Читать книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman - Страница 11

Оглавление

8

Franco was bedrywig by die bouwerk, die tuinuitleg en die olifante, sodat Aralie hom ’n paar dae net skrams te sien gekry het. Sy sit gehurk, besig met die gekweste koedoe toe hy by die hokke aankom.

“Hoe lyk dit?” wil hy weet.

Sy is versigtig om ’n voorspelling te waag. “Hy het baie bloed verloor. Gee hom nog ’n paar dae, dan sal ons weer kyk. Die duiker en die meerkat is perdfris, reeds vrygelaat in die veld, maar ek hou die jakkals in kwarantyn tot ons seker is. Die vlakvark sterk goed aan, en ek wag vir die uitslag van die bek-en-klouseer-bloedmonsters,” lewer sy verslag. “Hoe gaan dit met die verwagtende moeder?”

“Ek voorspel môre is die Groot Dag. Die filmspan is op ’n gereedheidsgrondslag. Het jy vanmiddag ’n uur of wat oop vir jou skietles?”

Sy aarsel. “Tian praat van ’n leeu wat slinger en swaar loop. Ek en Koosjan wou hom gaan soek het.”

“Bly weg van die leeus, dis te gevaarlik. Ek het hom gekry. Dis ’n ou alleenloper, verhonger en nie meer in staat om te jag nie. Ek het hom uit sy lyding verlos.”

“Ek is jammer.”

“Ja …” Hy sug en haal sy skouers op. “Sal ons dan ’n les kan inpas?”

“My pa het my ’n keer gewys. Ek sal self regkom.”

“Daaroor sal ék oordeel. Kry jou oor tien minute by die tent?”

Sy knik. Daar sal darem tyd wees vir ’n skoon bloes, darem iets mooiers as ’n T-hemp. Maar nié parfuum en lipstiffie nie, betig sy haarself. Hierdie is werk, nie ’n fliek­afspraak nie.

Sy is vyf minute vroeg. Franco ook.

Hy glimlag goedkeurend. “Bly om te sien jy dra jou hoed. En die handeroom? Gebruik jy dit?”

“Gereeld,” jok sy.

Hy neem haar na ’n droë rivierloop met ’n hoë sandwal aan die een kant, waar hy ’n ry bierblikkies uitpak. “Dis nie skyfskiet nie,” verduidelik hy. “Dis net ’n kon­trole of jy in die regte rigting mik. Ek verwag dat jy minstens drie uit die vyf blikkies sal tref. Hou die kolf styf vas en stut hom stewig teen jou skouer, anders gaan die terugskop jou seermaak.”

Hy haal twee patrone uit sy sak, knak en laai die dubbelloop, gereed om te skiet. Daarna herhaal hy die aksies stadig in trurat terwyl sy toekyk. Toe hy klaar is, oorhandig hy die geweer en patrone aan haar. “Reg, jou beurt.”

Sy het dit al gedoen, kán dit doen. Maar haar hande is dom. Franco se nabyheid ontwrig haar, só naby sy kan die pepermentgeur op sy asem ruik. Hy het blykbaar pas tande geborsel, en sy kan sien hy het ook ’n skoon kakiehemp aangetrek. Die mou vee kort-kort oor haar gesig, saggies, amper soos ’n liefkosing …

Dit bring haar van stryk en verbreek haar konsentrasie. Haar eerste skoot is mis; stof slaan hoog teen die wal uit.

“Die loop het gelig. Dit beteken jy het die kolf nie stewig vasgedruk nie en daar was waarskynlik ’n terugskop. Hoe voel jou skouer?”

Asof ’n lorrie oor haar gery het … Môre gaan daar ’n lelike bloukol sit.

Sy byt op haar tande. “Piekfyn, ek het dit skaars gevoel.”

Hy lyk skepties. “Is jy seker?”

“Natuurlik. Hoekom sal ek jok?”

’n Duisend redes, wil Franco antwoord, maar hy bly vredes­onthalwe stil. Hy buk om die leë doppies op te tel en haal nog twee patrone uit sy sak.

“Probeer weer. Laai … reg so. Maak hom reguit. Nee, knip die oorhaal stewig toe!” keer hy van agter haar, sy arm bo-oor haar skouer en sy hand op hare. “Stewiger! Anders gaan daardie vrag lood in jou gesig ontplof.”

In die posisie waarin hy skuins van agter oor Aralie buig om by te kom, raak bykans die volle lengte van sy lyf teen hare. Sy bors is teen haar nek, sy maag teen haar rug en die voorkant van sy bobene teen haar sitvlak. Sy is bewus van elke beweging van sy spiere wanneer hy roer. Haar hande sweet en haar ledemate voel swaar en warm.

Sy laat die geweer sak, bang sy laat dit val. “Dit sal jou skuld wees! Staan terug. Verder weg!” vra sy.

’n Trek van verbasing wys op Franco se gesig. Dit duur ’n oomblik voor hy snap wat sy bedoel, dan gee hy gehoorsaam pad. Sy wenkbroue lig vraend. “Is dit ver genoeg?”

Die hele Namibwoestyn sal nie ver genoeg wees nie. Sy is bang hy hoor die tamboerslae van haar hart. “Nee, nóg verder.”

Hy gee pad tot oorkant die rivierloop en gaan leun met gevoude arms teen ’n rots.

Dis nie nodig om hom op te ruk en dit te oordoen nie, dink Aralie en loer geamuseerd onder haar wimpers deur na hom. Dan tel sy weer die haelgeweer op. Sy gaan staan wydsbeen en stamp die dubbelloop stewig vas, lê aan en krul haar vinger om die sneller.

Toe die skoot klap, weet sy dis in die kol. Al vyf die blikkies pieng en tuimel teen die sandwal af.

“Gelukskoot!” maak hy dit af. “Dis onwaarskynlik dat ’n bende stropers sal wag tot jy netjies in balans staan en hulle een vir een pot. Hulle sal jou onverhoeds en uit posisie betrap. Mag ek asseblief nader kom?”

Aralie dink eers na. “Ja, goed, siende dat jy so mooi vra.”

Hy sit die blikkies terug en gee vir haar nog ’n hand vol patrone. “Skiet vanuit ’n knielende posisie, dan sittend en dan plat op jou maag, asof jy skuiling gesoek het agter ’n rots of jou voertuig se wiele.”

Dié aksies is veel moeiliker. Op haar knieë tref sy twee blikkies. Op haar sitvlak een. En op haar maag is alles mis.

“Dis omdat jou arms moeg is, en jou elmboë is te ver uitmekaar. Laat sak die geweer en neem dooierus. Mag ek jou wys hoe?”

“As jy weer so mooi vra …”

Sy het gespot, maar vir Franco is paraat-wees ’n ernstige kwessie. Hy laat skuif haar agter ’n spoelklip in en neem stelling in langs haar op sy maag in die sand. “Laat rus die loop op die klip. Korrel na jou teiken en posisio­neer jouself totdat jy in balans is.”

Aralie wriemel effe dwars, versigtig om nêrens teen hom te raak nie.

“Nee, jy lê skeef,” keer hy. “Jou koeëls gaan ver links tref, heeltemal mis.”

“Is nie,” stry sy.

“Is!” Sonder seremonie vat hy haar om die knieë en skuif haar in lyn met die ry bierblikkies.

Sy het stewels en ’n denimkortbroek aan en sy hande teen haar kaal bene stuur ’n elektriese skok deur haar lyf. Hy rem haar nog ’n paar sentimeter na regs, totdat sy in lyn met die teiken is. Toe hy sy hande wegneem, kom sy agter dat sy met haar dy vas teen syne en haar voet half bo-oor sy kuit lê.

Sy skuif vervaard weg en sit regop. Haar stem is grinterig en sy praat in staccato-frases. “Die uur is om, ek wil ophou. My skouer is seer, ek wil huis toe gaan.”

Franco trek groot oë. “Ek is ’n dom takhaar in die boendoes en weet nie van beter nie … Is dit omdat ek aan jou bene gevat het? Of teen jou kom lê het? Is jy bang vir my?” Ten spyte van die sedige stemtoon dans daar goue lagliggies in sy oë. “Of vir jouself?”

As hy hom kan opruk, kan sy ook. Aralie spring op en vryf die sand van haar klere af. Dan begin stryk sy met lang hale terug kamp toe.

Franco se bene is langer as hare en hy haal haar met gemak in. “As ek aanbied om vanaand vir jou gemarineerde hoenderboudjies te braai, kan ons weer vriende wees?”

“Ek eet nie hoendervleis nie,” antwoord sy koel.

“Jammer, my fout. Dit was seker ’n ander meisie wat eergisteraand langs my aan tafel weggelê het aan die rys en hoenderkerrie.”

“Moet wees,” stem sy saam. “Julle takhare het ook soveel meisies dat julle deurmekaar raak met hulle.”

“Nie met die een met die rooi hare nie,” antwoord hy, sy stem onverwags ernstig. “Sy is in ’n ander liga. Met haar sal ek nooit deurmekaar raak nie.”

Onwillekeurig draai Aralie haar kop en kyk na hom. Die boodskap wat sy in sy oë lees, is dieselfde as die aand in die tent toe hy haar gesoen het … En sy weet steeds nie wat om daarvan te maak nie.

Sy kyk weg en rek haar treë verby die rondawels en swembad, na die veiligheid van die woonwa. Daar trek sy die deur op knip en maak die skuif hard toe. Dit help nie vir haar gemoedstoestand toe sy Franco aan die ander kant hoor lag nie.

Aralie het gestort, en terwyl die hoenderboudjies gaar word, maak sy ’n vinnige paptert. Sy is besig om brood te sny toe Franco van die vuur af in­kom.

Hy vat die mes uit haar hand. “Hoe lyk jy so onhandig? Gee, laat ek dit doen, voor jy jou verongeluk! Hoekom sny jy met jou linkerhand?”

“Sommer. Links of regs is vir my om’t ewe, ek –”

“Bog,” knip hy haar kort. “Dan sou jy nie so onbe­holpe gewees het nie. Is dit omdat jou regterskouer seer is? Ek het so iets verwag. Daardie terugskop is nie speletjies nie. Kom, laat ek kyk.”

Hoe? Deur haar bloes uit te trek?

Sy staan ’n ent weg. “Ek het klaar gekyk. Dis ’n bie­tjie blou, maar dit sal weggaan.”

“Ek skat daai skouer is potblou en geswel. Gee, dat ek kyk en iets aansmeer.”

“Nie nou nie, ek’s besig,” skerm sy.

“Moenie kinderagtig wees nie. Ek het voorheen vir jou gesê ek sal nie byt nie,” herinner hy haar. “Netnou was sommer net terg. Jy hoef nie bang te wees ek vergryp my aan ’n vroulike personeellid vir wie se welstand ek verantwoordelik is nie. Dis nie my styl nie.”

Objektief en professioneel, soos dit hoort. Ook onvleiend en onromanties, maar dit stel Aralie gerus. Dit beteken egter nie sy sal haar bloes uittrek nie.

Niel was reg, besef sy. Sy is ’n plaasmeisie, outyds en konserwatief. Hoewel die saamblyery met Franco ’n noodoplossing is, is dit steeds teen haar grein. In haar agterkop herken sy die gevaarliggies wat flikker. ’n Man en vrou alleen saamgegooi, instinktief tot mekaar aangetrokke, is ’n plofbare situasie wat kan handuit ruk.

In hierdie stadium van haar lewe is sy kwesbaar, weerloos teen die magnetisme van ’n man soos Franco. Soms ken sy haarself nie meer nie. Hoewel dit agterstevoor is, vertrou sy hom in hierdie opset meer as haar eie verraderlike hart.

“Ek het noodhulpopleiding, ingeval ’n ou in die veld gestrand raak sonder mediese hulp,” verduidelik hy. “Ek sal vasstel hoe ernstig die kneusing is, of daar inflammasie is en of jy dalk ’n ligament geskeur het.”

Aralie kyk met groot oë na hom, haar vingers onbewustelik om die knope van haar bloes geklem. Sy het verwag hy gaan ongeduldig raak, maar Franco is prakties en onverwags simpatiek.

“Ek weet dis ’n ongemaklike situasie. Om dit makliker te maak, stel ek voor jy trek die regtermou uit. Gebruik ’n handdoek om dele van jou anatomie te bedek waaroor jy selfbewus is, en los net die skouer oop.”

Toe hy merk dat sy steeds nie gelukkig is nie, probeer hy ’n ander aanloop. “Beskou my as jou dokter, by wie jy is met een of ander kwaal. Jy sou tog nie vir hom skaam gewees het nie, of hoe?”

Sy byt op haar onderlip. “Ek weet ek is simpel …”

Franco huiwer. Stem hy saam, kry hy dalk ’n klap. Stry hy, dink sy hy vat ’n kans. Hy swyg liewer en laat die besluit aan haar oor.

“Nou goed dan,” gee sy toe voor haar moed haar begewe. “Kom ons kry dit verby.”

Franco laat haar in die woonwa op die bed sit, waar die lig beter is. Sy oë bly stip op haar skouer gerig en hy praat nie met haar tydens die ondersoek nie. Sy vingers is koel en onpersoonlik terwyl hy liggies aan die swelsel druk, na die sleutelbeen voel en die beweeglikheid van die armspiere toets.

“Daar was blykbaar meer as net die een terugskop. Die ligamente is sleg gekneus. Ek gaan ysblokkies opsit om die swelling te laat sak, en anti-inflammatoriese salf aansmeer wat onderhuidse bloeding beperk.”

Aralie sit roerloos terwyl hy besig is, die handdoek teen haar bors gebondel en haar blik op die neonlig teen die dak gerig, die klerekas, die venster … Oral behalwe op die hoekige ken en die manlike wang met die effense stoppelbaard hier vlak by haar. Só naby sy kan haar wang teen syne skuur as sy haar kop draai.

Sy is verlig toe hy klaar is. Maar toe hy ’n hangverband vir haar arm wil aansit, keer sy. “Ek sal nie kan bestuur nie.”

“Jy hoef nie môre te ry nie. Daar’s niks dringends wat wag nie.”

“Ek het hokke vol siek diere …”

“Dis hoekom jy ’n assistent het. Koosjan is betroubaar. Of jy sê vir my wat om te doen. Of Tian.” Franco gee haar nie kans om nog besware uit te dink nie.

Hy ruim op en vryf met sy kneukels oor haar neus. “Jy het soet stilgesit. As beloning, en omdat dit my skuld is dat jy seergekry het, sal ek vir jou kos gee en alleen die skottelgoed was. Daarna moet jy vroeg in die bed klim.”

Franco se doepa het gewerk. ’n Keer in die nag het Aralie ’n pynpilletjie gesluk, maar die volgende oggend is haar skouer beter. Nog stram en gekneus, maar minder geswel. Sy kan haar arm beweeg om kasdeure oop te maak en koppies reg te sit.

Phillip daag op en Franco haal die beskuitboks uit. Hulle gesels oor tuine en inheemse plante en kyk hoe ’n swerm poeierblou sysies saad pik uit die houtplatform wat aan ’n boom hang.

Dan opeens gebeur alles tegelyk: Anneries roep, Koos­jan kom aangehardloop en Tian hou in ’n stofwolk stil, met ’n blêrende toeter. Franco plak sy beker neer en storm buitetoe.

“Tyd vir sjampanje en sigare!” skree Tian.

Phillip spring op. “Wat gaan aan?”

“Ek gaan pa word!” Franco gryp die Land Rover se sleutels. “Kom! Flippie, bring jou kamera! En Raaltjie, jou hoed!”

Aralie lag vir die verwarde uitdrukking op Phillip se gesig. “Peetpa!” verduidelik sy in die hardloop.

“Van wat?”

“ ’n Olifant! Dis groot nuus!”

Franco het met behulp van die plaaslike bevolking ’n netwerk opgestel. ’n Vier-en-twintig-uur-wag met ’n verkyker by die olifantkamp, wat met rookseine ’n boodskap sal stuur wanneer Temba se tyd daar is. Primitief, maar dit het gewerk.

Onderweg radio hy die filmspan en helikopter, wat lankal op ’n gereedheidsgrondslag is. ’n Paar minute later klink Balelapa se roepsein weer op. Sy kollegas in Etosha …

Tussen die statiese elektrisiteit kom ’n krakerige stem deur: “Ons het die nuus gekry en is op pad. Geluk! Die riemtelegram sê dis ’n tweeling!”

Aralie is sprakeloos van opwinding. Franco trap die petrolpedaal dieper weg en Phillip sit nuwe batterye in sy kamera. Franco Conradie is altyd nuus, en hierdie geboorte kan ’n goeie fotoartikel vir ’n tydskrif wees.

Toe hulle by ’n hek in die geëlektrifiseerde heining tot stilstand sleep, klink die helikopter se dreuning bokant hulle op. Stof en blare dwarrel om hulle en Aralie moet aan haar hoed klou. Vier mense klim uit, een met ’n kamera en driepoot oor die skouer. Aralie herken Fleur Joubert, die buitelugmeisie wat aanbieder-regisseur van Franco se televisiereeks was. Almal groet opgewonde en wens hom geluk – Fleur met ’n vrolike omhelsing en ’n soen.

“Onthou, hierdie is nie sirkusolifante nie,” waarsku Franco. “Hulle is wild en onvoorspelbaar. Bly duskant die draad. Julle ook, Aralie. Ek en Koosjan gaan in.”

Toe Franco-hulle tussen die bosse verdwyn, kyk Fleur nuuskierig na Aralie. “En jy? Waar pas jy in?”

“Ek is Balelapa se veearts.”

Dis die eerste keer dat sy dit hardop sê en Aralie hou van die klank daarvan. Sy voeg nie by dat sy net ’n locum is nie.

Die kameraman stel sy driepoot op en Fleur verduidelik wat sy as diepte-skote wil hê tydens die onderhoud met Franco. “ ’n Panorama van die hele trop, ’n stukkie interessante detail soos voëls of ander diere, en iets van die plantegroei: ’n naby-fokus op ’n kokerboom of ’n aalwyn in blom.”

Etosha se Jeep arriveer en almal hou die trop met verkykers dop, gretig om ’n blik op die berugte Angolese jeugmisdadigers te kry. Van waar Tian en die vlieë­nier agter op sy bakkie die beste uitsig het, is hy die eerste om die vaalgrys kalfie tussen sy ma se voorbene te gewaar. “Skuins agter haar is nóg enetjie! Dis wragtag ’n tweeling!” roep hy uit terwyl die kamera begin rol.

Om die goeie nuus te bevestig, wuif Franco en hou twee vingers omhoog. Asof Temba en haar kroos weet hulle is beroemde televisiesterre, skuifel hulle slurp­swaaiend uit die beskermende kring vroedvroue na ’n sonkol tussen ’n plaat spekbome.

“Perfek! Het jy die driestuks ingekry, Joe?” verneem Fleur. “Speel bietjie rond en fokus dan op Franco. Wag tot hy opkyk … Vollengte, ’n aantal nabyskote, en in gesprek met die Koisan-spoorsnyer. Kry die watergat in die agtergrond in.”

Aralie klim agter op die bakkie om beter te kan sien. In haar vrolike bui kry selfs Tian ’n stralende glimlag toe hy ’n fris arm uitsteek om haar te help.

Toe hy terugkom, deel Franco aan almal sigare uit, of hulle rook of nie. Hy gryp Aralie om die lyf, swaai haar in die rondte en gee haar ’n klapsoen. “Het jy dit op kamera gekry?” vra hy en knipoog vir Joe.

Joe speel saam. “Die toneeltjie was ietwat kort. Kan jy dit so ’n minuut langer uitrek?”

“Toe maar, ek herhaal die hele toneel, van die begin af.” Franco kry Aralie in ’n stewiger greep beet, hou haar in ’n geesdriftige omhelsing en soen haar op die mond.

“Franco!” Sy beur blosend agteruit. “Jy kan nie –”

“Ek kan, ek het dit so pas bewys,” lag hy. “Toe maar, dit was sommer ’n grap. Dit sal nie op die program kom nie,” stel hy haar gerus.

“Is jy seker?”

“Natuurlik. Dit gaan oor die olifante, nie oor ons twee se liefdeslewe nie.”

“Hét ons ’n liefdeslewe?” vra sy parmantig en vryf met haar boarm oor haar mond. Franco het nie reg gemaak nie. Sy voel vies en selfbewus met almal wat vir haar lag.

“Franco, is jy reg vir die onderhoud?” vra Fleur en neem die handmikrofoon wat die klankman vir haar reghou. “Oukei, Joe? Het jy my in beeld?”

Sy wag tot hy na die skermpie langs die lens kyk en sy duim opsteek, vee haar hare netjies en begin dan praat. “Soos u kan sien, kuier ons vandag op die Balelapa-wildreservaat in Ovambo, in die noordelike uithoek van Namibië. Ons gasheer is Franco Conradie, internasionaal bekende natuurkenner, diereregte-aktivis en ook genoem die ‘olifantfluisteraar’. Franco, jy het so pas ’n kas vol sigare uitgedeel. Vertel ons wat die okkasie is.”

Franco was lektor by ’n Amerikaanse universiteit en is gewoond daaraan om sy woord te doen, ook as openbare spreker. Hy reageer vlot op Fleur se vrae en gesels boeiend, vertel kortliks die geskiedenis van die mishandelde jong olifante en sy stryd om hulle te rehabiliteer. Gaan gladweg voort oor aardverwarming en bedreigde spesies, die mens se rol in die heelal en wat hy kan doen om te vergoed, naamlik terugplaas in die natuur wat hy uitgehaal of besoedel het.

Aralie vergeet dat sy vir hom kwaad was. Sy luister na die meelewing en passie in sy stem. Staar meegevoer na die lig in sy oë en die magnetisme wat hy uitstraal. Hierdie betowerende man verteenwoordig sélf ook ’n bedreigde spesie, besef sy: ’n lid van die mensdom wat sy oortuigings uitleef, die daad by die woord voeg en sy deel bydra om die sterwende planeet te red.

“Die lewe is oorlewing,” sluit hy af. “Ons is almal saam in die stryd teen ondergang. Dis herwinning – reparasie en rehabilitasie – wat die drie komponente mens, dier en plant aan die lewe hou.”

Die kamera swaai na ’n plat stomp teen die heining waarop daar in swart letters ’n aanhaling uitgebrand is: Die mens kan nie skep nie, nie eens hérskep nie, hy kan slegs bewaar.

Dan is die onderhoud verby.

“Bravo!” sê Fleur saggies. “Jy kan nie die hele mensdom opvoed nie, maar as jy met hierdie uitsending darem één ou tot besinning roep, het jy jou doel bereik. Dankie, Franco. Ook vir die sigaar. Ek sal hom vir my kêrel gee.”

“Dewald? Wanneer kom julle twee eendag tot trou?”

Sy gee ’n laggie. “Eendag as hy ophou rook.”

“En ophou plastieksakke gebruik?” spot hy.

“Onder meer … Wanneer open Balelapa vir toeriste?”

“Julie volgende jaar.”

“Ek sal graag die opening dek en jou blootstelling gee. Sal jy my laat weet?”

“Heel eerste,” belowe hy. “Bring vir Dewald saam en kuier ’n maand. Ek sal vir julle die wittebrood-rondawel gee.”

Toe die helikopter oor die bult verdwyn, gaan maak Franco vir laas ’n draai by die nuwe aankomelinge. Tian en sy Etosha-kollegas mag saam ingaan, maar Aralie en Phillip moet agter die draad bly.

“Asof ek nie vinniger as daai lompvoete kan hardloop nie,” mor hy, en begin dan rondsnuffel na interessante vetplante waarvan hy ’n steggie kan steel.

In die Land Rover op pad terug kamp toe duur Franco se vrolike bui voort. “Hoe voel jou skouer, Dok?” wil hy weet. “Gesond genoeg om op die dorp te gaan feesvier?”

“Ja,” stem sy dadelik in, bly oor ’n kans om selfoonontvangs te hê. Sy is bekommerd oor Niel, en sy het lanklaas met haar ouers gepraat.

As hulle betyds wegkom, kan sy hopelik ook nog by ’n winkel uitkom vir inkopies. Sy soek ’n ekstra kortbroek, asook koeler toppies as die T-hemde wat sy ingepak het. Al werk sy nog skaars tien dae, het Franco haar aan die einde van die maand betaal en dis ’n luukse om geld in haar sak te hê.

Satyn Omnibus 4

Подняться наверх