klomp verf en nagrome.”

Hy is self ’n getroude man, besef Carina. Nogtans draai sy verleë haar kop weg. Om te vergoed omdat sy te behep met Tinus was, probeer sy om ook in sy sake belang te stel.

“Gebruik Anta nagroom en grimering?”

“Net as sy uitgaan of gaste verwag.”

“Is haar hare lank of kort?” waag sy dit.

“Kort. Te kort. Seker prakties, maar onvroulik.”

“Is sy ’n boekemens?”

Ras druk weer die hyserknop. “Sy is ’n ma. Ma’s het nie tyd vir boeke nie.”

Die hyser daag uiteindelik op. Rasmus wag ongeduldig dat die mense uitklim. “Ons kon net sowel met die trap opgeklim het, dan was ons gouer bo. Om die vrae wat jy nie gevra het nie, te beantwoord: ja, jy is mooier as sy. My vrou beskou dit nie as belangrik om slegs ter wille van haar man tyd aan haar voorkoms te bestee nie. Nee, sy lees nie. Nie boeke nie. Nie tydskrifte nie. Nie eens koerante nie. Dis waar die onaanpasbaarheid tussen ons ontstaan het. Twee onversoenbare pole, sonder begrip. Al wat ons nog bymekaar gehou het, was die kinders. Nadat Sulet matriek geskryf het, gaan sy universiteit toe. Koshuis toe. Daarna sal sy volwasse genoeg wees om dit te hanteer as haar ouers skei.”

Skei? Carina is bang om verder daaraan te dink.

“Tobie is ’n ander saak … Ek kan nie tien jaar wag, tot hy ook oud genoeg is nie. Op die oomblik is TV en videospeletjies in elk geval vir hom belangriker as sy pa.”

“ ’n Jong seun het ’n vaderfiguur nodig.” Carina weet nie hoekom sy dit gesê het nie. Dalk omdat sy ook aan ’n skuldige gewete ly.

Carina onthou hy het gesê hy voel nie goed nie en hy lyk vir haar moeg en oorspanne. Erger as ’n man wat gister te veel wyn gedrink het.

“Nogmaals dankie vir gister se ete,” sê sy sag. Sy wens sy kan hom teen haar vashou, die frons tussen sy wenkbroue en die moeë lyne om sy mond wegstreel. Hom probeer troos en beter laat voel …

Hy vee oor sy oë en gesig. “Daar is soveel ereskuld om te betaal, soveel verpligtinge om na te kom …”

“Jy skuld my niks nie.”

“Ek bedoel nie jy nie. Jy is die een ligpuntjie in my bestaan.” Sy blou oë is troebel en hy steek sy hand hulpsoekend na Carina uit. “Jy is ’n pragtige mens. Hoekom het ek jou nie eerste ontmoet, voor Anta en Tinus daar was nie?”

Mense kom in die gang verby. Die hand waarmee Rasmus haar wou liefkoos, ’n verdwaalde krul uit haar nek wou vee, sak magteloos teen sy bobeen terug.

“Daar is soveel wat ek wil sê, wil doen, voor wil vergoed … Ek wil jou nie in die geheim besoek nie. Ek wil openlik optree, teenoor die hele wêreld erken dat ek jou liefhet en dat ons ’n verhouding het.”

Rasmus wou uitpraat, uitpak oor verlede nag, toe sy vrou steeds nie begryp het nie, toe hy opgepak het en vrykamer toe getrek het, waar hy vieruur vanoggend na soveel skuldgevoelens uiteindelik ’n besluit geneem het. Hy wil aan Carina verduidelik. Maar hy kan nie en nou het hy ook nie die geleentheid nie. Voor sy kantoor, druk in gesprek, staan twee mense op hom en wag.

Rasmus kreun. “Te verwagte, maar dit ook nog …!”

Nuuskierig oor sy reaksie, kyk Carina waarheen hy beduie. Sy sien die vrou wat so byderwets aangetrek is dadelik. Die lig wat deur die venster val, laat ’n stralekrans om die kop met die kort, blonde hare vorm. Sy is tenger en selfs van ver af sien Carina die donker oë en dik, swart wimpers. Die rooi baadjiepak, ringe, pêrels en goue kettings om haar nek is duidelik baie duur. Dis hoe sy graag sal wil lyk, dink Carina. Goeie smaak en geld gekombineer. Dan seker nog ’n suksesvolle skrywer daarby … Marí du Preez. Of Josephine Ruller, raai sy, wat oor die filmregte van haar boek kom onderhandel. Sy sal hul beste teeservies uithaal, soos met Elita Broodryk.

Tertia is nie vanoggend so besig soos altyd nie en kyk op toe Carina die vroegoggendkoffie langs haar tikmasjien neersit.

“Werk uit hoeveel elkeen skuld. Jy hoef nie die ekstra voorraad uit jou eie sak te koop nie.”

Ook Henk is ongewoon spraaksaam. “Boeretroos … Almal het dit nodig. Dit sal vorentoe smaak.”

Selfs Liaan ontdooi effens. “Dankie.”

Jan keer toe sy ’n skinkbord regsit vir hul hoofbestuurder.

“Ek dink Rasmus het klaar koffie gehad, meisie.”

“Hy het nie.”

“Rasmus is besig, moenie vir hom neem nie,” beaam Liaan.

Carina begin ’n manuskrip oortik wat soveel persklaarmaakwerk nodig gehad het dat die setters nie al die veranderinge sal verstaan nie. Sy was die koppies, bêre Rasmus s’n, gee die potplante water en beantwoord tussenin die telefoon.

Toe daar ’n blaaskans kom, bel sy Tinus.

Liza herken nie haar stem nie. “Jammer, dame, meneer Rheede is ongelukkig nie op kantoor nie.”

Hoe laat skryf hy? Sy kan nie onthou nie.

“Kan ek u na mevrou Van Wyk deurskakel?”

Hoekom nie? dink Carina in ’n oomblik van dapper voortvarendheid. Voorkoming is beter as genesing en jy moet jou vyand ken. Soos met Anta du Toit is sy nuuskierig. Sy wil hoor hoe die voortreflike Annerie se stem klink.

“Asseblief.”

Carina hoor ’n klikgeluid, dan musiek wat veronderstel is om die persoon wat aanhou te vermaak.

“Jammer, mevrou Van Wyk is ongelukkig ook nie op kantoor nie,” sê die telefoniste.

Carina plak die handstuk op die mikkie neer.

Liaan kyk op. “Het jy toebroodjies gebring?”

Wat het dit met haar te doen? Carina skud haar kop. “Ek was te haastig.”

“As jy pizza eet, sal ek vir jou een gaan koop.”

Carina kan dit nie glo nie. ’n Gletser wat ’n ysblokkie word wat begin smelt. Liaan Botha wat wil vriende maak. Of steek daar iets agter die aanbod?

“Dankie. Al wat ek in elk geval in die kas het, is grondboontjiebotter. ’n Pizza sal heerlike afwisseling wees.”

“Eenuur?”

Carina knik. “Wanneer dit jou pas.”

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх