Читать книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman - Страница 6

Оглавление

3

En hy hét. Drie keer, dink Aralie toe sy Maandagoggend haar tas uit die lughawebussie haal. Niel het haar daardie aand drie keer gebel. En gister en vanoggend weer … Kwansuis om reëlings te finaliseer, maar ook om oor hul verhouding te praat.

Hy wil hê hulle moet weer probeer; hy dink sy was destyds te ontsteld om logies te reageer. Dis mos nie asof hy en Marilee ’n verhouding gehad het of saam in die bed was nie, het hy volgehou. Hy het net aan haar been gevat, dis al. Dit was verkeerd van hom, maar dis nie die einde van die wêreld nie, nie genoeg rede vir ’n egskeiding nie.

Sy het voor hul troue geweet hy het dwalende oë. En soms dwalende hande. Maar sy het gehoop hy sal verander. Marilee Martins was nie ál rede waarom sy haar tasse gepak het nie, het sy hom herinner. Die lys redes kom al ’n ver pad saam, en die geskiedenis het hom al meer as net hierdie een keer herhaal. Daar was waarskynlik ook ander vroumense van wie sy nie eens geweet het nie.

Nogtans het sy belowe om hierdie ses weke te gebruik om te dink. Dat sy hom miskien weer ’n kans sal gee om op ’n skoon bladsy te begin.

Saam met haar tas laai Aralie haar medisynetas op die bagasietrollie. Dan haar kamerasak en opvoubare operasie­tafel wat nuttig in die veld te pas kom. Sy hoop nie sy het te veel bagasie nie. Gelukkig het die vliegtuig ses sitplekke. Niel het egter nie gesê of daar ander passasiers is, of hoe­veel voorraad Franco gelaai het nie.

Dis nie ’n geval dat sy bang is vir vlieg nie. Sy hou net nie van die beknopte ruimte of die sensasie van swewende beweging nie. Sy kry kloustrofobie en raak gou lugsiek. Selfs karsiek wanneer sy agter sit, en naby ’n skip sal sy dit nooit waag nie. Sy het nie ontbyt geëet nie en koop vir haar ’n bottel mineraalwater by die kafeteria. Dan stoot sy die trollie na die uitkykdek, wat ’n uitsig oor die aanloopbaan bied.

Elfuur die oggend is ’n stil tyd op die lughawe. ’n Vlug uit Botswana kom land, en tien minute later is daar ’n veraf stippel op die horison. ’n Stippel wat geleidelik groter word soos dit nader kom, totdat sy die wit Beechcraft met die groen streep langs die sykant herken, soos Niel dit beskryf het.

Die wiele is reeds uit en die vliegtuig land gladweg, met ’n effense wip, voor dit aan die verste punt van die aanloopbaan draai om na die parkeerblad te taxi. Toe dit voor die uitkykdek dwars swaai, lees sy die logo bokant die groen streep: Balelapa Wild Safaris, met daarnaas die embleem van ’n olifant. Ondanks haar bedenkinge bruis ’n skielike sjampanje-tinteling deur haar are.

Die laaideur gaan oop en ’n stel trappe skuif in posisie. ’n Lang man met breë skouers en ’n rugbyspelerlyf verskyn aan die bopunt en klim ligvoets teen die trappe af. Hy dra ’n kakiebroek en -hemp, en selfs van hier af kan Aralie die son op sy vlasblonde hare sien blink.

Sy hou hom dop terwyl hy met lang treë oor die teerblad loop. Hy is groot, maar nie bonkig nie, eerder atleties, met die loslitgrasie van ’n luiperd. Haar mond is skielik droog terwyl haar hande die trollie senuweeagtig vasklem. Waarin het sy haar begeef? Hoekom het sy nie vir Niel gesê dis buite die kwessie, sy kan nie met wilde diere werk nie? Hy sou wel ’n plan gemaak het om ’n ander locum in die hande te kry. Dis nie haar skuld dat hy so dom was om voor ’n taxi in te loop nie.

Franco Conradie is blykbaar haastig. Hy stryk die aankomsaal binne en kyk speurend om hom rond. Sy blik dwaal oor die paar mense wat rondstaan en oor Aralie, sonder dat hy nader kom.

Sy lek met die punt van haar tong oor haar droë onderlip en stoot die trollie tot voor hom. “Meneer Conradie?”

“Dis ek.” Hy glimlag beleefd, kyk ’n oomblik na haar en dan oor haar skouer na ’n ouerige man wat ook lyk of hy iemand soek.

“Ek is Aralie van Dyk.”

“Van Dyk?” Dit lyk of hy die naam nie dadelik in verband bring nie.

“Dokter Van Dyk,” herhaal sy.

Sy glimlag verstar en word vervang deur ’n frons.

“Die veearts wat in Niel van Dyk se plek sal uithelp,” verduidelik sy.

Hy bekyk haar met verskerpte aandag, nie oormatig vriendelik nie. “Niel het gesê dis ’n familielid wat sal kom.”

“Ek is sy … e … gewese vrou.” Aralie is vies vir haarself omdat sy hakkel en verskonend klink, maar die man ontsenu haar.

“Ek het ’n broer, ’n pa, ’n oom of iemand verwag.”

Dekselse Niel, dink sy verwytend. Presies wat sy voorsien het, en dit plaas haar in ’n ongemaklike posisie – op die verdediging, asof sý die skuldige party is.

“ ’n Mánlike familielid,” herhaal hy nadruklik.

Haar stemtoon en haar groen oë is koel. “Hoekom? Omdat jy reken ’n vrou beskik nie oor die vermoë om as veearts te werk nie?”

Hy lyk ongemaklik. “Dis nie dit nie …”

“Wat dan?” dring Aralie aan. “Het jy uit beginsel iets teen vroue? Dink jy hulle is onbetroubaar? Onbekwaam?”

Franco besef hy trap klei. Die rooikoppie lyk fyn en broos, soos ’n wilgerlat in die vroeë lente, en hy het verwag dis hoe sy haar sal gedra. Sy is mooi genoeg om enige man die goeie sedes te laat vergeet. Onder ander omstandighede sou hy haar graag vir ’n besoek na Balelapa nooi om haar beter te leer ken. Maar hy was nie daarop voorbereid dat die wilgerlat onbuigsaam en aanvallend sou wees nie.

“As jy die vyf jaar studie voltooi het, aanvaar ek jy het die intellek, vermoë en ervaring om ’n uitstekende veearts te wees, dokter Van Dyk,” antwoord hy kortaf. “Aan jou bekwaamheid twyfel ek nie. Maar ek ken die omstandighede, die fisieke eise wat Balelapa stel, en ek reken ’n vrou is nie liggaamlik in staat om die harde werk in die veld te hanteer nie.”

Sy logika maak sin, dink Aralie. Hy is rustig, soos Niel gesê het. Nie aggressief of vyandig nie. Trouens, hy het haar met eg manlike waardering betrag en dit het haar goed laat voel. Maar dit was voor hy geweet het wie sy is.

Sy probeer ook kalm bly. Dit sal nie baat om haar toekomstige werkgewer kwaad te maak nie. Sy sal meer bereik as sy positief is en aan Niel dink, wat seker in die hospitaal lê en naels kou. As Franco Conradie hom vervies, beteken dit sy sal druipstert moet omdraai huis toe – terug na haar oortrokke bankbalans, agterstallige rekeninge en die sweterige lummel in kamer 15.

Sy glimlag vriendelik. “Moenie dat voorkoms jou mislei nie, meneer Conradie. Ek kan veel meer baasraak as net poedels en worshondjies. Ek was vier jaar verbonde aan ’n praktyk wat plaasbesoeke ingesluit het, en waar hulp selde beskikbaar was. Ek moes eiehandig vee inspuit, dip en wonde toewerk. Opereer, besmette diere van kant maak en varke en skape agterop ’n bakkie laai.”

“Is dit al? Net varke en skape? Wat van olifante en renosters?”

Aralie se bloeddruk stoot op. Sy kyk vinnig na hom, reg om haar te vererg as hy besig is om die spot te dryf. Haar oë ontmoet syne en sy merk dat hulle ligter is as wat dit op die televisie gelyk het. Nie bruin nie. Meer ’n kaneelkleur, met goue vlekkies om die iris. En in die goue vlekkies blink ’n geamuseerde vonkel. Hy terg haar … Dit was speels, nie bedoel om haar af te kraak nie.

Aralie is van stryk af. Hierdie is een van die mooiste mans wat sy nog gesien het. Oorweldigend manlik. In lewende lywe het hy ’n veel groter impak as doer eenkant in die sitkamerhoek op die kassie. Haar maagspiere trek op ’n knop en haar bene voel soos spaghetti.

“Ja, dikwels, met ’n hyskraan en ’n stootskraper,” speel sy saam.

“Sonder hulp?”

“Vroualleen, eiehandig,” beaam sy.

Hy glimlag, maar sy merk dat hy na haar hande oplet. By ’n partytjie of aan tafel by vreemdes steek sy hulle gewoonlik weg, selfbewus omdat hulle soms verniel en onvroulik lyk. Nou hou sy albei haar hande egter stil­swyend vir inspeksie uit: eers die binnekante wat ’n paar eelte toon, dan die bokante, met kortgeknipte naels sonder naelpolitoer. Hande wat fisieke werk ken.

Franco kantel haar regterhand sywaarts, na die lig toe. Hy trek met sy wysvinger ’n streep van haar duim af, oor die palm tot by die litteken aan die onderpunt van haar hand. ’n Spanriem wat gegly het terwyl sy besig was om ’n jong tollie te kniehalter, onthou Aralie. Sy vinger wat ondersoekend daaroor vryf, brand soos ’n vuurstreep, erger as die destydse wond. Onwillekeurig ril sy en klem haar hand in ’n vuis, asof sy sodoende die gevoel van sy aan­raking kan uitwis.

Hy laat dadelik haar hand gaan. Daar is ’n onleesbare uitdrukking op sy gesig toe sy blik oor haar smal skouers en tenger gestalte huiwer. Hy probeer haar gesig sien, maar dis agter haar lang hare weggesteek, wat soos ’n koperkleurige gordyn teen haar wang afhang.

“Goed, dokter Van Dyk, dis ’n goeie getuigskrif en ek glo jou,” gee hy toe, sy stem skielik grof. “Miskien is jy minder broos as wat jy lyk. Maar jy bly onteenseglik ’n vroumens, daaroor kan niemand stry nie. En dit skep ’n probleem. Balelapa is nie ingerig vir vroumense nie. Die kamp is nog in aanbou, sonder behoorlike fasiliteite.”

Het hy dit ook gevoel? wonder Aralie. Daardie … iets. ’n Vonk, ’n chemiese reaksie. ’n Man-vrou-bewuswording tussen hulle, daardie flitsende oomblik toe sy vinger aan haar palm geraak het. Of is dit net sy wat haar dinge wysmaak?

Sy probeer die gewaarwording afskud. “Dit sal nie die eerste keer wees dat ek ’n spieël aan ’n boom ophang of onder ’n windpomp stort nie. Ek gaan om te werk, meneer Conradie, nie om vakansie te hou nie. Niel het my voorberei. Ek verwag nie vyfsterhuisvesting nie.”

“Niel?” Franco gee ’n kortaf snuif. “Moes sy kop laat lees het,” brom hy onderlangs. “Wat het die man gedink?”

“Ekskuus?” vra Aralie.

“Nee, niks. Dis seker nie jou skuld nie.” Hy verduidelik nie wat hy daarmee bedoel nie. “Ek is nie ‘meneer Conradie’ nie. My naam is Franco. Noem my so.”

Sy knik. “Goed.”

“En jy? Wat het jy gesê is jou naam? Amalia?”

“Aralie.”

“Aralie …” Hy sê dit stadig, met sagte, volronde klanke asof hy aan die woord proe terwyl hy nadink. Dan knik hy goedkeurend. “Mooi naam, pas by jou. Ek belowe ek sal jou nooit Ralie noem nie, dit sal ’n sonde wees.”

Hy draai weg en staan hande op die heupe, terwyl hy nadenkend oor die aanloopbaan tuur. Hy is só lank stil dat sy begin dink hy het van haar vergeet. Maar dan draai hy om en sug.

“Goed, Aralie van Dyk, ek sal jou saamvat Balelapa toe, al sê my logika vir my ek maak ’n fout. Al waarsku my instinkte dis nie die regte ding nie. Maar dis omdat ek nie ’n keuse het nie. Ek is haastig en ek het ’n veearts dringend nodig by die reservaat. Daar’s nie tyd om iemand anders te soek nie en jy is beskikbaar. Jy sal moet deug tot ek ’n ander plan kan maak.”

“Dankie,” antwoord sy bedees.

Maar Franco is nog nie klaar nie. Hy lig sy wysvinger waarskuwend. “Twee weke,” sê hy ferm. “Dis jou proeftyd­perk, dokter. As jy in daardie tyd nie die mas opkom nie, bring ek jou onmiddellik terug Windhoek toe, sak en pak. Verstaan ons mekaar?”

Sy knik. Die groen lig? Só maklik? Sy wil nie te gou bly word nie. Franco Conradie is soos die goudprys: op en af, onvoorspelbaar. Netnou verander hy van mening, luister na sy logika en los haar net hier, sak en pak, en vlieg weg.

“Hoe gaan dit met Niel?” wil hy weet. “Wanneer sal hy weer op die been wees?”

Met ander woorde: wanneer sal Franco Conradie van haar ontslae wees …

“Oor ses weke,” antwoord sy.

“Dan moet ons nou maar die beste daarvan maak.” Franco haal sy skouers op en beduie na die hooggelaaide trollie. “Is dit al bagasie wat jy het?”

Al? Sy was bang dis te veel. Dan kon sy maar ’n ekstra tas gebring het, met darem een of twee rokke, pleks van net denims en T-hemde, oprygstewels en swaardiens-drafskoene. Haar vernielde hande is erg genoeg, sy wil darem nie heeltyd soos ’n sloerie lyk nie.

Franco neem haar tas en die opvou-operasietafel en kies koers na die uitgang. Hy kyk oor sy skouer toe sy nie dadelik volg nie en wink met sy kop.

“Komaan, jy daar met die rooi hare, wat jou so ’n tawwe tienie hou! Kom klim in, laat ons ry!”

Aralie lag. Dis soos ’n avontuur en daardie selfde sjampanje-tinteling van netnou is terug. Sy kyk die breë skouers en gespierde rug agterna. Natuurlik is hy ’n groot boelie. Oorheersend, dominerend en baasspelerig. Alles waarvoor sy bang was. Maar vreemd genoeg, sy gee nie om nie. Franco Conradie het so ’n onweerstaanbare sjarme dat sy haar nie vir hom wip nie. In plaas van kwaad word, is sy eerder geamuseerd wanneer hy hom kwaai hou en haar rangeer soos ’n trein op ’n stasie. Dit laat haar veilig en gekoester voel.

Is dit vir hóm wat sy ’n mooi rok wil aantrek? wonder sy, en skud dan die gedagte as onsinnig af. Liewe aarde, sy ken die man skaars! Sy gaan om te werk, nie om sosiaal te verkeer nie. Hy sal nie eens oplet nie, al dra sy ’n goiingsak. Al loop sy kaal. Solank die werk net gedoen word.

O ja? Dink jy regtig so, dom Aralie? vra sy haarself af. Nadat jy netnou daardie talmende tipiese-man-kyk gesien het wat hy jou gegee het? ’n Man soos hy sal nie onervare wees wat vroue betref nie – daardie kyk het dit duidelik gewys. Hy sal ’n kaal vrou beslis raaksien. En weet wat om met haar te doen. Nogal behendig wees ook in die proses …

Sy smoor ’n guitige lag. Voor sy weer raas kry, hang sy haar kamera om haar nek en gryp die res van haar bagasie. Al wil Franco haar nie daar hê nie, al dink hy ’n vroumens gaan ’n oorlas wees en nie die mas opkom nie, vat hy haar saam …

Dit gaan nie ’n wandeling in die park wees nie, weet sy. Eerder ’n klipperige opdraande vol distels en dorings. Maar sy is die eerste hekkie oor. Sy gaan saam Balelapa toe … En sy sien uit na die ses weke wat voorlê. Onverklaarbaar baie.

Die Beechcraft is swaar gelaai, met vrag tot teen die dak opgestapel. Houtkratte, bokse en trommels agter veiligheidsnette vasgebind. Daar is net twee sitplekke oop – heel voor in die stuurkajuit. Franco sit met oorfone oor sy kop getrek, in gesprek met die beheer­toring, maar hy wink haar nader en beduie na die sitplek langs hom. Hy klik ’n ry skakelaars aan en verstel aan die meters op die instrumentepaneel.

Met sy los hand vat hy haar bagasie aan en help haar om dit weg te pak. “Maak vas!” beveel hy en rem haar sitplekgordel onder haar bobeen uit sodat sy die knip kan bykom.

Aralie was nog nooit in ’n klein vliegtuig nie. Die dak is laag, reg bokant haar kop, die vloerspasie beknop en die kajuit benouend om haar. Sy stry teen die dreigende gevoel van kloustrofobie en dink aan ander dinge om haar aandag af te lei. Het sy onthou om die kombuisvensters toe te maak en die ketel af te skakel? Die potplante vir laas water te gee? Sy kyk nie na die beknoptheid om haar nie – kyk doer ver deur die windskerm na die neus van die vliegtuig, die swartgrys teerblad van die aanloopbaan en die wye, oop lug bokant hulle.

Laasgenoemde is egter ’n fout. Die wolke bol uit soos geil blomkoolkoppe en sy onthou sy het êrens gelees dit beteken daar is lugstrome en lugleegtes wat die vliegtuig gaan laat skommel. Haar mond is droog en haar kiewe trek saam. Genade tog, dít ook nog! Sy gaan dit nie oorleef nie. Sy gaan naar word. Niel weet sy het hierdie swakte, hoekom het hy haar in hierdie ding gedwing? Sy sal hom nooit vergewe nie.

Asof deur ’n newel hoor sy Franco se stem oor die radio sê: “NAM 221 na beheertoring. Klaring vir opstyging … Roger. Oor en uit.”

Hier gaan hulle … Sy knyp haar oë toe en klou die armleunings só styf vas dat sy krampe kry. Die dreuning van die motore laat haar ore toeslaan en sy sit soos ’n dooie. Sien niks, hoor niks, haar kake opmekaar geklem terwyl sy geluidloos bid: Asseblief, laat dit oorgaan en verby wees. Laat ek sterk wees en nie skandes maak nie …

Ná ’n ruk besef sy dat hulle in die lug is. Sy kom agter dat die enjins sagter dreun, die vliegtuig minder vibreer en die vloer onder haar voete horisontaal is. Maar nie vir lank nie. Terwyl sy ongemerk die sweet van haar bolip afvee, raak die vloer meteens onder haar weg. Soos ’n hysbak wat val nadat die kabel gebreek het. Haar maag maak ’n draai en tuimel agterna.

“Skies vir daai een,” sê Franco en loer deur die voorruit, voor hy op visuele skatting ’n koersaanpassing maak. Hy kyk bekommerd na sy passasier se wasbleek gesig, maar lewer nie kommentaar nie.

“Soos die kraai vlieg, is dit ongeveer seshonderd kilo­meter tot by die huis. Met ’n stertwind en as ons gelukkig is, twee ure se vliegtyd.”

Twee ure! Aralie kreun en loer onderlangs na haar horlosie.

“Darem al vyftien minute daarvan verstreke,” troos Franco. “Kyk regs uit, daar onder … Sien jy daardie langwerpige blou vorm?”

Aralie kyk, maar sien niks nie, net ’n plat stuk woe­s­tyn­bruin. “Ja.”

“Dis die Von Bach-dam, naby Okahandja. Was jy al daar?”

“Ja.”

“Gewild by watersportgeesdriftiges. Is jy lief vir swem?”

Aralie sluk en byt op haar tande. “Wat? Swém? Ja …”

Sy wens hy wil ophou praat; sy is nie in ’n toestand om ’n intelligente gesprek te voer nie. Dit voel of sy klem in die kaak kry van heeltyd vir haarself sê: “Vasbyt, kophou, uithou, aanhou.” Maar dit help nie. Telkens wanneer die vliegtuig skommel, trek haar kiewe en haar maag saam.

Franco wens hy het ’n pilletjie of ’n nat handdoek by­derhand gehad. Maar hy was nie voorbereid nie. Nie op ’n vroumens nie, en veral nie ’n lugsiek een nie.

“Is dit die eerste keer dat jy vlieg?” gesels hy rustig om haar aandag af te lei.

“Nee.”

Sy lyk al bleker, met sweetdruppels wat op haar bolip pêrel. Hy leun oor en gee die vlugplan vir haar aan.

Aralie frons. Wil hy hê sy moet navigeer of hom help vlieg? Sy kyk onbegrypend na die rye syfers en letters wat vir haar niks beteken nie.

“Wat moet ek hiermee maak?”

“Jou gesig koud waai. Ek het ongelukkig nie lugreë­ling nie.”

Aralie is lus en smyt die stuk papier by die venster uit. Amper het sy ’n gek van haar gemaak en hom nóg rede gegee om te dink sy’s dom. Sy wil nie hê hy moet agterkom sy is naar nie, dit lyk simpel en onbeholpe.

“Ek makeer niks,” kry sy dit tussen saamgeperste lippe uit.

“Nee, natuurlik nie,” stem hy saam.

Hy kyk deur die venster na die droë rivierloop wat soos ’n slang deur die woestynlandskap kronkel. Darem al die Omataku en nóg ’n honderd en vyftig kilometer agter die rug … Die rooikop is dapper en probeer hard. Hy bewonder haar moed, maar hy kry haar jammer.

“Hoe het dit gekom dat jy veearts geword het?” vra hy uit. Hy wag ’n rukkie en toe sy nie reageer nie, probeer hy weer: “Omdat jy lief is vir diere?”

“Ja.”

“Ek dink altyd iemand wat lief is vir diere behoort juis nie veearts te word nie, want jy kry gedurig te doen met diere wat ly en swaarkry en dit breek jou hart. Maar aan die ander kant kan mens ook nie ’n ontvlugter wees wat wegdraai en niks doen nie. Om veearts te word is nie ’n werk nie, dis ’n roeping.”

Die paar woudgroen oë met die digte wimpers lyk geïnteresseerd, maar sy is duidelik nie in staat om intelligent te reageer nie. Haar kop rus teen die nekstut, haar arms styf oor haar midderif gekruis, terwyl sy kort-kort sluk.

Franco dink vinnig en neem ’n besluit: ’n drastiese situa­sie vereis drastiese maatreëls. Dit gaan dalk ook drastiese gevolge hê, maar hy kan nie uitstel nie en moet dit waag, al kan dit boemerang en hom teen die kop tref …

“Ek is ’n besige man met belangriker goed om te doen as om baba-oppasser te speel,” sê hy bruusk. “Moe­nie verwag ek gaan op Balelapa jou hand vashou of jou in watte toedraai nie. Dis nie waarvoor ek jou aangestel het nie. Al is jy ’n vervlakste vroumens, sal jy jou kant moet bring en jou salaris verdien.”

Aralie se kop ruk orent. Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Kan nie glo dat haar mensekennis só swak is dat sy haar met hierdie man misgis het nie. En dít nadat sy gedink het hy is gaaf … Nou eers wys hy sy ware kleure, noudat dit te laat is vir omdraai. Hy’s ’n aaklige, ongeskikte buffel.

Die adrenalien pomp deur haar are. Sy los haar midderif en sit regop. “Ek verwag nie liefdadigheid nie!”

“Gaaf,” stem hy kortaf saam. “Want ek bied dit ook nie aan nie.”

“Ek’s g’n ’n baba nie! Ek is agt en twintig. Amper dertig!”

Franco wou haar aandag aflei, en vir sy moeite kry hy ’n welkome bonus. Hy het geweet die meisiemens is mooi, maar selfs hy is beïndruk deur die flitsende groen oë en die gloeiende blos op haar wangbene. Sy lyk soos ’n luiperdwyfie wat reg is om ’n trop leeus te bestorm. Hy kan sy oë nie van haar afhou nie en wil die oomblik nog ’n bietjie uitrek.

“Gaaf, dan verstaan ons mekaar, dokter. Daar is nie plek vir passasiers in die reservaat nie.”

In haar woede is Aralie se narigheid vergete. “Ek sal sorg dat ek my kant bring!”

“Jy is op jou eie. Onthou, Niel is nie daar om jou te beskerm nie.”

“Ek is heeltemal in staat om vir myself te sorg, dankie. Ek het Niel nie destyds nodig gehad nie en ook nie nou nie.”

Franco wil dit nie te ver voer nie. Hy het bereik wat hy wou en verander die gesprek. “Het julle saam die praktyk gehad?” vra hy vriendeliker.

“Ja.”

Net die een woord, maar die hartseer slaan deur in haar stem. Hulle het so hard gewerk, soveel opgeoffer, soveel drome gehad … Drome waarop Niel getrap het en opofferings wat hy in haar gesig teruggegooi het. En dit vir ’n leëkop-flossie wat hom om die volgende draai met ’n ander man sou verneuk het. Waar was sy integriteit en sy sin vir waardes?

Franco sien hoe haar mond skielik weerloos lyk. Haar gewese man is klaarblyklik steeds ’n teer kwessie. Hy maak ’n koersaanpassing en vra nie verder uit nie.

“Jammer as ek netnou kras was,” maak hy verskoning. “Dit was nie so bedoel nie. As jy wil, sal ek jou graag help en raad gee waar ek kan.”

Aralie sit stug voor haar en kyk. “Jy hoef nie, dankie, ek sal regkom.”

“Ek bied aan omdat ek graag wil.”

’n Olyftakkie wat hy uithou? Seker sy gewete wat hom pla, besluit sy. Of is dit deel van daardie onvoorspelbaarheid waarmee sy vroeër reeds kennis gemaak het? Sy is teleurgesteld; sy het nie sulke ongevoeligheid van hom verwag nie. Dit sal lank duur voor sy hom weer vertrou.

“Hoekom self blaf as jy ’n hond aangestel het?” vra sy sinies.

Franco is verleë, maar hy weet hy het daarna gesoek. Die boemerang, besef hy. Al verduidelik hy later en motiveer sy drastiese noodmaatreëls, sal Aralie van Dyk nie gou weer ontdooi nie. Hy is spyt daaroor dat hulle twee op ’n verkeerde voet weggespring het. Hy sou dit graag anders wou hê.

Om te vergoed wys hy vir haar besienswaardighede langs die roete uit. Aan bakboordkant die Waterberg en Nasionale Platopark – ’n oorblyfsel van die aarde se oorspronklike bokors, ná eeue lange verwering. ’n Interessante stuk landskap en die moeite werd om te besoek.

En ’n entjie verder, verby Grootfontein en duidelik sigbaar vanuit die lug, die Hoba-meteoriet – sover bekend die grootste ter wêreld. Dit weeg nagenoeg 54 500 kilogram en bestaan uit 82% yster en 16% nikkel.

Aralie kyk en luister. Alles interessant, en party van die feite is vir haar nuut. Maar sy is stroef en vra nie uit nie. Selfs nie toe hulle oor Etosha-pan vlieg en Franco vir haar ’n bondel vet grys kolle uitwys nie – renosters. Dié wêreld ken sy uit vakansies tydens haar kinderjare. Sy herken die sprokieswoud en Duitse fort by Namutoni-kamp sonder dat hy dit uitwys. Daarna Andoni-vlakte aan die noordelike grens, met plate aalwyne en hier en daar ’n reusekremetart wat oor die landskap waghou.

Tien minute se vlieg noordwes van Andoni lê Balelapa. Ruier as Etosha, met sy eie brakwit soutpan wat in die son lê en bak, omsoom deur ’n bosstrook. Tussen die bome deur kronkel ’n ry watergate, turkooisblou soos die stene aan ’n tanzaniet-halssnoer.

By een van die suipings is ’n trop vaalgeel stippels wat sy aan hul sabelhorings as gemsbokke eien. Toe die vliegtuig laag oor hulle dreun, slaan hulle op die vlug. Volspoed, in ’n wilde stofwolk van flitsende hoewe. ’n Simfonie van grasie en beweging.

Aralie slaan haar hande in vervoering saam, wetend dat hierdie prentjie in haar geheue gegraveer sal bly solank sy leef. Sy wil in verwondering uitroep, maar bedwing haar toe sy onthou waar sy is. En wie saam met haar is … Netnou raak sy te eie met hom en word weer koelbloedig op haar plek gesit.

Sy sal sorg dat sy haar werk doen en verder uit sy pad bly. Hoop en bid die ses weke gaan gou verby, sodat Niel kan kom oorneem. Gelukkig vir hom is hy ’n man en sal hy nie met Franco Conradie se vooroordeel te doen kry nie.

Vir die eerste keer sedert hulle uitmekaar is, verlang sy onverwags na Niel. Sy weet self nie hoekom nie, dalk omdat sy hom onthou soos hy in die hospitaal gelyk het. Ouer, maerder, vol weemoed en berou … Dalk omdat sy naam netnou ter sprake gekom het. Of omdat sy gespanne en senuweeagtig is, en na ’n bekende gesig verlang.

Sy hoop Balelapa het goeie selfoonontvangs, sodat sy hom kan bel. Sy het Niel se kundigheid nodig, maar skielik ook ’n stukkie van die kameraadskap wat sedert hul studentedae tussen hulle was. Dit was so kosbaar. So spesiaal. Dit moes nie in ’n morbiede skeihof geëindig het nie.

Niel hou vol ou liefde roes nie, slaan nie aan of kry muf nie. Daardie betowering sal altyd tussen hulle wees: sluimerend en wagtend om weer op te vlam. Hulle is nou ouer, meer volwasse, en dis nooit te laat om weer te probeer nie.

Maar wat as haar hart en haar hele wese weer aan stukke skeur? ’n Tweede dwaling is erger. Sy weet nie of sy ’n volgende keer weer sal kan opstaan en die moed sal hê om die stukke van ’n verpletterde lewe aanmekaar te las nie. ’n Volgende keer bly sy dalk op ’n hopie sit en hou nie op huil nie.

Aralie besef skielik dit het die afgelope driekwartier goed gegaan en sy kon die kloustrofobie en narigheid besweer. Maar sy verstyf toe dit voel asof die vliegtuig vooroor leun. Die vloer kantel skuins en die neuspunt verdwyn uit haar sig. Sy skrik en reik instinktief na die armleunings.

Franco se diep stem klink op, kalm en gerusstellend. “Toe maar, niks om jou oor te ontstel nie. Ons daal vir die landing.”

Satyn Omnibus 4

Подняться наверх