Читать книгу Jou Kruger-wildtuin gids - met stories - Frans Rautenbach - Страница 15
ОглавлениеBeginsel Vier: Jy is nie alleen nie
“Dis halfses in die oggend. Díe twee – elkeen met ’n harige kaal pens en handdoek om die lyf – loop mekaar voor die skeerspieël in die badkamer raak. Hulle ken mekaar van g’n Adam nie.
“Môre... ”
“Môre... “
“Lyk na ’n lekker dag, né...?”
Nommer twee trek sy bolip styf as die lem daaroor krap-krap. Hulle stemme weergalm in die oop ruimte.
Sy maat vryf sy grys borshare. “Ja, ons gaan seker weer bars van die hitte vanmiddag...”
Langsaan plas die water en stoombolle trek by die oop storthok uit na die hoë grasdak bo.
“Is julle op pad, of bly julle nog oor?”
Die eerste ou spoel sy skeerkwas af. Die seep ruik soet en meng met die geur van karbolsuur en teer.
“Nee, ons ry vandag ’n bietjie deur Satara toe. En julle?”
“Ja, ons is ook op pad – Letaba toe... Was julle vanjaar al in die noorde?”
“Ja, van Shingwedzi deurgekom. Lanklaas sulke groot troppe buffels gesien...”
“En leeus?”
“Nee, nie daar nie. Maar as julle op pad is Letaba toe kan julle dalk gelukkig wees. Net so 10 kilo’s anderkant Tshokwane was daar gistermiddag nog ’n trop van 15 wat aan ’n kameelperd vreet. Gelyk of hulle nog ’n rukkie daar gaan wees... ”
En daarmee groet hy.”
Oom Howard, paraat vir die nuwe dag (N’wanetsi, 1970)
Wildtuinbesoekers het een doelwit in gemeen: om soveel moontlik wild te sien. Duisende mense wil net so graag soos jy leeus en luiperds sien. En daar’s ongetwyfeld mense met inligting wat jou sal help om in jou doel te slaag. Maar jy sal ’n fyn balans moet handhaaf. Moenie agter elke brokkie nuus aanjaag nie.
Onthou die diereryk is ’n dinamiese besigheid. Die leeus wat vanmôre nog op die Tshokwane-pad gelê en vreet het, het dalk al lankal verkas. Die luiperd langs die Sabierivier se prooi hang dalk nog in die boom – maar hy’s vergete al weg. Gebruik jou gesonde verstand. Moenie afsien van ’n goed uitgedinkte plan om vandag ’n sekere roete te ry net omdat die oom by die warmwaterketel gesê het hy het gister ’n jagluiperd oor die Satara-pad sien stap nie. Daar stap elke dag jagluiperds oor daardie pad – soos oor baie ander paaie. Dit neem dikwels net ’n minuut of twee. Hou by jou plan.
Dieselfde geld die wildkykkaart by elke kamp, waar toeriste kleurspelde aanbring om aan te dui waar hulle sekere spesies gesien het. Moenie jou dag se plan verander net omdat daar wildehonde op dié of daai pad gewaar is nie. Wildehonde beweeg maklik 30 kilometer in ’n dag se tyd.
Aan die ander kant is dit dalk goed moontlik dat as ’n trop van 15 leeus ’n kameelperd vroeër in die dag platgetrek het, hulle later nog daar sal wees, of selfs die volgende dag.
Nog ’n ding. Geniet die pad waarop jy is. Moenie dink aan wat moontlik op ’n ander pad, waar ander toeriste is, gebeur nie. Hulle is in die versoeking om presies dieselfde te dink. Fokus op jou plan vir die dag.
Daar’s niks so opwindend as om oor ’n bult of om ’n draai te kom en skielik ’n klomp karre se dakke in die son te sien blink nie, veral as party teen skewe hoeke en in onmoontlike posisies staan. Dan kan jy amper seker weet: katte.
Niks maak toeriste so opgewonde soos roofdiere nie, veral as daar prooi betrokke is. Een van die dividende van die doen-die-myle-beginsel is mense sal dikwels vir jou wys waar die wild is. Moenie huiwer om mense te vra wat hulle sien nie. Die wildtuin laat in daardie opsig die beste in mense na vore kom. Die meeste toeriste sal uit hulle pad gaan om jou te help sien wat hulle sien – en in die fynste besonderhede te verduidelik: “Sien jy daai droë boom wat so skuins afloop? Nou ja, aan sy onderpunt is daar twee heldergroen bossies. En tussen hulle so ’n bruin klip. Nou ja, dit is nie ’n bruin klip nie...”
Een van die dilemmas wat oor jou pad sal kom, is waar jy ’n enkele motor sien staan. Vra jy, of vra jy nie? Ek stel voor kyk eers mooi wat hulle doen.
Ek en my pa ry een jaar tussen Satara en Tshokwane. Langs die pad sien ons ’n klein blousysie wat in ’n doringbos reg langs die pad rondspeel. Ons hou stil om te kyk. ’n Ander motor met ’n middeljarige vrou aan die stuur hou stil.
“Wat sien julle...?” vra sy.
“Sysie...,” sis my pa deur sy tande.
“Sy’s hier...? wil sy weet. “Wat? ’n Leeuwyfie...?” Hoopvol.
“Sysie...,” sis my pa weer. Dié slag wys hy met sy vinger.
Met ’n gebrul van die enjin en geskreeu van bande trek sy weg. Ons het nog gelag toe ons 10 minute later ’n regte leeuwyfie langs die pad kry.
Party wildtuingangers stel regtig in voëls belang en sal daarvoor stop. Vir ure. Ander sal stop net om na die bos te sit en luister. Sommige sal hulle padkaart raadpleeg, of ’n bietjie koffie uit ’n warmwaterfles skink. Of deesdae selfs ’n selfoonoproep maak. Maar jy kan maar weet as mense regtig iets opwindends sien, veral roofdiere, kan die meeste hulle met moeite beteuel. Hulle sit met verkykers voor die oë, beduie vir mekaar en dikwels vir ander toeriste wat hulle sien, neem foto’s, babbel kliphard of skree opgewonde. Jy sal weet.
Kyk daarom eers mooi vóór jy grootoog vra wat iemand sien en jou naam dalk heeltemal gat maak. Wat werk, is om nader te ry, jou venster af te draai en vriendelik vir die mense in die ander motor te glimlag of te knik. Jy sal agterkom dis hoe mense in die wildtuin maak. Stedelinge wat mekaar normaalweg skaars sal groet, het hier die tyd en lus om ’n geselsie aan te knoop.
Ek vermoed dit het te doen met die ontspanning van wegkom en die plesier van net daar wees. Jy is bietjie soos een wat verlief is – jy wil jou vreugde met almal deel. Daarom sal jy vind mense is ook deur die bank hoflik, laat mekaar voor ry, of maak plek as hulle gesien het wat te sien is. Tien teen een as jy jou venster oopmaak en groet, sal mense vir jou vertel daar’s ’n leeu in die lang gras. Of net – effens verleë soms – glimlag omdat hulle verdwaal is. Of vir jou beduie hulle sien ’n sysie...
Nog ’n rede om mooi te kyk as jy by so ’n enkele stilstaande voertuig stop, is hulle sien dalk régtig iets interessants, maar reken dis so voor-die-hand-liggend dis nie nodig om dit uit te wys nie.
Op ’n keer hou ons naby Satara stil waar ’n paar ander voertuie reeds staan en die kinders skree: “Daar’s ’n jagluiperd!” Ek laat oudergewoonte my oë oor die vlakte gaan, van links na regs oor die wye oopte om ons (ervare ou jagter, ek). Maar al wat ek sien, is ’n jagluiperd.
Dit blyk toe hy sit kiertsregop bo-op ’n reuse miershoop nie vyf meter van ons af nie, en met sy lang, maer silhoeët só weggesmelt dat hy vir my moeë oë bloot die skerp spits van die miershoop is.
Niks is natuurlik lekkerder as om jou “eie” dier te sien nie; jou “eie” luiperd of leeu af te merk. As jy enigsins kan, vertel vir iemand wat verbykom en dit net so graag wil sien. En as jy die myle doen, belowe ek jou dit sal vroeër of later gebeur.
Soos een jaar, toe ek weggeloop het vir ’n naweek en deur Malelane ingekom het...
Ek was warm, lyfseer en effens bedruk, boonop sonder slaapplek vir die aand. Maar toe, om ’n draai, was hulle skielik voor my – aan weerskante van die pad, tussen groot ronde klippe: wildehonde wat oor die rotse speel.
Party het in die warm laatmiddagson uitgestrek gelê. Kleintjies het na mekaar gehap-hap, tussen die grotes deur geklouter en gestruikel. Die kleure – swart en beskuitjiebruin met wit stertkwaste – het met die skimmelkleure van bos en klip versmelt. Ek het hulle probeer tel, maar daar was te veel...
Vyftien magiese minute lank het ek my sit en verwonder – alleen, ja, maar met ’n gemoed so lig soos die bosveldlug.
Ander mense sien ook hulle “eie” diere. En jy sal verbaas wees hoe dikwels – veral op afgeleë paaie, weg van die groot verkeer af – motoriste van voor sal aankom, beduie jy moet stilhou en dan verduidelik daar was iets verder terug op die pad te sien. Dis meestal die moeite werd om op te volg. Baie mense sal selfs vir jou die presiese kilometerlesing gee van waar hulle iets noemenswaardig gesien het. Dis moeilik om te beskryf hóé dankbaar jy is as dit gebeur – veral as jy nog niks daardie dag gesien het nie.
Waar jy kan, betaal dié guns terug.
Jy is nie alleen nie.