Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 13

Оглавление

Beginsel Twee: Water is lewe

Die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo het ’n paar belangrike eienskappe:

»Dis ’n landstreek met ’n lae reënval.

»Dit het ’n warm klimaat.

»Die gebied word begrens deur die platorand en die Transvaalse Drakensberg, wat heelwat meer reën kry en waarvandaan stroompies afvloei see toe. Die stroompies kom bymekaar om spruite te vorm, wat mettertyd riviere word.

»Dis ’n laagliggende deel van die land, wat beteken die riviere vind mettertyd hulle pad hierheen.

Die wildtuin is dus ’n droë, warm stuk land met ’n paar groot riviere wat daardeur vloei. En diere het water nodig.

Party van die riviere is standhoudend, ander nie. Maar selfs dié wat nie deur die jaar loop nie, het meestal watergate of ander staande water. Daar is ook heelwat watergate en drinkdamme op plekke anders as riviere waar diere steeds kom om te drink.

As jy daarom baie diere wil sien, moet jy die waterplekke opsoek. Ry langs die oewers. Volg die riviere so ver as moontlik. Die wild is nie noodwendig vlak by die riviere nie, maar meestal binne loopafstand van die water. Dit geld die plantvreters soos bokke, maar ook die roofdiere wat op hulle jag maak. Baie soorte diere is absoluut afhanklik van water, soos seekoeie, krokodille en natuurlik visse wat op hulle beurt weer diere en voëls, soos otters en visarende, lok.

Die belangrikste riviere is, min of meer in volgorde van die verre suide tot die heel verre noorde:

»Die Krokodil

»Die Sabie

»Die Timbavati (nie-standhoudend)

»Die Sweni/N’wanetsi rivierkompleks

»Die Olifants

»Die Letaba

»Die Shingwedzi (nie-standhoudend)

»Die Levubu (nie-standhoudend).

Die grootste hiervan is die Sabie. Nie net in terme van watervolume nie, maar ook die verskeidenheid van sy fauna en flora (biodiversiteit). Daar is omtrent niks wat jy in die wildtuin kan sien wat jy nie langs, of in die Sabierivier kan sien nie.

Die blote deurlees van die lysie groot riviere verduidelik ook waarom so baie – veral ouer – ruskampe gevestig is waar hulle is. Dit lê op die oewers van die groot riviere, wat ook verduidelik hoekom dit so gewild is. Daar is net so baie wild.

Later kyk ons na verskillende roetes vir wildkyk. Dis g’n verrassing dat dié roetes lang afstande langs groot riviere insluit nie. Die hoofroetes loop ook by baie ander waterbronne verby: windpompe, boorgate, panne, stroompies, watergate. Hou die plantegroei dop. Naby en ver. Wees op die uitkyk vir ’n groen soom bome tussen die grys op die horison. Dis waarskynlik ’n rivier. Soek na bome en plante wat waterbronne verklap: ilalapalms, geel koorsbome, vaarlandswilge, huilboerbone, riete. Hou by watergate langs die pad stil, of op ’n vol rivier se wal.

Soek water. Water is letterlik lewe.


Jou Kruger-wildtuin gids - met stories

Подняться наверх