Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 12

Оглавление

Beginsel Een: Doen die myle

“Een jaar kry ek opdrag om ’n klomp opstokers in die landdroshof op Giyani te verdedig. Giyani is ’n dorpie in Limpopo, net wes van die noordelike helfte van die wildtuin – omtrent op dieselfde breedtegraad as Shingwedzi.

Ek besluit om, pleks van deur Pietersburg (nou Polokwane) te ry, die wildtuin aan sy suidekant in te gaan en my pad noordwaarts te vind. Ek sou tog sekerlik ’n slaapplekkie vind, reken ek.

Ek het net 24 uur gehad... maar in daardie tyd het ek báie myle gedek, en vreemde gesigte gesien.

Die eerste begroet my teen middagete wanneer ek op die brug oor die Olifantsrivier stilhou. Regs voor my, in die droë sand van die rivierbedding, is die halfgevrete karkas van ’n buffel. En binne-in, omraam deur die halfmaanvormige ribbekas, lê ’n reusagtige swartmaanhaar vir my lui deur die hittenewels en kyk. Dikgevreet en tevrede.

Die volgende oggend skiet ek douvoordag by Shingwedzi se hekke uit. Ek moet al nege-uur by die hof wees. Dis nog halfdonker en ek skakel my ligte aan. Gou is ek die enigste op die pad en ry ek so vinnig as wat die wet toelaat – die hof duld nie laatkommers nie.

Skielik doem ’n vorm voor my in die halflig op. Ek rem vervaard. Dis ’n hiëna, met ’n ding in sy bek só groot dit sleep amper op die grond. Met die naderbeweeg besef ek dis die agterpoot van ’n groot bok, afgekou by die knie, met rooi vleis en wit senings wat by die oop ent uitpeul, ’n swart hoef aan die ander kant. Dan tref die stank my deur die halfoop venster.

Ek gril onwillekeurig hardop, waarop die dier potsierlik oor die pad weggalop, sy afdraande agterlyf vir oulaas sigbaar vóór hy tussen die lang gras langs die pad verdwyn. Nature red in tooth and claw, inderdaad.

Daardie oggend sien ek nog baie diere waarvoor ek sou stop, het ek maar die tyd gehad – ’n reuse olifantbul, vyf meter van my kar ’n swart maanhaar wat in profiel poseer, kompleet soos ’n dier op ’n poskaart.

Net vóór nege stap ek by die hof in op Giyani. Maar my kop loop ver.”

Dit spreek vanself dat jou kans om toevallig ’n leeu te sien as jy elke dag net, sê nou maar, 10 kilometer om die ruskamp ry omtrent nul sou wees.

Maar die hoofrede hoekom mense gereeld leeus in die wildtuin sien, is omdat hulle aansienlik méér as net 10 kilometer ry. Die meeste toeriste bespreek slaapplek in verskillende kampe, en die meeste kampe is redelik ver van mekaar af. As ’n kind kon ek nooit verstaan hoekom ons gedurende ons drie dae in Skukuza meestal net rooibokke en vlakvarke sien nie, maar dan soveel meer – ja, roofdiere ook – op die dag wanneer ons na ons volgende kamp, soos Letaba, ry. Vandag verstaan ek dis gewoon statistiek: Jou kanse om baie wild te sien is beter as jy lang afstande ry. So eenvoudig soos dit.

Daarom, doen die myle. Bespreek jou blyplek só dat jy gedwing word om lang afstande te ry. Beplan jou dag sodat jy, selfs al oornag jy op dieselfde plek as gister, ’n bestemming in die middel van die dag kies, ver van jou slaapplek af, waar jy kan rus, piekniek maak, tee drink of net die uitsig bewonder. Kies doelbewus ompaaie na jou bestemmings. Sulke lang reise is nie net lekker omdat jy meer van die omgewing sien nie; jy sien ook meer wild op dié manier. En dit maak van jou vakansie ’n avontuur.


Jou Kruger-wildtuin gids - met stories

Подняться наверх