Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 8

Оглавление

Hoekom wildtuin toe gaan?

Die voor-die-hand-liggende rede is om diere in hulle natuurlike omgewing te sien. Hiermee is niks verkeerd nie. Die wildtuin is een van die min plekke waar ’n gewone mens feitlik al die soogdiere van Afrika – en die meeste van die voëls en baie reptiele – in hulle natuurlike staat kan sien. Die lekkerte van ’n dier sien – ’n skaars dier, maar veral ’n gevaarlike dier – is dat dit tot die diepste instinkte van die mens spreek. Ons wil ons nuuskierigheid bevredig. Ons smag na misterie en avontuur. Ons bly maar jagters in ons harte, al doen ons dit met die oog en die kamera.

Maar die wildtuin is ook ’n manjifieke kuierplek. Niemand wat nog nie ’n aand in goeie geselskap om ’n wildtuinvuur gesit het met ’n glas rooiwyn en ’n skaaptjop kan vir jou vertel hoe lekker dit regtig is nie. Maar selfs dít staan in die teken van die wilde natuur. Dit is waaroor mense saans om die vuur sit en praat. Dit is die sosiale gom wat mense in die wildtuin met mekaar verbind, familie, vriende en vreemdelinge. Weg van ons verskillende huise, werke, algemene lewenstrawale is hier iets wat ons verenig, nes ’n nasionale sportgeleentheid.

Vir sommige kan die wildtuin miskien ’n manjifieke laboratorium vir navorsingsprojekte wees. Of ’n paradys vir ’n natuurfotograaf. Maar dié tydverdrywe fokus op die ou end ook op die wild.

As ek aan my eie ervarings dink, is die beste beskrywing wat ek kan gee dat dit allereers gewoon lekker is om daar te wees. Dis ’n sintuiglike ervaring. En as jy nie iets daarvan oorhou nie dan sit jy die pot mis. Jy moet die wildtuin ruik, voel, hoor, proe en sien.

As daar nou ooit ’n plek in die wêreld was wat dit maklik maak om die oomblik te geniet, is dit die wildtuin. Partykeer wil jy net by ’n watergat sit en niks doen nie. Net luister na die geluid van die tarentale in die kreupelhout, die droë grasveld ruik, die hitte op jou vel voel. Of vroegoggend, as dit koud is, die rooibokke langs die pad se vlekkelose velle in die eerste lig sien ril. Of in die middel van die nag, terwyl almal slaap, by die heining van die kamp luister hoe ’n jakkals ver weg sy hart uittjank.

Hierdie aanslag op die sinne is dié van die natuur én kultuur van die wildtuin. Maar die grootste hiervan bly immer die diere. Daarsonder sou die totale ervaring van die bos redelik steriel wees – soos ’n kunstige tuin met ’n groot verskeidenheid bome en plante. Dis die wild in die wildtuin wat hom onderskei.

Dierkykery is uiteraard ’n opvoeding op sigself. Die wildtuin laat hom nou maar een maal nie voorsê nie. Vir my is van die wonderlikste dinge van die plek sy misterie: Hoekom dinge gebeur, hoe dit saamloop, en waar en waarom dit gebeur. Die wildtuin is die stoffasie van die lewe.

Nou, net om my geheel en al te weerspreek: Om die wildtuin regtig te geniet is om alles te geniet wat met jou gebeur, ook die verskeie kilometers stofpad wat jy gaan ry sonder om ’n enkele dier te sien. Want hoe spesiaal die wild ookal is, is daar geen waarborg dat jy op ’n gegewe tyd enige soort dier gaan sien nie. Wat my laat dink aan my ongeduldige dog geesdriftige swaer wat tydens een besonderse lang, warm uittog uitgeroep het: “Hier’s nie genoeg diere nie. Hulle moet nog insit..!”

Dis belangrik om te besluit wat jou doel met jou wildtuinvakansie is en wat jy daaruit wil hê, want dit sal bepaal wát jy gaan doen, hóé jy dit gaan doen, en hoe jy jou besluite gaan uitvoer.

Waar begin ’n mens?

By die begin, sal die meeste mense jou vertel. Maar dis ’n raaisel, soos leeu-soek: Jy moet alles weet om alles te weet. Jy moet byvoorbeeld weet waar om wild te soek sodat jy weet waar om te bly. Jy moet weet waar om te eet sodat jy weet waar om te ry. Jy moet weet wat om te eet sodat jy weet wat om te pak. En jy moet weet waar om te bly sodat jy die regte plek kan bespreek.

Daarom glo ek, soos Stephen Covey, begin with the end in mind. En begin ek eerder met die “wild” in die wildtuin en werk my pad terug.

Eers as jy weet wat jy in die wildtuin gaan maak, kan jy jou vakansie beplan. Eers as jy weet waar om na wild te soek, weet jy waar om te bespreek. Eers as jy weet wat jy wil eet en doen as jy daar is, sal jy weet wat om in te pak. En eers as jy ál hierdie dinge gedoen het, is jy reg om die reis Laeveld toe aan te pak.

Jou Kruger-wildtuin gids - met stories

Подняться наверх