Читать книгу Die Generaal - Hans Pienaar - Страница 7

Drie

Оглавление

Terwyl die son opkom, kry ek by Waterkloof-lughawe vir my ’n warmbrak met tamatiesous uit ’n masjien. Toe ek dit oopmaak op my skoot, is dit ’n klam, bloederige massa, en ek moet my na die toilet haas waar ek opbring en dan bewerig op die bak gaan sit met my kloppende kop in my hande.

Wat is fout met my? Wat is nie met my fout nie? Ek probeer gryp na iets betekenisvols in die trae gemaal van my gedagtes. Maar al waaraan ek kan dink, is kaptein Johnson se woorde van gister: “strategiese verduideliking” … Bedoelende wat? Leuens? Propaganda? Wil ek deel wees hiervan?

Hoekom is ek in hierdie belaglike siviele klere? Wat presies is my sending? Gaan dit net oor dissipline? Wat hulle regtig van my wil hê, is om op my makkers te spioeneer. Dienspligtiges soos ek. Ek moes duidelik nee gesê het. Dit is veronderstel om ’n vrywillige sending te wees; ek moes ’n dokument in dié verband onderteken. As ek geweier het, sou hulle my vir die res van my diensplig agter ’n lessenaar gesit het. Heelwat beter as hierdie stryd om my varkies bymekaar te hou.

Daar is ’n groen flits voor my oë. Die Zambeziwoud … Ek hunker ’n oomblik daarna, net ’n oomblik, maar ek gryp dit aan asof dit ’n bobbejaantou is en ek ’n babelaas Tarzan.

Ek dra my goed na die Transall C-160 sonder om te bodder oor protokol. Die grondpersoneel laai die Flossie asof dit ’n vakansiemotor is en trek en stoot aan kratte van verskillende vorms en groottes in ’n poging om hulle inmekaargepas te kry. Onder die vlerke worstel ’n dienspligtige in ’n bruin oorpak met ’n weerbarstige brandstofslang, tot hy tou opgooi en oor ’n walkie-talkie begin skree.

Binne moet ek klim oor die kratte wat in nette is. My sitplek is ’n holte in die vliegtuig se sy, wat lyk of dit op die laaste oomblik ingeduik is om plek te maak vir soldate wat oor grense gesmokkel moet word.

Die buikdeur begin toemaak en meteens, ten spyte van alles, pak die opgewondenheid my weer beet. Op dié oomblik kom ’n soldaat uit die gebou en draf na ons toe. Hy bereken sy sprong perfek en kruipval oor die buikdeur net toe dit deur sy waterpasvlak gaan.

Hy klouter rats na binne en klim oor die nette na die sitplek langs myne, ’n jaggeweer met ’n teleskopiese visier in sy hand. Hy gespe hom vas en laat dan die geweerkolf versigtig teen die balk by ons voete rus. Hy sal die ding nie vir een oomblik onder sy oë laat uitgaan nie.

Is hy nes ek op ’n geheime sending? Ek loer na hom, en wys na die geweer.

“Waarvoor is dit?”

“Vakansie!” snou hy my toe. Dis die laaste woorde wat ons wissel. Ons is skaars tien minute in die lug of my hoofpyn is voluit oopgetrek, en vir die volgende halfuur wag ek vir die opstuwing in my maag. Ek werk ’n choreografie uit vir my voete, hande en elmboë oor die balke, die geweer, die nette en die man se bene na die houer met kotskardoesies ’n entjie verder.

Dit blyk dat ons op ’n melktreinvlug is, want ons land twee keer op kleiner lughawens. Elke keer trek en pluk die aarde se kragte van alle kante aan my toe ons in ’n swaelduik uit die hemele val, vir ingeval die vyand op ons wil lostrek. Hulle laai kratte af, en as die buikdeur oopgaan, klap die fel sonlig ons en die warm lug kom soos ’n opstopper na binne. Ons styg weer loodreg op, en na nog ’n uur is daar skielik net stampe en stote, sonder ’n kanteling, en ek weet ons het Salisbury bereik.

Die vliegtuig kalmeer in ’n lang gekruie oor die aanloopbaan, en ek laat die gevoel van verlossing oor my spoel. Ek het dit gemaak, en wonder bo wonder is al die lugsieksakkies nog waar hulle was.

Dis al die middel van die dag en toe ons uitklim, skiet die hitte soos skrapnel van die sementvlakke af op, veel erger as wat ek verwag het. Vars druppels sweet bars op my gesig uit en ek skuif na die naaste stukkie skadu onder ’n Dakota se gloeiwarm vlerk.

Aan die punt van die verste aanloopbaan gaan ’n groot gedreun op. ’n Tweede Dakota, bosgroen gekamoefleer, kom met die aanloopbaan aangery. ’n Tegnikus klou om lewe en dood aan sy kajuit, terwyl nog ’n klomp met triomfantelike spronge agterna hardloop. Net toe dit wil lyk of hulle gaan opstyg, sak die gedreun en beweeg die vliegtuig stadiger, en swaai rats in die rondte. Halfpad klouter die res van die tegnici op sy vlerke en almal ry terug, met ’n groot gelag en kloppe op die skouer.

Drie uur later wag ek steeds. Ek skuif saam met die Dakota se skaduwee, of sit teen ’n toegesluite prefab langs ’n oop ruimte wat met enjinparte in verskillende stadia van ontbinding bedek is. Ek het minstens twee hoofpyne by.

Die skaduwees is reeds besig om in ware koelte te verander toe ’n Peugeot daar aankom. Ek weet dis vir my bedoel, hoewel die bestuurder in die Rhodesiese leër se vygroen uniform geklee is. Dis ’n kaptein.

“Reynecke,” is al woord wat hy uiter. Geen verskoning omdat hy laat is nie.

Wat ’n sending, mompel ek innerlik.

Salisbury is vaal en gewoon, met sonverslane bome langs wye namaaksels van boulevards en blombeddings in verkeersirkels met uitgewaste randstene. Oral is daar Peugeots en Citroëns, sommige nuwer as ander.

“Sanksies,” sê die kaptein in ’n alwetende stemtoon. Ek kan reeds sien dat ons nie oor die weg gaan kom nie. Daar is iets dooierigs en swaarwigtigs aan hom, hy laat my dink aan die “stomp voorwerp” waarvan ’n mens in moordberigte lees. En ek voorspel dat ek vir hom ’n groot teleurstelling gaan wees. Toe ons by ’n verkeerslig stop, kyk hy skeef na my en sê moeg: “Ek soek mense met ‘go’.”

By die menasie kry ek ’n kamer aan die punt van ’n lang stoep, wat klaarblyklik al dekades lank met swart politoer gepoleer word. My kamervloer is ook swart, en ’n prentelys wat met swart emalje bestryk is, strek reg rondom. Die grys komberse met swart en roomkleurige strepe aan een punt is styf oor die beddens getrek en laat my amper tuis voel.

Halfdood van die honger gaan soek ek die kombuis. By die huis is die kokke wit dienspligtiges met die sluwe kyke van gangsters agter hul opwasbakke en stowe, maar hier is net swart mans, onberispelik netjies in Franse sjefuniforms. ’n Kelner wat van diens af moet wees, hang aan ’n deurkosyn en dra ’n fez en wynrooi tuniek wat aan ’n Britse offisier uit die negentiende eeu kon behoort het.

Hy bring vir my ’n bord met toebroodjies wat met slaailinte versier is. Ek verorber dit op my bed, lê terug en raak aan die slaap.

’n Geklop aan die deur maak my wakker. Dit is ’n swart man in die skielike skemer en sy wilde oë laat my hart in my keel klop. Hy wys met sy borsel na die stewels wat hy in sy ander hand hou. Dit moet ’n batman wees, hy soek stewels om skoon te maak. Dis nog ’n vreemde ding, tuis moet ons ons eie skoonmaak.

Ek beduie woes: Geen stewels nie, geen stewels nie.

Ek besef dat ek, soos hy, nie praat nie. Ek skraap my keel en verduidelik dat ek nog nie my uniform het nie. Sy gesigsuitdrukking raak nog wilder – is hy dan ’n imbesiel? Hy draai sy kop vir ’n oomblik skeef sodat die laaste bietjie lig die riwwe en bulte van ou oorlogswonde daarop laat uitstaan.

Moeg en slaapbeneweld maak ek naderhand die deur in sy gesig toe en val op die bed neer. Toe ek weer wakker word, is dit heeltemal donker en ek strompel deur toe om seker te maak dat hy weg is.

Daar is niemand nie. Die hele plek is in doodse stilte gehul, behalwe vir my hartklop wat die hele kamer vul. Ek voel my pad terug na die bed om my horlosie te kry, maar stamp dit af op die vloer. Ek steier terug deur toe, waar ek die ligskakelaar probeer vind. Die lig is verblindend, sodat ek dit dadelik weer afskakel.

Ek tree uit op die stoep. Dit moet seker donkermaan wees; in die verte is daar net ’n paar vaal spikkels waar die siviele lewe begin.

Die siviele lewe … Ek het iets vergeet. Die gedagte gryp my so stewig vas dat ek moet teruggaan binnetoe en op die bed gaan sit.

Wat het ek vergeet?

Stadig raak die hangkas, die gordyne, die bedlampie en die gemakstoel se buitelyne sigbaar soos ek gewoond raak aan die donker. In die middel van die kamer hang ’n spiraalkoord met ’n kaal gloeilamp aan die punt.

Ek het vergeet om dít te doen. Om myself dood te maak. Die koord hang daar, amper onsigbaar. Dit daag my uit.

Die swaar stoel skraap oor die vloer toe ek dit onder die koord intrek. Ek pluk daaraan en knak my knieë om te toets of dit my volle gewig sal kan dra. Dis lank genoeg om om my nek vas te maak. Ek kyk of ek die stoel kan omskop, maar dis te swaar. Dan skop ek die rugleuning, en die stoel val so maklik om dat ek moet spring om dit te vang ingeval iemand die harde slag hoor.

Ek sit op die bed en bepeins die situasie. Dit sal die laaste beeld wees wat ek waarneem: die donkerte wat nog donkerte verberg, die niksheid.

Maar sê nou maar die koord breek? Dis net met ’n paar skroewe in die plafon vas; miskien is hulle reeds los van al die getoets. Ek mag dit dalk regkry om die koord weer aan die montuur vas te kry, maar daarvoor sal ek lig nodig hê.

Ek moet eers ’n paar kerse in die hande kry. Maar waar? Bowenal moet ek nie tou opgooi nie, nie weer nie, en daarom bevind ek my spoedig terug op die stoep, waar ek gaan staan omdat ek geen idee het in watter rigting wat is nie.

Ek gaan sit op die rand van die stoep, terneergedruk. Dit gaan nie werk nie. Ek kyk op na die sterre. Maria was lief daarvoor om in die donker op die gras te lê en na die sterre te staar. Annie … Annie, my hart raak seer van verlange na haar, maar sy het my gelos. Nog voor sy ooit behoorlik by my was.

En Ben … Ben het niks meer te sê oor die sterre nie.

Dit voel in elk geval of ek nie bestaan nie. Ek is duisend, tweeduisend kilometer van die huis af, ek weet nie eens hoeveel nie. Al wat ek is, is iemand op ’n geheime sending, sonder ’n paspoort. Ek het nog net met vier mense in hierdie vreemde land gepraat.

My hare staan regop toe ek besef wat ’n gek ek is. Ek is nie opgewasse teen die Weermag nie. Ek sal hoogstens vir Stomp Voorwerp ’n lastigheid wees, of ’n verskoning om nog ’n dag in Salisbury te kan bly.

Hulle sal eenvoudig sê ek het van ’n Bedford afgeval en my skedel gebreek. Hulle sal weier dat enigiemand my liggaam te siene kry. Deur myself dood te maak, sal ek my net volledig hul eiendom maak, om mee te maak soos hulle wil.

’n Bries steek op en iewers begin iets soos wilgerbome saggies ruis. Die lug is koel en ek besef dat ek nog nooit enigiets met groter klaarheid gesien het as dít nie: Die weermag het my verslaan. Sonder dat hy bewus was daarvan dat ek hom skade wou aandoen. Nie eens ’n oog geknip nie.

Ek sluip terug bed toe, maar ek bly wakker tot dit begin lig word en die voëls in ’n kakofonie lostrek.

Die Generaal

Подняться наверх