Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 7

Оглавление

“Ek is vyf jaar oud. Letaba se swart sand is warm onder my kaal voete. Goggas skree in die bome. Nie ’n blaar roer nie. Iewers raas ’n voël kôk kôk kôk kôk, al hoe harder en harder.

Ek dra ’n kakie-kortbroek en ’n somerhemp, want in die wildtuin is dit altyd somer, al is dit Juliemaand.

Ek loop stadig met die voetpad onder die groot breëblaarbome deur en voel die lekker van die sand tussen my tone en die son op my gesig. Ek’s nie lus om te vinnig te loop nie, want die lekker moet aanhou. Die bos ruik soos Simba-tjips, en die kamp na die rook van ’n houtvuur.

Die grootmense lê en slaap in hulle hut met die koel groen vloer. Nommer 67, in een van die groot sirkels rondawels. Die grasdak rus op dik pilare van droë stompe. Op die stoep is ’n koskas van dun hout met gaatjies in en ’n grendel om te keer vir die ape.

Ek trek die sifdeur saggies agter my toe sodat dit nie klap nie, en eensklaps is alles anders. Binne is dit koel. Dit ruik na teerpale, seep en paraffien. Ná die skerp lig buite kan ek eers nie sien nie en staan ek stil om agter te kom waar ek is, die gladde groen sementvloer lawend onder my warm voete.

Die toegetrekte gordyne is geel, met prentjies op van ape, ’n ma- en pa-leeu met drie kleintjies, en ’n groot olifantbul met lang tande en ’n hap in sy oor. Daar’s ook ’n koedoe met drie draaie in sy horings, ’n swartwitpens en ’n buffel wat hartseer lyk omdat hy teen ’n afdraand staan.

Die diere is swart en grys en wit.”

Ek gaan nou al vir meer as 50 jaar wildtuin toe. Dit verduidelik hoekom ek praat van “die wildtuin”, eerder as die amptelike benaming, die “Nasionale Krugerwildtuin”, of behoede ons “die Kruger”, of “die Park”.

Ek het grootgeword in ’n tyd toe net één plek bekend was as die wildtuin en dit was net so wesenlik deel van ons kultuur soos braaivleis, rugby en baklei.

In 50 jaar kan selfs die domste mens iets leer. Ek reken ek het iets in my vyftig jaar in die wildtuin geleer. Nie noodwendig van die wetenskaplike dinge nie – van die name van bome, die gewoontes van die diere en die voëls nie. Nee, sommer net hoe om dit regtig te geniet.

Ek weet dis elke mens se indaba hoe hy dinge geniet. Maar ek wil graag help.

Daar is baie redes hoekom mense wildtuin toe wil gaan, en dis nie altyd moontlik om in ál die behoeftes in één vakansie te voorsien nie. Dié boek wil die verskillende opsies ondersoek en jou dan help goeie besluite neem.

Dis gemik op die toeris wat nog nooit in die wildtuin was nie, of ’n relatiewe nuweling. Ek dink hier aan baie Suid-Afrikaners wat nog nie die voorreg van om wildtuin toe te gaan ervaar het nie, baie Kapenaars en Durbaniete en ook buitelanders.

Uit ondervinding weet ek ’n vakansie met die voordeel van die inligting in dié boek sal eenvoudig lewensveranderend lekker kan wees. Die alternatief is dat jy as ’n besoeker dom foute sal maak: verblyf reël wat jou nie in staat stel om die totale atmosfeer en natuurskoon van die plek in te drink nie, nie sien wat jy graag wil sien nie, of erger sonder blyplek, kos of brandstof iewers gestrand raak.

Die raad wat ek gee, is gemik op ’n wildtuinvakansie in selfsorgakkomodasie: hutte en gastehuise eerder as weelderige safarikampe, privaatkampe en restaurante. ’n Vakansie vir ’n doodgewone ou met verlof.

Nou sal verskeie ervare wildtuingangers sweer daar’s geen ander manier om dit te doen as om te kamp nie. Hulle’t dalk ’n punt beet, maar die boek is allereers bedoel om praktiese hulp aan nuwelinge te verleen. Daarom konsentreer ek op ’n vakansie in gewone kampbehuising – ’n vakansie waar jy elke uur van elke dag buite in die bos kan kuier, met jou mense, tussen ons diere, op ons almal se grond.


Skukuza, laat 1960’s

Jou Kruger-wildtuin gids - met stories

Подняться наверх