Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 11

Оглавление

Ek het baie gedink oor hoe om my idees oor dierekyk oor te dra. Daar is twee kante aan die storie. Die een is sekere gesonde-verstand beginsels help ongetwyfeld, en hét my ook al baie gehelp. Die ander is die wildtuin is ’n wonderbaarlike deel van die kosmos wat in patrone werk en ons net ten dele verstaan. En dat dit juis dít is wat dit so opwindend maak. En die ervaring iets wat ek elke mens met my hele hart gun.

Vir die oomblik aanvaar ek jy wil soveel diere as moontlik sien, en verkieslik soveel as moontlik van die Groot Vyf (leeu, luiperd, olifant, buffel en renoster), of as jy jagluiperd en wildehond byvoeg die Groot Sewe. Daarmee sê ek nie om die Groot Sewe te sien is al rede om wildtuin toe te gaan nie. Maar as ek dié onderwerp nie deeglik aanpak nie, doen ek nie my werk nie.

In dieselfde asem vra ek ook dat jy jou nie tekort doen deur die grootste deel van die wildlewe – die plante en voëls – mis te kyk nie. Sonder hulle sou die wildtuin eweneens ’n dieretuin of plaas gewees het. Die groot voordeel van voëls en bome kyk, is jy het net ’n soveel wyer ervaring van die bos. En daarmee saam kom die meeste van dié spesies na jou toe aan, of staan hulle stil. Stop and smell the roses – oftewel die buffelgras/mopanies/rivierpalmiete.

Die beste manier om bome en voëls te geniet is om hulle name te leer. En die beste manier om dit te doen is om ’n goeie boek aan te skaf om hulle te identifiseer. En koop ’n verkyker. Dit hoef nie ’n spesiale een te wees nie. Die meeste van die modelle nou in winkels – en heelparty kos nie meer as ’n paar honderd rand nie – sal werk. En jy hoef nie naarstigtelik te studeer om die name van die bome en voëls te leer ken nie. Maak net ’n punt daarvan om op te let wat mooi, interessant of ongewoon lyk, of algemeen voorkom. En slaan dan die name en ander inligting na.

Ek belowe jou iemand in jou groep sal binne die eerste dag sê: “Ek wonder watter soort boom is daai met die dik stam wat lyk of dit onderstebo geplant is?” Of: “Wat is daai blink-blou voëls wat oral in die kampe is?” Met ander woorde, gaan die spesies na wat jou oog vang. Veral in die kampe of by piekniekplekke is dit ’n lekker manier om die bos te leer ken. En dis nie harde werk nie. Ek hou my boeke en verkyker in ’n skouersak voor in die kar. Sodra daar iets is wat ek graag wil naslaan, is die boek en verkyker byderhand.

Bome wat die meeste mense vroeër of later oplet om hulle kenmerkende voorkoms is die haak-en-steek (sambreeldoringbome), kremetart (die heel dikste bome met takke wat soos wortels lyk), drolpeer (gebruik jou verbeelding), worsboom (ditto), papierbasdoring (spreek vanself), lekkerbreek (weereens), maroela (kenmerkende dik takkies en saamgestelde blare, baspatroon soos ’n Monet-skildery), knoppiesdoring (knoetse en kneukels, fyn ronde blaartjies), wildesering (’n ander soort sambreelboom), naboom (daardie kaktusse in Thomas Baines-skilderye), ilalapalm (palms met lang, skerppunt-waaierblare), appelblaar (raai), mopanie (rooi en groen skoenlapperblare – ’n paar miljoen eksemplare om op te oefen as jy sukkel om hulle uit te ken), hardekool (kenmerkende blokkie-baspatroon met blare), vaarlandswilg (lang gladde, mosserige dwarstakke en lang, dun blare, hang dikwels oor water), koorsboom (diepgeel stam, takke en blare) en wildevy (dik, liggrys, gladde, krullende stamme en takke, blinkgroen blare).

Dieselfde geld kleiner soogdiere. Daar is ’n magdom diere wat redelik algemeen voorkom en waarvan die name nie noodwendig bekend is nie. Dis vreeslik frustrerend om nie te weet wat enige van die volgende is nie, en tog gaan jy hulle vroeër of later sien: ’n klipspringer, vlakvark, duiker, steenbok, bosbok, njala, dwergmuishond, boom-eekhoring, gebande muishond, watermuishond, dassie, otter en basterhartbees.

Of voëls: die glansspreeu (bloublink voëls in die meeste kampe), neushoringvoël, met sy groot, geel, gekromde snawel, bromvoëls (groot rooi-en-swart neef van die neushoring langs paaie), visarende (wit, bruin en swart arende by riviere), visvangers (verskillende soorte met “spies”-bekke en kuiwe), byevreters (kleurryk, by rivieroewers), byevangers (swart, met kenmerkende gesplete stert), kwêvoëls (grys, met ’n kuif en skree soos sy naam sê) en troupante (mooiste voëltjies vir baie, met blou en lila-pienk vere, gewoonlik in droë bome langs die pad).


1 Geelbekneushoringvoël

2 Kremetart

3 Mopanie

4 Bromvoël

Goeie boeke vir elkeen van hierdie soorte wildlewe is:

»Bome

Identifiseer die bome van Suider-Afrika, Braam van Wyk, Piet van Wyk (Random House Struik)

»Voëls

Roberts voëlgids, Hugh Chittenden, Ian Whyte, Guy Upfold (Jacana)

Sasol voëls van Suider-Afrika, Ian Sinclair, Phil Hockey, Peter Ryan en Warwick Tarboton (Random House Struik)

»Soogdiere

Veldgids tot soogdiere van Suider-Afrika, Chris en Tilde Stuart (Random House Struik)


Maar moenie kommer as jy nie enige van dié titels in die hande kry nie. Die wildtuin se winkels hou altyd ’n versameling goeie boeke aan wat dieselfde doel dien. Ek het grootgeword met die volgende (dalk nou klassieke) naslaanwerke: Soogdiere van die Nasionale Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke deur die Nasionale Parkeraad (Reds) (Nasionale Parkeraad), Ses en sestig Transvaalse bome deur Fanie de Jongh en ander (Pretoria Botaniese Instituut) en Voëls van die Krugerwildtuin (Nasionale Parkeraad). Laasgenoemde bestaan uit vier dun, folio-grootte volumes in rooi, groen, blou en bruin onderskeidelik, met ’n tekening van ’n volstruis voorop. Die boeke is reeds dekades uit druk en was redelik basies. Maar dit het soos ’n bom gewerk. Ek het van kleinsaf voëls, bome en diere leer identifiseer.

Nog ’n ding: Kry ’n manier om rekord te hou van wat jy sien. Een van twee maniere, of ’n kombinasie, werk lekker. Neem sover moontlik foto’s, of teken wat jy sien in ’n boek aan, met ’n nota van die tyd, datum en plek. Laat die kinders dit doen. Dis ’n lekker speletjie – soos jag, net goedkoper! Die bevrediging is soveel groter as jy later op jou “prestasies” van die dag of week kan terugkyk. Dit bevredig ons jagtersinstink soos ’n trofeekamer dit vir ’n grootwildjagter doen. Glo my.

Moenie net die diere op ’n lysie aftik nie. As jy eenmaal die wild sien, dan moet jy kyk, en geniet. Kyk na die veelkleurige glans van ’n spreeu se vere in die son; die vet boude en swaaiende sterte van kwaggas wat water toe stap; die draaie in ’n koedoebul se horings en die bordkrytstrepe op sy flanke; hoe ’n kameelperd se onderkaak heen-en-weer maal soos hy kou; hoe ’n vlakvark kniel as hy die grond met sy haaktande omdolwe. Moenie my woord daarvoor vat nie. Kyk behoorlik, en jy sal sien.

Foto’s hoef gelukkig nie deesdae ’n tegniese spesialis-oefening te wees nie. Die meeste slimfone, tablette en kitskameras neem uitstekende foto’s in die wildtuin – party waarvan selfs in dié boek is! – en digitale fotografie beteken jy kan amper ’n onbeperkte aantal foto’s neem. En as jy natuurlik ’n ervare fotograaf is, het ek jou weinig te leer.

En terwyl ons van boeke praat: Dit is noodsaaklik om so gou moontlik nadat jy inry ’n boek met ’n kaart van die wildtuin aan te skaf.

Terug by die groot dierejagtog: Ek gee raad aan die hand van sewe beginsels.

Wat “almal weet” oor dierekyk, is nie noodwendig altyd so nie. Iemand het jou sekerlik al die raad gegee om as jy baie wild wil sien so stadig as moontlik te ry en deeglik rond te kyk, want wild is “moeilik om in die digte bos op te spoor”.

Dan wil ek vra: Hoekom het ek dan nog altyd van my beste wild gesien wanneer ek haastig is om die kamphekke vóór toemaaktyd te haal? En hoekom het ek nog altyd die meeste wild gesien as ek op die lang pad is en my oë só moeg ek kan beswaarlik op die pad fokus?

Kom ons doen eers ’n paar somme. Kom ons aanvaar jy wil graag leeus sien. Onlangse skattings is daar is omtrent 1 600 leeus in die wildtuin. Maar die wildtuin is sowat 380 kilometer by 80 kilometer groot, dus sowat 30 000 vierkante kilometer.

Die totale padnetwerk van die wildtuin is omtrent 2 600 kilometer. Kom ons rond dit af tot 3 000 kilometer. Laat ons verder aanneem jy kan gemiddeld omtrent 50 meter weerskante van die pad sien. Soms is dit verder, dikwels is dit heelwat minder, maar kom ons aanvaar dis aan albei kante so 100 meter saam.

Dit beteken op enige gegewe oomblik is sowat 3 000 kilometer x 100 vierkante meter – oftewel 300 000 vierkante meter – sigbaar in dié sin dat jy ’n leeu sou kon sien as hy daar was. Dit is 300 vierkante kilometer, wat 1% van die oppervlakte van die wildtuin is. As leeus presies eweredig oor die wildtuin se oppervlak versprei was, sou dit beteken net 1% van hulle – dit wil sê 16 – is op enige gegewe oomblik op plekke op die padnetwerk sigbaar. Dit beteken 16 oor ’n totaal van 2 600 kilometer se paaie!

En tog sien feitlik almal wat wildtuin toe gaan vroeër of later ’n leeu. Hoe is dit moontlik? Dis waarvoor ons die sewe beginsels het.

Jou Kruger-wildtuin gids - met stories

Подняться наверх