Читать книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman - Страница 8

Оглавление

5

Al is die woonwa ruim, is Aralie kort-kort in Franco se pad terwyl sy uitpak en hy inpak. Sy is ongemaklik in sy teenwoordigheid en voel skaam oor die ongerief wat sy hom aandoen. Om weg te kom neem sy haar medi­synetas en gaan besoek haar twee pasiënte.

Die draaijakkals is sku, maar aan die manier waarop sy bakore in haar rigting draai, kan sy sien dat hy geïnteresseerd is in haar teenwoordigheid. Sy oë is helder, die kleur van sy tandvleise normaal en sy pels gesond. Alles goeie tekens.

Sy kuier ’n rukkie en vul die outjie se waterbak, dan skuif sy aan na die duiker. Hy laat toe dat sy in die hok ingaan en naby hom hurk. Dis ’n lelike wond aan sy agterbeen – ’n diep sny en stukke vel uitgeskeur soos die arme ding uit die strik probeer loskom het. Iemand het die wond skoongemaak en die wande met ’n paar steke geheg. Daar is nie veel wat sy kan doen nie; net die plek ontsmet en antibiotika­poeier oorstrooi.

Sy neem haar kans waar en bel Niel, maar hy antwoord nie. Toe sy op die skerm kyk, sien sy daar is nie opvangs nie. Sy sal later weer probeer, bo van die bult af, waar hopelik ’n sein sal wees. Toe sy omdraai, sien sy die skaaphond het haar gevolg en lê geduldig in die koelte en wag.

“Wie pas jy op?” vra sy. “Vir my of die pasiënte?”

Sef se stert kwispel en hy laat sak sy kop op sy voorpote.

“Soet hond,” prys Aralie hom. “Wie het jou so mooi geleer?”

“Franco,” sê Tian agter haar. “Dis sy hond. Jy moet oppas – hy is so goed geleer, hy keer als aan. Netnou keer hy jou ook aan.”

“Dis waarvoor skaaphonde geteel is.”

“Tensy die baas hom voorspring …” skimp hy en lag vir sy eie grap.

Aralie vind dit nie snaaks nie. “Verskoon my,” sê sy stroef en draai terug.

“Wag, ek help jou dra, Dok,” bied Tian aan.

Toe hy die emmer by haar neem, kyk hy nuuskierig na haar. “Van Dyk? Is jy en Niel getroud?”

“Wás,” antwoord sy kortaf. Nie dat dit enigiets met hom te doen het nie …

“Nou verstaan ek dinge ’n bietjie beter.” Hy vryf met sy palm oor sy dagoud-stoppelbaard. “So, hy gee nie om oor jou en die baas nie?”

Aralie se wenkbroue trek saam in ’n frons. “Wat bedoel jy?”

Tian trap klei. “Jy en Franco … Julle twee – almal kan sien dat julle ’n ding aanhet.”

“Waar kom jy daaraan?” vra sy onthuts. “Ek ken hom van geen kant af nie. Ek het hom vanoggend die eerste keer ontmoet.”

“Vanoggend?”

Dis duidelik dat Tian haar nie glo nie. By die spreek­kamer sit hy die emmer op die tafel neer en gee ’n sarkastiese snuif. “As dit kastig so is, hoekom wou Franco my dan sommer bydam oor ’n onskuldige ou grappie?”

Aralie stem nie saam dat dit so danig onskuldig was nie. Maar sy stry nie, want sy wil nie in ’n argument betrokke raak nie.

Tian hou egter aan karring. “Ek het oë in my kop, Dok. Ek kan sien hoe hy na jou kyk.”

Haar stem kry ’n kil klank. “En dit is?”

“Moenie jou kamma dom hou nie. Jy was getroud, jy weet mos van hierdie goed …” Hy grynslag insinuerend. “Soos wanneer ’n man ’n vrou wil hê.”

Aralie stik byna en plak haar medisynetas met geweld neer. Sy konfronteer die veldwagter, hande op die heupe soos ’n viswyf. “Jy is platvloers en vulgêr, met net een ding op jou brein!”

“Dis waarvoor ’n man daar is,” tart hy haar. “Vir daardie dinge wat oemf in sy battery sit.”

“Is dit al waaraan jou twee simpel breinselle dink?”

“Nee, soms dink ek aan rugby, en Vrydagaande dink ek aan bier en brandewyn ook. Wat het Franco Conradie wat ek nie het nie?”

“Goeie smaak en integriteit. Beskaafdheid. Ordentlikheid.”

“Plus ’n vet beursie. En dis die dinge wat gemaak het dat jy dadelik jou tasse in sy woonwa gaan sit het, al het jy hom kamma eers vanoggend ontmoet? Of het jy gehoop die baas sal jou salaris opstoot?”

Asof sy ’n goedkoop tert is … Aralie gooi ’n bottel Dettol na hom, maar hy koes. Aaklige, vermetele skepsel!

“Ek hou nie van jou insinuasies nie. Bly uit my pad uit!”

Hy geniet dit. “Ditsem! Dis hoe ek van my vroumense hou. ’n Wilde tierkat wat ek kan tem.”

“Ráák net aan my!” dreig sy.

“Is dit ’n uitnodiging?”

“ ’n Waarskuwing. Waag dit en jy sal jammer wees.”

“O ja?” lag hy honend. “Kyk hoe bewe my broek … Wat sal jy maak? My met jou hoëhakskoen gooi? Of met ’n naelvyltjie steek?”

“Nee.” Aralie kyk hom vas in die gesig, sonder om ’n oog te knip. Haar stem daal ’n paar desibels, sodat dit bedaard klink, amper gesellig. “ ’n Gaboenadder se gif met ’n lepel suiker meng sodat jy dit nie sal proe nie, en dit in jou koffie roer. Dan agteroor sit en wag tot jou oë omdop, jy rukkings kry en skuim by jou mond uitloop. En dan sal ek wegstap en ’n graaf gaan haal om ’n gat mee te grawe.”

Tian gaap haar oopmond aan. Hy kan dit nie glo nie – so ’n mooi dingetjie, en so moorddadig! G’n wonder haar man het haar gelos nie. Seker bang gewees vir haar. Want dit klink of sy elke woord bedoel. Dit dalk al voorheen uitgetoets het …

“Oppas, jou kakebeen gaan uithaak,” maan Aralie met ’n soet glimlaggie.

Tian klap sy mond toe. Hy gluur haar aan, draai op sy hak om en verkas.

Aralie tel die bottel Dettol op en wag tot hy buite sig is voor sy toegee aan ’n lagbui. Hopelik sal hy in die vervolg draaie om haar loop en ophou om haar te teister.

Toe sy by die woonwa kom, is Franco klaar. Die sytent is ingerig en die woonwa se kaste leeg. Nou eers besef sy hoe die opset seker vir ander mense moet lyk. Mense wat nie weet van die skuif aan die binnedeur nie, en dat sy mans uit haar lewe verban het nie.

Sy was moeg en op haar senuwees, en Tian Harmse was die enigste ander opsie wat blyplek betref. Nogtans kan sy nie glo dat sy Franco soveel vertrou nie – genoeg om ses weke lank by hom te loseer, met slegs ’n dun splinterhoutafskorting en ’n klein skuifslotjie tussen hulle. As dit Tian Harmse was, het sy ’n dubbelloophaelgeweer gaan koop.

Is dit omdat sy intuïtief weet dat al daardie dinge van ordentlikheid en integriteit waar is? Omdat Franco eerbaar is en sy hom vertrou? Of omdat haar hart onbedaarlik versnel wanneer hy naby is en aan haar verstand voorskryf wat om te doen?

Sy is verstom dat haar verstand ewe gedwee toegee. Wat dan van sy arrogante houding op die vliegtuig en al die lelike goed wat hy kwytgeraak het? Alles vergewe en vergete, net omdat hy ’n mooi mond het wat lyk of dit lekker soen?

Franco sit met sy skootrekenaar by ’n tafel en kyk vraend op. Hy merk die verontwaardiging wat steeds op haar gesig leesbaar is. “Jy was lank weg. Probleme gehad?”

Sy glimlag onskuldig. “Niks wat ek nie kon hanteer nie.”

Onder die tentflap deur het hy Aralie by die hokke gesien, en in gesprek met Tian Harmse. Aan hulle lyftaal kon hy aflei dis nie ’n aangename geselsie nie, en hy was reg om te gaan help as dit lyk of sy hulp nodig het. Hy was verbaas toe sy hardebaard-veldwagter skielik die aftog blaas; verras om te sien dat die brose rooikoppie haar kan laat geld. Blyk­baar is sy werklik nie die hulpelose, huilerige soort nie. Nietemin bly sy sy verantwoordelikheid en sal hy ’n oog hou. Ongemerk, anders is sy weer op haar agtervoete en takel hóm ook.

Aralie sien die laatmiddagson in sy oë weerkaats, sodat hulle half deurskynend lyk. Soos ou wyn of droë sjerrie teen ’n kersvlam. Die sonstrale deur die tentflap gooi dele van sy gesig in die skadu, wat die lyn van sy sterk ken en kakebeen beklemtoon. G’n man het die reg om só te lyk nie, mymer sy. Dis ’n onbillike voorsprong. Die dekselse man is onweerstaanbaar. Geen wonder die meisie by die hotel op Otjikavi het soos ’n neet aan sy arm geklou nie. Sy sou dieselfde gedoen het.

Sy merk skielik dat daardie paar ougoud-oë haar dophou, terwyl ’n lui glimlag om sy mondhoeke speel. Sy skrik. Wat as hy gedagtes kan lees? Sy sal die vlaktes in vlug. Staan hier soos ’n verliefde tiener en dweep, asof sy vir die eerste keer uitgevind het daar bestaan iets soos die Adamsgeslag.

Hy het ’n meisie, en jy is ’n ontnugterde, hardgebakte, geskeide vrou, herinner sy haarself. Staak hierdie bakvissiehouding en konsentreer op jou werk. Dis hoekom jy hier is. Nie om vir die baas flikkers te gooi nie.

Haar preek het die gewenste uitwerking. Toe sy praat, is haar stem saaklik en professioneel. “Die beseerde duiker se wond heg goed, en die jakkals toon nie negatiewe simptome nie. Waarvoor is hy in kwarantyn? Hondsdolheid?”

Franco knik bevestigend. “Hy kom uit ’n dieretuin in een van die buurstate en ek wil nie kanse waag nie.”

“Daar is geen tekens van koors of spierspasmas nie,” bevestig sy haar diagnose. “Maar ek sal hom monitor. Watter veldpasiënte het ek?”

Hy verduidelik van die witkruisarend wat in kragdrade vasgevlieg het, ’n gedehidreerde vlakvark wat by ’n water­gat in diep modder vasgesit het, en ’n trop buffels met vermoedelik bek-en-klouseer wat in ’n aparte kamp afgesper is.

“Maar dis vir môre,” keer hy. “Koosjan hou ’n oog. Vandag is jy nog nie aan diens nie. Pak uit en raak tuis. Gaan stort, was hare of verf jou toonnaels – wat ook al vroumense doen om te ontspan.”

Verf haar toonnaels? Sy wat nie eens met haar víngernaels moeite doen nie. Was dit ’n skimp dat sy on­ver­sorg is? Aralie ruk haar op, dadelik op die verdediging.

“Hokaai! Dit was sommer ’n grap,” keer Franco en hou sy hande omhoog. “Moenie skiet nie, ek kom in vrede.”

Sy is te liggeraak, besef Aralie. Niel het haar vertroue geskok, maar sy moenie altyd die slegste van mans verwag nie. Dit was nie kritiek van Franco nie, sommer net ’n grap.

“Jammer, dis ek wat nie ’n sin vir humor het nie,” erken sy.

Sy lyk rustiger, en hy gebruik die kans om vir haar ’n stoel nader te trek. Hy stoot die rekenaar opsy en sit agteroor.

“Ek wou die kwessie al vroeër geopper het, om misverstande uit die weg te ruim. Maar daar was nog nie ’n geskikte geleentheid nie.”

Hier kom dit, dink Aralie. Hael en blitse. Net toe sy haar valhelm afgehaal het.

Hy merk hoe sy verstyf. “Ontspan, Aralie. Ek gaan jou nie op die treinspoor vasbind nie. Ek praat van tydens die vlug …”

Toe sy nie verstaan nie, verduidelik hy ietwat verleë: “Ek kon sien jy was lugsiek.”

En sy dag sy het daarin geslaag om haar skandes te verbloem …

“Ek was nie, ek was piekfyn,” skerm sy.

Sy gaan dit nie vir hom makliker maak nie, besef hy en pak die bul by die horings. Hy moet dit verbykry en die lug suiwer, voor hy ook soos die vlakvark in die modder vasval.

“Dis nie ’n skande nie. Ek was al ’n keer op ’n skip naar, só siek dat ek naderhand bang was ek gaan nié dood nie. Ek weet hoe dit voel en wou jou help deur jou aandag af te lei. Simpatie sou dit vererger het, en al waaraan ek kon dink, was om jou kwaad te maak. Só kwaad dat jy vergeet jy’s lugsiek.”

Aralie maak soos Tian Harmse: gaap hom stomgeslaan aan.

Franco is baie verskonend. “Ek kan nie onthou wat ek alles gesê het nie, maar niks daarvan was waar nie –regtig. Moet niks kop toe vat nie. Dit was noodmaat­reëls tydens ’n krisis, dis al.”

“Dat ek my kant moet bring en dat jy nie baba-oppasser gaan speel nie?”

“Drastiese noodmaatreëls,” herhaal hy.

“En dat jy nie passasiers op Balelapa duld nie?”

Hy sidder. Dit was ’n bietjie onder die belt …

“Die beste wat ek op kort kennisgewing kon uitdink. Gehoop die doel heilig die middel.”

Dié dat sy aangevoel het sulke kleinlikheid is nie in Franco se aard nie … Sy moes dit geraai het. As sy nie so siek was nie, het sy geraai hoekom hy so aaklig was en wat hy probeer bereik het. Die klip wat in haar binne­ste gaan lê het, word ’n veertjie wat lig en baldadig tussen die wolke in verdwyn.

“Ek het gedink jy is ’n verwaande buffel,” bieg sy.

“Dit kon erger gewees het: ’n ongeskikte vark of ’n dom skaap.”

“ ’n Lae luis!” Sy probeer erger beledigings uitdink, maar hy lyk so vol berou, sy kan nie vir hom kwaad bly nie.

Lagplooitjies kreukel langs haar oë. “Jy moet gaan vir ’n oudisie vir ’n rol in ’n sepie.”

Franco lag nie saam nie. “Ek het oorspeel. My woorde was te kras.”

“Krisiskontrole,” spot sy. “Om te keer dat ek in jou mooi, skoon vliegtuig mors.”

“Dit kon ’n krat gewees het, met kougom aanmekaar geplak, jy sou nie eens opgelet het nie.”

“Al wat ek opgelet het, was dat daar nêrens ’n lugsieksakkie was wat ek kon gebruik nie, indien nodig.”

“ ’n Oorsig,” erken hy, “wat dadelik reggestel sal word. Soos die kwessie van ’n twee-weke-proeftydperk. Dit was onbillik, maar ek wou jou uitkomkans bied as jy nie op Balelapa kon aanpas nie.”

“Dankie.”

“As ek aanbied om vanaand kos te maak, is ek vergewe?” vra hy mooi.

Sy dink eers na. “Solank jy nie die kaviaar laat aanbrand nie.”

“Belowe. En ook nie die soufflé laat platval nie.”

Niel kon skaars bokspap maak. En in die proses het hy die hele kombuis vol skottelgoed gelaat, wat sý agterna moes opwas. Aralie kom agter dis lekker om bederf te word en gee oor sonder teëstribbeling. “Ek sal môre dubbel my kant bring,” belowe sy.

Sy gaan na die woonwa en soek ’n handdoek en skoon T-hemp. Om bederf te word deur ’n man wat jou hartkloppings gee … Wat meer het ’n vrou in die lewe nodig? ’n Bad, ’n skropborsel en ’n bottel sjampoe, probeer sy rea­listies bly.

Sy moenie idees kry oor hierdie man nie. Al hoekom hy haar kos gee, is om haar kragte vir môre op te bou.

Toe sy uit die woonwa kom, is Franco buite by ’n braaier besig.

“Ek het nie baie klere saamgebring nie en het net een kas nodig. Jy kan die res kry vir jou goed,” bied sy aan.

Hy breek ’n paar doringhouttakke en bondel koerant­papier tussenin. “Dankie, ek sal kyk.”

Aralie het gehoop op ’n bad, maar daar is net twee storte. Darem skoon en met warm water, te danke aan die gasgeiser. Sy voel lugtig sonder ’n deur wat kan toemaak, maar troos haarself dat Franco waghou en dat die boskamp stil is. Tian se bakkie is weg en daar’s nie mense by die ander woonwaens nie.

Sy spits haar ore, maar al wat sy hoor, is ’n korhaan wat na sy maat roep: So wrragtag! So wrragtag! Hoop maar vir die beste, besluit sy en trek haar T-hemp en denim uit.

Dis salig … Lekkerder as treinry en vyekonfyt. Sy maak haar oë toe, lig haar gesig onder die stortkop en voel hoe die stomende water ’n lafenis is wat die moegheid, spanning en spinnerakke in haar kop wegspoel. Om te vergoed vir die gemis aan badolie gebruik sy ’n milde hoeveelheid sjampoe.

Haar ore is vol seep en die water raas. Sy hoor nie die naderende voetstappe nie, net vaagweg ’n stem wat praat – na iemand roep.

“Hallo, Franco! Du bist zurück?” vra ’n manstem in Duits.

Aralie se oë vlieg oop. In die deuropening staan ’n vreemde, ouerige man, versteen soos ’n soutpilaar. Sy ruk byna die reling af toe sy soos blits haar handdoek opraap en om haar drapeer.

“Sperrgebiet!” roep sy in haar verroeste skool-Duits uit. Toe hy verstar bly staan, diep sy nog ’n woord uit haar geheue op: “Verboten!” Verbode is ’n woord wat hy sal verstaan.

“Wragtag … ein Mädchen!” stotter hy.

Sy kan nie onthou wat “loop” in Duits is nie. “Gehen!” probeer sy.

Voor hy kan reageer, kom Franco vervaard ingehardloop. Sy oë lyk soos sopborde en hy swaai wild met sy arms. “Hans, uit! Aus! Hieraus!

Dit bring die Duitser in rat. Hy druk sy hande voor sy oë en skuifel blind in die rigting van die deur.

“Jy ook, meneer Conradie!” gebied Aralie. “Loop! Ja, dadelik! En moenie loer nie!”

“Nooit!” Hy plooi sy mond in ’n bedeesde lyn. “Nie eens met een oog nie, al is die versoeking groot.”

“Lag jy?” vra sy dreigend.

“Hoegenaamd nie,” verseker hy haar. “Dis ’n ernstige saak.”

“Loop!” herhaal sy. “En vat daardie soutpilaar saam!”

Franco lei Hans Schreuder aan die arm buitetoe. Voor die twee hulle uit die voete maak, roep Franco tergend oor sy skouer: “Nogal ’n oulike moesie daardie een op jou sitvlak.”

Aralie val daarvoor en gryp na die handdoek, net om te voel alle agterste dele van haar anatomie is veilig bedek. Sy antwoord nie, maar die koekie seep wat hom teen die rug tref, is bewys dat sy wel gehoor het.

“Moet ek die seep terugbring?” bied hy sedig aan. “Waarmee gaan jy was?”

’n Onheilspellende stilte volg en Franco waag dit nie verder nie.

“Jy kan nou maar jou oë oopmaak, Herr Schreuder,” gee hy toestemming en stoot Hans in die rigting van sy woonwa.

“Es tut mir leid, prewel Hans verskonend.

Bitte. Dis nie jou skuld nie. Ek wou jou waarsku, maar ek was te laat. Toe maar, die handdoek was darem groot genoeg om alles toe te maak.”

“Ach so?”

“Ja, en gelukkig het jy nie jou bril opgehad nie.”

“Nein, óngelukkig,” korrigeer hy met ’n droë laggie. Dan wil hy weet vir wie se gebruik die Mädchen daar is.

“Niemand s’n nie, net vir die diere se gebruik. Sy is ons nuwe veearts. Tierveto.

Ach, jammer …”

Franco klap hom troostend op die skouer. “Hoe vorder jou impakstudie?”

Danke gut.”

“Vra maar as jy hulp nodig het,” bied Franco aan en loop om na sy vuur te gaan kyk.

Toe Aralie tien minute later skoon, droog en kuis aangetrek uit die badkamer kom, is Franco besig om biefstukke op die kole om te draai. Hy het twee kampstoele reggesit, en ’n tafel met tamaties, broodrolletjies en twee glase rooiwyn.

Hy is versigtig om nie haar oog te vang nie en kyk doer ver oor die donker horison. “Mooi aand, is dit nie?” merk hy luiters op.

Aralie kyk agterdogtig na hom, nie gerusgestel deur die neutrale stemtoon nie.

“Dit lyk na reën,” las hy vroom by.

“Plaas dat jy simpatiek is, vind jy dit ’n grap,” verwyt sy. “Jy het belowe jy sal iets by die ingang hang om die mans te waarsku as ek die badkamer gebruik.”

“Ek wou, maar ek kon nie betyds ’n pienk dingetjie opspoor nie. Het jy nie dalk vir my iets frillerigs te leen nie?”

“Nee.” Sy swaai haar nat hare oor haar skouers en hang die handdoek oor ’n tenttou. “Gebruik liewer ’n rooi vlag, dis meer geskik.”

Sy klink nie regtig kwaad nie, nie soos op die vliegtuig nie. Hy laat vaar die speelsheid en raak ernstig.

“Hans Schreuder is bysiende en het nie sy bril opgehad nie. Daarsonder kan hy skaars ’n armlengte voor hom sien. Jy was ’n vae, wasige beeld, sonder detail. Hy het niks gesien wat hy nie moes nie.”

“Regtig?” dring Aralie aan.

Hy knik met sy kop na die nabygeleë vlei, van waar ’n gekwaak opklink. “Sowaar as wat elkeen van daardie paddas ’n manel dra.”

Bysiende? Noudat sy dit weet, sak Aralie se ontsteltenis. Die storthokkie was boonop vol stoom en haar lyf vol seepborrels, wat ook sou gehelp het.

“En jy?”

“Ongelukkig was jy al soos ’n mummie toegedraai teen die tyd dat ek opgedaag het. Jammer, anders het ek ook ’n vroeë Kersbonus gehad.”

Sy trek haar neus op. “Julle mans is ook almal eenders.”

“Dis goed, want vir wie anders sou julle dan julle hare gewas het?” daag hy haar uit.

Aralie besluit om liewer niks te sê nie. Vir die eerste keer let sy die kuiltjie in sy ken op – en wens sy het nie. Die man doen dinge aan haar. Smokkel met haar kop en toor met haar lyf. Dinge waarna sy nie gesoek het nie en waarvoor sy nie gereed is nie. Dalk is dít die rede waarom sy gedurig met hom baklei: as teenvoeter vir sy oorweldigende manlikheid, en uit selfverdediging teen die uitwerking wat hy op haar het.

Franco haak een van die stoele nader en gee vir haar ’n glas wyn aan. Hy neem die ander een en lig dit omhoog. “Op jou eerste dag wat jy oorleef het!”

Ook maar net-net … Aralie kan nie glo dat dit slegs een dag was nie. Soveel het gebeur dat dit soos ’n jaar voel. Vanoggend nog was Franco ’n vreemdeling, ’n naam, ’n TV-persoonlikheid wat sy van ver af bewonder het. Toe ’n hardvogtige baas wat sy pond vleis eis. Nou het hulle na ’n volgende fase aanbeweeg. Hulle is vriende … Die gedagte bring ’n warm gevoel om haar hart.

Sy sit afgetrokke en kyk na die mopaniemotte wat lomp om die lantern fladder, terwyl Franco vertel hoe hy as kind gelees het wat tydens die Tweede Wêreldoorlog met diere gebeur het en hoe dié grubeelde by hom bly spook het.

“Toe ek hoor van die haglike toestande in Bagdad se dieretuin tydens die Amerikaanse inval in Irak, het ek besef ek kan nie my rug daarop draai en bloot met my lewe aangaan nie,” gaan hy voort. “In daardie stadium was ek lektor by Boston-universiteit, en ek het kontakte in die weermag gehad wat my Green Earth Foundation goedgesind was. Ek het toutjies getrek en gunste opgeroep en dit reggekry om as burgerlike saam met die koalisiemagte die land binne te gaan.”

Aralie kyk na hom oor haar glas. “Ek het destyds op die nuus die pantservoertuie gesien wat Irak binnegeval het, en later dele van die reddingsprojek in jou natuurreeks.”

Hy neem ’n sluk wyn en gooi nog ’n stomp doringhout op die vuur. “Ek was in een van daardie pantservoertuie, in een van die voorste tenks.”

“Dapper van jou.”

Hy skud sy kop. “Eerder dom en voortvarend. In daardie tenk het ek vir die eerste keer geleer wat kloustro­fobie en naarheid is.”

“Ek dog jy jok oor die naarheid, om my beter te laat voel.”

“Ek jok nie oor nagmerries nie. Dis hoekom ek mede­lye met jou gehad het – omdat ek eerstehandse ervaring daarvan het. Dis hoekom ek wou help, al was my metodes lomper as dié van daardie motte.”

“Dit het die gewenste resultaat gehad,” herinner Aralie hom.

Sy gaan haal borde en messegoed en begin die tama­ties vir slaai opsny. Dan sê sy huiwerig: “Die TV-program het nie gewys in watter toestand die dieretuin was nie.”

Hy is ’n rukkie stil, sy somber blik op die vuur gerig. “Teen die tyd dat ons daar aangekom het, was talle diere al dood van honger of verwaarlosing. Maar ons kon die oorblywendes red. Dit was ’n reuse-operasie, amper soos die destydse Entebbe-inval deur Israel. Hercules-vragvliegtuie het in die nag op die aanloopbaan gewag terwyl weermagtrokke die kratte aangery het. Meesal roofdiere: leeus, luiperds en jagluiperds, twee skaars witkwasjakkalse en ’n paar hiënas. Ook ape en ’n verskeidenheid reptiele uit Saddam Hoesein se paleis.”

“Het almal die rit oorleef?”

“Ons het ’n sebra verloor, wat te swak was vir die lang reis. Maar jy sal hopelik môre die res van die Irakese helde te sien kry. Party is nog in kampe, party is in die reservaat vrygelaat, toegerus met nekbande en radio­senders vir navorsing.”

“Geen olifante nie?”

“Dié is Kgalagadi-oorgrenspark toe. Ek was bang vir botsings met my probleemkinders uit Angola.”

“Gerehabiliteerde pleegkinders,” korrigeer sy en kyk nuuskierig na hom. “Ek hoor jy word die olifantflui­s­teraar genoem.”

Sy het gedink dis gepas, maar hy hou nie van die benaming nie.

“Dis ’n modewoord, na aanleiding van die fliek The Horse Whisperer. Dit gee egter ’n mistieke of spirituele kleur aan die ding, wat misplaas is. Enigeen kan dit doen.”

Aralie geniet dit om na hom te luister, sy oë en sy mond en sy hande wat vol passie saamgesels … “Hoe?” wil sy weet.

Maar hy is beskeie en bang hy verveel haar. “Maklik,” maak hy dit ongeërg af. “Al wat jy nodig het, is ’n olifant.”

“En dan?” dring sy aan.

“Dan gesels jy met hom. Saggies, sodat hy hom moet inspan om te hoor, sodoende kry jy sy aandag. Maar veral: jy luister as hy met jóú gesels. ‘Trompetter’ is nie al wat hy kan sê nie. Vir langer afstande gebruik hy maagrommelings. Vir emosies flappende ore, vir aggressie ’n voorpoot waarmee hy stof opskop, ensovoorts … Ek sal jou eendag aan my kinders gaan voorstel en jou ‘die taal van die groot lywe’ leer. Maar nou is dit eers tyd om te eet. Jy is seker al baie honger.”

Vanoggend se droë beskuitjies voel soos ’n ewigheid gelede, en Aralie val met smaak weg aan die biefstuk op haar bord. Dit was ’n ryk en wonderlike dag. Saam met ’n ryk en wonderlike man. En skielik is sy nie meer kwaad vir Niel omdat hy voor ’n taxi ingeloop het nie.

Satyn Omnibus 4

Подняться наверх