Читать книгу Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman - Страница 4

1

Оглавление

Carina pak die ertjies terug in die koelkas. Maalvleis en ertappels is genoeg en as Tinus honger is, sal sy brood sny. Dan dink sy: Hoekom nie die rieme effens dikker sny nie? Spaar is nie meer so belangrik nie, want van môre af het sy ook ’n inkomste. Carina voel skielik vrolik, optimisties en lus om haar man te bederf. Hy werk hard; hy verdien meer as ekonomiese brousels en ’n vrou wat rondloop in verlede jaar se verslete modes.

Tinus sit aan handelsreg en werk: bankwissels, verhandelbare dokumente, maatskappyreg en aksepkoerse. Hy is bly toe Carina hom vir ete roep en verras om by ’n gedekte tafel met kerse aan te sit, pleks van sommer met ’n skinkbord op sy skoot voor die televisiestel plaas te moet neem.

“Het die kos verbrand?” terg hy. “Kamoefleer jy, of vier ons iets?”

Carina soen die moeë lyne langs sy mond en vee die donker hare weg wat soos ’n skoolseun s’n teen sy voorkop krul. “Ons vier dat ek jou liefhet en dat jy in die toekoms nie meer alleen met die woonstelhuur en rekeninge hoef te sukkel nie.”

Tinus vergeet van kos wat koud word en kerse wat uitbrand. Hy neem Carina in sy arms.

“Ek het jou ook lief, Carrie, liewer as enigiets anders op aarde. Ek wil vir jou ’n dubbelverdieping-grasdakhuis koop met ’n swembad waar jy heeldag in ’n bikini in die son kan lê en braai. Ek wil nie hê jy moet gaan werk nie; dit voel asof ek nie vir my vrou kan sorg nie.”

“Jy sorg uitstekend vir my, beter as wat ek verdien. Beter as wat ander mans wat ons ken vir hul vrouens sorg,” troos Carina. “Maar jy is outyds. Wie ken ons waar die vrou nie werk nie? Wie kan paleise op net een salaris bekostig?”

“Ses maande, liefste,” belowe hy. “Dan het ek my graad en is ek nie meer net ’n ingeskrewe klerk nie, maar ’n volwaardige prokureur en junior vennoot. Dan kan ons ’n huis koop en met ’n gesin begin.”

“Ons is albei nog jonk, Tinus, daar’s nog baie tyd. Ek kla nie oor kantoorwerk nie. Selfs nie vir ’n jaar of drie nie. Dis opbouend en sal verhoed dat ek ’n koolkop word.”

“Koolkop? Nie jy nie. Jy moes ook na matriek verder gestudeer het. Jy is slimmer as ek.”

“Wie sê so?”

“Ek was nie hoofprefek met vier onderskeidings nie.”

“Blote geluk. Jammer een was nie in huishoudkunde nie,” spot Carina. “Dan het ek geweet hoe om beskuit te bak, huis te hou en kos warm te hou terwyl my man amoreus is en strykwerk wag …”

Dis laat voor hulle eindelik eet. Daarna ruim Carina in die kombuis op en pars haar baadjiepak.

“Iets met moue en ’n romp wat onder die knie hang,” het haar ma raad gegee. “Nie ’n sonrok nie, dan sal jou baas deur sy nuwe tikster beïndruk word.”

Die volgende oggend tooi Carina haar lang, blonde hare op haar kop en gebruik meer grimeersel as gewoonlik om sodoende ouer en meer professioneel te lyk. Om die hol gevoel op haar maag te besweer, eet sy graanvlokkies saam met Tinus.

“Hoe lyk ek?” wil sy senuweeagtig weet.

Tinus soen die kuiltjies weerskante op haar wange en dan die een onder haar keel.

“Te formeel … asof jy die baas is, pleks van Du Toit.”

“Meneer Du Toit,” korrigeer sy. “Hy is hoofbestuurder. Dis ’n hoë pos.”

“As jy kans het, bel my kantoor toe, sodat ek weet hoe dit gaan en of jy regkom,” sê Tinus.

“Ek sal probeer. ’n Mens wil nie die eerste dag al die telefoon met private oproepe beset nie. Ek sal om vyfuur by die huis wees, dan kan ons gesels.”

“Ek gaan nie vanaand studeer nie,” belowe Tinus. “Môre en Vrydag ook nie. Die naweek is joune, as jy wil uitpak en kla of bedank.”

“Ek sal nie kla nie.”

Hy laai haar by die bushalte af, wuif oplaas en hou sy gebalde vuis met die duim na bo as ’n laat-dit-goed-gaan-teken toe hy wegtrek.

Dis wonderlik dat Tinus Rheede in haar lewe gekom het, dink Carina weer eens. Hy is ’n man so na ’n vrou se hart: maat, minnaar, broodwinner. Hy is ambisieus en verantwoordelik – soms miskien moeilik en kortgebonde, stroomop en besitlik, maar dis mos nes mans is. Hy is manlik en pragtig met sy breë skouers en die liggaamsbou van ’n rugbyspeler, dink Carina. Soms wens sy net hy was minder konserwatief. In die twintigste eeu sê almal basta met chauvinisme!

Albei geslagte, mans en vroue, is deesdae beroepsmense. Die tydperk van die swakker geslag, wat sonder stemreg en met besems en vadoeke tevrede moes wees, is saam met ossewaens en blouseep agter die rug.

Hy behoort dankbaar te wees dat sy bereid is om te gaan werk; bly te wees oor die ekstra inkomste terwyl hy nog met sy klerkskap sukkel. Hoekom neem hy haar kwalik? Sy wil nie onafhanklik wees nie, sy wil ook net geld bydra en help om hul begroting te laat klop.

Die gebou wat aan Fokus Uitgewers behoort, is groter as wat Carina dit onthou. Dit lyk selfs nog indrukwekkender as tydens die onderhoud vir die pos aan die begin van die maand.

By die ingang deursoek ’n veiligheidsbeampte haar handsak. Carina voel skaam oor die penne en potlode, die kam en gehawende borsel, sneesdoekies, lipstiffies en kleingeld wat sommer los lê.

“Ek begin by Fokus op die derde verdieping werk,” verduidelik sy.

Die man stel nie belang nie. Hy beduie na die hyser.

Soos Carina verstaan het, bestaan die algemene uitgewery uit drie onderafdelings: vrouepublikasies, jeugliteratuur en letterkunde. Dit word deur Tertia Smuts, Liaan Botha en Henk Rautenbach behartig, saam met ’n aantal persklaarmakers, proeflesers en vertalers. En ’n tikster-sekretaresse …

Liaan Botha kyk haar vyandig aan, terwyl die ander twee uitgewers nie eers opkyk toe sy huiwerig binnestap nie.

“Goeiemôre,” groet Carina. “Ek is mevrou Rheede.”

Sy ontvang ’n knopknik as groet. Verder word sy geïgnoreer en alleen gelaat om haar lessenaar te vind en tuis te raak.

“Die vorige meisies het net aan kêrels en trou gedink,” merk Tertia op. “Die liassering is chaoties … ’n gemors.”

Twee pluspunte, dink Carina. Sy was voor haar troue liasseerklerk by ’n bank.

Liaan Botha kyk op van die manuskrip wat sy besig is om te keur. “Kan u tik, mevrou?”

Carina wens sy het gesê sy is Carina Rheede.

“Dis waarvoor ek aangestel is, juffrou.”

“Is dit? Reken jy so?” Liaan klink skepties. Sy kyk Carina ’n slag op en af, maar verduidelik nie wat sy bedoel nie.

Carina vra ook nie. Daar is nie tyd nie. Sy word toegegooi met stapels agterstallige briewe wat met die hand in onduidelike skrif afgerammel is. Al een waarvan die skrif leesbaar is, is dié van Tertia.

By die bank het Carina met ’n woordverwerker geskryf; hier moet sy ’n tikmasjien gebruik. Gelukkig is dit ’n elektriese, luukse model. Aangesien dit ’n uitgewery is, let Carina veral op taal, spelling, sinskonstruksie en punktuasie. Sy glo nie ’n skrywer sal sy volgende manuskrip aan dieselfde uitgewers stuur wat ontvangs vir sy manuskrip in swak taal erken nie. En manuskripte is Fokus se brood en botter.

Niemand bedank haar vir haar moeite met die briewe nie; niemand rep ’n woord oor die liassering waarmee sy tussen die berge lêers orde uit die chaos probeer skep nie. Meneer Du Toit was tydens haar onderhoud baie tegemoetkomend en vriendelik. Carina wonder waar hul hoofbestuurder is.

“Ek verkies agtelosig, nie agterlosig nie,” merk Tertia op.

“Dis ’n wisselvorm,” maak Carina verskoning. “Jammer, mevrou Smuts, ek het nie geweet watter een u verkies nie. Ek sal die keurverslag oortik.”

“Moenie moeite doen nie, korrigeer dit sommer met ’n pen.”

Meteens lui die telefoon en almal kyk na haar.

“Fokus Algemeen, goeiemôre,” antwoord Carina.

Dis ’n skrywer, kwaad omdat sy tantième-tjek foutief is. Die vorige voorraadopname, verkope en afrekening klop nie met dié van ses maande later nie en hy is ergerlik omdat Rasmus du Toit nie daar is om die probleem op te los nie.

“Ek skakel en skakel … Waar loop hy gedurig rond?”

“Net ’n oomblik, meneer,” versoek Carina. Sy druk die mondstuk toe. “Meneer Rautenbach, weet u moontlik waar meneer Du Toit is?” vra sy vir Henk, wie se lessenaar naaste aan die telefoon is.

“Wat?” Hy soek na sy pyp. “Uit.”

“Hy speel seker weer gholf,” sê Liaan stug. “Of iets erger …”

“Ongelukkig is meneer Du Toit nie op die oomblik beskikbaar nie, meneer Van Breda,” sê Carina maar hoflik. “Kan ek ’n boodskap neem en hom vra om u terug te skakel?”

“Nie vra nie, sê hy móét my bel.”

Pieter van Breda, wat Tolgras geskryf en met Kaleido-skoop die Perskorprys vir poësie gewen het, onthou Carina. Dis iets om vanaand vir Tinus te vertel – dat sy persoonlik met Pieter van Breda gepraat het en weet hoe sy knorrige stem klink.

“Releveer?” Henk Rautenbach druk sy wysvinger op ’n vel papier voor hom. “Hier staan: ‘Releveer of remitteer,’ verklaar Adionisieus.”

“Slaan dood,” sê Liaan.

“Ek kan nie, dis poësie. Die rym en ritme sal uit wees.”

“Kyk in die HAT.”

“Ek het. ‘Releveer’ is nie hier nie. Nel Rell, Remcke, Roets, Rozenkowitz … Waarom die HAT so duur is, weet nugter. Ek nie.”

“Dis ’n telefoonboek wat jy daar beet het, oupa Hendrik,” lag Tertia. “Gebruik ’n woordeboek.”

Liaan vind dit nie grappig nie, gee net vir hom ’n lywige Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal aan en gaan voort met haar eie werk.

“‘Handwoordeboek’?” brom Henk. “Hy’s so swaar ek kan hom skaars optel. ‘Lyfwoordeboek’ sou toepasliker gewees het.”

Die telefoon lui onophoudelik; mense van wie Carina nog nooit gehoor het nie en oor wie sy nie ingelig word nie, kla in haar oor. Tussendeur tik sy briewe, koeverte en kontrakte. Sy kyk op haar horlosie. Dis ’n lang dag. Langer as waaraan sy die afgelope ses maande, sedert haar troue, gewoond was. Vermoeiender as wasgoed was, afstof, matte skoonmaak en koskook.

“Ek releveer verhogings,” merk Henk op.

“Beteken dit ons gaan kry?”

“Nee. Net dat ek dit voorstel, noem, beklemtoon of dan releveer.”

“Dit beteken min.”

“Dit beteken dat julle ’n nuwe woord geleer het.”

“En remitteer?”

“Dit beteken kwytskeld.”

Net voor een stap die hoofbestuurder binne. Hy lyk sjarmant en aantreklik in ’n donker pak met ’n blou hemp wat by sy oë pas. Hy stap dadelik na Carina toe en steek sy hand uit.

“Dagsê. Welkom by ons, mevrou Rheede. Ek is bly jy het opgedaag. Jammer ek was nie hier om jou te ontvang nie.”

Die eerste vriendelike gesig in vyf uur, en dan nog ’n aantreklike een daarby.

Carina glimlag skaam. “Alles in die haak, meneer Du Toit.”

“Kom jy reg, mevroutjie?”

“Ja, meneer. Daar was ’n aantal oproepe vir u. Twee mense het gevra dat u so gou moontlik terugbel.”

“Geen rus vir die sondaars nie!” grinnik hy. “Het jy boodskappe geneem?”

“Ja, meneer, asook hul telefoonnommers.”

“Jy kry volpunte! Hoe lyk dit met ’n bietjie koffie? Maak sommer vir almal.”

“Seker.”

Carina voel flink en positief, maar sy het nie die vaagste benul waar die kombuis is nie. Teetyd het ’n bode vir hulle koeldranke gaan koop.

Tertia kom tot haar redding. “In die gang af, tweede deur regs. Die ketel lol, pasop dat jy nie geskok word nie.”

Carina spoor geen enkele koppie, piering of teelepel op nie. Elke kas waarin sy soek, is vol koerantknipsels, resensies, stofomslae en proewe.

Sy moes daaraan gedink het dat haar baas moeg en dors sou wees nadat hy gholf gespeel het; onthou het die kantoor sluit om halfvyf, nie om middernag nie; geweet het as sy lank wegbly, sal iemand kom kyk wat aangaan.

Carina het verwag dit sou Tertia wees, die hardwerkende en gaafste van die drie. Of Henk, wat ook nie te sleg lyk nie. Sy staan op haar knieë en grawe in die laaste deurmekaar kas, toe ’n stem agter haar praat: “Ek glo nie. Nie in Johanna nie.” Dis haar baas. Geamuseerd, groter, langer en selfs aantrekliker as netnou.

“Ekskuus?”

“Sy is van geelhout en ’n erfstuk van die direksie,” praat hy van die kas asof dit ’n vrou is. “Ek dink Johanna is vir belangrike kontrakte bedoel, nie plebejiese breekware nie.”

Carina se wange is bloedrooi en sy skarrel haastig orent. Wat ’n situasie! Wat ’n posisie om in betrap te word. Vuil hande, hare vol spinnerakke en sitvlak doer in die lug, prominent reg onder sy neus ingedruk.

“Jou kous het geleer,” merk hy op.

Carina wens die aarde sluk haar in; wens hy was honderd jaar oud en skreeulelik.

“Ja. Ek … ek kon nie die koppies kry nie,” stamel sy.

“So sien ek, ja.”

Sy wens hy was bysiende ook. Bokant die geleerde kous sit ’n vetkol op haar romp. Sy probeer dit ongemerk afvryf.

“Carina, Rina … Dit is die kluis, nooi,” verduidelik hy. “Die inflasiekoers styg en Fokus trek noustrop. Maar selfs ’n malkop soos Charmaine sou nie die koffie agter slot en grendel gebêre het nie.”

“Ek is jammer …”

“Nee.” Rasmus skud sy kop. Skielik is die lagliggies weg en sy blou oë is ernstig. “Nee, óns moet om verskoning vra. Het niemand jou deur die gebou geneem en touwys gemaak nie?”

Carina wil nie stories aandra nie. “Almal was besig. Ek het nie gevra nie en hulle het seker ook nie daaraan gedink nie.”

“Kom!” Rasmus trek haar aan die arm. Hy marsjeer met Carina die gang op en maak die eerste deur oop. “Subkantoor. Persklaarmakers en proeflesers. Minder formidabel as wat hulle lyk. Jan Goosen, daar by die venster, is ook vertaler, indien jy hom nodig kry.”

Hoër af in die gang is die drukkery. Rasmus du Toit maak die dubbele deur oop en weer toe. “Net om te kyk en te weet, nie om te luister nie. Jou oortrommels sal bars. Hermie Herman is bestuurder van die drukkery. Hy het ’n swak vir skaam blondines en sal jou nie ’n skewe antwoord gee as jy vir hom sê dat ’n skrywer wil weet in watter stadium van produksie sy boek is nie.”

Volgende is die afdeling wat skoolboeke en vakliteratuur hanteer, dan die rekenmeesterskantoor, toonbankverkope, kleedkamer en kombuis. Daarna die laaste deur in die gang, met ’n koper-naamplaat op.

“My kantoor. Ek is nie altyd hier nie, soos vanoggend, toe ek ’n boekbekendstelling moes bywoon. Maar ek is ook beskikbaar, mevrou, indien jy probleme ondervind. Moenie huiwer nie, kom gesels gerus.”

Carina kry die gevoel dat hy van die atmosfeer en onderstrominge in die algemene afdeling weet. Rasmus du Toit aarsel. Hy is ’n oomblik lank stil; dan trek hy sy skouers op en glimlag. “Of kom kla, as jy klagtes het.”

“Dankie, meneer.”

“Voel jy nou meer tuis? Sal jy nóú regkom?”

“Ja, dankie, meneer Du Toit. Dankie vir die besigtigingstoer.”

“Plesier. Ek was ook eens op ’n tyd nuut …” Hy knik en verdwyn in sy kantoor, waar die telefoon begin lui.

Op in die gang is regs, af is links, probeer Carina onthou. Sy let op hoeveel melk en suiker haar hoof in sy koffie drink en probeer dié ook vir die toekoms in haar geheue bêre. Sy maak ’n aantekening van ‘agtelosig’, ‘releveer’ en ‘remitteer’, van ‘weer eens’ wat twee en ‘nogmaals’ wat een woord is. ‘Kopie’ is die manuskrip en die ‘intro’ is die eerste paragraaf, net na die skutbladsye en titelblad, wat deur die tipograaf ontwerp word. Skrywers kry 15% tantième en PG Botes is professor Cloete se skuilnaam. Hy woon in Kaapstad, skakelkode 021 en poskode 8000. Sal sy ooit alles onthou?

Vroeër was sy moeg en tot eenuur het die tyd verbygesleep, maar na wat soos ’n uur voel, is Carina verbaas om skielik te merk dat dit vyf en twintig voor vyf is – nie in syfers geskryf nie; in woorde, sonder koppeltekens. Haar eerste dag is verby. Vyf minute gelede al.

Almal pak op. Huistoegaantyd, besef sy. Sy sluit haar tikmasjien en liasseerkabinette, maak vensters toe en skakel die lugversorger af. Om netnou vir Tinus mooi te lyk, kam sy haar hare, poeier haar stowwerige neus en wend lipstiffie aan.

Rasmus werk gewoonlik laat en sien haar toe sy in die gang verbystap hyser toe.

“Mevrou Rheede!” roep hy.

Nog tikwerk? wonder Carina. Nog briewe? Sy voel suf. Haar oë brand van konsentrasie en haar vingers gaan môre styf wees. Maar hy is haar baas en hy is gaaf … Sy draai om na sy kantoordeur.

“Ja, meneer?”

“Sunnyside?” vra hy. “Wesstraat? Dis waar julle woon, nie waar nie?”

“Ja, meneer.”

“Jy klink soos ’n standerdses-meisietjie die eerste dag op hoërskool. Ek ry deur Sunnyside; dis op my pad huis toe. Ek voltooi net gou ’n bemarkingsverslag. As jy vyf minute wag en nie ander afsprake het nie, kan jy saamry.”

Haar adres staan op haar aansoekvorm, maar Carina wonder hoe hy weet sy het die bus gehaal.

“Dit sal gaaf wees. Dankie, meneer.”

“Moeg?” vra hy simpatiek.

Sê sy ja, klink dit of sy kla oor te veel werk en sê sy nee, laai hy haar dalk nie op nie en word sy weer in die stamperige bus rondgeskud. Vyf blokke is ver om te loop en dan kom sy boonop later by die huis. “ ’n Bietjie,” erken sy.

Rasmus se vyf minute is drie, daarna tel hy ’n kontrak op wat Carina getik het. “Jou werk is puik. Ek waardeer die moeite wat jy met die tabellering gedoen het.”

“Dankie, meneer.”

“Los die ‘meneer’.” Hy staan op, trek sy baadjie aan en neem sy motorsleutels. By die hyser draai hy met ’n glimlag na haar. “Ek sou oor jou spelling en taalaanvoeling ook wou uitwei en dankie sê, maar die gedagte is om jou vroeër tuis en by jou man te kry, nie láter as met die bus nie.”

Sy Mercedes-Benz is ook blou. Metaalkleurig, eintlik silwerblou, met outomatiese ratwisseling en brandstofinspuiting. Carina probeer om nie aan hul Noagse bruin Volksie met knersende ratte te dink nie.

Asof hy haar gedagtes kan lees, vra Rasmus: “Watse werk doen jou man?”

“Hy is ’n klerk.” Carina was dislojaal teenoor hul getroue ou kewertjie, sy wil dit nie teenoor Tinus ook wees nie. “Ingeskrewe prokureursklerk,” voeg sy by.

Sy het verwag haar skatryk baas sal nie in arm Klase belangstel nie, maar hy lyk beïndruk. “Besig om te article en binnekort volwaardige prokureur? Fokus sal hom dan dubbel moet betaal vir die dienste van sy bekwame vrou.”

Carina lag. Haar baas is gaaf en onweerstaanbaar aantreklik, maar sy is lankal nie meer ’n tiener nie. Hy vlei haar maar net omdat hy kan sien sy voel nog vreemd en ongemaklik en wil haar op haar gemak stel.

Sy probeer ontspan. “Tinus druip dalk sy laaste hoofvak, dan moet ek nog ’n jaar lank help om die pot aan die kook te hou.”

“Fokus sal daarby baat vind. Ek ook.”

Carina kyk anderpad, skielik weer gespanne en ontuis in Rasmus du Toit se geselskap. “Volgende straat regs,” beduie sy.

Die Vollie sou op sulke kort kennisgewing op sy dak beland het, maar die Mercedes het ’n kragstuur. Al wat gebeur, is dat die bestuurder van die motor agter hulle toeter blaas.

“Jammer, ek moes eerder gepraat het. Jammer, meneer,” maak Carina verleë verskoning.

Rasmus hou voor Parkhof stil. “Jou ge-meneer laat my soos ’n argaïese laerskoolhoof voel.”

“Jammer, menee … e …?” Sy lag effens senuagtig. Hou skielik op. Dit het dalk voorbarig geklink. Sy byt haar onderlip vas. “Ek is jammer, maar ek weet nie wat om u te noem nie.”

Sy het verwag hy sou “meneer Du Toit” voorstel, maar hy is opeens nie die grootbaas van Fokus se personeel van oor die tagtig werknemers nie.

“Erasmus is ’n té groot mondvol en ek vertrou in elk geval nie mense wat ’n van as ’n naam het nie. Tweede beste is Rasmus. Ook heel formidabel. Wat van doodgewoon net Ras? Ek sal dit verkies.”

Ras? Sy glo nie in honderd jaar sal sy hom so kan noem nie. Carina knik. “Goed. Dankie, m … e … Dankie.”

Hy help haar toe sy halsoorkop na die deurhandvatsel soek en sukkel om dit oop te kry. “Regs … druk hom af. Of moet ek sê op? Is jy een van daardie agterstevoor mense wat sê: ‘Ek gaan op Kaap toe met vakansie’? Of ‘af Windhoek toe’?”

Hy is te na aan die kol. Carina hoop nie hy weet dat sy rigtingloos is en na twee en twintig jaar in Pretoria nog steeds in haar geboortestad verdwaal nie. “Ek hét uiteindelik die kombuis pleks van die kluis opgespoor,” verweer sy haar.

“Met my hulp,” terg Rasmus. “Anders was jy nou nog daar tussen die spinnekoppe en brommers begrawe.”

Carina onderdruk haar lag, want sy weet dit sal weer soos ’n standerdsessie s’n klink. Sy klim uit. “Dankie dat u my opgelaai het. Ek waardeer dit.”

“U is welkom,” antwoord Rasmus net so plegtig en formeel. Hy wuif oplaas. Die volgende oomblik verdwyn die agterliggies van die silwerblou Mercedes om die hoek.

Carina haas haar na die woonstelgebou se trap. Dit voel of sy haar dag in gange deurgebring het. Op met die gang, af om die draai, sesde deur regs …

By die afgeskilferde sesde deur is alles donker. Die vensters is dig toe en nêrens is ’n teken van lewe nie. Niemand maak oop toe sy klop nie.

Carina klop weer, twee keer, harder.

“Tinus! Is jy hier?”

Sy draai die handvatsel, voel aan die vensters en hamer met haar vuiste teen die deur. “Tinus? Waar’s jy? Maak oop!”

Hul buurvrou skree bo die lawaai van die TV en haar tiener se popmusiek uit: “Hy’s nie hier nie!”

Carina klop langsaan. “Tant Susie, dis ek, Carina. Ek kan nie inkom nie. Waar’s Tinus?”

Tant Susie lyk soos ’n ystervark met al die krulpenne in haar hare. “Nee, hoe sal ek nou weet, hartjie? Het jy nie gefoun om te sê jy sal laat wees nie?”

“Ek is vroeg. Ek het gesê ek sal om vyfuur by die huis wees en dis nou ’n minuut voor. Het tant Susie hom nie gewaar nie?”

“Nee, hartjie. Hy was nie naby die flêt nie, die hele middag nie. Anderster sal ek hom gehoor het.”

Carina se bekommernis slaan oor na onrus, dan na ontsteltenis. Sy hardloop na die parkeerterrein, maar die Volksie is nêrens in sig nie. ’n Motorongeluk, dink sy. ’n Hartaanval of slegte nuus op kantoor van sy ouers … Hy is altyd baie stiptelik. Vandat sy hom ken, was Tinus nog nooit laat sonder dat hy laat weet het nie. Iets moes gebeur het.

Maar Fokus se telefoon was byna heeldag lank beset – hy sou nie maklik kon deurkom nie, besef sy. As hy siek geword het of slegte tyding gekry het, sou Tinus haar nie kon laat weet nie. Sy was besig en onder druk, maar daar was wel soms tussenin ’n paar oop minute. Pleks dat sy hóm gebel het; minder aan haar werk en haar baas en meer aan haar man gedink het … As Tinus iets oorgekom het, sal sy haarself nooit vergewe nie.

Carina bly staan op die koue, donker stoep. Nie haar werk nie, nie komplimente of geld is belangrik nie. Sy het haar man lief en hy is al wat in haar lewe saak maak.

Waar is hy?

Ettie Bierman Keur 7

Подняться наверх