Читать книгу Die Generaal - Hans Pienaar - Страница 8

Vier

Оглавление

So jy sien, Ben, dit was jou skuld dat ek my volgende naweekpas by die generaal-hulle moes spandeer. Jou boodskap was tog duidelik: Jy gaan nie my gasheer wees nie; ek moet eerder nie kom nie. My lot was verseël.

Jy ken dit alles, die ritueel: Die Saterdagoggend het ek vroeg opgestaan en aangetrek en na die deurmekaar bed gekyk. Toe het ek dit opgemaak en daarop gaan sit. Daarna het ek na die stoel verskuif. Toe my klere in die kas gehang en gaan sit. Ek het weer opgestaan en die gordyne oopgetrek en gestaar na die rotsblokke van kwartsiet wat bo die groot ou huis teen die heuwelhang uittoring.

Uiteindelik het ek my af in die lang, donker gang begewe. Ek het by die kombuisdeur gaan staan, diep asemgehaal voor ek dit oopgemaak het.

“Hallo, oom. Hallo, tannie,” het ek gestraal.

“Aa, ons familiegenie,” het my oom gegroet en my na my sitplek aan die punt van die tafel gelei.

“Ag, hier betrap jy my onverhoeds,” het jou ma gesê, en toe tot aksie oorgegaan.

Sy het twee eiers geneem en hulle in haar vuis saamgepers soos ’n man met ’n bierblik maak. Toe het sy die inhoud in ’n bak naby haar hand geplons en die doppe het in die asblik geval wat sy met haar voet oopgehou het. Sampioene, wors, tamaties en spek het tegelykertyd begin braai. Die ketel het gesuis.

Om haar oor haar kookvernuf te terg is ’n familiegebruik, maar daardie dag was my keel droog toe ek joviaal probeer sê: “Magic, pure magic.”

En dit was tog so – by julle was brekfis altyd iets om te onthou.

Maar hulle het nie op my opmerking gereageer nie. Jou pa het dadelik oorgeneem en begin vertel van sy eie basiese opleiding dekades gelede. Hy het sy beskuit in sy tee gedoop soos hy nog al die jare gemaak het. Jy weet mos, dit verdwyn soos ’n duikboot tot die tee sy vingertoppe raak, warm ofte nie.

“Sê my, wat dink jy van ons gewapende magte?” het hy gevra. Maar voor ek ’n antwoord kon fabriseer: “Weet jy, eintlik verveel dit my tot die dood toe om daardie vraag te vra.”

Hy het ’n sawwe stuk beskuit met ’n teelepel probeer uitvis en uit pure frustrasie die koppie weggestoot toe die beskuit disintegreer en sink.

“Dis die eerste vraag wat ons altyd vir enigiemand vra wat die land besoek. Wat dink jy van Suid-Afrika? Wat dink jy van Pretoria? Wat dink jy van my hond?”

Ek het geknik, probeer om taktvol te lyk. Dit was een van die generaal se gunstelingonderwerpe.

Met ’n abrupte gebaar het hy sy stoel teruggestoot en beduie ek moet hom volg. Jou ma het geprotesteer en ’n mandjie met roosterbrood uitgehou, maar die generaal het dit namens my van die hand gewys. “Moet hom nie bederf nie, die gimnasium doen dit alreeds.”

Hy het my deur die tuin na sy woonstel se buitedeur gelei. Dit was die eerste keer dat ek die heiligdom betree waar hy sy medegeneraals en belangrike mans in swart pakke en Homburg-hoedens ontvang. Daar was ’n kroegtoonbank in die een hoek. In ’n ander hoek was ’n lessenaar met twee telefone en ’n tikmasjien; alles gereed vir inspeksie.

Hy het ’n paar ysblokkies in ’n beker water gebreek en dit in ’n blompot vol pienk rose op die koffietafel gegiet. Toe die hi-fi met sy ses luidsprekers aangeskakel. Dit was sy trots, ’n monster van ’n ding. Die massiewe bandopnemer met motorgrootte wiele het lui-lui begin draai. Honderd viole het van die een kant van die vertrek na die ander geswiep.

Die glasdeur het op ’n balkon met ’n manjifieke uitsig oor die Moot geopen. Op die volgende rif was Libertas in sy allenigheid vergelykbaar met ’n plaashuis in die Karoo, want die witgekalkte huise onder ons het soos ’n klomp skape gelyk wat tussen die groen bome wei.

“Libertas, aa, Libertas,” het hy in ’n prekerige stemtoon gesê. “Adam Tas, die Afrikaners se eerste rebel, is vry. So is ons. En dis niks om voor skaam te wees nie. Ons hoef dit nie aan enigiemand te verduidelik nie. Waarom vra ons dan altyd wat ander van ons dink?”

Ek het sy oë op my gevoel. Blosend het ek ’n antwoord probeer bedink. “Dit is so dat die hele wêreld nou teen ons is. Miskien moet ons so ’n reaksie te wagte wees.”

“Maar wat is vryheid as ons heeltyd oor ons skouers moet loer? Ons moet die posisie bereik waar ons enigiemand reguit in die oë kan kyk, en iets kan sê soos: Ek het jou mos gesê.”

Ek het gedink: Is die hele wêreld teen ons? Of is ons teen die hele wêreld? Maar jy’s reg, Ben, ek het dit nie gevra nie. Ek het net probeer doen wat van my verwag is.

“Gelukkig het daardie man daar,” het hy met sy ken na Libertas gewys, “verstaan dat daar ’n groter wêreld daar buite is … Ek was daar, verlede week,” het hy vervolg met ’n tikkie spog in sy stem. “’n Vreemde man, ons eerste minister. ’n Diep wantroue in mense; uiters bewus van sy beeld as ’n streng man wat geen nonsens vat van enigiemand nie.”

En die generaal het een van sy gunstelingstories vertel. Daar was altyd ’n trop fotograwe ook, met die hand gekies uit die vriendelikgesinde pers. Eenmaal het die eerste minister op die grasperk gestaan, glas in die hand – “hy’s lief vir sy dop, jy weet” – en een fotograaf het ’n flitslampie laat pop. Die eerste minister het iets in sy private sekretaris se oor gefluister en die fotograaf is laat haal.

“Toe begin hy die arme man uitvreet, net daar, voor al ons weermagmense en sy ministers. ‘Moet dit nooit weer waag om ’n foto van my te neem met ’n glas in my hand nie,’ sê hy vir die man. ‘As jy ’n prentjie wil hê, dan waarsku jy my en neem een van my met my hand in my sak, so,’ en hy poseer vir die man.”

Die generaal het self so gaan staan. “En dit maak nie saak hoe die man protesteer dat die flitslampie vanself afgegaan het nie, hy moes sy film aan die private sekretaris oorhandig.”

Ek het gelag. Die generaal het nie. Hy het stip oor die vallei gestaar. “Beeld. Dit is allerbelangrik in ons moderne lewe. Dit is waaraan ons moet werk. Ons beeld.”

Hy het nie laat blyk of ek nou ’n swart kol agter my naam in sy geheime boekie gehad het nie. “Man, het ek uitgesien na jou besoek. Die enigste lid van die familie wat ’n behoorlike pot skaak kan speel.”

Ja, Ben, ek het gevlei gevoel. Ons sou minstens nie so baie praat nie. En ja, skaak was ’n belangstelling wat ons gedeel het, ek kan dit nie ontken nie: marathonsessies wat soms tot laat in die nag duur, en my laat bibber van opwinding.

Maar ek was nie daardie dag opgewasse daarvoor nie. Die week se ooreising het my begin inhaal. Die loodgevoel in my spiere het ook in my kop gaan sit. Jy kan jou goed indink hoe ek daar gesit en tob het: Is ek besig om ’n ander afdeling van die toets te druip?

“Nou die dag het ek per abuis twee adjudante afgeluister. Die een vertel die ander watter ongelooflike spel skaak is, dat dit veel taaier as boks is. ‘Jy moet sestig skuiwe vooruit kan dink,’ sê hy. ‘Wat’, kap die ander een terug, ‘die meeste potte duur nie eens sestig skuiwe nie!’ ”

Ek het beleefd gelag, maar hy het my weer op die verkeerde voet gevang.

“Dis ons probleem,” het hy gesê. “Ons moet sestig skuiwe vooruit kan dink, maar hulle kan ons in dertig klop. Ons kan nie die verkeerde opening kies nie.”

Wie? Vir ’n oomblik het ek gedink hy praat van die lewe in die algemeen, maar dit was weer die Afrikaner-ding.

“Ons moet die wêreld kan oortuig dat ons reg is; dat die antwoorde van die hele wêreld se toekoms aan’t ontwikkel is in hierdie laboratorium, in Suid-Afrika. Net hier.

“Ons moenie die kluts kwytraak nie, maar besef dis ’n stadige ding: stap vir stap. Ons moet sestig skuiwe vooruit kan dink sonder om te vergeet dat ons een skuif op ’n slag moet maak. Copernicus het die wêreld nie in ’n dag verander nie.”

Ons het die oggend so bestee: pionne aan die vingertoppe met die generaal se idees soos ’n wolk om ons. Tot Johanna, die bediende, daar aankom met ’n kniebuiginkie en ’n “Askies, baas” om ons te kom roep vir middagete. Jou ma het om my gekloek totdat daar omtrent vyf verskillende soorte brood en ’n halfdosyn kase op my bord was.

“Dis wat ons noem hearts and minds,” het jou pa gelag. “’n Beleg van brood, ’n broodnodige beleg … Dis reg, wen hom oor, maak hom vet …”

“… voor die slagting,” het jou ma sy sin klaargemaak. “Ja, jy en al jou militêre praatjies.”

Maar net toe die blikke wat hulle uitruil ernstig begin lyk, het sy oor my stoel geleun en my aan die boarm gedruk: “Kyk net hierna. Al die puppy fat weg. Sal hy nie ’n beeld van ’n offisier wees nie, Thys?”

Dit was die eerste keer in jare dat ek sy naam hoor.

“Jy gaan mos op ’n offisierskursus, nie waar nie?”

Ek, ’n offisier? Weereens kan ek nie ontken dat dit ’n tinteling deur my gestuur het nie. Ons het die jong offisier wat ons peloton aanvoer, ’n tweede luitenant, nie dikwels gesien nie. Ek was eintlik verbaas om te hoor dat hy ’n dienspligtige was, net soos ons, en dat hy sy kommissie skaars twee maande voor ons aankoms gekry het. Die onderoffisiere het ons oor en oor vertel dat net die heel bestes onder ons ’n rang sou kry wat hoër as hul eie was, al het hulle twintig, dertig jaar diens in die weermag. Dit was reeds swaar genoeg vir my op die obstacle course; die beste in die peloton was ek beslis nie.

“Ek weet nie eintlik nie,” stamel ek. “Ons het nog nie eens met skietlesse begin nie, so dis nog te vroeg om te praat.”

“O, wel, daar’s geen twyfel in my gemoed dat jy dit sal maak nie,” het sy gesê terwyl sy die skottelgoed bymekaarkry.

Die generaal het gelyk of hy hard aan’t peins was; hy het nie eens die wolk rook om hom weggewaai nie. My tante het die sigaret uit sy hand gevat en dit in die asbakkie doodgedruk. “Nie aan tafel nie, Thys.”

Hy het haar gedweë gehoorsaam en die kooltjie met die stompie geblus. “So in watter afdeling sal jy graag wil wees?” het hy gevra.

“Ek dink nie dit sal reg wees dat so iets vir my gereël word nie,” het ek gesê. Maar ek het hom verkeerd verstaan.

“Daar is geen kans, maar géén kans, dat ek enigiets sal doen om jou ’n offisier te maak nie, jong man. Waarvan ek praat, is of jy dalk na ’n ander korps toe verplaas wil word, waar jou talente beter deur die weermag gebruik kan word. Jou aanleg vir wiskunde, byvoorbeeld. Miskien sal dit beter wees om jou ’n artilleris te maak. Of dalk sal jy goed aard in die lugmag.”

Ek het probeer om ’n grap daarvan te maak. “Wat ook al op die pad na Durban is, generaal.”

Maar hy het my nie die gaping laat vat nie. “Diensplig is nie see toe gaan nie, Johan. Dit is ernstige sake. Dis nie die soort benadering wat ek van jou verwag nie.”

Dit moes kom, nè, Ben, so ’n uitskellery, die een of ander tyd. Maar ek het nogtans ineengekrimp voor sy woede, sy ingehoue aggressie, en myself gehaat omdat ek te veel van myself verklap het. Ek het vuriglik gewens, terwyl hy aangaan en aangaan, dat ek net kon opstaan en terugloop Heidelberg toe.

“Wat ons van praat, is jou plig. Jong manne soos jy is raar en het talente wat die Goeie Heer aan julle gegee het. Jy is deel van die room van die oes. Julle is die ridders van vandag. Van die Middeleeue af identifiseer die Westerse beskawing die beste materiaal vir ridderskappe. Ons gaan nie sommer enige Jan Rap met ’n swaard op die skouer slaan nie. “Jong manne soos jy is te waardevol. Ons kan julle nie laat gaan nie. Dis jul lot en bestemming.”

Hy was nou nogal aangedaan. Skielik, sonder om ’n woord verder te sê, het hy opgestaan en uitgestap.

Ná ’n ruk het jou ma weer verskyn en ek kon sien sy was ook ontsteld. “Moet jou nie aan jou oom steur nie. Hy raak altyd ’n bietjie iesegrimmig ná ete. Ná ’n slapie is hy weer op sy stukke. Die jare haal hom in, jy weet.”

Die generaal oud? Dit was waar … die plooie in sy nek, die bruin vlekke op sy vel. Alle mense met mag is oud.

En so het die naweek sy bestemde gang gegaan, volgens sy eie gebooie.

Jy sal ontbyt geniet in die aangesig van die oggend, en tee om elf.

Jy sal ’n uiltjie knip sonder skoene, om nie die beddegoed vuil te maak nie.

Jy sal weer opstaan en jou na die sitkamer begewe vir rugbykommentaar oor die radiogram.

Jy sal jou besoekende niggie op die wang soen en nie op die mond nie.

Jy sal nie jou mes gebruik om jou ertjies mee te eet nie.

Jy sal jou Bybel oopmaak en weer toemaak, sodat dit sal lyk of dit gelees is.

Die trein het nie ’n oomblik te vroeg vertrek nie. Dit het drie uur geneem Heidelberg toe, waar dit met ’n motor een uur sou vat. Maar vir die eerste keer kon ek terugsit en ontspan, al was die kompartement vol troepe.

Heidelberg was doods, maar op daardie oomblik was die verlatenheid die antwoord, want ek het my eie stap deur die dorp gestap, teen my eie pas.

Teen ’n kasdeur het een van my kamermaats Home Sweet Home in Gotiese letters opgeplak. Ja, Ben, ek was amper bly om weer tuis te wees.

Die Generaal

Подняться наверх