Читать книгу Die Generaal - Hans Pienaar - Страница 12

Agt

Оглавление

Hoekom, Ben? Hoekom?

En ek? Hoekom het ek weer probeer? Om weer by jou te gaan crash ná die koue skouer van die eerste naweek?

Hier skryf ek nou vir jou, Ben, en dit gaan heel goed, want die weermag se tiklesse het gewerk, met hul state-of-the-art-masjiene en borde met liggies en sagte oorfone en ’n Amerikaanse meisie wat oor jou kom leun en jou paradepyne wegstreel. Al was sy net ’n stem in ’n program.

Dis ’n deurmekaarspul soos my gedagtes, die herinneringe, alles, uitstroom. Maar dit help reeds om die hele storie hier uit te giet; ook die dele wat ek jou nooit vertel het nie, waarby ons toe nooit uitgekom het nie.

Selfs die ding van soldaat probeer wees, die hele katastrofe. Dit was al genoeg rede om te vlug, bedoel ek. Waarheen ook al. Op die derde dag van ons diensplig het ons ons helms gekry – dit was van plastiek gemaak. En die waterbottels. “Tupperware-troepe,” het iemand gespot. Toe al het iemand ’n Sad Sack-figuur in die paradegrond geteken.

Ons het elkeen ’n staaltrommel gekry, en ek is aangesê om my boeke daarin te bêre. Niks mag die aandag van opleiding aflei nie. “Kaffertasse,” het iemand gemompel. Toe ontplof ’n korporaal.

“Jy mag nie die woord ‘kaffer’ gebruik nie. Omdat julle laer as die vuilste kaffer is, word ons verbied om julle dit te noem. Die woord ‘kaffer’ is vir Bantoes, en omdat julle almal wit is, kan ons julle nie kaffers noem nie. Die volgende manskap wat die woord ‘kaffer’ gebruik, sal om hierdie eskadron-HK moet hardloop en skree ‘Ek is nie goed genoeg om ’n kaffer te wees nie’.”

Teen die einde van basies het dit alledaags geword om in jou browns oor ’n stuk veld te kruip met jou geweer in die wieg van jou arms. (“As jou geweer jou girlfriend is, is die aarde jou ma.”) Of om in pas te marsjeer. (“Sodat die piele in hierdie peloton nader aan die poepholle kan kom.”)

“Fokken kyk voor jou, moerskont …” Die onderoffisiere was Sad Sacks, hulle het gedreig om oë uit te suig, of in ore te ejakuleer, of testikels vir strikdasse te gebruik …

Maar ek was verward, Ben. Want was dit nie ook die ware lewe nie?

Ek het nie die ware lewe geken nie. Dit het jy my destyds al laat verstaan, met jou verwerping van ons, jou afsydigheid, jou hoogmoed. ’n Rykmanskind was ek, oorbeskerm, soos ’n onderwyser my eendag uitgeskel het. Genoeg breinselle, die beste leerling in die provinsie, maar het ek geweet hoe om daardie breinselle te gebruik? Daardie vorige lewe was pure dryfsand, die weermag het minstens vaste grond gebied.

Die vaste grond van jou liggaam waartoe alle behoeftes gereduseer is.

Wil jy slaap? Daar’s ’n tent vir ses van julle.

Wil jy eet? Daar’s jou varkpanne en jou kidney pouches en maak jul mae vol en maak gat skoon vir die volgende klomp varke.

Wil jy ’n kak vang? Hier’s ’n graaf om ’n gat te spit.

Wil jy draadtrek? Doen dit in die stort, nie in die weermag se onderbroeke nie.

Wil jy doodmaak? Doen dit hier, in die middel van die liggaam, of tussen die oë, onder die deksel van die helm.

En vrouens? Wil jy naai? Gryp dan ’n vrou en doen dit, soos ’n hond. Moet net nie jou stewels uittrek nie, anders sal die vyand jou kry. En as jy nie ’n vrou kan kry nie, takel ’n bok, vir wie se kloue jy sysakkies in jou tuniek het.

Was dit nie wat ek wou doen nie? Kru was dit alles, kru was Swart Vest se storie op die trein. Maar ek wou deel wees daarvan. Maria … ek wou haar … naai. In die weermag kon ek my verbeelding vrye teuels gee, vir die eerste keer.

Maria se kont, het ek myself vertel, dis wat ek wou gehad het: Maria se kont. Ek wil met haar maak soos Swart Vest met sy meisie gemaak het. Ek was in ’n beswyming die eerste keer dat ek daardie woorde geuiter het. Ek het op lug geloop.

Maar dit was ook nie die volle waarheid nie. My lus vir haar, vir enige meisie, het ook ander beelde opgeroep, baie meer. Ek het haar sagtheid onthou, die glinsterblou van haar perfekte oë, die manier waarop sy frons en haar bolip stadig met die gekrulde puntjie van haar tong lek wanneer ek liefde maak met haar.

Ja, dit was ook waar. Sy was buite perke, en wou so bly; liewe, beeldskone Maria. Dit was so verkeerd, maar dit was wat ons gedoen het elke keer wat ek haar vasgehou het en haar borste en haar dye geknie het, haar hand om my pols: Ons was besig om liefde te maak. En toe sy dit stopgesit het, was dit ook uit liefde, dit weet ek nou.

Ek wou in die straat af loop met haar. Net in die straat af loop met haar. Enige straat, solank dit buite die basis was. Ek wou ook die nag in loop met haar; ek wou wiskunde doen met haar; die trigonometrie en die ellipsoïdes en trapesoïdes van haar liggaam ontdek. Of dié van enige ander vrou.

Die weermag kon dit nie bied nie. Die weermag wou dit vernietig. Die ergste wat die weermag gedoen het, was om die buitewêreld so moeilik, so uiters vreemd te laat lyk; ’n wêreld waar mense in elk geval doodgaan van honger en gebrek aan liefde. Die buitewêreld was g’n plek vir ’n eerlike soldaat nie.

En toe was daar Pretty Belinda, en die wêreld was ook geen plek vir haar nie.

“Cowboys don’t cry …” Ons het die frase so dikwels gehoor dat ons onsself in Stetsons pleks van barette begin sien het.

Dit was ’n vreemde gevoel; ons was veronderstel om soldate te wees, seuns wat besig was om manne te word, maar vir lang tydperke het ons in ’n saal op skoolstoele gesit met gordyne die kleur van gekoude biltong, kompleet soos die skool s’n laas jaar.

Buite het die reënwater deur die geute geratel, die grasperke het vol geloop en die bome het gelyk of hulle op heterdaad betrap is en nou maar daar staan met hul nat kalksokkies. Maar pleks van leer hoe om daarin te leef met net jou tent en jou poncho, is ons in die saal gestop vir lesings. Tupperware-troepe, inderdaad.

Popmusiek! Die kaptein het daardie dag oor popmusiek gepraat, oor dieselfde ou gunstelinge as dié van die onderwysers in matriek. Die Rolling Stones met “Sympathy for the Devil”, die Beatles met “Back in the USSR” was voor in die koor. John Lennon, het die kaptein voortgeseur, was mos die man wat gesê het hulle is gewilder as Jesus Christus. Wel, het ons Christene nie sy gat geskop nie!

Hy het verwag ons moet lag, en senuweeagtig gelyk toe sy gegrinnik deur ’n dom gestaar begroet word. Noem Mick Jagger se naam op ’n verhoog, en almal het al geleer om af te skakel.

Dit het my ontmoedig laat voel. Voor die reën het die weermag inderdaad soos ’n tuiste begin lyk. Ons het met skietkuns en nagoefeninge begin. Ek kon dit nie ontken nie: ’n opgewondenheid het my beetgepak toe ek die eerste keer “die vyand” in my visier gehad het en ek die plesier beleef het van daardie breukdeel van ’n sekonde voor jy jou geweer se sneller trek. Al was daar net blanks in die magasyn.

Die skietbaan. Die kuns van die regte postuur, die regte asemhalingstegniek. Die spanning toe ons by die langer afstande kom. En toe ek genoeg punte opstapel vir ’n skerpskuttersbalkie, kon ek die gevoel van trots ook nie ontken nie.

Toe ons op die koppie sit wat op die basis afkyk en die louwarm tee drink wat daar aangekarwei is deur ’n nors sjef, wie se gevloek ons selfs bo die kermende Land Rover kon hoor, kon ek myself daar onder sien. Aan die hoof van ’n peloton, besig om mens en masjien te fokus op die een of ander massiewe projek ver anderkant die horison. Honderde en duisende aan’t marsjeer.

Maar daar was onmiddellik die repliek in my kop: Waarheen? Waarvoor? Sal die vyand ons ooit bekruip soos hulle ons bekruip het tydens nagoefeninge? Dit het ook so absurd gevoel: speletjies wat nooit werklik sou gebeur nie, nie hier te lande nie. Tupperware-troepe.

“Hulle is lafaards. Cowboys don’t cry,” het die kaptein voortgegaan op die verhoog. “Dis hoekom hulle sekere organisasies gebruik om hul vuilwerk vir hulle te doen. In Mosambiek, Angola, Rhodesië … en nou ook in Suid-Afrika.”

Die woorde het in die lug gehang: “sekere organisasies”. Obskuur genoeg om onheilspellend te klink. Spesifiek genoeg om jou te laat voel hulle is iewers anderkant die eerste berg aan’t knoei; anders as gewone wetsgehoorsame, pligsgetroue organisasies soos die weermag. Na wie het hy verwys? ’n Sadistiese slawemeester wat in Russies vloek en honderd kruipende Mosambiekers aandryf na ’n vreedsame dorpie, en dan soos blits verdwyn wanneer ’n ander wit mens op die toneel verskyn?

Maar ons, het die kaptein met trots gesê en sy bors jou waarlikwaar uitgestoot, ons in die gewapende magte van die Republiek van Suid-Afrika, ons is van heldestoffasie gemaak, ons is nie lafaards nie – toe het die korporaals ons opgestook om te skree “Ja, kaptein!” – en ons is eerlike mense en veg self in die oorlog, in die oorlog vir ons land, ons gebruik nie ander mense nie. Ons steek nie weg dat ons dinge moeilik maak vir die vyande van die staat nie. Ons veg vir die voortbestaan van die Westerse beskawing en cowboys don’t cry.

Terwyl hy gepraat het, is ’n notaboekie rondgestuur. Die laaste inskrywing was ’n versoek vir Pretty Belinda for my friend pretty Belinda and all my folks at home, gevolg deur omtrent ’n dosyn name.

Toe ek opstaan, het die uitdrukking op die kaptein se gesig na een van skok verander. “Wat ek nie verstaan nie, kaptein,” het ek myself hoor sê, “is dat die weermag ons waarsku teen popmusiek, maar terselfdertyd word ’n notaboekie omgestuur met versoeke vir popmusiek op Forces Favourites. Iemand het byvoorbeeld gevra vir ‘Pretty Belinda’, wat definitief popmusiek is.”

Die troepe voor my het verbaas omgekyk. Die kaptein was in ’n hoek, maar hy was ook opgelei om homself daaruit te praat.

“Wat ons hier moet verstaan, is dat ons deesdae in ’n nuwe arena van oorlog veg. Die Russe,” en hy het sy duim en voorvinger in die lug bymekaargehou asof dit die moeilikste ding op aarde was om klein te kry, “wil die koppe van die Westerse jeug korrupteer. Ons weet nie presies hoe hulle dit doen nie; hulle doen navorsing in laboratoriums en so aan en ons sien net die resultate: dwelms, promiskuïteit, flower power en vredestekens oral – wat, soos jy weet, die teken van die kraai en daarom van die duiwel is. En ons kan nie bekostig om met ons broeke op ons knieë betrap te word nie, so ons moet voorbereid wees.”

“Ja, maar wat van ‘Pretty Belinda’?” het ek volgehou.

“Los die musiek, gee ons net Belinda,” het iemand uitgeroep, en die saal het uitgebars van die lag. Die kaptein het kameraadskaplik geglimlag, en sy kop geskud.

“Daar het jy dit,” het hy gesê. “Dis ter wille van ons vrouens.”

Die volgende paar dae het die korporaals en sersante gesorg dat ek meer as net ’n rooi gesig gehad het. Pretty Belinda was nou my bynaam, en hulle het dit uitgeskree tot hul gesigte, sentimeters van myne af, blou was van inspanning en hul spoeg my wange laat jeuk het, want ek is nie toegelaat om dit af te vee nie.

Ek was te nuuskierig, het hulle beweer.

“Vra my hoe laat dit is.”

“Dis tien oor drie, korporaal.”

“Jy moet mý vra, moerskont.”

“Hoe laat is dit, korporaal?”

“Moenie die weermag se tyd mors deur sulke dom vrae te vra nie. My horlosie het gaan staan. Jy mag net vrae vra waarvoor ons antwoorde het. Die res het niks met jou te doen nie!”

Ons eie peloton se korporaal het my nie gespot nie. Hy het my geroep wanneer ons ’n bietjie uitgespan het, of sommer ’n les oorgeslaan het, of nadat ons dit afgerammel het en met ’n ledige kwartier op die rooster opgeskeep gesit het.

“Weet jy, Belinda,” sou hy gewoonlik begin. “Ek kan nie so aangaan nie. Ek’s nie ’n sissie nie, dis nie die ding nie. Ek was skaars sestien toe ek my eerste bar fight gehad het, nog ’n tjokker, man. En ek was aan die wenkant ook nog. Hier,” en hy sou sy hemp losknoop om die klein strepie van ’n litteken op sy regterbors te wys, “dis waar ek gelem is in Klerksdorp. Jy weet mos van Barney’s …” En dan sou hy aangaan oor elke detail van die plek: “So dis nie dat ek nie tough genoeg is nie. Dis net dat … die lewe te veel is vir my. Die volume is te hoog gedraai. Die revs is ook te hoog. Ek’s nie eens een-en-twintig nie, en die lewe is klaar te veel vir my.”

Een maal het hy in trane uitgebars, voor almal, en ons moes hom weglei om eers ’n bietjie onder ’n boom te gaan sit. My makkers in die peloton het met my die gek geskeer. Hulle het hul koppe op my skouer gepak en kamma bitterlik gehuil: “Ek mis my mamma.”

Dit was maklik om te mompel “Wat ’n fokop” en my kop te skud. En ek kon aanvoel dat ek moes wegbly van hom af; nie betrokke raak nie sodat ek my eie bewerige balans kon behou. Maar my geslote lippe het hom net meer vasbeslote gemaak om sy hart uit te praat. Soos oor sy pa, wat ’n tiran was en sy ma kort en klein geslaan het, en hom soms ook. Wat op sigself nie saak maak nie, het die korporaal gesê, behalwe dat sy pa dan geëis het dat hy hom terugslaan.

“Ek kon dit nooit doen nie, man,” het hy in ’n yl stemmetjie vertel. “Hy het gesê dan sal ons kiets wees, maar hoe kan jy kiets wees met jou pa, hè, Belinda? En toe sê hy dis omdat ek ’n lafaard is, en toe sê ek nee, die Bybel sê jy mag nie jou hand oplig teen jou vader nie. En toe sê hy net sissies hardloop na die Bybel.”

’n Pa uit die hel. Ek moes hom gehelp het, Ben, maar hoe? Al wat ek gedoen het, was om my bynaam na hom toe aan te pass. Dit het gewerk, waarom weet ek nie, maar kort voor lank is hy Belinda genoem en nie meer ek nie.

Eendag is ek en ’n paar ander troepe uit ons pelotons geroep en na die eskadron se hoofkwartier gemarsjeer, om ’n probleem met ons papierwerk uit te stryk. My elmboë was oortrek met rowe van die leopard crawling. Belinda, wat daar moes rondhang om ons op te pas, het aan hulle begin voel en vat. Dit was heeltemal te intiem vir my en ek het my arms vies weggetrek. Hy het giggelend ’n sigaret aangesteek, tydsaam, en dit amper tot op die stompie gerook. Toe, sonder waarskuwing, het hy die kooltjie teen die nou effens bloeiende wond op my elmboog gedruk.

“Wat maak jy, korporaal?” het ek geskree, maar die vent het inmekaargekrimp van die lag. “Staan op aandag, troepie,” het hy gesing, terwyl hy die stompie voor my gesig rondwaai.

Hy het dit weer teen my elmboog gedruk. Die pyn het tot op die been gesny, ek het op my tande gebyt, my oë toegeknyp. Maar ek kon dit net ’n paar sekondes uithou, en het my elmboog opgeruk, hom op die krop van sy maag getref. Die stompie het met ’n boog deur die lug getrek en hy het rondgesteier en gehyg na asem, maar dit was omdat hy histeries aan die lag was.

“Jy’s tough, hè, Belinda, jy’s ’n tawwe koekie. Ek sal dit in my verslag moet skryf,” het hy met kloekerige geluide in sy stem gesê.

“Hy’s stapelgek, mal,” het ek vir die ander gesê. Dié het ’n tree of twee agteruit gegee toe alles gebeur, maar nou paraat op aandag gestaan. Onthuts het ek besef hulle gaan niks doen om my te help nie.

Gelukkig het die kaptein in die deur verskyn en vir Belinda beduie om ons te laat inkom. Hy het dit met oordrewe marsjeerbewegings gedoen, sy arms te hoog; hy het sy rol perfek gespeel, iets wat net in die weermag moontlik is.

Die ander korporaals het saamgestaan en Belinda beskerm. Op die dae dat hy saf was van selfbejammering en net onder ’n boom kon sit, of hom op die sitplek van ’n Bedford uitgestrek het, het Peloton C se korporaal ons onder sy vlerke geneem.

Hy het sy eie katastrofe gehad om te oorkom. Uit volle bors het hy geskree: “Luister nou hier, julle pielkoppe! Ek is nie die kortste korporaal in Suid-Afrika nie, verstaan julle? Wat julle ook al hoor in die grapevine, is propaganda deur die vyand, verstaan julle? Ek kan nie hoor nie? Was dit ’n ja of ’n nee?”

Ons het teen hierdie tyd geweet ons moet terugskree, en ook dat dit geen verskil maak hoe hard of geesdriftig ons skree nie. “Boom toe!” het hy gegil, en ons het in die rigting gehardloop wat hy wys. Ons het almal blare gepluk, want die meeste korporaals het dié van ons wat nie een gehad het nie teruggestuur. Net om te hoor: “Wie het gesê julle moet die weermag se bome martel? Boom toe, en sit die blare terug!”

Ons het die reputasie verwerf van die peloton wie se geluk opgeraak het. Shorty het ons ekstra hard gestraf vir verbeelde oortredings. Hy wou die trofee vir beste korporaal wen, het hy verduidelik, terwyl sy stem die oktawe klim, en hy gaan nie sy kanse laat bederf deur ’n klomp lamsakke wat hul eie korporaal tot waansin gedryf het nie.

Dis op sulke tye dat my gedagtes na jou ma se skimpe oor ’n offisierskap gekeer het. Wag maar net, julle idiote, het ek in stilte gesmeul terwyl die peloton iewers heen en terug hardloop, of terwyl ons ons stewels blink bone vir inspeksie, of teen ’n koppie opsteier en weer afstrompel.

Nie dat dit vir my gevoel het of ek enige kans het om ’n offisier te word nie. My en jou pa se verbintenis sou eerder téén my tel, synde die geleentheid om te wys dat hy niemand voortrek nie. Maar dit daar gelaat, tydens oefeninge het ek steeds van die tou oor die rivierloop afgeval; ek was die een wat in die verborge poel in die vlei verdwyn het, en ek kon dit net nie regkry om my bed te byt tot die kombers ’n harde rand het nie.

Die offisiere was in elk geval mense wat jy net af en toe sien verbystap het sonder om links of regs te kyk; met die son wat slegs met gelukskote die brons sterretjies op hul skouers laat blits. Ons luitenant, ook ’n dienspligtige, het ons net soms op die balkon gesien, van waar hy ons met ’n onverstoorbare hooghartigheid beskou het. Met ’n akrobaat se soepel liggaam en harmonieuse bewegings het hy gelyk of hy enige tyd aan die punt van ’n towertou oor ons gaan gly, net om weer oor die dak te verdwyn op pad na ’n belangrike dinee met ’n behoorlike eetservies waar hy die hele aand die servetringe kon vinger.

As die onderoffisiere hul sin kon kry, sou niemand offisiere word nie. Ná omtrent nege weke van basies, met nog vier oor, het ons ’n salvo toetse ondergaan. Nog twee weke het verbygegaan, en die onderoffisiere het al meer begin praat oor die kies van die KO’s, oftewel kandidaatoffisiere; hard genoeg dat ons troepe kon hoor.

Hul nydigheid was onbeskroomd. “Sien julle dit?” het hulle gevra en die wit bandjies wat die KO’s tydens hul opleiding dra, omhoog gehou. “Dit is die kleur van jaar oue hondekak. Dit staan vir boggerôl, niks! Dit is erger as om rang te hê. Jy is heel onder in die rommelhoop, jy’s nie hondekak nie, jy’s droë brakkieskak, nie eens goed genoeg vir kunsmis nie.”

In die tweede laaste week is ons vir onderhoude in groepe verdeel. Ons het die hele dag lank onder die bome gesit; die oggend of die middag omgeslaap. Uiteindelik is ek by die rooi trappe na die kaptein se kantoor opgemarsjeer. Ek is aangesê om op ’n stoel voor ’n lang lessenaar te gaan sit met die kommandant en twee ander offisiere daaragter. Dit het gelyk of hulle absoluut alles omtrent my weet, maar dit hoegenaamd nooit sou erken nie.

Tydsaam het hulle deur stapels dokumente geblaai en uiteindelik het die kommandant begin praat: “So waarom wil jy ’n offisier word?”

Wil ek? wou ek antwoord, maar my goeie maniere het tot my redding gekom en ek het iets gestotter oor die eer wat dit vir my sou wees en dat ek my goed van my taak sou kwyt. Toe het ek in die middel van ’n sin opgehou, my asem ingetrek, en gesê: “Eintlik praat ek nou ’n klomp stront. Die enigste rede waarom ek ’n offisier wil word, is om ’n kamer van my eie te hê en om saans en elke naweek te doen wat ek wil.”

Die offisiere het steeds in die lêers voor hulle geloer, en geen teken gegee dat hulle gehoor het wat ek sê nie. Ek kon my gesig voel warm word.

Ná minstens ’n minuut se stilte waartydens ek nie durf afkyk het nie, het die kommandant voortgegaan op ’n manier wat my laat dink het hy kom met nagedagtes deur sy dag: “Sal jy sulke taal by die huis gebruik? Wat is die woord? Stront.” Hy het dit gesê asof hy dit die eerste keer gehoor het.

“Nee, kommandant.”

“Nou hoekom gebruik jy dit dan hier?”

Ek het my skouers opgehaal. Ek kon kwalik erken dit was van pure senuwees. “Want dit is die weermag dié.”

Een van die kapteins het afgekyk om ’n glimlag weg te steek. Ek het hom nog nie voorheen op die basis gesien nie, maar hy het die aura gehad van iemand wat ’n mens dadelik kan vertrou.

“Het jy enige idees omtrent moontlike maniere om kommunisme te beveg?” het hy gevra.

Ek het lank gedink. Dit het tot hom deurgedring, want terwyl hy die velle papier in sy hand in die lug gehou het, het sy oë vernou.

“Ek weet nie, kaptein,” het ek versigtig geantwoord en probeer om so ernstig moontlik te klink. “Ek het nog nooit ’n kommunis ontmoet nie, so ek kan nie sê nie. En as ek een teëkom, sal ek hom nie herken nie, want hy sal sy identiteit wegsteek.”

“En wat sou jou oplossing vir hierdie probleem wees?”

Hoe maklik was dit nie om my te stonk nie.

“Kaptein,” het ek gestamel, “ek dink nie ons kan vir ewig rondloop en mense vra of hulle kommuniste is nie. Ek dink dis beter om te aanvaar dat mense nie kommuniste is nie, want daar is seker net drie dosyn van hulle in die land en as een van hulle homself ontbloot, wys ons vir hom op pamflette hoe sleg dit in Rusland gaan.”

Dis glad nie wat hulle wou hoor nie en my argument was maar flou, maar steeds het geeneen ’n gesigspier vertrek nie.

Die sersant-majoor het net soos die kaptein gefrons, maar toe hulle my ontslaan, het sy gesigsuitdrukking ’n tikkie triomf getoon terwyl hy my deur die passies neem wat nodig was om my uit die plek te kry, met my stewels wat vashaak aan ’n opstandige spyker in die plankvloer.

’n Slapelose nag vol selfdebat het gevolg. Aan die een kant was daar ’n diepe neerslagtigheid. Ek het myself uitgeskel vir ’n volslae moroon en met my vuis teen die muur geslaan. ’n Nuwe dekor vir my toekoms het vorm aangeneem: ’n verlate verhoog vol leë dae met inspeksies en orders en parades en leë radioboodskappe, met ’n ewige gewag, gewag vir alles om te eindig.

Aan die ander kant, ’n soort euforie. ’n Jaar gelede sou ek ’n modelantwoord gegee het oor monitering en oorredingsprogramme en ewigdurende waaksaamheid. Nou was ek bereid om te sê wat ek dink.

My neerslagtigheid het gewen. Die volgende oggend het ek so vaal gevoel dat ek skaars my gesig kon was en ek het halfgeskeer by die oggendparade opgedaag. Korporaal Belinda het sy stink asem in my neusvleuels kom blaas, en ek is teruggestuur met ekstra diens. Ek het gedoen wat ek gegee is om te doen, die hele dag lank, en as dit nie ondraaglik was nie, was dit omdat ek myself in ’n slaapwandelende staat gedwing het.

Ons het aangetree vir die aandparade. ’n Paar van ons se name is uitgelees en ons moes eenkant by ’n klompie ander pelotonlede gaan staan. Niemand het gesê waaroor dit gaan nie, maar onder hulle was van die beste rekrute en aan die korporaals en sersante se openlike vyandigheid het ons geweet dat hulle … Wat? Dit gemaak het? Gered is? Verhoog is tot goddelike hoogtes?

Ek het myself van voor af verwens, Ben, laat ek dit nie ontken nie. Ek was siek van jaloesie. Wat het my besiel om sulke goed oor kommunisme te sê, iets waarvan ek niks geweet het nie? Met ontsetting het ek besef dat nog amper twee jaar van Pretty Belinda voorlê. Ek het na die ander geloer wat ook op die kortlys was, en hulle na my, en daar was ’n nuwe ding: die losers, die tweedespan-spelers, dié wat dit nie gaan maak nie, die terugstaners …

Twee dae later, net toe ek begin gewoond raak aan my nuwe lot, het die kommandant my laat roep. Kortaf, met ’n houding wat sê hy gaan niks verklap nie al gee ek hom ’n sak olifantbiltong, het hy my beveel om my balsak en my trommel te pak en oor te skuif na die KO’s se barakke.

Die volgende aand het ek ’n telefoonoproep gekry. Dit was die generaal wat my kortaf gelukgewens het. Hoe het hy, ’n logistieke offisier en nie ’n seiner soos ek nie, geweet? Jou pa, Ben, het op die ou end toe tog vir sý mense gesorg en dit was nie reg nie.

Maar met die hoof gebuig het ek ’n sug van verligting geslaak.

Die Generaal

Подняться наверх