Читать книгу Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman - Страница 4
Оглавление1
“Niel was in ’n ongeluk,” sê Aralie se eks-skoonma oor die foon.
Of word sy nie jou eks-skoonma as jy van haar seun geskei is nie? Aralie weet nie. Sy klem die gehoorbuis gespanne vas. “Ongeluk? Wat het gebeur?”
“Hy het oor die straat gestap, nie na die aankomende verkeer opgelet nie en reg voor ’n taxi ingeloop.”
Tipies Niel, dink Aralie. Altyd in ’n droom en sy kop op ’n ander planeet. “Het hy seergekry?”
“Beenbreuke en kopbeserings. Hy vra na jou. Hy sê dis ’n kwessie van lewe of dood.”
Haar skoonma huiwer voor sy sê: “Ek weet Niel het nie reg gemaak nie. Jy het alle rede gehad om jou tasse te pak. Maar daar was tóg gelukkige tye tussen julle, en ek weet hy’s nog lief vir jou. Sal dit altyd wees …Kan jy die kwade gevoelens ’n rukkie opsy skuif en hom besoek? Dis dalk die laaste keer …”
Die laaste keer? Aralie sukkel om dié gedagte te verwerk. Sy sal ook altyd vir hom ’n gevoel hê. Vanselfsprekend. Hulle was immers vier jaar getroud en Niel was haar droomheld. Die man wat sterre in haar oë aangesteek het en haar hart in die holte van sy hand gehou het. Net ’n oogknip, ’n glimlag en haar wêreld het bolmakiesie geslaan. Dis al ’n jaar sedert hulle uitmekaar is, maar sy betrap haar steeds dat sy aan hom dink – wonder of sy dalk oorhaastig was, te krities en veroordelend. Of sy meer toegeeflik moes gewees het, of harder moes probeer het om sy komplekse beweegredes te verstaan. Wie weet, as sy geleer het om te vergewe, was hulle miskien nog saam …
“Ja, natuurlik,” antwoord sy. “In watter hospitaal is hy?”
“Windhoek se privaat hospitaal. Saal 7B. Hy vra jy moet maar gou kom, kindjie …”
“Ek kom dadelik!”
Aralie se hande is bewerig toe sy haar motorsleutels gryp en die woonsteldeur agter haar toetrek. Skok veroorsaak ’n warboel van emosies in haar binneste, ’n mengsel van ontsteltenis en verwyte. Die arme Niel … Maar kon hy nie sy oë oopgemaak en die taxi sien aankom het nie? Mens loop mos nie toe-oë oor ’n straat nie.
Hulle het Sondag nog gesels, toe hy gebel het om te sê hy is terug in Windhoek. Die wildbewaringsprojek in Kenia het nie uitgewerk nie en hy is weg by Kisumu – ’n sameloop van swak fasiliteite, gebrek aan infrastruktuur en verlange huis toe. Asook ’n nuwe proposisie vir hom: ’n pos as veearts by ’n private wildreservaat naby Etosha. ’n Wonderlike geleentheid om die soort werk te verrig wat vir hom saak maak, wat hom sal laat voel hy lewer ’n bydrae om van die wêreld ’n beter plek te maak. In die stilte en rustigheid van die veld sal hy homself weer vind, die rafels van sy lewe aanmekaar knoop en ’n nuwe begin maak.
Niel was so vrolik en positief, asof hy uiteindelik ná ’n jaar se depressie hul egskeiding verwerk het en gereed was om aan te skuif. Hy was opgeruimd en gemotiveerd, amper weer sy ou self. Sy kan nie glo hy lê nou in die hospitaal nie, in pyn.
Sy steur haar nie aan stopstrate en spoedbeperkings nie. Tien minute later hou sy halsoorkop voor die hospitaal stil, draf die trappe twee-twee op en haas haar in die gang af na die intensiewesorgeenheid.
Die suster by die dienssentrum kyk fronsend na die lys pasiënte wat in die loop van die dag van ongevalle af ingekom het. Nee, daar’s nie ’n Van Dyk opgeneem nie.
“Dokter N. van Dyk. Nielen Wilhelm van Dyk,” probeer Aralie weer. “ ’n Motorongeluk. Mooi donkerkop-ou met blou oë. Laat twintigs.”
Die suster skud haar kop. “Nie in intensiewesorg nie,” herhaal sy. “Probeer 7B, die algemene mansaal. Verder aan in die gang, derde deur regs.”
Dis wat haar skoonma gesê het, onthou Aralie. Maar sy het gedink in so ’n kritieke toestand sal Niel in hoësorg wees. Sy haas haar verby die dienstoonbank, af in die gang en deur twee witgeverfde swaaideure wat oopstaan. Daar is ses beddens in die saal, waarvan net twee geokkupeer is. Niel is in die verste een, in die hoek by die venster. Hy lê gemaklik agteroor teen ’n stapel kussings, ’n pleister teen sy voorkop geplak en sy regterbeen in gips.
Sy gesig verhelder toe hy haar in die deur sien vassteek. “Dankie tog!” roep hy uit. “Ek dag jy gaan nie kom nie … Waar het jy so lank gedraai?”
Aralie staar hom verdwaas aan, haar brein nog lam geskrik en nie dadelik daartoe in staat om die toneel voor haar in te neem nie. So lank gedraai? Sy het byna haar nek gebreek om hier te kom en het haar Noagse ou tjor bo sy vermoëns gemoor. En dit vir wat? Vir niks. Niel is springlewendig.
Hy ken haar goed en raai wat deur haar gedagtes gaan. Daar is ’n onrustige trek in sy oë en sy onderstebo grinnik pleit om vergifnis. Hy probeer dit ligweg afmaak. “Is jy nie bly jy hoef nie my begrafnispolis te gaan soek nie?”
Natuurlik is sy bly. Dankbaar en verlig en als. Meer as wat sy gedink het sy sal wees. Maar kwaad ook.
“Is dít jou siek idee van ’n grap?” vaar sy uit.
Hy lig sy hande in ’n vredesgebaar. “ ’n Grap? Nee, dis ernstige sake.”
“Beenbreuke, kopbeserings, inwendige bloeding en wat nog daarby. Kastig ’n kwessie van lewe of dood?” eggo Aralie sarkasties.
“Dit ís,” beaam hy, “ ’n kwessie van lewe of dood dat ek jou moes sien.”
“Hoekom? Hier is seker genoeg mooi verpleegstertjies om jou hand vas te hou. Jy het my nie nodig nie.”
“Ek hét,” antwoord hy boetvaardig. “Ek sal jou altyd nodig hê, Ralie. Jy weet dit. Want ek het jou lief. Ondanks alles wat gebeur het, sal ek nooit ophou om vir jou lief te wees nie. Jy is die enigste vrou vir my en ons twee hoort bymekaar.”
Hy moenie dit sê nie, sy wil dit nie hoor nie. Wat tussen hulle was, is verby. Niel het haar soos ’n vloerlap behandel en moenie nou probeer terugkrabbel nie. Dis te laat, sy sal hom nie terugneem en haar ’n tweede keer oopstel vir seerkry nie.
Tog is daar ’n skielike branderigheid in haar oë toe sy die skok en gevoel van verlatenheid onthou wat haar getref het toe sy gedink het sy het Niel verloor. Vir die eerste keer let sy op hoe bleek sy gesig is, met donker kringe onder sy mooi oë.
Haar keelspiere trek saam en haar stem is onverwags hees. “Het jy pyn? Hoe voel jy?”
“Bietjie seer, bietjie gekneus. Maar onkruid vergaan nie.”
Aralie verwens haar oomblik van sentimentele swakheid. Niel is reg: hy ís ’n onkruid. ’n Ghwar en ’n boef wat haar in die rug gesteek het. Dis goed sy is van hom ontslae, en sy moenie nou vir sy snikstories swig nie.
Sy vee ongeduldig die trane uit haar oë. “Hoekom het jy nie gekyk waar jy loop nie? Seker weer ’n wulpse blondine in ’n minirompie gesien wat verbygekom het!”
Sy wange kry ’n kleur en hy kyk verleë anderpad. “Dis nie wat jy dink nie,” ontken hy die skimp. “Ek was ingedagte en het aan my nuwe jop geloop en dink – aan alles wat ek nog moet afhandel voor ek kan begin. Die taxi het uit die bloute op my afgepyl en nie eens probeer rem of uitswaai nie. Eintlik het ek lig daarvan afgekom, ek kon erger as net beenaf gewees het.”
Aralie is steeds kwaad omdat hy haar onnodig die skrik op die lyf gejaag het.
“Dit sou jou verdiende loon gewees het as al twee jou bene gebreek was. En jou nek ook! Mens is nie ligsinnig oor iets soos ’n motorongeluk nie – ek was buite weste. Jou arme ma ook.”
Niel is vol berou en reik uit om haar hand in syne te neem. “Ek is jammer.”
“Ja, dis wat die kat ook gesê het ná hy die kanarie opgevreet het,” antwoord Aralie suur en trek haar hand weg. Sy wil nie met Niel fisieke kontak hê nie, wil nie aan hom raak nie. Sy vingers, sy handpalm, sy vel se tekstuur is te bekend. Dit wek te veel nostalgie en seer herinneringe.
Sy kyk om haar rond, na die ander manspasiënt wat rustig voortslaap deur die lawaai. “Waar’s jou ma?”
“Huis toe. Ek het vir haar gesê ek wil alleen met jou praat.”
“Weet sy jy’s springlewendig? Is sy deel van die komplot?”
Niel lyk ongemaklik en kyk af na die geruite beddeken. “E … so effentjies. Ek het aangedik en gevra sy moet ook so effe oordryf toe sy jou gebel het. So ’n noodleuentjie of twee kwytraak … Anders sou jy miskien nie gekom het nie.”
Aralie weet sy kan nie haar eks-skoonma kwalik neem nie. Haar man is vroeg oorlede en Niel is haar enigste kind, dis te begrype dat sy hom bederf het. Haar hele lewe het om hom gedraai, en geen opoffering was te groot as dit haar seun gelukkig sou maak nie. En nou nog kan hy haar om sy vinger draai – sy sal enigiets doen wat hy vra.
“Dis verkeerd om jou ma te manipuleer en haar liefde te misbruik,” baklei Aralie. “Lelik gewees om haar by jou liegstories te betrek.”
“Lelik, selfsugtig en verderflik,” stem Niel saam. Hy plaas sy hande teenmekaar om ’n kerktorinkie te vorm, maak sy oë toe en prewel ’n paar woorde ter vergifnis. “Maar dis ’n krisis, Ralie. Die kalf is in die put. Die vis op die rotse – wat ook al die ergste is.”
“Die vis? Synde jy?” raai sy skepties.
Hy knik. “Soek vir jou ’n stoel en kom sit.”
“Ek wil nie sit nie. As jy ’n tandeborsel of seep of iets nodig het, sal ek dit vir jou gaan koop. Maar ek wil nie sit nie.”
“Asseblief,” soebat hy, sy oë baie blou, en met die soort hartbrekende glimlag waarvoor sy in die ou dae sou geswig het. “Ek weet jy is lus om my met ’n kussing te versmoor of strignien in my drup te gooi. Ek het nie die reg om gunste van jou te vra nie, maar feit is: ek het jou hulp dringend nodig.”
Sy sleep ’n bankie onder die bed uit en gaan sit onwillig op die voorste puntjie.
“Desperáát nodig,” beklemtoon hy.
“Waarvoor?” vra sy, wetend dis ’n fout.
“Vir my nuwe werk. Dis ’n kans in ’n leeftyd, ek durf dit nie verloor nie. Jy veral, wat ook ’n passie het vir diere wat swaarkry, vir spesies waarvan die habitat bedreig word, sal verstaan. Dís wat my werk by Balelapa sal behels – die rehabilitasie in die natuur van diere wat beseer, mishandel of siek is, of gevaar loop van uitwissing.”
“Balelapa?” herhaal sy. “Die privaat reservaat naby Etosha?”
Hy knik. “Dis die Tswana-woord vir ‘familie’, en dis hoe dit daar is – almal soos een groot familie, wat saamwerk en dieselfde doel voor oë het. Jy sal dadelik daar inskakel en tuis voel.”
“Ék?” Aralie verstyf.
Niel verwens homself. Hy was te haastig, hy moes met ’n langer aanloop begin het en Aralie eers voorberei het voor hy trompop sy voorstel in haar skoot gegooi het. Sy eks is nie verniet ’n rooikop nie. Hy het haar altyd geterg dat as sy verdrink, sal hy haar stroom-op gaan soek. Sy het haar eie norme en kan onverbiddelik wees as jy nie aan haar standaarde voldoen nie. Sy vergewe nie maklik nie en maak nie voorsiening vir tekortkominge nie.
“Waar pas ek in?” eis sy toe hy nie dadelik antwoord nie.
“Soos ek gesê het: hierdie is ’n top-jop. As ek dit verloor as gevolg van hierdie verdekselse been, sal hordes ander toustaan om my plek in te neem. Franco het die gawe om ’n vuur in jou aan te steek en jou met sy ideale te begeester. In my het dit ’n veldbrand geword. Ek wil deel daarvan wees: van sy droom, sy projekte en van Balelapa.”
Niel byt op sy onderlip en kies sy volgende woorde versigtig. “Daar is egter ’n probleem: Franco is toegegooi onder die werk. Hy het dringend hulp nodig en is haastig om die pos so gou moontlik te vul. Hy kan nie bekostig om vir my te wag nie.”
Aralie haal haar skouers op en soek haar handsak. “Dis ’n probleem, maar die ou sal seker een of ander plan bedink. Kan ek iets vir jou doen terwyl jy buite aksie is? Jou potplante gaan natgooi of jou kat kos gee?” Sy weet hy het nie plante of troeteldiere nie, hy is te min by die huis.
Niel kyk op, kyk haar vas en sonder skroom in die oë. “Jy kan my jop vir my gaan oppas.”
Al het sy ’n vermoede gehad in watter rigting dié gesprek lei, is Aralie onthuts. Sy spring op en stoot die bankie terug onder die bed in. “Nee. Ek kan nie. Dis buite die kwessie.”
“Hoekom? Locum jy by ’n praktyk op die oomblik?”
Sy skud haar kop. “Nie op die oomblik nie,” erken sy onwillig.
“Ek weet jy was drie maande sonder werk. Op die oomblik help jy uit as ontvangsdame by die Sonop Motel.”
Sy kyk met geligte wenkbroue na hom. “Jy het jou huiswerk gedoen.”
“Nie omdat ek op jou spioeneer nie,” gooi hy wal. “Omdat ek omgee en nog steeds vir jou verantwoordelik voel, omdat ek wil weet hoe dit met jou gaan en wat jy doen. Die motel betaal swakkerig, die aanstelling is net tydelik en jy kan vier en twintig uur kennis gee.”
Weet hy ook haar woonstelhuur is agterstallig en haar kar op sy laaste silinder? wonder sy. Sy was destyds te trots om ’n sent onderhoud van Niel te eis, en sy is nog steeds onafhanklik genoeg om die mas op te kom sonder sy hulp. Dis immers sý wat haar goed gevat en geloop het. Al was sy dalk ’n bietjie oorstuur en oorhaastig … Niel het oortree, maar miskien moes sy hom kans gegee het om reg te maak wat hy verbrou het, soos hy by haar gepleit het. Maar sy was te koppig en het nie geweet hoe om te vergewe nie.
Sy dwing die verlede se seerkry-herinneringe na ’n ver plek in haar agterkop. “Daar is ’n moontlikheid van ’n locum-pos by ’n praktyk in Tsumeb,” antwoord sy verdedigend.
“By Schmidt en Lindemann, ja. Ek het daarvan gehoor. Moenie jou hoop daarop vestig nie, want dit sal nie realiseer nie. Dieter Lindemann se seun is terug uit Duitsland en neem sy pa se praktyk oor vanaf 1 November.”
Aralie het dit nie geweet nie. Haar hart val soos ’n klip. Waarmee gaan sy haar huur en uitstaande rekeninge betaal? Met die droogte en swak vleispryse sukkel haar ouers ook. Die reën bly weg, die pryse vir voer is hemelhoog en haar pa is nie gesond nie. Sy kan nie weer by hom geld leen nie. Hulle betaal steeds af aan die verband wat hulle op die plaas geneem het om haar vyf jaar lank op universiteit te onderhou. Sy is amper dertig, te oud om nog op haar ouers se nekke te lê. Dis nou haar beurt om vir húlle te sorg, nie andersom nie.
“Dis net ses weke,” belowe Niel. “Hoogstens sewe, dan kom die gips af en neem ek oor, al is dit met ’n kierie of krukke. Daarna kan jy ontspan – aanbly en ’n paar weke vakansie hou as jy wil.”
“Vakansie hou? Saam met jou?” Sy kyk hom aan asof hy gesê het die maan is groen. Sy snork onelegant. “Jy kort ’n paar gloeilampies in jou boonste verdieping, broer.”
Glad nie so vergesog nie, besef hy. ’n Vakansie saam is wat hulle twee nodig het. In die vier jaar wat hulle getroud was, was daar nie tyd vir uitspan nie. Albei het studieskuld gehad om af te betaal en hulle het saam ’n praktyk gekoop wat rugbrekende lang ure gekos het om op te bou. Elke ekstra sent is gebruik om toerusting vir die spreekkamer te koop. Hulle het op die rand van die broodlyn geleef – gespot dat selfs hul viervoetige pasiënte lekkerder eet en drink as hul dokters.
Ralie het die druk beter as hy verwerk. Gelag oor hul huweliksherdenking wat met vleispasteie by kerslig gevier is, gelag oor die rooi koeldrank wat sy in duur trougeskenk-glase geskink het om soos rosé-wyn te lyk. Solank hulle sáám krepeer, het dit nie saak gemaak nie. Om van liefde en koue water te leef is romanties, het sy getroos.
Maar mans is anders. Hý is anders. Om as broodwinner nie behoorlik vir sy vrou te kan sorg nie het sy ego geknou. Hy was gefrustreerd in die beknopte eenkamerwoonstel waarin hulle vasgedruk was. Moeg daarvoor om met haar pa se weggooi-plaasbakkie te ry en moedeloos gesukkel om hom elke oggend aan die brand te stoot. Daar was nie geld vir ’n nuwe battery nie. Nooit geld vir énigiets nie. Nie eens vir behoorlike hoesmedisyne daardie laaste winter toe hy brongitis gekry het nie. Die lewe het hom begin onderkry …
Sy geestelike reserwes was op ’n laagtepunt en dit was vrugbare teelaarde vir ’n verleidelike blondine met ’n minirompie, ’n paar lieflike bene, ’n styfpassende toppie en ’n siek Pekinees …
Sy wou nie die vroulike veearts sien nie. Nie dokter Aralie van Dyk nie. Sy wou hóm sien, dokter Niel. Want haar vriendin het gesê hy is só goed. Só sjarmant. Die beste veearts in die hele Namibië.
Natuurlik was hy gevlei. Watter normale man sou nie gewees het as daardie paar babablou oë so uitlokkend onderdeur haar wimpers vir hom loer terwyl sy die komplimente uitryg nie? Hy is mos nie ’n klip nie.
Hy het geweet dis verkeerd en hy speel op die treinspoor. Maar haar ooglopende bewondering was balsem vir sy gekneusde ego; dit was die soort uitlaatklep wat hy nodig gehad het om te ontlaai. Die Pekinees het ’n chroniese swaminfeksie in die oor gehad, wat ’n reeks opvolgbesoeke genoodsaak het.
Eers het hy en Marilee net gesels: ’n bietjie man-meisie-goed, maar voel-voel, half speels. Later oor die flieks op TV wat deesdae al meer gewaagd raak, oor die pas afgelope reeks vir volwassenes wat sy gevolg het, en oor haar man wat op ’n rekenaarkursus in Londen was. Oor hoe eensaam sy was en hoe senuweeagtig sy vrou-alleen was met al die inbrake in die omgewing.
Dalk wil hy een aand kom tee drink? het sy uiteindelik voorgestel. En terselfdertyd na haar Persiese kat kyk wat lyk of sy ’n uitslag het. Sy wou Mitzi spreekkamer toe bring, maar sy raak kloustrofobies en weier om in ’n mandjie te klim. Die enigste uitweg sal wees dat hy by die huis na Mitzi kyk …
Dit was so deursigtig soos môre heeldag, en hy het van beter geweet as om na haar huis te gaan. Maar hy het haar geselskap geniet, saamgespeel en ’n bietjie saamgeflirt. Niks ernstigs nie, sommerso met die linkerhand. Maar toe ruk dit handuit en dit word álbei hande – toevallig net toe Aralie by sy spreekkamer instap.
Marilee het die gewoonte gehad om haar op die hoek van sy lessenaar tuis te maak terwyl hy besig was om die Pekinees se ore te behandel. Hy het iets in een van die lessenaarlaaie nodig gehad en het speels aan haar been gevat om dit weg te skuif sodat hy die laai kon bykom. Hy het nie gedink wat hy doen nie … Dit was suiwer manlike instink en ’n refleksbeweging wat gemaak het dat sy ander hand oor die soom van haar minirompie getalm het, dit effe hoër opgeskuif en oor haar bobeen gestreel het. Een ding het gelei na ’n ander. Asof sy hand ’n eie wil ontwikkel het, het dit ombeweeg na die sagte binnevleis van haar bobeen … Net toe Aralie instap.
Sy het in die deur vasgesteek, bleek, met starende oë. Haar mond het oopgegaan sonder dat ’n geluid uitgekom het.
Marilee het gegiggel en doodluiters gesê: “Oepsie! Op heterdaad betrap …” Sy het dit seker nie so bedoel nie, maar haar woordkeuse het suggestief geklink en die situasie vererger. Aralie het omgevlieg, die deur toegeklap en by die voordeur uitgestorm.
Hy het blitsig van Marilee en die Pekinees ontslae geraak, maar hy kon nie dadelik agter Aralie aanjaag nie, want die wagkamer het vol pasiënte gesit. Hy het probeer bel, maar haar selfoon was af. Teen die tyd dat hy eindelik by die woonstel aangekom het, was Aralie reeds weg. Haar tasse was weg en haar klerekas leeg. Sy het nie ’n briefie gelos nie, maar hy het geweet sy is na haar ouers toe.
Hy sidder opnuut toe hy die nagmerrierit uit plaas toe herroep: die rammelende bakkie volspoed op die sinkplaatpad en al glyend op die sanderige draaie. Haar ma se geskokte gesig en haar pa se beskuldigende oë.
En Aralie se aantygings toe sy eindelik, ná baie soebat en mooipraat, ingewillig het om uit haar kamer te kom en buite op die stoep met hom te praat. Hoe kón hy so iets doen? Die vernedering! Beteken hul huwelik dan niks vir hom nie? Sy sal daardie prentjie van hom met sy hand onder ’n ander vrou se klere in nooit uit haar geheue kan wis nie. Hom nooit ooit weer kan vertrou nie …
Hy het volgehou dit was die heel eerste keer – eerlikwaar, hy sweer – en daar het niks gebeur nie. Dit was net die punt van sy vingers aan haar bobeen, skaars bokant haar knie. Totaal onskuldig … Toe dié woord uit is, het hy besef dit was ’n fout. Aralie was opnuut rasend.
Onskúldig? Hy vry ’n ander vrou bo-op sy lessenaar en hy noem dit onskúldig? Wat dink hy van haar? Dat sy ’n onnosele, naïewe pampoen is? Hoe kan sy met ’n man getroud bly wat nie sy hande van ander vroue kan afhou nie? ’n Losbol en ’n rokjagter? Boonop nog ’n leuenaar ook …
Hy het toegesmeer, probeer verduidelik en uit desperaatheid die skuld op Marilee gepak. Al wat dit bereik het, was om haar dunk van hom nóg laer te laat daal. Sy het gedink hy het ’n bietjie meer integriteit … Maar hy is nes alle ander mans – net een ding op die brein. ’n Oormaat testosteroon, en loop agter hul hormone aan …
Hulle het buite op die stoep gepraat, waar daar ’n mate van privaatheid was, en hy het sy stem laag probeer hou. Maar Aralie was oorstuur en op die rand van histerie. Van agter die sitkamergordyne het hy kort-kort haar ma gewaar en haar pa van die voordeur af hoor keel skoonmaak. Hy was bang sy skoonouers meng in en jaag hom weg. Ten einde raad het hy sy toevlug geneem tot die beste manier wat hy in die verlede geleer het om vrede te maak. Hy het sy vrou nadergetrek, sy arms om haar gesit en haar gesoen.
Dit het nie gewerk nie. Sy het hom weggestoot. Hy moenie met daardie selfde hande wat onder ’n ander vrou se rok in was aan haar raak nie! Sy gril vir hom, sy wil nie ’n rokjagter met losse sedes as die pa van haar kinders hê nie. Hy moet sy ry kry! Sy wil hom nooit weer sien nie.
Niel weet hy was skuldig. Hy kon verstaan dat sy seergemaak was, maar hy het gehoop dat sy ná ’n tyd sou afkoel, bereid sou wees om kalm en logies die saak met hom te bespreek. Hy het hom misgis. In die tyd dat hy gedink het Aralie is geestelik sterk en sy verwerk die vermoeiende ure en finansiële druk beter as hy, was hy blykbaar verkeerd. Sy was snaarstyf gespanne en haar reserwes boomskraap. Sy het dit goed weggesteek, of hy het sy vrou nie regtig geken nie.
Dit was asof sy oomblik van menslike swakheid haar oor die rand van ’n afgrond gestoot het. Uit die bloute het sy sy vorige meisies een vir een begin oprakel, en ’n insident uit hul studentedae toe hy tydens intervarsity ’n bietjie uitgehaak en eers die volgende oggend by sy koshuiskamer opgedaag het. En ’n ander keer toe hulle al verloof was en hy met die kelnerin by ’n pizzaplek ’n ding aangehad het …
Ontkennings en verskonings het niks gebaat nie. Aralie was soos ’n klipmuur waarteen hy hom vasgeloop het. Sy het volgehou sy moes destyds al die tekens gelees en van beter geweet het as om met ’n vroueverneuker te trou. Sy het volstrek geweier om terug te trek woonstel toe of saam met hom te werk. Dit was die einde van hul huwelik; sy wou ’n egskeiding hê.
So goedsmoeds … Hy kon dit nie glo nie en het aan bomskok gely. ’n Paar maande lank het hy ’n afgetrede veearts gekry om tydens spreekure te help, maar hy kon nie die praktyk alleen behartig nie en moes dit noodgedwonge verkoop, vir ’n appel en ’n ei.
Dit was die einde van die pad, van hul droom van ’n man-vrou-vennootskap en sy laaste sprankie hoop om hul huwelik te red. Hy is weg Kenia toe, waar hy werk gekry het by ’n navorsingsentrum in Kisumu. Aralie het op die plaas aangebly en haar pa met die boerdery gehelp. ’n Tyd lank met boerboele geteel, en tussenin gelocum waar sy kon.
Dit het nie met hom goed gegaan nie en ook nie met haar nie. Vir ’n jaar lank … Toe maak hy toevallig kontak met Franco Conradie en kom te hore van Balelapa. Skielik was dit nie meer laagwater op die strand nie. Die gety het ingekom en vir die eerste keer het hy weer hoop gehad. ’n Droom, ’n reënboog om na te jaag …