Читать книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman - Страница 5

Оглавление

2

Niel vryf oor sy gesig, asof hy daarmee die troebel herinneringe aan die verlede kan uitwis. ’n Pyntrek keep diep groewe om sy mond en hy dwing sy gedagtes terug na sy gipsbeen wat in traksie is, na sy hospitaalbed en Aralie wat langs die bed staan, handsak oor die skouer en op die punt om weer uit sy lewe te stap.

Sy is nou rustiger, sagter. Dalk meer ontvanklik en begrypend wat betref menslike swakhede. Hy het self ook sedert hul egskeiding met wroeging en selfverwyt ouer geword. Verantwoordelik geword, besef waar sy prioriteite lê en wat hy in die lewe wil hê: hy wil sy vrou terughê …

Sy is vies omdat hy haar onder valse voorwendsels na die hospitaal gelok het. Dis te verstane, en hy het dit verwag. Maar iets in haar oë het nie saam geraas en baklei nie. Sy was bly om hom te sien en dit gee hom hoop.

Hy reik na haar hand en hou dit stywer vas toe sy weg­rem. “Dis wonderlik om jou weer te sien, Ralie,” fluister hy. “Ek het na jou verlang. Sonder jou is my lewe leeg, dobber ek doelloos heen en weer soos ’n kurkprop op die oop see.”

Aralie is ongemaklik. Niel moenie só na haar kyk nie. Soos toe hulle nog getroud was nie – asof hy haar wil nader­trek. Sy onthou te goed hoe dit gevoel het in die beskermende kring van sy arms, haar kop teen sy skouer en haar mond na syne gelig …

Sy maak sy vingers een vir een los en sit sy hand ferm terug op die grys-en-wit blokkiesdeken. “Moenie my Ralie noem nie,” sê sy, haar stem skerper as wat sy bedoel het.

“Ek sal nie,” belowe hy. “Ek sal ook nie weer aan jou raak nie. Belowe-belowe … Maar asseblief, moenie weggaan nie. Sit nog vyf minute en luister met ’n oop gemoed na wat ek vra.”

Teen haar sin besef Aralie dat sy na hom ook verlang het. Haar lewe was die afgelope jaar ook leeg. Niel was nie net haar man nie, maar ook haar beste vriend, simpatieke vennoot en klankbord wanneer sy moeg, bedruk of hartseer was oor ’n pasiënt wat sy nie kon red nie. Mens kan nie vier jaar van getroude lewe sommerso uitwis nie.

Niel het gemaak dat sy haar respek vir hom verloor en ’n weersin in hom as man ontwikkel het. Sy kon hom nie naby haar verdra of weer ’n slaapkamer met hom deel nie. Maar noudat die prentjie van hom en Marilee Martins daar op sy lessenaar in die spreekkamer geleidelik vervaag het, onthou sy hoe lief sy vir hom was.

Sy kan selfs daarin slaag om hom jammer te kry. Arme Niel het meer as sy deel gedoen om die druk van lang spreekure en die plaasbesoeke op slegte paaie vir haar te verlig. Dis hý wat moes sukkel om hul balansstaat elke einde van die maand te laat klop, hý wat moes spook om die lendelam yskas en rammelkasbakkie aan die gang te hou.

Sy weet sy het hom baie keer afgeskeep, weggedraai wanneer hy toenadering gesoek het. Voorgegee sy slaap en is onbewus van sy arm om haar heup en sy hand wat liefkosend oor haar bobeen streel. Maar sy was eenvoudig te moeg, gedreineer ná ’n lang dag by die praktyk. Niel het nooit gekla dat hy verwaarloos voel nie. Maar dis te verstane dat hy in ’n oomblik van swakheid kon knak, kon toegee aan die versoeking wat so openlik vir hom aangebied is …

Sy sug diep, swaai die handsak van haar skouer af en sleep weer die bankie onder die bed uit. “Goed, vyf minu­te. Praat, ek luister.”

Sy het verwag die woorde sal uittuimel soos ’n agent wat ’n tyddeel wil verkoop, om die grootste moontlike impak in die kortste moontlike tyd te hê. Maar Niel lê nadenkend agteroor teen die kussings. Hy maak sy oë toe en probeer aan haar die prentjies oordra wat soos ’n tafereel deur sy geheue flits.

“Balelapa se sonsondergange is ’n geskenk van Afrika. Van okergeel na appelkoospienk na viooltjiepers … Ek wens ek kon dit beskryf. Half wasig, met lugspieëlings oor die uitgestrekte wit panne, terwyl die sebras, gemsbokke en blouwildebeeste in ’n stofstreep aftou watergat toe. Daar’s kremetartbome en ’n kokerboomwoud, aalwyne en mopanies –”

“Jy het oor die foon gesê die plek is in die boendoe, ’n gramadoelas in die middel van nêrens,” onderbreek sy hom. “Is daar darem ’n hotel of iets? Chalets of rondawels?”

“Die rondawels is halfpad voltooi. Die reservaat is in aanbou en nog nie oop vir toeriste nie. Franco se eerste prioriteit is die wildkampe en rehabilitasiesentrum.”

“En waar slaap die mense intussen?”

“In woonwaens en tente.”

“Dit klink bra primitief. Is dit net ’n klomp mans, of is daar darem vroue by?”

“Daar is ’n hele konstruksiespan, bestaande uit bouers, verwers, landmeters en allerhande tegniese ouens. Baie van hulle is getroud, seker met kinders ook.”

“Watse geriewe het hulle? Darem behoorlike bad­kamers?”

“Die hoofablusieblok is nog nie klaar nie. Volgens die bouplanne lyk dit ultra-luuks, met ’n sauna en jacuzzi. ’n Span is ook aan die werk om ’n swembad uit te grawe, dis net grond en klip waar jy kyk. ’n Groot rots moes met dinamiet uitgeskiet word om ’n holte vir ’n rotspoel en waterval te vorm. Volgende week kom ’n landskap­argitek om die tuine uit te lê – alles natuurlik inheems, met ’n lapa waar saans ’n spitbraai aangebied sal word.”

Aralie is teen haar sin beïndruk, maar dit beantwoord nie haar vrae nie. “En intussen: wat eet en drink die werkers en waar kry hulle voorrade?”

Niel het daarop staatgemaak dat Aralie platsak is. Die feit dat sy uitvra, bring ’n mate van optimisme. Sy skiet Balelapa darem nie summier af nie. Dalk willig sy in om hom uit te help …

“Daar is voorsiening gemaak vir ’n restaurant en ’n soewenierwinkel wat aandenkings en inheemse kunswerke –”

“Niel!” val Aralie hom ongeduldig in die rede. “Hou op om soos ’n advertensiebrosjure te klink. Ek gaan nie met ’n sak vol geld daar vakansie hou nie. As ek my dálk ’n gat in die kop laat praat en in ’n seniele oomblik inwillig om jou kastaiings uit die vuur te krap, sal dit wees om te gaan wérk. Daarom wil ek weet wat om te verwag. Hoe ver is hierdie boendoes van ’n dorp af?”

“Nege en dertig kilometer,” antwoord hy en hoop sy vra nie verder uit nie.

“Van wátter dorp af?” dring sy aan.

“Otjikavi.”

“Met ’n geroeste sinkafdak waar hulle brood en tsam­mas verkoop?”

“Was jy al op die dorp?” troef hy haar.

“Nee,” erken sy.

“Otjikavi het ’n koöperasie, ’n poskantoor, ’n hotel en selfs ’n vliegveld.”

Dit klink beter, maar sy speel steeds duiwelsadvokaat. “Vliegveld? ’n Strook woestynsand met ’n verflenterde windkous?”

Hy skud sy kop. “ ’n Behoorlike aanloopbaan waarop vragvliegtuie met toerusting vir die Ruacana-water­skema kan land, asook kommersiële vliegtuie. Franco self het ’n sessitplek-Beechcraft wat hy daar berg en gebruik om voorrade mee in te vlieg.”

“En ook toeriste, as die reservaat eendag oop is?”

“Net in ’n noodgeval. Balelapa lê op die Oshakati-Rua­cana-teerpad. Dis maklik bereikbaar vir toerbusse of privaat voertuie, behalwe in die reënseisoen van Desember tot Maart, wanneer net viertrekvoertuie sal kan deurkom. Maar dan is dit in elk geval buite seisoen en te warm vir besoekers, dan konsentreer ons op teling en rehabilitasie.”

Aralie byt senuweeagtig op haar onderlip. “Ek het nie jou kennis en ervaring in daardie veld nie.”

“Dit maak nie saak nie, want jy sal dit nie nodig kry nie, dis nou eers Oktober. Al wat jy moet doen, is net vir ses weke die fort hou tot ek op die been is, dis al. En dis goeie geld, strate beter as wat jy by die motel kry.”

Enigiets sal beter wees as die derderangse motel, dink Aralie, waar die derderangse gaste dink die ontvangsdame is by die prys van die kamer ingesluit – dag en nag tot hul beskikking …

“Wat presies sal my pligte by die reservaat behels?” wil sy weet.

“Niks wat jy nie sal kan hanteer nie. Daar’s nie ’n verskil of jy ’n foksterriër se been spalk of ’n bok s’n nie. En ’n af vlerk is ’n af vlerk, hetsy dit ’n budjie of ’n valk is. Almal raak siek, party word gesond en party gaan dood. Dis basies dieselfde werk as wat jy in die praktyk gedoen het.”

“Presies dieselfde, ja,” stem Aralie saam. “Net heeltemal anders.”

“Jy het mos nog altyd van uitdagings gehou.”

“Miskien …”

Hy kruis sy vingers. “Beteken dit jy gaan hierdie een aanvaar?”

Aralie sê nie ja nie, ook nie nee nie. Nog lank nie. Niel het ’n manier om dinge in pienk sellofaan toe te draai as dit hom pas, en daar’s nog te veel grys areas om met hom uit te klaar.

“Hierdie Balelapa-reservaat van jou is anderkant die gopse. Amper in Angola! Noag sal die ent pad soontoe nooit maak nie. Hy het amper nie eens vandag die hospitaal gehaal nie.”

“Noag?” frons Niel. “Leef die ou oliebol nog?”

“Op genade.” Sy huiwer, wetend sy moenie in die verlede teruggrawe nie. Dit bring net nuwe seer waar die rowe al toegegroei het. “En die plaasbakkie?” vra sy tog.

“Lankal ’n hoenderhok in iemand se agterplaas. Franco is op die oomblik in Walvisbaai vir sake. Ek sal hom vra om jou met die terugvlug op Windhoek se lughawe op te laai.”

Sy trek ’n gesig. “Jy weet ek en ’n vliegtuig is nie maats nie. Is daar nie ’n trein of bus wat ek kan haal nie?”

Hy skud sy kop. “Dis net ’n kort hop. Jy sal skaars in die lug wees, dan land julle al weer.”

Twee dae niks eet nie en voor die tyd ’n kalmeerpilletjie drink, neem Aralie haar voor. Maar dis later se probleem. “Is jou baas tevrede met die idee van ’n plaasvervanger?”

“Ja wat, hy’s nie moeilik oor daardie soort ding nie.”

Aralie kyk na haar eks, wat weggedraai het om ’n sluk te neem uit die bottel koeldrank wat op die bedkassie staan. Seker sy ma wat dit gebring het. Iets stem haar onrustig. Was dit ’n toevallige woordkeuse, of skuil daar iets meer agter Niel se woorde?

“Oor watter soort dinge is hy moeilik?” steek sy voelers uit.

“Niks, hy’s ’n ou wat krisisse met sy linkerhand hanteer.”

“Het jy hom gesê jou gewese vrou is die plaasvervanger?” dring sy aan.

Niel hou opeens sy kop vas. “Bietjie duiselig …” mompel hy. “Seker vertraagde skok.”

Sy spring op. “Moet ek die suster gaan roep?”

“Toe maar, sal nou-nou reg wees …”

Sy buk oor hom en lê haar hand op sy voorkop. Hy is nie koorsig nie. Die sny teen sy kop lyk nie diep nie, maar is dalk as gevolg van ’n harde stamp wat harsing­skudding kon veroorsaak het. Of daar kan inwendige beserings wees.

Niel se ooglede flikker terwyl hy Aralie onderlangs dophou. Haar hare hang los oor haar skouers en die laatmiddagson tel die brons liggies daarin op. Haar vel is satynglad, koel en sag – dit weet hy uit eerstehandse ervaring. Voeg daarby die paar dromerige lemmetjiegroen oë met die lang wimpers, en sy is nou selfs begeerliker as destyds.

Hy wonder wat haar reaksie sal wees as hy haar vooroor sou trek sodat sy bo-op hom land. Dit sal hemels wees om weer daardie sagte kurwes teen sy lyf te voel en haar hare te ruik, haar te soen en in sy arms vas te hou. ’n Siddering trek deur hom en sy asem slaan in sy keel vas. Hy is te bang om dit te waag, bang vir sy eks se reaksie en nóg banger vir daardie suurpruimsuster met die spuitnaald wat sy soos ’n wapen gebruik. Om die versoeking te weerstaan knyp hy sy oë toe.

“Niel?” vra Aralie bekommerd en raak aan sy wang. Hy lê so onnatuurlik styf en sy asem klink rukkerig …

Niel kan homself nie keer nie. Hy vang haar hand in syne en druk dit teen sy mond. Sy lippe streel liefkosend oor die rugkant en oor haar vingers. Dan draai hy dit om en druk ’n passievolle, koorsige warm soen in haar palm.

“Ek het jou lief,” fluister hy gesmoord. “Ek sal nooit ’n ander vrou in jou plek kan stel nie.”

In plaas daarvan om ’n vlammetjie in haar aan te steek, is Aralie geïrriteerd. Sy wikkel haar hand los.

“As jy vryerig en soenerig is, makeer jy niks. Hou op om my vrae te ontduik en my aandag af te lei. As jy wil hê ek moet jou help, moet jy eerlik met my wees. Is jou werkgewer moeilik – van die soort wat sy pond vleis eis?”

Hy kies sy woorde en probeer dit taktvol stel. “Franco kan soms nogal … geldend wees, as mens droogmaak.”

Sy kyk agterdogtig na hom. “Geldend? Is dit ’n ander woord vir dominerend?”

Hy sug. “In alle eerlikheid, Ralie: dink jy hy sou kon bereik wat hy het as hy ’n slap jellievis was? Dis nie soseer ’n geval dat Franco moeilik is nie, net dat hy hoë standaarde stel, omdat hy self so kundig en bekwaam is. Toe ek die naweek op Balelapa was, kon ek nie glo wat hy in minder as ’n jaar in daardie woesteny reggekry het nie. Hy het natuurlik die geld om dit te doen, maar ’n ou moet ook die deursettingsvermoë en kennis hê.”

“Het hy kennis van veeartsenykunde?”

“Genoeg om die reservaat aan die gang te hou, maar hy het ’n gekwalifiseerde veearts nodig. Franco is reguit en sonder tierlantyntjies. Wat jy sien, is wat jy kry. Moet hom net nie kwaad maak nie, anders beter jy weghol en in die naaste boom klim.”

Niel ken sy eksvrou. Sy is nie die wegholsoort nie. Eer­der as om Aralie af te skrik, sal sy hierdie projek as ’n kans beskou om te wys wat in daardie tenger figuurtjie van haar steek. Te wys dat sy die werk net so goed soos enige man kan doen, indien nie beter nie.

“Hoe het jy vir hierdie voortreflike baas van jou gesê: wie is die plaasvervanger wat jy sal voorsien?” vra sy weer.

Niel hoes ’n slag en soek uitkoms, maar sy laat haar nie weer van stryk bring nie en wag geduldig.

“ ’n Familielid,” skerm hy.

Aralie se wenkbroue trek saam in ’n frons. “Dis mos jok! Ek’s g’n familie nie!”

“Jy is,” stry hy. “Aangetroude familie. ’n Ou se vrou en kinders is mos sy familie.”

“Ek is nie meer jou vrou nie,” herinner sy hom koel.

“Op Balelapa is daar nie onderskeid nie – almal is soos een groot familie, volgens die tradisie wat die plek sy naam gegee het.”

Aralie is nie beïndruk nie. “Die man dink seker ek is ’n neef van jou, of ’n broer of iemand. Hoekom was dit nodig om die waarheid te plooi? Het hy ’n ding teen vroulike veeartse? Vroue oor die algemeen?”

“Nee, glad nie. Inteendeel, Franco het nogal ’n slag met vroumense. Ons was die Saterdagaand by die hotel op Otjikavi en daar was so ’n sexy dingetjie wat heelaand aan hom geklou het asof sy vasgegom was.”

“ ’n Tweede Marilee?”

Die oomblik toe die woorde uit is, is Aralie spyt. Dit was kleinsielig en dis nie hoe sy wil wees nie. Sy het tydens die skeisaak kaalvuis haar sê gesê, maar nou wil sy vergeet en aanbeweeg, die ou koeie in die sloot los.

Niel se gesig word rooi en hy staar strak voor hom uit.

“Jammer,” sê Aralie kortaf.

“Ek ook, Ralie,” antwoord hy sag. “Bitter jammer … Dis nie dat ek haar bo jou verkies het nie. Ek was dom. Ek het nie gedink nie, nie die implikasies besef nie.”

Sy haal haar skouers niksseggend op, nie lus om weer op die snuifgetrapte spore terug te loop nie.

“Hierdie Franco-ou klink welaf,” verander sy die onderwerp. “Waar kry hy al sy geld?”

“Hy was ’n dosent in Amerika en het ’n boek geskryf oor olifantgedrag, wat ’n topverkoper was. Hy was ook stigter van die Green Earth Foundation, wat wêreldwyd omgewingsbewustheid bevorder. Franco is kort-kort in die nuus, en hy het ’n tyd terug ’n natuurreeks op televisie aangebied: Woestyne wat blom. Dalk het jy dit gesien?”

Aralie se oë rek. “Bedoel jy Franco Conrádie?”

“Dis hy.”

“Is Balelapa sý plek?”

Sy kyk min televisie, maar het toevallig die eerste aflewe­ring van die reeks gesien. Hoewel dit ’n jaar gelede was, onthou sy die aanbieder goed: ’n dinamiese en fassinerende spreker. Groot ou, met langerige, vlasblonde hare. Bruin­gebrand en lenig. Wat sy egter die beste onthou, is sy mond. Wyd en sensueel, asof hy maklik lag en lekker soen. ’n Mond wat ’n vrou langer laat kyk as wat betaamlik is. En die TV met die volgende aflewering weer laat aanskakel.

“Hoekom het jy nie vir my gesê dis hý nie?” wil Aralie weet.

“Ek het kort-kort van hom gepraat en sy naam genoem, ek dag jy weet.”

“Hy lyk na ’n … ’n interessante man,” erken sy. Selfs in haar eie ore klink dit na ’n vaal en ontoereikende beskrywing.

Niel is nie seker wat om van haar reaksie af te lei nie. “Beteken dit jy sal vir hom gaan werk?”

Aralie se gemoed is soos ’n mallemeule wat te vinnig draai en haar nie kans gee om af te klim nie. Tot nou toe was die werk in die wildreservaat ’n vae moontlikheid. Nou het die vaagheid egter lyf gekry en ’n werklikheid geword wat haar met ’n vreemde opwinding vul.

“Wanneer sou jy daar begin het?” vra sy om tyd te wen.

Hopelik is daar nog kans om te besin. Franco Conradie is ’n legende en sy sal die man graag wil ontmoet, maar sy moenie oorhaastig op loop gaan nie – sy wat haar daarop roem dat sy sinies en wêreldwys is. ’n Televisieskerm is geduldig. Die regisseur het seker die swak skote geredigeer en in lewende lywe is Franco Conradie dalk ’n nare, selfgesentreerde mens.

“Maandag,” antwoord Niel.

“Watter Maandag?”

“Eerskomende.”

“Dis … oormôre!”

“Dis hoekom ek jou so dringend wou sien,” verduidelik hy. “Hoekom ek gesê het dis ’n kwessie van lewe of dood. Jy kan nie nou kop uittrek nie, Ralie. Gooi net ’n paar denims, kortbroeke en T-hemde in ’n tas. Dis nie ’n leeftyd nie. Die ses weke sal vinnig verbygaan, en waarskynlik heg my been gouer. Beskou dit as kosbare ondervinding wat jy opdoen vir jou CV. Jy is ’n goeie veearts, Aralie. Jy sal nie sukkel nie, en ek is net ’n oproep ver as jy raad nodig het. Ek of Franco – hy sal help as jy ’n probleem optel.”

Miskien is dit beter as sy nie tyd het vir wik en weeg en kleinkoppie trek nie. As sy net pak en gaan. Sy het die geld desperaat nodig. En op ’n manier voel sy half onder ’n verpligting om Niel te help.

“Ek ken ou Gys Botha van Sonop Motel,” voeg Niel by. “Ons was saam op skool. Ek sal my stem dik maak sodat jy onmiddellik kan bedank.”

Darem één ligstraaltjie, dink Aralie, is om ontslae te wees van daardie sweterige lummel in kamer 15 wat haar saans met sy knoffelasem voorlê en al knaen­der aandring sy moet saam met hom ’n drankie kom drink. Sy het al by Gys ge­kla, maar hy het dit afgelag. Al wat vir hom saak maak, is om die kliënte gelukkig te hou.

“Dankie, dit sal gaaf wees.”

“Dis ek wat vir jóú moet dankie sê.” Niel straal van verligting en lyk of hy haar wil omhels. “Jy’s ’n engel! ’n Skatte­bol!”

Aralie retireer voor hy haar kan nadertrek. Sy staan ’n veilige tree weg, met die bankie tussen hulle. “Ek beter gaan. Die tyd is min en daar is berge goed om te doen voordat ek sal kan wegkom.”

“Laat my ma daarmee help. Sy sal graag haar deel doen, al is dit net om te vergoed vir die leuen en omdat sy jou so laat skrik het.”

“Ek sal sien,” belowe Aralie op pad deur toe.

“Sy hoop nog altyd ons twee kom weer eendag by mekaar uit.”

Aralie antwoord nie.

“Ek bel jou vanaand!” roep Niel nog agterna toe sy uitstap.

Satyn Omnibus 4

Подняться наверх