Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 16
ОглавлениеBeginsel Vyf: Die tyd sal leer
Wildkyk gaan oor die “wanneer” van jou kyk, net soveel as die “waar”. Eintlik oor wanneer jy waar kyk. Tydsberekening is alles.
OGGENDSTOND
“As ek op die donker stoep uitkom, maak die bedompigheid in die hut plek vir oggendlug wat koel en stil is. In die weste verdwyn die sekelmaan agter die knoppiesdoring se takke. Die hiëna wat die hele nag geraas het, is stil.
My kleinboetie kla binne-in die hut oor hy ’n trui moet dra.
Ek ken nie die name van die voëls wat ek buite die grensdraad hoor nie. Daar is een wat so tjik-tjik-tjirrrrrr... En nog een wat sê bankrôt...! bankrôt...!
“Ons moenie sukkel nie, ons moet Letaba nog voor vanaand haal,” sê my pa. Die meeste hutte is nog donker. Die kar se bak klap dof in die stilte van die kamp as hy die laaste tasse en bokse met ons goed inpak.
Ons ry hek toe. Die kontras tussen die swart silhoeët van die hekboog en rooi dagbreek daaragter is prentjiemooi. Soos daardie tekeninge op skool waar jy swart indiese ink oor rooi en oranje vetkryt-agtergrond verf en dan ’n doringboom of iets uitkrap. Swart teen die dagbreek.
Die hekwag dra ’n grys uniform met ’n stetson-hoed, kortbroek, kamaste en stewels. Op die kop sesuur ry ons deur.”
As daar nou een cliché oor die wildtuin is wat wáár is dan is dit dié: Die vroeë voëltjie vang regtig die wurm. Of in dié geval, die leeu. Die rede is eenvoudig: Leeus en luiperds jag gewoonlik in die nag. Wanneer dit soggens lig word, is hulle dikwels aan die beweeg – hetsy oppad water toe nadat hulle gevreet het, of oppad na ’n lekker sonkol waar hulle die dag kan rus. Om vanselfsprekende redes geld dieselfde die aasdiere wat in hulle spore volg, die hiënas en jakkalse.
Die hekke van die kampe maak sesuur in die winter oop en 5.30 in die somer. Dan is dit feitlik nog donker – ’n baie goeie tyd om leeus, luiperds, hiënas en jakkalse te sien. Nie wildehonde en jagluiperds nie – hulle maak staat op hulle vermoë om ver te sien en vinnig of ver te hardloop, en jag daarom meerendeels in die dag.
Daar is minstens drie redes hoekom jy dié tyd van die oggend redelik vinnig wil ry:
»Daar’s nie juis sin in om stadig te ry en die bosse vir wild te deursoek as jy nie veel in die donker kan sien nie. As jy wild sien, is dit in of by die pad.
»Hoe vinniger die motor beweeg, hoe groter is jou kans om “toevallig” ’n leeu of ander gedierte oor die pad te sien loop. Gebruik jou ligte en hou by die spoedperk.
»As dit enigsins moontlik is, wil jy eerste by ’n sekere punt op die pad verbybeweeg voordat ander voertuie dalk roofdiere daar naby verwilder het.
Omdat baie roofdiere vroegoggend gaan drink, is ’n rivierpad ’n goeie keuse vir ’n oggendrit.
Mits dit nie te koud is nie, ry met jou kar se venster oop. Leeus is lief om mekaar te roep deur te brul – die mannetjies en die wyfies mekaar, en die ma’s die welpies. Jy kan ook hiënas hoor. Of olifante. Gebruik daarom jou ore, en as jy iets hoor, hou stil of ry stadig vir ’n minuut of so. ’n Mens weet nooit nie.
Hou wel in gedagte die meeste boksoorte en ander plantvreters slaap snags en beweeg nie eintlik voordat die son uitkom nie. Olifante en seekoeie, aan die ander kant, beweeg en wei ook graag in die nag. Maar altwee dié diersoorte is so groot jy kyk hulle in elk geval nie sommer mis nie. Sodra die son uitkom en dit warmer word, begin die ander diere water toe gaan. Dis opvallend hoe dit die een oomblik nog lyk of daar niks op die pad is nie en ’n uur later is dit oorbevolk!
En selfs al sien jy nie ’n enkele leeu nie, is daar steeds die plesier van die ervaring – die skielike besef dat die temperatuur daal wanneer die eerste sonstrale oor die droë bosveld skiet, van saggies gesels in die kar, van stadig met ’n oop venster ry terwyl die kar se wiele oor die fyn klippies van die rooigrondpad knars, van koffie by ’n watergat drink terwyl die wasem van die oggend oor die stil watervlak hang, van die soet reuk van die oggend se gras en bos, of die vervaarde gesketter van fisante en tarentale wat wakker word...
MIDOGGEND
Die temperatuur in die wildtuin styg saam met die son en by 10/11-uur is dit meestal goed warm. Nou is ’n goeie tyd om by ’n watergat, dam of rivier te stop en te kyk wat gebeur. Dis verstommend hoe baie lewe daar dié tyd van die oggend langs die water is. Dis ook lekker om ontbyt te eet by een van die piekniekplekke (waarvan ek later meer besonderhede gee). Bykans al dié plekke is langs ’n drinkplek geleë.
As dit ’n diep watergat of rivier is, is daar feitlik altyd seekoeie en krokodille. Kyk mooi, albei kamoefleer hulleself nogal goed. Krokodille lyk soos droë stompe; seekoeie soos die rooibruin klippe wat jy in feitlik elke rivier hier aantref. Gebruik jou verkyker.
Baie diere kom drink tussen, sê maar, 10-uur en eenuur. Olifante bad graag, of speel in die modder, of spuit mekaar met hulle slurpe nat. So ’n spelery is genoeg om ’n mens ure lank te vermaak.
As jy gelukkig is, sal jy ook een of ander tyd ’n trop van ’n paar honderd buffels sien drink. Of kameelperde wat potsierlik wydsbeen staan om die water by te kom, of rooibokke, kwaggas en blouwildebeeste wat geduldig in rye aantree, terwyl hulle voortdurend ’n waaksame oog op die rand van die bos hou. Dis waar roofdiere vir ’n geleentheid lê en wag.
So ’n watergat is ook waar jy ’n hele orkes dieregeluide kan hoor: ’n visarend met sy proklamasieroep, kolganse, spreeus wat kweel, neushoringvoëls en blousysies, glasogies, fisante en tarentale. Luister ook vir kwaggas wat blaf, (so ’n hoë whie-whie-whie-geluid), seekoeie wat snork, bobbejane wat blaf (klink nogal soos boggom...!), en olifante wat trompetter.
In die middel van die dag raak die bos stil. Roofdiere slaap meestal. Bokke en ander plantvreters soek skaduwee en beweeg so min as moontlik in die hitte. Dis dan ’n goeie tyd om rustig onder ’n boom in ’n kamp te sit, of stadig langs die heining met ’n verkyker te stap, of vir ’n middagslapie. As jy op die pad is, is dit dalk nie ’n slegte plan om daardie tyd op die grasvlaktes tussen Tshokwane, Satara en Orpen, of naby Malelane of Shingwedzi te wees nie. Selfs in die ergste hitte van die dag kan ’n mens gelukkig wees om jagluiperds of wildehonde te sien jag of vreet, of leeus wat lê en rus in die son – later die skaduwee as dit te warm word.
1 Aand een
2 en 3 Aand twee
LAATMIDDAG
Ongeag my lofliedere oor die wondere van die oggend-uur, is daar iets spesiaal in die laaste uur en ’n half vóór die kamphekke toemaak. Daar is iets betowerends aan die son wat laatmiddag oor die bosveld begin sak terwyl die bome “swart word” – soos my swaer altyd sê. Ry laatmiddag in die wildtuin en kyk hoedat die dag se stof, wat deur die dag in so ’n vuilerige streep bokant die horison lê, begin rooi verkleur. Die skaduwees word langer. Voëls wat vroeër stil was, begin raas, veral bosfisante en tarentale wat vir oulaas oppad water toe is. Rooibokke, koedoes, kameelperde en waterbokke beweeg oor die pad na hulle slaapplekke. Bobbejane raak onrustig waar hulle tot nou naby die warmte van die teerpad rondgespeel het.
Van my heel opwindendste oomblikke van wild sien was laatmiddag op pad kamp toe van ’n lang tog, veral as jy ’n bietjie laat is vir die hek en nie eintlik tyd het om stil te hou nie. Om die een of ander rede lyk dit of diere dan oor mekaar val om jou rit te onderbreek.
Dit is gewoonlik ook die tyd van die dag wanneer olifante in die pad gaan staan, of reg langs die ryvlak wei, maar op só ’n manier dat jy net nie gemaklik voel om verby te ry nie. Dikwels sal een dan so met die naderkom omdraai en sy ore met groot vertoon flap. Of ’n trop buffels oppad terug van die water sal, soos deelnemers aan ’n massa-padwedloop, die verkeer vir kilometers na weerskante toe blokkeer.
Ek wonder ook hoeveel luiperds ek al laatmiddag of vroegaand langs die Sabierivier of op die Orpen/Satara-pad gesien het terwyl ek jaag om die hek betyds te haal.
’n Jaar of wat terug slaap ek ’n paar aande op Satara oor. Laatmiddag ry ek met die S36 uit die rigting van Muzandzeni en draai regs op die H7 na Satara. Op daardie punt is daar so 20 kilometer oor voor Satara en so ’n raps oor ’n halfuur tyd om die kamp te haal. Als goed en wel, was dit nie vir die feit dat toe ek die draai vat – dit raak teen vyfuur al sterk skemer in Juliemaand – ’n paar vaal voorwerpe soos streepsakke dwars oor die teerpad lê nie: ’n hele paar volwasse leeus wat die laatmiddagwarmte van die teerpad geniet. Hulle het waarskynlik van die Timbavati af opgestap nadat hulle gedrink het en hier gestop om spanpraatjie te hou vir die aand se jag. Maar hulle lê só daar is nêrens verbykomkans nie. Dit kos my uiteindelik om eenvoudig in eerste rat, met die neus van my voertuig te druk-druk voordat die vergadering lui verdaag.
Heel toevallig ry ek die volgende aand dieselfde pad – met presies dieselfde gevolge.
As jy die dag glad nie lus voel vir in die kar sit nie, oorweeg dit om steeds laatmiddag ’n deeglike draai te ry. En bewerk dit so dat jy in die wonderuur vóór toemaaktyd op die pad is. Jy sal nie spyt wees nie.
Karre het die nare gewoonte om te breek… 1950’s
en in 2013